Die Openbaring van Verborgenhede

Johan Malan, Mosselbaai (Januarie 2014)

www.bibleguidance.co.za

 

Inhoud

Inleiding

1.    Die verborgenheid van die koninkryk van die hemel

2.    Die verborgenheid van Israel se verharding en eindtydse redding

3.    Die verborgenheid van die evangelie van Jesus Christus

4.    Die verborgenheid van die liggaam van Christus

5.    Die verborgenheid van die geloof

6.    Die verborgenheid van God se wil

7.    Die verborgenheid van die eerste opstanding

8.    Die verborgenheid van die ongeregtigheid

9.    Die verborgenheid van die ontugtige vrou

10.  Die verborgenheid van die dier met die sewe koppe

Slot: Die belangrikheid van dieper insig

 

Inleiding

In die progressiewe ontplooiing van God se raadsplan vir die mens was daar deur die eeue heen bepaalde tye vir die openbaring van nuwe waarhede. Hierdie openbarings het soms nuwe geestelike bedelings, of dispensasies, in die menslike heilsgeskiedenis ingelui. Die twee mees uitstaande voorbeelde hiervan was die bedeling van die wet wat gevolg het nadat God by Sinai sy gebooie aan Israel gegee het, en die bedeling van genade (waarna ook verwys word as die kerkperiode of die bedeling van die Heilige Gees) wat aangebreek het ná Christus se eerste koms, kruisiging, opstanding, hemelvaart, en die uitstorting van die Heilige Gees. Die volgende vasgestelde geleentheid van hierdie aard sal wees wanneer Christus as Regter en Koning na die aarde terugkeer.

Paulus verwys na die belangrike nuwe fase wat aangebreek het tydens die koms van Christus: “Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun” (Heb. 1:1). Baie van dit wat die Here Jesus in hierdie nuwe bedeling aan ons sê is die vervulling, of verdere uitbreiding, van bekende Ou-Testamentiese waarhede. Baie ander dinge is wesenlik nuut en was dus totaal onbekend tot op die oomblik dat dit aan die mens geopenbaar is. Die Bybel verwys na hierdie nuwe openbarings as die bekendmaking van “verborgenhede”.

Dit is die verantwoordelikheid van Christus se getuies om nie alleen ten volle op hoogte te wees van die nuwe openbarings nie, maar dit ook aan andere te verkondig: “So moet ons dan beskou word as dienaars van Christus en bedienaars van die verborgenhede van God” (1 Kor. 4:1). Wanneer dit gedoen word, sal ander gelowiges ’n meer volledige begrip van Jesus Christus se genadewerk hê, en nie die fout begaan om hulleself geestelik te verarm deur onkunde, of deur leerstellige beginsels van die nuwe bedeling met die vorige bedeling van die wet te probeer vermeng nie. Dit kan rampspoedige gevolge in mense se lewens hê: “Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval” (Gal. 5:4). Dit is dus uiters belangrik om die verborgenhede in die Bybel te ken en in die lig van die nuwe openbarings te wandel.

Daar word in die Nuwe Testament tien verborgenhede genoem, en dit het betrekking op sake wat nie aan Ou-Testamentiese gelowiges bekend was nie. Die Here verwag van al sy dissipels, en veral hulle wat die evangelie verkondig, om kennis van dié nuwe openbarings te dra en dit aktief te verkondig. Dit is slegs as ons al die Nuwe-Testamentiese verborgenhede ten volle begryp en in ag neem, dat ons goed voorbereid sal wees vir verdere openbarings tydens die wederkoms van Christus. Selfs met alles wat ons nou weet, ken ons nog steeds net ten dele en wag daar op ons wonderlike nuwe openbarings in die kennis van God. Paulus sê: “Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is” (1 Kor. 13:12).

Ons gedeeltelike kennis van God en al sy werke beperk egter nie ons kennis van Christus en ons verhouding met Hom nie. Deur die vervulling met die Heilige Gees is ons in staat om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte, lengte, diepte en hoogte van Christus se liefde is wat die kennis oortref, sodat ons vervul kan word tot al die volheid van God (Ef. 3:17-19). Wanneer ons in Jesus Christus se liefde gewortel en gegrond is, sal ons bewus wees van al die nuwe openbarings oor Hom en sy evangelie, asook die verborge planne van die Bose om ons geestelik te mislei. Hierdie kennis sal ons help om afdraaipaaie te vermy en op die regte weg te volhard.

 

1. Die verborgenheid van die koninkryk van die hemel

Die eerste verborgenheid het betrekking op die koninkryk van God, asook die verskillende vorms waarin dit tydens die mens se heilsgeskiedenis geopenbaar is, en ook verder in die toekoms geopenbaar sal word. Binne die breë raamwerk van die ewige en universele koninkryk van God, is daar in Ou-Testamentiese tye ’n teokratiese, aardse koninkryk ingestel waarin die uitverkore volk, Israel, die spesiale diensknegte en verteenwoordigers van God was. Dit was egter net die vroeë begin van ’n koninkryk wat bestem is om uiteindelik oor die hele aarde te strek en aan lede van alle nasies toegang tot God se ewige koninkryk te verleen.

Die Here het verskeie fases vir die vestiging en uitbreiding van hierdie koninkryk bepaal, naamlik: (a) die Ou-Testamentiese roeping van Israel om as verteenwoordigers en bemiddelaars in God se koninkryk op aarde op te tree; (b) die eerste koms van God se Seun as Verlosser van Israel én die hele wêreld, gevolg deur die Nuwe-Testamentiese bedeling om die geestelike fondament vir God se koninkryk in die harte van mense te lê; en (c) die sigbare openbaring van God se koninkryk op aarde onder die koningskap van sy Seun.

Die koninkryk van die hemel is ’n aardse manifestasie van die groter koninkryk van God, en dus ’n wesenlike deel daarvan. Dit is die rede waarom die twee begrippe soms afwisselend vir dieselfde koninkryk gebruik word (vgl. Matt. 19:23-24). In die Evangelie van Matthëús word ’n groot aantal gelykenisse van die koninkryk van die hemel aangebied, waardeur geestelike verborgenhede verkondig word wat nie in Israel se Ou-Testamentiese koninkryk bekend was nie. Eers wanneer dit verwesenlik is, en toegang tot die koninkryk van God aan alle nasies gebied is, sal daar ’n eskatologiese openbaring van hierdie koninkryk plaasvind.

Die eerste van ’n uitgebreide reeks verborgenhede wat in die Nuwe Testament geopenbaar word, was daarop ingestel om Israel se aandag op die dieper betekenis, geestelike beginsels en groot einddoel van die koninkryk van die hemel te vestig. Dit was vir hulle belangrik om hierdie nuwe perspektief ter harte te neem, anders sou hulle steeds die slagoffers van hulle eie, beperkende denke wees. Hulle godsdienstige tradisie het tydens die koms van die Messias op die volgende fondamente berus:

·      Die Joodse volk het tydens die Here Jesus se aardse bediening al vir tweeduisend jaar die verbond van Abraham gehad, en hulle beskou die besnydenis nog altyd as die toetreepunt tot God se koninkryk.

·      Hulle het al vir 1 400 jaar die wet van die Here gehad as morele riglyne vir hulle as God se volk, en verkeerdelik gemeen dat die wet saligmakende krag het.

·      Hulle het die tabernakel en tempel gehad, wat in samehang met ’n uitgebreide offerdiens gefunksioneer het. Op grond hiervan het hulle ’n ritualistiese tradisie van versoening vir sonde gehad, sonder om te besef dat die bloed van diere nie sonde kan wegneem nie omdat dit slegs vooruit gewys het na die eenmalige offer van die Lam van God (Heb. 10:1-10).

·      Hulle het ’n Jerusalemgebaseerde koninkryk gehad waarin ’n koning God se aardse koninkryk bedryf het in samewerking met godsdiensleiers soos priesters en profete. God het die veiligheid van hierdie koninkryk teen vyandige aanvalle gewaarborg indien sy volk gehoorsaam was en in sy weë gewandel het.

Israel wou hierdie voorlopige en skaduagtige fase in die koninkryk van die hemel in sy bestaande vorm voortsit, en was gevolglik teen enige gedagtes oor geestelike vernuwing gekant. Hulle het net op die Messias gewag om die troon van Dawid te herstel, die tempel in Jerusalem te herbou, die offerdiens weer in te stel sodat die verbondsvolk met God versoen kon word, en dan met God se hulp ’n sterk weermag op te bou om alle gevare van buite af militêr te vernietig.

Toe Jesus egter daarop aanspraak gemaak het dat Hy Israel se Messias is, en Hy geen poging aangewend het om die volk van oorheersing deur die Romeinse Ryk te bevry nie, is Hy summier deur die volksleiers verwerp. As God het Hy egter alle skatte van wysheid en kennis gehad, daarom het Hy deur gelykenisse tot Israel gespreek om sodoende die verborge aspekte van sy koninkryk aan hulle te verduidelik.

Omdat Israel die koninkryk van die hemel genasionaliseer en net vir hulleself toegeëien het, het hulle nie die groter en meer verhewe doelstellings van hierdie koninkryk begryp nie, en gevolglik nie gewag op die vervulling van die Ou-Testamentiese offerdiens deur die soendood van die Messias as die Lam van God nie. Hulle het steeds gemeen dat lidmaatskap van hierdie koninkryk tot Israel beperk is, en dat dit benewens biologiese afkoms van Israel se twaalf stamme op ’n ritualistiese wyse deur die besnydenis, die onderhouding van die wet en die offerdiens verkry kon word. Dit beteken dat nie-Jode van God se koninkryk uitgesluit word.

Jesus het aan hulle verduidelik wat die ware aard en universele doelstellings van hierdie koninkryk is, wat die streng geestelike voorwaardes is waaraan hulle moes voldoen (Joh. 3:3), en wat die aard van die geestelike bedreigings is waarmee hulle te kampe sou hê om as lede van God se koninkryk oorwinnend te kon leef. Baie van hierdie inligting was totaal onbekend aan die volk, daarom het Jesus gesê: “Ek sal my mond open deur gelykenisse; Ek sal dinge uitspreek wat verborge was van die grondlegging van die wêreld af” (Matt. 13:35). Omdat hierdie verborgenhede direk met die Persoon en werke van die Messias verband hou, sou lede van die volk wat Hom verwerp, dit nie kon verstaan nie. Aan sy dissipels het Hy gesê: “... aan julle [is] dit gegee om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie. ... Want die hart van hierdie volk het stomp geword” (Matt. 13:11, 15).

Die gelykenisse van die koninkryk was net ter voorbereiding op die openbaring van verdere verborgenhede van die Christelike lewe, wat eers ná Jesus se kruisiging en die uitstorting van die Heilige Gees bekendgemaak sou word. Indien hierdie gelykenisse ter harte geneem is, sou dit die volk ontvanklik gemaak het vir dit wat daarna gevolg het. Die meerderheid van die mense het hulleself egter teen prediking oor dieper geestelike waarhede verset en as gevolg daarvan ’n onleerbare gees gehad. Wanneer basiese leerstellings oor God se koninkryk verwerp word, is sulke mense nie gereed om onderrig oor die verdere ontplooiing van God se heilsplan vir die mens te ontvang nie. Dit is die rede waarom die Here Jesus hierdie verborgenhede net aan ’n kerngroep gelowiges in Israel verkondig en verklaar het.

Nuwe-Testamentiese gelowiges het geen verskoning om oningelig te wees oor die openbaring van verborgenhede nie, daarom moet hulle vrae vra soos die volgende: Wat was die verborge, nuwe kenmerke van die koninkryk waarvan die verbondsvolk al vir so lank ’n deel was? Vir wie is hierdie koninkryk bedoel, en wat word van mense verwag wat lede daarvan wil wees? ’n Ander belangrike vraag is: Wat word van diegene wat teëstanders van hierdie koninkryk is, en ook van mislukte, dubbelhartige lede van dié koninkryk?

Die gelykenisse van die saaier en die koring en onkruid

Hierdie twee gelykenisse sluit ten nouste by mekaar aan, en is ook die enigste twee in Matthëús 13 wat afsonderlik verklaar is sodat die dissipels dit duidelik kon verstaan en ter harte neem. Hulle word só uitgelê:

“Luister julle dan na die gelykenis van die saaier. As iemand die woord van die koninkryk hoor en nie verstaan nie, kom die Bose en roof wat in sy hart gesaai is – dit is hy by wie langs die pad gesaai is. En by wie op rotsagtige plekke gesaai is – dit is hy wat die woord hoor en dit dadelik met blydskap aanneem; maar hy het geen wortel in homself nie, hy is net vir ’n tyd, en as daar verdrukking en vervolging kom ter wille van die woord, struikel hy dadelik. En by wie in die dorings gesaai is – dit is hy wat die woord hoor, maar die sorg van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom verstik die woord, en hy word onvrugbaar. En by wie op die goeie grond gesaai is – dit is hy wat die woord hoor en verstaan, wat dan ook vrug dra en oplewer: die een honderd-, die ander sestig-, die ander dertigvoudig” (Matt. 13:18-23).

“Nadat Hy die skare weggestuur het, het Jesus huis toe gegaan; en sy dissipels het na Hom gekom en gesê: Verklaar vir ons die gelykenis van die onkruid in die saailand. En Hy het geantwoord en vir hulle gesê: Hy wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens, en die saailand is die wêreld. Die goeie saad – dit is die kinders van die koninkryk, en die onkruid is die kinders van die Bose, en die vyand wat dit gesaai het, is die duiwel. Die oes is die voleinding van die wêreld, en die maaiers is die engele. Net soos die onkruid dan bymekaargemaak en met vuur verbrand word, so sal dit wees in die voleinding van hierdie wêreld: die Seun van die mens sal sy engele uitstuur, en hulle sal uit sy koninkryk bymekaarmaak al die struikelblokke en die wat die ongeregtigheid doen, en sal hulle in die vuuroond gooi. Daar sal geween wees en gekners van die tande. Dan sal die regverdiges skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor” (Matt. 13:36-43).

Volgens hierdie twee gelykenisse is die sentrale verwysingspunte en basiese beginsels van die koninkryk van die hemel die volgende:

·      Hy wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens (13:37). Jesus Christus self is die Bron van die boodskap van verlossing, deur Wie mense lidmaatskap van die koninkryk van die hemel kan verkry. Hy is die lig van die wêreld en die enigste Naam waardeur ons gered kan word. Al sy dissipels moet van hierdie basiese waarheid kan getuig, want daar kan nie ’n geestelike huis gebou word voordat die regte fondament gelê is nie.

·      Die saailand is die wêreld (13:38). Hierdie koninkryk is nie geografies tot die land Israel beperk nie, maar sal uiteindelik oor die hele aarde strek. Kort voor die wederkoms van Christus sal die evangelie van die koninkryk in die hele wêreld verkondig word tot ’n getuienis vir al die nasies, dan sal die einde kom (24:14).

·      Die saad is die woord van die Here (13:19). Die woord verwys nie na die Tora nie, maar na die evangelieboodskap van die Nuwe Verbond. Die evangelie van genade is deel van die verborgenheid van die koninkryk wat aan Israel en die nasies verkondig moet word, sodat hulle geestelik voorberei kan word vir hierdie toekomstige koninkryk.

·      Die Bose beroof mense van die woord (13:19). Onkundige en ongelowige mense is slagoffers van demoniese misleiding. Die vyand van God se koninkryk beroof mense van geestelike waarhede, en spesifiek ook van kennis oor die verborgenhede in die Bybel.

·      Ongeredde naamchristene het nie ’n toekoms in die koninkryk nie (13:20-21). ’n Oppervlakkige geestelike belewenis sonder ’n veranderde hart lei nie na ’n standhoudende verbintenis met die koninkryk nie (vgl. 15:8). Sulke mense het nie die geesteskrag om teëstand en vervolging te kan weerstaan nie, daarom verval hulle weer in twyfel en ongeloof.

·      God se geregtigheid is kompromieloos (13:22). Die lewenspatroon in die koninkryk van die hemel vereis ’n veranderde hart en kan nie met die sondige lewenswyse van die verdorwe wêreld vermeng word nie. Dubbelhartigheid bring ’n spoedige einde aan mense se betrokkenheid by God se koninkryk. Mense wat steeds die dorings en distels van sonde in hulle lewe akkommodeer, blus die Gees uit.

