2. Hoe Moet Ons die Profetiese Woord Verstaan?

Die verklaring van Bybelse profesieë is ‘n onderwerp van groot omstredenheid, en Christene word na aanleiding hiervan in verskillende leerstellige skole geplaas. Mense wat die profetiese woord op ‘n letterlike, dispensasionele wyse verklaar, word chiliaste genoem. Dit is van die Griekse woord chilios afgelei wat duisend beteken, en verwys na diegene wat in ‘n letterlike, duisendjarige vrederyk op aarde glo wat ná die wederkoms van Jesus Christus sal aanbreek. ‘n Sinoniem vir die begrip chiliasme is millennialisme wat van die Latynse woord vir duisend, naamlik mille, afgelei is. ‘n Persoon wat nie in ‘n letterlike duisendjarige ryk ná die wederkoms glo nie, word ‘n antichilias of ‘n amillennialis genoem. Sulke mense is daarop ingestel om deur middel van vergeesteliking ander betekenisse aan verskeie Bybelse begrippe te verleen.

As gevolg van hierdie omstredenheid word daar verskillende eksegetiese (verklarende) beginsels vir Bybelse profesieë gebruik. Sommige daarvan wyk só ver van die grondbetekenis van die teks af dat dit die goddelike inspirasie van die Bybel heeltemal ignoreer. Die volgende is die vier algemeenste teologiese benaderings tot die verklaring van Bybelse profesieë:

1. Historiese premillennialisme

Tot ongeveer die einde van die vierde eeu ná Christus was historiese premillennialisme die mees algemene beskouing oor eindtydse gebeure. In terme hiervan is verwag dat daar in die eindtyd ‘n Antichris sal opstaan en dat die kerk deur die tyd van verdrukking sal moet gaan. Aan die einde van die verdrukking sal die ontslape gelowiges opstaan en saam met die lewende gelowiges na die hemel weggevoer word. Hulle sal dan dadelik, tydens Christus se wederkoms, saam met Hom terugkeer aarde toe sodat Hy die groot verdrukking kan beëindig, die Antichris en sy hordes verdelg, die oorblyfsel van Israel red en sy duisendjarige vrederyk met Jerusalem as hoofstad op aarde vestig. Almal behalwe een van die vroeë kerkvaders wat oor die profesieë geskryf het, het die siening van ‘n letterlike toekomstige vrederyk ná die wederkoms van Christus op aarde gehuldig. Justinus die Martelaar (100-165 n.C.) het gesê dat om anders te glo, ‘n dwaalleer is!

Die vroeë kerk het dus sterk chiliastiese oortuigings met betrekking tot die verskyning van die Antichris, die sewe jaar lange verdrukking, die wederkoms van Christus en die duisendjarige vrederyk gehad. Al wat daar nie eenstemmigheid oor was nie, was die belofte oor die wegraping voor die verdrukking. Die geweldige vervolging van die kerk in die eerste eeue het die oortuiging laat posvat dat die kerk ook vir die eindtydse verdrukking onder die Antichris bestem is. Daar wás egter ook predikers wat ‘n wegraping voor die verskyning van die Antichris en die begin van die verdrukking verkondig het. Efraim die Siriër, ‘n vroom kerkvader van die vierde eeu, het in 373 ná Christus gesê: “Al die heiliges sal voor die verdrukking versamel en na die Here toe geneem word sodat hulle nie die wanorde sal beleef wat as gevolg van sonde op aarde sal heers nie.” In ‘n ander geskrif het hy die belangrike opmerking gemaak dat Daniël se 70ste jaarweek in die laaste sewe jaar van hierdie bedeling vervul sal word, en dat dit deur die slag van Armageddon en die sigbare wederkoms van Christus afgesluit sal word (vir meer inligting lees Grant Jeffrey se artikel A pretrib rapture statement in the early medieval church, in die boek When the Trumpet Sounds onder redaksie van Thomas Ice en Timothy Demy; in 1995 deur Harvest House Publishers uitgegee). Kerkleiers soos Efraim het nie die meer algemene siening van hulle tyd gedeel dat die kerk deur die tyd van verdrukking sou gaan nie.

2. Amillennialisme (antichiliasme)

Hierdie denkrigting vloei voort uit die aanname dat Bybelse stellings nie letterlik opgeneem moet word nie, maar allegories of geestelik. Dié interpretasie het sy oorsprong in die derde en vierde eeue in die Alexandrynse teologiese skool gehad.

