16. Wat Kan Ons te Wagte Wees?

Die futuristiese strekking van Openbaring is daarop ingestel om aan alle mense – die ware én valse kerk, asook Israel en die hele ongeredde wêreld – die pad vorentoe aan te dui. Die toekoms van die sataniese driemanskap, dit is die duiwel, die Antichris en die valse profeet, word ook duidelik aangetoon. Die feit dat Openbaring ‘n profetiese boodskap vir alle mense het, plaas ‘n verantwoordelikheid op Christene om hierdie boodskap saam met die res van die Bybel aan almal te verkondig. In die lig van dit wat reeds in hierdie studie oor Openbaring gesê is, kan die verskillende groepe mense wat daarin aangespreek word, die volgende te wagte wees:

Gebeure tydens die kerkbedeling

In Openbaring 2 en 3 is daar benewens die bespreking van eietydse sake ‘n aanduiding van chronologiese tydperke waardeur die kerkbedeling gaan, asook die vervolging, dwalings en probleme wat daarmee in verband staan. Die ware Christene word in die lig hiervan teen geestelike verval gewaarsku, op swaar tye voorberei en ook bemoedig om op die regte pad te volhard sodat hulle as oorwinnaars uit die stryd kan tree.

Omdat al sewe die kerktipes dwarsdeur die kerkbedeling voorkom, moet eindtydse Christene op die waarskuwings en verskillende vorms van bemoediging in al sewe die briewe ag slaan. Uit ‘n profetiese oogpunt is ons wél nou in die Laodicea-tydperk, maar elemente van die ander ses gemeentetipes kom ook saam met Laodicea voor. Die primêre boodskap van hierdie briewe is dat alle Christene van alle tye hulle geestelike lewe so gou as moontlik in orde moet kry sodat die Here se doel met individuele gelowiges én met sy kerk op aarde verwesenlik kan word. Die profetiese aanduidings in die sewe briewe is dat die Christelike kerk in die algemeen nie die waarskuwings ter harte sal neem nie, en uiteindelik tot op die betreurenswaardige lae geestelike vlak van Laodicea sal verval. Hulle sal só walglik en verwerplik vir die Here word dat Hy hulle soos lou water uit sy mond sal spuug (Op. 3:15-17).

In die lig hiervan moet evangeliese Christene wat die Here Jesus liefhet en ernstig is om die smal weg te bewandel sonder om regs of links daarvan af te wyk, daarteen waak om deel van die vervalproses in kerke te word. Hulle moet seker maak dat hulle altyd onder die klein groepie getroues is wat bemoedig word om teen al die versoekings en dwalings te oorwin. Aan een só ‘n groepie sê die Here Jesus: “Maar jy het enkele persone ook in Sardis wat hulle klere nie besoedel het nie, en hulle sal saam met My in wit klere wandel, omdat hulle dit waardig is” (Op. 3:4).

Die volgende is die belangrikste waarskuwings waarteen Christene én gemeentes moet waak:

In die brief aan Éfese word ons teen ‘n dooie vorm van kerkisme gewaarsku waarin die liefde vir Christus deur die liefde vir die kerk verdring word – tot só ‘n mate dat die Here Jesus die afvalliges tot ‘n hertoewyding aan Homself oproep: “Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke” (Op. 2:4-5). ‘n Voortgesette stryd teen sektes word as deel van goeie Christenskap beskryf (Op. 2:6). Aan sy getroue volgelinge wat teen vormgodsdiens en sektariese dwalings oorwin, beloof die Here Jesus geestelike voedsel van die boom van die lewe af – dit is ‘n lewe in Christus, soos die loot wat sy lewenskrag uit die ware wynstok verkry.

