4. Onderskeid tussen Israel en die Kerk

Vir die regte verstaan van die Bybel, en veral ook van Bybelse profesieë, is dit van die grootste belang dat ons ten alle tye duidelik tussen Israel en die kerk kan onderskei. Hierdie kennis sal ons help om die verskillende benaderings in Evangelies soos Mattheus en Lukas te kan verstaan, en ons daarvan vrywaar om bv. die kerk se toekoms uit Mattheus se weergawe van die profetiese rede te probeer aflei. In die lig van hierdie onderskeid sal ons geen probleem ondervind om verwysings na Israel, die kerk en die nasies in die gebeurtenisse wat in Openbaring beskryf word, te kan sien en reg te vertolk nie. Die feit dat geredde Jode tydens die kerkdispensasie deel van die gemeente van Christus word, verander geensins aan die feit dat daar profetiese beloftes aan hierdie volk gemaak is wat nét aan hulle vervul kan word nie. Dit sluit onder andere hulle fisiese, staatkundige en geestelike herstel in die land Israel in, wat die Here met ‘n eed aan hulle vaders, Abraham, Isak en Jakob, beloof het (Gen. 13:14-15; 26:3; 28:13).

Die dispensasie van Israel

Israel se heilsgeskiedenis het vierduisend jaar gelede by die roeping van Abraham begin. Hy was die eerste Hebreër (Gen. 14:13), daarom word sy nakomelinge deur Isak en Jakob Hebreërs genoem (Ex. 2:11) wat die Hebreeuse taal praat (Hand. 22:2). ‘n “Hebreër” beteken “Iemand wat oorgekom het.” Dit verwys na die feit dat die Hebreërs uit die heidendom na God se koninkryk oorgekom het. Abraham het ná sy roeping oor die Eufraatrivier getrek na ‘n land wat die Here aan Hom en sy nageslag gegee het.

Later, toe Jakob se naam na “Israel” verander is (Gen. 35:10), het sy nakomelinge in die twaalf stamme ook as “Israeliete” (“Stryders vir God”) bekend gestaan (Gen. 49:28). Dieselfde volk het verskeie eeue later ‘n derde naam bygekry, naamlik “Jode.” Een van die twaalf stamme van Israel, nl. Juda, het die koninklike stam geword. Nadat die Here Saul verwerp het, het Hy Dawid as koning verkies. Dawid was ‘n lid van die stam van Juda en uit sy nageslag is die Messias, Jesus, gebore. Ná die dood van Salomo is Israel in twee koninkryke verdeel, naamlik die suidelike tweestammeryk van Juda (die stamme van Juda en Benjamin) en die noordelike tienstammeryk van Israel. Mettertyd is daar na lede van die suidelike koninkryk as “Jode” verwys (2 Kon. 16:6).

Die verdeling van Israel in twee koninkryke is egter deur die Assiriese ballingskap van Israel en die Babiloniese ballingskap van Juda beëindig. In die ballingskap het die lede van al twaalf die stamme weer vermeng geraak en is as ‘n verenigde volk wat uit twaalf stamme bestaan, in hulle land herstel. Van toe af is die hele volk sowel “Jode” as “Israeliete” genoem, tot vandag toe (vgl. Esra 6:8,16-17,21; Neh. 1:6; 4:1; Joh. 3:1,10). In die Nuwe Testament word die vroeëre verdeling tussen die twee en die tien stamme hoegenaamd nie as ‘n bestaande werklikheid erken nie. Daar word 174 keer na dieselfde volk as “Jode” en 70 keer as “Israeliete” verwys. Beide name verwys na die verenigde volk van Israel met sy twaalf stamme. Paulus staan tereg oor die hoop wat die twaalf stamme op die koms van die Messias het (Hand. 26:6-7). Petrus spreek die inwoners van Jerusalem as Jode én as Israeliete aan (Hand. 2:14,22,36). Jakobus (1:1) rig sy brief aan die twaalf stamme wat in die verstrooiing is. Hierdie volk het dus drie name, te wete Hebreërs, Israeliete en Jode. Paulus sê: “Ek is ‘n Jood (Hand. 22:3)... Ek is ook ‘n Israeliet uit die nageslag van Abraham (Rom. 11:1)... ‘n Hebreër uit die Hebreërs” (Fil. 3:5).

Nie een van hierdie name is op die Nuwe Testamentiese kerk oordraagbaar nie, daarom kan ons nie eers in ‘n geestelike sin onsself “Israel” noem nie. Die “ware Israel” of die “geestelike Israel” dui op die geredde Israeliete wie se harte ook besny is. Net hulle is in die ware, geestelike sin van die woord “Israeliete” of “Jode” wat kwalifiseer om as lede van God se volk beskryf te kan word. Die Here het geen behae in die ongeredde lede van dié volk nie, daarom rus sy oordele oor hulle (1 Kor. 10:5). Om dié rede sê Paulus: “Want hulle is nie almal Israel wat uit Israel is nie” (Rom. 9:6). Hoe word hierdie onderskeid getref? Geestelik: “Want nie hy is ‘n Jood wat dit in die openbaar is nie, en nie dit is besnydenis wat in die openbaar in die vlees is nie; maar hy is ‘n Jood wat dit in die verborgene is, en besnydenis dié van die hart, in die gees, nie na die letter nie. Sy lof is nie uit mense nie, maar uit God” (Rom. 2:28-29).