·      Godsvrug is die bewys van ware gelowiges (13:23). Diegene wat die woord van die Here verstaan, glo, en van alle sonde gereinig is, dra veel vrug in sy koninkryk. Hulle harte is gereinig en met die Gees vervul. Dit gaan dus nie vir die Here oor volksverband, afkoms of uiterlike verbondstekens nie, maar oor veranderde harte.

·      Die koring is die kinders van die koninkryk (13:38). Hulle is die produk van die goeie saad wat gesaai is (13:24). Mense in wie se lewens die Woord van God ten volle gestalte aanneem, word gelykvormig aan sy Seun wat die vleesgeworde Woord is.

·      Die onkruid is die kinders van die Bose (13:38). Hulle behoort aan ’n vyandige koninkryk, maar is tussen die koring gesaai. Hierdie mense het die duiwel as vader en streef daarna om sy begeertes te doen – hy is ’n leuenaar, verleier, kwaadstigter en mensemoordenaar.

·      Die skeiding tussen die koring en onkruid vind eers in die oestyd plaas (13:30). Dit dui op ’n situasie waarin lig en duisternis naas mekaar bestaan op aarde, wat beteken dat die koninkryk van die hemel net in ’n verborge vorm in gelowiges se harte bestaan – dit sal eers in die eindtyd sigbaar geopenbaar word wanneer die Koning kom om volle beheer te neem.

·      Die saamgroepering en verbranding van die onkruid (13:40). Dit sal nie in die voleinding van die “wêreld” wees nie, maar aan die einde van die huidige bedeling (Gr. aioon; Eng. age), wat dui op die oordele van God wat in die komende verdrukking oor die goddeloses sal kom.

·      Beloning vir getroue diens (13:23). Gelowiges se lewens sal vrug oplewer vir die koninkryk van die hemel: dertig-, sestig- of honderdvoudig. Dit sal die grondslag vir die toekenning van genadeloon wees, en ook ’n bewys van hoe ernstig en heelhartig hulle die Verlosser en Koning van God se koninkryk gedien het.

·      Verheerliking van die kinders van die koninkryk (13:43). Hulle sal skyn soos ligte in die koninkryk van hulle Vader. Eers moet alle nasies in die wêreld die geleentheid kry om tot die Messias se koninkryk toe te tree, dan sal hierdie koninkryk ten volle geopenbaar word.

In hierdie twee gelykenisse alleen is verskeie verborgenhede oor die koninkryk van die hemel opgeklaar. Die dissipels en ander lede van die Joodse volk wat die dieper betekenis daarvan verstaan het, sou die Messiasskap van Jesus erken en ook geweet het dat Hy die enigste hoop vir die redding en geseënde voortbestaan van Israel én alle ander volke is. Hy is die beloofde Verlosser en Koning van die wêreld. Hulle moes ook leer dat die koninkryk van die hemel eers heelwat later op aarde gevestig sou word, nadat miljoene ander mense op aarde ook die geleentheid gehad het om lede daarvan te word. Min het die dissipels in daardie vroeë stadium besef dat hulle die opdrag sou kry om met die groot taak van wêreldevangelisasie te begin.

Gedurende die kerkbedeling sou die koninkryk van die hemel nie sigbaar op aarde geopenbaar word nie, maar nogtans as ’n geestelike werklikheid in gelowiges se harte gevestig word (Luk. 17:21). Die volgelinge van Christus sou deur ’n goddelose wêreld gekonfronteer word, en die voortgesette vyandigheid sou groot volharding en geestelike oorlogvoering verg terwyl hulle hul taak verrig (Joh. 15:18-20; Ef. 6:10-11). Die dissipels moes verder ook toesien dat hulle nie self die slagoffers van die duiwel se subtiele misleiding word nie, want hy sou nie passief toekyk terwyl sy koninkryk bedreig word nie.

In die lang tydperk voor die sigbare openbaring van die hemelse koninkryk op aarde, is daar verskeie lewensbeginsels wat eerbiedig en opdragte wat uitgevoer moet word. Dit het van die dissipels se insig, toewyding en volharding afgehang of hulle hul doel sou bereik, daarom het die Here deur verskeie gelykenisse seker gemaak dat hulle die erns van die saak besef en afdwalinge betyds raakgesien en vermy word. Nuwe kennis wat deur die openbaring van verborgenhede aan hulle oorgedra is, het die pad van Nuwe-Testamentiese gelowiges duidelik uitgestippel. Die regte geestelike oriëntasie en toekomsverwagting was noodsaaklik, sodat daar nie ’n valse begrip oor die koninkryk geskep sou word nie.

Daar is ’n groot aantal gelykenisse waarin die verdere ontplooiing van die koninkryk beskryf word, asook die beginsels en vereistes wat daarmee in verband staan. Dit is vir elke mens op aarde lewensbelangrik om hiervan kennis te neem. Gelowiges word hierdeur bemoedig en gehelp om op die regte pad te bly, terwyl ongelowiges ernstig gewaarsku word teen die werklikheid van die alternatiewe koninkryk van die duisternis waarby hulle betrokke is – of hulle dit wil weet of nie. As die Here nie ’n persoon se geestelike Vader is nie, dan is die duiwel sy vader wat hom na ’n donker toekoms en die ewige dood sal lei (Joh. 8:41-44).

Die volgende is verdere gelykenisse én ander vorms van onderrig wat handel oor ’n verskeidenheid aspekte van die koninkryk van die hemel:

Die lydende Messias

Die Here Jesus het dit duidelik gestel dat dit nie tydens sy eerste koms sy doel was om as Koning aangestel te word wat Israel se politieke koninkryk herstel nie, maar om as die lydende Messias sy rol te vervul as die Lam van God wat gekom het om vir die redding van ’n verlore mensdom te sterf (Matt. 18:11; 20:18-19). Sondaars moes eers geestelik losgekoop word voordat hulle deel van sy koninkryk kon word – daarna sal Hy as Koning oor sy verloste erfdeel regeer. Die gelykenis van die goeie herder beklemtoon hierdie feite baie duidelik, maar die wettiese Jode kon dit nie verstaan nie (Joh. 10:6). Christus het die verborge betekenis daarvan uitgelê deur Homself as die goeie herder te verklaar:

“Ek is die deur van die skape. ... As iemand deur My ingaan, sal hy gered word. ... Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom dat hulle lewe en oorvloed kan hê. Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape. ... Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder. Ek het mag om [my lewe] af te lê en Ek het mag om dit weer te neem. Hierdie gebod het Ek van my Vader ontvang” (Joh. 10:7-18).

Jesus moes sy lewe aflê om mense te kon red. Dit sou Hy nie net vir Israel doen nie, maar ook vir die ander skape, m.a.w. die nie-Joodse volke van die wêreld. Christus verwys ook na sy opstanding – die opneem van sy lewe nadat Hy dit afgelê het. ’n Verdere verborgenheid wat eers later verklaar sou word, was dat die gelowiges uit Israel en die nasies in een geestelike liggaam saamgevoeg sou word.

Ortodokse Jode wat nie Jesus se Messiasskap erken het nie, het glad nie hierdie belangrike openbaring oor sy soendood en opstanding aanvaar nie. Die volksleiers het hierdie agnostisisme gedeel en was daarvoor verantwoordelik dat Israel oor die aarde verstrooi sou word terwyl die Messias wat deur hulle verwerp is, aan die nasies verkondig word. Eers daarna sal Israel na hulle land terugkeer en voorberei word om die Messias tydens sy tweede koms te ontvang (vgl. Luk. 19:41-44; Matt. 23:37-39).

Toetreepunt tot die koninkryk

’n Belangrike verborgenheid wat deur die Messias geopenbaar is, was dat die bedeling van die wet sy einde bereik het en dat die Ou-Testamentiese verbondsteken van die besnydenis saam met getroue wetsnakoming, nie meer ’n toetreepunt tot die koninkryk van die hemel was nie (Heb. 8:13). Geloof in die Seun van God sou onder die Nuwe Verbond die enigste manier wees van geestelike vernuwing deur ’n veranderde, gereinigde hart. Jesus het vir ’n ortodokse leraar wat onberispelik volgens die Ou Verbond geleef het, gesê: “Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Joh. 3:3).

In die verdere gesprek wat hierop gevolg het, word verduidelik dat wedergeboorte voortspruit uit geloof in die Seun van God: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. ... Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie. En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos” (Joh. 3:16-19).

Geloof in Jesus sou hierna die enigste grondslag vir redding wees, want Hy sou met sy kruisiging al die skaduagtige offers van die Ou Testament vervul. Die alternatief vir geloof in Hom is die oordeel oor die ongelowiges. Nie net het die meeste mense in Israel die geestelike duisternis van ’n verdorwe wêreld liewer gehad as die lig van God se koninkryk nie, maar dit sou ook die situasie tydens die hele kerkbedeling wees. Die bewandelaars van die smal pad was nog altyd ’n klein minderheid (Matt. 7:13-14; Luk. 13:23-24). Verblinde godsdiensleiers op die breë pad verstaan nie die geopenbaarde verborgenheid oor Christus en sy reddende genade nie, daarom verwerp hulle Hom deur sy Messiasskap, maagdelike geboorte, die betekenis van sy soendood, sy mag om sonde te vergewe, sy opstanding uit die dood, sy hemelvaart en sy beloofde liggaamlike wederkoms uit die hemel te bevraagteken of te ontken.

’n Ware geloof gaan gepaard met ’n sondebesef en ’n ootmoedige vertroue in God om jou sonde te vergewe. Hoogmoedige mense dink baie van hulleself en roem graag in hulle goeie werke en onberispelike lewe volgens die wet, daarom nader hulle nie die Here se genadetroon vir die reiniging van sonde nie. Met die oog hierop het Jesus die gelykenis van die Fariseër en tollenaar vertel (Luk. 18:9-14). Die Fariseër het homself regverdig en met ’n onveranderde hart huis toe gegaan, terwyl die tollenaar wat sy sonde bely en sy behoefte aan redding erken het, geregverdig huis toe gegaan het. Hy het ervaar wat dit was om vergewe en geestelik vernuwe te word, en het dus deur die nou poort ingegaan.

Nie konings nie maar diensknegte

Die onbybelse verwagting van ’n geopenbaarde koninkryk nog voordat Jesus as Koning van die konings gekom het, lei daartoe dat mense vir hulleself hoë posisies as konings en heersers in die vooruitsig stel. Dit was selfs onder Jesus se volgelinge ook die geval. Die moeder van Johannes en Jakobus het ’n versoek aan Jesus gerig: “Sê dat hierdie twee seuns van my in u koninkryk mag sit, een aan u regter- en een aan u linkerhand” (Matt. 20:21). In sy antwoord wys Jesus daarop dat hierdie versoek onvanpas was vir dit wat onmiddellik vir die dissipels voorgelê het. Hulle moes eerder vir krag en genade gebid het om vervolging en verwerping te kon verduur terwyl hulle Christus se getuies in ’n vyandige wêreld is. Dit was nie toe die tyd vir aansien en heerskappy nie, maar vir nederigheid en diensbaarheid:

“Maar Jesus antwoord en sê: Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle die beker drink wat Ek aanstons gaan drink, en gedoop word met die doop waarmee Ek gedoop word? ... Julle weet dat die owerstes van die nasies oor hulle heers en die groot manne oor hulle gesag uitoefen; maar só moet dit onder julle nie wees nie; maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees. En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as 'n losprys vir baie” (Matt. 20:22, 25-28).

Daar is geen sprake van heerskappy in Christus se toekomstige koninkryk sonder ’n diep geestelike toewyding aan die Verlosser, asook die bereidwilligheid om diens te lewer aan sy verborge koninkryk wat nie van hierdie bose wêreld is nie. Tydens hierdie bedeling is politieke en ekonomiese mag in die hande van die owerstes van heidennasies. Eers wanneer Christus weer kom en die koninkryke van die wêreld vernietig het, sal sy getroue diensknegte saam met Hom regeer (Op. 11:15; 19:15).

Die Koning wat weer kom

Die Here Jesus het na aanleiding van ’n verdere gelykenis sy koms as Verlosser na die aarde verduidelik, en beklemtoon dat Hy eers by ’n later geleentheid as Koning sou terugkeer. Die situasie wat tot hierdie gelykenis aanleiding gegee het was die redding van die bekende sondaar in Israel, naamlik die tollenaar Saggéüs. Ná die heelhartige bekering van Saggéüs het Jesus gesê: “Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom, aangesien hierdie man ook ’n seun van Abraham is. Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was” (Luk. 19:9-10).

As ’n afstammeling van Abraham was Saggéüs ’n lid van die verbondsvolk en het Hy ’n geboortereg gehad om die koninkryk van die hemel te beërf. Hy moes egter eers sy sondige weë laat vaar en met die Messias-Koning van Israel versoen word, en dit het hy gedoen. Hieruit is dit duidelik dat erfgename van die koninkryk van God eers geestelik geregverdig moes word, en daarvoor is dit nodig om Jesus as Messias en Verlosser te erken. Lede van die verbondsvolk wat geweier het om dit te doen, was onwaardig vir die koninkryk.

Die dissipels het egter nie besef dat dit ’n langtermyn taak sou wees om Israel van die waarheid van die Messias se evangelie te oortuig, en ook geestelik uit te reik na die ganse verloregaande wêreld nie. Hulle het voor die kruisiging nog steeds gemeen dat Jesus direk sou voortgaan om die koninkryk van God as ’n sigbare werklikheid op aarde te vestig. Die Here Jesus het die waarhede oor hierdie belangrike saak in die volgende gelykenis verduidelik:

“En terwyl hulle na hierdie dinge luister, vertel Hy daar nog ’n gelykenis by, omdat Hy naby Jerusalem was en hulle gedink het dat die koninkryk van God onmiddellik sou verskyn. Hy het dan gesê: ’n Man van hoë geboorte het na ’n ver land gereis om vir homself ’n koningskap te ontvang en dan terug te kom. En nadat hy tien van sy diensknegte geroep het, gee hy hulle tien ponde en sê vir hulle: Dryf handel daarmee totdat ek kom. Maar sy medeburgers het hom gehaat en ’n gesantskap agter hom aan gestuur om te sê: Ons wil nie hê dat hierdie man koning oor ons moet wees nie. En toe hy terugkom, nadat hy die koningskap ontvang het, sê hy dat daardie diensknegte aan wie hy die geld gegee het, by hom geroep moes word, sodat hy kon weet wat elkeen met handel verdien het. En die eerste het verskyn en gesê: Meneer, u pond het tien ponde wins gemaak. En hy sê vir hom: Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede. En die tweede kom en sê: Meneer, u pond het vyf ponde verdien. En hy sê ook vir hierdie een: En jy moet wees oor vyf stede. En ’n ander een kom en sê: Meneer, hier is u pond wat ek in ’n doek weggesit het; want ek was bang vir u, omdat u ’n strawwe man is; u neem weg wat u nie uitgesit het nie, en maai wat u nie gesaai het nie. Toe sê hy vir hom: Uit jou mond sal ek jou oordeel, slegte dienskneg! Jy het geweet dat ek ’n strawwe man is wat wegneem wat ek nie uitgesit het nie, en maai wat ek nie gesaai het nie. Waarom het jy dan nie my geld aan die wisselaars gegee nie? Dan kon ek dit by my koms met rente ingevorder het. ... Maar daardie vyande van my wat nie wou hê dat ek koning oor hulle sou wees nie, bring hulle hier en slaan hulle voor my dood” (Luk. 19:11-23, 27).

Jesus is die Man van hoë geboorte, wat bestem is om die Koning van Israel én die hele wêreld te wees: “En jy, Betlehem Éfrata, klein om te wees onder die geslagte van Juda, uit jou sal daar vir My uitgaan een wat ’n Heerser in Israel sal wees; en sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid” (Miga 5:1). Hy sou as ’n mens in Betlehem gebore word, maar as God ’n ewige selfbestaan hê. Hy sou Israel se Heerser wees (Luk. 1:32). Na aanleiding hiervan het die eerste eeu se gelowiges in Israel gedink dat Hy spoedig as Koning gekroon sou word.

Jesus is die Man van hoë geboorte wat ná sy soendood as God se Offerlam na ’n ver land (die hemel) sou reis om daar uitermate verhoog te word en ’n Naam te kry wat bo elke naam is (Fil. 2:9). Daarna sal Hy as Koning terugkeer. Aan die begin van die periode van sy afwesigheid op aarde het Hy diensknegte aangestel om die sake van sy hemelse koninkryk hier te behartig.

