Sagaria 2. Die Messias Kom in Jerusalem Woon

Die volgende naggesig handel oor God se toekomstige seëninge oor die herstelde Israel:

Die man met die meetsnoer (2:1-13)

Die goddelike oordele oor die nasies, soos in die vorige gesig geopenbaar, sal gevolg word deur God se vergroting en beskerming van Jerusalem. Die herstel en uitbreiding van die stad is reeds vir Sagaria se tyd beloof, maar hierdie beloftes dui meer spesifiek op die eindtydse uitbreiding daarvan nadat die Messias se koninkryk geopenbaar is. Aspekte wat beklemtoon word, is die stad se toename in grootte, die aantal inwoners daarvan, die vlak van sy rykdom, die geestelike herlewing van sy inwoners, en sy veiligheid.

Vir ons as Christene is profesieë van hierdie aard ook baie belangrik omdat dit God verheerlik en die vestiging van sy koninkryk beklemtoon, asook die groot oorwinning oor die magte van die duisternis. Ons is nie op Israel of Jerusalem afgunstig wanneer ons hierdie boodskappe lees nie, omdat die fokus nie op Israel is nie, maar op God en sy heerlikheid. Jerusalem is die stad wat deur God verkies is om sy Naam daar te vestig tot in ewigheid (1 Kon. 9:3; 11:36). Hy het Israel verkies om sy verlossing deur hulle en hulle beloofde Messias aan die hele węreld te openbaar (Jes. 9:6-7; 49:5-6; Joh. 4:22; Rom. 9:4-5), en het ook sy Woord aan hulle toevertrou (Rom. 3:1-2). In die lig van die groot betekenis wat hierdie feite vir die hele mensdom het, het Sagaria gesę: “Swyg alle vlees voor die HERE! Want Hy verhef Hom uit sy heilige woning” (2:13).

Die man met die meetsnoer is ongetwyfeld dieselfde persoon as die ruiter op die rooi perd in die eerste gesig. Dit is die Messias voor sy menswording, wat as die Engel van die Here in sommige van hierdie gesigte verskyn het. Hy het gekom om Jerusalem op te meet om sy grootte, rykdom en geestelike standaard te bepaal omdat Hy groot planne vir die stad het (2:11). Sy boodskap is eerstens aan die jongman, Sagaria, gerig (2:4), daarna aan Israel (2:6-12), en laastens aan die hele mensdom (2:13).

Weens die menigte van mense sal Jerusalem ‘n stad sonder mure wees (2:4). Hierdie profesie is nie in Sagaria se tyd vervul nie, en ook nie in die jare wat direk op sy bediening as profeet gevolg het nie, daarom het dit op die Messiaanse era betrekking wanneer groot en wonderlike dinge in Jerusalem sal gebeur.

Die stad sal as gevolg van goddelike seëninge ver buite sy vorige grense uitbrei, en gevolglik ‘n oop stad sonder mure wees. As gevolg van die Here se teenwoordigheid sal die stad geen versterking of beskerming nodig hę nie. Die Here sal vir die stad soos ‘n vurige muur rondom wees, en tot heerlikheid daarbinne (2:5). Hierdie belofte kyk vooruit na die Here se persoonlike teenwoordigheid deur die Messias, gedurende sy duisendjarige vrederyk op aarde. Esegiël het die toekomstige terugkeer van die Here se heerlikheid na die tempel gesien (Eseg. 43:2-5), maar Sagaria het ‘n gesig gehad van die Here se heerlikheid wat die hele stad sal vervul (2:5) én ook die land (2:12; vgl. 14:20-21).

Esegiël se beskrywing van die heerlikheid van die Here in die tempel in Jerusalem is merkwaardig en sluit by die naggesig van Sagaria aan: “Toe het hy my gelei na die poort, die poort wat na die ooste kyk. En kyk, die heerlikheid van die God van Israel het van die oostekant af gekom; en die geruis daarvan was soos die geruis van baie waters, en die aarde het geglans van sy heerlikheid... En die Gees het my opgeneem en my in die binneste voorhof gebring; en kyk, die heerlikheid van die HERE het die huis vervul. En ek het Een gehoor wat met my spreek uit die huis... En Hy het vir my gesę: Mensekind, dit is die plek van my troon en die plek van my voetsole waar Ek vir ewig sal woon onder die kinders van Israel; en die huis van Israel sal my heilige Naam nie meer verontreinig nie, hulle en hulle konings” (Eseg. 43:1-7).