Daar is in Israel, soos in alle ander volke, net ‘n klein minderheid ware kinders van God wat op die smal weg is, terwyl die meerderheid geestelik dood en kinders van die duiwel is (Joh. 8:39-44). Hierdie meerderheid dra weens hulle afkoms nog steeds hulle volksnaam, maar dit het vir hulle geen geestelike betekenis nie. Uiteindelik sal dit net die gelowige oorblyfsel in Israel wees wat waardig sal wees om die Here se beloftes aan hierdie volk te beërf (vgl. Rom. 9:27). Die beloftes aan Israel is binne die verband van verskeie verbonde tussen die Here en hulle bepaal.

Nooit in die totale geskiedenis van Israel was daar ooit die geringste twyfel oor die geldigheid van die beloftes wat die Here aan die vaders van hierdie volk gemaak het nie. God self is die waarborg van die Abrahamitiese (Gen. 15:18), Kanaänitiese (Num. 33:51–34:15) en Davidiese verbonde (2 Sam. 7:12-16; Ps. 89:3-4,34-37) wat die ewige toesegging van die land Israel, asook die permanensie van die troon van Dawid, verseker. Israel se verstrooiing uit die land as gevolg van ongeloof kan nie hierdie verbonde vernietig nie.

Selfs al is Israel ontrou, bly God getrou en sal hulle na hul land terugbring om ‘n oorblyfsel te red. ‘n Belofte hieroor is lank voor die Babiloniese ballingskap en die internasionale verstrooiing van die volk gemaak: “Maar ook dan, as hulle in die land van hul vyande is, verwerp Ek hulle nie en het Ek van hulle geen afsku, sodat Ek ‘n einde aan hulle sou maak en my verbond met hulle sou verbreek nie; want Ek is die HERE hulle God. Maar Ek sal tot hulle beswil dink aan die verbond van die voorvaders wat Ek uit Egipteland voor die oë van die nasies uitgelei het om vir hulle ‘n God te wees. Ek is die Here” (Lev. 26:44-45).

Die feit dat Israel hulle beloofde Messias verwerp het, het tot ‘n baie groot krisis in hulle volkslewe gelei. Jesus het vir die Jode gesê dat hulle huis (Jerusalem) verwoes sou word omdat hulle Hom as Messias en Koning verwerp het (Matt. 23:37-38), en dat Hy as gevolg daarvan sou weggaan totdat hulle Hom by ‘n toekomstige geleentheid as die beloofde Messias sou aanvaar: “Want Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:39).

Ná die Here Jesus se verwerping deur Israel, asook sy kruisiging en opstanding uit die dode, het Hy aan sy dissipels opdrag gegee om die evangelie aan die ganse mensdom op aarde te verkondig (Mark. 16:15). Dit is die tye van die nasies (m.a.w. nie die tyd van Israel nie) waarin die nie-Joodse volke ‘n kans sou kry om gered te word. Individuele Jode word ook in hierdie tyd gered en word sodoende deel van die kerk, maar Israel sou as volk tydens die hele kerkbedeling in ‘n verworpe toestand bly: “Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:24). Hieruit is dit duidelik dat daar ‘n eindtydse herstelfase vir Jerusalem en sy inwoners sál wees, sodat die laaste jaarweek van hulle heilsgeskiedenis voor die koms van die Messias kan aanbreek. Groot benoudheid sal dan oor die ongeredde volk kom.

Israel se geestelike blindheid bestaan vir die hele duur van die kerkbedeling voort, en hulle sal eers as volk gered word wanneer die Messias weer kom: “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene [letterlik die etniese groepe, of nie-Joodse volke] ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend” (Rom. 11:25-26).

Daar is talle Bybelse profesieë wat op Israel se eindtydse herstel dui (Jes. 11:11-12; Eseg. 36:24-28), asook die feit dat hierdie volk ‘n baie belangrike rolspeler in wêreldgebeure nét voor en ná die koms van die Messias sal wees (Jes. 60:10-15). Die hele oorblyfsel van Israel sal tydens die koms van die Messias gered word en Hom daarna eendragtig en van harte dien (Jer. 31:34). Omdat Israel as ‘n volk bestaande uit sterflike mense in die vrederyk moet voortbestaan, is dit belangrik dat ‘n oorblyfsel van hulle in die komende verdrukking van die vervolging en bloedvergieting deur die valse messias bewaar sal word.

Die kerkdispensasie

Die formele begin van die kerkdispensasie was tydens die uitstorting van die Heilige Gees. Nadat die Here Jesus deur Israel verwerp en oorgelewer is om gekruisig te word, en Hy drie dae ná die kruisiging uit die graf opgestaan het, het die dissipels net voor sy hemelvaart opdrag gekry om die evangelie na alle nasies uit te dra (Matt. 28:19). Hulle is egter beveel om op die uitstorting van die Heilige Gees te wag voordat hulle met hierdie taak begin (Luk. 24:46-49). Hierna het Jode én nie-Jode lede van die liggaam van Christus onder alle nasies geword (Rom. 1:16), naamlik die gemeente, en sal die bedeling van die gemeente van Christus voortduur totdat Hy hulle kom haal (Joh. 14:2-3). Die kerkbedeling verloop dus tussen Pinksterdag en die wegraping.

