1 Thess. 1: Geloof, Liefde en Hoop

Inleiding

Die stad Thessalonika is in die noorde van Griekeland aan die kus van die Egeïese See geleë. In Bybelse tye was Thessalonika die hoofsentrum en belangrikste hawe van die Romeinse provinsie Macedonië. ‘n Ander voordeel van die stad was dat dit op ‘n besige landroete geleë was, naamlik die Via Egnatia, wat van Rome af na die Ooste gelei het en ook deur Bisantium gegaan het, wat later Konstantinopel genoem is en tans as Istanboel bekend staan.

In Nuwe Testamentiese tye het daar nagenoeg 200 000 mense in die stad gewoon. Die groot meerderheid van hulle was Grieke, maar daar was ook heelwat Romeine, Jode en Asiate wat na hierdie welvarende handelstad gelok is. Daar was altyd ‘n groot sametrekking van Jode in plekke waar goeie sake-geleenthede bestaan het. Volgens Handelinge 17:1-4 was daar ‘n Joodse sinagoge in die stad waarby baie Griekse proseliete aangesluit het. Aangesien morele verval en afgodery in die stad aan die orde van die dag was, het baie van die nie-Jode hulle na die sinagoge gewend as die enigste plek waar vaste beginsels en morele standaarde verkondig en gehandhaaf is.

Thessalonika bestaan vandag nog en word Salonika genoem. Dit word deur meer as 300 000 mense bewoon. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het die Nazi’s 60 000 Jode uit die stad verwyder en doodgemaak.

Op sy tweede sendingreis het Paulus eers die stede in Klein Asië besoek (dit is in die huidige Turkye) waar hy en Barnabas die evangelie tydens sy eerste sendingreis verkondig het. Saam met Silas, Timotheus en Lukas, het Paulus op hierdie tweede sendingreis verder tot by Troas gegaan, waar hy in ‘n visioen die roepstem van die Macedoniër ontvang het: “Kom oor na Macedonië en help ons!” (Hand. 16:9). In reaksie hierop het hy en sy reisgenote van Klein Asië af na Europa oorgevaar en by Filippi in Macedonië aangekom. Ná die wedervarings met Lidia, die purperverkoopster, en die tronkbewaarder in Filippi, moes hulle die stad verlaat (Hand. 16:9-40). Paulus en sy geselskap het toe 160 kilometer weswaarts op die Via Egnatia gereis totdat hulle by Thessalonika aangekom het (Hand. 17:1-9).

Die evangelie is in Thessalonika aan Jode én Grieke verkondig. Sommige van hulle het die boodskap aanvaar en tot bekering gekom, maar andere het dit verwerp en Paulus aktief teëgestaan. Die meerderheid ortodokse Jode het die evangelie van Christus as ‘n bedreiging vir Judaïsme gesien en valse gerugte teen Paulus versprei. Hulle het ook van die ongelowige Grieke teen Paulus opgesweep deur te beweer dat hy opstand teen die Romeinse Ryk aanmoedig omdat hy ‘n ander koning in die plek van die keiser verkondig. Die vervolging teen Paulus het toegeneem en veroorsaak dat hy die stad moes verlaat en verder na Berea en daarna na Korinthe gereis het.

Paulus het vir Timótheus na die gemeente in Thessalonika teruggestuur om na hulle welstand te verneem en verdere onderrig aan hulle te gee. Hy was baie bemoedig deur die verslag van Timótheus, maar het ook meer vrae van die jong gelowiges af ontvang. Dit het daartoe gelei dat hy twee briewe aan die Thessalonicense geskryf het terwyl hy in Korinthe was. Die eerste brief is vroeg in die vyftigerjare van die eerste eeu geskryf. Dit maak daarvan een van Paulus se vroegte geskrifte – moontlik die eerste een ná Galásiërs.