Origenes (geb. 185 n.C.) is die vader van die allegoriese interpretasie en het verskeie boeke oor die verstaan van die Bybel geskryf. Hy was egter sterk onder die invloed van die Griekse filosofie van Plato en wou filosofies meeleef maar tóg ook Christen bly. Die antichiliasme was ‘n direkte voortvloeisel uit Origenes se allegoriese denke. Hy het die Bybel as ‘n boek vol van simbole en allegoriese konstruksies gesien en dit derhalwe nie letterlik vertolk nie. Die werklike bestaan was vir hom in die filosofies-geestelike gnosis (godsdienstige waarheidskennis) geleë waarheen elkeen moet vorder. Daar was vir hom geen sprake van ‘n letterlike koningskap van Christus op aarde nie, en dus ook nie van ‘n persoonlike Antichris wat voor die wederkoms sewe jaar lank oor die wêreld sal regeer nie. Die allegoriese vertolking van die Bybel het ‘n hoogs bedenklike oorsprong omdat die Bybel nie deur die Bybel self verklaar word nie, maar in terme van die heidense Griekse filosofie as ‘n abstrakte geskrif met verborge betekenisse gesien word.

Die opkoms van antichiliasme hang verder ook met die optrede van keiser Konstantyn saam wat Christen-vervolging vroeg in die vierde eeu in die Romeinse ryk afgeskaf en die kerk tot ‘n staatskerk verhef het. Die vrede, beskerming en finansiële ondersteuning wat die Romeine gebied het, het die kerk se uitsig op die wederkoms van Christus en die vestiging van sy vrederyk aansienlik laat afneem en in ‘n eietydse koninkryksvisie laat oorgaan. Dit het die idee laat posvat dat die duiwel nóú gebind is en dat die kerkbedeling inderdaad die beloofde vrederyk op aarde is.

Die persoon wat waarskynlik die meeste daartoe bygedra het om chiliasme te bestry, was die kerkvader Augustinus. Sy optrede was teen die einde van die vierde eeu n.C. Hy het geglo dat ten spyte van die ineenstorting van aardse ryke soos die eens magtige Romeinse ryk, die koninkryk van God (die kerk) nie alleen staande sal bly nie, maar sal triomfeer en sy invloed onder alle nasies sal uitbrei. Dit het Augustinus tot die gevolgtrekking laat kom dat die kerkbedeling tussen die eerste en tweede koms van Christus die koninkryksbedeling, of vrederyk, is waartydens die kerk as ‘n staatskerk op aarde moet regeer. Hy het tipiese koninkryksmagte aan die kerk toegeskryf, asook sakramente met saligmakende krag, en sodoende die teologiese grondslag vir die Rooms-Katolieke Kerk gelê. Protestantse hervormers soos Luther en Calvyn is egter ook sterk deur sy antichiliastiese koninkryksteologie beïnvloed, en dié invloede bestaan vandag nog voort. Augustinus het die twyfelagtige eer dat hy deur sowel die Rooms-Katolieke as baie van die Protestantse kerke as een van die belangrikste kerkvaders erken en nagevolg word. Veral Calvyn was ‘n groot aanhanger van hom.

Teoloë wat Augustinus se siening deel dat die kerkbedeling die beloofde vrederyk is, glo nie in ‘n letterlike millennium ná die wederkoms van Christus nie, en is dus amillennialiste of antichiliaste. Hulle is sterk daarop ingestel om Bybelse begrippe te vergeestelik en dan ander betekenisse daarin te lees (die vervangingsteologie). Na aanleiding hiervan kan Israel of Jerusalem vir hulle die kerk word, die 144 000 geredde Jode van Openbaring 7 kan as die gelowiges van alle tye onder alle nasies beskou word, die sewe jaar lange verdrukking onder die Antichris kan as die vervolging van Christene in die hele kerkbedeling verklaar word, en die slag van Armageddon in die Midde-Ooste kan as ‘n geestelike stryd in die lug beskou word.

3. Postmillennialisme

Sedert die middel van die 16de eeu het daar ‘n nuwe siening oor die vervulling van Bybelse profesieë posgevat, nl. postmillennialisme. In terme hiervan sal die wêreld gaandeweg as gevolg van evangelisasie ‘n beter plek word om in te bly, en sal die millennium van die kerkbedeling uiteindelik aanbreek. Aan die einde van die goue eeu van ‘n Christelike wêreld sal Jesus Christus vir die finale oordeel terugkom. Volgens postmillennialiste sal daar nie ‘n verdere bedeling van die koninkryk van God op aarde wees, met Jerusalem as hoofstad nie, omdat Christus nou deur sy kerk die aarde regeer.

