Daniël 3. Verpligte Afgodediens in Babilonië

Koning Nebukadnésar het ‘n geweldige groot beeld van 90 voet hoog en 9 voet breed (60 by 6 el) laat maak – omtrent so hoog soos ‘n moderne agtverdiepinggebou – en dit in die dal Dura in die provinsie Babel laat oprig. Die beeld was van goud, of ten minste met goudbeslag bo-oor. Nebukadnésar het uit Babilon regeer, wat teenaan die Eufraatrivier in die huidige Irak is. Argeoloë het ‘n groot basis van bakstene omtrent tien kilometer suidoos van Babilon ontdek, waarop die beeld waarskynlik opgerig was. Dit moes ‘n baie indrukwekkende beeld gewees het wat hoog bokant die omringende vlakte uitgetroon het.

Nebukadnésar is ongetwyfeld deur sy droom van die groot beeld geďnspireer om hierdie beeld te laat maak. Sy doel hiermee was eerstens om homself te verheerlik en sy oppergesag in die hele węreld op ‘n dramatiese manier te demonstreer. Tweedens wou hy sy koninkryk verewig sodat dit nooit deur ander koninkryke verower en vervang sou word nie. Dit is waarom hy die hele beeld van goud laat maak het, en nie net die kop soos die beeld in sy droom nie. Derdens wou hy die Babiloniese godsdiens op alle volke afdwing en daarvan ‘n węreldgodsdiens maak.

Afgevaardigdes van al die volke uit sy ryksgebied het ‘n byeenkoms in die dal Dura bygewoon, waar hulle verplig was om die beeld te aanbid. By hierdie geleentheid het die goewerneurs, raadsmanne, skatmeesters, regters en hoofamptenare van sy koninkryk, asook die bestuurders van die provinsies, uitgeroep: “Julle word aangesę, o volke, nasies en tale, sodra julle die geluid hoor van die horing, fluit, siter, luit, harp, doedelsak en van allerhande musiekinstrumente, moet julle neerval en die goue beeld aanbid wat Nebukadnésar opgerig het. En hy wat nie neerval en aanbid nie, sal op die daad binne-in die brandende vuuroond gegooi word” (Dan. 3:4-6).

Al die verskillende amptenare wat rondom die beeld saamgetrek is, en wat ook gebruik is om die aanbidding daarvan aan te kondig, het die doel gedien om die Babiloniese ryk intern te verenig. Hierdie eenheid is ook op die onderhorige volke afgedwing sodat almal se lojaliteit verseker kon word. Hierdeur is daar nie net politieke solidariteit in die Babiloniese ryk geskep nie, maar ook ‘n nuwe węreldgodsdiens gevestig. Proff. Walvoord en Zuck (The Bible Knowledge Commentary) beskryf die betekenis van die beeld se aanbidding só:

“Die feit dat die amptenare nie net beveel is om voor die beeld neer te val nie, maar dit ook te aanbid, dui daarop dat die beeld sowel politieke as godsdienstige betekenis gehad het. Aangesien geen spesifieke god genoem is nie, kan die gevolgtrekking gemaak word dat Nebukadnésar nie een van Babel se gode vereer het nie, maar met die aanbidding van die beeld die grondslag vir ‘n nuwe vorm van godsdienstige verering gelę het. Nebukadnésar se doel was om ‘n verenigde koninkryk en ‘n verenigde godsdiens daar te stel. Die koning was die hoof van die staat én ook die hoof van die Babiloniese godsdiens. Alle mense, en spesifiek ook al die amptenare in sy regering, moes sy politieke en godsdienstige gesag erken.”

Die teenwoordigheid van die koning, die grootsheid van die geleentheid, die indrukwekkendheid van die beeld, die formele aard van die aankondiging, asook die emosies wat deur die musiek geskep is, het alles daartoe bygedra dat die hele regering en al die verteenwoordigers van ander volke sonder enige teëspraak neergeval en die beeld aanbid het. Hulle is deur ‘n gevoel van patriotisme en blinde lojaliteit teenoor die koning vervul, en was selfs bereid om hom as ‘n god te aanbid wat vir ewig lewe. Hulle het dit spontaan onder die krag van misleiding gedoen, eerder as dat hulle deur die brandende vuuroond van die koning se bevele afgeskrik is.