Die pond wat Hy aan elkeen van hulle gegee het, dui nie op aardse munt nie omdat hulle nie in aardse terme oor rykdom, krag, aansien en invloed sou beskik nie. Die pond dui op die instaatstellende krag van die Heilige Gees. Kort voor die Here Jesus se hemelvaart het die vrae oor die vestiging van sy koninkryk steeds voortgeduur, maar in die plek van ’n geopenbaarde koninkryk het Hy die krag en vermoë aan hulle belowe om oral op aarde sy getuies te wees:

“Die wat bymekaargekom het, vra Hom toe en sê: Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig? En Hy antwoord hulle: Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie; maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde” (Hand. 1:6-8).

Gedurende hierdie tyd sou die dissipels deur die wêreld verwerp en vervolg word terwyl hulle onder uiters moeilike omstandighede die mensdom evangeliseer. Israel se Ou-Testamentiese koninkryk sou in ’n gevalle toestand bly en Jerusalem deur die nasies vertrap word, omdat die beloofde eskatologiese koninkryk eers tydens die Messias se wederkoms gevestig sal word. Intussen sou die tye van die heidennasies voortduur, en sou die dissipels van Christus uiterlik gesproke die status van vreemdelinge en bywoners in ’n goddelose wêreld hê (1 Pet. 2:11).

Wanneer die Koning terugkeer aarde toe, het Hy regterlike afsprake met twee groepe mense – die gelowiges wat lede van sy koninkryk is, en die ongelowiges wat sy koningskap verwerp het. Die gelowiges wat deur die krag van die Heilige Gees gearbei het, sal genadeloon ontvang (1 Kor. 3:8-15). ’n Deel daarvan sal regerende posisies in die Koning se geopenbaarde koninkryk wees – sommige sal oor meer stede regeer as andere, afhangende van hulle getroue diens aan die Koning. Diegene wat niks bereik het nie, het glad nie erns gemaak om die Here vir die toerusting met krag uit die hoogte te vertrou nie (Luk. 24:46-49; Hand. 1:8), en kon deur die krag van die vlees niks bereik wat ewigheidswaarde het nie. Hulle het met hout, hooi en stoppels gebou en sal as mislukte dissipels met leë hande voor die Koning verskyn.

’n Ander belangrike deel van die openbaring en vestiging van Christus se koninkryk op aarde is die vernietiging of uitskakeling van alle maghebbers en volgelinge van Satan se koninkryk. Dit sluit die koning van hierdie ryk in (die Antichris), sy mederegeerder (die valse profeet) sowel as hulle miljoene volgelinge (Op. 19:19-21). In die gelykenis sê Christus: “Daardie vyande van my wat nie wou hê dat ek koning oor hulle sou wees nie, bring hulle hier en slaan hulle voor my dood” (Luk. 19:27). Die duiwel wat oppergesag in hierdie bose koninkryk het, sal saam met sy demone in ’n put gebind en dus ook van die toneel verwyder word (Op. 20:1-3). Daar kan geen naasbestaan tussen die geopenbaarde koninkryk van God en die koninkryk van die duisternis wees nie.

Dit is betekenisvol dat die Koning by sy terugkeer eers sy diensknegte rondom Hom versamel sodat vasgestel kan word hoedanig hulle hul opdrag uitgevoer het (Rom. 14:10-12; 2 Kor. 5:10). Die regterstoeloordeel vind in die hemel plaas en sal direk ná die wegraping gebeur (1 Thess. 4:16-17). Met die wegname van die gemeente sal die teëhouer teen die openbaring van die Antichris uit die weg geruim wees (2 Thess. 2:6-12), wat beteken dat die valse christus geopenbaar kan word om vir sewe jaar lank oor die aarde te regeer (Dan. 9:27; Op. 13:7). Sy volgelinge sal almal die ware Christus verwerp, daarom sal hulle deur God geoordeel word. Mense wat in daardie tyd eers gered sal word deur die ware Christus as Verlosser te aanvaar, sal as martelare vir hulle geloof sterf (Op. 6:9-11; 12:11).

Die bruilof

Die volgende gelykenis van Jesus demonstreer die negatiewe reaksies van verskillende groepe mense wat nie die verborgenhede van die koninkryk begryp het nie, en as gevolg daarvan hulleself van groot seëninge beroof het:

“Die koninkryk van die hemele is soos ’n koning wat ’n bruilof vir sy seun berei het en sy diensknegte uitgestuur het om die genooides na die bruilof te roep, en hulle wou nie kom nie. Weer het hy ander diensknegte uitgestuur met die boodskap: Sê vir die genooides: Kyk, my maaltyd het ek berei, my beeste en vetgemaakte vee is geslag en alles is gereed. Kom na die bruilof. Maar hulle het hul daaraan nie gesteur nie en weggegaan, een na sy eie stuk land en ’n ander na sy handelsaak. En die origes het sy diensknegte gegryp en mishandel en doodgemaak. Toe die koning dit hoor, het hy kwaad geword en sy manskappe gestuur en daardie moordenaars omgebring en hulle stad aan die brand gesteek. Daarop sê hy vir sy diensknegte: Die bruilof is wel gereed, maar die genooides was dit nie werd nie. Gaan dan op die kruispaaie en nooi almal wat julle mag vind, na die bruilof. En daardie diensknegte het uitgegaan op die paaie en almal versamel wat hulle gevind het, slegtes sowel as goeies, en die bruilofsaal het vol gaste geword. En toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy daar iemand wat nie ’n bruilofskleed aan het nie. En hy sê vir hom: Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder ’n bruilofskleed aan? En hy kon geen woord sê nie. Toe sê die koning vir sy dienaars: Bind sy hande en voete, neem hom weg en werp hom in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande” (Matt. 22:2-13).

Israel het so ’n beperkte begrip van die koninkryk van die hemel gehad dat hulle nie hulle hoë roeping as God se volk besef het nie, naamlik om die bruid van sy Seun te wees. Hulle het God se eis van heiligmaking heeltemal nagelaat, ten spyte daarvan dat dit ’n onontbeerlike voorbereiding vir hulle toekomstige rol was: “Want Ek is die Here julle God; toon dan dat julle heilig is en wees heilig, want Ek is heilig” (Lev. 11:44). Met slegs enkele uitsonderings het hulle nie na hierdie standaard gestreef nie, en was slegs op die uitkyk vir ’n Messias met die politieke en militêre vermoë om Israel se leidende posisie in die wêreld te bevestig.

Die volk was geestelik afgestomp en hulle sonde het hulle nie gepla nie, daarom het hulle nie ’n nederige Messias verwag wat Homself as ’n soenoffer sou oorgee vir die uitwissing van hulle sonde nie. Toe Hy wel in hierdie hoedanigheid gekom het, was Israel nie net onwaardig om as sy bruid met Hom verenig te word nie, maar openlik vyandig teenoor Hom omdat Hy nie hulle wettiese lewenswandel en selfregverdiging aanvaar het nie.

Volgens die gelykenis het die Vader twee groepe diensknegte gestuur om aan Israel te verkondig dat die Messias, wat Verlosser, Bruidegom én Koning is, gekom het. Die eerste groep gesante was die profete van die Ou Testament, asook Jesus self (vgl. Jes. 52:13–53:7; Sag. 9:9; Joh. 8:24). Die volk het egter hulle getuienis verwerp.

Ná die dood, opstanding en hemelvaart van Jesus, asook die uitstorting van die Heilige Gees, het die Vader ’n tweede groep getuies na Israel gestuur, naamlik die twaalf apostels. Hulle is ook verwerp, vervolg en in sommige gevalle ter dood veroordeel. Die relatief klein groep Messiaanse Jode wat die getuienis oor Jesus aanvaar het, was nie verteenwoordigend van die meerderheid ongelowiges nie, daarom is die profesieë oor die verwoesting van Jerusalem en die internasionale verstrooiing van Israel in die jaar 70 n.C. vervul.

Die verkondiging van die evangelie onder die nie-Joodse volke is ook net deur ’n minderheid in elke volk aanvaar. Selfs in hierdie minderheidsgroep is daar talle vormgodsdienstige kerklidmate wat nie ’n getuienis van wedergeboorte het nie, en eerder op hulle eie geregtigheid vertrou – hulle is nie met Jesus Christus beklee nie (Rom. 13:14). Die nominale gelowiges word in die gelykenis uitgebeeld deur die persoon wat sonder ’n bruilofskleed in die saal is. Tydens die wegraping sal hierdie mense egter uitgesluit en agtergelaat word, en sal hulle saam met die ongelowige en misleide wêreld in die duisternis van die verdrukking onder die skrikbewind van die Antichris verkeer.

Dit is absoluut noodsaaklik om die verborgenhede van die koninkryk te ken – en veral van die Koning wat ook Verlosser en Bruidegom is. Dit is slegs diegene wat geestelik met Hom versoen en met sy Heilige Gees vervul is, wat lede van sy bruidsgemeente is (Op. 19:7-9).

Koms van die Bruidegom

Die gelykenis van die tien maagde beklemtoon belangrike aspekte in verband met mense se ingesteldheid ten opsigte van die koninkryk van die hemel. Omdat Israel nie geestelik voldoen het aan die eise van God se Woord nie, was hulle nie gereed om die Messias te ontvang tydens sy eerste koms nie. Uit die gelykenis hieronder blyk dit dat die situasie tydens Jesus se tweede koms nie veel beter gaan wees nie, omdat die hemelse Bruidegom ’n groot aantal selfverklaarde “gelowiges” gaan agterlaat wanneer Hy sy bruidsgemeente kom haal:

“Dan sal die koninkryk van die hemele wees soos tien maagde wat hulle lampe geneem en uitgegaan het om die bruidegom te ontmoet. En vyf van hulle was verstandig en vyf dwaas. En toe die wat dwaas was, hul lampe neem, het hulle geen olie met hulle saamgeneem nie. Maar die verstandiges het olie in hulle kanne saam met hul lampe geneem. En terwyl die bruidegom talm om te kom, het hulle almal vaak geword en aan die slaap geraak. En middernag was daar ’n geroep: Daar kom die bruidegom; gaan uit hom tegemoet! Toe staan al daardie maagde op en maak hulle lampe gereed. En die wat dwaas was, sê aan die verstandiges: Gee vir ons van julle olie, want ons lampe gaan uit. Maar die verstandiges antwoord en sê: Miskien sal daar nie genoeg wees vir ons en vir julle nie. Maar gaan liewer na die verkopers en koop vir julleself. En onderwyl hulle gaan om te koop, het die bruidegom gekom. En die wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof, en die deur is gesluit. Later kom toe die ander maagde ook en sê: Meneer, meneer, maak vir ons oop! Maar hy antwoord en sê: Voorwaar ek sê vir julle, ek ken julle nie. Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens kom nie” (Matt. 25:1-13).

Om die bruid van die Lam te wees, en as gevolg daarvan in al die voorregte van sy koninkryk te deel, vereis veel meer as net die voldoening aan uiterlike kriteria soos verbondstekens, lidmaatskap van een of ander denominasie, asook die doen van goeie werke wat van gelowiges verwag word – dit vereis ’n lewe onder die beheer van die Heilige Gees. Net die Here alleen kan deur sy Gees ’n sondige mens herskep en aan die beeld van sy Seun gelykvormig maak. In hierdie gelykenis dui die olie in die maagde se kanne op die volheid van die Heilige Gees in hulle lewens. Dit verseker dat die lig van hulle getuienis in die donkerste nag sal aanhou skyn, dat hulle nie in die duisternis van geestelike onkunde op dwaalweë sal beland nie, en dat hulle in die lig van die Here se teenwoordigheid sal wandel tot op die oomblik wanneer die hemelse Bruidegom hulle kom haal.

Die dwase maagde het wel aan die uiterlike kriteria voldoen, maar het nagelaat om met die Heilige Gees vervul te word (vgl. Ef. 5:18) sodat hulle waarlik deur die Gees kon wandel (Gal. 5:16-17). In hulle lewens is die vrug van die Gees dus deur vleeslike werke vervang, en dit is hoegenaamd nie vir die Here aanvaarbaar nie. Werke van hierdie aard, hoe goed dit ook al bedoel word, kan nie aan ’n persoon ’n geskikte bruilofskleed verleen nie. Johannes sê: “En aan haar [die bruid] is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges” (Op. 19:8).

Die Here het dit deur sy Heilige Gees aan haar “gegee” om so bekleed te wees. Hierdie regverdige dade is dus nie dit wat ’n persoon uit eie krag vir die Here doen nie, maar wat die Heilige Gees deur hom doen. Sonder ’n bruilofskleed van hierdie aard sal die betrokke persone agterbly wanneer die Bruidegom kom, al het hulle ook hoeveel rituele, menslike tradisies, en werke van eiegeregtigheid om aan te bied (vgl. Matt. 7:21-23).

Tydens Jesus se eerste koms het ortodokse Jode gemeen dat wetsnakoming alleen hulle vir die Messias se koninkryk geskik gemaak het. Dit was ’n ernstige vergissing. Tydens Jesus se tweede koms sal baie gelowiges onder die indruk wees dat hulle sonder heiligmaking die aangesig van die Bruidegom sal sien (vgl. 1 Thess. 5:23; Heb. 12:14; 1 Joh. 3:3). ’n Groot ontnugtering wag op diegene wat lae geestelike standaarde handhaaf.

Bestudeer die verborgenhede en bid daarvolgens

Die Here Jesus het sy dissipels geleer om te bid vir die vervulling van al die wonderlike beloftes oor die koninkryk van die hemel, maar ook vir krag en genade om in ons aardse pelgrimsreis onderweg na die ten volle geopenbaarde koninkryk staande te kan bly in ’n wêreld wat nou nog in die mag van die Bose lê. Die breë perspektief en verhewe doel van ons gebede moet altyd die eer van die Here wees, asook ’n toekomstige situasie op aarde waarin net sy wil sal geskied – m.a.w. die openbaring van die koninkryk van die hemel: “Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Matt. 6:9-10). Dit is waarheen ons op pad is en waarna ons streef.

Hierna gaan die gebed om genade om te kan oorleef onder moeilike omstandighede, om geestelik bewaar te word in die versoening wat die Here aan ons bied, om ons veranderde harte te toon deur die wyse waarop ons met die vyande van God kommunikeer, en om daagliks staande te kan bly teen al die liste van die duiwel: “... gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen” (Matt. 6:11-13).

Ons is verteenwoordigers van ’n koninkryk wat nie van hierdie wêreld is nie. Terwyl ons na dié koninkryk op pad is, moet ons getuies vir Christus wees en skyn soos ligte te midde van ’n krom en verdraaide geslag (Fil. 2:15). Dit vereis dat ons ook verdere verborgenhede oor die koninkryk van die hemel, wat eers ná die kruisdood van die Here Jesus en die uitstorting van die Heilige Gees geopenbaar is, in ag sal neem. Ons moet dus op die basiese gebed hierbo uitbrei deur ons versoek vir sondevergifnis pertinent op Christus se verdienste aan die kruis te baseer, en ook alle ander versoeke in sy Naam aan die Vader te rig.

Dit is in almal van ons se belang om deeglik op hoogte te wees van al die verborgenhede wat die Here in sy Woord aan ons openbaar. Dit werp vir ons lig op sake waarvan ons andersins nie bewus sou wees en gevolglik ook nie sou kon verstaan nie. Ons het al hierdie kennis nodig om as mense van God volkome te wees, “vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Tim. 3:17).

 

2. Die verborgenheid van Israel se verharding en eindtydse redding

Romeine 8 sluit af met ’n verhewe beskrywing van God se liefde wat deur Jesus Christus oor ’n verlore mensdom uitgestort is sodat ons herskep kan word om nie meer vyande van God te wees nie, maar gunsgenote. God die Vader het self die grootste offer gebring om hierdie verhouding moontlik te maak: “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal [Jode én nie-Jode] oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?” (Rom. 8:32). Die Verlosser het nie net gesterf om ons voor God te regverdig nie, maar is ook opgewek en tree voortdurend by die Vader se troon vir ons in (Rom. 8:34). Hy het die dood en die sonde oorwin, daarom kan geen magte in die lewe óf in die dood ons van sy liefde skei nie. ’n Voortgesette verhouding met God is net deur Hom moontlik.

In die lig van die lewensveranderende liefde van God deur sy Seun, is dit in almal van ons se belang om duidelikheid oor die volgende vrae te verkry: Wat word van mense wat hulle lewe buite die liefde en versoening van Christus probeer lei? Wat sou word van Israel, wat as volk die Messias verwerp het nadat God hulle gebruik het om die koms van sy Seun voor te berei, en uit wie Christus as die Seun van die mens gebore is? Hoe sou die geestelike blindheid van die uitverkore volk hulle verhouding met die Here raak, en wat sou die invloed daarvan op die verbonde tussen hulle en God wees? Paulus sê dit sou tot die gedeeltelike verharding van Israel lei, en dit is die onderwerp van een van die verborgenhede wat in die Nuwe Testament aan ons geopenbaar word.