Die einde van die kerkbedeling word nie deur groot en dramatiese tekens aangekondig nie, want die Here Jesus sê dat sy koms vir sy dissipels soos ‘n dief in die nag sal wees, op ‘n uur wanneer niemand dit verwag nie (Matt. 25:13; Luk. 21:35). In die lig hiervan moet ons waak en bid met die oog daarop om altyd waardige en heilige lewens te kan lei (Mark. 13:33-37; Luk. 21:36; 1 Thess. 3:13; 2 Pet. 3:11). Daar is wél sekere tekens wat aandui dat die geheime koms van die Bruidegom naby is. Die belangrikste hiervan is die bot van die vyeboom, wat op die herstel van die volk Israel in hulle eie land dui (Luk. 21:29-30; die vyeboom is ‘n simbool van Israel – Hos. 9:10). Die volk se herstel val saam met die progressiewe beëindiging van die eeue-oue vertrapping van Jerusalem deur die nie-Joodse nasies (Luk. 21:24). ‘n Ander teken waardeur ons aangespreek word, is die toenemende geestelike verval onder gelowiges in die eindtyd (1 Tim. 4:1; 2 Tim. 3:1-5; 4:3), asook die toenemende morele verdorwenheid in die wêreld, soos in die tyd van Noag en Lot (Luk. 17:26-36). Noag se tydgenote was uitermate boos en het die wêreld vol geweld gemaak (Gen. 6:5,13). In Lot se tyd was aggressiewe homoseksualisme aan die orde van die dag (Gen. 19:4-5). In die eindtyd, wanneer hierdie sondes weer eens hoogty sal vier, sal die Here die onbekeerlike sondaars op die aarde oordeel nadat Hy die gelowiges weggeneem het.

Die dramatiese, apokaliptiese tekens wat in die profetiese rede én in Openbaring beskryf word, kondig die sigbare, openbare koms van Christus aan die einde van die verdrukking aan, wanneer elke oog Hom sal sien. Die ernstige natuurrampe, pessiektes, hongersnode en oorloë sal wél vroeër, aan die einde van die kerkbedeling, begin eskaleer, maar nie naastenby tot op die vlakke waarin dit ná die wegraping tydens die bewind van die Antichris en die uitstorting van God se oordele oor die wêreld sal voorkom nie.

Wanneer die gemeente, wat die tempel van die Heilige Gees is, skielik weggeneem is, sal die lig van die wêreld verdwyn en sal daar groot geestelike duisternis neerdaal. Dan sal die valse messias onverhinderd geopenbaar word en ‘n verbond met Israel en die misleide nasies sluit. Paulus sê: “...net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak” (2 Thess. 2:7-8). Die kerkbedeling word dus deur die wegraping beëindig, en direk daarna deur die openbaring van die valse messias en die aanbreek van sy sewe jaar lange bewind op aarde gevolg. Aan die einde van sy relatief kort skrikbewind sal die ware Messias kom en hierdie misleier deur ‘n woord uit sy mond verdelg (Op. 19:19-21).

Gedurende die verdrukking van sewe jaar sal daar baie mense op aarde gered word, maar dit sal nie deel van die kerkdispensasie wees nie. Hulle sal almal as martelare sterf (Op. 6:9-11), omdat hulle nie die volgende waarborg van die kerkbedeling sal geniet nie: “...op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie” (Matt. 16:18). Wat die komende verdrukking van sewe jaar onder die bewind van die Antichris betref, lees ons egter: “Dit is ook aan hom gegee om oorlog te voer teen die heiliges en hulle te oorwin, en aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie” (Op. 13:7). Die Antichris gaan nie mag oor die ware kerk kry om dit te kan vernietig nie – net oor die geestelik verblinde Israel, die ongeredde nasies en die Christene wat eers ná die kerkbedeling gered word.

Profetiese perspektief in die Evangelies

Die verskille tussen Israel en die kerk blyk baie duidelik uit die besondere perspektiewe van die Evangelies volgens Mattheus en Lukas. Dit is opvallend dat Mattheus ‘n tipies Joodse scenario aan ons voorhou, daarom moet ons nie die fout begaan om die profetiese toekoms van die kerk in dié boek te probeer sien nie. Hierdie Evangelie is hoofsaaklik onder die Jode versprei. Lukas volg ‘n veel breër benadering waaruit die rol van die kerk en die nie-Joodse nasies baie duideliker blyk.

Die Evangelie volgens Mattheus is uit ‘n Joodse oogpunt geskryf, en dit is opvallend dat die eerste plek in die koninkryk van God dikwels aan Jode toegesê word. Uit die eerste sendingopdrag aan die twaalf apostels, wat in daardie stadium net in Judea, Samaria en Galilea gewerk het, blyk hierdie voorkeurposisie duidelik. In die tyd voor die nasionale verwerping van Jesus deur die Jode, is die opdrag aan die dissipels gegee om nie na die Samaritane (heidene) met die evangelie te gaan nie, maar net na “die verlore skape van die huis van Israel” (10:5-6). Die Here Jesus het in noue aansluiting hierby gesê dat Hy as Messias net na die verlore skape van die huis van Israel gestuur is, m.a.w. na die ongeredde Joodse volk (15:24; vgl. ook 19:28).

In Mattheus word ‘n positiewe standpunt ten opsigte van die wet gestel en die toepaslikheid daarvan as goddelike riglyne vir geestelike en morele norme duidelik bevestig (5:18-19). Jesus Christus sê dat Hy nie gekom het om die wet te ontbind nie, maar te vervul (5:17). Die wet is in die Messias se Nuwe Testamentiese wet van liefde teenoor God en liefde teenoor ons naaste vervul (22:36-40). “Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete” (22:40; vgl. ook Rom. 13:8-10).

Die skrywer van hierdie Evangelie is sterk daarop ingestel om die verband tussen die Ou- en Nuwe Testament aan te toon, en veral die wyse te beklemtoon waarop die oue in die nuwe vervul is. Om hierdie rede verwys Mattheus dikwels na die Ou Testament deur onder meer 43 woordelikse aanhalings, benewens nog 22 sinspelings, om sodoende aan die ongelowige en skeptiese volk van Israel konkrete bewyse te lewer dat die lewe en werk van Jesus, die Seun van Dawid en ook van sy hemelse Vader, in die fynste besonderhede die vervulling van Ou Testamentiese profesieë is.