Reaksie van die Joodse ballinge

Die Joodse ballinge, en spesifiek Daniël se drie vriende, het geweier om neer te buig en die beeld te aanbid. Daar was sekerlik baie verskonings wat hulle kon aanbied om tóg maar een keer voor die beeld neer te buig: Hulle is nie gevra om hulle God of godsdiens af te lę nie, maar slegs om te buig en die beeld te aanbid; hulle is hiertoe gedwing en kon die skuld op die koning pak; Nebukadnésar was hulle weldoener en miskien kon hulle hom maar die eer gee wat hom toekom; hulle was baie ver van hulle vaderland met sy wette en gebruike verwyder, ens. Vir hulle was daar egter net een oorweging wat van belang was, en dit is dat die eer van God ten alle koste en onder alle omstandighede beskerm moes word. Hulle het gevolglik geweier om neer te buig en die beeld te aanbid, en is onmiddellik by die koning aangekla. Daniël sę:

“[Daar het] Chaldeeuse manne nader gekom en die Jode aangekla. Daarop het hulle met koning Nebukadnésar gespreek en gesę: Mag die koning vir ewig lewe! U, o koning, het ‘n bevel gegee dat elke mens wat die geluid van horing, fluit, siter, luit, harp en doedelsak en van allerhande musiekinstrumente hoor, moet neerval en die goue beeld aanbid; en dat hy wat nie neerval en aanbid nie, binne-in die brandende vuuroond gegooi moet word. Daar is Joodse manne wat u oor die bestuur van die provinsie Babel aangestel het, Sadrag, Mesag en Abednégo; hierdie manne het hulle, o koning, aan u nie gesteur nie; hulle dien u gode nie en die goue beeld wat u opgerig het, aanbid hulle nie. Toe het Nebukadnésar, toornig en woedend, bevel gegee om Sadrag, Mesag en Abednégo te laat kom. Daarop is die manne voor die koning gebring. En Nebukadnésar het gespreek en vir hulle gesę: Is dit met opset, Sadrag, Mesag en Abednégo, dat julle my gode nie dien nie en die goue beeld wat ek opgerig het, nie aanbid nie? As julle dan nou, sodra julle die geluid van horing, fluit, siter, luit, harp en doedelsak en van allerhande musiekinstrumente hoor, bereid is om neer te val en die beeld wat ek gemaak het, te aanbid, goed; maar as julle nie aanbid nie, sal julle oombliklik binne-in die brandende vuuroond gegooi word, en wie is die God wat julle uit my hand kan verlos? Sadrag, Mesag en Abednégo het geantwoord en aan koning Nebukadnésar gesę: Ons ag dit nie nodig om u hierop ‘n antwoord te gee nie. As onse God wat ons dien, in staat is om ons te verlos, dan sal Hy ons uit die brandende vuuroond en uit u hand, o koning, verlos; maar so nie, laat dit u dan bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal dien nie en die goue beeld wat u opgerig het, nie sal aanbid nie. Toe het Nebukadnésar baie woedend geword en sy gelaatstrekke het verander teenoor Sadrag, Mesag en Abednégo; as antwoord het hy bevel gegee om die oond sewe maal warmer te maak as wat eintlik nodig was. En aan sommige van die sterkste manne wat in sy leër was, het hy bevel gegee om Sadrag, Mesag en Abednégo te boei, om hulle in die brandende vuuroond te gooi. Toe is daardie manne geboei met hulle mantels, hulle broeke en hulle tulbande en hulle ander klere aan, en hulle is binne-in die brandende vuuroond gegooi. Omdat dan nou die woord van die koning streng en die oond uitermate verhit was, het die vlam van die vuur daardie manne wat Sadrag, Mesag en Abednégo opgeneem het, doodgebrand. Maar daardie drie manne, Sadrag, Mesag en Abednégo, het geboeid binne-in die brandende vuuroond geval. Toe het koning Nebukadnésar verskrik geword en haastig opgestaan; hy het sy raadsmanne toegespreek en gesę: Het ons nie drie manne geboeid binne-in die vuur gegooi nie? Hulle antwoord en sę aan die koning: Sekerlik, o koning! Hy antwoord en sę: Kyk, ek sien vier manne los binne-in die vuur wandel sonder dat daar ‘n letsel aan hulle is; en die voorkoms van die vierde lyk soos dié van ‘n godeseun. Toe het Nebukadnésar nader gekom na die opening van die brandende vuuroond en daarop gesę: Sadrag, Mesag en Abednégo, knegte van die allerhoogste God, gaan uit en kom hier! Toe het Sadrag, Mesag en Abednégo uit die vuuroond uitgegaan. Daarop het die landvoogde, die bevelhebbers en die goewerneurs en die raadsmanne van die koning vergader en aan daardie manne gesien dat die vuur geen mag oor hulle liggame gehad en die hare van hulle hoof nie geskroei het nie, en dat hulle mantels geen verandering ondergaan en die reuk van die vuur nie aan hulle gekom het nie. Daarop het Nebukadnésar gespreek en gesę: Geloofd sy die God van Sadrag, Mesag en Abednégo, wat sy engel gestuur en sy knegte verlos het wat hulle op Hom verlaat het en die bevel van die koning oortree het, en wat hulle liggame oorgegee het om geen ander god te dien of te aanbid nie, behalwe hulle God. Daarom word deur my bevel gegee dat enige volk, nasie of taal wat oneerbiedig spreek oor die God van Sadrag, Mesag en Abednégo, stukkend gekap en van sy huis ‘n mishoop gemaak sal word, omdat daar geen ander god is wat so kan verlos nie. Toe het die koning Sadrag, Mesag en Abednégo voorspoedig laat wees in die provinsie Babel” (Dan. 3:8-30).

