1 Thess. 3: Volharding in die Christelike Lewe

Aan die einde van hoofstuk 2 het Paulus die begeerte uitgespreek om weer die gemeente in Thessalonika te besoek: “Maar nadat ons, broeders, ‘n kort tydjie van julle geskeie was – in persoon, nie met die hart nie – het ons met groot verlange ons des te meer beywer om julle aangesig te sien. Daarom wou ons na julle toe kom, ek Paulus, meer as een maal; maar die Satan het ons verhinder” (2:17-18).

In ons tyd is daar ook ontsettend baie werkinge en hindernisse van Satan teen die evangelie en die Christene. Ons moet hiervan kennis neem en dit teëstaan. Hy is ‘n bedrieër wat leuens, valse gerugte en valse leerstellings versprei, maar hy stel ook allerlei ander planne in werking om die belange van God se koninkryk te benadeel en aan te val. Paulus het van hierdie soort ondermyning kennis gedra, daarom sê hy van Satan: “Ons is met sy planne nie onbekend nie” (2 Kor. 2:11). Hoe kan ons weerstand bied as ons nie van die vyand en sy planne bewus is nie?

Waarom laat die Here stryd en aanvegtinge van hierdie aard teen ons toe? Sodat ons getoets kan word, geestelik sterk kan word en kan leer om meer as oorwinnaars in Christus Jesus te wees. Die gemeente in Thessalonika moes leer om die Here te vertrou, die Skrifte te ondersoek en self antwoorde op hulle vrae te kry. In die proses moes hulle geestelik selfstandig word. Daar was ook ‘n ander, baie belangrike rede waarom die Here nie toegelaat het dat Paulus na Thessalonika kon terugkeer nie. Deur hierdie omstandighede is hy gedwing om dit wat hy vir die gemeente wou sê, op skrif te stel.

As gevolg hiervan het miljoene ander Christene reg oor die wêreld die voordeel gehad om Paulus se onderrig, vermanings en bemoediging aan die gemeente te kon lees. Dit geld vir al 14 briewe van Paulus wat in die Nuwe Testament opgeneem is. Hierdie briewe vorm deel van God se geïnspireerde Woord aan Nuwe Testamentiese gelowiges. In die lig hiervan maak dit ook sin waarom Paulus verskeie jare lank in die tronk deurgebring het. Dit het hom nie alleen gedwing om aan die verskillende gemeentes te skryf nie, maar sy persoonlike voorbeeld en sware lyding vir die Here Jesus het ook ‘n stempel van egtheid op die evangelie geplaas wat hy verkondig  en uitgeleef het. Geen opoffering was vir hom te groot nie.

In hoofstuk 3 lees ons dat toe Paulus deur groot verlange oorval is, hy vir Timótheus na die gemeente gestuur het. Daar was ‘n groot benoudheid in sy hart oor die vervolging wat die jong Christene in Thessalonika gely het, en hy wou hulle bemoedig en versterk. Toe dit duidelik was dat hy nie kon gaan nie, het hy vir Timótheus na hulle toe gestuur. Hy skryf:

“Daarom, toe ons dit nie langer kon uithou nie, het ons besluit om in Athene alleen agter te bly; en ons het Timótheus, ons broeder en dienaar van God en ons medewerker in die evangelie van Christus, gestuur om julle te versterk en julle te bemoedig in julle geloof, sodat niemand verontrus mag word onder hierdie verdrukkinge nie; want julle weet self dat ons hiervoor bestemd is. Want ook toe ons by julle was, het ons julle vooruit gesê dat ons verdruk sou word, soos dit ook gebeur het en soos julle weet. Daarom, toe ek dit nie langer kon uithou nie, het ek ook gestuur om julle geloof te wete te kom, of die versoeker julle nie miskien versoek het en ons arbeid tevergeefs sou wees nie” (3:1-5).

Die groot rede vir Paulus se verlange en besorgdheid was of Satan nie dalk van die jong gelowiges mislei het om die geloof prys te gee en na hulle heidense lewenswyse terug te keer nie. In dié geval sou sy arbeid onder hulle tevergeefs gewees het.

Dit is ‘n onbetwisbare feit dat sommige Christene onder Satan se versoekings swig, terugval en weer volhardend begin sondig. Hulle veragter in die genade in plaas daarvan dat hulle in kennis en genade toeneem (vgl. 2 Pet. 3:17-18). Daar is verskillende grade van terugval. Sommige stagneer net in hulle geestelike lewe wanneer hulle nie die ervaring van heiligmaking deelagtig word nie, en bly dan vleeslike Christene wat nie geestelik opgroei nie. Vir die Korinthiërs het Paulus gesê: “En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus... Aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie?” (1 Kor. 3:1-3). Hulle het só min van die Heilige Gees se werk geweet dat Paulus vir hulle moes vra: “Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?” (1 Kor. 3:16).

