1 Thess. 2: ‘n Ware Christelike Bediening

In die eerste hoofstuk was redding en bekering aan die orde, asook werke wat by die bekering pas. Dinamiese Christenskap moet noodwendig na godsvrug lei, en die bereidwilligheid om verdrukking ter wille van Christus te verduur. Ons hoop moenie op tydelike dinge gevestig wees nie, maar op die ewige koninkryk van God. In die eerste hoofstuk is ‘n stewige fondament gelê wat as ‘n vertrekpunt dien vir die bespreking van ander aspekte van die Christelike lewe en bediening. In hoofstuk 2 bespreek Paulus die aard van sy eie bediening onder die Thessalonicense omdat vyandige mense valse motiewe aan hom toegeskryf het. Hy weerlê hierdie bewerings en wys op die regte ingesteldheid en benadering wat deur elke prediker en evangelis gevolg moet word.

In hoofstuk 2:1 wys hy daarop dat sy bediening onder die Thessalonicense nie tevergeefs was nie, maar vrug vir die koninkryk van die hemel opgelewer het. Hy het nie net toesprake gehou of lesings gelewer nie, maar boodskappe gebring wat deur die krag van die Heilige Gees mense se harte en lewens verander het. Daar is egter vandag duisende kerke waarin die bediening tevergeefs beoefen word – dit is gemeentes waarin daar nie meer getuienisse van redding gehoor word nie, en waar die vrug van die bediening nie in die lewens van mense gesien kan word nie. Dit was nie die geval in Thessalonika nie.

Omdat Paulus die ware evangelie verkondig het, het hy gely en is mishandel, maar dit het hom geensins van stryk gebring nie. Hy het sy vrymoedigheid behou en op hierdie moeilike weg voortgegaan. Paulus en sy reisgenote was nie op ‘n vakansie-uitstappie nie. Nadat hulle in Filíppi vals beskuldig, geslaan en in die tronk gegooi is (Hand. 16:22-24), het hulle na Thessalonika gegaan om dieselfde boodskap daar te verkondig. Dit is juis hierdie vreeslose vrymoedigheid wat meegebring het dat hy in ‘n dorp kon instap waar die evangelie nog nooit gehoor is nie, en dan sy boodskap in sinagoges én ander plekke kon verkondig sonder dat dit tevergeefs was.

Wanneer Paulus sê dat die evangelie onder veel stryd verkondig is, bedoel hy veel meer as net fisiese vervolging. Die Engelse woord “agony” is van die Griekse woord afgelei wat hier as “stryd” vertaal word. In teenstelling met die lyding en mishandeling wat uiterlik en fisies was, dui hierdie woord ook op ‘n innerlike, geestelike stryd wat teen Satan en sy magte gevoer moet word. In vers 3 sê Paulus dat daar in ‘n oorlogsituasie teen die Bose nie sprake van verkeerde bedoelings en menslike bymotiewe in sy bediening kon wees nie. As daar verkeerde bedoelings was, dan sou hy in die situasie van stryd en mishandeling al lankal moed opgegee het. Hy sê in vers 3 dat sy vermanings nie uit dwaling, onsuiwerheid of bedrog was nie.

Hoeveel teologiese dwalings en onsuiwerheid word vandag nie op ‘n bedrieglike wyse as die waarheid aangebied nie! Dit het in Paulus se tyd al gebeur, maar hy het voorsien dat dit in die eindtyd nóg ‘n veel groter omvang sou aanneem. Hy het in sy laaste brief vir Timótheus geskryf: “Verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening” (2 Tim 4:2-5).

Wat is die dwalings en onsuiwer boodskappe wat vandag so populêr en aan die orde van die dag is? Baie daarvan het met die misplaaste koninkryksteologie te doen. Die leuen word verkondig dat die koninkryk van God hier en nou, nog voor die wederkoms van Christus, sigbaar op aarde gevestig moet word. Dit moet met groot tekens en wonderwerke gepaard gaan, die Christendom moet deur spesiale apostels en profete beheer oor die wêreld oorneem, alle kerke én die hele mensdom moet verenig word om in harmonie saam te bestaan, en daar moet materiële voordele vir almal voortvloei.

