2 Thess. 3: Getrouheid Onder Alle Omstandighede

Paulus sluit sy brief aan die Thessalonicense met verskillende vermanings en bemoedigings af. Hy begin met gebedsversoeke:

“Verder, broeders, bid vir ons dat die woord van die Here sy snelle loop mag hê en verheerlik word net soos by julle” (v. 1). Wanneer hy die mense vra om vir hom te bid, dan gaan dit nie oor tydelike en materiële dinge nie, maar oor sy diensbaarheid aan die Here. Selfs waar dit gaan oor sy boeie in die gevangenis (Kol. 4:3) vra hy nie voorbidding ter wille van homself, sy veiligheid en vryheid nie, maar net dat daar ‘n geopende deur vir die evangelie sal wees. So ook vra hy in Efesiërs 6:19-20 dat die gemeentelede sal bid dat hy, terwyl hy in kettings is, met vrymoedigheid die verborgenheid van die evangelie bekend sal maak. Hierdie verborgenheid is die boodskap van redding deur genade op grond van die kruisevangelie – nie op grond van wetsnakoming of seremonies en rituele deur godsdienstige ampsdraers nie.

Die gebedsversoeke word in vers 2 voortgesit waar Paulus vra “dat ons verlos mag word van die verkeerde en slegte mense, want die geloof is nie die deel van almal nie.” Kwaadwillige Jode het Paulus gedurig vervolg en die swye probeer oplê. Hulle het ook Grieke en lede van ander volke teen Paulus opgesweep deur te beweer dat hy ‘n valse leer verkondig. Hulle het gesê dat hy die mense dislojaal teenoor die keiser maak omdat hy ‘n ander koning en koninkryk verkondig. Wat hierdie gebedsversoek betref, vereenselwig Paulus homself met die gemeente, wat soortgelyke vervolging verduur het (vgl. 2 Thess. 1:6-7).

In vers 3 reageer Paulus op die probleem van vervolging deur aan te dui dat die Here ‘n toevlug vir sy kinders is en hulle teen aanslae van die Bose sal beskerm: “Maar die Here is getrou; Hy sal julle versterk en bewaar van die Bose.” Vir ‘n ander gemeente het hy gesê: “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bó julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra” (1 Kor. 10:13).

Hieruit is dit baie duidelik dat Christene nie aan die duiwel uitgelewer word sodat hy met ons kan doen wat hy wil nie. Ons word egter ook nie van sy aanvalle en versoekings gevrywaar nie, maar die Here beloof aan ons krag om staande te bly en die versoekings en aanslae te oorwin. Vir die Efesiërs het hy gesê: “Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel” (Ef. 6:10-11). Die wapens van geloof en gebed moet saam met die Woord gebruik word, wat die swaard van die Gees is, sodat ons nie geestelik benadeel en mislei word nie, maar as oorwinnaars uit die stryd sal tree.

Die krag wat die Here deur die Heilige Gees aan ons bied, moet egter nie net vir geestelike oorlogvoering in die stryd teen die Bose gebruik word nie. Ons primêre opdrag is om met die krag van die Heilige Gees beklee te word sodat ons oral in die wêreld getuies vir Christus kan wees (Hand. 1:8). As ons nie die Here Jesus se opdragte uitvoer deur onsself in sy koninkryk diensbaar te maak nie, sal ons ‘n nuttelose geestelike lewe lei. Paulus sê in vers 4: “En ons vertrou aangaande julle in die Here dat julle doen en ook sal doen wat ons julle beveel.” Sy vertroue word in die Here gestel om die gemeente in beweging te bring, vir diens te roep en ook geestelik daarvoor toe te rus. Hy stel nie sy vertroue in mense om self inisiatief te neem en deur hulle eie krag die Here te dien nie.