Die kerkhervorming, asook die opkoms van Europese koloniale moondhede (veral die vinnige uitbreiding van die Britse ryk) het die idee by sommiges laat ontstaan dat sendelinge die evangelie oor die hele wêreld sou uitdra, en dat dit uiteindelik tot ‘n Christelike wêreld sou lei waarin reg en geregtigheid geskied en almal in vrede en voorspoed saamleef. Christelike hervorming en rekonstruksionisme, m.a.w. ‘n transformasie na vrederykstoestande, moet dus voortdurend plaasvind totdat sonde, misdaad, oorloë en armoede heeltemal verdwyn. In terme van hierdie visie word nie geglo dat die wêreld geestelik en moreel ál hoe donkerder word, met relatief min mense wat na die smal weg oorkom, en uiteindelik op die groot verdrukking onder die bewind van die Antichris afstuur nie. Die wêreld moet volgens hulle beter word sodat die millennium voor die wederkoms van Christus kan aanbreek.

Verskeie postmillennialistiese groepe huldig nog steeds hierdie visie. Sommige van dié beweging se leiers tree tot die politiek toe in die hoop dat die Here Christene in sleutelposisies sal plaas om die wêreld vir die koninkryk van God oor te neem. Ander bewegings en kerkgroepe wend hulle tot ‘n bonatuurlike magspel van tekens en wonders om sodoende die wêreld aan hulle voete te kry en ‘n groot herlewing aan die gang te sit. Daar word ook deur sommiges probeer om deur middel van strategiese geestelike oorlogvoering die vestings van Satan te verbreek en hom dan van die planeet aarde af te verdryf sodat hy die nasies nie meer kan verlei nie. Die beweging is ook ekumenies ingestel, maar hulle definisie van eenheid is só breed dat selfs Rooms-Katolieke daarin geakkommodeer word.

Al hierdie koninkryksgroepe kyk nie na ‘n toekomstige koninkryk wat eers met die wederkoms van Christus geopenbaar sal word nie, maar na een wat nóú deur die kragtige bemiddeling van die kerk van Christus op aarde geskep moet word. ‘n Verwagting van hierdie aard is duidelik uit voeling met die boodskap van Bybelse profesieë, wat daarop dui dat daar eers ‘n tyd van groot afvalligheid binne-in kerke sal wees, asook groot geestelike duisternis in die verdorwe wêreld daarbuite, voordat Christus sy getroue dissipels sal kom haal en die hele misleide wêreld in die mag van die Antichris sal val. Eers ná die Antichris se sewe jaar lange bewind sal Christus saam met sy heiliges kom en sy koninkryk in heerlikheid op aarde openbaar.

4. Moderne, dispensasionele premillennialisme

J.N. Darby (geb. 1800 in Londen) was ‘n uitstaande teoloog wat die grondslag gelê het vir die vestiging van dispensasionalisme in die kerk. In die boek When the Trumpet Sounds (bl. 127-8) sê prof. Floyd Elmore van Ohio, VSA, dat John Darby in die afgelope 150 jaar die grootste invloed op die studie van Bybelse profesieë gehad het. Hy was ‘n voortreflike dienskneg van God wat gebruik is om die regte vertolking van Bybelse profesieë te bevorder. Prof. Elmore sê: “Darby is the acknowledged father of systematised dispensationalism and a key modern developer of the pretribulational rapture.”

Verskeie skrywers ná John Darby het belangrike bydraes oor die premillennialisme gemaak, bv. Joseph Seis (The Apocalypse), Clarence Larkin (Dispensational Truth), C.I. Scofield (The New Scofield Reference Bible), Dwight Pentecost (Things to Come), J. Barton Payne (The Imminent Appearing of Christ), Charles Ryrie (The Basis of the Premillennial Faith en Dispensationalism Today), John Walvoord (The Rapture Question, The Revelation of Jesus Christ en The Blessed Hope and the Tribulation) en Robert L. Thomas (Exegetical Commentary on Revelation). Gedurende die laaste twee dekades het talle nuwe boeke oor dié onderwerp verskyn, asook chiliastiese Bybelkommentare (bv. proff. J.F. Walvoord & R.B. Zuck: The Bible Knowledge Commentary).

In dispensasionele teologie word die Bybel letterlik verklaar vanuit die perspektief van God se handelinge met die mens in opeenvolgende bedelings. Die kerkdispensasie word deur die wegraping afgesluit sodat die volgende bedeling – die verdrukking van sewe jaar tydens die Antichris se regering – kan aanbreek. Omdat die verdrukking ook met goddelike oordele gepaard gaan, sal die ware kerk van Christus voor die tyd weggeneem word omdat hulle nie vir God se toorn oor die sondaars bestem is nie. ‘n Voorverdrukking-wegraping is dus ‘n noodsaaklike deel van moderne dispensasionele premillennialisme.