In Romeine 9 tot 11 beskryf Paulus die roeping van Israel as God se volk, die redes vir hulle geestelike mislukking, asook hulle eindtydse herstel wanneer die hele volk met die Messias versoen sal word. Hy wys daarop dat die verharding van die verbondsvolk nie permanent sou wees nie, dat God se verbonde met Israel nie gekanselleer is nie, en dat daar altyd ’n klein oorblyfsel gelowige Israeliete was wat die Here behaag het. Hy wys ook daarop dat Israel weens ongeloof hulle sentrale plek in God se heilsplan vir die wêreld verloor het, maar dat hierdie gebroke verhouding tydens die Messias se wederkoms volkome herstel sal word.

Die kerk se rol in wêreldevangelisasie dui dus nie op ’n situasie waarin Israel deur die hoofsaaklik nie-Joodse kerk vervang is nie (die sogenaamde Vervangingsteologie), daarom moet die kerk nie arrogant of eiewys optree deur Israel se historiese én profetiese rol in die openbaring en uitbreiding van God se koninkryk op aarde te probeer ontken of geringskat nie. Die Here beklemtoon die feit dat Israel selfs in hulle gevalle en verharde toestand ’n seën vir die wêreld is, en dat hulle nog veel meer ’n seën sal wees wanneer hulle die Messias as Verlosser en Koning aanvaar het. Daar is dus geen ruimte in die Christelike kerk vir anti-Joodse sentimente en die ontkenning van Israel se nasionale regte op hulle land wanneer die Here hulle in die eindtyd herstel nie.

Al hierdie diepsinnige waarhede is deel van ’n verborgenheid wat nie vroeër bekend was nie, maar wat deur middel van Paulus se bediening aan die Christelike kerk bekend gemaak word. Hy sê vir die gemeente in Rome: “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend” (Rom. 11:25-26). In hierdie twee verse word verskeie belangrike stellings gemaak waaraan daar ten volle erkenning gegee moet word in Nuwe-Testamentiese teologie:

·      Israel sou in ’n toestand van geestelike verhardheid kom. Dit sou net ten dele wees deurdat hierdie toestand nie permanent sou voortduur nie maar beslis in ’n stadium beëindig sal word. Die voegwoord totdat beteken “tot op die oomblik dat ...” en dui op ’n definitiewe keerpunt in die situasie of toestand wat beskryf word. Die tydperk van Israel se nasionale verharding sou egter regdeur die kerkbedeling voortduur terwyl die volheid van die nie-Joodse volke deur middel van wêreldevangelisasie ingebring word.

·      ’n Ander implikasie van die begrip “ten dele” is dat dit nie die hele Israel sal wees wat geestelik verblind en verhard is nie. Daar sal altyd ’n relatief klein oorblyfsel van die volk wees wat die geestelike voortbestaan van Israel deurlopend sal bevestig.

·      Gelowiges onder die nasies moenie op Israel se tydelike ongeloof oorreageer en in stryd met Bybelse uitsprake meen dat Israel se rol in God se plan vir die nasies uitgedien is en deur die kerk vervang is nie. Dit is nie die geval nie.

·      Die nasionale bekering van Israel sal eers plaasvind wanneer die Messias kom en sy voete op die Olyfberg neersit. Dan sal die “hele Israel” gered en meer as ooit tevore gebruik word in die vestiging en uitbreiding van God se koninkryk op aarde.

Die profetiese keerpunt wat volgens die begrip “totdat” in Romeine 11:25 vir Israel sal aanbreek, sluit aan by twee ander uitsprake wat die Here Jesus gemaak het. In sy profetiese rede het Hy gesê: “Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:24). Aan die einde van die kerkbedeling, wanneer die volheid van die heidense (nie-Joodse) nasies in die koninkryk van God ingegaan het, sal Israel én hulle hoofstad Jerusalem herstel word – ook geestelik as die volk van God en die stad van die Groot Koning (vgl. Ps. 48:2-3).

Christus het by ’n ander geleentheid ook vir die inwoners van Jerusalem gesê: “Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat  kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:39). Dit sal die sleutel wees tot Israel se nasionale geestelike ontwaking, en die hoogtepunt van hulle volledige eindtydse herstel tydens die wederkoms van die Messias. Daarna sal die hele Israel die Here van harte dien: “En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die Here; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die Here; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie” (Jer. 31:34).

Voorregte wat Israel geniet

Die verborgenheid oor Israel se roeping, geestelike blindheid én uiteindelike redding as volk is ten volle aan ons geopenbaar. Die Here verwag van ons om hiervan kennis te neem en nie op ’n ondankbare en oneerbare manier teenoor Israel op te tree nie. Ons moet uit Israel se foute leer (1 Kor. 10:1-12), en terselfdertyd ook ondersteuners van Israel wees wat voorbidding doen vir die volle herstel van hierdie volk en hulle hoofstad, Jerusalem (Jes. 62:6-7; Ps. 122:6).

Paulus verwys in Romeine 9 na al die voorregte wat Israel geniet het om deur die Here as sy spesiale volk uitverkies te word – die beloftes aan die aartsvaders, die volk se aanneming as kinders van God, die gewaarborgde seën deur al die verbonde wat met hulle gesluit is, die wette van die Here waardeur die beginsels van ’n heilige lewe neergelê is, asook die godsdienstige seremonies in die tabernakel en later in die tempel, waaronder prediking, gebede, die offerdiens en die raadpleeg van die Here (Rom. 9:4-5).

Al hierdie godsdienstige aktiwiteite en openbarings van die Here deur Israel was egter net ter voorbereiding op die menswording van God se Seun aan wie alle heerskappy op aarde oorgegee is. Israel is dus ’n baie spesiale volk, “uit wie die Christus is na die vlees – Hy wat oor alles is, God, lofwaardig tot in alle ewigheid” (Rom. 9:5). Jesaja wys ook daarop dat Hy die “Sterke God” is wat in Jerusalem op die troon van Dawid sal regeer (Jes. 9:5-6).

Dit was vir Paulus ’n bron van groot smarte dat Israel nie hulle verhewe roeping besef het om in die volle sin van die woord ’n Messiaanse volk te wees nie (Rom. 9:1-3). Hulle het nie in die Here se weë gewandel en Hom van harte gedien nie, en daardeur het hulle hulself onwaardig gemaak om die Messias te ontvang, te erken en te gehoorsaam. Net ’n klein groepie Jode was geestelik reg ingestel, daarom sê Paulus: “... want hulle is nie almal Israel wat uit Israel is nie” (Rom. 9:6). Net diegene wat werklik ’n geloofsverhouding met die Here gehad het, was geestelik gesproke Israeliete (“Stryders vir God”). Die ander was slegs Israeliete in naam, maar in werklikheid ongelowig en geestelik dood.

Verkiesing en verwerping

In Romeine 9 tot 11 word ’n onderwerp bespreek wat in baie kringe omstrede is, naamlik wie die finale verantwoordelikheid vir mense se geloof of ongeloof het. Is dit God of die mense self? God bepaal die gevolge van die situasie waarin alle mense hulleself bevind – óf as ontvangers van sy genade óf as die voorwerpe van sy toorn. Hy wil groot en wonderlike dinge op aarde openbaar deur middel van die vestiging van sy koninkryk, daarom verkies Hy gelowiges en stel hulle aan as diensknegte om sy koninkryk deur hulle te bevorder. Die ongelowiges wat hulle harte teen Hom verhard, is self daarvoor verantwoordelik dat God hulle harte nog verder verhard. Op dié manier word hulle aan God se oordele onderwerp sodat sy opperheerskappy op dié manier bevestig kan word.

Weens die Here se voorkennis oor hoedanig mense ten opsigte van sy eise oor geloof en heiligheid gaan reageer, kan Hy hulle vooraf reeds as begenadigdes of veroordeeldes beskryf. Dit dui egter nie op ’n rigiede uitverkiesingsleer waarin die mens geen keuse oor sy uiteindelike bestemming het nie. Selfs Farao het ’n keuse uitgeoefen om God en sy volk teë te staan. Die Here het dit geweet en Farao se hart verder verhard sodat Hy sy almag oor die ongelowige Egiptenare kon toon.

Wat Israel betref, het Hy die hele volk verkies om sy gunsgenote, diensknegte en getuies te wees. Dit het ’n verantwoordelikheid op elke lid van die volk geplaas om ’n vrye wilsbesluit te neem ten opsigte van geloof in God en die handhawing van ’n verhouding met Hom. Die meeste van hulle het nie ’n positiewe keuse uitgeoefen nie, daarom het verkiesing vir hulle in verwerping verander.

Kort na Israel se uittog uit Egipte en die belewenis van God se magtige dade van verlossing, het die volk in ongeloof en afgodediens verval. Wat het van hulle uitverkiesing geword? “Maar God het in die meeste van hulle geen welgevalle gehad nie, want hulle is neergeslaan in die woestyn” (1 Kor. 10:5; vgl. Ps. 95:10-11). Selfs nadat hulle die Beloofde Land beërf het, het hierdie neiging tot afvalligheid voortgeduur. Josua was baie ongelukkig hieroor, maar het hulle vrye wilsbesluit eerbiedig: “Maar as dit verkeerd is in julle oë om die Here te dien, kies dan vir julle vandag wie julle wil dien: òf die gode wat julle vaders daar oorkant die Eufraat gedien het, òf die gode van die Amoriete in wie se land julle woon; maar ek en my huis, ons sal die Here dien” (Jos. 24:15).

Tydens Jesus se eerste koms het dieselfde situasie geheers. Hy wou Jerusalem se inwoners by Homself versamel as volgelinge van hulle lank beloofde Messias, maar hulle was geestelik afgestomp en het geweier om Hom te erken. Hy het vir hulle gesê: “Hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak ... en julle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat” (Matt. 23:37-38). Israel se verkiesing het deur hulle eie toedoen in ’n lang tyd van verworpenheid oorgegaan. Wanneer Paulus dus sê dat God aan hulle ’n gees van diepe slaap gegee het sodat hulle nie kan sien of hoor nie (Rom. 11:8), was hulle self hiervoor verantwoordelik. As gunsgenote van God en lede van sy uitverkore volk het hulle alle rede en ook die volle geleentheid gehad om die Messias aan te neem, maar hulle het nie. God het hulle nie eensydig uitgesluit nie, want die evangelie van Christus was nog altyd “’n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek” (Rom. 1:16).

Die Here wil nie hê dat een mens verlore moet gaan nie, maar dat almal gered moet word (Hand. 17:30; 1 Tim. 2:3-4; 2 Pet. 3:9). Wanneer dit by redding kom, maak dit hoegenaamd nie saak of die betrokke persoon ’n lid is van die uitverkore volk (Israel) of van een of ander heidense volk nie. Al wat saak maak is of hy God se genade wat deur Jesus Christus aan hom gebied word, aanvaar: “Want daar is geen onderskeid tussen Jood en Griek nie; dieselfde Here is tog Here van almal en ryk oor almal wat Hom aanroep. Want: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word” (Rom. 10:12-13). Hy sal slegs diegene oordeel wat uit eie beweging sy aanbod van genade verwerp het, ongeag van watter volksverband hulle is.

Die struikelblok van die wet

Israel se verkeerde beskouing oor die doel en rol van die wet het daartoe gelei dat hulle die Messias verwerp het, terwyl die wet in werklikheid bedoel was om die weg tot die aanvaarding van die Messias voor te berei. Die heidene wat nie die wet gehad het nie, het makliker tot bekering gekom en ’n geloofsband met Christus aangeknoop. Vir die heidene wat die evangelie geglo het, het verworpenheid in verkiesing verander, terwyl lede van Israel wat die evangelie deur hulle ongeloof teëgestaan het, van hulleself verworpenes gemaak het:

“Wat sal ons dan sê? Dat die heidene, wat die geregtigheid nie nagejaag het nie, die geregtigheid verkry het, naamlik die geregtigheid wat uit die geloof is; terwyl Israel, wat die wet van die geregtigheid nagejaag het, die wet van die geregtigheid nie bereik het nie. Waarom? Omdat dit nie uit die geloof was nie, maar net asof dit uit die werke van die wet was; want hulle het hul gestamp teen die steen van aanstoot. Soos geskrywe is: Kyk, Ek lê in Sion ’n steen van aanstoot en ’n rots van struikeling; en elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie.” (Rom. 9:30-33).

Waarom het die wet vir die Jode ’n struikelblok geword? Omdat die onderhouding van die wet nie ’n geloofshandeling was nie, maar ’n vorm van werkeheiligheid gebaseer op eie pogings om die wet te onderhou. Indien wetsonderhouding met die geloof verenig was, sou hulle hul onvermoë erken het om die wet te onderhou, en die Here vir die vergifnis van hulle sondes vertrou het. In dié geval sou die wet vir hulle ’n tugmeester na die Messias gewees het (Gal. 3:24), want Hy het gekom om sy volk van hulle sondes te verlos (Matt. 1:21; Hand. 4:12).

Gelowige Jode het wel die oorgang van die wet na genade gemaak. Paulus het gesê die doel van sy lewe was om in Christus gevind te word, “nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof” (Fil. 3:9).

Vir die vormgodsdienstige Jode was die wet ’n einddoel tot geregtigheid, daarom het hulle nie hulle geregtigheid in die geloofsaanvaarding van die Messias gesoek nie. Hy was eerder vir hulle ’n struikelblok omdat Hy hulle wettiese eiegeregtigheid verwerp en hulle skynheiligheid geopenbaar het. Hierdie Jode het nie aan die roeping van God voldoen nie en dus nie Messiaanse Jode geword nie: “Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie. Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo” (Rom. 10:3-4).

Die meerderheid Jode het hulleself van God vervreem as gevolg van hulle verkeerde begrip van die wet. Diegene wat dit nie gedoen het nie, en wat God deur die geloof behaag het, was altyd net ’n klein minderheid: “Al is die getal van die kinders van Israel soos die sand van die see, net die oorblyfsel sal gered word” (Rom. 9:27).

’n Band met God deur die geloof

Dit is ’n universele reël dat mense net deur die geloof geregverdig kan word by God. “Abraham het in God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken” (Rom. 4:3). In ’n geloofsverhouding speel gebed ’n groot rol, en sulke mense raak bewus van hulle sonde wanneer hulle in gebed tot God nader. In Ou-Testamentiese tye het die Here aan Israel sy wet gegee om aan hulle te toon wat die beginsels van sy geregtigheid is, en hulle sodoende van hulle eie sonde bewus te maak. Hy het hulle sonde vergewe (Rom. 4:7-8), hoewel die skaduagtige sondoffers van die Ou Verbond toe nog nie in die eenmalige offer van die Lam van God vervul is nie.

Indien die wet en die offerdiens reg verstaan is, sou dit gelowiges na die Here gedryf en hulle geloof versterk het omdat hulle nie uit eie krag die vereistes van die wet kon nakom nie. Die meeste Israeliete het egter die fout gemaak om die werke van die wet voorop te stel en net dit na te streef, eerder as ’n aktiewe geloofsverhouding met die Here. Hulle het die slawe van ’n godsdiensstelsel geword, waarin hulle primêr in hulle eie werke geroem het. Omdat die soeke na sondevergifnis nie sterk aanwesig was nie, was hulle nie ingestel op die koms van die lydende Messias wat die oortredings van die volk op Hom kon neem nie (vgl. Jes. 53:5). Toe Jesus as die Lam van God gekom het om juis hierdie rol te vervul, het hulle Hom verwerp.

In Nuwe-Testamentiese tye maak baie mense presies dieselfde fout. Hulle soek hulle heil in ’n godsdiensstelsel met al sy rituele en seremonies, maar kan nie van ’n persoonlike verhouding met die Here Jesus getuig nie en het ’n powere gebedslewe. Hulle roem dus ook in hulle godsdienstige werke, maar nie in hulle geloof nie. Hierdie probleem moet dringend reggestel word, en daarvoor is ’n eerlike selfondersoek nodig: “Ondersoek julself of julle in die geloof is; stel julself op die proef. Of is julle nie seker van julself dat Jesus Christus in julle is nie?” (2 Kor. 13:5). Evangeliese prediking is die oplossing vir hierdie probleem: “Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die Woord van God” (Rom. 10:17).

