Inleiding tot Sagaria

Deur prof. Johan Malan[1]

“Sagaria” beteken “die Here onthou.” Sagaria se vader was die priester Berégja. Sy gesin was onder die bykans 50 000 Joodse ballinge wat in 536 v.C. uit die Babiloniese ballingskap na Jerusalem teruggekeer het. Sagaria was ‘n tydgenoot van Haggai die profeet, Serubbábel die goewerneur en Josua die hoëpriester (Esra 5:1-2; Sag. 3:1; 4:6; 6:11). Hy was tydens die begin van sy profetiese bediening ‘n jongman gewees (vgl. 2:4).

Die doel met Sagaria se boodskap was die volgende:

·       Om ‘n geestelike herlewing in Israel in die hand te werk (1:2-3) en om diegene wat, soos hulle vaders, hulleself nie tot die Here wou bekeer nie, ernstig te waarsku (1:4).

·       Om die volk aan te moedig om met die werk van die Here te volhard en die herbouing van die tempel te voltooi (1:16; 4:9).

·       Om die terugkerende Jode wat onder strawwe beproewings en aanslae gebuk gegaan het, te vertroos (1:12-14).

·       Om Israel te oortuig van die feit dat hulle slegs deur die Heilige Gees die weë van die Here kan verstaan en Hom opreg kan dien (4:6; 7:12; 12:10).

·       Om aan hulle te openbaar dat hulle Messias as ‘n nederige Persoon sou kom om hulle te red, maar dat hulle Hom sou verwerp en deurboor, en dat Hy eers by ‘n volgende geleentheid deur die hele volk aanvaar sou word (9:9; 12:10; 13:1,9).

·       Om die triomfantelike koms van die Messias na Jerusalem te beskryf, wat in mag en heerlikheid geopenbaar sal word om saam met sy heiliges oor die aarde te regeer (14:4-5,9). In Hom sal alle profesieë van toekomstige seën finaal vervul word.

·       Om die feit te bevestig dat swaar oordele van die Here oor die vyande van Jerusalem uitgestort sal word, omdat hulle ook die vyande van God en sy koninkryk is (14:2-3,12-13).

·       Om aspekte van die geestelik herstelde Israel te beklemtoon, wat deur alle nasies geëer sal word wanneer lede van dié nasies in die millennium na Jerusalem sal optrek om die aangesig van die Here te soek en die loofhuttefees te vier (8:20-23; 14:16).

George Robinson het in die International Standard Bible Encyclopaedia die volgende stelling gemaak: “Sagaria is die mees Messiaanse, die mees waarlik apokaliptiese en eskatologiese geskrif van al die boeke in die Ou Testament.” Die Messiaanse stellings in dié boek word dikwels in die Nuwe Testament aangehaal.

Historiese agtergrond

Die val van die koninkryke van Juda en Israel, asook hulle herstel uit die ballingskap, vorm die historiese agtergrond vir hierdie boek. Die Assiriërs het in 722 v.C. ‘n einde aan die noordelike koninkryk van Israel gebring, terwyl Nebukadnésar die suidelike koninkryk van Juda in 586 v.C. vernietig het. Baie van Jerusalem se inwoners is vir 70 jaar lank as ballinge na Babilon weggevoer (Jer. 25:11; 29:10). Gedurende hierdie ballingskap het die profeet Daniël die openbaring ontvang dat Israel deur heidense nasies oorheers en onderdruk sou word totdat die koninkryk van die Messias in Jerusalem gevestig is (Dan. 2 & 7). Die Bybel verwys na hierdie lang tyd van Israel se onderwerping as “die tye van die nasies” (Luk. 21:24).

Dit is baie belangrik om in gedagte te hou dat Sagaria se profesieë aan die verenigde volk van Israel, bestaande uit al 12 die stamme, gerig word. Hulle was nie meer ‘n verdeelde volk nie. Daar is ongelukkig mense wat dink dat die sogenaamde tien verlore stamme van Israel na Europa getrek en die stamvaders van die Westerse nasies geword het. Dié mense beweer dat net Jode van die stamme van Juda en Benjamin uit Babilon na Jerusalem teruggekeer het. Die groepe wat teruggekeer het, was egter verteenwoordigend van al 12 die stamme. Die volgende is belangrikste feite wat hierdie stelling staaf:

Daar was nooit ‘n rigiede verdeling tussen die twee en die tien stamme van Israel gewees nie. Die noordelike ryk van Israel is gedurende die 250 jaar van sy bestaan deur 19 goddelose konings regeer. Daar was nie eers een godvresende onder hulle nie. Hierdie konings was só onbevoeg en boos dat baie van hulle onderdane na die suidelik ryk van Juda verhuis het (2 Kron. 11:14-17).