Die begrip “premillennialisme” bevat die duidelike betekenis dat Jesus Christus se wederkoms voor die millennium sal plaasvind, en trouens ‘n voorvereiste vir die aanbreek en openbaring van sy duisendjarige vrederyk (die millennium) is. Vir die eerlike Bybelstudent is dit in elk geval duidelik dat ons nie nou in die duisendjarige vrederyk leef waarin die duiwel gebind is nie. Die duiwel loop tans rond soos ‘n brullende leeu om te kyk wie hy kan verslind (1 Pet. 5:8). Die Here Jesus noem hom “die owerste van hierdie wêreld” (Joh. 14:30). As gevolg van sy sterk invloed oor die oorgrote meerderheid mense lê “die hele wêreld in die mag van die Bose” (1 Joh. 5:19). Ons bevind onsself dus in “die teenwoordige bose wêreld” (Gal. 1:4) waaruit die Here ons wil red.

Premillennialisme is tot die letterlike grondbetekenis van die Skrif verbind, behalwe waar dit uit die konteks baie duidelik is dat simboliese taal gebruik word. Voorbeelde van sulke simbole is die rooi draak of slang wat in die Bybel self as die duiwel geïdentifiseer word, die moeder van die hoere wat na ‘n ekumeniese organisasie van valse gelowe verwys, die dier met die sewe koppe wat op die Antichris dui, en die Lam wat na Christus verwys. Simbole het dus meesal nie abstrakte verklarings nie, maar ‘n letterlike teëbeeld. Wanneer die Bybel egter bekende eiename of beskrywende name soos Israel, Jerusalem, Babilon, die tempel, die Antichris en die valse profeet gebruik, of na letterlik verstaanbare begrippe soos die groot verdrukking, die slag van Armageddon, die wederkoms van Christus en die binding van Satan in ‘n put vir eenduisend jaar verwys, is daar geen gronde hoegenaamd om hierdie begrippe simbolies of allegories te verklaar nie – ook nie die tydperke waarmee sommige van hulle verbind word nie. Waarom moet die 1260 dae van Openbaring 11:3 en 12:6, die 42 maande van Openbaring 11:2 en 13:5 en die duisend jaar van Openbaring 20 simbolies verklaar word, terwyl die 430 jaar van Israel se verblyf in Egipte (Ex. 12:40), die 40 jaar van hulle trek deur die woestyn (Num. 32:13) en die 70 jaar van die Babiloniese ballingskap (Jer. 25:11) letterlike tydperke was? Dieselfde geld vir getalle: waarom moet die baie logiese stelling dat 144 000 persone, 12 000 uit elk van die 12 stamme van Israel, wat vroeg in die verdrukking gered en verseël sal word (Op. 7:3-4), simbolies verklaar word om na ander groepe te verwys, bv. alle Christene van alle tye? Of waarom moet die 200 myl (1600 stadia wat elk 220 treë of 200 meter lank is) van die slagveld in Israel waar God se vyande ná die slag van Armageddon dood sal lê, in die Nuwe Afrikaanse Bybel as 1600 kilometer aangedui word? (Op. 14:20). Dit gebeur omdat daar Bybelvertalers en -verklaarders is wat nie agting vir die letterlike betekenis van sekere stellings in die Woord van God het nie, en dit na willekeur verander.

Beoordeling van die vier denkrigtings

Die vier denkrigtings wat hierbo beskryf is, kan kortliks soos volg geëvalueer word:

Historiese premillennialisme het wel ‘n duidelike begrip gehad van ‘n toekomstige vrederyk met ‘n herstelde Israel en Jerusalem as wêreldhoofstad, maar net beperkte insig in die belofte van die wegraping van gelowiges as ‘n ontvlugting uit die rampgebied van goddelike oordele. Waarskynlik as gevolg van die gruwelike vervolging van die vroeë kerk, het verskeie kerkvaders gemeen dat die kerk ook deur die tyd van verdrukking onder die Antichris sal moet gaan. Hulle het egter in gebreke gebly om te onderskei tussen God se oordele oor die goddeloses, en die vervolging van Christene ter wille van hulle geloof deur 'n wêreld wat in die mag van die Bose lê. In laasgenoemde geval is dit nie God wat mense oordeel of straf nie. In die verdrukking, egter, sal God, soos in die tyd van Noag en Lot, die ongelowiges straf en dus seker maak dat die gelowiges eers na ‘n plek van veiligheid weggeneem word voordat Hy sy oordele oor die goddeloses uitstort. Kerkvaders soos Efraim, die Siriër, het dié feit ingesien en ‘n duidelike standpunt oor die wegname van die gemeente voor die uitstorting van God se toorn in die sewe jaar van die verdrukking gehuldig.