In die brief aan Smirna word Christene gewaarsku dat hulle by tye gedurende die kerkbedeling hewig deur Satan en sy handlangers verdruk en vervolg sal word.  Baie van hulle sal in die proses as martelare vir hulle geloof sterf. Hulle word bemoedig om tydens die vurige vervolging getrou te bly, geen kompromie met die onderdrukkers te maak nie en as oorwinnaars te sterf indien hulle met die dood gekonfronteer sou word (Op. 2:10). Aan die martelare word die kroon van die lewe beloof, wat beteken dat die tweede dood (die ewige dood in die hel) geen mag oor hulle sal hê nie. Let daarop dat die verdrukking wat hulle ervaar, van die duiwel af kom en dus nie oordele van God is, soos dit wat in die groot verdrukking oor die sondaars uitgestort sal word nie. God oordeel nie sy eie kinders nie.

In die brief aan Pergamus word Christene teen ‘n bose samelewing gewaarsku wat heeltemal in die mag van die duiwel lê. Sommige van die gemeentelede het met die goddelose, nie-Christelike denkrigtings kompromie gemaak en daardeur die leer van Bileam nagevolg. Een van die persone, Antipas, wat homself heftig hierteen uitgespreek het, is tereggestel (Op. 2:13). Die Here noem Antipas egter sy getroue getuie, en sê daardeur aan ons dat Hy nie vir kompromiemakers in sy koninkryk plek het nie. Die oorwinnaars oor die leringe van duiwels sal met die verborge manna gevoed word, wat die onvervalste melk van die Woord is.

In die brief aan Thiatire waarsku die Here sy kinders teen nóg erger vorms van geestelike misleiding as dié in Pergamus. In hierdie kerk word afgodediens beoefen waardeur mense die dieptes van Satan en sy verborge kragte leer ken. Die kerk kry ‘n magsposisie deurdat baie mense onder haar invloed kom, en dit is ook duidelik dat hierdie kerk tot in die eindtyd sal bestaan en ná die wegraping in die groot verdrukking gewerp sal word (Op. 2:22). Aan sy getroue dissipels wat nie hierdie kerk se dwaalleerstellings aanvaar het nie en deur dié kerk vervolg en verneder is, beloof die Here Jesus ‘n magsposisie in sy toekomstige koninkryk (Op. 2:25-27).

In die brief aan Sardis word die gemeente van geestelike doodsheid beskuldig omdat hulle nie evangelisasiewerk doen deur Jesus Christus aan ‘n sterwende wêreld te verkondig nie (Op. 3:1-2). Aan die klein groepie oorwinnaars in Sardis belowe die Here Jesus dat hulle saam met Hom in die hemel sal wees en dat hulle name nie uit die boek van die lewe uitgewis sal word nie. Hy sal ook hulle name voor sy Vader bely omdat hulle Jesus as hulle Verlosser aan ander mense bely het. Die name van die gemeentelede wat van geestelike doodsheid beskuldig word, sal nie in die hemel bely word nie en uit die aard van die saak ook nie in die boek van die lewe wees nie, al dink hulle ook dat hulle Christene is.

In die brief aan Filadelfia word die evangeliserende gemeente vir hulle toewyding aan die Here Jesus geloof, en veral oor die feit dat hulle sy Woord bewaar en sy Naam nie verloën het soos wat gebruiklik in baie ander gemeentes was nie (Op. 3:8). Hulle kry baie duidelik die versekering dat hulle as gevolg hiervan nie in die uur van beproewing (die verdrukking onder die bewind van die Antichris) sal kom nie, en dus die wegraping sal meemaak. Volgens die oorspronklike Griekse teks staan daar in Openbaring 3:10: “Ek sal jou uit die uur van beproewing bewaar…” (King James-vertaling: “I will keep thee from the hour of tribulation…”). Hierdie getroue getuies word aangemoedig om vas te staan en nie terug te val nie (Op. 3:11), sodat hulle as oorwinnaars die ewige heerlikheid van die Here deelagtig kan word.

