3. Die Openbaring van Verborgenhede

Openbaring is die laaste Bybelboek wat onder direkte goddelike inspirasie geskryf is, en dit bevat ‘n baie belangrike boodskap vir die kerk van Christus, die volk Israel én die miljoene ongelowige mense onder alle nasies. Die finale vervulling van ‘n groot aantal waarskuwings en beloftes wat in die Bybel gemaak is, word hierin bespreek. Agtergrondkennis word by die lesers veronderstel, daarom moet daar eers ‘n basiese kennis van die Ou- én Nuwe Testamente opgedoen word voordat hierdie boek reg verstaan en ‘n intensiewe studie daarvan gemaak kan word. Dit bevat die laaste belangrike stellings van die Bybel oor verskeie sake.

In terme van die beginsel van progressiewe openbaring in die Bybel, word daar in hierdie boek benewens die verdere uitbreiding van bestaande kennis ook feite genoem en verborgenhede geopenbaar wat nie in voorafgaande Bybelboeke aangetref word nie. Die boek is dus duidelik op bestaande kennis gebou, maar brei ook verder daarop uit. Kom ons kyk kortliks na die belangrikste Skriftuurlike feite wat in Openbaring as gegewe beskou word en waarop daar in baie gevalle verder uitgebrei word:

Die godheid en ewige selfbestaan van die Here Jesus. Jesus is Here (Heb. Jahweh, Gr. Kurios – Hand. 10:36) en God (Heb. Elohim, Gr. Theos – Rom. 9:5). Jesaja het Hom in die Ou Testament reeds as die Sterke God beskryf (Jes. 9:5). Paulus sê: “Jesus Christus is die Here” (Fil. 2:11); Petrus verwys na Hom as “onse God en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Pet. 1:1); en Johannes sê: “Hy is die waaragtige God en die ewige lewe” (1 Joh. 5:20). Die Here Jesus het na sy ewige selfbestaan verwys toe Hy gesê het: “Voordat Abraham was, is Ek” (Joh. 8:58). In Openbaring bevestig Hy hierdie verhewe gedagtes oor Homself wanneer Hy verder daarop uitbrei: “Ek is die Alfa en die Omega, die begin en die einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige” (Op. 1:8).

Die koningskap van die Here Jesus. Hoewel Jesus tydens sy eerste koms as Koning na die aarde toe gekom het (Matt. 21:5; Joh. 18:37), is Hy nie by daardie geleentheid as Koning deur Israel en die nasies aanvaar nie. Hy sal egter terugkom en as Koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het (1 Kor. 15:25). In Openbaring word die Here Jesus as “die Owerste oor die konings van die aarde” beskryf (Op. 1:5), wat al die aardse koninkryke sal oorneem en as Koning sal heers tot in alle ewigheid (Op. 11:15; 19:6). Dan sal Hy universeel as “die Koning van die konings en die Here van die here” (Op. 19:16) erken word.

Die verlossingsleer. Die kern van die verlossingsleer, naamlik dat die Here Jesus sy lewe aan die kruis afgelê het om die straf vir ‘n verlore mensdom se sondes te betaal en deur genade almal wat hulle tot Hom bekeer, vry te koop (Ef. 1:7; 1 Pet. 1:18-19), word telkens in Openbaring bevestig. Johannes sê: “Hy het ons liefgehad en ons van ons sondes gewas in sy bloed” (Op. 1:5). Die verheerlikte kerk sal in die hemel aan Hom lof betuig omdat Hy hulle met sy bloed gekoop het (Op. 5:9). Met die oog hierop word Jesus dikwels in Openbaring die “Lam” genoem (Op. 5:12), wat verwys na die feit dat Hy vir die sondes van die hele wêreld geoffer is (Joh. 1:29).

Die Nuwe Testamentiese gemeente. Die beskrywing van Christus as die Hoof van die gemeente (Rom. 12:4-5; Ef. 5:23) word treffend in Openbaring uitgebeeld waar Hy tussen die sewe kandelaars wandel (Op. 1:11-16) en ‘n indringende beoordeling van die tipiese swak en sterk punte van die Christelike kerk op aarde doen (Op. 2–3). Deur die Heilige Gees is Hy in die midde van sy gemeente op aarde; Hy is intiem van hulle werke en gesindhede bewus en sal hulle in die lig daarvan beoordeel. Diegene wat Hom nie waarlik met rein motiewe dien en liefhet nie, sal verwerp word (Op. 2:5; 2:14-16; 2:21-22; 3:3; 3:15-16). Hieruit is dit duidelik dat daar baie dwalings, valse leerstellings en nominale, ongeredde lidmate in Christelike kerke is.

