2 Thess. 2: Verskyning van die Mens van Sonde

Die vervolging wat die Christene in die Romeinse Ryk verduur het, het tot groot benoudheid en baie vrae aanleiding gegee – ook in Thessalonika. Onder die aanstigting van vyande van die evangelie van Christus, asook deur mense wat sogenaamde “openbarings” gehad het, is in die naam van Paulus ‘n vervalste brief aan die gemeente geskryf waardeur verwarrende lering oor die wederkoms versprei is. Hierin is beweer dat die dag van die Here (die tyd van oordele en verdrukking) reeds aangebreek het en dat die Christene déúr dit moes gaan. Die leer oor die wegraping van gelowiges vóór die verdrukking is hierdeur weerlê en bespotlik gemaak.

Paulus skryf sy tweede brief aan die gemeente met die volgende twee oogmerke: (1) Om die valse gerugte oor die eindtyd te weerlê, en (2) om vrae wat hy van gemeentelede oor die wederkoms van Christus en sekere ander sake ontvang het, te beantwoord. In hoofstuk 2 spreek hy homself spesifiek ten opsigte van “die wederkoms van onse Here Jesus Christus en ons vereniging met Hom” uit, m.a.w. die wegraping. Daarna verstrek en herbevestig hy die regte volgorde van eindtydse gebeure:

“Maar ons vra julle, broeders, met die oog op die wederkoms van onse Here Jesus Christus en ons vereniging met Hom, om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie – deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees – asof die dag van Christus al daar is. Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval [die vertrek] kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.

“Onthou julle nie dat ek dit altyd vir julle gesê het toe ek nog nog by julle was nie? En nou, julle weet wat hom teëhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word. Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid” (2 Thess. 2:1-12).

Paulus stel in hierdie gedeelte duidelik die basiese feite omtrent die vertrek van die teëhouer, die openbaring van die Antichris en sy verdelging tydens Christus se wederkoms.

Weerlegging van wanopvattings

Die wanopvattings wat na aanleiding van die valse gerugte in Thessalonika posgevat het, was dat die Antichris reeds in die gedaante van die Romeinse keiser gekom het, wat homself inderdaad ook vergoddelik het. Die gepaardgaande verdrukking van die Christene is as die oordele van die dag van die Here beskou. Paniek het ontstaan oor die verwagting van groter vervolging en oordele wat sou volg, asook die feit dat die Here nie, soos Paulus gesê het, die Christene voor die tyd van oordele en benoudheid kom haal het nie.

Paulus herbevestig aan die gemeente dat daar éérs ‘n vertrek (apostasia) moet plaasvind, daarna sal die mens van sonde en seun van die verderf (die Antichris) geopenbaar word. Wanneer hy gekom het, sal hy homself in die tempel van God (in Jerusalem) tot God verklaar. Dit het in daardie stadium nog nié gebeur nie (2 Thess. 2:3-4).

Hierna herhaal Paulus die volgorde van eindtydse gebeure en verstrek terselfdertyd meer besonderhede oor wat in daardie tyd sal gebeur. Hy herinner die gemeente ook aan sy preke wat hy hieroor gelewer het: “Onthou julle nie dat ek dit altyd vir julle gesê het toe ek nog by julle was nie?” (2 Thess. 2:5). Vanaf vers 6 sê hy dat éérs moet die teëhouer uit die weg geruim word (die wegraping van die gemeente), dán sal die ongeregtige (die Antichris) geopenbaar word. Hy sê ook dat die Antichris ‘n lewende persoon op aarde sal wees wanneer Christus hom deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak.

Daar was dus geen bestaansreg vir die valse gerugte in die naam van Paulus dat daar nie ‘n wegraping voor die verdrukking is nie. Daar het ook geen waarheid in die bewerings gesteek dat die Here die Christene aan die tirannie van die Antichris uitgelewer het en hulle saam met die sondaars sou straf nie.

Die vertrek (apostasia)

‘n Woord in 2 Thessalonicense 2:3 wat vir baie mense probleme skep, is dié een wat in ons Bybel as “afval” en in die King James Version as “falling away” vertaal is. In die lig hiervan word beweer dat ons eers die groot afval van die laaste dae en die daaropvolgende openbaring van die Antichris moet beleef, dán sal die Here ons een of ander tyd gedurende die verdrukking kom haal. Dit is egter hoegenaamd nie die geval nie.