Aanhef en seëngroet (1:1-2)

In sy aanhef tot die brief gebruik Paulus die woord “ons.” Hy sluit vir Silas en Timótheus in, omdat hulle tydens sy tweede sendingreis sy medewerkers en ondersteuners was. Silas, of Silvanus soos die Romeine hom genoem het, was Paulus se sekretaris vir die skryf van sy briewe. Timótheus was ‘n medewerker wat deur Paulus op sy eerste sendingreis tot geloof in Christus gelei is. Paulus beskryf die geadresseerdes as “die gemeente van God.” Dit beteken dat hulle die “uitgeroepenes” in Thessalonika is – dit is diegene wat positief op God se roeping gereageer het om deur Jesus Christus gered te word. God se roeping tot redding gaan volgens Handelinge 17:30 na alle mense uit, daarom verwerp die ongereddes self hulle roeping én die saligheid wat in Christus aan hulle gebied word. Hulle is vir hulle eie ondergang verantwoordelik.

Die geadresseerdes word verder gekwalifiseer as ‘n groep wat “in God die Vader en die Here Jesus Christus is.” Paulus het dit in sy prediking duidelik aan die Thessalonicense gestel dat Jesus die Christus is, dit is die Gesalfde van God, en dat Hy een met die Vader is. Jesus is self net soveel God as wat die Vader en die Heilige Gees God is. In sy seëngroet sê Paulus: “Genade vir julle en vrede.” Dié twee woorde kom altyd in hierdie volgorde voor, want God se genade en goedgunstigheid teenoor ons is die grondslag vir sy vrede in ons harte.

In vers 2 sê Paulus: “Ons dank God altyd oor julle almal as ons aan julle dink in ons gebede.” Danksegging teenoor God is ‘n wesenlike en uiters belangrike deel van elke Christen se lewe. Dit maak nie saak wat die omstandighede is waarin ons verkeer nie – die genadegawes van God is altyd baie meer oorvloedig as die gevare wat dreig. Aan danksegging is daar geen beperking nie, want dit moet “altyd” beoefen word en deur “almal.” God is onveranderlik en sy genadegawes aan dié wat in Hom glo is onophoudelik, daarom behoort ons Hom ook altyddeur te dank en te prys. Aangesien alle dinge vir ons ten goede meewerk, dank ons die Here vir alles en almal.

Geloof, liefde en hoop (1:3)

Paulus noem drie uitstaande kenmerke van hierdie gemeentelede, naamlik die werke van hulle geloof, die arbeid van hulle liefde en die lydsaamheid van hulle hoop. Hulle het dus nie by blote gesindhede volstaan nie, maar in hulle geestelike lewe daadwerklik tot aksie oorgegaan. Geloof sonder werke is dood (Jak. 2:14,17). Die eerste werk van ‘n gelowige is om homself vanaf sy sondige verlede tot die Here Jesus te bekeer. Paulus prys hierdie gemeente omdat hulle hul van die afgode bekeer het (1:9). Die tweede vorm van werke in ‘n Christen se lewe is liefdediens aan God én ons naaste. Paulus gee erkenning aan die feit dat die gemeente die lewende en waaragtige God dien (1:9). Die derde groep werke staan in verband met die lydsaamheid van die hoop, en dui op volharding onder moeilike omstandighede. In 2 Thess. 1:4 verwys Paulus na die gemeente se volharding en geloof onder al die vervolging en verdrukking wat hulle verduur het. Die lydsaamheid van die hoop beteken dat ons te midde van vervolging en die felle aanslae van die Bose op die pad van die Here sal volhard, terwyl ons altyd die hoop op sy wederkoms koester. Dit is ‘n reinigende hoop, want elkeen wat die hoop op Christus se koms het, reinig homself soos Hy rein is (1 Joh. 3:3). Hoop lei dus ook na werke in ‘n Christen se lewe.