In die lig van die voorspoed en seëninge wat aan Jerusalem beloof is, en ook in die lig van die oordele wat oor die val van Babilon geprofeteer is, is die Jode wat steeds in ballingskap was, aangemoedig om na Jerusalem terug te keer, waar hulle veilig kon woon: “Op, op, vlug uit die Noordland... Op, o Sion, red jouself, jy wat woon by die dogter van Babel” (2:6-7). Babilon het inderdaad twee jaar later geval, maar die herstelde Babilon sal finaal val wanneer die Messias kom (Op. 18). Israeliete wat in Babilon woon, sal weer ontruim word kort voordat die stad val: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hę en van haar plae ontvang nie... Met ‘n vaart sal Babilon, die groot stad, neergegooi word en nooit meer gevind word nie” (Op. 18:4,21). Die herstel van die Jode in hulle eie land in Sagaria se tyd was net ‘n voorspel tot die groot, eindtydse herstel van Israel in hulle land, wat met die geweldige vyandigheid van die omringende nasies gepaard sal gaan.

Jesaja het soos volg op die finale herstel van Israel uitgebrei: “En in dié dag sal die HERE weer vir die tweede keer sy hand uitstrek, om die oorblyfsel van sy volk los te koop wat sal oorbly uit Assirië en Egipte en Patros en Kus en Elam en Sinear en Hamat en uit die kuslande van die see; en Hy sal ‘n banier ophef vir die nasies en bymekaar laat kom die seuns van Israel wat verdryf is, en versamel die dogters van Juda wat verstrooi is, uit die vier hoeke van die aarde” (Jes. 11:11-12; vgl. Jer. 23:3-8).

In Sagaria 2:8-9 verwys die gesant wat deur die Here uitgestuur is, na die Messias, die Een wat ook as die Engel van die Here beskryf word: “Want so sę die HERE van die leërskare: Hy het my gestuur agter heerlikheid aan na die nasies wat julle uitgebuit het; want wie julle aanraak, raak sy oogappel aan. Want kyk, Ek sal my hand oor hulle swaai, sodat hulle ‘n buit word vir hulle knegte. Dan sal julle weet dat die HERE van die leërskare my gestuur het.” In hierdie gedeelte in die Ou Testament sien ons duidelik dat die eerste Persoon in die Drie-enige Godheid, die HERE van die leërskare, die tweede Persoon aanspreek, wat die Messias of Gestuurde is (vgl. Joh. 20:21). Ons lees ook van die derde Persoon in Jesaja: “Die Gees van die Here HERE is op My, omdat die HERE My gestuur het om ‘n blye boodskap te bring” (Jes. 61:1).

In hierdie gesig van Sagaria word die Engel van die Here gestuur om die Babiloniese onderdrukkers van Israel te straf. Dié profesie sal sy finale vervulling tydens die wederkoms van Christus hę, wanneer Hy die vyande van Israel en van Jerusalem sal verdelg (14:3,12-13). Die herstelde Babiloniese ryk van die eindtyd (Op. 18), asook die Babiloniese alliansie van valse godsdienste (Op. 17), sal in die komende dag van die Here deur goddelike oordele verdelg word. Wanneer hierdie magtige Koning, die Messias, vir die tweede keer kom, sal Hy nie die nederige Dienskneg wees wat sy lewe vir die redding van sondaars afgelę het nie. Hierdie keer sal Hy in mag en heerlikheid kom om sy vyande te verdelg en sy volk Israel te red en te verheerlik. Sagaria beskryf Hom in sy volle Godheid wanneer hy sę: “In dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg... Dan sal die HERE my God kom, al die heiliges met U!” (14:4-5).

Dit sal ‘n dag van groot blydskap in Israel wees: “Jubel en wees bly, o dogter van Sion! Want kyk, Ek kom om in jou midde te woon, spreek die Here” (2:10). Die oorblyfsel van Israel sal die Messias aanvaar (12:10), van hulle sonde en ongeregtigheid gereinig word (13:1), en volmaakte vreugde ervaar wanneer Hy die troon van Dawid in Jerusalem herstel: “En opgerig is deur goedgunstigheid ‘n troon, en daarop sit een in getrouheid in Dawid se tent, ‘n regter wat die reg soek en gou is in geregtigheid” (Jes. 16:5; vgl. Hand. 15:16-17).

By die wederkoms van Christus sal die oorblyfsel van die nasies ook gered word (Matt. 24:29-30) en almal die Messias dien wat uit Jerusalem sal regeer. Hulle sal rou bedryf voor Hom soos wat Israel ook sal doen wanneer hulle gered word (12:10). Hierdie nasies sal dan ook aan die Messias behoort en Hom van harte dien: “Baie nasies sal hulle in dié dag by die Here aansluit, en hulle sal My tot ‘n volk wees; en Ek sal in jou midde woon. Dan sal jy weet dat die Here van die leërskare My na jou toe gestuur het” (2:11; vgl. 8:21-22).

Jerusalem sal tydens die duisendjarige ryk van die Messias die sentrum vir węreldsake wees (2:12). Behalwe dat dit die hoofstad van Israel sal wees, sal Jerusalem in die millennium ook die hoofstad van die hele węreld wees. Jesaja sę: “En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. En baie volke sal heengaan en sę: Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jes. 2:2-4; vgl. 24:23).