Dit is die rede vir die besondere aanbieding van feite oor die maagdelike geboorte en naamgewing van Jesus, sy tydelike verblyf in Egipte en vestiging daarna in Nasaret, die feit dat Hy siekes gesond gemaak, in gelykenisse gespreek, Jerusalem op ‘n esel binnegery en uiteindelik deur sy dissipels verlaat is, “sodat vervul kon word wat God deur die profete gespreek het” (1:22; 2:15,23; 8:17; 12:17; 13:35; 21:4; 26:54). Ander belangrike besonderhede soos sy geboorte in Betlehem, die ongeloof van die Joodse volk, die aanstoot wat mense aan Hom sou neem en die feit dat Hy vir 30 silwerstukke verkoop sou word, word telkens aan Ou Testamentiese profesieë gekoppel (2:5; 13:14-15; 26:31; 27:9). Hierdie aanhalings van bewysplase uit die Ou Testament is nie naastenby so prominent in die ander Evangelies nie.

As ‘n oorwegend Judaïstiese werk hou Mattheus vir Jesus baie duidelik as Messias van die Jode voor. Sy geslagsregister word aangehaal tot by Abraham wat die eerste Hebreër was, en nie tot by Adam soos wat Lukas dit doen nie. Sterk klem word op sy afkoms van Dawid gelê (1:1,20; 9:27; 12:23; 15:22; 20:30-31; 21:9,15; 22:42-45). Verder dien Jesus se geslagsregister as afdoende bewys daarvan dat Hy op die troon van Dawid aanspraak kan maak (kyk ook 2:2). In elk geval vervul Jesus as gevolg van sy wonderbaarlike verwekking deur die Heilige Gees in die maagd Maria die meer verhewe Ou Testamentiese verwagtings met betrekking tot die Messias, deurdat dit Hom in ‘n baie unieke sin die Seun van sy hemelse Vader maak. Omdat Hy God die Seun is (11:27) kan Hy regmatiglik die titel Emmanuel (God met ons) opeis (1:23; vgl. Jes. 7:14). Hy is die bonatuurlike Seun van die mens wie se koms baie duidelik deur die profeet Daniël voorspel is (Dan. 7:13-14), en wat in die tyd van die einde (Dan. 12:4) op sy heerlike troon sal sit om die nasies te oordeel (16:27; 24:30; 25:31; 26:64 e.v.).

Die Messias se koninkryk is ‘n baie algemene onderwerp in dié Evangelie. God die Vader vertrou die heerskappy oor sy koninkryk aan sy Seun, die Messias, toe wat met sy wederkoms op die troon sal sit (25:34,40). Dit word baie duidelik as ‘n eskatologiese koninkryk beskryf wat in die eindtyd geopenbaar sal word wanneer die Messias met groot krag en heerlikheid op die wolke van die hemel sal kom (24:30).

Ooreenkomstig die algemene benadering in die Evangelie van Mattheus word die profesieë só bespreek dat hulle primêr op die toekoms van die ongeredde Joodse volk betrekking het. Die tydsraamwerk wat vir hierdie profesieë gebruik word, is twee volwasse geslagte: die eerste is die geslag wat op die verwerping van Jesus as Messias gevolg het (23:34-36), en die ander een die geslag wat direk voor sy wederkoms sal verloop (24:32-34).

Die eerste geslag het begin met Jerusalem (die regeringsetel en kern van die Joodse volk) wat vir Jesus as Messias verwerp het, en hierdie geslag het met die vernietiging van Jerusalem geëindig (23:37-38). Profesieë wat in die eerste geslag vervul is, is die vernietiging van Jerusalem en die tempel deur Israel se vyande – tot só ‘n mate dat nie een klip op die ander gebly het wat nie afgebreek is nie (23:37; 24:1-2). Aan die einde van hierdie geslag sou Jerusalem verlate en sy inwoners óf dood óf verstrooid wees (23:38). Hierdie profesieë is letterlik in 70 n.C. met die beleg en inname van Jerusalem deur ‘n Romeinse mag vervul. Dit het byna 40 jaar ná die begin van die kerkbedeling gebeur, en dien as ‘n bewys dat God steeds met Israel as ‘n afsonderlike volk handel – hulle is nie deur die kerk vervang nie. Hoewel geredde Jode in hierdie bedeling lede van die kerk van Christus word (Rom. 1:16), verander dit hoegenaamd nie aan die feit van Israel se unieke profetiese toekoms as volk, in die land wat die Here nét aan hulle gegee het nie.

Die laaste geslag sou met die herstel van die volk Israel, en meer spesifiek die herstel van Jerusalem as hulle hoofstad, begin. Die geestelike en politieke leiers in hierdie stad het Jesus tydens sy eerste koms verwerp, maar hulle opvolgers in dieselfde stad sal Hom tydens sy tweede koms aanvaar. Jerusalem het in 1980 die administratiewe hoofstad van die herstelde Israel geword toe die regeringsetel van Tel Aviv af hierheen verskuif is. Dit lui die laaste volwasse geslag voor die koms van die Messias in. Jerusalem en sy inwoners, verwysend na die leiers van Israel en hulle onmiddellike gevolg, sal in die nabye toekoms weer die geleentheid kry om ‘n besluit oor Jesus se Messiasskap en Koningskap te neem (23:39). Hulle word reeds op hierdie ontmoeting voorberei, want Joodse rabbi’s haal elke jaar tydens die loofhuttefees Psalm 118:26 in ‘n gebed aan, wat verwys na die seëngroet vir die Een wat in die Naam van die Here sal kom, sonder om te besef dat dit in werklikheid op die Here Jesus as Messias betrekking het.