In die brief aan Laodicea word daar baie sterk teen die valsheid van ‘n materialistiese, mensgerigte, selfregverdigende vormgodsdiens gewaarsku. Die Here Jesus verwerp sulke kerklidmate omdat Hy glad nie met hulle geestelike bankrotskap kan assosieer nie. Hy roep lidmate uit hierdie dooie kerk tot bekering op (Op. 3:20), sodat hulle in plaas van aardse rykdomme eerder geestelike rykdomme sal najaag. Aan die klein groepie oorwinnaars in hierdie afvallige en dooie gemeente sê die Here dat hulle mede-regeerders saam met Hom in sy koninkryk sal wees.

Uit die briewe aan die sewe gemeentes is dit duidelik wat die mees algemene dwalings en geestelike vervalsings in die kerkbedeling is. Die Here Jesus rig die volgende waarskuwings aan kerke en gemeentes wat hulle hieraan skuldig maak:

·       Die kandelaar van vormgodsdienstige gemeentes sal deur die Here weggeneem word, wat beteken dat Hy sy Gees aan hulle sal onttrek (Op. 2:5)

·       Kerke wat met die wêreld kompromie maak, sal deur die Woord van die Here geoordeel word omdat hulle daaraan ontrou geword het (Op. 2:16).

·       Afvallige kerke wat leerstellings van duiwels aanvaar en verkondig, sal in die groot verdrukking beland as hulle hul nie bekeer nie (Op. 2:22).

·       Die Here Jesus sê Hy onttrek Homself ook heeltemal aan kerke en gemeentes wat deur geestelike louheid weens materialisme en selfregverdiging gekenmerk word (Op. 3:16-17).

Ware Christene moet hulle taak op aarde vervul terwyl hulle aanvegtinge verduur uit ‘n wêreld wat in die mag van die Bose lê, en ook te midde van ‘n hewige stryd teen magsbehepte, valse kerke wat net ‘n gedaante van godsaligheid het. Dit is ‘n bomenslike taak wat nie sonder die genadige instaatstelling en bekragtiging deur die Heilige Gees uitgevoer kan word nie, en ook nie sonder ‘n ingesteldheid van volharding op die pad van die Here tot die einde toe nie. Ten spyte van hulle min krag in hierdie bedeling (Op. 3:8), sal sy getroue dissipels geestelik met manna uit die hemel gevoed en vir die stryd versterk word.

Aan die oorwinnaars word loon in die hemel beloof, asook in die Here se koninkryk wat ná sy wederkoms op aarde geopenbaar sal word. Hulle sal mede-regeerders met Christus wees en die nasies met ‘n ysterstaf regeer (Op. 2:26-27). In die huidige bedeling sal hulle egter as ‘n getroue minderheidsgroep teëgestaan, verwerp en vervolg word. Daar is geen belofte van koninkrykstoestande wat die ware Christene in die kerkbedeling sal beleef nie, en derhalwe geen regverdiging vir ‘n koninkryksteologie van tekens, wonderwerke, wêreldwye herlewings, rykdom, voorspoed, en ‘n Christelike rekonstruksionisme wat op die oorname van die hele wêreld gemik is nie. Daar is ook nie sprake van die binding en uitwerping van Satan uit groot gebiede van die wêreld voordat die Here terugkom nie. Die stryd teen die koninkryk van die duisternis sal hewiger word na die einde toe, en die geestelike dwalings onder die leiding van valse profete ál hoe groter. As gevolg hiervan sal daar in die eindtyd ‘n wydverspreide verval in geestelike standaarde plaasvind.

In ‘n tyd soos hierdie sal dié wat vuil is ál hoe vuiler en die heiliges ál hoe heiliger word (Op. 22:11). Siele sal soos brandhout uit die vuur geruk word terwyl suiwer, Bybel-gefundeerde evangelisasiewerk onder uiters moeilike omstandighede gedoen sal word. Die meeste mense sal die gesonde leer egter nie meer verdra nie, en in die plek daarvan metodes van kitsevangelisasie verkies waarin hulle op ‘n maklike manier sonder ‘n grondige bekering deur valse predikers salig gespreek word (2 Tim. 4:3-4).

