1 Thess. 4: Heiligmaking en die Wederkoms

In hoofstuk 4 gaan Paulus voort om die konsep van heiligmaking te verduidelik. Hy doen dit op ‘n baie praktiese wyse deur ‘n lewe van heiligmaking teenoor die roekelose en onsedelike praktyke van die Thessalonicense te stel. Die woord “heiligmaking” (Eng. “sanctification”) het al gevestig geraak as ‘n aanvaarbare term met ‘n besondere betekenis. Dit is jammer dat die Nuwe Vertaling van die Afrikaanse Bybel dié woord weglaat (soos ook in Rom. 6:19 en 22, asook 2 Kor. 7:1) en dit vervang met ‘n afgewaterde begrip soos “heilig lewe.” Heiligmaking gaan tog nie net oor uiterlike gedrag wat as ‘n heilige lewe beskryf kan word nie, maar ‘n oorgawe aan Christus en ‘n hartsverandering wat daarmee gepaard gaan.

In vers 1 en 2 spreek Paulus die gemeente sterk aan om die sake in gedagte te hou wat hy voorheen reeds met hulle bespreek het. Dikwels wil mense net nuwe gedagtes en interessante feite in die prediking hoor – dinge wat hulle nog nie voorheen gehoor het nie. Wat meesal van groter belang is, is dat mense die bekende feite van die evangelie weer moet hoor, en dat hulle in die Naam van Jesus Christus ernstig aangespreek sal word om dit in hulle lewens toe te pas. In baie gevalle getuig gemeentelede se lewens nie van die verlangde geestelike standaarde nie, omdat hulle nog nie al die Here se opdragte ter harte geneem en uitgevoer het nie.

Heiligmaking (4:3-8)

In vers 3 tot 8 maak Paulus die volgende  belangrike uitsprake oor heiligheid as ‘n morele én geestelike eienskap wat van elke Christen verwag word:

“Want dit is die wil van God: julle heiligmaking” (v. 3). Paulus het hier ‘n saak gestel wat hy meer volledig in hoofstuk 5 vers 23-24 bespreek, naamlik dat die hele persoonlikheid van die gelowige die heiligmakende krag van God moet ervaar. Omdat die Thessalonicense in ‘n immorele samelewing gewoon het waarin seksuele losbandigheid aan die orde van die dag was, het Paulus dit nodig gevind om ‘n drastiese reiniging van lewe in die verhouding tussen die geslagte te beklemtoon. Dit is ongetwyfeld God se wil dat alle Christene “ingetoë, regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld lewe” (Titus 2:12). ‘n Afgesonderde en heilige lewe is God se norm vir alle gelowiges, of hulle in die eerste eeu of in die 21ste eeu leef. God is absoluut heilig, en Hy is met niks minder tevrede as ‘n morele gelykvormigheid in ons, wat met sy heilige natuur ooreenstem nie.

In vers 4 sê hy: “Elkeen van julle moet weet om sy eie vrou te verkry in heiligheid en eer” (v. 4). Op elke verhoudingsvlak van ons lewe moet die Gees van Jesus Christus sigbaar geopenbaar word. Dit geld veral die huwelik, wat ‘n toonbeeld moet wees van die heilige verhouding tussen die hemelse Bruidegom en sy aardse bruid. Die man is die hoof van die vrou, soos wat Christus die hoof van die gemeente is. Die verhouding tussen hulle moet ten alle tye deur liefde, getrouheid en onderlinge respekbetoning gekenmerk word. Die opdrag is: “Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad het” (Ef. 5:25).