Die einddoel met koninkrykstransformasies is die einde van armoede, werkloosheid, siektes, verdrukking en misdaad. Voorspoed en vrede sal volgens hulle oor die verenigde mensdom neerdaal en almal sal mekaar sonder veroordeling aanvaar. Alle geloofsoortuigings, alle seksuele oriëntasies, alle kulturele gebruike en alle ideologieë sal aanvaar word en in vrede naas mekaar bestaan, wat beteken dat die mens volkome bevry sal wees om sy eie god te wees wat sy eie lewenswyse bepaal. Om hierdie doel te bereik, moet die suiwer evangelie glad nie verkondig word nie, want daardeur word mense se sondige gebruike geopenbaar en word daar van hulle verwag om hulle daarvan te bekeer. In plaas van sonde, moet menslike vryhede en onderlinge aanvaarding verkondig word. Dit vereis dat daar ook ‘n ander Jesus verkondig moet word, naamlik die kosmiese Christus van die hele mensdom. Hy kom nie om te veroordeel nie, maar om met almal kompromie te maak en die hele wêreld te verenig. Hierdie valse christus wat in verwondering deur die hele mensdom nagevolg sal word, en vir wie hulle in massas hulle harte sal oopstel, sal volgens Openbaring 13:3-4 die Antichris wees.

Paulus het homself hoegenaamd nie met ‘n valse teologie van dié aard besig gehou nie. Hy het nooit die woord “kompromie” gebruik nie, want sy boodskap het op ‘n radikale bekering uit mense se sondige verlede aangedring. Die Here Jesus sê dat Hy Paulus na die heidene gestuur het “om hulle oë te open, dat hulle hul van die duisternis tot die lig kan bekeer en van die mag van Satan tot God, sodat hulle deur die geloof in My vergifnis van sondes en ‘n erfdeel onder die geheiligdes kan ontvang” (Hand. 26:17-18). ‘n Bekering van hierdie aard bring enige persoon in konflik met mense wat geestelik nog in die duisternis wandel, ongeag of hulle afgode aanbid, geen geloof aanhang nie of dalk ongeredde vormgodsdienstiges is.

Konflik beteken stryd en vervolging. Dit is waarom Paulus vir Timótheus gesê het dat hy bereid moet wees om verdrukking te ly terwyl hy sy bediening vervul. Hy het ook vir hom gesê dat as ons verdrukking ter wille van ons geloof verdra, ons eendag saam met Christus sal regeer (2 Tim. 2:12). Vir die Christene in Rome het hy gesê dat as ons saam met Christus ly, ons ook saam met Hom verheerlik sal word (Rom. 8:17).

In die huidige bedeling wag daar dus vir die ware Christene stryd en konflik met ‘n verdorwe en vormgodsdienstige wêreld, maar wanneer Christus kom en sy koninkryk openbaar, sal ons met Hom verheerlik word en ook saam met Hom regeer. Ons is nie nóú konings wat regeer nie, maar soldate vir die kruis. Ons is vreemdelinge en bywoners in ‘n bose wêreld, daarom moet ons die volle wapenrusting van God aantrek sodat ons staande kan bly teen die liste van die duiwel. Dit is ‘n futiele oefening om nou transformasiebyeenkomste te hou met die oog daarop dat God se koninkryk op aarde moet neerdaal. Dit sal eers gebeur wanneer die Koning kom!

Paulus bewys die suiwerheid van sy prediking nie net uit die stryd en vervolging wat hy ervaar het en die verandering wat daar in die lewens van sy toehoorders plaasgevind het nie, maar in vers 4 en 5 roep hy God ook tot getuie – Hy wat hom geroep, waardig geag en die evangelie aan hom toevertrou het. Enige ware dissipel van Jesus handhaaf ‘n noue verhouding met Hom omdat hy sy opdrag én geestelike toerusting net van Hom af kry.