Die vervolging van Christene

Die vervolging van evangeliese Christene deur andersdenkende mense wat onder die aanstigting van Satan optree, is ‘n verskynsel wat dwarsdeur die kerkbedeling voorkom. Daar is aanduidings dat vyandigheid teen Christene in die eindtyd, as voorbereiding op die verskyning van die kosmiese messias van alle gelowe (die Antichris) sal verskerp. Hierdie vervolging moet duidelik onderskei word van die komende verdrukking wanneer die Here ‘n afvallige mensdom wat sy Seun verwerp het, sal oordeel. In die tyd wanneer sy oordele uitgestort word, sal die Antichris en sy medewerkers ook groot ellendes oor die wêreld bring.

Daar was nog altyd ‘n kosteberekening om ‘n Christen te word, omdat die Bybel die kerkbedeling as ‘n stryd teen Bose magte beskryf, asook teen mense wat die waarheid teëstaan. Ons is nie nou konings wat heerskappy voer nie, maar soldate vir die kruis. Paulus sê vir Timotheus: “Ly dan verdrukking soos ‘n goeie krygsman van Jesus Christus” (2 Tim. 2:3). Alle ernstige dissipels van die Here Jesus kan vervolging te wagte wees: “En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word” (2 Tim. 3:12). Eintlik moet ons dit as ‘n seën beskou as ons waardig geag word om vir so ‘n groot en verhewe saak soos die koninkryk van God te kan ly deur verwerp, bespot en verdruk te word. Paulus sê dat dit “ter wille van Christus genadiglik aan ons gegee is om nie alleen in Hom te glo nie, maar ook vir Hom te ly” (Fil. 1:29).

Soms is die vervolging nie openlik en fisies nie, maar die dissipel wat die Here Jesus van harte wil dien, sal nogtans ervaar dat sy boodskap en standpunte deur baie mense (veral deur die nominale Christene) verwerp word. Die Here het vir Paulus voor een van sy besoeke aan Jerusalem op verwerping van hierdie aard voorberei en vir hom gesê: “Hulle sal jou getuienis aangaande My nie aanneem nie” (Hand. 22:18).

Hoe reageer jy op verwerping en vervolging ter wille van die waarheid? Dit is deel van die stryd en jy moet jouself glad nie daardeur laat afsit nie: “Salig is julle wanneer die mense julle haat, en wanneer hulle julle verstoot en beledig en jul naam weggooi soos iets wat sleg is, ter wille van die Seun van die mens... want hulle vaders het net so aan die profete gedoen... Wee julle wanneer al die mense goed van julle praat, want hulle vaders het net so aan die valse profete gedoen” (Luk. 6:22-26).

Is daar ‘n positiewe emosionele reaksie by jou as jy ter wille van Christus vervolg word? Nadat die apostels geslaan en verbied is om in die Naam van Jesus te preek, het hulle “van die Raad af weggegaan, bly dat hulle waardig geag was om vir sy Naam oneer te ly” (Hand. 5:41). Ons geloofslewe moet versterk word sodat ons op groter aanslae voorbereid kan wees. Ons geloof in Jesus Christus is die oorwinning wat die wêreld oorwin het (1 Joh. 5:4-5).

Ons weet dat die uiteindelike oorwinning vir volle beheer oor die aarde en al sy inwoners verseker is. Die loon wat die Here Jesus in dié dag aan sy getroue dissipels sal gee, sal wonderlik wees. As ons nou saam met Hom ly, sal ons eendag saam met Hom verheerlik word (Rom. 8:17). Moet dus nie nou na beloning en erkenning soek in ‘n wêreld wat in die mag van die Bose lê nie. Stry die goeie stryd van die geloof en verdedig die unieke evangelie van Christus vreesloos, want niks kan ons skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus is nie – nie eers die ergste verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of die swaard nie (Rom. 8:35). “In al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het” (Rom. 8:37).