“Nie in hartstogtelike begeerlikheid soos die heidene nie” (v. 5). In die heidendom word daar groot klem op sensualiteit geplaas. Gebruike en gewoontes wat totaal vreemd aan die wil van God en afstootlik vir die Christen is, word algemeen in sulke samelewings beoefen. Immoraliteit is selfs ‘n deel van die heidense godsdienste. Dit is die uitdruklike wil van God, sê Paulus, dat mense uit die stinkende moeras van morele verdorwenheid sal kom en van alle sondige verhoudings en ontaarde gewoontes verlos sal word. God vereis die heiligmaking van mans én vroue, die reiniging van alle menslike begeertes, en die herstel van albei tot die heilige status wat Hy oorspronklik daarvoor bepaal het.

“Niemand moet sy broeder in hierdie saak bedrieg en benadeel nie” (v. 6). Ander menseverhoudings word ook aan goddelike beginsels onderwerp. Paulus sê hierdeur: “Broeders, beoefen julle sosiale en besigheidsverhoudings as heilig, soos dit manne betaam wat aan God toegewy is. Die heidene word deur begeerlikheid en inhaligheid gemotiveer. Julle moet hulle deur dade van eerlikheid en geregtigheid tot beskaming bring.” Die breë terrein van verhoudings met ons medemens is die gebied waarin die geheiligde gelowige die werklikheid van sy geloof, sy integriteit en sy karakter moet uitleef en demonstreer. Onwaardige optrede teenoor jou buurman is in God se oë net so verkeerd as oneervolle gedrag in jou gesin.

“Want God het ons nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking” (v. 7). God het ons, sy kinders, tot totale afsondering van alle vuilheid en onreinheid van enige tydperk in die geskiedenis geroep. Aan die positiewe kant het Hy ons tot heiligmaking geroep. Die kenmerkende eienskap van die Christen se lewe is heiligmaking. Die tydsvorm van die werkwoord “geroep” dui ‘n definitiewe en voltooide handeling aan. Daar is ‘n besliste en ‘n baie duidelike kontras tussen die vleeslike, sensuele lewenswyse van die wêreldling en die geheiligde, gereinigde lewenspatroon wat God van sy kinders verwag.

“Daarom, hy wat dit verwerp, verwerp nie ‘n mens nie, maar God wat ook sy Heilige Gees aan ons gegee het (v. 8). Diegene wat die leer van heiligmaking verwerp, verwerp nie ‘n menslike gebruik nie, maar ‘n Bybelse leerstelling. ‘n Heilige God het gesê dat ons heilig moet wees soos wat Hy heilig is (1 Pet. 1:15-16). Ons moet benewens die Here se genadewerk om ons harte te reinig, ook ons eie verantwoordelikheid in hierdie verband besef en tot uitvoering bring. Paulus sê: “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring” (2 Kor. 7:1). Ons moet gewilliglik afstand doen van alles wat ons verontreinig, en ook daadwerklik onsself in God se diens stel. Paulus sê: “Ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar” (1 Kor. 9:27), omdat heiligmaking ook beteken dat ons afgesonder moet wees vir die diens van die Here.

Broederliefde (4:9-12)

In vers 9 tot 12 word die onderwerp van broederliefde bespreek. Paulus sê: “Oor die broederliefde het julle nie nodig dat ons aan julle skrywe nie, want julle is self deur God geleer om mekaar lief te hê.” ‘n Groot deel van ons onderrig kry ons by ander Christene, maar die beginsel van broederliefde word deur die Here self by ons ingeskerp. ‘n Christen het die innerlike wete dat hy of sy in ‘n spesiale verhouding teenoor ander Christene staan, ongeag wie hulle is. Daar is ‘n spesiale band tussen hulle wat nie tussen Christene en wêreldlinge bestaan nie. Ons is lede van die liggaam van Christus, en daarom broers en susters in die Here.

