Daniël 12. Benoudheid en Herstel vir Israel

In hierdie hoofstuk praat Daniël hoofsaaklik van die herstel van Israel ná die donker dae van die Antichris se skrikbewind in die tweede helfte van die sewe jaar lange verdrukking: “En in dié tyd sal Migael, die groot vors wat oor die kinders van jou volk staan, optree; en dit sal ‘n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat ‘n volk bestaan het tot op dié tyd nie; maar in dié tyd sal jou volk gered word, elkeen wat in die boek opgeskrywe staan.” (Dan. 12:1)

In die groot verdrukking sal daar as gevolg van wêreldwye vervolging geweldige benoudheid soos ‘n donker wolk oor Israel toesak. Die Living Bible vertaal Daniël 12:1 soos volg: “In hierdie tyd sal Migael, die magtige engel wat as ‘n vors oor jou volk waghou, in die hemel vir julle teen sataniese magte veg; en daar sal ‘n tyd van benoudheid vir Israel aanbreek wat erger as enige lyding in hulle totale geskiedenis is; maar in dié tyd sal jou volk gered word, elkeen wie se naam in die boek opgeskrywe is.” Hieruit is dit duidelik dat alle aanvalle teen Israel, deur die eeue heen, satanies-geïnspireerd was. Nou, in die eindtyd, is dit ook nie anders nie – dit is die duiwel self wat die vyande van Israel aanhits om hierdie volk uit hulle besitting te probeer verdryf en hulle uit te delg. Hulle kry egter met die Here te doen, want Hy het aan Abraham gesê: “Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek” (Gen. 12:3).

Die sewentigste jaarweek in Israel se heilsgeskiedenis, soos in Daniël 9:27 beskryf, is in twee helftes van 3½ jaar elk verdeel. Hierdie jaarweek sal begin wanneer die Antichris ‘n verbond met Israel én baie ander nasies sluit. In die middel van die jaarweek, m.a.w. ná 3½ jaar, sal Israel hulle verbond met hom verbreek wanneer hy in die herboude tempel in Jerusalem sal ingaan en homself daar tot God verklaar. Hy sal almal dwing om hom as God te aanbid en Israel ook verbied om enige verdere offers aan Jahweh te bring. Daniël 11:31 sê van hierdie diktator: “En deur hom sal leërs op die been gebring word en die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf en die ontsettende gruwel opstel.” Die ontsettende gruwel is ‘n afgodsbeeld van die Antichris wat in die Allerheiligste van die tempel opgerig sal word.

Die Jode sal die verpligte afgodery verwerp, dan sal die tyd van groot benoudheid aanbreek wanneer ‘n oorblyfsel van Israel inderhaas te voet na ‘n eensame plek in die berge sal moet vlug. Hulle sal van Jerusalem af na die ruwe en byna verlate berge langs die Dooie See vlug, en daarvandaan waarskynlik verder suid na Petra toe. Jesus het gesê: “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom… dan moet dié wat in Judéa is na die berge vlug… wie op die dak is, moet nie afkom om iets uit sy huis weg te neem nie; en wie op die land is, moet nie omdraai om sy klere weg te neem nie... En bid dat julle vlug nie in die winter of op die sabbat mag plaasvind nie. Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie” (Matt. 24:15-22).

Dit sal dus ortodokse Jode wees wat uit Jerusalem en omstreke, waar die Ou Testamentiese sabbatswette verskeie jare gelede weer ingestel is, sal moet vlug. Op die sabbat mag hulle net omtrent ‘n kilometer ver stap – volgens Handelinge 1:12 is dit die afstand tussen Jerusalem en die Olyfberg – wat beteken dat die Antichris se magte hulle dan maklik sal inhaal en doodmaak. Hulle moet ook bid dat hulle vlug nie in die winter sal wees nie, wanneer hulle vordering stadiger sal wees en hulle ook van blootstelling in die onherbergsame gebiede sal omkom.

Hierdie vlug word in Openbaring 12 beskryf, waar Israel as ‘n getroude vrou met ‘n kind voorgestel word. Dié beeld het glad nie op die kerk betrekking nie, omdat die kerk volgens 2 Kor. 11:2 as ‘n verloofde maagd voorgestel word, wat die bruid van die Lam is. Israel, daarenteen, word as ‘n vrou beskryf wat God vir Homself geneem het, en waaruit sy Seun, Jesus Christus, na die vlees gebore is. In Jeremia 31:3-4 sê die Here van haar: “Ja, Ek het jou liefgehad met ‘n ewige liefde; daarom het Ek jou getrek met goedertierenheid. Ek sal jou weer bou, en jy sal gebou word, o jonkvrou van Israel!” In Jesaja 54:5 verbind die Here Homself só aan Israel: “Want jou Maker is jou Man; Here van die leërskare is sy Naam.” In die lig hiervan maak die volgende gedeelte uit Openbaring 12 baie sin:

“En ‘n groot teken het in die hemel verskyn: ‘n vrou wat met die son bekleed was, en die maan was onder haar voete, en op haar hoof ‘n kroon van twaalf sterre... En ‘n ander teken het in die hemel verskyn, en daar was ‘n groot vuurrooi draak met sewe koppe en tien horings... En die vrou het ‘n manlike kind gebaar, wat al die nasies met ‘n ystersepter sou regeer; en haar kind is weggeruk na God en sy troon. En die vrou het na die woestyn gevlug waar sy ‘n plek het wat deur God gereed gemaak is, dat hulle haar daar sou onderhou 1 260 dae lank” (Op. 12:1-6).

“En daar het oorlog in die hemel gekom: Migael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer; en hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie. En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp. Toe hoor ek ‘n groot stem in die hemel sê: Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus; want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aankla voor onse God dag en nag… Daarom, wees verheug, o hemele en die wat daarin woon; wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het” (Op. 12:7-12).

“En toe die draak sien dat hy neergewerp is op die aarde, het hy die vrou vervolg wat die seuntjie gebaar het; maar die twee vlerke van die groot arend is aan die vrou gegee, sodat sy na die woestyn, na haar plek, kon vlieg, waar sy uit die gesig van die slang onderhou word, ‘n tyd, tye en ‘n halwe tyd [3½ jaar]. En die slang het uit sy bek water soos ‘n rivier agter die vrou aan uitgegooi, om haar te laat wegvoer deur die rivier. En die aarde het die vrou te hulp gekom, en die aarde het sy mond oopgemaak en die rivier ingesluk, wat die draak uit sy bek uitgegooi het” (Op. 12:13-16).

Hierdie gedeelte sluit by Daniël 12 aan, waarin daar ook verwys word na die aartsengel, Migael, wat oorlog in die hemel voer. Die gevolg daarvan is, volgens Openbaring 12, dat die duiwel op die aarde neergewerp word, waar hy ‘n verskerpte stryd teen Israel en die nasies sal voer. Van hierdie oomblik af word hy toegang tot die troon van God ontsê, waar hy die ware gelowiges dag en nag aangekla het. Nou daal hy na die aarde neer met dubbele woede omdat hy weet dat hy min tyd het. Dit is die tyd wanneer hy op ‘n nuwe manier in die Antichris sal vaar en hom ‘n gedaanteverwisseling van valse vredevors tot ‘n gewelddadige en magshonger diktator sal laat ondergaan. Die Antichris sal homself dan in die tempel tot God verklaar en almal laat teregstel wat weier om hom te aanbid (Op. 13:15).

Hierna volg daar die laaste 3½ jaar van die verdrukking, wat as die groot verdrukking beskryf word. Dit sal 1260 dae lank wees, wat 42 profetiese maande van 30 dae elk is. Dit word ook as tyd, tye en ‘n halwe tyd beskryf, wat op seisoensjare dui, m.a.w. ‘n jaar, twee jare en ‘n halwe jaar. Dit is dieselfde as 1260 dae of 42 maande. Op hierdie oomblik sal Israel hulleself uit die Antichris se nuwe wêreldorde onttrek omdat hulle sal weier om hom as God te aanbid. Hierop sal die Antichris ‘n Joodse volksmoord gelas en hulle sal vinnig uit Jerusalem en omstreke moet wegvlug na die berge toe. Sagaria 13:8-9 verwys na hierdie tyd van groot vervolging onder die Jode, waarin tweederdes in die land sal sterf en net ‘n derde na ‘n veilige plek in die berge sal ontvlug.

Daniël voeg ‘n sekere aantal dae by die 1260 dae van die tweede helfte van die verdrukking: “En van die tyd af dat die voortdurende offer afgeskaf en die ontsettende gruwel opgerig word, sal duisend twee honderd en negentig dae verloop. Welgeluksalig is hy wat bly verwag en duisend drie honderd vyf en dertig dae bereik” (Dan. 12:11-12).

Die eerste 30 dae het met Israel se nasionale rouklag te doen. Nadat die Messias sy verskyning op die Olyfberg gemaak, sy vyande verdelg en Homself as Redder, Verlosser en Koning geopenbaar het, sal ‘n tydperk van verlengde rouklag vir Israel oor hulle sonde aanbreek. In opregtheid van hart sal hulle dit eerlik bely en volkome daarmee breek: “In dié dag sal die rouklag groot wees in Jerusalem… En die land sal rouklaag by geslagte… In dié dag sal daar ‘n geopende fontein wees vir die huis van Dawid en vir die inwoners van Jerusalem teen sonde en onreinheid. En in dié dag, spreek die Here van die leërskare, sal Ek die name van die afgode uit die land uitroei, sodat aan hulle nie meer gedink sal word nie” (Sag. 12:11–13:2).