Die betrokke Griekse woord is “apostasia.” Dit beteken skeiding of vertrek. Die werkwoordsvorm van “apostasia” is “afistemi” wat vertaal kan word as vertrek, wegneem, weggaan, onttrek, wyk, skei of wegval. In drie van die dertien keer waar die werkwoord “afistemi” in die Nuwe Testament voorkom, dui dit op geloofsverval, m.a.w. die verskynsel dat mense uit hulle geloof wegval. Hierdie tekste is die volgende:

Luk. 8:13. “…in die tyd van versoeking val hulle af.”

1 Tim. 4:1. “…van die geloof afvallig sal word…” (Die King James Version sê “…depart from the faith,” wat duidelik op ‘n vertrek vanaf die waarheid af dui).

Heb. 3:12. “…van die lewende God afvallig word…”

Uit die ander tien gevalle blyk “afistemi” se grondbetekenis van skeiding of vertrek baie duidelik: Luk. 2:37: weggebly; Luk. 4:13: gewyk; Luk. 13:27: gaan weg; Hand. 12:10: verlaat; Hand. 15:38: verlaat; Hand. 19:9: weggegaan; Hand. 22:29: laat staan; 2 Kor. 12:8: wyk; 1 Tim. 6:5: onttrek; en 2 Tim. 2:19: afstand doen.

In die lig van hierdie voorbeelde is dit duidelik dat die grondbetekenis van die woord “apostasia” en sy werkwoord “afistemi” duidelik vertrek (Eng. depart) is. Dit is die rede waarom “apostasia” in 2 Thess. 2:3 in die volgende sewe Engelse Bybels voor die King James Version van 1611 as “departing first” vertaal is en nie as “falling away” nie: Die Wycliffe Bible, Tyndale Bible, Coverdale Bible, Cranmer Bible, Breeches Bible, Beza Bible, en die Geneva Bible.

Die Amplified Bible erken dié betekenis in ‘n voetnota oor “afvalligheid”: “A possible rendering of apostasia is departure [of the church].” 2 Thessalonicense 2:3 se volle betekenis is dus:

“…eers moet die vertrek [van die kerk] plaasvind en die mens van sonde [die Antichris] geopenbaar word, die seun van die verderf…”

Botsende sienings

Die botsende sienings van ons tyd het nie so seer met onkunde oor die betekenis van “apostasia” te doen as wat dit met dogmatiese vooroordele te doen het nie. So baie mense wil, in blinde navolging van hulle kerke se teoloë, net eenvoudig nie in ‘n wegraping voor die openbaring van die Antichris glo nie, daarom vereng hulle “apostasia” se betekenis tot slegs geestelike afvalligheid en niks meer nie.

‘n Eerlike en bybelgetroue uitleg van 2 Thess. 2:3 is dat “apostasia” in die volle omvang van sy betekenis bedoel word – beide wat “vertrek” en “geestelike verval” beteken. Die woord moet dus nie tot sy afgeleide betekenis van “afvalligheid” beperk word nie.

Paulus verwys hier na die fisiese vertrek van die ware gelowiges wat nie vir God se toorn bestem is nie. Die gevolg hiervan sal wees dat die Antichris geopenbaar word en veroorsaak dat sonde en ongeregtigheid op aarde sal floreer. Die grootste wegval uit Christelike standaarde en Bybelse norme van alle tye sal tydens sy bewind plaasvind.

Paulus stel dus eers die feit van die wegraping, die openbaring van die Antichris en sy goddelose hervormings in vers 3 waar hy sê: “eers moet die afval, of vertrek, kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf. Daarna herhaal hy dit met die byvoeging van verdere besonderhede in verse 7 tot 8: “...hy wat nou teëhou, sal uit die weg geruim word; en dan sal die ongeregtige geopenbaar word.”

Die teëhouer

Negatiewe houdings oor die wegraping voor die verdrukking lei ook na skewe sienings oor die teëhouer van die Antichris. Daar is duidelik net een mag wat sterker as dié van Satan en die Antichris is, en dit is die mag van God. Daar is geen aardse of menslike mag wat teen Satan bestand is nie. In die huidige bedeling, voor die persoonlike openbaring van Christus en die Antichris, is daar ‘n geestelike stryd vir heerskappy op die aarde aan die gang. Die Gees van God en die verleidende geeste van Satan werk deur mense om hulle doel te bereik. Johannes sê:

“Hieraan ken julle die Gees van God: elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God; en elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie; en dit is die gees van die Antichris waarvan julle gehoor het dat hy kom, en hy is nou al in die wêreld. Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is… Hy wat God ken, luister na ons; hy wat nie uit God is nie, luister nie na ons nie. Hieruit ken ons die Gees van die waarheid en die gees van die dwaling” (1 Joh. 4:2-6).