Wanneer die gelowige Israeliete gehoor het dat daar ‘n godvresende koning in Juda regeer het, soos bv. koning Asa, het hulle permanent na hom toe oorgeloop: “Daarop vergader hy die hele Juda en Benjamin, ook die vreemdelinge wat uit Efraim en Manasse en uit Simeon by hulle was; want uit Israel het hulle in menigte na hom oorgeloop toe hulle sien dat die HERE sy God met hom was” (2 Kron. 15:9).

‘n Ander rede vir die voortgesette versterking van Juda en die drastiese verswakking van Israel, was oorlogvoering. Koning Asa se vader, Abia, het teen Israel geveg en 500 000 van Israel se soldate het gesneuwel (2 Kron. 13:17-18). Binne 20 jaar het die weermag van Juda van net 180 000 (1 Kon. 12:21) tot 580 000 gegroei (2 Kron. 14:8). Ná 40 jaar het Juda ‘n gedugte weermag van 1 160 000 soldate gehad (2 Kron. 17:14-18). In teenstelling hiermee het Israel se weermag tot ‘n skamele 7000 manskappe gekrimp (1 Kon. 20:15). Dit is onmoontlik om die dramatiese toename in Juda se weermag net aan natuurlike aanwas toe te skryf. Die groot volksverhuisings uit Israel is hiervoor verantwoordelik, wat beteken dat Juda met die verloop van tyd weer verteenwoordigend van al twaalf die stamme geword het.

Mense skep soms op grond van 2 Konings 17:18 die misleidende indruk dat die hele Israel in 721 v.C. na Assirië weggevoer is. Salmanéser V (726-722 v.C.) het die laaste koning van die tienstammeryk, Hosea, gevange geneem en die hoofstad Samaria beleër. Sargon II (721-705 v.C.) deel in sy annale mee dat hy aan die begin van sy koningskap, in sy eerste regeringsjaar, Samaria ingeneem en 27 290 inwoners weggevoer het (kyk 2 Konings 17:1-6). In werklikheid is net die leiers en vooraanstaande families van Israel weggevoer, sodat die leierselement daarvan weg was. Die arm mense, wat ver in die meerderheid was, het agtergebly. Dit was ook die geval met die Babiloniese ballingskap van die suidelike koninkryk 134 jaar later (2 Kon. 24:14-16 en 25:11-12).

Die vergesogte bewering deur die Israelvisie-beweging dat die 27 290 ballinge na Europa toe getrek en die stamvaders van al die blanke nasies van die Westerse węreld geword het, moet ook beantwoord word. Dit is ‘n histories bewese feit dat daar in hierdie tyd glad nie so ‘n volksverhuising plaasgevind het nie. Daar is geen verlore stamme van Israel wat die stamvaders van die Europeërs geword het nie. Die Europese volke stam van Jafet af (Gen. 10:2-5) en is glad nie Semiete nie!

In 2 Konings 17:6 word die stede in die Assiriese ryksgebied genoem waarheen die ballinge weggevoer is. In 612 v.C. is Assirië deur die Babiloniërs oorwin en het hulle grondgebied deel van die Babiloniese ryk geword. Die profeet Eségiël wat in 597 v.C. saam met Jójagin deur Nebukadnésar na Babilonië weggevoer is, het in Tel-Abib by die Kebarrivier gewoon. Hier het hy ook die ballinge van Israel aangetref, oor wie die Here met hom gepraat het (Eseg. 2:3; 3:14-17).

‘n Groep van die tien stamme van Israel was dus in Assirië (wat later by Babilonië ingelyf is), ‘n ander groep het in Samaria agtergebly, terwyl ‘n groot groep reeds na Juda verhuis het. Die twee huise van Israel (die tien stamme en die twee stamme) het sedert die Babiloniese ballingskap van Juda dieselfde geskiedenis gehad en word daarna as een volk beskryf. ‘n Jaar ná Eségiël se besoek aan die ballinge in Tel-Abib sę hy: “Ag Here HERE, gaan U die hele oorblyfsel van Israel vernietig deurdat U u grimmigheid oor Jerusalem uitgiet? Toe sę Hy vir my: Die ongeregtigheid van die huis van Israel en van Juda is buitengewoon groot, en die land is vol bloedskuld, en die stad is vol regsverbreking” (Eseg. 9:8-9).