Die oordele van die dag van die Here. Die boek Openbaring is die finale bevestiging dat al die profesieë oor die oordele van die dag van die Here wat in die Ou Testament opgeteken is, letterlik vervul sal word (Jes. 13:9-13; Joël 2:1-2,11). In hierdie tyd sal die Here oordele oor Israel uitstort wat as volk nog steeds die Messias verwerp (Jer. 30:7), asook oor die rebelse nasies wat hulle aan dieselfde sonde skuldig maak deur ook vir Jesus te verwerp. Aan die einde van hierdie tyd van oordeel sal ‘n oorblyfsel in Israel gered word (Jes. 24:1-23). Omdat die ware kerk nie vir die oordele van die dag van die Here bestem is nie, word die komende verdrukking in die Nuwe Testament net op Israel en die ongelowige nasies van toepassing gemaak (Matt. 24:15-30). Paulus het aan die vervolgde Christene van sy tyd die vaste versekering gegee dat hoewel hulle in hierdie goddelose wêreld vir verdrukkinge bestem is (1 Thess. 3:3-4), hulle nie die oordele van die dag van die Here sal beleef nie (1 Thess. 1:10; 5:9). Hulle moes ‘n duidelike onderskeid tussen verdrukking deur ‘n nie-Christelike wêreld, en die oordele van God oor ‘n sondige wêreld tref. Omdat die Antichris se optrede as wêreldleier deel van die tyd is waarin God hierdie bose leier en sy volgelinge sal oordeel, moet die teëhouer van die Antichris (die ware kerk as die tempel van die Heilige Gees) eers weggeneem word voordat hy geopenbaar kan word en die verdrukking ‘n aanvang kan neem (2 Thess. 2:6-8). Ons weet dus vir seker dat dit eers ná die kerkbedeling sal wees wanneer die groot dag van die Here se toorngloed in die verdrukking sal aanbreek (Op. 6:17).

Die geestelike herstel van Israel. Alle Bybelse profesieë oor Israel se herstel word as bekende agtergrondkennis in Openbaring aanvaar. Johannes bevestig nie alleen die feit dat die Joodse volk aanskouers van Jesus se wederkoms sal wees nie (Op. 1:7), maar ook dat hulle geestelike herstel by die redding van 144 000 persone “uit al die stamme van die kinders van Israel” sal begin (Op. 7:4). Dit sal reg aan die begin van die verdrukking plaasvind, en verhoed dat alle Jode volgelinge van die valse messias word. Johannes beskryf ook Israel se vlug na die woestyn in die middel van die verdrukking (Op. 12:13-17), asook die mobilisasie vir ‘n wêreldoorlog wat net voor en tydens die wederkoms van Christus in Israel gevoer sal word (Op. 16:13-16; vgl. Sag. 14:2-3).

Die herlewing van Babilon. Daar is verskeie Ou Testamentiese profesieë wat op die absolute en permanente vernietiging van die stad Babilon én die Babiloniese ryk dui (Jes. 13:19-22; Jer. 51:26,61-64). Hierdie profesieë is nog nooit ten volle vervul nie, daarom lees ons in Openbaring 18 eers van die finale vernietiging van Babilon. Die valse Babiloniese wêreldgodsdiens wat deur die eeue heen in verborgenheid onder die nasies bestaan het, sal ook in die verdrukking vernietig word (Op. 17). Ons kan Openbaring 17 en 18 slegs ten volle verstaan indien hierdie twee hoofstukke teen die agtergrond van die wêreldwye verspreiding van die Babiloniese godsdiensstelsel beoordeel word, asook in die lig van profesieë oor die vernietiging van die laaste Babiloniese wêreldryk wat net voor die wederkoms van Christus sal bestaan.

Die nuwe hemel en nuwe aarde. Meer inligting word in Openbaring 21 en 22 oor die Bybelse beloftes van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde aangebied. Dit sluit by tekste soos Jesaja 65:17 en 2 Petrus 3:13 aan, maar verskaf veel meer detail hieroor – veral oor die nuwe Jerusalem wat op die nuwe aarde sal neerdaal.