Christenskap is ‘n dinamiese lewe van diensbaarheid. Die Here Jesus het die volgende oor die verpligtinge gesê wat die evangelie op ons lê: “As julle hierdie dinge weet, salig is julle as julle dit doen” (Joh. 13:17). Hy het ook gesê: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is” (Matt. 7:21). Ons moet godvresend wees, met ander woorde rein van hart, én ook die Here dien as ons by Hom in guns wil wees en deur Hom verhoor wil word (Joh. 9:31).

Dit is op hierdie belangrike punt dat baie mense se geestelike lewe plat val – hulle bely wel die Here met hulle lippe, maar skram altyd weg as daar werk in die koninkryk gedoen moet word. Óf hulle beskou hulself nie as bevoeg om die werk te doen nie, óf hulle het nie tyd nie, óf dit is benede hulle waardigheid, óf die vergoeding is nie na wense nie. Dit mag wees dat hulle net ongemotiveerd en lui is, of dalk bang vir vervolging. Paulus het vir die Korinthiërs gesê: Ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie” (1 Kor. 9:27). Selfdissipline is baie nodig.

Mense wat nie die Here aktief dien nie, sal volgens 2 Kor. 13:5 ernstig hulle geloof moet ondersoek of dit ‘n ware geloof is, want ‘n ware geloof móét deur werke van geloof gevolg word: “Dra dan vrugte wat by die bekering pas” (Matt. 3:8). Hoe staan dit met jou werke van geloof, die arbeid van jou liefde en die lydsaamheid van jou hoop?

Niemand van ons word deur werke gered nie, maar net deur geloof (Ef. 2:8-9). Ná ons redding moet ons hele lewe egter deur geloofs- en liefdeswerke gekenmerk word, wat deur die Heilige Gees voortgebring word. Ons is “in Christus Jesus tot goeie werke geskape wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel” (Ef. 2:10). Ons is almal tot getuies van Christus geroep (Hand. 1:8). Indien ons nie daadwerklik uitvoering aan die Groot Opdrag gee nie, sal die ongeredde wêreld verlore gaan en die Here Jesus sal hulle bloed van ons hande eis (Eseg. 33:8). Het jy al vir diens aangemeld om deur die Here in sy koninkryk gebruik te word?

Broederskap en verkiesing (1:4-5)

Paulus kan ten nouste met hierdie gemeente identifiseer omdat hulle ‘n lewende geloof gehad het, daarom noem hy hulle broeders in Christus (1:4). Hy het homself geensins op ‘n troontjie geplaas omdat hy die evangelie aan hulle verkondig het nie. Die evangelie het in elk geval, volgens vers 5, deur die krag van die Heilige Gees na hulle toe gekom en nie deur sy eie vermoëns nie. Om dié rede is hy op dieselfde vlak as die Thessalonicense en is hulle sy broers in die Here Jesus. Die lede van die liggaam van Christus is gelykwaardig en vervul aanvullende rolle vir die goeie funksionering van die hele liggaam (1 Kor. 12:14-27).

Daar het ‘n groot verandering in Paulus se lewe ingetree sedert die tyd voor sy bekering toe hy ‘n hoogmoedige Fariseër was, tot in hierdie stadium waarin hy homself op ‘n gelyke vlak met gelowiges uit die heidense nasies gereken het. In die kerk van ons tyd is daar heeltemal té veel verskil tussen predikante en gemeentelede. Daar moet ‘n groter broederlike samewerking, ‘n benutting van elkeen se vermoëns en talente, en ‘n gesamentlike afhanklikheid van die krag van die Heilige Gees in die gemeente geopenbaar word.

Paulus verwys ook in vers 4 na die gemeente se verkiesing deur die Here. Daar was ‘n tyd, gedurende die Ou Testament, toe Israel God se uitverkore volk was en al die ander volke as heidene beskryf is. Selfs in Israel is lede van die uitverkore volk egter nie outomaties gered nie. Hulle moes ‘n verhouding met die Here hê en in sy weë wandel, sodat Hy ook hulle harte kon besny. Volgens 1 Kor. 10:5 het die Here in die meeste Israeliete geen behae gehad nie, omdat hulle moedswillig in goddeloosheid geleef het. As gevolg daarvan het Hy hulle verwerp.