Die Here Jesus het gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Joh. 13:35). Paulus het nie nodig gehad om aan die Thessalonicense te sê dat hulle mekaar moet liefhê nie, maar dat hulle in die liefde moes toeneem. Johannes sê: “As ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons volmaak geword” (1 Joh. 4:12). As ware broederliefde by jou ontbreek, moet jy weet dat jy nog nie volmaak geword het in die liefde nie. Dan is daar beslis ruimte vir verbetering. Paulus sê dat die liefde van God deur die Heilige Gees in ons harte uitgestort word (Rom. 5:5). Die ondervinding van heiligmaking bring dus ook mee dat ons met die liefde van die Here Jesus vervul word. Dit is in hierdie verband dat Paulus die Thessalonicense vermaan om nog oorvloediger in hulle liefde teenoor mekaar te word (4:10).

In vers 11-12 sê Paulus: “Stel julle eer daarin om rustig te lewe en julle eie sake te behartig en met julle eie hande te werk, soos ons julle beveel het, sodat julle welvoeglik kan wandel teenoor die wat buite is, en aan niks behoefte mag hê nie.” Christene kan baie uit hierdie twee verse leer. Baie van hulle sien dit as ‘n uitdaging om hulle werk te bedank en voltyds in die geloof vir die Here te gaan werk, want “die Here sal vir hulle sorg.” In die proses gebeur dit dikwels dat hulle ‘n las word vir ander Christene, op wie daar ‘n morele verpligting geplaas word om vir hulle te sorg. Intussen kon hulle miskien deeltyds of by die werk net so goed in die diens van die Here gestaan het. Ook aan hulle sê Paulus dat elkeen met sy eie hande moet werk en vir homself moet sorg sodat hy aan niks behoefte sal hê nie. Paulus het self tente gemaak om sy eie uitgawes op sy sendingreise te betaal.

Daar is natuurlik gevalle waarin evangeliste en ander geestelike werkers deur ‘n organisasie of gemeente betaal word om ‘n sekere bediening voltyds te beoefen, waarvoor hulle dan ‘n vaste maandelikse toelaag of salaris kry. Hiermee is niks verkeerd nie, mits dit inderdaad die voltydse aandag van die betrokke persoon vereis en die donateurs met die werk tevrede is.

Wat die behartiging van ons eie sake betref, moet Christene ook leer om dit op ‘n verantwoordelike manier te doen. Rekenings moet stiptelik betaal word en mense moet nie bo hulle vermoë leef nie. Die wêreld kyk na die Christene, en die oomblik wanneer ons onsself aan wangedrag, nalatigheid of korrupsie skuldig maak, plaas dit ook ‘n wolk van verdenking oor baie ander Christene se lewens.

Die wegraping (4:13-18)

1 Thessalonicense 4:13-18 is die klassieke Bybelse perikoop oor die wegraping van die gelowiges. Paulus het dit geskryf om die vrae van sekere mense te beantwoord oor wat van die gelowiges word wat reeds gesterf het. Dié gedeelte lui só:

“Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie. Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring. Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal voor wees nie. Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.”

Paulus verwys hier na die ontslapenes, of die wat slaap. Dood word dikwels in die Bybel met slaap vergelyk (Mark. 5:39; Joh. 11:11) om daardeur te sê dat die dood vir ons wat gered is, iets gans anders as vir die heidene is. Vir ons is dit eerder iets soos slaap, met ‘n blye verwagting op dit wat daarna volg. Ons moet egter versigtig wees om nie hier aan ‘n sieleslaap te dink nie, want die Bybel maak dit duidelik dat diegene wat sterf, onmiddellik en bewustelik by die Here teenwoordig is (2 Kor. 5:8; Fil. 1:23; 1 Thess. 5:10).

Dit is slegs die gestorwe liggaam wat in die aarde slaap, om daarvandaan weer by die koms van die Here opgewek en verheerlik te word (1 Kor. 15:35-57; 2 Kor. 5:1-9). Paulus sê: “Kyk, ek deel julle ‘n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word” (1 Kor. 15:51-53).