Die Galásiërs is erg deur hom verkwalik omdat hulle ná ‘n goeie begin in hulle geestelike lewe veragter het en in die vlees geëindig het (Gal. 3:1-3). Daar was ook diegene in Galásië wat die wet saam met die Christelike evangelie wou onderhou, en dit sou tot algehele geloofsverval lei: “Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval” (Gal. 5:4). Dit was ‘n harde maar baie nodige waarskuwing.

Hy het die Efesiërs daaraan herinner dat daar volgehoue geestelike groei moet wees na ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus, sodat hulle nie meer kinders sou wees wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering nie (Ef. 4:13-14). Paulus het egter gevrees dat die Efesiërs nie aan sy oproep gehoor sou gee nie, en gevolglik die vreemde leringe van valse profete ten prooi sou val. Hy het die ouderlinge tydens sy besoek aan Éfese ernstig gewaarsku: “Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het. Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julleself sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan” (Hand. 20:28-30). Die Efesiërs se verval na dooie werke en vormgodsdiens was só erg dat die Here Jesus deur middel van Johannes van Patmos af ‘n brief van waarskuwing aan hulle gerig het waarin Hy gesê het: “Ek het dit teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie” (Op. 2:4-5). Dit beteken dat die Here sy Gees weens hulle afvalligheid van hulle sou onttrek sodat geestelike duisternis weer sou intree. Dit het inderdaad gebeur, en hierdie gemeente het later heeltemal doodgeloop.

Paulus het ook gevrees dat daar nie by al die Hebreeuse gelowiges ‘n gesindheid van volharding en ‘n toewyding tot geestelike groei sou wees nie. Hy het aan hulle geskryf: “Ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou” (Heb. 3:14). Sommige van hulle het nie aan die geloof vasgehou nie, en onder hulle was daar diegene wat totaal uit die genade verval het, daarom die waarskuwing: “Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ‘n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie. Maar vermaan mekaar elke dag solank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie” (Heb. 3:12-13). Om só ‘n geestelike ramp te voorkom, naamlik dat ‘n “broeder” weer ‘n bose en ongelowige hart kry, moet daar volgehoue geestelike groei en volharding op die pad van die Here wees. Paulus het nie dié groei by hulle opgemerk nie. Hy skryf aan hulle: “Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat ‘n mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en het julle weer behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie” (Heb. 5:12). Hulle het geestelik gestagneer.

Paulus het ook vir Timótheus teen die gevaar van geloofsverval gewaarsku. Hy het hom vermaan om die goeie stryd van die geloof te stry en aan die geloof en ‘n goeie gewete vas te hou. “Sommige het dit van hulle weggestoot en aan die geloof skipbreuk gely,” het Paulus gesê (1 Tim. 1:18-19). Daar was ook van hierdie geestelike skipbreukelinge onder Paulus se eie vriende. “Demas het my verlaat omdat hy die teenwoordige wêreld liefgekry het, en het na Thessalonika vertrek” (2 Tim. 4:10). Demas het na sy ou weë teruggekeer en weer ‘n dienskneg van die verdorwe wêreld geword wat in die mag van die Bose lê (1 Joh. 5:19).

Geen wonder nie dat Paulus ‘n diepe besorgdheid oor die jong gemeentes gehad het, en wou seker maak dat hulle aangaan met die Here en volhard op die nuwe en lewende weg. Daar was oorvloedige getuienis van geestelike verval in ander gemeentes, en hy wou voorkom dat dit ook in Thessalonika gebeur. In dié geval sou sy arbeid onder hulle tevergeefs gewees het. Dit is die rede waarom Paulus so baie aandag aan die versorging van nuwe bekeerlinge gegee het. Hy wou hulle stewig in die Christelike geloof grondves. Opvolgwerk en geestelike begeleiding is vandag net so noodsaaklik as wat dit toe was.

Paulus was vol blydskap toe Timótheus met goeie nuus van Thessalonika af teruggekeer het. Hy sê: “Maar noudat Timótheus net van julle af by ons aangekom het en ons die goeie tyding van julle geloof en liefde gebring het... is ons in al ons verdrukking en nood vertroos oor julle deur julle geloof. Want nou leef ons, as julle vasstaan in die Here” (3:6-8).

Staan jy vas in die Here? Paulus het vir die Galásiërs gesê: “Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus Jesus ons vrygemaak het” (Gal. 5:1).