Onder die meerderheid Israeliete wat vir Jesus as Messias verwerp het, het ongeloof en vormgodsdiens die oorhand gekry. Dit het Israel as volk gediskwalifiseer om onder die Nuwe Verbond die Messias se getuies op aarde te wees, daarom het die verantwoordelikheid vir die evangelisering van die wêreld spoedig in die hande van nie-Joodse getuies van Christus geval.

Die Goddelike rol van Israel

Dit is van die grootste belang dat ons Israel se rol as ’n openbaringskanaal van God se koninkryk raaksien en ten volle erken, want dit het vierduisend jaar gelede by die roeping van Abraham begin, en sal binnekort weer ’n nuwe fase betree wanneer die Messias-Koning terugkeer. Deur God se toedoen sal Israel as volk vir altyd voortbestaan: “Want Ek is met jou, spreek die Here, om jou te verlos. Want Ek sal ’n einde maak aan al die nasies waarheen Ek jou verstrooi het; maar aan jou sal Ek geen einde maak nie, maar Ek sal jou tugtig met mate, al sal Ek jou sekerlik nie ongestraf laat bly nie” (Jer. 30:11; vgl. Lev. 26:44-45). In die komende verdrukking sal ’n oorblyfsel van Israel gered word om die Messiasryk te beërf (Jer. 30:7).

In watter opsig is Israel in die kerkbedeling vir ons ’n seën terwyl hulle geestelik verblind is? Paulus het die kerk in Rome vroeër reeds daarop gewys dat Israel die kanaal is waardeur die Woord van God na die mensdom gekom het, en dat dit beslis nie almal van hulle is wat afvallig en geestelik verhard geraak het nie: “Wat is dan die voordeel van die Jood? Of wat is die nut van die besnydenis? Groot, in alle opsigte: ten eerste tog seker dat aan hulle die woorde van God toevertrou is. Want wat maak dit as sommige ontrou geword het? Sal hulle ontrou miskien die getrouheid van God vernietig? Nee, stellig nie!” (Rom. 3:1-4).

In Romeine 11 sê Paulus dat selfs die afvalligheid van Israel tot die nie-Joodse wêreld se voordeel is, want nadat hulle as volk die saligheid wat deur die Messias aan hulle gebied is geweier het, het die opdrag gekom om dit aan die heidene (die nie-Joodse nasies) te gaan verkondig. Ons het dus ook erfgename van God se koninkryk geword, en sal in die toekoms op ’n nuwe manier deur Israel bevoordeel word wanneer hulle ook die Messias sal aanneem en dien: “Ek vra dan: Het hulle miskien gestruikel om te val? Nee, stellig nie! Maar deur hulle val het die saligheid tot die heidene gekom om hulle jaloers te maak. En as hulle val die rykdom van die wêreld is en hulle tekort die rykdom van die heidene, hoeveel te meer sal hulle volheid dit nie wees nie! ... Want as hulle verwerping die versoening van die wêreld is, wat sal hulle aanneming anders wees as lewe uit die dode?” (Rom. 11:11-12, 15).

Ons moet Israel nie verwerp of verkleineer weens hulle geestelike hardheid nie, maar hulle inteendeel jaloers maak op die manier waarop ons die God van Abraham, Isak en Jakob deur die Messias, Jesus van Nasaret, dien. Hulle moet hulle eie geestelike armoede besef by die aanskoue van ons geestelike rykdom in die Here. Ons sal dit slegs ten volle kan doen as ons die verborgenhede rondom Israel se verlede, hede en toekoms reg verstaan.

Die gelykenis van die olyfboom

In Romeine 11 word die geestelike koninkryk van die Messias op aarde met ’n olyfboom vergelyk. Hierdie boom is ’n skepping van God. Sy wortel wat in die verborge, onsigbare, geestelike sfeer werksaam is, is die Verlosser van die mensdom, Jesus Christus, wat self ook God is. Die boom wat uit die wortel groei, is ’n geslag mense wat deur God geroep is om sy koninkryk op aarde te vestig. Hulle is Abraham, Isak en Jakob; en ná Jakob ’n volk bestaande uit die twaalf stamme van Israel. In die stam van Juda, in die koninklike familie van Dawid, is die Messias gebore as die Seun van Dawid en erfgenaam van sy koninklike troon.

Volgens Openbaring 22:16 is Jesus “die wortel en die geslag van Dawid”. As die wortel van Dawid (en van die olyfboom) is Hy die oorsprong, of Here, van Dawid. As die geslag van Dawid is Hy die Seun van Dawid wat mens geword het om Homself vir ons sondes te offer én ook in die Millennium op die troon van Dawid te regeer. Paulus verwys ook na ’n uitspraak in Jesaja waarin Jesus as die wortel van Ísai (Dawid se vader) beskryf word: “En Jesaja sê ook: die wortel van Ísai sal daar wees, en Hy wat opstaan om oor die nasies te heers, op Hom sal die nasies hoop” (Rom. 15:12; vgl. Luk. 1:32). Die uitdrukking “die wortel van Ísai” verwys na Jesus se natuur as God, want Hy het voor Ísai reeds bestaan. Hy is die oorsprong van alle seëninge, en op Hom moet alle mense hoop. Gedurende die Millennium sal Hy nog in ’n meerdere mate die toonbeeld van alle mense se hoop en verwagting wees.

Aan die eerste aartsvader, Abraham, is dit duidelik gestel dat die Messias wat uit sy nageslag gebore sou word, God se koninkryk onder alle nasies sou vestig (Gen. 12:3). “Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet [waardeur ons nie gered kan word nie] ... sodat die seën van Abraham na die heidene kan kom in Christus Jesus” (Gal 3:13-14; vgl. Jes. 49:5-6). Die opdrag tot wêreldevangelisasie kon egter eers ná die koms van die Messias gegee word. In Ou-Testamentiese tye het God sy koninkryk in en deur Israel uitgebrei, sodat hulle die takke van die olyfboom geword het.

Deur hulle weiering om die Messias te aanvaar, het Israel die maat van hulle vaders se ongeloof en sonde vol gemaak (Matt. 23:29-39). Die verwerping van die Messias, wat die wortel van die olyfboom is, het daartoe gelei dat Israel as volk (die mak takke) afgekap is en verdroog het. Takke van wilde olyfbome (die heidennasies) is in hulle plek in die stam van die olyfboom ingeënt omdat hulle die Messias as Verlosser aanvaar het (Rom. 11:17-24).

Dit is belangrik om daarop te let dat nie-Joodse gelowiges deel kry van die vettigheid van die wortel en stam van die boom – nie van sy takke (die volk Israel) nie. Dit maak van hierdie olyfboom iets veel meer as net die Joodse volk. Ons word in die Messias ingeënt, soos ons ook uit die gelykenis van die wynstok leer (Joh. 15:1-7), en nie in die Joodse volk nie. Ons het in ons geloofslewe Christelike wortels en nie Hebreeuse wortels nie.

Ons keer dus nie terug na skaduagtige gebruike onder die wet soos wat die gemeente van die Galásiërs gedoen het nie, maar gaan voort na ’n totaal nuwe lewe in Jesus Christus. Ons het nêrens in die Bybel ’n opdrag om soos Israel (die verdroogde mak takke van die olyfboom) te word en saam met hulle ortodokse feeste en Sabbatte te hou waarin die Here Jesus nie erken en vereer word nie. Ons vier die godsdienstige feeste as vervulde Messiaanse feeste, met ander woorde met ’n duidelike Nuwe-Testamentiese inslag, anders verloën ons Christus.

Die inenting in die olyfboom staan in verband met geestelike lewendmaking en die verkryging van ’n Christelike identiteit. ’n Ongeredde Griek wat tot bekering kom, word deel van die olyfboom omdat hy dan ’n geredde Griek is. Hy word nie ’n Jood (een van die mak takke) nie. So ook is net Messiaanse Jode deel van die boom, omdat hulle in die wortel en stam (die Messias) is. Wanneer hulle weens ongeloof afgekap word, bly hulle steeds Jode – net ongelowige Jode. Die olyfboom verander dus nie iemand se etniese identiteit nie. Gelowiges uit élke volk en stam en nasie sal eendag voor die Here staan (Op. 5:9-10; 7:9).

Sommige van die afgekapte mak takke van die olyfboom (ongeredde Jode) sal in die eindtyd weer in die olyfboom ingeënt word, daarom weet ons dat ’n oorblyfsel van Israel as volk gered sal word wanneer die Messias kom (Rom. 11:25-26). Nie-Joodse Christene moet dié belofte aanvaar, vir die vervulling daarvan bid, en ongeredde Jode evangeliseer deur aan hulle die goeie nuus van die Messias te verkondig. Humanitêre hulpverlening aan Israel sonder Christelike evangelisasie is van weinig nut.

Het jy die volle openbaring van die verborgenheid van Israel se gedeeltelike en tydelike verharding ter harte geneem, en beywer jy jouself vir hulle volle herstel sodat tye van verkwikking voor die aangesig van die Here vir almal van ons kan aanbreek? Meer kennis van God se Woord bring ook meer verantwoordelikheid mee om in die lig daarvan te wandel en uitvoering aan die opdragte daarin te gee.

Onkunde lei na dwalings

Ons moet ’n goeie kennis van die Bybel hê en deur die Heilige Gees die vermoë om “die woord van die waarheid reg [te] sny” (2 Tim. 2:15). Die Nuwe Afrikaanse Vertaling sê ons moet “die woord van die waarheid suiwer verkondig.” Ons moet dus seker maak dat ons die Woord se grondbetekenis ken en eerbiedig, en dit verklaar in die Bybelse verband waarin dit aangebied word, want dit sal ons lei om die Woord ook korrek op ons eie situasie toe te pas. Om dit te kan doen, vereis ’n deeglike kennis van die progressiewe ontplooiing van God se raadsplan sedert Ou-Testamentiese tye, maar veral ook van die nuwe openbarings wat die Here deur middel van die verklaring van verborgenhede in die Nuwe Testament gee.

Die talle uiteenlopende en dikwels botsende teologiese sieninge oor Bybelse uitsprake in ’n groot aantal kerke in die wêreld is ’n bewys daarvan dat die Woord meesal nie reg beoordeel, suiwer verkondig en dispensasioneel korrek toegepas word nie. Dit is veral uit die vertolking van die verborgenhede duidelik tot watter mate die betrokke eksegete kennis dra van sentrale Bybelse waarhede en die harmonie in die Skrif verstaan. Hoe minder ’n persoon in staat is om ’n verborgenheid te verstaan, hoe meer wend hy homself tot vergeesteliking, allegorisering, die vervangingsteologie, mitologisering, of bloot net humanisties gemotiveerde kritiese denke, om van stellings af weg te kom wat nie met sy eie teologiese verwysingsraamwerk versoen kan word nie. In die proses word daar al hoe verder van Skrifwaarhede af wegbeweeg.

Indien die verborgenheid oor die verharding en eindtydse redding van Israel nie reg verstaan en verklaar word nie, lei dit tot een of meer van die volgende dwalings wat almal uit die Skrif weerlê kan word:

·      Israel se geestelike verhardheid word as ’n permanente toestand beskou, met die gevolg dat die geestelike ontwaking van hierdie volk in die eindtyd ontken word. Daar is egter ruim getuienis in die Skrif van Israel se fisiese en geestelike herstel (Eseg. 36:22-28).

·      Die rol van die gelowige oorblyfsel in Israel word buite rekening gelaat. Jesus en sy dissipels was deel van die veragte minderheidsgroep, en dit is duidelik dat die goue draad van Israel se heilsgeskiedenis deur hulle loop.

·      Israel word permanent deur die kerk vervang as die “volk van God” waardeur Hy sy doel op aarde bereik. Israel se verbonde is egter nie op die kerk oordraagbaar nie, omdat hierdie verbonde onder andere hulle reg bevestig om die Beloofde Land te bewoon (Gen. 13:14-15; Eseg. 11:17).

·      Sommige Christene beskou die olyfboom van Romeine 11 as die volk Israel, en sien dit as hulle roeping om self Jode te word deur Hebreeus aan te leer, onder die wet te leef (veral die Sabbatswet), en sodoende ’n nuwe Israel tot stand te bring. Hulle assosieer egter met ’n volk wat tydens die hele Nuwe-Testamentiese bedeling geestelik dood en fisies oor die aarde verstrooi is. Hulle het Hebreeuse wortels in plaas van Christelike wortels.

·      Die Messiaanse koninkryk wat aan Israel belowe is nadat hulle met die Messias versoen is, word dispensasioneel deur antichiliaste teruggeskuif en voor die wederkoms van Christus op die kerkbedeling toegepas. Transformasie- en ekumeniese byeenkomste word gebruik om koninkrykstoestande te probeer skep. Dit werk egter nie, want die Bybel praat van ’n groot afval in die laaste dae, wat sal uitloop op die wêreldwye regering van die Antichris (Op. 13:7).

·      Die arrogante afleiding word soms gemaak dat die kerk beter as ongelowige Israel is, en sodoende word die waarskuwing vergeet dat die kerk ook van die olyfboom af verwyder kan word indien dit in ongeloof verval (Rom. 11:22). Grootskaalse geloofsverval is juis ’n kenmerk van die eindtydse kerk (1 Tim. 4:1; Op. 3:15-17).

·      Die geestelike herlewing van Israel wanneer die Messias kom (Sag. 12:10), word as die verheerliking van die kerk beskou. Die verheerliking van die ware kerk vind egter sewe jaar vroeër tydens die wegraping plaas, net voor die verdrukking.

Al hierdie dwalinge is die direkte gevolg van foutiewe afleidings van Bybelse leerstellings. Geen wonder nie dat die Christelike kerk, behalwe vir relatief klein evangeliese kerke, reeds baie ver van die waarheid van God se Woord afgewyk het. Hulle is die slagoffers van misleiding, en as hulle nie betyds daaruit verlos word nie, sal hulle hulself nie in Christus se koninkryk bevind nie, maar in die Antichris se wêreldryk (Op. 13:3-4, 7).

 

3. Die verborgenheid van die evangelie van Jesus Christus

Daar is verskeie verborgenhede wat direk verband hou met die Persoon en werk van Jesus Christus, asook met God se wil vir die mensdom. Israel én die hele wêreld word geensins in die duister gelaat oor wie Jesus is, wat die doel van sy eerste koms na die wêreld was, wat die verhouding is waarin ons teenoor Hom behoort te staan, en hoe ons God se wil in Christus kan ken nie. Geloofsake wat voor sy koms slegs skaduagtige gebruike, simboliese handelinge en profetiese beloftes was, het in Hom ’n wonderlike werklikheid geword. Deur die verkondiging van hierdie konkrete geestelike feite is dinge bekend gemaak wat verborge was van die grondlegging van die wêreld af (Matt. 13:35).

Met die koms van Christus het Ou-Testamentiese skadubeelde ’n werklikheid geword. Johannes sê: “En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon – en ons het sy heerlikheid aanskou, ’n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom – vol van genade en waarheid” (Joh. 1:14). Dit is ons voorreg om deur die Heilige Gees in die hele waarheid van die Verlosser gelei te word, en daardeur die rykdom van sy genade deelagtig te wees.

In die lang tyd voor die koms van Christus het mense meesal op ’n onregstreekse wyse met God gekommunikeer deur:

·      die bemiddeling van onvolmaakte priesters wat voorlopers was van die volmaakte Hoëpriester wat die enigste Middelaar tussen God en die mens is (Heb. 7:11, 22-28);

·      herhalende en onvolmaakte offers wat vooruit gewys het na die eenmalige en finale offer van Christus aan die kruis (Heb. 10:1-10);

·      beperkte toegang tot die genadetroon van God in die Allerheiligste wat deur ’n voorhangsel afgesluit is, maar tydens Christus se soenoffer vir alle gelowiges oopgestel is (Heb. 4:14-16; 10:19-22); en

·      onsuksesvolle pogings om die wet te vervul, totdat die Seun van God dit volmaak vervul en sy kleed van geregtigheid en heiligheid aan ons gebied het.

Verskeie van die verborgenhede van die evangelie is aan apostels soos Paulus geopenbaar, want dit kon eers gedoen word nadat Christus gekruisig, opgestaan en na die hemel opgevaar het, die Heilige Gees uitgestort is, en die evangelie van verlossing ook aan die nie-Joodse wêreld gebied is. Jesus Christus is self die verpersoonliking van verlossing. Paulus sê aan die gemeente in Rome: “Aan Hom dan wat magtig is om julle te versterk volgens my evangelie en die prediking van Jesus Christus, ooreenkomstig die openbaring van die verborgenheid wat eeue lank verswyg is, maar nou geopenbaar is ... onder al die heidene” (Rom. 16:25-26).