Omdat die Here Jesus getrou was tot die dood toe, ja, die dood van die kruis, het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is” (Fil. 2:8-9). In die lig van sy voorbeeld moet ons ons kruis met blymoedigheid dra en in sy voetspore volg, sonder om onder die druk van ‘n sondige wêreld te swig, moedeloos te word en die stryd gewonne te gee: “Julle moet ag gee op Hom wat so ‘n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie” (Heb. 12:3). Die waarheid sal sekerlik seëvier omdat die kruisweg tot oorwinning lei!

‘n Toename in Jodehaat

Die duiwel is aktief besig om onder Christene én nie-Christene ‘n gees van Jodehaat aan te blaas. Hy is bewus van die feit dat God vir Israel verkies het om deur hulle sy Woord aan die wêreld te skenk (Rom. 3:1-2), asook die Verlosser (Rom. 9:5). Satan weet van Bybelse profesieë oor die wederkoms van Christus na Jerusalem, die geestelike herstel van ‘n oorblyfsel in Israel, en van die leidende rol wat die geredde Israel in die millennium sal speel. Om hierdie rede haat hy Israel en probeer om hulle by die verskillende godsdienste én by al die nasies van die wêreld in onguns te bring en verwerplik te maak.

Wat Israel self betref, gebruik die duiwel agnostisisme en die voortsetting van ortodokse Judaïsme in Nuwe Testamentiese tye, om daardeur vir Israel in die dooie letter van die ou verbond in te sluit en sodoende van hulle enigste Verlosser af weg te hou. Die gevolg hiervan is dat baie van die ortodokse Jode selfs meer veroordelend teenoor Messiaanse Jode is wat die Here Jesus as Messias dien, as wat hulle teen Jode is wat ander gelowe aanhang.

In sommige van die nie-Joodse gelowe, bv. Islam, vestig Satan ‘n geweldige haat en onverdraagsaamheid teen die Jode, met die gevolg dat radikale Moslems ‘n heilige oorlog (jihad) teen Israel en sy bondgenote voer. Baie van die Christelike kerke bevorder dieselfde gees van dwaling deur die vervangingsteologie, in terme waarvan die kerk homself as die Israel van die Nuwe Testament sien. Hierdeur word Israel sy Bybelse posisie as volk van God ontneem, en word die herstel van Israel nie aktief deur sulke gelowiges ondersteun nie. Daar is ook onbybelse identiteitsbewegings soos die Israelvisie (British Israelism) in terme waarvan mense hulleself as lede van die sogenaamde tien verlore stamme van Israel sien, en in die proses aktiewe Jodehaters word wat die moderne Jode se Bybelse identiteit en reg op hulle eie land heftig ontken.

Die gees van Jodehaat gaan in die eindtyd nog tot groot uiterstes in die wêreld gepropageer word, en al die nasies sal daardeur aangehits word om teen Israel en sy komende Messias oorlog te verklaar. Dit sal na ‘n internasionale troepe-sametrekking en die slag van Armageddon in Israel lei. Almal wat hulleself vir die verwoestende werking van die gees van Jodehaat oopstel, hoe subtiel ook al, werk regstreeks in die hand van die Antichris en haal vir hulleself die toorn van God op die hals (Gen. 12:3).

Al is Israel as volk nog geestelik verblind, is ons net erkentlikheid en dank aan hulle verskuldig omdat die Woord van God én die Verlosser van die wêreld van hulle af na ons toe gekom het. As gevolg hiervan moet ons instrumenteel wees om hulle na die Here toe terug te lei (Rom. 11:11-12). Die kerkbedeling is haas verby, dan sal die hele oorblyfsel van Israel gered word en ‘n seën vir die hele wêreld wees (Rom. 11:25-26; Jes. 27:6).