Daar is tans ook mense wat sekere vertolkings van die historiese premillennialisme aanhang deur te beweer dat die wegraping eers in die middel van die verdrukking sal plaasvind, of aan die einde daarvan nét voor die slag van Armageddon, of dat daar glad nie ‘n wegraping sal wees nie, maar wél ‘n vrederyk ná die wederkoms. Die onafwendbare gevolg van hulle toekomsverwagting is dat Christene se aandag op die opkoms van die Antichris gevestig word – nie met die verwagting dat die wegraping voor sy bewindsaanvaarding as wêreldleier sal plaasvind nie, maar met die oog op beplanning om in die eerste deel van die verdrukking onder sy bewind op aarde te kan oorleef.

In die Amillennialisme (antichiliasme) het die boodskap van die meeste Bybelse profesieë as gevolg van die vergeestelikingsbeginsel nie ‘n letterlike betekenis nie en spreek dus geen persoon op ‘n konkrete en direkte manier aan nie. Antichiliasme is gevolglik tot ‘n allegoriese of ‘n historiese (preteristiese) verklaring van Bybelse profesieë verbind. Die allegoriste beweer dat daar nooit ‘n persoonlike Antichris was of sal wees nie, omdat dié begrip volgens hulle net as ‘n onpersoonlike element van boosheid gesien moet word. Ook ontneem hulle die volk Israel sy identiteit en land, en pas die begrip “Israel” op alle gelowiges in die Nuwe Testament toe. Gebeure in die land Israel spreek hulle dus nie aan nie, so ook nie ander tekens van die tye nie.

Die preteriste soek na die historiese vervulling van eindtydse profesieë. Sommige van hulle beweer dat die Romeinse keiser Nero in die eerste eeu die Antichris was, en ander sê dat een van die pouse in dié rol pas. Vir hulle is profesieë oor die groot verdrukking, soos dié in Mattheus 24:21, reeds in die eerste eeu vervul. Hierdie verklaring is egter totaal in stryd met die Bybel, wat duidelik sê dat die verdrukking deur die wederkoms van Christus beëindig sal word: “En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word... en die kragte van die hemele sal geskud word... dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid” (Matt. 24:29-30). Uit 2 Thessalonicense 2:7-9 is dit ook baie duidelik dat die Antichris ‘n eindtydse verleier sal wees wie se openbare optrede gedurende die verdrukking ná die wegname van sy teëhouer (die ware kerk) sal begin, en daarna deur die wederkoms van Jesus Christus beëindig sal word.

‘n Antichiliastiese siening ondermyn die vertroue in Bybelse profesieë. Dit lei daartoe dat mense nie wederkomsgerig leef nie omdat hulle nie die salige hoop op die koms van die hemelse Bruidegom het nie. Die noodwendige gevolg hiervan is dat hulle as uitsiglose Christene ‘n ál meer materialistiese lewens- en wêreldbeskouing ontwikkel. Die kerkdispensasie is vir hulle die beloofde duisendjarige vrederyk op aarde waarin die duiwel gebind is.

Die postmillennialisme leer dat die wêreld al hoe beter word. Hulle glo dat die Here Jesus se wederkoms ná die huidige vrederyk van die kerkbedeling sal plaasvind. Hulle is só op die koninkryksteologie ingestel dat hulle nie skroom om die Bybel totaal buite sy dispensasionele verband toe te pas nie, ten einde nóú as konings te regeer, voorspoed op te eis en na willekeur tekens en wonders te doen. Die vrederyk moet vir hulle nóú sigbaar word!

Volgens die moderne, dispensasionele premillennialisme (die chiliasme) word geglo dat Jesus Christus éérs kom en daarna volg die beloofde vrederyk. Chiliaste glo in die letterlike vertolking van profesieë en kyk gevolglik na die vervulling van ‘n groot aantal Bybelse profesieë vooruit. Chiliasme is nougeset op grondwaarhede van die Woord van God ingestel, veral in die mate waartoe dit ons verhouding met die Here raak. Dit bevorder ‘n duidelike toekomsverwagting by Christene en bring mee dat die Here ‘n groter realiteit in hulle daaglikse lewe word. Hulle is daarop ingestel om wêreldgebeure in die lig van die profetiese woord te vertolk, en sodoende ‘n Bybelse patroon in kontemporêre gebeure te kan onderskei. Hulle besef die erns van die uur waarin ons leef, gedagtig daaraan dat die bedeling van die kerk vinnig na sy einde toe spoed. Hulle verwag eerste die koms van Jesus Christus en nie die vooraf openbaring van die Antichris nie. Hulle besef dat hulle in hierdie bedeling, deur die krag van die Heilige Gees, ‘n teëhouende rol ten opsigte van die komende Antichris en sy verderflike ideologie moet vervul.