Voor die koms van die Messias wag daar egter ‘n tyd van groot benoudheid vir Israel. Jesus het aan die ongelowige Jode gesê dat hulle voor sy wederkoms deur die groot verdrukking sou gaan (24:21). Hierdie tyd van verdrukking sal deur die opkoms van valse christusse (messiasse) en valse profete gekenmerk word (24:4-5,11,24) wanneer ‘n valse messias na hulle toe sal kom en voorgee dat hy die ware Messias is (24:23-27). Dit sal ook ‘n tyd van oorloë, hongersnode, pessiektes, aardbewings en die hewige vervolging van Israel wees (24:6-7,9).

Mattheus wy ‘n lang gedeelte aan die eindtydse vlug van die Jode uit Judéa na die berge (24:15-22). Hy koppel die vertrekpunt van hierdie gebeurtenis duidelik aan die ontheiliging van die tempel in Jerusalem deur die valse messias: “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom… dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug” (24:15-16). Daniël (9:27; kyk ook 11:31-39) sê dat hierdie gebeurtenis in die middel van ‘n jaarweek (‘n periode van 7 jaar) sal plaasvind. Die valse messias sal dus ‘n sewe jaar lange verbond met Israel sluit, maar in die middel van hierdie tyd sal hy die tempel ontheilig deur homself daarin tot God te verklaar en ‘n afskuwelike beeld van homself in die Allerheiligste te laat oprig.

Die Jode wat sal weier om die valse messias in sy hoedanigheid as selfverklaarde God te aanbid, sal vinnig voor sy oprukkende leërs moet vlug. Volgens Jesus moet hulle bid dat hulle vlug nie in die winter of op die Sabbat sal wees nie (hulle sal dus ortodokse Jode wees), “want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af… nie gewees het nie” (24:20-21). Die Joodse sabbatswette geld slegs in Israel, en op dié dag mag ‘n persoon net omtrent ‘n kilometer ver loop – die kort afstand van Jerusalem af deur die Kidronvallei na die Olyfberg toe (Hand. 1:12). In dié geval sal die valse messias se leërs hulle maklik inhaal en doodmaak. Hulle moet ook bid dat hulle reis nie deur winterkoue of deur klein kindertjies vertraag word nie, want hulle sal te voet uit Judéa na die berge moet vlug (24:19-20).

Die Here sal hierdie vlug toelaat om die Jode van totale uitwissing deur die valse messias te red. Die voortvlugtendes sal steeds geweldige benoudheid en swaarkry ervaar omdat hulle in die “tyd van benoudheid vir Jakob” sal wees (Jer. 30:7). Aan die einde van hierdie jaarweek van verdrukking sal die Messias tydens sy wederkoms na Jerusalem terugkeer (24:29-30). Volgens Sagaria 14:4 weet die Jode dat die Messias in Jerusalem sy verskyning sal maak. Die oorlewende Jode sal Hom dan van harte in die Naam van die Here verwelkom (23:39).

Die Evangelie volgens Lukas wat aan Theofilus, ‘n hooggeplaaste amptenaar in Rome, opgedra en daarna ook in Antiochië versprei is, is hoofsaaklik vir ‘n nie-Joodse leserskring bedoel. Vir Lukas is die strekking van die evangelieboodskap opvallend meer universeel omdat dit vir alle mense ongeag hulle volksverband, klas of stand bedoel is. In hierdie wye perspektief misken hy nie die Joodse konnotasies van die evangelie nie, maar trek die lyne aansienlik breër om ook die wêreldwye doelstellings van die koninkryk van die hemel en die boodskap van verlossing te beklemtoon.

So byvoorbeeld verstrek Lukas nie slegs ‘n Joodse geslagsregister vir Jesus, soos wat Mattheus doen nie, maar hy voer Jesus se afkoms terug tot by Adam. Christus spreek dus alle nasate van Adam aan – nie slegs dié van Abraham, Isak en Jakob nie – omdat Hy vir ons almal mens geword het “om te soek en te red wat verlore was” (19:10). Sy verlossingswerk is vir die ganse mensdom bedoel.

Hierdie benadering blyk duidelik uit die gelykenis van die barmhartige Samaritaan (10:25-37), asook uit die teregwysings aan die Jode vir hulle onverdraagsaamheid teenoor die Samaritane (9:51-56). In Lukas 17:11-19 word daarop gewys dat ná die genesing van die tien melaatses slegs een, ‘n Samaritaan, omgedraai het om God te verheerlik. Dit is ‘n aanklag teen Israel vir hulle ondankbaarheid. In Lukas 10:1-24 word 70 dissipels uitgestuur om die evangelie na Jode én heidene in die omliggende dorpe uit te dra.

In sy profetiese oorsig bespreek Lukas nie net die lotgevalle van die ongelowige Joodse volk nie, maar ook van die Messiaanse gelowiges, die nie-Joodse Christene en die nasies. Die Messiaanse gelowiges se beloofde ontvlugting voor die vernietiging van Jerusalem in die eerste geslag, word deur Lukas beskryf (21:20-22) maar nie deur Mattheus nie. Lukas gaan dan voort om “die tye van die nasies” te noem (21:24) wat vanaf die eerste geslag tot in die laaste geslag van die huidige dispensasie strek. Mattheus noem nie hierdie lang tydperk nie, omdat hy hom net met die heilsgeskiedenis van Israel bemoei (dieselfde benadering word ook deur ander Joodse profete gevolg, bv. Daniël, wat geen aanduiding van die lang tydsgaping van nie-Joodse geskiedenis tussen die 69ste en 70ste jaarweke in sy profesie oor Israel gee nie – Dan. 9:24-27).