Roepingsbewustheid is vandag ‘n baie groot gemis in Christene se lewens. Baie van hulle besef nie dat ons ‘n hoë roeping van God in Christus Jesus het (Fil. 3:14) om heilig te leef en getuies vir Christus te wees nie. Dit geld vir almal van ons – mans en vrouens, oud en jonk. Die Here Jesus het vir sy dissipels gesê: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook” (Joh. 20:21). Hy het ook gesê: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaria, en tot aan die uiterste van die aarde” (Hand. 1:8).

Roepingsbewustheid wek nederigheid en afhanklikheid van die Here. Dit bring ‘n besef van verantwoordelikheid teenoor die Here mee om die evangelie as kosbare skat met andere te deel en terselfdertyd met jaloersheid oor die suiwerheid daarvan te waak. Roepingsbewustheid is die vrug van wedergeboorte en geloofsekerheid. Die persoon wat sekerheid van saligheid het, besef sy of haar verantwoordelikheid om die Here te dien en sodoende vrug te dra wat by die bekering pas. Die roepingsbewuste dissipel spreek nie om mense te behaag nie, maar verkondig met groot vrymoedigheid al die implikasies van die evangelie. Daar is ‘n kosteberekening aan verbonde om jouself te verloën as jy werklik die Here wil behaag en deur Hom gebruik wil word.

Daar was ook kwaadsprekers in Thessalonika wat Paulus van vleitaal en hebsug beskuldig het. Dit was egter nooit deel van sy mondering nie en hy het homself teen hierdie aansprake verdedig. Hy het gesê: “Want ons het, soos julle weet, ons nooit met vleitaal opgehou of met bedekte hebsug nie. God is getuie. Ook het ons nie die eer van mense, óf van julle óf van ander, gesoek nie” (2:5-6).

Vleitaal is om ‘n valse vrede te verkondig, om mense te prys wanneer hulle dit nie verdien nie, en om mense wat nog nie werklik tot bekering gekom het nie, van die kansel af salig te spreek omdat hulle reeds gedoop is en op grond daarvan as verbondskinders van die Here beskou word. Hierdie vorm van vleitaal is ‘n groot sonde wat baie algemeen gepleeg word en waarvoor daar nog duur betaal gaan word. Die toegang tot God se genade is deur die bloed van die Lam en deur sondebelydenis, en nie deur die doop of kerklidmaatskap nie.

Paulus het nooit die evangelie verkondig uit hebsug of vir persoonlike gewin nie. Dit staan in skrille kontras met baie van vandag se groot predikers wat in absolute weelde leef. Paulus het ook nie die eer van mense gesoek nie. Om gewild te wees en deur die gemeenskap geëer en erken te word, is die natuurlike strewe van enige persoon, maar dit is juis hierdie eienskap wat mense kompromie laat maak. Hoe dikwels gebeur dit nie in ons tyd nie dat mense ter wille van aansien en bevorderingsmoontlikhede hulle streng Christelike, volksnasionalistiese oortuigings op die agtergrond skuif en hulle steun aan ‘n modernistiese gelykmakingsbeleid verleen wat tot wêreldgelykvormigheid lei. Die Heilige Gees moet ons gemoed vernuwe sodat ons ons natuurlike strewe na aansien en hebsug kan oorkom en na vaste Bybelse beginsels terugkeer wat nie deur humanistiese idees en wêreldse ideale beïnvloed word nie.

In vers 7 tot 12 beklemtoon Paulus sy verbintenis tot die liefdevolle versorging van die gemeente, soos wat ‘n moeder haar kinders versorg en ‘n vader sy kinders onderrig en vermaan. Hy was ‘n ware herder vir hulle. Sy pastorale bediening was nie onpersoonlik en teoreties nie, maar hy het self die eienskappe uitgeleef wat hy van ander verwag het om te doen. Hy het geskryf: “Julle is getuies, en God, hoe heilig en regverdig en onberispelik ons ons gedra het teenoor julle wat glo... julle [moet] waardig wandel voor God wat julle tot sy koninkryk en heerlikheid roep” (2:10,12).