Nuwe Testamentiese verborgenhede

Behalwe die feit dat Openbaring bestaande Bybelse kennis bevestig en verder daarop voortbou, openbaar dit ook sekere verborgenhede wat nie in ander Bybelboeke bespreek word nie. In die Nuwe Testament is daar talle verborgenhede geopenbaar wat nie in Ou Testamentiese tye bekend gemaak is nie, en Johannes bevestig die progressiewe openbaring van God se wil deur hierdie gebruik in sy boek voort te sit. Die volgende is van die bekendste verborgenhede wat in die Nuwe Testament geopenbaar is, en wat almal vir die beter verstaan van Openbaring belangrik is omdat dit in die lig van reeds bestaande kennis geskryf is:

Die verborgenheid van die koninkryk. Die Here Jesus het deur gelykenisse gepraat en dinge uitgespreek wat verborge was van die grondlegging van die wêreld af (Matt. 13:35). Hierdeur het Hy verborgenhede aan sy dissipels bekend gemaak, maar die ander mense het nie verstaan wat Hy gesê het nie (Matt. 13:11). Hy het aan sy dissipels verduidelik dat sy koninkryk in die Nuwe Testamentiese bedeling verborge sal wees, m.a.w. onsigbaar vir die wêreld. Dit sal saam met die koninkryk van die duisternis op aarde bestaan, soos koring en onkruid wat saam in een land groei, of soos goeie en slegte visse wat saam in een net is. Hierdie koninkryk is geweldig kosbaar, soos ‘n pêrel van groot waarde. Indien iemand dit ontdek, verkoop hy alles wat hy het en koop dit, m.a.w. niks anders is vir hom van groter waarde nie (Matt. 13:36-48). ‘n Persoon moet weergebore word om hierdie koninkryk te kan beërf (Joh. 3:3). Wanneer die Koning kom, soos in Openbaring 19:11-16 beskryf, sal hierdie koninkryk geopenbaar word. Die verheerlikte kerk van Christus sal saam met Hom geopenbaar word (Kol 3:4) en daarna saam met Hom as konings in sy ryk regeer (Op. 5:10; 20:4). Alle nasies sal in die voordele hiervan deel (Op. 20:3).

Die verborgenheid van Jesus se godheid. Die verborgenheid van Christus (Ef. 3:4) is dat God met sy koms na die aarde in die vlees geopenbaar is (1 Tim. 3:16). “In Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik” (Kol. 2:9). Hy het gesê: “Ek en die Vader is een” (Joh. 10:30). Indien die feite oor die godheid van die Here Jesus nie aanvaar word nie, kan sy verhewe posisie in Openbaring nie begryp word nie. Is die verborgenheid van Jesus Christus se godheid al deur die Heilige Gees in die Bybel aan jou geopenbaar en aanvaar jy dit ten volle? Dan sal jy verstaan waarom die Bybel selfs al in die Ou Testament oor sy wederkoms ná die verdrukking sê: “Dan sal die Here my God kom, al die heiliges met U!” (Sag. 14:5). Hy is nie ‘n mens met goddelike eienskappe nie, maar God self.

Die verborgenheid van die liggaam van Christus wat uit gelowiges uit alle nasies bestaan (Ef. 3:3-6; Kol. 1:26-27). Die sleutelbegrip vir lidmaatskap van hierdie liggaam het hoegenaamd niks met afkoms te doen nie en is dus nie net tot een volk, soos Israel, beperk nie. Deur geloof in Christus kan persone uit alle nasies lede van sy liggaam word, wat sy gemeente op aarde is. Dit is die rede waarom die verheerlikte kerk in Openbaring sê dat hulle uit elke stam en taal en volk en nasie op aarde kom (Op. 5:9). Teen die tyd dat die boek Openbaring geskryf is, is hierdie verborgenheid lankal reeds bekend gemaak en word dit duidelik in sommige van die profesieë weerspieël.

Die verborgenheid van die evangelie van genade. Dit verwys na die evangelie van verlossing in Christus Jesus (Ef. 6:19), naamlik dat ons nie deur die werke van die wet gered word nie, maar uit genade deur die geloof. Dit is waarom Johannes sê dat die Here Jesus ons van ons sondes gewas het in sy bloed (Op. 1:5). Aan sy getroue volgelinge in die gemeente van Pérgamus sê Christus: “Jy hou vas aan my Naam en het die geloof in My nie verloën nie” (Op. 2:13). Geloof in die Here Jesus is die sleutel tot bekering en wedergeboorte. ‘n Sondaar wat sy geloof in Christus as Verlosser stel, bely sy sondes met berou (bekering) en word dan geestelik deur die Here nuut gemaak (wedergeboorte).