Die rede waarom ons as Christene nie moet treur soos die ongelowiges nie, is omdat ons ‘n belofte en waarborg het op ‘n heerlike toekoms saam met Christus. Net so seker as wat Jesus gesterf het en deur die Vader opgewek is, sal dié wat in Christus gesterf het, opgewek word om by sy koms met Hom verenig te word. Daar is oorvloedige bewyse vir die dood en opstanding van Jesus. As ons dit glo, moet ons net so seker weet dat ons ook opgewek sal word en vir altyd saam met Christus sal wees. Hy het immers as eersteling uit die dood opgestaan (1 Kor. 15:23) om daardeur te waarborg dat ons Hom sal volg.

Paulus het geweet dat hierdie groot waarhede is en dat sommige Christene dalk sou wonder of dit alles waar kan wees. Om dié rede sê hy in vers 15 dat dit wat hy aan hulle oordra “die woord van die Here” is. Hierdie vers kan saam met 2 Timótheus 3:16 en Openbaring 22:18-19 as bevestiging vir die verbale inspirasie van die Heilige Skrif aangehaal word. Daardeur sê ons dat die hele Bybel woordeliks deur die Heilige Gees ingegee is en dat ons geen deel daarvan mag verander nie, ook nie as ons dit vertaal nie.

Dié wat in Christus ontslaap het, sal opstaan en net daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met die ontslape Christene verander word en die Here in die lug ontmoet. Volgens vers 16 sal die Here van die hemel af neerdaal. Die Nuwe Testament is daarvan vol dat Christus nou in die hemel is, aan die regterhand van God, waar Hy as Hoëpriester vir ons intree (Hand. 7:55-56; Rom. 8:34; Heb. 8:1). Die tyd wanneer Hy as Koning sal regeer, het nog nie aangebreek nie. Dit is die tyd wanneer al sy vyande ‘n voetbank vir sy voete sal wees (Ps. 2:5-8; 110:2). Op die oomblik is die duiwel die owerste en god van hierdie gevalle, sondige wêreld (Joh. 14:30; 2 Kor. 4:4; Ef. 6:12; 1 Joh. 5:19). Dit is die rede waarom ons tans, volgens Hebreërs 2:8, nog nie in die bedeling leef waarin alle dinge aan Christus onderwerp is nie.

Die dag wanneer die Here Jesus uit die hemel neerdaal, kom Hy sy kinders haal en sal die bedeling van die kerk verby wees. Daarna sal sy oordele tydens die verdrukking oor ‘n goddelose wêreld uitgestort word, en dan eers sal Hy van die troon van Dawid af oor die hele wêreld regeer (Luk. 1:32; Hand. 15:16-17; Op. 11:15). Die tyd van Christus se regering op aarde kan nie met die huidige bedeling gelykgestel word nie, omdat Hy nog in die hemel is.

Nadat al die Christene verheerlikte liggame het, sal hulle van die aarde af weggevoer word, die Here tegemoet in die lug. Die Griekse woord wat vir “wegvoer” gebruik word, is “harpadzo.” Dit beteken “om weggeraap te word,” m.a.w. “om vinnig weggeruk te word.” Paulus gebruik dieselfde woord in 2 Kor. 12:2 waar hy sê: “Ek weet van man in Christus, veertien jaar gelede... dat so iemand weggeruk is tot in die derde hemel.” Die bruidsgemeente van Christus gaan dus weggevoer of vinnig weggeruk word hemel toe.

Wat is die sin daarvan dat die Here ons in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, van die aarde af gaan wegruk? Gaan die ware gelowiges só dramaties van die aarde af weggeneem word om, soos sommige beweer, dadelik weer terug te kom en hier op aarde saam met die ongelowiges geoordeel te word? Vir seker nie, want as die Here ons kom haal, dan doen Hy dit om ons na Hom toe te neem sodat ons kan wees waar Hy is. In Johannes 14:2-3 sê Hy dat Hy vir ons plek in die hemel gaan voorberei het, en wanneer dit klaar is, kom Hy ons haal om by Hom te wees.