Die lae geestelike standaarde in die moderne Christendom is groot rede tot kommer. Die Here Jesus het oor die tyd voor sy wederkoms gesê: “En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel” (Matt. 24:12). Paulus het ook van die groot afval van die laaste gepraat en bygevoeg: “Weet dit dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af” (2 Tim. 3:1-5). Ware Christene moet hulleself van vormgodsdienstige groepe onttrek omdat hulle die onmoontlike probeer doen om twee here te dien. Hulle verloën effektief vir Christus omdat hulle totaal wêreldgesind is en nie regtig die Here liefhet nie. Dit is die gees van ons tyd.

Selfs die Heilige Gees waarsku ons persoonlik teen die misleiding en geloofsverval van die laaste dae: “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” (1 Tim. 4:1). Petrus wys daarop dat groot geestelike duisternis oor sulke afvalliges kan toesak: “Want as hulle, nadat hulle deur die kennis van die Here en Saligmaker, Jesus Christus, die besmettinge van die wêreld ontvlug het, hulle tog weer deur hierdie dinge laat verstrik en oorwin word, dan het vir hulle die laaste erger geword as die eerste” (2 Pet. 2:20). Paulus sê: “Die regverdige sal uit die geloof lewe; en as hy hom onttrek, het my siel geen welbehae in hom nie” (Heb. 10:38).

Is daar nog opregte geestelike leiers wat besorg is oor die grootskaalse geestelike verval in die eindtydse gemeentes? Doen hulle moeite om die gelowiges elke dag te waarsku solank as wat daar nog tyd is, sodat hulle nie deur die verleiding van die sonde verhard word nie? Is hulle nog bereid om sondes by die naam te noem, soos bv. geldgierigheid, gewelddadigheid, dronkenskap, homoseksualiteit en buite-egtelike verhoudings? Is daar iemand wat ernstig teen die geestelike dwalings van ons tyd waarsku, wanneer Satan soos ‘n engel van die lig in Christelike kerke insluip om sy valse leerstellings deur misleide persone daar te versprei?

Is Christen-ouers oor hulle kinders bekommerd en bid hulle gereeld vir die afvalliges onder hulle? Ook dié wat nog op die regte pad is, moet ondersteun word omdat die versoeker hulle nie sal oorslaan nie. Die meeste mense het egter net ‘n gedaante van godsaligheid en volstaan daarby. Hulle het net die uiterlike skyn van Christenskap omdat hulle aan een of ander kerk behoort, maar hulle ken nie die wederbarende krag van die Heilige Gees nie. Hulle het Hom reeds verloën en gaan met hulle selfregverdiging voort. Hulle oë sal oopgaan wanneer dit dalk té laat sal wees om hulle gebroke verhouding met die Here reg te stel. Staan nóú van jou dwaalweë af op en soek die Here terwyl Hy nog te vinde is.

As Paulus oor die gemeente in Thessalonika bekommerd was, het ons alle rede om nog meer oor mede-gelowiges in ons samelewing bekommerd te wees. Ons moenie net oor ekonomiese, maatskaplike en politieke probleme bid nie, maar oor mense se geestelike nood en die hardheid van hulle bose harte. Net die genade van die Here kan aan verlore sondaars én teruggevalle Christene ‘n geestelike oplossing vir hulle probleme bied – by die kruis van Jesus Christus!

Paulus se gebed vir die Thessalonicense raak die kern van die probleem aan wat alle jong gelowiges het, naamlik ‘n behoefte aan heiligheid en ‘n onberispelike lewenswandel. Só ‘n lewe is alleen moontlik as die Heilige Gees volle beheer daaroor het. Hy bid hulle die volgende toe: “Mag die Here julle ryk en oorvloedig maak in liefde vir mekaar en vir almal, soos ons ook teenoor julle is, sodat Hy julle harte kan versterk om onberispelik te wees in heiligheid voor onse God en Vader by die wederkoms van onse Here Jesus Christus met al sy heiliges” 3:12-13).

Ons moet as Christene onthou dat ons aan die Here behoort omdat Hy ons met sy eie bloed gekoop het. Paulus sê: “Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort” (1 Kor. 6:20). Ons is lede van die bruidsgemeente van Jesus Christus en moet geestelik voorberei word om onberispelik in heiligheid te wees wanneer ons voor Hom sal verskyn.