Die uitdrukking “hy wat nou teëhou” (2 Thess. 2:7) word in kleinletters geskryf en verwys na die kerk as die liggaam van Christus op aarde. Ons is die tempel waarin die Heilige Gees woon, en daarom is ons die lig van ‘n donker wêreld en die sout van ‘n bedorwe aarde. Ons hou deur die krag van die Heilige Gees die openbaring en magsoorname van die Antichris teë. Eers wanneer die ware kerk deur middel van die wegraping uit die weg geruim is, sal die Antichris as persoon geopenbaar kan word. Hy sal dan sonder teëstand deur ‘n geestelik dooie en misleide mensdom as hulle gemeenskaplike messias en wêreldleier aanvaar word.

Dit is onbybels om te beweer dat die Heilige Gees die teëhouer is wat van die aarde af weggeneem word. Dit is wél deur die krag van die Heilige Gees dat die kerk die Antichris kan teëstaan, maar die Heilige Gees self word nie weggeneem nie.

Miljoene mense gaan in die sewe jaar lange verdrukking gered word (Op. 7:9-14), en dit is net deur die bemiddeling van die Heilige Gees moontlik (1 Kor. 12:3). Voor die sigbare koms van Jesus aan die einde van die sewe jaar sal daar selfs ‘n nuwe uitstorting van die Heilige Gees oor Israel wees om hulle op hul versoening met die Messias voor te berei: “Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ‘n mens bitterlik ween oor ‘n eersgebore kind” (Sag. 12:10).

Dit is dus heeltemal verkeerd om te beweer dat die Heilige Gees van die aarde af weggeneem sal word. Omdat die kerk weg is, sal die Gees nie meer in sy pinkstervolheid werksaam wees nie, maar Hy sal nogtans hier wees as die Gees van strafgerig (Jes. 4:4) asook die Gees wat mense van sonde oortuig (Joh. 16:8) en wederbaar.

Aard van die afval

Die afval wat ná die openbaring van die Antichris op aarde sal plaasvind, sal baie erger as die afvalligheid van die laaste dae voor die wegraping wees (vgl. 1 Tim. 4:1, 2 Tim. 3:1-5 en 4:2-4). Wanneer die Antichris gekom het, sal die hele aarde in morele en geestelike duisternis gedompel word. Uit die morele verval sal ‘n internasionale sonde-kultuur gestalte kry waarin die ergste denkbare immoraliteit, normloosheid, korrupsie, diefstal en wreedheid sal voorkom.

Die geestelike verval sal na die skepping van ‘n misleide alliansie van wêreldgodsdienste lei, waarvan die Antichris die gemeenskaplike messias sal wees. Op ‘n gegewe oomblik sal hy die herboude tempel in Jerusalem betree en homself tot God verklaar (2 Thess. 2:4). Saam met hom sal die duiwel aanbid word (Op. 13:4) en dit sal die ergste vorm van geestelike verval wees.

Eindtydse Antichris

Nog ‘n baie duidelike stelling wat Paulus oor die Antichris maak, is dat hy ‘n eindtydse wêrelddiktator sal wees. Sy openbare optrede sal deur die wederkoms van Jesus beëindig word: “…hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak” (2 Thess. 2:8). Hierdie duidelike stelling sluit alle historiese diktators en godsdiensleiers uit. Hulle was net antichriste in die kleine maar nie die finale, eindtydse Antichris nie. Johannes sê: “Kinders, dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste” (1 Joh. 2:18).