In ooreenstemming met hierdie gedagte roep hy die gemeente in vers 5 op om op die goddelike agape liefde ingestel te wees en dit doelgerig onder moeilike omstandighede uit te leef: “Mag die Here julle harte rig tot die liefde van God en die lydsaamheid van Christus!” Die liefde van God is ‘n sterk motiverende krag – sonder dit sal ons nooit die stryd teen die koninkryk van die duisternis kan voer en oorwin nie. Paulus sê: “In al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het. Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte... ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie” (Rom. 8:38-39).

Ons moet daarteen waak om nie ‘n humanistiese beskouing van God se liefde te hê nie, want daar is ongelukkig mense wat dink dat hierdie liefde ons só verdraagsaam teenoor sonde en godsdienstige dwalings maak, dat ons teen niks of niemand weerstand sal bied nie. Hulle beskou dit as liefdeloos en veroordelend indien verkeerde dinge uitgewys en die straf van God oor sondaars verkondig word. Die regte voorstelling van God se liefde is egter dat ‘n liefdevolle Vader sy eniggebore Seun gegee het om ‘n wrede dood aan die kruis te sterf sodat die straf vir ons sonde betaal kon word. Wanneer hierdie liefde in ons harte uitgestort word, dan eis dit van ons om vir die sonde en die wêreld te sterf. Ons kan geen kompromie met die werke van die duisternis maak nie, maar moet dit eerder bestraf (Ef. 5:11).

Die liefde van God is só absoluut vry van kompromie dat dit glad nie in harmonie met die begeerlike liefde van die wêreld kan bestaan nie. Johannes sê: “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is – die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe – is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig” (1 Joh. 2:15-17). Die wêreld se liefde is op inpalm, selfverryking en selfverheerliking ingestel, daarom gee dit uitdrukking aan die hartstogte en begeerlikhede van die verdorwe vlees. God se liefde, daarenteen, gee homself  ter wille van die belange van ander. Dit reik uit na ‘n wêreld in sy nood en huiwer nie om die hoogste prys vir sondaars te betaal nie. Elke aspek daarvan weerspieël God se geregtigheid en genade.

Indien ons nie ten volle in God se liefde gewortel en gegrond is nie, en nog nie in ons verhoudings volmaak in sy liefde geword het nie, sal ‘n liefdevolle God ons selfs tugtig om sy heiligheid in ‘n groter mate deelagtig te word (Heb. 12:5-14). Moet nooit hierdie tugtiging, beproewings en verdrukking in jou lewe as liefdelose optrede aan God se kant sien nie – Hy laat dit toe in jou lewe omdat Hy ‘n hoë en verhewe doel daarmee het, om jou meer aan sy heiligheid gelykvormig te maak. Dit is om hierdie rede dat Paulus van die Thessalonicense verwag het om nog meer oorvloedig in die liefde van Christus te word.

Nie al die lidmate in die gemeente was op die regte geestelike standaard nie. In verse 6 tot 15 vind ons Paulus se vermanings in verband met onordelikheid. Hy het ook in ander gemeentes met probleme van wanordelikheid te doen gekry en homself sterk daarteen uitgespreek. Vir die Korinthiërs het hy gesê: “God is nie ‘n God van wanorde nie, maar van vrede, soos in al die gemeentes van die heiliges” (1 Kor. 14:33). In hierdie geval het dit veral op wanorde in die gemeente gedui as gevolg van die spreek in tale wat daar misbruik is. In Thessalonika het die onordelikheid daarom gegaan dat mense opgehou het om te werk en sodoende ‘n las vir ander geword. Hy skryf aan hierdie gemeente:

“Ons beveel julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, dat julle jul onttrek aan elke broeder wat onordelik wandel en nie volgens die oorlewering wat hy van ons ontvang het nie. Want julle weet self hoe julle ons moet navolg, want ons het ons nie onordelik onder julle gedra nie; ook het ons nie brood by iemand kosteloos geëet nie; maar ons het met arbeid en inspanning nag en dag gewerk om nie iemand van julle tot las te wees nie. Nie dat ons nie die reg het nie, maar om onsself vir julle as ‘n voorbeeld te stel, dat julle ons kan navolg. Want ook toe ons by julle was, het ons julle dit altyd beveel: as iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie. Want ons hoor dat sommige onder julle onordelik wandel, dat hulle nie werk nie, maar bemoeisiek is. Sulke mense beveel en vermaan ons deur onse Here Jesus Christus, om rustig te werk en hulle eie brood te eet. En julle, broeders, moet nie in goed doen verflou nie. En as iemand aan ons woord in hierdie brief nie gehoorsaam is nie, teken dié man en hou geen gemeenskap met hom nie, sodat hy skaam kan word. En beskou hom nie as ‘n vyand nie, maar vermaan hom as ‘n broeder” (v. 6-15).

Dit is duidelik uit Paulus se oproep dat elkeen vir sy eie onderhoud moet werk. Wat dit betref, het Paulus ‘n voortreflike voorbeeld aan die gemeente gestel en op geen offergawes deur hulle aangedring nie. “Nie dat ons nie die reg het nie,” het hy gesê. Hoewel hy die reg daartoe gehad het om onderhoud van hulle te ontvang, het hy ‘n voorbeeld van verantwoordelike en ordelike selfonderhoud aan die gemeente gestel. Dit was altyd beter vir hom om te gee as om te ontvang.

Wanneer alles in ‘n gemeente ordelik en reg verloop en elkeen sy plig gedoen het, het Paulus homself grootliks verbly. Hy het aan die Kolossense geskryf: “Ek verbly my om julle goeie orde te sien en die vastigheid van julle geloof in Christus” (Kol. 2:5). Die kern van die saak is altyd die gemeentelede se verhouding met Christus. Wanneer dinge in die gemeente verkeerd begin loop, is die belangrikste oorsaak daarvan ‘n gebrekkige geloofslewe. Paulus het die onordelike Korinthiërs se probleem só geïdentifiseer: “Ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus” (1 Kor. 3:1). Hulle was vol jaloersheid, twis en tweedrag en het hulle aan menseverering skuldig gemaak (1 Kor. 3:3-4). Die meeste van hulle was nie Geesvervuld nie en het dus nie Here behaag nie (1 Kor. 3:16; 6:19-20). By gemeente-etes waar die Nagmaal gevier is, is die eensgesindheid van die gemeente nie gedemonstreer en die waardigheid van die geleentheid nie eerbiedig nie, want party het honger daar weggegaan en ander was weer dronk omdat hulle té veel wyn gedrink het (1 Kor. 11:20-21). Wanneer daar in tale gespreek is, was dit soms onordelik (1 Kor. 14:26-33).

Die Galásiërs se onordelikheid was eweneens die gevolg van geestelike veragtering. Hulle het uit ‘n geestelike na ‘n vleeslike toestand teruggeval (Gal. 1:6; 3:3). Hulle het na ‘n ander evangelie geluister wat in stryd met die boodskap van Paulus was, en dit aanvaar in plaas daarvan om dit ‘n vervloeking te noem (Gal. 1:6-9). Hulle het die werke van wet met die genadeboodskap probeer versoen en sodoende die algenoegsaamheid van Christus se kruisdood verloën. Paulus het hulle op die ernstige implikasies hiervan gewys, naamlik die moontlikheid van totale geloofsverval (Gal. 5:2-4). Groot verdeeldheid en onordelikheid het as gevolg hiervan in die gemeente bestaan.

Die Efesiërs is gewaarsku dat ‘n gebrek aan geestelike groei na leerstellige wanordelikheid in die gemeente sou lei. Die gemeentelede sou kinders in die geloof bly wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering (Ef. 4:14).