Nebukadnésar was baie verbaas toe hy in die vuuroond kyk en sien dat vier manne daarin loop sonder ‘n letsel aan hulle. Die vierde een was waarskynlik Christus voor sy menswording, maar Nebukadnésar het niks van Hom af geweet nie. Hy het wél gesien dat dit nie ‘n gewone mens was nie, en hom as ‘n seun van die gode beskryf. Die Here het beloof dat Hy altyd by en met die opregte lede van Israel sou wees, ook in hulle nood: “Wees nie bevrees nie, wat Ek het jou verlos... as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie. Want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Heiland” (Jes. 43:1-3). Hoewel dit in ‘n geestelike sin as hulp in benoudheid bedoel word, het die Here soms sy diensknegte op ‘n bonatuurlike manier uit fisiese gevare gered, soos wat hier beskryf word.

Hierdie besondere daad van verlossing uit die brandende vuuroond het Nebukadnésar laat erken dat Israel se God, Jahweh, hoër en magtiger as die gode van Babilon is. Vroeër het Nebukadnésar nie so gedink nie, want hy het Jerusalem ingeneem, die tempel gestroop en van die voorwerpe daarvan in die tempel van sy god, Mardoek, in Babilon gesit. Nou het hy egter gelas dat daar eerbied vir Jahweh moes wees. Nebukadnésar het steeds nie vir Jahweh as sý God aanvaar nie – hy het slegs erkenning aan Hom gegee vir die magtige daad van sy verlossing. Nebukadnésar het met sy selfverheffing, magsbeheptheid en die aanspraak op verering deur sy onderdane voortgegaan. Diep in sy hart moes hy egter geweet het dat hy nie in die regte verhouding met die almagtige God was nie.