Liefdevolle interpersoonlike kontak is ‘n uiters belangrike aspek van gemeentebou. Die Nuwe Testament is vol van die praktiese liefde van die Here Jesus wat in ons lewens moet neerslag vind. Johannes sê: “God is liefde... Hy het ons liefgehad en sy Seun gestuur as ‘n versoening vir ons sondes. Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ons ook mekaar lief te hê” (1 Joh. 4:8-11). Sonder hierdie opregte liefde sal die gemeente nooit as ‘n liggaam kan funksioneer om sy taak en roeping uit te voer nie. In vers 9 beklemtoon Paulus die feit dat hy, gedring deur die liefde van Christus, dag en nag gewerk het om die evangelie te verkondig.

Vers 10 gebruik drie woorde om Paulus se gesindheid en status voor die Here te beskryf, naamlik heilig, regverdig en onberispelik. Die boodskap wat hy aan die gemeente gebring het, was nie net in woorde nie, maar is deur sy persoonlike heiligheid en onberispelike optrede bevestig. Christene besef nie altyd dat daar mense is wat hulle fyn dophou nie, ook uit ander bevolkingsgroepe, om sodoende ‘n antwoord te probeer kry of Jesus werklik lewe en of Christenskap ‘n lewende verhouding met Hom is, soos wat ons voorgee dat dit is. Tot watter oortuiging sal mense kom as hulle na jou lewe kyk? Miskien is daar nog baie dinge in Paulus se lewe waarvan ons navolgers moet word. Vir die Korinthiërs het hy gesê: “Wees my navolgers, soos ek dit van Christus is” (1 Kor. 11:1).

In verse 13 tot 16 word die reaksie van die toehoorders op Paulus se prediking beskryf. Paulus maak dit duidelik dat die enigste gesag wat hy gehad het, dit is wat hy van God ontvang het. Indien mense na sy preke sou luister as sou dit preke van die mens Paulus wees, dan sou dit van geen waarde gewees het nie omdat Paulus in homself niks was nie. Hy is dankbaar dat die mense die boodskappe as God se woord aanvaar het: “Daarom dank ons God ook sonder ophou dat, toe julle die woord van God ontvang het wat deur ons verkondig is, julle dit aangeneem het nie as die woord van mense nie, maar, soos dit waarlik is, as die woord van God wat ook werk in julle wat glo” (2:13). Hierdie mense het ‘n leerbare gees gehad en hulleself vir die woord van die Here oopgestel. Hulle het die gesag daarvan aanvaar, hulleself volgens die eis daarvan bekeer, en nie regverdiging vir hulle eie sondes gesoek nie.

Ongelukkig kan prediking nie altyd as die woord van God aanvaar word nie, omdat daar baie valse leraars is wat valse boodskappe bring. Behalwe dat die prediker se eie lewe van die egtheid van sy boodskap moet getuig, moet die hoorders ook self die Skrifte ondersoek om die waarheid daarvan vas te stel. Alles wat in stryd met die Woord is, moet verwerp word.

Een van die bewyse dat die suiwer woord van God onder die Thessalonicense gewerk het, is volgens vers 14 tot 16 die feit dat dit tot vervolging aanleiding gegee het. Die Griekse woord vir getuienis, “marturia,” het in die mond van die Christene die betekenis van “martelaarskap” (Eng. martyrdom) bygekry omdat die ware Christene vroeër of later wél vir Christus gely het. Joodse gelowiges is deur hulle eie stamgenote vervolg. Dit gebeur ook onder ander volke dat Christene soms hewig deur hulle eie familie gekritiseer en vervolg word wanneer hulle getroue en heelhartige navolgers van die Here Jesus word.