Die Filippense is teen hoogmoed en verdeeldheid gewaarsku: “Maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees en dieselfde liefde te hê, een van siel, een van sin. Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moenie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n” (Fil. 2:2-4).

Die oplossing vir alle vorms van onordelikheid, bitterheid en vleeslikheid is ‘n intieme wandel met die Here, en ‘n absolute toewyding daaraan om sy wil te ken en te doen. Paulus het dit vir die Kolossense toegebid: “Daarom hou ons ook nie op nie om vir julle te bid en te vra dat julle vervul mag word met die kennis van sy wil in alle wysheid en geestelike insig, sodat julle waardig voor die Here mag wandel om Hom in alles te behaag en julle in elke goeie werk vrug mag dra en in die kennis van God mag groei” (Kol. 1:9-10).

Die Thessalonicense is geprys oor hulle geloofslewe, liefde, ywer vir die Here en ook vir hulle bereidwilligheid om vir sy Naam te ly. Paulus het hulle egter daarop gewys dat hulle liefde nog meer oorvloedig moes word en dat hulle die Here vir die ondervinding van volkome heiligmaking moes vertrou (1 Thess. 3:12; 5:23-24). Hierbenewens was daar diegene in die gemeente wat die goeie orde versteur het toe hulle na valse gerugte geluister het dat die dag van die Here reeds aangebreek het, en dat die Here sy kinders eers ná die tyd van oordele sou kom haal. In die lig hiervan het sommiges hul werk bedank en moes ander gemeentelede vir hulle sorg. Dit het ‘n onnodige las op die gemeente geplaas, en ook leerstellige verdeeldheid geskep omdat die skuldiges ‘n verkeerde vertolking van Bybelse profesieë aangehang het.

Daar rus ook ‘n groot verantwoordelikheid op ons om nie datums vir die wederkoms te bepaal en sodoende aan ander mense ‘n verskoning te bied om op te hou werk of hulle studies te staak nie. So-iets sal ook in ons geval tot wanordelikheid, teleurstelling en groot ontnugtering onder Christene lei. Verskeie Christene het hulleself al hieraan skuldig gemaak en groot ontwrigting vir hulleself én hulle gesinne veroorsaak.

Ons opdrag is om Jesus Christus en sy reddende genade aan alle mense op aarde te verkondig totdat Hy ons kom haal. Ons moet hiermee besig bly, asook met die pastorale versorging van ander gelowiges. “Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy Heer, as Hy kom, op hierdie manier besig sal vind” (Matt. 24:46). Ons moet nie só op Christus se wederkoms ingestel wees dat ons nét dit verkondig nie – die Groot Opdrag van wêreldevangelisasie bly die belangrikste saak.

Dit beteken nie dat ons die tekens van die tye en die belofte van Christus se skielike koms vir sy Bruidsgemeente moet afskeep nie – hoegenaamd nie! Ons wederkomsverwagting maak die opdrag van evangelisasie nóg belangriker. Soos wat Paulus aan die Thessalonicense verduidelik het, moet ons Christelike lewe en bediening in die lig van Christus se wederkoms beplan en uitgevoer word. Dit is waarheen ons op pad is, en vir hierdie ontmoeting moet ons onberispelik in heiligheid wees. Die loon vir ons arbeid op aarde sal ons voor die regterstoel van Christus ontvang, daarom soek ons nie na eer, erkenning en beloning op aarde nie.

Ons is bereid om hier verdrukking te verduur omdat ons werk vir ‘n koninkryk wat nog nie op aarde geopenbaar is nie. Word jy deur hemelse genadeloon gemotiveer in dit wat jy nou vir die Here doen? Paulus sê: “Moses het verkies om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om ‘n tyd lank die genot van die sonde te hê, en het die smaad van Christus groter rykdom as die skatte van Egipte geag, want hy het uitgesien na die beloning” (Heb. 11:25-26). Hy het geweet dat Israel erg deur die koninkryk van die duisternis vervolg sou word omdat God beloof het dat sy Seun, die Verlosser van die wêreld, uit hierdie volk gebore sou word. Moses was bereid om Israel na die Beloofde Land te lei en in die voorpunt van die groot stryd tussen die koninkryke van die lig en die duisternis te staan, eerder as om in Egipte as ‘n prins in weelde en wêreldse genietinge op te groei, want hy het die ewige beloning vir sy roeping voor oë gehou.