Die Korinthiërs word ook herinner aan die groot voorreg wat hulle gehad het deur kennis te neem van ’n verborgenheid wat eeue lank bedek was maar met die koms van Christus geopenbaar is (1 Kor. 2:7). Die Efésiërs verkry insig in dieselfde saak, en verneem ook dat God alles deur sy Seun geskape het (Ef. 3:3-7, 9). Paulus vra vir Christene in hierdie gemeente om vir hom voorbidding te doen, “sodat ’n woord my gegee mag word as ek my mond oopmaak om met vrymoedigheid die verborgenheid van die evangelie bekend te maak” (Ef. 6:19). Hy het dieselfde versoek aan die Kolossense gerig, en gevra dat daar vir hom gebid moes word om selfs in die gevangenis getrou te bly aan die verkondiging van die verborgenheid van Christus (Kol. 4:3; kyk ook Kol. 1:26-27; 2:2).

In sy pastorale brief aan Timótheüs wys Paulus op die belangrike feit dat Jesus Christus self God is wat in ’n menslike liggaam verskyn het om die evangelie van verlossing ’n werklikheid te maak: “En, onteenseglik, die verborgenheid van die godsaligheid is groot: God is geopenbaar in die vlees, is geregverdig in die Gees, het verskyn aan engele, is verkondig onder die heidene, is geglo in die wêreld, is opgeneem in heerlikheid” (1 Tim. 3:16). Mense wat nie van hierdie verborgenhede bewus is nie, betwis die Godheid van Jesus Christus, aanvaar nie die Drie-eenheid van God nie, begryp nie die volle implikasies van Jesus se kruisdood nie, sukkel om die oorgang van die wet na genade te maak, en raak maklik betrokke by geestelike dwalings en beweerde buite-Bybelse openbarings van God.

 

4. Die verborgenheid van die liggaam van Christus

In die Ou Testament het die Here ’n volk (Israel) as sy verteenwoordigers op aarde aangestel, maar in die Nuwe Testament gebruik Hy ’n totaal ander groep individue wat bestaan uit geredde persone uit alle nasies – die kerk. Hulle word geestelik saamgevoeg in een groep wat as die liggaam van Christus beskryf word. Voor die koms van Christus was dit heeltemal onbekend dat daar so ’n groep tot stand sou kom, maar vir ons is dit ’n praktiese en ten volle geopenbaarde werklikheid.

Die Here Jesus koester en versorg sy gemeente sodat Hy haar in sy diens kan gebruik. Sy word verder ook voorberei om tydens sy wederkoms as sy vrou met Hom verenig te word. Tans is sy soos ’n verloofde bruid wat op die koms van die Bruidegom wag. Paulus sê:

“Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees. ... Want ons is lede van sy liggaam ... Hierdie verborgenheid is groot, maar ek sê dit met die oog op Christus en die gemeente” (Ef. 5:25-32).

Die liggaam van Christus is oor die hele aarde versprei. Geestelik is dit wel ’n eenheid waarin alle lede broers en susters in die Here is, maar op die uiterlike, strukturele vlak, bestaan die liggaam as plaaslike gemeentes wat almal deur die leiding van die Heilige Gees, op grond van die Woord van God, en onder die gesag van Christus, as afsonderlike gemeentes funksioneer.

Die Here verwag van elke Christen dat hy sy verantwoordelikheid as ’n lid van hierdie liggaam sal besef. Sy eie liggaam, siel en gees word deel van die tempel van die Heilige Gees, en dit verbind hom tot ’n heilige lewenswandel. Sommige gelowiges leef egter in sonde en word deur vleeslike ideale gemotiveer. Paulus vra vir hulle: “Weet julle nie dat julle ’n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?” (1 Kor. 3:16; vgl. 1 Kor. 6:19-20).

Dit is elkeen van ons se taak om vas te stel wat ons funksie in die liggaam is, want die lede vervul almal aanvullende funksies om die geheel doeltreffend te laat funksioneer: “Want soos ons in een liggaam baie lede het en die lede nie almal dieselfde werking het nie, so is ons almal saam een liggaam in Christus en elkeen afsonderlik lede van mekaar. En ons besit genadegawes wat verskil volgens die genade wat aan ons gegee is: is dit profesie, na die maat van die geloof; of bediening, in die werk van bediening; of wie leer, in die lering; of wie vermaan, in die vermaning; wie uitdeel, in opregtheid; wie ’n voorganger is, met ywer; wie barmhartigheid bewys, met blymoedigheid“ (Rom. 12:4-8).

Daar is vandag baie mense wat, onafhanklik van die Bybel, profesieë uitspreek. Ons is egter tot die Woord van God gebonde en moenie daarvan afwyk nie (Op. 22:18-19). Slegs Bybelse profesieë moet verkondig word, tesame met boodskappe oor bemoediging en geestelike opbouing: “Maar hy wat profeteer, spreek tot die mense woorde van stigting en troos en bemoediging” (1 Kor. 14:3).

 

5. Die verborgenheid van die geloof

Persone wat leiding neem in die gemeente van Christus, moet “die verborgenheid van die geloof in ’n rein gewete hou” (1 Tim. 3:9). Dit beteken hulle moet die diep waarhede van die geloofslewe in Christus verstaan en ook aan ander kan oordra. Terwyl hulle dit doen, moet hulle deurgaans ’n rein gewete hê, wat vereis dat hulle niks sal doen wat in stryd is met hulle geloof en getuienis nie. Hulle moenie een ding verkondig en ’n ander ding doen nie.

Die verborgenheid van die Nuwe-Testamentiese geloof impliseer dat geloof, soos wat dit in Ou-Testamentiese tye beoefen is, veel meer inhoud gekry het ná die koms van Christus. Dit gaan gepaard met ’n vaste oortuiging dat Jesus God die Seun is wat mens geword het sodat Hy die liefde van die Vader aan ons kon openbaar. Hierdie liefde het Hom daartoe beweeg om sy lewe vir ons af te lê sodat ’n losprys vir ons sonde betaal kon word. Ons kan net op grond van Christus se soenverdienste tot die Vader nader, met die vaste versekering dat Hy ons in die Naam van sy Seun sal verhoor en in genade aansien.

’n Ware geloof is die vrug van die Heilige Gees, en dus ’n Godgegewe vermoë om op ’n diep geestelike vlak bewus te wees van ons sonde en verlorenheid, maar ook van die genade en kwytskelding van sonde wat Christus aan ons bied. Mense wat nog nie die evangelie van Christus gehoor en aangeneem het nie (vgl. Rom. 10:17), is steeds verlore, al “glo” hulle ook in ander gode of ander maniere van verlossing. Hulle is die slagoffers van misleiding, en as sodanig uit ’n Bybelse oogpunt steeds ongelowiges: “Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie” (2 Kor. 4:3-4).

Die verborgenheid van ’n ware geloof is net in die Nuwe Testament geopenbaar, en dit moet aan almal verkondig word wat nog nie Christene is nie. Wanneer hierdie groot gawe van God ontdek is, sal mense nie hulle saligheid in ander gelowe, in hulle eie werke of in die werke van die wet soek nie. Jesus Christus lei sondaars uit die duisternis van slawerny aan sonde na die wonderbare lig van ware geestelike vryheid. Hy lei ook wettiese Jode uit hulle Ou-Testamentiese oriëntasie in hierdie nuwe verhouding met die Drie-enige God, “want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo” (Rom. 10:4).

 

6. Die verborgenheid van God se wil

Jesus Christus se versoening aan die kruis is die fondament van ’n nuwe lewe in Hom, waarin ons deur die Heilige Gees gelei word en ook die vaste riglyne in sy Woord kan verstaan, sodat ons meer insae in die wil van God vir ons lewe kan verkry: “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade, wat Hy oorvloedig aan ons bewys het in alle wysheid en verstand, deurdat Hy aan ons die verborgenheid van sy wil bekend gemaak het na sy welbehae wat Hy in Homself voorgeneem het” (Ef. 1:7-9).

Daar is algemene aspekte van God se wil vir die mensdom wat duidelik in sy Woord uitgespel is. Die eerste is dat God nie wil hê dat ’n enkele mens verlore moet gaan nie, maar dat almal gered sal word. Ná die koms van Christus verkondig God “aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer” (Hand. 17:30). “God, ons Verlosser, wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom” (1 Tim. 2:3-4). “Die Here ... wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom” (2 Pet. 3:9).

Tweedens is dit die uitgesproke wil van God dat al sy kinders heilig sal leef: “Want dit is die wil van God: julle heiligmaking. ... Want God het ons nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking. Daarom, hy wat dit verwerp, verwerp nie ’n mens nie, maar God wat ook sy Heilige Gees aan ons gegee het” (1 Thess. 4:3, 7-8). Die Here wil ons deur heiligmaking en ’n grondige kennis van sy Woord toerus om meer volkome volgens sy wil te kan leef. Paulus bid die Kolossense toe, “... dat julle vervul mag word met die kennis van sy wil in alle wysheid en geestelike insig, sodat julle waardiglik voor die Here mag wandel om Hom in alles te behaag en julle in elke goeie werk vrug mag dra en in die kennis van God mag groei” (Kol. 1:9-10).

Daar is egter verskeie situasies in die lewe, asook keuses wat ons moet doen, waaroor die Bybel nie spesifieke leiding gee nie. In sulke gevalle verwag die Here van ons om self besluite te neem wat in die beste belang van sy koninkryk sal wees, en dus ook in ons eie beste belang. Om dit te kan doen, moet ons ’n goeie kennis van sy Woord hê want dit, saam met die leiding van die Heilige Gees, sal aan ons “verligte oë van die verstand” gee (Ef. 1:18) sodat ons geestelike feite en sekulêre oorwegings saam in ag kan neem.

Dit is slegs mense wat die verborgenheid van die Here se wil verstaan, wat besluite kan neem wat Hom sal behaag en terselfdertyd ook ons oorlewing sal verseker te midde van moeilike ekonomiese en ander omstandighede waaraan die meeste mense – ook toegewyde Christene –onderworpe is.

 

7. Die verborgenheid van die eerste opstanding

’n Verdere belangrike verborgenheid wat in die Nuwe Testament geopenbaar word, is dat daar vir die regverdiges ’n afsonderlike opstanding uit die dode sal wees. Omdat ware gelowiges ten nouste geassosieer word met Jesus Christus as sy liggaam, of bruidsgemeente, val hulle opstanding en verheerliking saam met die eindtydse openbaring van Christus as Bruidegom, Regter en Koning. Hierdie gebeurtenis sal skielik en dramaties wees. Paulus sê:

“Kyk, ek deel julle ’n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ’n oomblik, in ’n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word” (1 Kor. 15:51-53).

Tydens die eerste opstanding sal Christus as Bruidegom net aan die regverdiges verskyn om vir altyd met hulle verenig te word. Hy wil nie hê dat ons onkundig moet wees oor hierdie belofte nie, omdat dit aan gelowiges ’n vaste hoop vir die toekoms gee asook ’n belangrike doel om voor te lewe:

“Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie. Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring. Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie. Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde” (1 Thess. 4:13-18).

Die eerste opstanding en wegvoering van die regverdiges sal die einde meebring van die kerkbedeling op aarde, en die begin wees van ’n uitgebreide reeks openbaringshandelinge: “Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word” (Kol. 3:4; vgl. Sag. 14:4-5). Vir dit om te kan gebeur, moet die ware kerk vooraf reeds met Christus verenig word.

Twee opstandings

Die Bybel onderskei duidelik tussen twee liggaamlike opstandings – een vir gelowiges en een vir ongelowiges. Die een word “die opstanding van die lewe” genoem (Joh. 5:29), “die eerste opstanding” (Op. 20:5-6), en “die opstanding van die regverdiges” (Luk. 14:14), terwyl die ander een “die opstanding van die veroordeling” genoem word (Joh. 5:29). Daar is ten minste ’n duisend jaar tussen hierdie twee opstandings, en hulle verskil ook wat hulle aard en gevolge betref (Op. 20:4-6).

Die feit dat Jesus verwys na “die laaste dag” waarop Hy die regverdiges sal opwek (Joh. 6:39, 40, 44, 54), het baie duidelik betrekking op die laaste dag van die kerkdispensasie wanneer Hy ons kom haal (Joh. 14:2-3). Nadat die oes klaar ingesamel is deur wêreldevangelisasie, sal die regverdiges onder alle nasies opgewek en in die hemel by Hom versamel word.

Paulus verwys na die verskillende fases waarin die eerste opstanding plaasvind: “Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms. Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het” (1 Kor. 15:22-24).

Jesus Christus het self die eerste opstanding ingelui en dit daardeur vir almal wat in Hom glo, moontlik gemaak om in die wonderlike seën van die eerste opstanding te deel. Wanneer Christus aan die einde van die kerkdispensasie terugkom, sal die hoofoes van gelowiges in die hemel ingesamel word (1 Thess. 4:16-17). Daarna sal die gelowiges uit die verdrukking ook opgewek word (Op. 20:4). Al hierdie gelowiges vorm deel van die eerste opstanding in Christus.

Tussen die opstanding van Christus as die eersteling en die opstanding van die weergebore regverdiges by sy wederkoms (die eerste opstanding) sal die totale kerkbedeling verloop, wat tans byna twee millennia al voortduur. Dit is uit Openbaring 20 duidelik dat ’n verdere duisend jaar van Christus se regering sal verloop tussen die opstanding van die regverdiges en die einde van die huidige aarde. Dan sal die onregverdiges in die tweede opstanding opgewek word om vir die eindoordeel voor die groot wit troon gedaag te word.

Johannes verwys na al die heiliges wat tydens die eerste opstanding opgewek sal word om in die Millennium as konings saam met Christus te regeer: “...en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank. En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. ... Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding” (Op. 20:4-6).

Tydens Jesus se geheime koms (die eerste fase van sy wederkoms) kom Hy net om die weergebore gelowiges op te wek; dit is waarom Paulus sê: “...die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan” (1 Thess. 4:16). Hier word hoegenaamd niks oor die opstanding van die ongelowige dooies gesê nie. Aangesien ’n eerste opstanding ook ’n tweede opstanding impliseer, en aangesien ons weet dat beide die gelowiges en ongelowiges sal opstaan (Hand. 24:15), is dit duidelik dat die ongelowige dooies tydens ’n later opstanding opgewek sal word.

Diegene wat deel het aan die eerste opstanding word geseënd genoem, want dit is inderdaad ’n bevoorregte posisie om hierby ingesluit te wees. Verskeie ander Skrifgedeeltes lewer onweerlegbare bewyse dat weergebore gelowiges eerste opgewek sal word. Die volgende is uitdrukkings wat slegs na die eerste opstanding verwys:

·      Die eerste opstanding (Op. 20:6).

·      Die opstanding van die kinders van God (Luk. 20:36).

·      Die opstanding van dié wat in Christus gesterf het (1 Thess. 4:16).

·      Die opstanding van die regverdiges (Luk. 14:14).

·      ’n Beter opstanding (Heb. 11:35).

·      Die opstanding tot die lewe (Joh. 5:29).

·      Die opstanding uit die dode in Jesus (Hand. 4:2).

Wanneer daar na die Christene se opstanding uit die dode verwys word, asook wanneer die opstanding van Christus ter sprake is, word die uitdrukking ek nekroon in Grieks gebruik. Dit beteken uit die dode en word slegs ten opsigte van ’n opstanding gebruik waarin daar ander dode is wat agterbly. Hierdie uitdrukking, wat 49 keer in die Nuwe Testament gebruik word, waarvan 34 keer in verband met die opstanding van die Here Jesus, word nie een keer in verband met die finale opstanding gebruik nie. Na die tweede opstanding word slegs as toon nekroon verwys, wat die opstanding van die dode is.

Wanneer die wegraping plaasvind, staan die regverdiges met verheerlikte liggame onder die ander dode op [vanuit die dode] en gaan dan met dié wat nog in die lewe is, Christus tegemoet in die lug. Die onregverdiges (ongereddes) sal in hulle grafte bly omdat hulle nie “in die Here” gesterwe het nie (Op. 14:13). Hulle sal eers tydens die finale oordeelsdag opgewek word om hulle ewige straf te ontvang.