Ons kan baie leer uit die drie getroue Jode se weiering om kompromie te maak en voor ‘n afgodsbeeld neer te buig. Die verval van die Christendom wat vandag oral in die węreld voorkom, kan toegeskryf word aan gelowiges se gebrek aan motivering om onder alle omstandighede gedissiplineerd en beginselvas te leef. Ons het, soos die gemeente in Laodicea, lou en materialisties geraak. Ons beskou onsself as Christene, ten spyte daarvan dat ons lewenstyl nie altyd deur die Bybel bepaal word nie, maar deur die węreld. ‘n Getroue getuie van God is ‘n persoon wat sy Bybel ken, en as die Woord vir jou sę: “Jy mag jou voor hulle nie neerbuig nie,” dan doen jy dit nie – ongeag die gevolge daarvan. Daniël se drie vriende was selfs bereid om te sterf indien die Here hulle nie uit die vuuroond sou verlos nie.

Eindtydse toepassing

Daar is ‘n belangrike profetiese toepassing van die gebeurtenisse in die Babiloniese ryk op die eindtyd. Vorms van rebellie teen God is hier gevestig wat almal skadubeelde van die groot eindtydse rebel, die Antichris, se optrede is. Die Babiloniese ryk was die eerste en belangrikste węreldryk waardeur die tye van die nasies tydens die Babiloniese ballingskap van Israel ingelui is. Dit het verskeie heidense tradisies gevestig wat deur die ander węreldryke nagevolg is. Al hierdie beginsels en gebruike sal in ‘n oortreffende mate tydens die eindtydse węreldryk van die Antichris ingestel en afgedwing word. Die volgende is die belangrikste parallelle tussen die Babiloniese ryk en die Antichris se toekomstige węreldregering:

Nebukadnésar is ‘n tipe van die Antichris:

·     Hy het Jerusalem beleër, ingeneem en baie van sy inwoners as ballinge weggevoer. Die Antichris sal ook teen Israel veg en die meeste inwoners uit hulle land verdryf. Die Here sal aan hulle ‘n plek van ontvlugting gee waar ‘n oorblyfsel van uitwissing gered sal word (Matt. 24:15-20; Op. 12:13-16).

·     Nebukadnésar het die tempel ontheilig, baie van die heilige voorwerpe weggeneem en in die tempel van sy afgod gesit. Sodoende het hy die God van Israel geminag. Die Antichris sal ook die tempel ontheilig deur homself daarin tot god te verklaar (2 Thess. 2:4). Hierdeur sal hy homself in die plek van die God van Israel stel.

·     Nebukadnésar het Israel se koning om die lewe gebruik en daardeur die koningskap van Israel as God se volk beëindig. In die plek daarvan het hy die heidense Babiloniese ryk as die oorheersende koninkryk in die węreld gevestig. Dit was die begin van die tye van die heidense nasies. Die Antichris sal ook verhoed dat Israel hulle koningshuis herstel en homself tot hulle koning verklaar (Jes. 10:12-13). Terselfdertyd sal hy die hoof van ‘n goddelose węreldryk wees wat oor Israel sal heers. Hy sal sy heidense regering probeer verewig.

·     Nebukadnésar het ‘n valse węreldgodsdiens op al die volke afgedwing, ook op Israel. Hierdie godsdiens het amptelike erkenning in sy ryk geniet. Die Antichris sal aan sy alliansie van valse gelowe volmag gee om almal te vervolg wat nie aan hulle dwalings meedoen nie (Op. 17:1-6).

·     Nebukadnésar het ‘n beeld gemaak en alle volke gedwing om voor die beeld neer te buig en dit te aanbid. Die beeld was die versinnebeelding van die Babiloniese godsdiens en koninkryk waarvan hy die hoof was. Die Antichris sal ‘n beeld van homself maak en almal dwing om die beeld te aanbid. Almal sal gedood word wat die dier se beeld nie aanbid nie (Op. 13:15).

·     Nebukadnésar het ‘n huwelik tussen politiek en godsdiens bewerkstellig en in noue assosiasie met die valse godsdiens van sy tyd regeer. Al sy amptenare was verplig om hierby in te skakel. Die Antichris sal ook saam met die alliansie van węreldgodsdienste regeer, wat in Openbaring 17 as ‘n vrou uitgebeeld word wat op die dier se rug ry. Die naam van die vrou is “Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere” (Op. 17:5). Die antieke Babiloniese geloof in waarsęery, towery en afgodsaanbidding sal dus in die komende ryk van die Antichris herleef.