Die verborgenheid van Israel se tydelike verharding. Paulus het ‘n vooraf onbekende feit bekend gemaak toe hy in Romeine 11 gesê het dat Israel as volk gedurende die hele Nuwe Testamentiese bedeling geestelik verhard en verblind sou wees: “Ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie... dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en die goddelooshede van Jakob afwend” (Rom. 11:25-26). In Openbaring 7 word dit bevestig dat die geestelike herstel van Israel ná die kerkbedeling by die redding van 144 000 Jode sal begin.

Die verborgenheid van die eerste opstanding en die wegraping daarna. Paulus sê: “Kyk, ek deel julle ‘n verborgenheid mee: ons [die gemeente] sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word” (1 Kor. 15:51-52). Direk hierna sal die gelowiges wat deel in die eerste opstanding gehad het, na die hemel weggevoer word: "Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde" (1 Thess. 4:16-18). In Openbaring is dit duidelik dat hierdie verborgenhede ‘n geruime tyd reeds bekend was, want Johannes verwys net kortliks daarna sonder om dit verder te verduidelik. In Openbaring 2 en 3 beskryf hy die kerk op aarde en in Openbaring 4 en 5 in die hemel. Die verheerlikte gemeente is skielik na die hemel verplaas, wat duidelik op die veronderstelling gebaseer is dat die eerste opstanding en wegraping reeds plaasgevind het. In Openbaring 20 word dit bekend gemaak dat die eerste opstanding alle gelowiges insluit wat voor die aanvang van die duisendjarige vrederyk opgewek word – dit sluit die martelare van die verdrukking in (Op. 20:4). Hoewel laasgenoemdes eers ná die wegraping gered sal word, sal hulle ook verheerlikte liggame ontvang voordat die vrederyk begin. Al die gelowiges staan dus op voordat die Here Jesus terugkom om sy duisendjarige ryk te vestig, want hulle gaan saam met Hom in hierdie regering deel: “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank” (Op. 20:6). Die ongelowiges sal eers ná die duisendjarige vrederyk opgewek word om voor die groot wit troon tot die ewige verderf veroordeel te word: “En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie” (Op. 20:5). Die leer oor die twee opstandings is ‘n verdere, duidelike onderskeid in God se handelswyse met die regverdiges en onregverdiges.

Die verborgenheid van die ongeregtigheid. Paulus praat van die verborge werking van die Antichris se gees dwarsdeur die kerkbedeling, tot in die eindtyd wanneer hierdie verborgenheid in ‘n persoon, die Antichris, geopenbaar sal word: “Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak” (2 Thess. 2:7-8). Eers nadat die ware kerk van die aarde af weggeneem is, sal die Antichris geopenbaar word. ‘n Paar jaar later sal hy deur die verskyning van Christus verdelg word. In Openbaring 6 lees ons van die openbaring van die Antichris, in Openbaring 13 van sy verdere optrede en in Openbaring 19 van sy summiere veroordeling en verdelging wanneer Jesus Christus weer kom.

Die verborgenheid van die ontugtige vrou op die dier se rug. In Openbaring 17:7 sê die engel vir Johannes: “Ek sal jou die verborgenheid van die vrou vertel en van die dier met die sewe koppe en die tien horings, wat haar dra.” Hierdie is twee verborgenhede wat nie tevore in enige ander Bybelboek bekend gemaak is nie. Die eerste een is die ontugtige vrou. Sy word genoem: “die hoer wat op die baie waters sit, met wie die konings van die aarde gehoereer het... en die vrou was bekleed met purper en skarlaken... en sy het in haar hand ‘n goue beker gehad, vol van gruwels en die onreinheid van haar hoerery; en op haar voorhoof was ‘n naam geskrywe: Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde. En ek het die vrou gesien, dronk van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus” (Op. 17:2-6). Openbaring maak die volgende kenmerke en doelstellings van hierdie vrou bekend:

·       Haar naam is “Verborgenheid, die groot Babilon.” Sy is die onsigbare, godsdienstige organisasie wat die grondslag van die heidense, Babiloniese kultuur vorm. Ná die val van Babel het sy in verborgenheid, in die vorm van verskeie valse godsdienste, onder die nasies voortbestaan. Sy het haar invloed na die hele wêreld uitgebrei, want die konings van die aarde het geestelike owerspel met haar gepleeg deur haar in die plek van die ware God lief te hê en te dien.