Daar is geen Bybelse óf betroubare buite-Bybelse bronne wat enige melding van Israel se beweerde uittog na Europa maak nie. Selfs 160 jaar ná die Assiriese ballingskap van Israel word daar geskryf: “En die kinders van Israel het gewandel in al die sondes van Jeróbeam wat hy gedoen het, hulle het daar nie van afgewyk nie; totdat die HERE Israel van sy aangesig verwyder het soos Hy gespreek het deur al sy diensknegte, die profete; en Israel is in ballingskap uit sy land weggevoer na Assirië tot vandag toe” (2 Kon. 17:22-23).

Die feit dat Israel en Juda saam in die Assiries/Babiloniese gebied verdruk is, en ook daar ingeperk is, word deur Jeremia bevestig: “So sę die HERE van die leërskare: Die kinders van Israel en die kinders van Juda is saam verdruk; en almal wat hulle as gevangenes weggevoer het, hou hulle vas, weier om hulle te laat trek. Maar hulle Verlosser is sterk, HERE van die leërskare is sy Naam” (Jer. 50:33-34).

Dit is hieruit duidelik dat Assirië én Babilonië geweier het om die ballinge te laat trek. Hulle is dus ook nie toegelaat om Europa toe te trek nie! Die opdrag om te trek het eers gekom nadat die mag van Babel in 539 v.C. deur die Persiese koning, Kores, verbreek is. Hy het die ballinge na hul eie land laat teruggaan (Esra 1:2-3).

Dit was dus die wil van die Here, die God van Israel, dat die hele volk uit die ballingskap na hulle eie land terugtrek, en dat slegs Jerusalem as hulle gemeenskaplike hoofstad herbou sou word (vgl. Eseg. 37:21-22). Die Bybel is ook baie duidelik daaroor dat lede van die hele Israel (m.a.w. al 12 die stamme wat weggevoer is) uit die ballingskap teruggekeer het (Esra 2:70; 3:1-2; 6:21; 7:7-13; 10:1-5). Daar is geen verlore stamme van Israel nie!

Die klein groepies Jode wat nie na hulle eie land wou terugkeer nie, het ná die val van die Babiloniese ryk na verskeie lande in Asië en Europa verstrooid geraak. Die meeste van hulle het hul identiteit as Jode behou en verkies om nie met lede van ander nasies te ondertrou nie. Hulle het ook sinagoges gebou om hulle tradisionele godsdiens te beoefen. Paulus het sulke groepe Jode op sy sendingreise besoek. Hulle getalle het ná die vernietiging van Jerusalem in 70 n.C. aansienlik toegeneem.

Wat die benaming Juda betref, moet daarop gewys word dat dit die koninklike stam onder die 12 stamme van Israel is, waaruit ook die Messias, Jesus Christus, gebore is. Dit is dus logies dat al die stamme met Juda sal identifiseer. Soos reeds genoem, het dit voor die Babiloniese ballingskap al gebeur dat groot groepe uit die noordelike 10 stamme by Juda aangesluit het. Ná die ballingskap, vroeg in die 6de eeu v.C. het die term Jode gevestig geraak as ‘n sinoniem vir Israel. In die boeke Esra en Nehemia wat kort ná die ballingskap geskryf is, word die begrippe Jode en Israel afwisselend en alternatiewelik vir dieselfde volk gebruik (Esra 6:8, 16-17, 21; Neh. 1:6; 4:1).

In sy boek wissel Sagaria ook die terme Jood en Israel af wanneer hy na die herstelde volk verwys. Hy sę dat Israel ná al die lyding en vyandigheid wat hulle ervaar het, uiteindelik ten volle herstel en geestelik lewend gemaak sal word. Dan sal hulle aanvaar en grootliks geëer word deur die nasies wat self in die millennium die Messias sal dien: “In dié dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van ‘n Joodse man gryp en dit vashou en sę: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is” (8:23). In 9:1 en 12:1 verwys Sagaria na dieselfde volk as Israel.