Verstaan van die Bybel

In die lig van bogenoemde denkrigtings is dit belangrik dat elke Christen vir homself duidelikheid oor die korrekte sienswyse verkry. 'n Kardinale vraag in verband met die profesieë is: Hoe lees ons die Bybel? Wanneer ons die profetiese woord ondersoek, is hierdie vraag van deurslaggewende belang. Uit ‘n bestudering van die vervulling van Ou Testamentiese profesieë kan elke persoon vir homself besluit of hy met die letterlike verklaringsmetode saamstem, en of hy liewer op ‘n allegoriese wyse na ‘n meer verborge betekenis agter dit wat geskryf is, wil soek. Die twee belangrikste sienings oor die wederkoms, naamlik die chiliasme wat ‘n duisendjarige vrederyk van Jesus Christus ná die wederkoms op aarde verwag, en die antichiliasme wat op ‘n geestelike koninkryk gedurende die kerkbedeling ingestel is, kan met die letterlike en allegoriese verklaringsmetodes onderskeidelik, in verband gebring word.

Die letterlike, of normale wyse waarop ons die Bybel lees, leer ons inderdaad die dinge waaraan ons as chiliaste glo. Hamilton, wat self ‘n antichilias is, erken hierdie feit in sy boek, The Basis of Millennial Faith, wanneer hy sê: “Ons moet eerlik erken dat ‘n letterlike interpretasie van Ou Testamentiese profesieë aan ons dieselfde beeld van ‘n aardse Messiaanse ryk bied as dit wat deur die chiliaste geleer word.” Hamilton erken dus dat die verskil tussen chiliasme en antichiliasme nie is of die Bybel ‘n duisendjarige koningskap van Christus leer nie, maar hoe die Skrif wat wél so ‘n koningskap leer, geïnterpreteer moet word – letterlik of allegories.

Verskeie verklaringsmetodes van die Bybel is deur die eeue heen gevolg. Daar is egter twee wat werklik van belang is, veral in die bestudering van profesieë, en dit is die allegoriese en grammaties-historiese metodes. Laasgenoemde is die letterlike verklaringsmetode. In sy Dictionary of the Christian Church definieer McDonald allegorie soos volg: “Die gebruik van taal om ‘n dieper en verskillende betekenis oor te dra as dit wat basies gekonstateer word.” ‘n Allegoriese verklaring moet duidelik van ‘n simboliese verklaring onderskei word. Die Bybel maak dikwels, ook in profesieë, van simboliese taal gebruik. ‘n Simbool, wat in sigself nie altyd ‘n besondere betekenis het nie, word dan gebruik om ‘n bepaalde gedagte, persoon of gebeurtenis by die leser tuis te bring. Dit is dan uit die verband duidelik dat dit ‘n simbool is en ‘n ander verklaring moet hê, bv. die dier met die sewe koppe wat op die Antichris dui.

By ‘n allegoriese verklaring het die Skrifwoord self egter wél ‘n duidelike en voor die hand liggende verklaring, maar die leser besluit dat hy iets anders daarin wil lees en ken dan willekeurig ‘n geestelike of figuurlike betekenis daaraan toe. Hy verklaar byvoorbeeld “Israel” in die Nuwe Testament as “die kerk”, die 144 000 Jode van Openbaring 7 wat vroeg in die verdrukking gered sal word, word vir hom al die miljoene gelowiges van alle tye, en die komende duisendjarige vrederyk word die veel langer kerkdispensasie waarin die duiwel volgens die allegoriese verklaarder nou reeds gebind is.

Dié verklaarder onderwerp homself dus nie aan die gesag van die Skrif om ‘n betekenis daaruit te haal nie (uitlegkunde of eksegese), maar kom met ‘n vooropgestelde idee wat dan in die Skrif ingelees word (inlegkunde). Dit word die vervangingsteologie genoem waarin die grondbetekenis van ‘n woord deur ‘n ander betekenis vervang word. Angus en Green praat in The Bible Handbook ook van dié gevaar wanneer hulle sê: “Daar is ‘n onbeperkte moontlikheid vir vrysinnige vertolkings wanneer hierdie beginsel erken word en die enigste basis vir Skrifverklaring in die gedagtes van die verklaarder gevind word. Geen egte Skrifverklaring kan op hierdie wyse gedoen word nie.”