Koms van die Bruidegom

Daar is nie iets waarna ‘n weergebore Christen meer moet uitsien as na die koms van die hemelse Bruidegom om ons te kom haal nie. Hy het belowe om vir ons plek in die hemel te gaan berei, en as Hy klaar is, kom Hy ons haal sodat ons ook kan wees waar Hy is. Daar is onuitspreeklike heerlikheid wat op ons wag. Niks wat ons ooit op aarde gesien of in ons harte bedink het, kan hiermee vergelyk word nie: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van die mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet” (1 Kor. 2:9).

Die wonderlikste van alles sal wees om die Here Jesus in al sy heerlikheid te aanskou “wanneer Hy kom om verheerlik te word in sy heiliges en bewonder te word in almal wat glo” (2 Thess. 1:10). Die vooruitsig op hierdie ontmoeting moet ons tot groter heiligheid aanspoor, want “elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is” (1 Joh. 3:3). “Ons het [hierdie hoop] as ‘n anker van die siel wat veilig en vas is en ingaan tot binnekant die voorhangsel” (Heb. 6:19). Lewe die verwagting van die Here Jesus se skielike verskyning in jou hart? Paulus was ingestel op die dag wanneer hy voor Christus sal staan: “Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het” (2 Tim. 4:8).

Terwyl ons die wedloop hier op aarde loop, moet ons oë, geestelik gesproke, op die Here Jesus gevestig wees wat die Leidsman en Voleinder van ons geloof is (Heb. 12:1-2). Mense wat nie op die verskyning van Christus ingestel is nie, het ‘n ander toekomsverwagting. Sommige verwag verkeerdelik die Antichris voordat Jesus Christus sy gemeente in die geheim kom haal, en hou hulleself met die mees vergesogte spekulasie oor die identiteit van hierdie toekomstige misleier besig. Hulle maak ook allerlei planne om tydens sy bewind op aarde te kan oorleef. Hierdie gedagtes vertroebel die verwagting op Christus se koms vir sy heiliges en skuif dit verder terug deur dit aan die vooraf verskyning van die Antichris onderhewig te maak. As gevolg hiervan fokus baie gelowiges nie op Christus nie, maar op die Antichris.

Afspraak voor die regterstoel

Weergebore Christene wat die wegraping verwag, moet ook altyd in gedagte hou dat ons direk ná die wegraping voor die regterstoel van Christus gestel sal word om rekenskap van ons lewens ná bekering te gee (2 Kor. 5:10). Almal van ons het die opdrag om Christus se getuies te wees en vir Hom te werk. Het jy uitvoering aan hierdie opdrag gegee en dien jy die Here van harte, of sal jy dalk met leë hande voor Hom verskyn, gered asof deur vuur heen? (1 Kor. 3:15).

Ons moet voortdurend op hierdie afspraak ingestel wees, asook op die feit dat ons in ons verbygaande, aardse lewe net beperkte tyd het om die Here te dien en op dié manier dinge te doen wat ewigheidswaarde het. “Die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van die Vader doen, bly vir ewig” (1 Joh. 2:17). Ons moet as Christene volgens die wil van die Here leef as ons Hom wil behaag. “Want dit is die wil van God, julle heiligmaking” (1 Thess. 4:3). Om werklik heilig en diensbaar aan die Here te wees, moet ons die begeerlikhede en rykdomme van die wêreld verloën, na die wil van God vir ons lewe soek en daadwerklik uitvoering daaraan gee:

“Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer – dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is” (Rom. 12:1-2). As jy God se welgevallige en volmaakte wil doen, sal jy nie met leë hande voor Christus se regterstoel staan nie.