Die nasionale rouklag sal waarskynlik 30 dae lank duur, soos wat gebruiklik in Israel was: “En toe die hele vergadering sien dat Aäron gesterf het, het die hele huis van Israel Aäron beween dertig dae lank” (Num. 20:29). “Toe het die kinders van Israel Moses beween in die vlaktes van Moab, dertig dae lank” (Deut. 34:8).

In Daniël se skedule van eindtydse gebeure word daar, onder andere, vir Israel se 30 dae van rou ná die koms van die Messias aan die einde van die groot verdrukking voorsiening gemaak, deur dit by die 1260 dae van die tweede helfte van die week te voeg. Die volgende tydsbepaling is uit Daniël 12:11-12 duidelik:

·      Van die tyd af dat die valse Messias die offerdiens sal verbied en die tempel ontheilig deur ‘n beeld van homself daarin te plaas, sal 1260 dae verloop totdat die ware Messias sy voete op die Olyfberg sit (Dan. 9:27; Op. 13:5). Ná ‘n verdere 30 dae van rou sal die geestelike vereniging tussen Israel en die Messias voltooi wees. Dan sal daar 1290 baie dramatiese dae verloop het sedert daardie donker dag van openlike rebellie teen die koninkryk van die hemel, toe die valse Messias homself in die tempel tot God verklaar het.

·      ‘n Verdere 45 dae sal deur die bruilofsmaal van die Lam, die herstel van die troon van Dawid in Jerusalem en die oordeel oor die nasies in beslag geneem word (Op. 19:7-9; Hand. 15:16-17; Matt. 25:31-32). Wanneer die Messiasryk formeel begin, sal 1335 dae verstryk het sedert die aanvang van die valse Messias se skrikbewind toe sy afgodsbeeld in die tempel opgerig is. Jode wat hierdie verskriklike tyd oorleef, sal ná die 1260 dae van die groot verdrukking (Matt. 24:15-22) die koms van die Messias aanskou. Ná 1290 dae sal hulle geestelik met Hom versoen wees, en ná 1335 dae sal hulle die beloofde ryk van die Messias binnegaan. Dan sal ewige geregtigheid vir hulle as volk van God aanbreek terwyl die Messias uit Jerusalem regeer.

Die geredde Israel sal hulle verbly in die Here, Hom van harte dien, en sy lof onder al die nasies verkondig (Jes. 12:3-6 en 40:9). Die Here sê dat Hy vir Israel ‘n hart sal gee om Hom altyd te vrees, ook in die opkomende geslagte, en hulle sal nooit van Hom afwyk nie. Die Here sal Homself oor hulle verheug en aan hulle goed doen (Jer. 32:37-42).  Dan sal Israel se volheid die rykdom van die nasies wees (Rom. 11:12). “En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vasstaan op die top van die berge… en al die nasies sal daarheen toestroom… Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem” (Jes. 2:2-3).

Die nasies wat in die vrederyk deur Israel geëvangeliseer sal word, sal ‘n oorblyfsel van die volke uit die huidige bedeling wees. Hulle sal die slag van Armagéddon oorleef, maar nog nie die nommer van die dier ontvang het nie, en sodoende met Christus versoen kan word. By die wederkoms sal hulle saam met Israel rou bedryf oor hul sonde en vergifnis verkry (Matt. 24:30). Daarna sal hulle die Here dien en ook jaarliks die loofhuttefees in Jerusalem vier: “En almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, sal jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die Here van die leërskare, en om die huttefees te vier. En wie uit die geslagte van die aarde nie na Jerusalem optrek om voor die Koning, die Here van die leërskare, te aanbid nie – hulle sal geen reën kry nie” (Sag. 14:16-17).

Daniël stel dit duidelik dat net die geredde Israeliete die koninkryk van God sal beërf. Dit sluit ook diegene in wat reeds gesterf het, want hulle sal in die opstanding van die regverdiges nuwe liggame kry. Die ongereddes sal ook opgewek word om saam met die vyande van God tot die poel van vuur verdoem te word: “En baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe en sommige tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik. En die verstandiges sal glinster soos die glans van die uitspansel, en die wat baie tot regverdigheid lei, soos die sterre vir ewig en altoos” (Dan. 12:2-3)

Die boek Daniël word op ‘n hoë noot afgesluit met die heerlike versekering aan Daniël dat hy sal heengaan, maar weer sal opstaan om sy ewige bestemming te bereik: “En jy, gaan heen na die einde; en jy sal rus en weer opstaan tot jou bestemming aan die einde van die dae” (12:13).