·     Nebukadnésar het die destyds bekende węreld ook ekonomies beheer, belastings gehef en bepaal wat die regte en verpligtinge van elke volk in sy ryk was. Die Antichris sal in sy ryk die węreld ekonomies streng beheer en selfs aan elkeen ‘n nommer gee waarsonder hy nie kan koop of verkoop nie (Jes. 10:14; Op. 13:16-18). In Openbaring 18 word die Antichris se eindtydse ekonomiese oorheersing van die węreld ‘n Babiloniese sisteem genoem.

·     Nebukadnésar wou sy koninkryk permanent ten koste van ander volke vestig – veral ten koste van Israel en sy God. Die Antichris sal ook poog om ‘n bestendige koninkryk te vestig waarin hy oor alle volke regeer, en veral oor Israel. Hy sal alles in die stryd werp om te voorkom dat Israel se Messias die troon van Dawid in Israel herstel, want dit sal die einde van sy koninkryk beteken (Op. 19:19).

Net so min as wat Nebukadnésar met die lang termyn planne vir sy koninkryk geslaag het, sal die Antichris in sy doelwit slaag om Israel te verdelg en sy eie koninkryk permanent te vestig. Soos wat die Here die getroue Israeliete uit Nebukadnésar se vuuroond verlos het, sal hy ook ‘n groep Israeliete in die komende groot verdrukking van verdelging deur die Antichris verlos.

Die volk Israel het in historiese tye dikwels in die vuur van vervolging beland – onder Nebukadnésar, die Romeine, Hitler se Nazi-magte en verskeie ander vyandige magte, maar, soos die brandende braambos in die woestyn, het hulle nooit uitgebrand nie. So is die volk Israel tot vandag toe wonderbaarlik in stand gehou. Ons wag nou op die dag wanneer hulle die Messias sal aanvaar, hulle ongeloof en oortredings vergewe sal word, en as ‘n geestelik herstelde volk die rus van die vrederyk sal geniet. Voor hierdie geseënde tyd sal die vuur van vervolging egter nog ongekende hoogtes tydens die Antichris se skrikbewind bereik.

In die komende verdrukking sal die Antichris homself in die tempel in Jerusalem tot God verklaar en almal laat doodmaak wat weier om voor hom neer te buig (2 Thess. 2:4; Op. 13:15). Hy sal slegs deur die bloed van die Lam oorwin kan word, maar dit sal behels dat sy teëstanders hulle lewe vir die ware Messias sal moet aflę (Op. 12:11; 20:4).

Wanneer die Here Jesus as Messias na die aarde terugkeer, sal dit in ‘n tyd wees wanneer groot oordele oor sy vyande uitgestort word. Die slag van Armageddon sal aan die gang wees en daar sal ook ‘n groot aardbewing plaasvind waarin die herboude Babilon van die eindtyd vernietig sal word: “En een sterk engel het ‘n klip opgetel soos ‘n groot meulsteen en dit in die see gegooi en gesę: So, met ‘n vaart, sal Babilon, die groot stad, neergegooi word en nooit meer gevind word nie” (Op. 18:21; vgl. Op. 16:18-19).

Alle herinneringe aan die goddelose koninkryke van die nasies wat by Babilon begin het, sal met die verwoesting van die herboude Babilon van die eindtyd beëindig word, asook al die goddelose tradisies en gebruike wat daarmee in verband gestaan het. Dit wat Nebukadnésar tot stand gebring het, en wat deur die eeue heen deur verskillende heidense nasies en koninkryke voortgesit is, sal vernietig word voordat Israel se koninkryk onder die bewind van die Messias herstel sal word. Die beeld van heidense heerskappy moet vergruis en tot stof vermaal word voordat die węreldwye rotskoninkryk van die Messias die aarde sal vul.