Die laaste basuin

Die eerste opstanding gaan gepaard “met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan” (1 Thess. 4:16). Dit word ook beskryf as “die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons [wat nog in die lewe is] sal verander word” (1 Kor. 15:52). Die basuingeklank tydens die eerste opstanding sal die geestelike vervulling wees van die jaarlikse oesfees wat in Israel gevier word gedurende die herfsmaand. Hierdie fees, wat met die Rosh Hashanah saamval, was in Ou-Testamentiese tye “’n gedenkdag deur basuingeklank, ’n heilige vierdag” (Lev. 23:24).

Baie mense maak egter verkeerde afleidings van die feit dat die basuin wat sal blaas tydens die opstanding van die gelowiges beskryf word as die “laaste basuin” (1 Kor. 15:52). Hulle verwar hierdie basuin met die basuine wat God se oordele tydens die verdrukking aankondig (Op. 8 tot 11) en op grond daarvan verwerp hulle die belofte van ’n voorverdrukkingwegraping. Dit is waar dat verskeie basuine van God se oordele tydens die daaropvolgende verdrukking geblaas sal word, maar dit het niks met die oesfees en die opstanding van die regverdiges te doen nie.

Die laaste basuin wat genoem word in verband met die opstanding van die gelowiges, verwys na die laaste van ’n lang reeks basuine wat elke jaar van 1 Elul af op Israel se godsdienstige kalender tot op die tweede dag van Tisjri geblaas word (gewoonlik Aug./Sept. op die Gregoriaanse kalender). Hierdie basuine kondig die einde van die oesseisoen aan en is in die besonder ook ’n oproep tot bekering. Die laaste basuin in hierdie reeks blaas op die tweede dag van Tisjri teen sononder wanneer die dag amper verby is. Dit is terselfdertyd ook Israel se Nuwejaarsfees (Rosh Hashanah) op hulle siviele kalender. Rosh Hashanah se Bybelse naam is Yom Teruah, wat beteken “Dag van die ramshoring se geklank” of “Die blaas van die opwekking”.

Kort nadat die laaste basuin op 2 Tisjri geblaas is, begin die sewe dae wat bekend is as die “sewe verskriklike dae” wat van 3 tot 9 Tisjri verloop. Hierdie sewe dae verwys profeties na die jaarweek van die verdrukking onder die valse messias. Op die tiende dag van Tisjri word die Groot Versoendag gevier.

In die lig van hierdie opeenvolging van gebeure, moet daar twee fases onderskei word in die koms van Christus – sy koms vir sy heiliges wanneer die basuin voor die sewe verskriklike dae sal blaas, en sy koms met sy heiliges op die Groot Versoendag. Hierdie twee fases in die koms van Christus verskil in die volgende opsigte van mekaar:

Sy koms voor die verdrukking

Sy koms na die verdrukking

Hy kom as die hemelse Bruidegom

Hy kom as die Koning van konings

Hy kom in die geheim tydens die wegraping

Hy kom in die openbaar sodat alle mense Hom kan sien

Hy kom vir sy heiliges

Hy kom met sy heiliges

Hy ontmoet die heiliges in die lug

Hy sit sy voete op die Olyfberg

Hy beloon sy heiliges

Hy oordeel en regeer die wêreld

Hy word slegs deur sy heiliges gesien

Elke oog sal Hom sien

Hy keer na die hemel terug nadat Hy sy bruid versamel het

Hy bly op aarde om as Koning van die konings uit Jerusalem te regeer

In die lig van die groot betekenis van die Fees van Basuine in die opstanding en verheerliking van die kerk van Christus van alle tye (insluitend Ou-Testamentiese heiliges wat op die Messias gewag het), moet ons die belofte van die eerste opstanding ten volle aanvaar. Hierdie verborgenheid is op ’n baie duidelik manier in die Nuwe Testament aan ons geopenbaar, en bevestig verskeie profetiese aanduidings wat in die Ou Testament gegee is oor ’n eindtydse oes van regverdige mense wat in die hemel versamel sal word.

 

8. Verborgenheid van die ongeregtigheid

In die Nuwe Testament word daar verskeie verborgenhede oor die alternatiewe koninkryk van die duisternis geopenbaar. Dit beklemtoon die noodsaaklikheid daarvan om die volle wapenrusting van God aan te trek sodat ons staande kan bly teen die liste van die duiwel (Ef. 6:11). Satan werk steeds vanuit ’n verborge, mistiese sfeer, maar die Here wil hê dat ons sy werking van misleiding en versoeking sal raaksien en suksesvol teëstaan.

Aan die einde van die kerkbedeling sal die renegaatkoninkryk van die duiwel al hoe meer geopenbaar word, en verteenwoordigers daarvan sal invloedryk raak en prominente posisies op aarde beklee. Wanneer die ware kerk as die teëhouer van die Antichris uit die weg geruim is deur middel van die wegraping, sal die hierdie bedrieër as ’n duiwelsgeïnspireerde wêreldleier skielik sy verskyning maak. Hy sal verskeie medewerkers hê om sy bose planne te help uitvoer – veral die valse profeet en ’n alliansie van valse wêreldgodsdienste.

Mense wat nie van die openbaring van hierdie verborgenhede kennis geneem het nie, ontken gewoonlik heftig dat daar ’n persoonlike Antichris en valse profeet sal wees wat vir sewe jaar lank beheer oor die wêreld sal voer. Die gevolg van hierdie onkunde is dat hulle geen gevaar in die ekumeniese beweging sien nie en maklik by intergeloofsbewegings betrokke raak. Hoe dieper hulle by hierdie denkrigting ingetrek word, hoe meer ontken hulle selfs die bestaan van die duiwel en sy koninkryk – ook van die hel. Die Here Jesus wil egter voorkom dat ons die slagoffers van misleiding word, daarom sê Hy: “Pas op dat niemand julle mislei nie” (Matt. 24:4).

Die koninkryk van die duisternis was deur die eeue heen werksaam om God en sy koninkryk teë te staan. Dit is altyd op ’n onregstreekse wyse gedoen deur van misleide mense gebruik te maak om allerlei soorte leuens te versprei. Ware gelowiges het hierdie misleiding raakgesien vir wat dit was, die bevorderaars daarvan as valse profete ontmasker en hulle leerstellings sterk teëgestaan. As gevolg hiervan kon die koninkryk van die duisternis nooit onbetwiste alleenbeheer in die wêreld verkry nie, en was daar ’n voortgesette stryd tussen lig en duisternis.

Paulus verwys na hierdie uitgerekte stryd, asook die dramatiese gevolge wat sal intree wanneer die getuies van die lig vir ’n kort tyd van die aarde af weggeneem sal word: “En nou, julle weet wat hom [die Antichris] teëhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word. Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen“ (2 Thess. 2:6-9).

Alle vorms van geestelike misleiding in die menslike geskiedenis kan as goddeloosheid of antichristelike leuens beskryf word. Mense wat hierdie verkeerde opvattings baie sterk bevorder, word as valse profete of valse leraars bestempel (vgl. 2 Pet. 2:1), en in uiterste gevalle selfs as antichriste in die kleine. As sodanig is hulle voorlopers vir die eindtydse Antichris wat die wêreld in totale geestelike duisternis sal dompel: “Kinders, dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste, waaruit ons weet dat dit die laaste uur is. ... Wie is die leuenaar, behalwe hy wat ontken dat Jesus die Christus is? Dit is die Antichris wat die Vader en die Seun loën” (1 Joh. 2:18, 22).

Almal wat die Godheid en Messiasskap van Jesus ontken, is medewerkers van die groot Leuenaar en derhalwe wegbereiders vir die Antichris. Die teëhouer teen al die antichristelike leuens is die ware kerk as die tempel van die Heilige Gees (1 Joh. 4:1-6). Omdat Jesus Christus deur die Heilige Gees in hierdie mense se harte leef, is hulle die sout van die aarde en die lig van die wêreld. Valse kerke wat hulleself aan geestelike misleiding blootgestel het, dryf al hoe verder van die ware Christus af weg en word mettertyd medewerkers van ’n ander Jesus en ’n ander gees, naamlik die Antichris en sy gees van dwaling (2 Kor. 11:3-4). Hulle het net ’n gedaante van godsaligheid en het die krag daarvan (die Heilige Gees) verloën (2 Tim. 3:5).

 

9. Die verborgenheid van die ontugtige vrou

In Openbaring 17 en 18 onderskeidelik, praat Johannes van twee Babilons wat in die eindtyd na prominensie sal verrys. Die een is verborge Babilon wat ’n geestelike tuiste vir valse godsdienste is, en die ander een ’n handelstad waar sonde en ongeregtigheid hoogty sal vier. Omdat Babilon die versinnebeelding en oorsprong van die wêreld se heidense godsdienste is, word die eindtydse, valse alliansie van wêreldgodsdienste op ’n gepaste wyse as “Verborge Babilon” beskryf. Sy word as ’n vrou voorgestel wat op die Antichris se rug ry, en dus deur hom erken, ondersteun en gebruik sal word. In Openbaring 17 sê die engel aan Johannes:

“Kom hierheen, ek sal jou toon die oordeel van die groot hoer wat op die baie waters sit, met wie die konings van die aarde gehoereer het, en die bewoners van die aarde het dronk geword van die wyn van haar hoerery. En hy het my in die gees weggevoer na ’n woestyn, en ek het ’n vrou sien sit op ’n skarlakenrooi dier, vol godslasterlike name, met sewe koppe en tien horings. En die vrou was bekleed met purper en skarlaken en versierd met goud en kosbare stene en pêrels, en sy het in haar hand ’n goue beker gehad, vol van gruwels en die onreinheid van haar hoerery; en op haar voorhoof was ’n naam geskrywe: Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde. En ek het die vrou gesien, dronk van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus, en ek het my uitermate verwonder toe ek haar sien. Toe sê die engel vir my: Waarom het jy jou verwonder? Ek sal jou die verborgenheid van die vrou vertel en van die dier met die sewe koppe en die tien horings, wat haar dra. ... Die sewe koppe [van die dier] is sewe berge waar die vrou op sit. En hulle is sewe konings: vyf het geval en een is; die ander een het nog nie gekom nie, en wanneer hy kom, moet hy ’n kort tydjie bly. … En die tien horings wat jy op die dier gesien het, hulle sal die hoer haat en haar verlate maak en naak, en haar vlees eet en haar met vuur verbrand. … En die vrou wat jy gesien het, is die groot stad wat heerskappy voer oor die konings van die aarde” (Op. 17:1-7, 9-10, 16, 18).

Die dier met die sewe koppe en tien horings word in Openbaring 13 in meer besonderhede beskryf. Dit verwys na die Antichris wat die eindtydse heerser van ’n sewende, goddelose wêreldregering sal wees. Vyf van hierdie wêreldryke het in die tyd van Johannes al geval, naamlik die Babiloniese Ryk van Nimrod, die Assiriese Ryk, die herstelde Babiloniese Ryk van Nebukadnésar, die Medo-Persiese Ryk en die Griekse Ryk. Die sesde een, die Romeinse Ryk, was aan bewind, terwyl die sewende en laaste wêreldryk, dié van die Antichris, nog toekomstig was.

Die vrou sit op al sewe hierdie ryke en voer geestelike heerskappy oor hulle. Die sewe berge, of koninkryke, waarop sy sit moet dus nie tot die sewe berge van Rome beperk word en die vrou tot die kerk van Rome nie. Sy is ’n versinnebeelding van al die valse godsdienste van alle tye. In elk geval was daar meer as sewe bose Romeinse keisers wat die Christene vervolg het, want van Nero af tot by Diokletianus alleen was daar tien.

Die vrou voer heerskappy oor al die konings van die aarde en mislei hulle volgelinge om nie die ware God te aanbid nie. Sy stel die geestelike mag van leuens en misleiding voor wat Satan op aarde verkry het. Dit is in hierdie sin dat die hele wêreld, uitgesonderd die klein minderheid ware Christene, volgens 1 Johannes 5:19 in die mag van die Bose lê.

Dit is van die uiterste belang om die rol van valse godsdienste in die eindtyd in oënskou te neem omdat hulle amptelike erkenning in die ryk van die Antichris sal kry en met groot krag beklee sal word. Hulle sal ook as ’n ekumeniese liggaam aan mekaar verbind word, stelselmatig nader aan mekaar beweeg, en uiteindelik die Antichris as hulle gemeenskaplike wêreldmessias aanvaar. Vir die misleide Christene sal hy die Christus wees, vir die Jode die Messias, vir die Moslems die Imam Mahdi, vir die Hindoes Krisjna en vir die Boeddhiste die Maitreya Boeddha.

Ná die openbaring van die Antichris sal die hele wêreld, met die uitsondering van die 144 000 Joodse evangeliste en die ware Christene van daardie tyd, godsdienstig verenig wees. Saam sal hulle ’n bloedige vervolging teen die Christene instel wat sal weier om die dier te aanbid en na te volg. Die bloed van die getuies van Jesus sal aan die hande van hierdie vrou wees, wat die moeder van die afvalliges is. Hierdie vrou gaan dus nie wesenlik iets nuuts doen nie, maar die eeue oue vervolging van God se kinders op aarde op ’n baie intensiewe skaal voortsit.

Daar is verskeie ekumeniese liggame in die groeiende intergeloofsbeweging, onder andere die Parlement vir Wêreldgodsdienste en die VN se Verenigde Godsdienste Inisiatief. Hulle doel is om godsdiensgelykheid na te streef onder die voorwendsel dat alle gelowe dieselfde God aanbid. Wanneer dié idee goed gevestig is, sal die volgelinge van alle gelowe genoegsaam mislei wees om dieselfde wêreldmessias te aanvaar en te aanbid. Die klimaat sal dan gunstig wees vir die verskyning van die universele messias en die valse profeet van alle gelowe.

Dit is uit Openbaring 17 duidelik dat die ontugtige vrou wat die valse wêreldgodsdienste voorstel, nie in isolasie gaan funksioneer nie maar in ’n noue verband met die Antichris se politieke stelsel vir ’n wêreldregering sal optree. Sy sal ’n duidelike politieke agenda hê om haar volgelinge die Antichris se wêreldregering te laat aanvaar, tesame met sy nommer, asook ’n godsdienstige agenda om haar volgelinge geestelik te mislei om die Antichris as wêreldmessias te erken en te aanbid.

Die Antichris se huwelik met die alliansie van valse wêreldgodsdienste geskied in nabootsing van die verhouding tussen Jesus Christus en sy bruidsgemeente. Godsdienstige Babilon, die bruid van die Antichris, gaan egter nie ’n lang en gelukkige huwelik hê nie. Sy sal net vir 3½ jaar op die dier se rug ry, en groot voorregte en aansien in sy koninkryk geniet voordat sy afgegooi en doodgemaak sal word. Johannes beskryf haar teregstelling só: “En die tien horings wat jy op die dier gesien het, hulle sal die hoer haat en haar verlate maak en naak, en haar vlees eet en haar met vuur verbrand” (Op. 17:16).

Wanneer die Antichris homself in die middel van die verdrukking tot God verklaar, sal hy nie meer as universele messias vir ’n alliansie van wêreldgodsdienste beskikbaar wees nie. Alle gelowe sal dan verbied en hulle aanbiddingsplekke verwoes of vir iets anders gebruik word. Die enigste opsie wat daar dan aan al die misleide aanhangers van die valse gelowe gebied sal word, sal wees om die dier as god te aanbid (2 Thess. 2:4) en voor sy beeld neer te buig. Diegene wat weier om dit te doen, sal volgens Openbaring 13:15 tereggestel word.

Godsdienstige Babilon, die ontugtige vrou, sal dus in die middel van die verdrukking tereggestel en haar plekke van aanbidding óf gesluit óf verwoes óf vir ander doeleindes aangewend word. Dit geld natuurlik ook die Joodse geloof. Daniël sê: “…en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ’n verwoester wees” (Dan. 9:27).

Die bruid van die Antichris sal net 3½ jaar met haar bruidegom [die valse Christus] getroud wees wanneer sy rol as misleidende engel van die lig uitgedien sal wees. Hy sal dan in sy ware karakter as ’n wreedaard, mensemoordenaar en selfverklaarde god geopenbaar word. Sy sal dan voor ’n skrikwekkende keuse gestel word om óf die dier as god te aanbid en te vereer óf in die openbaar tereggestel te word. Die meeste misleides sal die weg van godsdienstige slawerny verkies en die knie voor die eindtydse Baäl as die god van hierdie wêreld buig.