In Nuwe Testamentiese tye het God se roeping tot redding na alle mense op aarde uitgegaan. Paulus het vir die Grieke in Athene gesê: “God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer” (Hand. 17:30). Paulus het ook vir Timótheus gesê: “God, ons Verlosser, wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom” (1 Tim. 2:3-4). Die Thessalonicense was dus deel van God se universele roeping en verkiesing wat aan alle mense op aarde verkondig moet word.

Hulle het by Paulus die goeie nuus verneem “dat die heidene mede-erfgename is en medelede van die liggaam en mededeelgenote aan die belofte in Christus deur die evangelie” (Ef. 3:6). Elke persoon uit elke nasie wat positief op hierdie wêreldwye roeping en verkiesing reageer, word weergebore en kry die mag om ‘n kind van God genoem te word (Joh. 1:12).

Die keuse berus by elke individu om op die Here se verkiesing en roepstem tot redding te reageer. Die wat nie Christene wil word nie, word nogtans geroep en het ‘n gelyke kans met alle ander mense om gered te kan word. As hulle egter die Heilige Gees weerstaan en sodoende God se roeping verwerp, sal hulle geoordeel word. “Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom” (Joh. 3:36). “Hoe sal ons ontvlug as ons so ‘n groot saligheid verontagsaam?” (Heb. 2:3).

Die gelowiges in Thessalonika het hulle grootliks verbly omdat hulle deur die geloof deelgenote van die liggaam van Christus geword het. Hulle het hulleself van harte toegewy aan die opdrag om getuies vir Christus te wees, en was ook bereid om ter wille van sy Naam te ly.

Voorbeelde van hulle geloof, liefde en hoop (1:6-10)

Hierdie gemeente het die Woord van die Here in baie verdrukking ontvang, maar nogtans in die blydskap van die Heilige Gees (1:6). Hulle het nie onrealistiese verwagtings oor die onmiddellike openbaring van God se koninkryk op aarde gekoester nie, omdat hulle geweet het dat die hele wêreld in die mag van die Bose lê (vgl. 1 Joh. 5:19; Ef. 6:12). Hulle was bereid om verdrukking en vervolging vir die Woord te verduur, omdat hulle besef het dat die kerk van Christus in ‘n stryd teen bose magte gewikkel is. Dit was vir hulle ‘n eer om vir Christus te ly, daarom het hulle die blydskap van die Heilige Gees te middel van al die aanslae ervaar. Paulus het hulle vermaan om nie verontrus te word onder die verdrukkinge nie, omdat hulle daarvoor bestem is (3:3).

Petrus sluit ook by hierdie gedagte aan, naamlik die noue verband tussen verdrukking en blydskap. Hy sê: “Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie; maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel” (1 Pet. 4:12-13; vgl. Luk. 6:22-23). Wat die hantering van verdrukking betref, was die Thessalonicense, deur die krag en blydskap van die Heilige Gees, ‘n inspirerende voorbeeld vir baie ander.

Hulle was ook ‘n voorbeeld deurdat hulle geloof tot praktiese werke van geloof gelei het. Hulle het hulle geloof in Christus met ander mense gedeel, tot in plekke ver anderkant Thessalonika. Paulus sê: “Van julle uit het die woord van die Here weerklink, nie alleen in Macedonië en Acháje nie, maar ook op elke plek het julle geloof in God uitgegaan” (1:8). Wat ‘n getuienis oor die evangelisasie-ywer van hierdie klein maar dinamiese gemeente! Paulus het nie luidsprekers, radiostasies, tv-netwerke, klankkasette, cd’s en dvd’s tot sy beskikking gehad nie, maar deur hierdie gemeentelede se persoonlike getuienis het die boodskap van verlossing oral in die omtrek onder baie mense weerklink.