·       Sy is “die moeder van die hoere.” Uit haar het al die valse godsdienste van die wêreld ontwikkel, daarom is daar ‘n geestelike band tussen almal van hulle. In die eindtyd sal sy as ‘n moederorganisasie gestalte aanneem deur ‘n ekumeniese band tussen al die valse gelowe te skep sodat sy namens almal van hulle ‘n internasionale drukgroep kan vorm. Sy sal ook tot haar plek van oorsprong in die Midde-Ooste aangetrokke voel en spesifiek met die naam “Babilon” identifiseer.

·       Sy sal die gees van die Antichris adem en haarself uitdruklik teen die godheid en verlossingsplan van die ware Christus uitspreek. Verskeie valse profete in nominaal Christelike kerke sal openlik met haar assosieer deur te beweer dat die aanhangers van alle gelowe dieselfde God aanbid en dus elkeen op sy eie manier saligheid kan verkry. Op hierdie wyse word die godheid van die Here Jesus, sy versoeningswerk aan die kruis en die waarheid van die Bybel verloën en deur valse leerstellings vervang.

·       Sy sal die Antichris (die dier) as die enigste wêreldmessias erken en volgens Openbaring 13:11-18 en 19:20 godsdienstig ook met die valse profeet geassosieer wees wat die verering en aanbidding van die dier oral sal bevorder en afdwing. Sy sal die bloed van die getuies van Jesus aan haar hande hê, wat daarop dui dat sy almal sal laat vervolg wat sal weier om die dier te aanbid. Die dier sal groot magte aan haar verleen om dit te kan doen, daarom ry sy op die dier se rug en word deur hom ondersteun. Die verborgenheid van die dier word saam met dié van die vrou in Openbaring verklaar.

Die dier met die sewe koppe is die Antichris. Die sewe koppe verwys na sewe goddelose wêreldryke, waarvan die sewende een die eindtydse ryk van die dier sal wees. Dit sal egter ook elemente van al die vorige wêreldryke bevat. Sy ryk sal net so letterlik soos die vorige ses wees, waarvan die eerste een die Babiloniese ryk van Nimrod en die laaste een die Romeinse ryk was. Hoewel daar in die Bybel dikwels na die Antichris verwys word, word daar in Openbaring aspekte van sy optrede en goddelose diktatuur genoem wat tot in daardie stadium onbekend was.

Om Openbaring reg te kan verstaan, moet dit in samehang met ander profetiese gedeeltes in die Bybel gelees en verklaar word – ook in die lig van verborgenhede wat elders al verklaar is. As die laaste Bybelboek bied dit aan ons eskatologiese perspektiewe op sowel Israel as die kerk en die nasies. Dit werp lig op die reddende genade én oordele van die Here, en verskaf aan ons meer inligting oor die ewige bestemming van die smal en die breë weg. ‘n Deeglike kennis van die boek Openbaring help ons om die volle raad van God vir die mens te verstaan en sodoende vir toekomstige gebeure gereed te wees.

Beloftes en waarskuwings

Die groot doel met die openbaring van Nuwe Testamentiese verborgenhede is om aan die ware Christene ‘n salige hoop op die koms van die hemelse Bruidegom voor die aanbreek van God se oordele te bied. Ook word waarskuwings aan Israel en die nasies gerig dat hulle weens ongeloof deur ‘n tyd van groot benoudheid sal gaan sodat ‘n laaste oes onder hulle ingesamel kan word. In Openbaring word alle Christus-verwerpende sondaars wat steeds weier om tot bekering te kom en deel van hierdie oes te wees, finaal oor die sekerheid van die ewige oordeel in die poel van vuur gewaarsku.