Enersyds is die wegraping ‘n vinnige reis hemel toe om voor die regterstoel van Christus te verskyn, waar Christene se werke beoordeel en genadeloon aan hulle toegeken sal word (2 Kor. 5:10; 1 Kor. 3:8-15). Direk daarna sal hulle met die hemelse Bruidegom verenig word, en dan saam met Hom, tydens die sewe jaar van verdrukking, die wêreld in geregtigheid oordeel.

Andersyds is die wegraping ‘n ontvlugting van die aarde af, waar die oordele van God oor die goddeloses uitgestort gaan word. Die Here Jesus het vir sy dissipels gesê: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36).

Mense wat nie in die wegraping glo nie, ontneem hulleself die enigste manier om van die planeet aarde af na die hemel toe geneem te word, waar al die heerlikheid van die Here aan hulle geopenbaar sal word. Verder verbeur hulle ook uit eie keuse die godgegewe seën om die toekomstige toorn te ontvlug en in ‘n plek van veiligheid gestel te word wanneer die Here se oordele die hele wêreld in ‘n verdrukking sal dompel soos wat daar van die begin van die aarde af nog nooit gewees het en ook nooit weer daarna sal wees nie (Matt. 24:21).

Die vertalers van die Nuwe Afrikaanse Bybel het in Lukas 21:36 ‘n doelbewuste poging aangewend om die wegraping uit die Bybel uit te vertaal. Hulle het die Griekse woord “ekfeugo,” wat “ontvlug” beteken (Eng. “escape”) as “behoue deurgaan” vertaal. Volgens hulle sal die Here die ware gelowiges saam met die sondaars op aarde oordeel, maar sorg dat ons behoue deur hierdie vreeslike tyd sal gaan. Dit is beslis nie wat die Bybel sê nie! Wat sou van Noag geword het as hy geredeneer het: “God is ‘n liefdevolle God wat nie regtig die bose mensdom in ‘n vloed sal verdelg nie. Ek gaan nie vir my ‘n ark bou om die oordele te probeer ontvlug nie”? Of wat sou van Lot geword het as hy gesê het: “Ek wil nie uit Sodom weggaan om die rampgebied van goddelike oordele te ontvlug nie; die Here moet my maar hier in Sodom bewaar”? Mense wat die belofte van die wegraping verwerp, openbaar dieselfde gebrek aan insig en geloof in die Woord.

Nee, vriende, die Here gaan sy kinders wegruk om Hom in die lug tegemoet te gaan, want ons is nie vir sy toorn in die verdrukking bestem nie (1 Thess. 5:9). Paulus bevestig hierdie groot waarheid telkens in sy brief.

Wanneer Paulus se beskrywing van die wegraping met die beskrywings van die wederkoms in Openbaring 19:19-21 en Sagaria 14 vergelyk word, dan is die verskille só groot dat ons nie anders kan as om die wegraping duidelik van die sigbare, openbare verskyning van Jesus Christus op die Olyfberg te onderskei nie – dit is twee totaal verskillende gebeurtenisse. Eers kom haal die Here sy kinders, dan volg die bewind van die Antichris vir sewe jaar, daarna vind die wederkoms plaas wanneer die Antichris en sy volgelinge geoordeel en die duisendjarige vrederyk van Christus op aarde ingestel sal word.

Ons moet deur die belofte van die wegraping bemoedig word. Dit is nie ‘n vae begrip van iets wat dalk eendag gaan plaasvind nie – dit is ‘n belofte waarmee ons mekaar voortdurend moet bemoedig. Dit sal die dag van ons heerlike ontmoeting met die Here Jesus wees, en van ons beloning ná die veeleisende stryd van die geloof in ‘n donker wêreld. Dit sal ook die dag van ons uitredding uit die uur van beproewing wees wat oor die hele wêreld gaan kom. Om dié redes moet die wegraping vir elke Christen ‘n “salige hoop” wees om aan vas te hou (Titus 2:13).