Verskyning van die Antichris as valse vredevors

Nou moet ons kyk na dit wat die verskillende groepe mense wat nie vir die wegraping gereed is nie, te wagte kan wees. Die vormgodsdienstiges, die ongeredde Jode én die hele ongeredde wêreld gaan onverwags deur die spoorlose verdwyning van miljoene Christene oorval word. ‘n Minderheid van hulle sal op grond van Bybelse feite weet wat gebeur het, en ook bedag daarop wees dat daar spoedig ‘n valse wêreldleier, die Antichris, op die toneel sal verskyn. In hierdie tyd van totale geestelike duisternis sal valse teorieë oor die verdwyning van groot getalle mense die wêreld ingestuur en deur die naïewe, oningeligte massas geglo word.

Die Antichris sal tydens ‘n oorlog wat daardie tyd in die Midde-Ooste sal uitbreek, tot Israel se redding kom en ook deur die hele wêreld geloof word omdat hy ‘n moontlike derde wêreldoorlog afgeweer het. Die Jode sal hom as Messias aanvaar, en so ook die hele res van die wêreld. Hulle sal ‘n sewe jaar lange verbond met hom sluit. Onder beïnvloeding van ‘n ander wêreldleier, die valse profeet, sal alle gelowe op aarde die Antichris as hulle gemeenskaplike wêreldmessias aanvaar. Godsdienseenheid sal die grondslag van die nuwe wêreldorde wees, waarin politieke en ekonomiese eenheid ook binne die raamwerk van ‘n wêreldregering bevorder sal word. Die slagspreuk sal wees: “Alles is een.”

Kort ná die Antichris se openbaring as wêreldleier en wêreldmessias sal aansienlike groepe ingeligte mense hom verwerp en hulle tot die ware Messias, Jesus Christus, bekeer. Uit hierdie herlewing sal daar 144 000 geredde Jode as evangeliste in die diens van die Here afgesonder word. Die valse, vormgodsdienstige Christelike kerke, saam met al die valse nie-Christelike godsdienste, sal die Antichris as wêreldmessias aanhang en as gevolg daarvan die volgelinge van die Here Jesus verwerp, teen hulle diskrimineer en die lewe vir hulle baie moeilik maak. Die 144 000 geredde Jode sal ‘n opdraande stryd in hulle eie volk voer omdat die groot meerderheid die Antichris sal erken (Joh. 5:43), van harte sal navolg en ook die reg by hom sal verkry om die tempel in Jerusalem te herbou. Hulle sal werklik dink dat die Messiasryk aangebreek het en dat die ortodokse Joodse geloof in sy volle glorie herleef het, met offerdiens en al, maar sonder die ware Messias.

Die Antichris word wêrelddiktator en voer ‘n skrikbewind

Alhoewel Israel, die ongeredde nasies en die alliansie van valse godsdienste dit nie sal verwag nie, sal hulle utopia van wêreldeenheid net 3½ jaar lank hou – dan sal dit skielik en dramaties in duie stort en deur die ergste skrikbewind van alle tye gevolg word: “Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid – dan oorval ‘n skielike verderf hulle soos die barensnood ‘n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie” (1 Thess. 5:3). Die volgende belangrike dinge gaan in die middel van die sewe jaar lange verdrukking met die sataniese driemanskap gebeur:

Moord op die Antichris en sy opstanding uit die dood. In die middel van die verdrukking van sewe jaar sal die Antichris deur een van sy teëstanders vermoor word, maar deur die mag van Satan wonderbaarlik uit die dood opstaan.(Op. 13:3). Hy sal ten nouste deur die valse profeet bygestaan word, wat verbysterende tekens en wonderwerke sal doen. Dit sal ‘n groot vertoon van bonatuurlike kragte wees: “Hy maak dat die aarde en die wat daarop woon, die eerste dier aanbid waarvan die dodelike wond genees is. Hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense” (Op. 13:12-13).

Van vredevors tot tiran. Wanneer die Antichris weer lewendig word, sal die gees van Satan hom totaal bemeester en hy sal deur intense weerwraak teen al sy opponente aangevuur word. Dit sal meebring dat sy 3½ jaar lange nuwe wêreldorde van vrede en eenheid onmiddellik beëindig en deur ‘n militêre diktatuur vervang sal word. Sy ongelooflike prestasies en militêre welslae sal veroorsaak dat die hele misleide wêreld hom in verwondering sal navolg en selfs ook sal aanbid: “En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aangegaan... en die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer?” (Op. 13:3-4).