Volgens vers 16 kom die toorn van God tot die einde oor dié Jode wat die evangelie van Christus vyandig is. Opkomende geslagte wat dieselfde houding inneem, maak die maat van hulle vaders se sondes vol. Dit is die rede waarom Israel ná die verwerping en kruisiging van Christus en die vervolging van die vroeë Christelike kerk, uit hulle land verdryf is en ballinge in die wêreld geword het (Matt. 23:37-39; Luk. 19:41-44; 21:20-24). Die ergste toorn van God sal gedurende die komende verdrukking, wat die tyd van benoudheid vir Jakob sal wees, oor hulle kom (Matt. 24:15-22; Jer. 30:7). ‘n Gelowige oorblyfsel van die volk sal egter gered word (Sag. 12:10) en al die Messiaanse beloftes in hulle eie land beërf.

Ongeredde lede van die nasies wat ook vir Jesus Christus en sy evangelie verwerp, verkeer self onder God se toorn en sal saam met die ongeredde Israel in die groot verdrukking beland. Daar is geen ware lewe of toekoms vir enige mens op aarde buite die Here Jesus nie.

Soos alle ander hoofstukke in hierdie brief, word hoofstuk 2 ook met ‘n gedagte oor die wederkoms van Christus afgesluit. Paulus sê vir die gemeente: “Wie anders as julle is ons hoop of blydskap of kroon van roem in die teenwoordigheid van onse Here Jesus Christus by sy wederkoms? Want julle is ons eer en blydskap” (2:19-20).

Paulus hou die profetiese vergesig van Christus se wederkoms aan die gemeente voor. Hy wil hulle laat verstaan dat alles wat ons in hierdie lewe doen, in die lig van die ewigheid beoordeel moet word. Ons moenie na verganklike beloning in ‘n verbygaande wêreld soek nie, maar na krone in die teenwoordigheid van Jesus Christus voor sy regterstoel. Aan die gemeente in Rome het hy gesê: “Want ons sal almal voor die regterstoel van Christus gestel word... So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee” (Rom. 14:10).

Een van die krone wat aan getroue dissipels toegeken sal word, is die kroon van roem vir sielewenners. Die gemeente in Thessalonika het uit mense bestaan wat onder Paulus se prediking vir die koninkryk van God gewen is. Hiervoor sal hy eendag genadeloon kry. Sy ingesteldheid was nie om op aarde ryk en belangrik te wees nie, maar om by Christus se wederkoms as ‘n getroue dienskneg bevind te word.

Paulus het homself uitgestrek na ‘n koninkryk wat nie van hierdie wêreld is nie, maar wat by die koms van die Koning geopenbaar sal word. Aan die Filippense het hy gesê: “Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus” (Fil. 3:20). Streef jy na aardse belange en beloning, of na die koms van ‘n hemelse koninkryk waarin die heiliges wat deur die huidige wêreld verwerp en vervolg word, saam met Christus sal regeer? Ons kan nie die wêreld én die Here dien nie.

Baie Christene doen nie werke met ewigheidswaarde nie en sal eendag met leë hande voor Christus verskyn – gered asof deur vuur heen (1 Kor. 3:15). Lei jou aardse lewe in die lig van die Here Jesus se wederkoms en berei jou voor om aan Hom rekenskap te gee oor hoe jy jou talente gebruik het. As jy sy koms verwag, sal jy jouself ook beywer om sy koninkryk wat tans nog verborge is, op aarde uit te brei. Jy sal ook bereid wees om die goeie stryd van die geloof te stry en nie deur ‘n verdorwe wêreld beïnvloed of ontmoedig te word nie.

Aan die einde van sy aardse lewe het Paulus aan Timótheus geskryf: “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou. Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het” (2 Tim. 4:7-8). Sy loon vir getroue en selfverloënende arbeid sal hy eers in die komende dag van die Here kry.