Ná die donker nag van God se oordele sal Hy ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde skep waarin geregtigheid woon, en sy heerlikheid ten volle geopenbaar sal wees. Is jy ‘n mede-erfgenaam van Christus in hierdie koninkryk? (Rom. 8:17). Die verheerlikte Here Jesus het gesê: “Kyk, Ek maak alles nuut... Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom ‘n God wees, en hy sal vir my ‘n seun wees. Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars – hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel” (Op. 21:5-8). Daar is net twee bestemmings vir die mens: óf die hemel óf die hel. Sonder Jesus Christus en sy reddende genade sal niemand die koninkryk van die hemel beërf nie. Almal, ook godsdiensleiers, moet duidelik van die vereiste van wedergeboorte kennis neem, want die Here Jesus het vir ‘n onkundige prediker gesê: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Joh. 3:3).

Openbaring is nie ‘n simboliese boek wat daarop ingestel is om sake wat mense se geestelike lewe en ewige toekoms raak, te versluier en verborge te hou nie. Konkrete uitsprake word onder meer oor die volgende onderwerpe gemaak:

·       Die koninkryke van God en Satan word in verdere detail in hulle samestelling, doelstellings en die onafwendbare konfrontasie tussen hulle geopenbaar. Meer besonderhede word oor Satan se valse christus en sy medewerkers verskaf, veral in sy hoedanigheid as die politieke, godsdienstige en ekonomiese hoof van die sewende en laaste wêreldryk op aarde tydens die sewe jaar lange verdrukking.

·       Onderskeid word tussen geredde en ongeredde mense getref, en ook tussen die hemel en die poel van vuur as die ewige bestemmings van hierdie twee groepe. Openbaring bevestig die feit dat daar twee opstandings, ‘n duisend jaar uitmekaar, vir dié twee groepe mense is.

·       ‘n Duidelike verskil word tussen ware en valse vorms van godsdiens gemaak. Hieruit blyk dit ondubbelsinnig dat sommige gemeentes só ver van die waarheid afgedwaal het dat Christus die lig van sy teenwoordigheid aan hulle sal onttrek (Op. 2:4-5), teen die afvalliges oorlog sal voer met die swaard van sy Woord (Op. 2:16), die navolgers van vreemde leerstellings en afgodediens in die groot verdrukking sal werp (Op. 2:22), en die aanhangers van die geestelik dooie voorspoedsevangelie uit sy mond sal spuug (Op. 3:16-17).

·       Die verskil tussen die ware kerk as die bruid van Christus en die valse kerk as die bruid van die Antichris, word in ryk, beeldende taal beskryf. Die bruid van Christus sal in die ewige heerlikheid van die nuwe Jerusalem deel (Op. 21:2-7), terwyl die bruid van die Antichris as die moeder van die hoere beskryf word wat deur die Antichris en sy mede-regeerders verdelg sal word wanneer haar rol as die misleier van die nasies uitgedien is (Op. 17:16). In Openbaring word hierdie ontugtige vrou en haar rol in die eindgebeure vir die eerste keer bekend gemaak.

·       Groot duidelikheid word in Openbaring oor God se attribute van barmhartigheid en toorn gegee. Hy sal steeds barmhartigheid aan almal betoon wat hulle deur Jesus Christus tot Hom bekeer, maar ongekende toorn oor sy vyande uitstort wat weier om hulle van hul ongeloof en bose werke te bekeer.

·       God sal sy eeue-oue verbond met Israel gestand doen deur ‘n oorblyfsel van die volk tydens die groot verdrukking van uitwissing deur die valse messias en sy magte te bewaar, die gelowige oorblyfsel in Israel te red, in hulle land te vestig en in al die seëninge van die Messiasryk te laat deel.

·       In Openbaring word ‘n konkrete stelling oor die lengte van die vrederyk gemaak, naamlik ‘n duisend jaar. Nie net sal Israel in hierdie tyd die Here van harte dien nie, maar die verheerlikte kerk sal saam met Christus as konings regeer. Dit sal die laaste bedeling wees voordat die Here ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde sal skep waarin geen ongeregtigheid sal kom nie.

Mense wat nie die volle implikasies van die letterlike vervulling van Bybelse profesieë in ag neem nie, word deur Christus self verkwalik omdat hulle nie logiese gevolgtrekkings van duidelike feite kan maak nie (Matt. 16:1-3; Luk. 12:54-56). Die Here het nie hierdie lewensbelangrike kennis in sy Woord aan ons verborge gehou nie, maar vir ons volle kennisname geopenbaar. Diegene wat nie daarop reageer nie, sal in die proses baie skade ly en net hulleself kan blameer vir die gevolge wat hulle sal moet dra.