Die Thessalonicense het ‘n sterk wederkomsverwagting gehad, en dit het hulle gemotiveer om uit te gaan en die evangelie in ‘n heidenwêreld te verkondig. Mag ons ook deur hierdie ingesteldheid gemotiveer word om dié wat nog buite is, in te bring sodat die bruilofsaal kan vol word – dan sal die Bruidegom kom!

Ons is beslis in die doodsnikke van die kerkbedeling op aarde, want ons het groot en belangrike tekens van die tye wat die vroeë kerk nie gehad het nie. Die belangrikste hiervan is die herstel van Israel in hulle land, dit is die bot van die vyeboom, en spesifiek ook die herstel van Jerusalem as Israel se hoofstad. Lukas 21:24 sê: “Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is.” Jerusalem was inderdaad dwarsdeur die kerkbedeling vertrap terwyl die volk Israel in ballingskap oral in die wêreld was.

Die huidige herstelfase van Jerusalem, wat weer in Augustus 1980 die hoofstad van die herstelde Israel geword het, is ‘n duidelike baken in eindtydse wêreldgebeure. Soos wat Israel toenemend na hulle land terugkeer om hulle belangrike rol as ‘n fisies én geestelik herstelde volk van God in die millennium te speel, moet die ware kerk van Christus voorberei om op ‘n onbekende oomblik die hemelse Bruidegom in die lug te ontmoet. Wanneer ons veilig in hemelse plekke is, sal die uur van duisternis op aarde aanbreek. Dan sal God se oordele oor die sondaars uitgestort word en die Antichris ‘n ongekende skrikbewind instel.

Paulus het dit in duidelike taal aan die Thessalonicense bevestig dat ons nie vir God se toorn bestem is nie. Om hierdie rede sal die ontslape heiliges onverganklik opgewek word en ons sal verander word sodat ons as ‘n enkele groep weggevoer kan word, Christus tegemoet in die lug. Eers hierna sal die mens van sonde, die Antichris, geopenbaar word en met kragtige dade en tekens en wonders van die leuen sy septer oor die misleide mensdom swaai. Ons is op die drumpel van hierdie dramatiese gebeure in die wêreldgeskiedenis.

Wat die wederkomsboodskap betref, is dit opvallend dat dit vir die eerste keer in heidense Europa van die eerste eeu in Thessalonika verkondig is. Dit was byna 2000 jaar gelede. Hierdie boodskap het deel van die Bybel geword en het dwarsdeur die eeue weerklink tot hier in die laaste geslag, vlak voor die wederkoms van Jesus Christus. Hoewel die Christendom in ‘n stadium sterk in Europa gestaan het, is hierdie vasteland besig om in geestelike duisternis weg te sink en het hulle weer nodig dat manne en vroue van God die suiwer woord van die Here aan hulle verkondig. Dieselfde geld ook vir Jerusalem, die geografiese geboorteplek van die Christelike kerk. Kragtige getuienis moet ook hier gelewer word dat Jesus Christus die Messias van Israel en Verlosser van die hele wêreld is. Waar is die vreeslose getuies van Christus wat bereid is om selfs te midde van verwerping en vervolging hierdie groot boodskap te verkondig?

Paulus sluit sy brief met ‘n seëngroet af wat aan almal gerig is wat die Here Jesus waarlik liefhet: “En mag Hy, die Here van die vrede, julle altyd vrede gee op allerlei wyse! Mag die Here met julle almal wees!” (2 Thess. 3:16).