Paulus sê vir die Thessalonicense dat hulle heilig moet wees op die dag van die wederkoms van onse Here Jesus Christus met al sy heiliges. In die volgende hoofstuk van hierdie brief verduidelik hy aan hulle dat die Here Jesus al die ontslape heiliges saam met Hom sal bring wanneer Hy uit die hemel neerdaal om ons te kom haal. Hierdie ontmoeting dui dus op die wegraping wanneer die ontslape heiliges met opstandingsliggame beklee sal word en ons wat nog in die lewe is, in ‘n oomblik ons verheerlikte liggame sal ontvang en dan saam met al die ander heiliges die Here tegemoet sal gaan in die lug.

Ons moenie die opdrag ligtelik opneem dat ons vir hierdie ontmoeting onberispelik in heiligheid moet wees nie. Hierin is die groot geheim vir ‘n oorwinnende Christelike lewe opgesluit. Die groot gevaar vir geestelike stagnasie en agteruitgang is onder dié gelowiges wat vleeslik is en nog nie die ondervinding van volkome heiligmaking deelagtig geword het nie. Hulle is klein kinders in Christus met baie swak onderskeidingsvermoë, daarom val hulle makliker die verleiding van Satan en die begeerlikhede van die vlees ten prooi. Die oplossing hiervoor is dat die ou, sondige natuur afgelê en gekruisig moet word sodat die Heilige Gees ons volkome met die nuwe natuur van Christus kan beklee.

Paulus sê vir die gemeente in Éfese “dat julle, wat die vorige lewenswandel betref, die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding ten gronde gaan, en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid” (Ef. 4:22-24). Hier is duidelik van ‘n tweede genadewerk sprake: ons moet van die ou natuur ontledig word sodat ons met die nuwe natuur beklee kan word. Paulus onderskei hierdie twee genadewerke van die inisiële reiniging van ons sondes tydens bekering en volkome heiligmaking tydens die vervulling met die Heilige Gees só:

“Christus het ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees” (Ef. 5:25-27). Ná ons wedergeboorte waarin ons die nuwe lewe ontvang, moet daar ‘n tyd kom wanneer ons die volle beheer van ons hele lewe aan die Heilige Gees oorgee. Slegs dan sal ons sonder vlek of rimpel in sy heilige teenwoordigheid kan verskyn.

Is jy onberispelik in heiligheid? Indien nie, dan sal die Heilige Gees jou van dié dinge in jou lewe oortuig wat nog verkeerd is en waardeur Hy bedroef en weerstaan word. Paulus het die Efesiërs gewaarsku dat hulle nie die Heilige Gees moet bedroef nie (Ef. 4:30), maar deur Hom vervul moet word (Ef. 5:18). Hulle moet alle ondeug en boosheid aflê, en sterk na die onvervalste melk van die Woord verlang sodat hulle daardeur kan opgroei. Die Heilige Gees wil ons in ‘n dieper lewe van volkome gehoorsaamheid aan die Here Jesus inlei, maar dan moet ons alles bely en aflê wat struikelblokke in ons geestelike lewe is. Dit was ook Paulus se begeerte om te voltooi wat nog in die Thessalonicense se geloof ontbreek (3:10). Hy wou seker maak dat hulle deur die Gees wandel, want dan sal hulle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie.

Waarom wil ons gered word asof deur vuur heen en as mislukte en onsuksesvolle dissipels met leë hande voor die Here verskyn? Selfs diegene wat die Here al jare lank gedien het, moet ook teen versoekings waak omdat die duiwel hulle geestelik kan beroof en verarm as hulle slagoffers van sy verleidingswerk word. Johannes sê: “Wees op julle hoede, dat ons nie verloor wat ons deur arbeid verkry het nie, maar ‘n volle loon ontvang” (2 Joh. 1:8). Ons moet waak teen die Berower van ons siele en onwankelbaar vas staan in die Here!

Dit was die rede vir Paulus se groot blydskap oor die geestelike stand van die gemeente in Thessalonika: “Want nou leef ons, as julle vasstaan in die Here” (3:8). Wanneer die gemeentelede vervul word tot al die volheid van God, sal hulle dieper insig in die Woord van God hê, ‘n duideliker onderskeidingsvermoë tussen reg en verkeerd, en gevolglik ook ‘n groter sensitiwiteit vir sonde. Hulle sal ‘n onafgebroke bewussyn van die Here Jesus se teenwoordigheid in hulle lewens hê, en ‘n diep verlange om met Hom verenig te word by sy koms. Hulle sal weet dat niks wat die wêreld aan hulle bied, kan opweeg teen die ewige heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie.

Laat ons altyd dankbaar wees dat die Here Jesus die onnaspeurlike rykdomme van sy liefde en reddende genade aan ons geopenbaar het. Mag Hy ons begenadig om onberispelik te wandel.