Wat ‘n wonderlike toekomsverwagting het Israel en die nasies nie! “Swyg, alle vlees voor die HERE! Want Hy verhef Hom uit sy heilige woning” (2:13). Ons moet egter duidelik begryp dat die toekomstige heerlikheid wat aan ‘n geredde oorblyfsel van Israel en die nasies gebied is, slegs deur ‘n minderheid van die mensdom geniet sal word. Die meeste mense in Israel én onder die nasies is boos en onbekeerlik. Selfs in relatief goeie tye het God in die meeste Israeliete geen behae gehad nie en hulle as gevolg van hulle sonde en ongeloof geoordeel (1 Kor. 10:5). Sagaria bevestig die feit dat die meeste van hulle in die komende verdrukking sal omkom (13:8). Dieselfde geld ook vir die nasies, onder wie net ‘n klein minderheid hulle weg deur die nou poort sal vind wat na die hemel lei (Matt. 7:13-14).

Die sleutelteks in Sagaria 2 is die volgende: “En die HERE sal besit neem van Juda as sy erfdeel op die heilige grond [letterlik: die Heilige Land] en Jerusalem weer verkies” (2:12). Daar is nie eers die geringste moontlikheid dat hierdie belofte vergeestelik en op die kerk toegepas kan word nie. Die geestelike herstel van ‘n oorblyfsel van Israel as ‘n volk sal in die Heilige Land gebeur, wat deur die Here as ‘n ewige besitting aan die stamvaders van die volk gegee is (Gen. 13:14-15; 26:3; 28:13). Vir hierdie wonderlike belofte om vervul te word, moet Israel in die eindtyd, voor die koms van die Messias, in hulle land herstel word. Die terugkeer van Israel na die land van hulle vaders het reeds die stadium bereik waarin 5,5 miljoen van die 13 miljoen Jode in die węreld in hulle eie land terug is. Hulle is nou net soveel as die Amerikaanse Jode, en sal spoedig die grootste konsentrasie Jode in die węreld wees. Dit sal besluite wat hulle neem en verbonde wat hulle namens die internasionale Jodendom sluit, wettig en bindend maak.

Sagaria gee ‘n duidelike en gevoelvolle beskrywing van Israel se rouklag ná die koms van die Messias (12:10-14), wat tot gevolg sal hę dat ‘n heilige volk in die Heilige Land sal leef (13:1-2; 14:20-21). Jerusalem, as die middelpunt van Israel se godsdienstige en politieke lewe, sal as die basis van hulle toekomstige teokratiese regering geheilig word. Die Here sal Jerusalem weer verkies en dit met veel meer heerlikheid beklee as wat die geval tydens Salomo se bewind was:

“Ontwaak, ontwaak, beklee jou met sterkte, o Sion, trek jou sierlike klere aan, o Jerusalem, heilige stad!” (Jes. 52:1). “Nasies sal trek na jou lig, en konings na jou stralende opgang... Die seuns van hulle wat jou verdruk het, sal gebukkend na jou toe trek; en almal wat jou verag het, sal hulle neerbuig by jou voetsole; en hulle sal jou noem: Stad van die HERE, Sion van die Heilige van Israel... Van geweld sal in jou land nie meer gehoor word nie – van geen verwoesting of verbreking in jou grondgebied nie; maar jy sal jou mure Heil noem en jou poorte Lof” (Jes. 60:3,14,18).

Die toekomstige heerlikheid van Jerusalem staan in skerp kontras met die vertrapte toestand van die stad gedurende die tye van die nasies. Die Here Jesus het gesę: “Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:24). Geredde lede van die nasies moet geen deel in die vertrapping en minagting van hierdie stad hę nie. Ons moet weet dat Jerusalem bestem is om die fokuspunt van die Messias se regering in die millennium te wees. In daardie tyd sal die geredde Israel én die geredde lede van die nasies uitroep: “Die HERE is groot en baie lofwaardig in die stad van onse God, sy heilige berg! Skoon deur sy verhewenheid, die vreugde van die hele aarde, is die berg Sion aan die noordekant, die stad van die Groot Koning!” (Ps. 48:2-3).

Sagaria sę: “So sal dan baie volke en magtige nasies kom om die HERE van die leërskare in Jerusalem te soek en die aangesig van die HERE om genade te smeek” (8:22). Hulle “sal jaar na jaar [na Jerusalem] optrek om te aanbid voor die Koning, die HERE van die leërskare, en om die huttefees te vier” (14:16).

Sien jy uit na hierdie wonderlike toekoms van Israel, Jerusalem en die hele Heilige Land? Indien wel, dan rus die verpligting op jou om Israel jaloers te maak oor die wyse waarop jy die God van Abraham, Isak en Jakob deur die Messias dien (Rom. 11:11). Bid ook vir hulle herstel na hulle eie land, en vir die Here se beskerming en seën oor Jerusalem. Die psalmis sę: “Bid om die vrede van Jerusalem; mag hulle wat jou liefhet, rustig lewe!” (Ps. 122:6).