Die herstel van Jerusalem sou die einde van die tye van die nasies inlui omdat “Jerusalem vertrap sal word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (21:24). Lukas gaan hierna voort om ‘n tyd van wêreldwye benoudheid onder die nasies te beskryf, wat op die wederkoms van Christus sal uitloop (21:25-27). Die groot verdrukking word nie in enige detail deur Lukas beskryf nie – hy noem ook nie die vlug van die Jode ná die ontheiliging van die tempel in die middel van die verdrukking, soos wat Mattheus met die beskrywing van verskeie besonderhede doen nie. Lukas gee net ‘n kort opsomming van die groot benoudheid en kosmiese tekens van die verdrukking, en bied dan ‘n sekere manier aan om dit te ontvlug: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (21:36). Mattheus maak nie van die belofte van ontvlugting voor die verdrukking melding nie, omdat die Joodse volk as gevolg van hulle geestelike blindheid deur die tyd van die benoudheid vir Jakob sal moet gaan.

Uit die verskillende perspektiewe van Lukas en Mattheus is dit baie duidelik dat die belofte van ontvlugting voor die verdrukking net aan Jesus se dissipels gemaak word (21:36). Dit is verder ook duidelik dat sy dissipels in die eindtyd hoofsaaklik nie-Jode sal wees (24:47). Hulle word aangemoedig om waaksaam en biddend te wees sodat hulle waardig sal wees om die tyd van oordele te ontvlug en in die geseënde teenwoordigheid van die Seun van die mens te wees wanneer die uur van duisternis op aarde aanbreek.

Deur ‘n ontsnappingsroete aan eerste geslag- én laaste geslag-gelowiges te bied (21:20-21,36), bevestig die Here Jesus die feit dat die gelowiges nie saam met die ongelowiges geoordeel word nie. Soos in die dae van Noag en Lot, moet die gelowiges eers uit die rampgebied van goddelike oordele verwyder word voordat die toorn van God oor die ongelowiges uitgestort word.

‘n Finale vergelyking: ‘n Verdere opvallende kenmerk van die aanbieding van die profetiese boodskap in Mattheus is dat Jerusalem (waarvan die inwoners die kern van die ongelowige Joodse volk verteenwoordig) in die eerste persoon aangespreek word met ‘n boodskap wat direk op die Jode betrekking het. Terwyl Hy eerste geslag-profesieë uitgespreek het, het die Here Jesus gesê: “Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat!” (Matt. 23:37-38). Dieselfde benadering word in laaste geslag-profesieë gevolg: “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting sien [die valse messias wat die tempel ontheilig]… dan moet die wat in Judéa is na die berge vlug… As iemand dan vir julle sê: Kyk, hier is die Christus! [die Messias] of: Daar! – moet dit nie glo nie” (Matt. 24:15-16,23). Gedurende die daaropvolgende koms van die Seun van die mens sal al die stamme (volke) van die aarde rou bedryf (Matt. 24:29-30). Op dié wyse word die Jode meegedeel dat nie net húlle rou sal bedryf oor Hom vir wie hulle deurboor het nie (Sag. 12:10), maar dat die oorblyfsel van die Christus-verwerpende nasies ook dieselfde sal doen. Die primêre boodskap in hierdie profesieë is egter aan Israel gerig.

In Lukas word die profetiese boodskap nie aan die Joodse volk in die eerste persoon gerig nie, maar aan die dissipels van Jesus (ongeag of hulle Jode of nie-Jode is). In verband met die eerste geslag-vernietiging van Jerusalem sê die Here Jesus aan sy dissipels: “Wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is” (Luk. 21:20). Lukas doen alle verwysings na Jerusalem en sy inwoners in die derde persoon. Selfs die nie-Joodse nasies, wat uitdruklik in die profetiese scenario ingesluit word, word in die derde persoon genoem terwyl Jesus inligting oor hulle aan sy dissipels meedeel. Aan die Messiaanse (Joodse) gelowiges word gesê dat hulle vervolging deur die ortodokse Jode reeds voor die verdrukking sal begin: “Maar voor al hierdie dinge sal hulle die hande aan julle slaan en julle vervolg en oorlewer in sinagoges en gevangenisse” (Luk. 21:12). Wanneer Lukas die tekens van die verdrukking noem, sonder hy nie vir Israel uit nie, maar verwys na alle nasies wat daardeur geraak sal word: “En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid wanneer see en branders dreun, en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word” (Luk. 21:25-26). Aan die ware dissipels van Jesus wat waak en bid, word die versekering egter in die eerste persoon gegee dat “julle… al hierdie dinge wat kom, [sal] ontvlug en voor die Seun van die mens staan” (Luk. 21:36). Dit is beslis nie ‘n boodskap aan Israel nie, maar aan die eindtydse dissipels van Christus wat vir sy skielike koms gereed moet maak.

In Lukas word die eindtydse scenario duidelik aan die beëindiging van die vertrapping van Jerusalem deur die nie-Joodse nasies verbind (21:24). Dit dien hier vermeld te word dat Bybelse Jerusalem (die Ou Stad, wat ook as die Stad van Dawid bekend staan) in die Sesdaagse Oorlog in Junie 1967 fisies deur Israel herower is, terwyl die politieke herstel van die stad tot sy eertydse status as hoofstad van Israel eers in Augustus 1980 plaasgevind het. Dit het die laaste volwasse geslag voor die wederkoms van Christus ingelui (Matt. 24:34; Luk. 21:32).