Die situasie wat ná die ballingskap deur Sagaria beskryf word, is dié van ‘n verenigde Israelse volk wat deur die moeilike uitdaging gekonfronteer is om die verwoeste stad en tempel te herbou. Nadat die Babiloniese ryk in 539 v.C. deur die Medo-Persiese ryk ingeneem is, het Kores toestemming gegee dat die Jode kon terugkeer om Jerusalem en die tempel te herbou (Esra 1:2-4; 2 Kron. 36:22-23). Hulle het in 536 v.C. teruggekeer. Offers is spoedig op ‘n herstelde brandofferaltaar gebring (Esra 3:1-6), en in die tweede jaar is die fondament van die tempel gelę (Esra 3:8-13; 5:16). Naburige volke, veral die Samaritane, het die werk in Jerusalem teëgestaan. Hierdie opposisie, tesame met die groot armoede waarin die Jode uit die ballingskap verkeer het, het hulle geesdrif ondermyn en uiteindelik daartoe gelei dat die werk van heropbouing vir 16 jaar lank gestaak is totdat die Persiese koning, Darius, aan bewind gekom het. In die tweede regeringsjaar van Darius (520 v.C.) het God vir Haggai as profeet opgewek om die volk aan te moedig om die tempel verder te herbou (Esra 5:1-2; Hag. 1:1). Sagaria het hulle ook tot geestelike vernuwing opgeroep, en tot die voltooiing van die tempel, deurdat hy God se toekomstige plan met Israel en Jerusalem aan hulle bekend gemaak het. Die volk is grootliks hierdeur bemoedig en het en het die tempel in 515 v.C. voltooi.

Struktuur van die boek

Die volgende onderwerpe word in Sagaria behandel:

1.    Inleiding (1.1).

2.    Die oproep tot bekering (1:2-6).

3.    Die agt naggesigte (1:7–6:8).

4.    Simboliese daad van die beëindiging van die gesigte (6:9-15).

5.    Die vier verduidelikende boodskappe (hfst. 7–8).

6.    Die eerste openbarende godspraak: die gesalfde Koning word verwerp (hfst. 9–11).

7.    Die tweede openbarende godspraak: die verwerpte Koning keer na Jerusalem terug en word gekroon (hfst. 12–14).

Ná die aanvanklike oproep tot bekering (1:2-6), beskryf Sagaria ‘n reeks van agt profetiese naggesigte wat hy in ‘n enkele nag gesien het (1:7–6:8). Hierdie gesigte is openbarend van aard, met beeldende beskrywings van dit wat die toekoms inhou, sodat die volk in die lig daarvan bemoedig kon word. Volgens Walvoord & Zuck se kommentaar (ibid.) het die naggesigte die volgende basiese betekenisse:

Naggesig

Betekenis

Die ruiter op die rooi perd tussen die mirtebome (1:7-17)

God se toorn oor die nasies en sy seëninge vir die herstelde Israel

Die vier horings en die vier smede (1:18-21)

God se oordeel oor die nasies wat vir Israel onderdruk

Die man met die meetsnoer (hfst. 2)

God se toekomstige seëninge oor die herstelde Jerusalem en Israel

Die reiniging en toewyding van Josua, die hoëpriester (hfst. 3)

Israel se toekomstige reiniging van sonde en hulle herstel as ‘n priesterlike volk

Die goue kandelaar en die twee olyfbome (hfst. 4)

Israel as ‘n lig vir die nasies onder die Messias, die Priester-Koning

Die vlieënde boekrol (5:1-4)

Die felheid en omvang van goddelike oordele oor individuele Israeliete

Die vrou in die efa (5:5-11)

Die verwydering van Israel se nasionale sondes en rebellie teen God

Die vier strydwaens (6:1-8)

Goddelike oordeel oor die nasies

 

God se liefde vir sy volk Israel is uit hierdie beskrywings baie duidelik. Hy het beloof om hulle in hul land te herstel en Jerusalem tot ‘n lof op aarde te maak (Sag. 1:16; Jes. 62:6-7). Die Messias, Jesus, is die Middelaar deur wie hierdie beloftes van seën aan Israel vervul sal word. Die Here sal nie vir Israel bloot op grond van hulle afkoms seën nie. Diegene onder hulle wat die Messias verwerp, sal in ‘n groot verdrukking beland, waaruit net ‘n gelowige oorblyfsel gered sal word (13:8-9).



[1] In sy studie van Sagaria het die outeur ruim van die volgende bronne gebruik gemaak: F.D. Lindsey (Zechariah, in: J.F. Walvoord & R.B. Zuck, red., The Bible Knowledge Commentary) en D.E. Malan (Bybelstudie oor Sagaria). Skrifaanhalings kom uit die 1933 vertaling van Die Bybel, soos in 1953 hersien.