Neem ook die volgende uitsprake oor die Antichris in ag: In Daniël 9:27 word gesê dat hy vir een jaarweek (van sewe jaar) met baie nasies ‘n sterk verbond sal sluit. In die middel van die week, m.a.w. ná 3½ jaar, sal hy die offerdiens in die tempel in Jerusalem laat staak en ‘n genadelose skrikbewind instel (Dan. 9:27). Hy sal die tempel ontheilig, ‘n gruwelike afgodsbeeld van homself daarin laat oprig en alle godsdienste ter wille van die aanbidding van homself afskaf (Dan. 11:31,36). Jesus Christus het hierna verwys toe Hy in Mattheus 24:15-21 van die groot verdrukking pas voor sy wederkoms gepraat het. Dit is duidelik ‘n eindtydse situasie, want in Mattheus 24:29-30 sê die Here Jesus dat sy sigbare koms direk ná die groot verdrukking sal plaasvind.

In Openbaring 19:19-20 beskryf Johannes die leidende rol wat die Antichris en die valse profeet in die komende verdrukking sal speel, en in hierdie geval spesifiek in die groot oorlog van Armageddon. Hulle sal lewend gevang en in die poel van vuur gegooi word op die dag wanneer Jesus Christus met sy wederkoms uit die hemel neerdaal. Dit alleen is ‘n onweerlegbare bewys dat die Antichris ‘n eindtydse figuur sal wees wat eers op die dag van die wederkoms verdelg sal word. Hy is nie ‘n historiese figuur nie.

Vertroosting van die heiliges

In 2 Thessalonicense 2:13 tot 17 is woorde van bemoediging en vertroosting vir die ware gelowiges. Dit is in skerp teenstelling met dié wat verlore gaan omdat hulle in die leuens van die Antichris geglo en op grond daarvan geoordeel gaan word (vers 10-12).

Die saligheid, of verlossing, wat die gelowiges deelagtig geword het, het verskillende aspekte waarvan ons kennis moet neem. Dit verwys eerstens na die eenmalige verlossing van sonde by die wedergeboorte, tweedens na die voortgaande verlossing van die liste van die duiwel, derdens na die toekomstige verlossing uit die oordele van die groot verdrukking (vgl. 1 Thess. 5:9), en vierdens na die toekomstige verlossing van ons verganklike liggame wanneer ons by die wegraping verheerlikte liggame sal kry.

Die dag van God se oordeel, toorn en wraak verwys na die komende verdrukking wat ná die wegraping sal aanbreek. Wee hulle wat in daardie tyd op aarde sal wees, want Paulus sê dat ‘n skielike verderf hulle sal oorval (1 Thess. 5:3). Dit sal onder die Antichris se skrikbewind wees. Hy sal deur ‘n leuengees van Satan ‘n sterk invloed op die ongereddes en vormgodsdienstiges op aarde hê, wat sal veroorsaak dat hulle heelhartig in sy leuens sal glo (2 Thess. 2:10-12).

Dit is duidelik dat die dag van God se wraak en toorn absoluut voor die deur is. Die hele wêreld skreeu nou vir vrede en veiligheid. Hulle is ook, soos nooit tevore nie, onder die invloed van sataniese tekens en wonderwerke wat die grondslag vir ‘n valse herlewing vorm. Hulle het vir Jesus verwerp, maar die komende Antichris sal deur hulle omhels en aanbid word. Johannes sê dat die hele wêreld verwonderd agter die dier sal aangaan en hom openlik sal aanbid as gevolg van die groot magte wat hy het (Op. 13:3-4).

Ons leef in ‘n tyd van groot misleiding, ook in die tradisioneel Christelike wêreld, en dit is ons plig om die boodskap van die wegraping met groot oortuiging te verkondig. Christene het ‘n hemelse bestemming en sal deur middel van die wegvoering die oordele van die verdrukking ontvlug.

Soos wat hoofstuk 2 begin het met ‘n oproep om nie van stryk gebring te word deur verkeerde berigte en wanvoorstellings van God se raadsplan nie, sluit Paulus nou af met ‘n oproep dat die gemeentelede vas moet staan in die voorskrifte wat hulle ontvang het. Hierdie voorskrifte moet nie met wette verwar word nie, want Paulus verwys hier na die inhoud van die evangelie, asook eindtydse profesieë, wat hy mondelings en deur middel van sy briewe aan hulle oorgedra het. Gelowiges wat aan hierdie waarhede vashou, sal ‘n teëhouende faktor teen die openbaring van die Antichris wees. Eers wanneer hulle deur middel van die wegraping uit die weg geruim is, sal die mens van sonde geopenbaar kan word en ook daarin slaag om deur die ganse misleide wêreld aanvaar en aanbid te word.