In die lig van die profetiese perspektiewe in Mattheus en Lukas se Evangelies, is die begin- en eindpunte van die twee kritieke geslagte in die huidige bedeling tussen die eerste en tweede koms van Christus die volgende:

Die eerste geslag: Hierdie geslag het met die verwerping en kruisiging van Jesus as Israel se Messias-Koning begin, en is deur die beleg en vernietiging van Jerusalem beëindig. Baie Jode is in die aanval deur ‘n groot Romeinse mag dood, terwyl die oorlewende inwoners van Jerusalem krygsgevange geneem is en na baie nasies verstrooid geraak het. Gedurende die eerste geslag het Israel en die kerk saam bestaan, maar Israel is weens die verwerping van die Messias as instrument vir wêreldevangelisasie uitgefaseer, terwyl die kerk van Christus onder alle nasies ingefaseer is om hierdie opdrag uit te voer.

Die tye van die nasies: Die lang tydperk tussen die eerste en laaste geslag word as “die tye van die nasies” beskryf (21:24). In hierdie tyd kry die ganse nie-Joodse wêreld (insluitende die verstrooide Jode) die geleentheid om lede van die koninkryk van God te word deur vir Jesus as hulle Messias en Verlosser aan te neem en weergebore te word (Matt. 28:18-20; Luk.24:45-49).

Die laaste geslag: Hierdie geslag het met die staatkundige herstel van Jerusalem deur Israel in 1980 begin, toe die vertrapping van die stad beëindig is. Gedurende hierdie transisionele geslag bestaan Israel en die kerk aanvanklik saam, maar voor die finale sewe jaar van hierdie geslag (die 70ste jaarweek van Daniël) sal die kerk by wyse van die wegraping uitgefaseer word (Luk. 21:36) terwyl Israel verder as die herstelde volk van God ingefaseer sal word. Die eerste fase van hulle geestelike herstel sal die redding van 144 000 Jode vroeg in die verdrukking wees, terwyl die hele oorblyfsel van die volk aan die einde van die verdrukking gered sal word wanneer die Messias na die Olyfberg in Jerusalem terugkeer (Sag. 14:4-5). Op daardie dag sal die oorblyfsel van Israel deur die bloed van die Lam gereinig word (Sag. 12:10; 13:1-2).

Wegraping voor die Antichris se verskyning

Mattheus waarsku Israel teen die koms van ‘n valse messias en die aanbreek van die verdrukking, terwyl Lukas die nasies teen dieselfde gevare waarsku, maar aan die dissipels van die Here Jesus ‘n duidelike belofte van ontvlugting bied. Die Christene se teenwoordigheid hier verhinder juis die uitstorting van goddelike toorn oor die aarde, asook die openbaring van die Antichris en die valse profeet.

Oor die openbaring van die Antichris en die begin van sy misleiding en skrikbewind, sê Paulus: “En nou, julle weet wat hom teëhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word. Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en met die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak” (2 Thess. 2:6-8). “...hy wat hom teëhou” is die liggaam van Christus, wat die gemeente van die weergeborenes is. Die Gees van die waarheid wat in ons is, staan die gees van die dwaling teë wat in die kinders van die ongeregtigheid werk (1 Joh. 4:1-6). Hierdie teëhouding verklaar die feit waarom die koninkryk van die duisternis en sy groot eindtydse leier, die Antichris, nie beheer oor die wêreld kan oorneem solank as wat die koninkryk van God deur die kerk van Christus nog hier gevestig is nie. In hulle verborge vorm bestaan die twee koninkryke wél saam op aarde, soos koring en onkruid wat in dieselfde land groei, maar daar kan nie tegelyk twee opponerende, sigbaar geopenbaarde koninkryke op aarde bestaan nie. Die ware kerk móét eers uit die weg geruim word voordat die Antichris geopenbaar kan word en die wêreld oorneem. So ook móét die Antichris en sy magte aan die einde van die sewe jaar eers verdelg  en Satan gebind word voordat Jesus Christus se koninkryk sigbaar op aarde geopenbaar kan word.

Dit is ondenkbaar en in stryd met Bybelse beginsels dat die Antichris geopenbaar kan word en ‘n wêreldwye magsposisie verkry terwyl die kinders van die Here, as die tempel van die Heilige Gees, nog hier is. Dit is een van die belangrike redes waarom die wegraping nie in die middel van die verdrukking kan plaasvind nie, want dit sou beteken dat die liggaam van Christus, as die teëhouer van die Antichris, nie weggeneem hoef te word voordat hy verskyn nie. Dit is onbybels! Daar is geen ruimte vir die teorie dat die wegraping in die middel van die verdrukking sal plaasvind nie. In die middel van die sewe jaar lange verdrukking sal die Antichris sy verbond met Israel verbreek, die tempel ontheilig en homself tot God verklaar (Dan. 9:27; 11:36-37; Matt. 24:15-21; 2 Thess. 2:4). Direk hierna sal dit nie die ontvlugting van die Christene wees nie, maar die vlug van Israel na die woestyn (Matt. 24:16; Op. 12:14). Ons moenie hierdie twee gebeurtenisse met mekaar verwar nie.