Wat is u doel en bestemming in hierdie lewe én in die lewe hierna? Is u op die oomblik besig om sinvol te bou aan die bestemming wat God met u lewe het? Vir Paulus het die lewe net gegaan om dit wat Christus deur hom gedoen het om die heidene te bereik (Rom. 15:16-19). Verder het hy daarna gestreef om die krag van Christus se opstanding te ervaar en self ook die opstanding uit die dode te bereik. Sy doel was: “sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word, of ek miskien die opstanding uit die dode kan bereik” (Fil. 3:10-11). Net diegene wat waarlik aan die Here behoort, sal deel aan die opstanding van die regverdiges hê. Johannes sê in Openbaring 20 dat hulle sal opstaan wanneer Christus weer kom, sodat hulle in sy koninkryk saam met Hom kan regeer. Hy noem die mense wat in die eerste opstanding opstaan, “salig en heilig” (Op. 20:6).

Die ander dode wat nie gered was nie, sal nie herleef voordat die duisendjarige ryk van Christus voleindig is nie (Op. 20:5). Oor hulle sê Johannes: “En as dit bevind was dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp” (Op. 20:15).

Daniël se profesieë word afgesluit waar die bedeling van die nasies verby is en die gelowige oorblyfsel in Israel ten volle in die geopenbaarde koninkryk van God herstel is. Omdat dit op die verre toekoms betrekking gehad het, het die engel aan hom gesê: “En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boek tot die tyd van die einde toe; baie sal dit deursoek, en die kennis sal vermeerder” (Dan. 12:4).

Hoewel baie Jode nie hierdie profesieë verstaan het nie, het hulle tóg troos uit die versekering geput dat die Here Israel uiteindelik van oorheersing deur die nie-Joodse nasies sou bevry. Gelowiges wat in die eindtyd leef, verstaan egter Daniël se profesieë omdat ons kan sien hoedat dit deur die eeue heen vervul is. Hierdie boek is veral vir ons tyd geskryf, daarom moet almal van ons streef om in ons kennis en geestelike insig daardeur verryk te word: “Baie sal dit deursoek en die kennis sal vermeerder” (Dan. 12:4).

Toe Johannes die boek Openbaring in die jaar 95 geskryf het, het hy gesê dat Bybelse profesieë nie verseël moet word nie, maar bestudeer en verkondig moet word. Die engel het vir hom gesê: “Moenie die woorde van die profesie van hierdie boek verseël nie, want die tyd is naby” (Op. 22:10). Wanneer dit wél verkondig word, moet ons seker maak dat niks bygevoeg of weggelaat word nie: “Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is” (Op. 22:18-19).

Wanneer mense die profetiese woord vergeestelik en weier om die letterlike betekenis daarvan te aanvaar, dan neem hulle dele van die boodskap daarvan weg. Indien hulle dinge byvoeg, bv. die boodskappe van buite-Bybelse profete wat daarop aanspraak maak dat hulle steeds drome en visioene oor die toekoms van die Here af ontvang, sal God self van hulle rekenskap opeis.

Ons moet net die Woord bestudeer, dit glo en ter harte neem: “Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby” (Op. 1:3). Daar is net ‘n paar moontlikhede wat Bybelse profesieë betref: óf ons verseël dit deur Daniël, Openbaring en ander profetiese gedeeltes as geslote en onverstaanbare boeke te beskou en leef in noodlottige onkunde voort, óf ons doen daaraan afbreek deur dele daarvan te ontken en te vergeestelik, óf ons voeg buite-Bybelse profesieë daarby om ‘n skewe beeld en valse verwagtings te skep, óf ons glo dit net soos dit geskryf is, bewaar dit in ons harte en rig ons lewens daarvolgens in.

Paulus sê: “Blus die Gees nie uit nie. Verag die profesieë nie” (1 Thess. 5:19-20). ‘n Sekere manier om die Heilige Gees in jou lewe uit te blus, is om die profesieë in die Bybel te ignoreer en as onbelangrik te beskou. Dan word jy nie deur die Gees gelei nie, jy wandel in die duisternis en weet nie wat jou bestemming is nie. Die Here Jesus het gesê: “Wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei... en die toekomstige dinge aan julle verkondig” (Joh. 16:13). Hy sal aan jou verligte oë van die verstand gee om die verborgenhede van die profetiese woord te kan verstaan.

Verlang jy na die wederkoms van Christus wat die koninkryk van die duisternis sal vernietig, Israel ten volle sal herstel en saam met sy heiliges op aarde sal regeer? Dit is wat die Here aan ons belowe.