‘n Mens kan nie anders as om onder die indruk te kom dat daar in die vroeë Christelike kerk iets was wat in ‘n groot mate in die moderne kerk ontbreek nie. Die antwoord is sekerlik geleë in die feit dat hulle onder die leiding van die Heilige Gees tot werke van geloof en liefdes-arbeid toegewy was, en ook bereid was om dit onder uiters moeilike omstandighede te doen. Hulle liefde vir die Here Jesus én vir ‘n verloregaande wêreld was ‘n sterk motiverende krag in hulle lewe. Hulle het nie vir die wêreld geleef nie, maar vir ‘n koninkryk wat nog kom.

Die lydsaamheid van hierdie gemeente se hoop word in vers 10 as ‘n lewende wederkomsverwagting beskryf. Die vroeë kerk het nie geweet hoe lank dit sou wees voordat die Here weer kom nie, en het verwag dat dit selfs nog in hulle eie leeftyd kon wees. Hier is dus nog ‘n rede waarom hulle so gou ná hulle bekering toegewyde kinders van die Here was wat met vrymoedigheid vir Hom getuig het. Christene van vandag het nog meer rede om te weet dat ons naby aan die einde van die kerkbedeling is, en dat Jesus spoedig sy kinders sal kom haal.

Tóg sien ons dat die groot kerke in ons dag in ‘n bejammerenswaardige toestand van formalisme, passiwiteit en verwagtingloosheid verkeer. ‘n Kerk sonder ‘n duidelike toekomsverwagting raak aardgebonde, hou homself met humanisme en liberale politiek besig, en is hoegenaamd nie in staat om ‘n suiwer weerklank van die evangelie te produseer nie.

Om slegs te weet dat daar iets soos ‘n wederkoms is, is nie goed genoeg nie. Die inhoud van vers 10 maak dit duidelik dat ons sekere detail van die wederkoms kan ken en verstaan, en dat ons beslis kan verwag om van die toekomstige toorn verlos te word. Paulus sê ons moet God se “Seun uit die hemele verwag, wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus, wat ons van die toekomstige toorn verlos” (1:10).

Jesus verlos die gelowiges nie net in ‘n algemene sin van God se toorn oor die sondaars in die poel van vuur nie, maar ook spesifiek van God se toorn wat nog voor Christus se wederkoms oor ‘n sondige mensdom uitgestort gaan word. Hierdie tyd van oordele staan as die groot verdrukking bekend, soos in Openbaring 6 tot 19 beskryf. Die Here Jesus het ook in Mattheus 24:21 gesê dat daar ‘n groot verdrukking kom soos daar nog nooit op aarde was nie, en in Matt. 24:29-30 het Hy bevestig dat sy sigbare wederkoms direk ná hierdie tyd van verdrukking en goddelike oordele sal volg.

Die belofte dat die Here Jesus sy ware kerk uit die toekomstige toorn gaan verlos, beteken baie duidelik dat gelowiges nie deur die groot verdrukking sal gaan nie. Jesus het vir sy dissipels gesê: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36). Dit is die salige hoop van die kerk van Christus dat ons nie vir die toorn van God bestem is nie, omdat Hy ons kom haal. Ons is wél vir verdrukking in ‘n verdorwe, goddelose wêreld bestem, maar nie vir God se oordele in die groot verdrukking nie.

Net so seker as wat Noag en Lot God se oordele in hulle tyd ontvlug het, sal ons dit ook in die eindtyd ontvlug. Die Here Jesus het in Lukas 17:26-36 aangedui dat daar ‘n herhaling van Noag en Lot se tyd op aarde sal wees. Dit geld nie alleen die boosheid en gewelddadigheid van Noag se tyd en die sonde van wydverspreide homoseksualiteit in Lot se tyd nie, maar ook God se ingryping om die ware gelowiges weg te neem voordat sy toorn oor die sondaars uitgestort word. Verwag jy ook God se Seun wat ons van die toekomstige toorn sal verlos?