Dwalings en onskriftuurlike verwagtings lei altyd na ‘n skewe perspektief en verkeerde prioriteite. Deur die beskouing van ‘n wegraping in die middel van die verdrukking word die Christus-verwagting van gelowiges deur ‘n Antichris-verwagting vervang. Hulle prioriteite word dan onmiddellik as gevolg hiervan anders bepaal. In plaas daarvan om heiligmaking en diensbaarheid in afwagting op die spoedige koms van die hemelse Bruidegom as hoofdoelwit na te streef, begin hulle planne te maak oor hoe om in die verdrukking te oorleef en uit die invloedsfeer en strukture van die Antichris weg te bly. Sulke aksies is onvanpas omdat die perspektief en visie waaruit dit voortspruit, nie die belofte van die ontvlugting uit “al hierdie dinge” in ag neem nie. Ons opdrag is om vir die Here Jesus te wag en met sy werke besig te bly totdat Hy ons kom haal. Indien ons diensbaar bly en ook waak en bid, sal ons nie hier wees wanneer die Antichris geopenbaar word nie.

Mense wat dink dat hulle maar eers vir die Antichris kan wag en dan 3½ jaar aftel totdat die Here kom, kyk ‘n baie kardinale aspek van die profesieë mis, naamlik die verrassingselement in die hemelse Bruidegom se koms. Dit kan nie presies bereken word nie, want ons het net algemene tekens wat die nabyheid daarvan aantoon. Om gebeurlikheidsbeplanning vir ‘n tyd van groot rampe, oorloë en vervolging te doen, in plaas van voorbereidings om dit te ontvlug, kan tot ‘n groot ontnugtering lei.

Uit die oogpunt van omstandighede op aarde sal die wegraping vir Christene ‘n ontvlugting uit die dreigende oordele van God tydens die bewind van die Antichris wees. Die finale aanloop na die sewe jaar lange verdrukking sal ‘n donker tyd van geweldige geestelike misleiding en valse eenheid in die wêreld wees. Die evangeliese Christene sal as onbybels en liefdeloos bestempel en geminag word. Hulle sal as doemprofete beskou word omdat hulle die naderende oordele van God verkondig, wat in die verdrukking oor die aarde sal kom. Hulle sal ook as rebelle gebrandmerk word omdat hulle nie die hervormings van die nuwe wêreldorde wil aanvaar nie.

Namate die dag vir die openbaring van die Antichris nader kom, sal die ware gelowiges wat vir die koms van die Bruidegom gereed maak, aan nóg groter druk, bespotting en teologiese diskreditering deur die afvallige aanhangers van die ekumeniese beweging en die nuwe wêreldorde onderwerp word. Indien hulle egter getrou bly, sal die Here Jesus hulle deur die wegraping kom haal en sodoende die verdrukking op aarde laat ontvlug. Hulle sal die hele sewe jaar van die Antichris se bewind ontvlug, waarvan die eerste 3½ jaar uit ‘n valse vrede en die grootskaalse geestelike onderdrukking van die waarheid sal bestaan, en die laaste 3½ jaar uit openlike geestelike dwingelandy weens die verpligte aanbidding van die Antichris as God, asook ‘n fisiese verdrukking en natuurrampe soos wat daar nog nooit op aarde was nie.

Die aanhangers van die nuwe wêreldorde se valse vrede en eenheid sal nie die oordele van die verdrukking ontvlug nie: “Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid – dan oorval ‘n skielike verderf hulle soos die barensnood ‘n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie” (1 Thess. 5:3).

In Mattheus word die wegraping as ‘n teken aan die ongelowige Israel genoem, sodat dié wat agterbly moet weet dat ‘n tyd van groot oordele op hulle wag. Soos in die tyd van Noag, sal die eindtydse Jode nie hierdie ingryping deur die Here aanvaar en verstaan voordat dit vir hulle té laat is om deel van die ontvlugting te wees nie: “En net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het, en dit nie verstaan het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. Dan sal daar twee op die land wees; die een word aangeneem en die ander verlaat...” (Matt. 24:37-40).

Wanneer die Messiaanse Jode saam met al die weergebore Christene verdwyn, sal die oordele van God uitgestort word oor almal wat agtergebly het. Selfs dán sal nie almal van hulle verstaan wat werklik aan die gang is nie en verkeerdelik die valse messias aanhang. Hulle sal sy vredespraatjies en geestelike misleiding ten prooi val en meen dat hy die ware Messias is.

Lukas sê dat die ware gelowiges die belofte van ontvlugting uit die eindtydse oordele ter harte moet neem en waak en bid sodat hulle waardig is om, soos Noag en Lot, die oordele te ontvlug (Luk. 17:26-36; 21:36). Ten opsigte van dié wat agterbly, het die Here Jesus gesê: “Waar die liggaam lê, daar sal die aasvoëls saamkom” (Luk. 17:37). Dit is presies die situasie wat aan die einde van die groot verdrukking sal heers wanneer ‘n menigte mense gedood sal word met die swaard wat uit die mond van die hemelse Regter gaan, “en al die voëls is versadig van hulle vlees” (Op. 19:21).

In die lig van hierdie ernstige feite is dit belangrik om te weet dat die sewe jaar van die Antichris se regering wat van Openbaring 6 tot 19 beskryf word, nie deel van die kerkdispensasie is nie. Hierdie tyd van verdrukking sal net oor hulle kom wat agtergebly het omdat hulle nie vir die geheime koms van die hemelse Bruidegom gereed was nie. Om vir die ontvlugting gereed te wees, moet ons waarlik aan die Messias behoort, en hom met onverdeelde harte liefhê en dien. Die Here stel ons deur sy Heilige Gees hiertoe in staat.