Die Antichris se bruid kan dus reg uit die staanspoor ’n min dae-kalender hou waarop die dae van haar kortstondige glorie afgemerk word – 1260 dae van haar huweliksdag af tot by haar vernedering tot slawerny, of haar openbare teregstelling. Wat ’n duur prys is dit nie om guns in die dier se oë te vind!

Die moederorganisasie vir die geestelik afvalliges van die wêreld is reeds besig om gestalte aan te neem. Uit die oogpunt van die tradisioneel Christelike wêreld verloop hierdie proses deur die volgende sewe fases:

1.   Eenheid in die Christelike wêreld, ook tussen Protestante en Katolieke;

2.   godsdiensgelykheid tussen alle gelowe in lande se grondwette, staatstrukture en onderwysstelsels;

3.   die vorming van intergeloofsalliansies ter wille van samewerking oor sake van gemeenskaplike belang;

4.   die propagering van die idee van die universele God wat deur alle gelowe aanbid word;

5.   klimaatskepping vir die koms van die universele messias van alle gelowe;

6.   die verskyning van die wêreldmessias en sy gesamentlike aanbidding deur alle gelowe; en

7.   die verpligte aanbidding van die Antichris as God, 3½ jaar ná sy verskyning.

Wanneer fase 6 bereik is, sal die hoer die toppunt van haar populariteit en openbare steun geniet terwyl sy op die dier se rug ry. In fase 7 vind haar skielike val en vernietiging plaas.

Ons moet daarop bedag wees dat die groot stryd tussen God en Satan in prehistoriese tye begin het toe Lucifer homself met God probeer gelykstel het. Dit het tot sy val aanleiding gegee, en sedertdien tot die eeue-oue stryd tussen die koninkryke van die lig en die duisternis. Satan het beslis nie sy pogings laat vaar om in die plek van God as die Heerser van die heelal aanbid te word nie. Al die godsdienstige bedrog en misleiding in die wêreld word deur die gees van die dwaling aangeblaas, en is op die einddoel van die aanbidding van Lucifer en die Antichris ingestel (Op. 13:4). Ons beleef nou die laaste groot aanslag uit die ryk van die duisternis met die oog op die onbetwiste vestiging van die duiwel en sy “christus” as wêreldleiers. Wanneer die teëhouer [die kerk van Christus] uit die weg geruim is, sal die planne vir ’n antichristelike oorname vinnig en doelgerig geïmplementeer word.

 

10. Die verborgenheid van die dier met die sewe koppe

Johannes verklaar nie net die verborgenheid van die alliansie van valse wêreldgodsdienste wat deur ’n ontugtige vrou voorgestel word nie, maar ook dié van haar demoniese leier. Die engel het aan hom gesê: “Ek sal jou die verborgenheid van die vrou vertel en van die dier met die sewe koppe en die tien horings, wat haar dra” (Op. 17:7).

Volgens Openbaring 13 en 17 sal die Antichris kenmerke van al die antieke wêreldryke hê. In Openbaring 13:1-2 gebruik Johannes dieselfde simbole vir die ou wêreldryke as wat in Daniël 7:4-6 gebruik word. Die Antichris word voorgestel as ’n saamgestelde dier met die bek van ’n leeu (Babilonies), die pote van ’n beer (Medo-Persies), die lyf van ’n luiperd (Grieks), en ’n kop met tien horings (Romeins). Soos in die Babiloniese Ryk sal hy ’n afgodsbeeld laat maak en alle onderdane van sy ryk dwing om voor die beeld neer te buig en dit te aanbid. Soos in die Medo-Persiese Ryk sal hy ’n Joodse volksmoord gelas wanneer Israel in onguns by hom raak, en hy sal deur middel van die onveranderlike wette van die Meders en Perse regeer, m.a.w. deur militêre dekrete. Soos in die Griekse Ryk van Alexander die Grote sal hy ’n snelontplooiingsmag op die been bring wat oral op kort kennisgewing sal kan toeslaan om sy gesag te handhaaf. Soos in die Romeinse Ryk sal immoraliteit, korrupsie en uiterste geweld hoogty vier, asook die summiere openbare teregstelling van alle teëstanders van sy ryk.

In Bybelse profesieë is daar egter twee verskillende beelde wat van die Antichris voorgehou word – dié van vredevors en militêre tiran. Hy sal aanvanklik as ’n ruiter op ’n wit perd op die toneel verskyn (Op. 6:2), en alle nasies sal hom aanhang, ’n verbond met hom sluit (Dan. 9:27), en hom selfs ook as verlosser en wêreldmessias aanbid (Joh. 5:43; Op. 13:8). Diegene wat nie die verborgenheid van die dier met die sewe koppe en tien horings ken nie, sal nie in staat wees om die Antichris direk na sy verskyning te eien vir wie hy werklik is nie, en gevolglik maklik deur hom mislei word.

Die tien horings op sy kop dui op tien eindtydse wêreldleiers wat saam met hom sal regeer: “En die tien horings wat jy gesien het, is tien konings wat nog geen koningskap ontvang het nie, maar hulle ontvang mag soos konings een uur lank saam met die dier” (Op. 17:12). Hulle sal volledig onder sy mag wees en geheel en al deur hom gemanipuleer word: “Hulle het een gesindheid en sal hulle krag en mag oorgee aan die dier” (Op. 17:13). Hulle sal ook saam met die Antichris die alliansie van valse godsdienste afskaf en vernietig nadat dit sy doel gedien het (Op. 17:16).

Wanneer die ware Christus kom sal die Antichris, die valse profeet en hulle wêreldwye gevolg oorwin en vernietig word (Op. 19:19-21). Maak seker dat jy nie onder sy volgelinge tel nie. Dit kan jy alleen doen indien jy ’n verhouding met die ware Christus het en ook ten volle ingelig is oor al die verborgenhede wat Hy in sy Woord aan ons openbaar. Veral in hierdie tyd, so kort voor die wederkoms van Christus, is dit van besondere belang dat ons nie dalk ’n “ander Jesus” navolg en verkondig wat nie in die Bybel aan ons voorgehou word nie (vgl. 2 Kor. 11:2-4; Gal. 1:6-8). Enige verdraaiing of vervalsing van die waarheid geskied onder inspirasie van die gees van dwaling, en is uiteindelik op die aanvaarding van ’n valse messias gerig (vgl. Joh. 5:43).

 

Slot: Die belangrikheid van dieper insig

Die openbaring van verborgenhede in die Nuwe Testament is van groot belang om aan ons insig te gee in die verdere ontplooiing van God se raadsplan vir die redding en heiliging van mense, ons vertroud te maak met voorheen onbekende aspekte van die geestelike stryd waarby ons betrokke is, en ons sodoende toe te rus vir dit wat in die toekoms op ons wag. Die tien verborgenhede wat die Here in sy Woord bekend maak, vorm deel van ’n omvattende reeks openbarings in die Nuwe Testament. Slegs gelowiges wat ten volle daarvan kennis neem en in die lig daarvan wandel, is werklik in staat om op die smal pad te volhard en te voorkom dat hulle weens onkunde die slagoffers van misleiding word. Hulle het die regte ingesteldheid om as oorwinnaars uit die stryd te tree, geestelik gereed te wees wanneer die hemelse Bruidegom kom, en met vrymoedigheid rekenskap van hulle lewens voor Christus se regterstoel te kan gee. Die Here Jesus rus ons toe met meer kennis en genade (Joh. 1:14) sodat ons in alle opsigte aan die eise van ware dissipelskap sal kan voldoen.

Die geestelike voordele wat die bestudering van die tien verborgenhede aan ons bied, kan só opgesom word:

’n Voorbeeldige lid van God se koninkryk. Volle insae in die geestelike vereistes, aard en doelstellings van God se koninkryk sal verseker dat ons waardige lede daarvan is, suksesvol weerstand sal bied teen alles wat in stryd daarmee is, die eskatologiese vervulling daarvan ten volle sal begryp, nie na ’n fisiese koninkryk sal soek voordat die Koning kom nie, en ook Israel se rol in die verdere openbaring van hierdie koninkryk reg sal verstaan en bevorder.

Israel se tydelike verharding en eindtydse redding as volk. Die Here het Israel se verwerping van die Messias gebruik as ’n geleentheid om die evangelie aan alle nasies te bied, sodat hulle ook deel van sy koninkryk kon verkry. Israel se geestelike verharding is egter net tydelik “totdat die volheid van die heidene ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word” (Rom. 11:25-26). Ons is dank aan Israel verskuldig omdat die Woord van God deur hulle na ons toe gekom het, en as ons enigsins kennis geneem het van God se plan vir hulle, sal ons ons in Israel se fisiese herstel aan die einde van die kerkbedeling verbly en ook met ’n vaste vertroue na hulle geestelike lewendmaking as volk uitsien.

Die verborgenheid van die evangelie. Voor die koms van Christus was die detail van die finale verlossingsplan deur die soendood van God se Seun nie bekend nie. Die openbaring van hierdie verborgenheid het ’n nuwe dispensasie in die redding van ’n verlore mensdom ingelui, en gevolglik die voorafgaande bedeling van die wet my sy onvolmaakte offers en ander skaduagtige gebruike afgesluit (Heb. 10:1-10). Diegene vir wie die evangelie van Jesus Christus steeds ’n verborgenheid is, is daartoe geneig om hulle heil in die wet en ander godsdienstige rituele te soek – en dit tot hulle groot nadeel en geestelike verarming (Gal. 5:4).

Die verborgenheid van die liggaam van Christus. Israel se roeping en afsondering as God se volk op aarde het in Nuwe-Testamentiese tye plek gemaak vir ’n totaal ander groep gelowiges wat beskryf word as die “gemeente van Christus” (Ef. 5:23; Kol. 1:24), die “geheiligdes in Christus” (1 Kor. 1:2) of die “liggaam van Christus” (Rom. 12:5; 1 Kor. 12:27). Hierdie liggaam bestaan uit lede wat almal deur die Heilige Gees gewederbaar is en dus vir God as hulle gemeenskaplike Vader aanbid. Hulle behoort aan Christus en is sy getuies op aarde. Sommige van hulle is ook lede van menslik ingestelde denominasies, maar nie alle lede van kerke is noodwendig weergebore en dus lede van die liggaam van Christus nie.

Die verborgenheid van die geloof. ’n Ware geloof is die vrug van die Heilige Gees. Dit behels die aanvaarding van Jesus Christus as Verlosser op ’n geestelike vlak in jou hart. Dit gee ’n veel meer konkrete inhoud aan geloof as wat in Ou-Testamentiese tye moontlik was. Hierdie nuwe en Godgegewe vorm van geloof moet duidelik onderskei word van ander vorms van geloof wat die produk is van misleiding (deur bv. in ’n afgod te “glo”) of die gevolg van menslike rasionalisering (verstandelike aannames sonder enige geestelike substansie wat na ’n hartsverandering kan lei). Almal wat nie deur die Heilige Gees in Christus as Verlosser glo nie, is uit ’n Bybelse oogpunt ongelowiges (2 Kor. 4:4). Het jy al die verborgenheid van ’n ware geloof ontdek? ’n Voorheen “gelowige” Paulus het dit ontdek en verbly hom daarin (Fil. 3:8-9).

Die verborgenheid van God se wil. Die gevalle mensdom is onbekend met God se wil. Deur sy Woord en Gees maak God egter verborge aspekte van sy wil aan ons bekend. Eerstens is dit sy wil dat alle mens op aarde gered moet word – beslis nie net lede van die Uitverkore Volk, of ’n vooraf uitverkore groep heidene nie (Hand. 17:30; 1 Tim. 2:3-4; 2 Pet. 3:9). Daar is ook verdere aspekte van sy wil, naamlik dat alle gelowiges heilig sal lewe (1 Thess. 4:3; 1 Pet. 1:15-16). Net mense wat God se wil doen t.o.v. wedergeboorte en heiligmaking sal eendag sy aangesig in sy geopenbaarde koninkryk sien (Matt. 7:21; Heb. 12:14).

Die verborgenheid van die eerste opstanding. Eers nadat Jesus Christus die losprys vir die wêreld se sonde betaal en ook die dood oorwin het deur uit die graf op te staan, kon die belofte van ’n spesiale opstanding net vir regverdiges gemaak word. Alle gelowiges word deelgenote van sy opstanding uit die dood (1 Kor. 15:17-23). As ons saam met Christus sterf vir die wêreld en vir sonde, sal ons ook saam met Hom lewe en in die seën van die eerste opstanding deel. Saam met hierdie belofte word die wonderlike versekering van die wegvoering voor die verdrukking ook aan gelowiges gegee (1 Thess. 4:13-18; Luk. 21:36). Diegene wat nie hierdie beloftes glo nie, verkeer nog in die duister oor die openbaring van verborgenhede in die Nuwe Testament, en veral ook dit wat die toekoms vir ons inhou: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van die mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet. Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God” (1 Kor. 2:9-10).

Die verborgenheid van die ongeregtigheid. Die Here maak aan ons bekend dat daar deur die eeue heen ’n geestelike stryd tussen God se koninkryk en Satan se koninkryk was. Die gees van dwaling wat daarop uit is om God en sy Woord te bevraagteken en te opponeer, word die verborgenheid van die ongeregtigheid genoem (2 Thess. 2:7). Hierdie gees kom uit ’n bose koninkryk wat tans nog verborge is, maar in die eindtyd sigbaar geopenbaar sal word wanneer die Antichris op die toneel verskyn (2 Thess. 2:8). Mense wat nie die bestaan van ’n koninkryk onder die beheer van Satan erken nie, het nie ’n behoefte aan redding uit hierdie bose koninkryk nie, en dus ook nie aan ’n geestelike wapenrusting vir beskerming in die stryd teen die bose geeste in die lug nie. Hulle verwag ook nie die verskyning van ’n persoonlike Antichris wat met sy talle handlangers beheer oor die wêreld sal uitoefen nadat sy teëhouer (die ware kerk as ’n tempel van die Heilige Gees) uit die weg geruim is nie.

Die verborgenheid van die ontugtige vrou. Een van die eindtydse instellings wat die finale voorbereidingswerk vir die verskyning van die Antichris sal doen, is ’n alliansie van valse wêreldgodsdienste. Wanneer die Antichris skielik op die toneel verskyn, sal hierdie ekumeniese liggaam van gelowiges as sy “bruid” op sy rug ry, volle erkenning in sy ryk geniet, en deur hom gebruik word om evangeliese Christene wat hom nie as wêreldmessias erken nie, te vervolg en tereg te stel (Op. 17:1-7). Gelowiges wat nie van hierdie belangrike feit bewus is nie, raak dikwels met humanistiese motiewe by intergeloofsekumene betrokke en word sodoende onbewus wegbereiders vir die Antichris.

Die verborgenheid van die dier met die sewe koppe. Die laaste verborgenheid het betrekking op die Antichris self, wat as ’n persoonlike wêreldleier op die toneel sal verskyn. Hy sal beheer verkry oor alle nasies op aarde (Op. 13:7) en hulle ook dwing om hom as hulle Verlosser en God te aanbid (Op. 13:8, 15; 2 Thess. 2:4). Sy openbaring en die instelling van sy sewe jaar-lange regering sal die eindtydse uitvloeisel wees van ’n geestelike oorlog wat eeue lank vanuit ’n mistiese, geestelike sfeer gevoer is. Hy sal deur Satan bemagtig word (Op. 13:2), as medewerker sal hy die valse profeet hê (Op. 13:11-14), en as sy “bruid” die alliansie van valse wêreldgodsdienste (Op. 17:3). Sy laaste groot oorlog sal teen die ware Christus wees, maar dit sal tot die totale verdelging van sataniese magte op aarde lei (Op. 19:19-21).

Ons is bevoorreg om al hierdie profetiese kennis van huidige én toekomstige wêreldgebeure te hê. Die openbaring van dinge wat baie lank verborge gehou is, lig nie net belangrike aspekte van die geestelik stryd vir ons toe nie, maar vestig ook ons aandag op die reddende genade van Here, sodat ons ten volle kan begryp wat die hoogte, diepte, breedte en lengte van sy liefde vir ons is. Laat ons nie onder diegene wees wat tydens Christus se eerste koms al weens hulle onkunde en ongeloof verkwalik is nie: “Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie” (Matt. 22:29). Onkundige vormgodsdienstiges is nie in die regte verhouding met Christus as Verlosser nie. Hulle het ook nie ’n Bybelse toekomsverwagting nie omdat die profetiese woord steeds vir hulle verborge is. Laat ons in die volle lig van God se Woord wandel!