In sy Protestant Biblical Interpretation voeg Bernard Ramm die volgende by: “Om te beweer dat die grondbetekenis van die Bybel ‘n sekondêre betekenis is, en dat die belangrikste metode van Skrifverklaring die vergeestelikingsmetode is, is om die deur vir feitlik onbeheerde spekulasie en verbeelding oop te maak. Om hierdie rede dring ons daarop aan dat beheer oor interpretasie deur die letterlike metode uitgeoefen word.”

Die allegoriese metode van interpretasie word byna nooit konsekwent toegepas nie, want dit berus by die interpreteerder om te besluit wanneer hy die normale betekenis van ‘n Skrifwoord wil aanvaar, en wanneer hy dit wil vergeestelik. Daar is dus geen beheer oor dit wat iemand uit die Bybel haal nie, en die Bybel self het nie meer beheer oor hoe dit gelees word nie. O.T. Allis erken die gevaar hiervan wanneer hy sê: “Die vraag of die figuurlike of geestelike interpretasie van ‘n bepaalde gedeelde geregverdig is of nie, hang slegs daarvan af of dit die ware betekenis weerspieël. Wanneer hierdie metode van verklaring gebruik word om woorde van hulle duidelike en voor die hand liggende betekenis te ontledig om vir ander betekenisse plek te maak, dan is dit heeltemal geregverdig om allegorisering, of vergeesteliking, as ‘n oneerbare en verwerplike metode van Skrifverklaring te beskryf.”

In sy gesaghebbende boek, Things to Come, gee Dwight Pentecost die volgende definisie van die letterlike metode van Skrifverklaring: “Die letterlike metode van interpretasie is daardie metode wat aan elke woord dieselfde betekenis toeskryf as wat dit in die gewone, alledaagse gebruik van die spreektaal, skryf- of denkwyse het. Dit word die grammaties-historiese metode genoem om die feit te beklemtoon dat betekenis deur beide die grammatiese konstruksie en die historiese verband waarin die woord gebruik is, bepaal word." Wanneer ‘n woord ‘n logiese betekenis het in die verband waarin dit gebruik word, dan mag dit nie simbolies opgeneem en anders verklaar word nie: “When the plain sense of the word makes common sense, then seek no other sense.”

Die sterkste bewys vir die letterlike verklaring is die wyse waarop die Nuwe Testament van die Ou Testament gebruik maak. ‘n Mens kan maar net kyk na die Ou Testamentiese profesieë oor Christus wat in die Nuwe Testament vervul is, naamlik oor sy geboorte, sy lewe, sy werk en sy dood. Geen een van hierdie profesieë is anders as letterlik vervul nie. Die Ou Testament gee meer as 300 uitdruklike voorspellings aangaande die eerste koms van Christus, sodat dit vir elke Fariseër en skrifgeleerde duidelik moes wees wie Jesus is. Tóg het hulle die Here Jesus nie as Messias herken en aanvaar nie, maar die waarheid onderdruk en hulle eie mense mislei. Waarom het hulle dit gedoen?

Die ganse sisteem van die verdoeseling en versluiering van Bybelse profesieë deur middel van allegoriese interpretasie, is ‘n duidelike set van die Satan om mense te laat vergeet van die koms van ons groot geestelike Verlosser wat as Persoon van die hemel af sal kom om hier te regeer. Tydens Christus se eerste koms het Israel die voorspellings oor sy koms geïgnoreer en moes die bitter gevolge daarvan dra. Hulle sou vir eeue lank geestelik verblinde voortvlugtendes onder die nasies wees omdat hulle die gunstige tyd toe God hulle deur die Messias besoek het, nie opgemerk het nie (Matt. 23:37-39; Luk. 19:41-44; 21:20-24).

Die letterlike interpretasie beteken slegs dat ons die Bybel op ‘n normale wyse lees soos wat hy homself vir ons aanbied. Simboliese en figuurlike taal word verklaar, maar dan het daardie simbool nog steeds ‘n letterlike teëbeeld, of objek, waarop dit dui. Jesaja 11:1 sê byvoorbeeld dat daar ‘n takkie uit die stomp van Isai uitspruit, en ‘n loot uit die wortels, wat vrugte dra. Die verklaring hiervan is natuurlik dat Jesus Christus as ‘n letterlike, historiese figuur sou verskyn, en dat Hy al die dinge sou doen wat duidelik in die res van die hoofstuk beskryf word.

Ons hoef nie eers verder as die boek Jesaja te gaan om hierdie punt te demonstreer nie. Die onderstaande profesieë verwys almal na die Persoon en werke van die Here Jesus as die beloofde Messias, Verlosser en Koning van Israel én die hele wêreld. Alle profesieë wat op sy eerste koms betrekking het, is letterlik vervul. Ons kan daarop reken dat dié wat tydens en ná sy wederkoms vervul sal word, nét so letterlik bewaarheid sal word. Jesaja sê:

·       Hy sal voor sy geboorte al geroep word om die Here se Dienskneg te wees (49:1).

·       Hy sal uit 'n maagd gebore word (7:14).

·       Hy sal ‘n afstammeling van Ísai wees en dus uit die geslag van Dawid kom (11:1,10).

·       Die Heilige Gees sal op Hom rus (11:2; 42:1).

·       Hy sal meegevoel met die swakkes hê (42:3).

·       Hy sal sy opdrag in gehoorsaamheid aan God uitvoer (50:4-9).

·       Hy sal Homself gewilliglik aan lyding oorgee (50:6; 53:7-8).

·       Hy sal deur Israel verwerp word (49:7; 53:1,3).

·       Hy sal die sondes van die wêreld op Homself neem (53:4-6).

·       Hy sal die dood oorwin (53:10).

·       Hy sal verhoog word (52:13; 53:12).

·       Hy sal kom om Israel te troos en die goddeloses te straf (61:1-3).

·       Hy sal God se heerlikheid openbaar (49:3).

·       Hy sal Israel fisies in hulle land herstel (49:8).

·       Hy sal Israel geestelik herstel en na die Here teruglei (49:5).

·       Sy koninkryk sal tot aan die eindes van die aarde strek (49:6).

·       Hy sal van die troon van Dawid af regeer (9:6).

·       Hy sal self God genoem word (9:5).

·       Hy sal blydskap vir Israel bring (9:2).

·       Hy sal 'n nuwe verbond met Israel sluit (42:6; 49:8-9).

·       Hy sal die lig van die hele wêreld wees (42:6; 49:6).

·       Hy sal die nasies herstel en vestig (11:10).

·       Hy sal deur die nasies aanbid en vereer word (49:7; 52:15).

·       Hy sal in getrouheid en geregtigheid oordeel (11:3-5; 42:1,4).

Daar kan geen twyfel oor die letterlike vervulling van profesieë oor die Messias wees nie. Hy is tydens sy eerste koms uit ‘n maagd in die koningshuis van Dawid gebore, Hy is deur Israel verwerp, Hy het ter wille van die redding van alle sondaars gesterf en die dood oorwin. Tydens sy tweede koms sal Hy as Koning Israel fisies én geestelik herstel, wraak neem op sy vyande, die oorblyfsel van die nasies red, en as die sterkte God van die troon van Dawid af regeer. In sy regering sal daar vrede op aarde wees (Jes. 2:4) en Jerusalem sal as internasionale hoofstad verhef word tot ‘n lof op aarde (Jes. 2:2-3; 62:6-7). Al die nasies sal die Messias en sy volk, Israel, eer en gewillige onderdane van die Messiaanse ryk op aarde wees (Jes. 60:11-18). Hoe kan ons anders as om die ontsagwekkende en wonderlike implikasies van die Messias se wederkoms letterlik te verstaan? Deur dit te doen, eer ons Hom en sy Woord!

Die letterlike verklaringsmetode negeer nie die groot geestelike waarhede in die Bybel nie, want alles wat ‘n geestelike betekenis het word op 'n normale wyse geestelik verstaan. Dit is juis die fisiese verwagting van dit wat kom, wat ons tot die grootste mate van geestelike paraatheid, toewyding aan Jesus Christus en vervulling met die Heilige Gees aanspoor. Ons kennis van die profesieë verskans ons teen die Antichris se misleiding, wat nou al volstoom aan die werk is. Ons aktuele verwagting van dit wat gaan kom, bevry ons ook van ‘n onbybelse koninkryksteologie wat in die huidige bedeling op aansien, rykdom, sorgeloosheid en die ervaring van allerlei bonatuurlike tekens, manifestasies en wonderwerke gebaseer is.

Die Fariseërs het Jesus se geloofsbriewe tydens sy eerste koms verwerp. Die kerk as instituut sal, met slegs geringe uitsonderings, ook aan die slaap gevang word en sal die Here Jesus se geloofsbriewe tydens sy tweede koms verwerp. Die meerderheid Christelike kerke sal deur hulle eie toedoen geen ander keuse hê nie, want hulle verwerp nou reeds al die duidelike tekens wat die wederkoms voorafgaan (Luk. 12:54-56). Wie sal die verantwoordelikheid vir hierdie profetiese uitsigloosheid in die kerk aanvaar – miskien Origenes en sy allegoriese navolgers?