Oorlog in die hemel. In dieselfde tyd sal daar ‘n oorlog in die hemel uitbreek wat tot die neerwerping van Satan en sy engele sal lei, sodat hy die mense nie meer voor die troon van God sal kan aankla nie (Op. 12:7-10). Van hierdie oomblik af sal die duiwel sy aandag onverdeeld op die aarde en sy reeds misleide inwoners toespits: “Wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede omdat hy weet dat hy min tyd het” (Op. 12:12). Die neerlaag en verdere vernedering van Satan sal groot woede in hom ontketen, en hy sal hierna volle uiting aan sy vernietigingsdrang teen die mensdom gee – veral teen Israel en die Christene van daardie tyd.

Selfvergoddeliking van die Antichris en die gevolge daarvan. Die nuwe godsdienstige verering sal die Antichris baie aanstaan en hy sal homself in die herboude tempel in Jerusalem tot God verklaar (2 Thess. 2:4). Dit sal meebring dat die alliansie van wêreldgodsdienste (die moeder van die hoere – Op. 17:5) oorbodig sal raak omdat die Antichris nie meer hulle gemeenskaplike messias sal wees nie, maar die god van hierdie wêreld wat homself bokant hulle almal sal verhef. Dit sal die einde van al die valse godsdienste beteken, asook die vernietiging van hulle aanbiddingsplekke (Op. 17:16).

Satanisme en die verpligte aanbidding van die Antichris. In die laaste 3½ jaar van die verdrukking sal net die Antichris en Lucifer aanbid mag word, wat beteken dat satanisme die enigste erkende wêreldgodsdiens sal wees (Op. 13:3-4,8). Diegene wat sou weier om hieraan mee te doen, sal summier tereggestel word (Op. 13:15). Die voorafgaande multigodsdienstige gebruike sal net ‘n kondisionerings- en oorgangsfase na die verpligte en openlike aanbidding van Lucifer en die Antichris wees. Alle afgodsdienaars is reeds met die duiwel besig, al besef hulle dit nie (1 Kor. 10:19-20).

Totale beheer deur ‘n kontantlose ekonomie. Die Antichris se totale beheer oor die mensdom sal deur middel van ‘n nommerstelsel en ‘n kontantlose ekonomie afgedwing word (Op. 13:16-18). Elkeen sal ‘n nommer onder sy vel kry waarsonder hy nie sal kan koop of verkoop nie. Hierdeur sal alle mense se bewegings gemonitor word en ook seker gemaak word dat almal van hulle ‘n eed van getrouheid aan die Antichris aflê waardeur hy as wêreldleier én God erken word. Die aanbidding van die dier sal dus saam met die nommerstelsel afgedwing word (Op. 14:11; 19:20). Dit sal onmoontlik wees om by sy ekonomie in te skakel sonder om hom te aanbid.

Die wederkoms van Christus en die vrederyk

Ná sy geheime koms soos ‘n dief in die nag om sy bruidsgemeente voor die aanvang van die verdrukking weg te voer, sal Jesus Christus aan die einde van die verdrukking ten aanskoue van alle mense op aarde kom en sy voete op die Olyfberg neersit. Dit sal die onmiddellike einde van die Antichris en sy skrikbewind beteken en die duiwel sal vir ‘n duisend jaar lank in ‘n put gebind word sodat hy die nasies nie kan verlei nie (Op. 19:19-20; 20:1-3).

Hierna sal die duisendjarige vrederyk op aarde gevestig word waarin die hele Israel gered en in hulle land herstel sal wees, en die heiliges saam met Christus oor die aarde sal regeer. Die kennis van die Here sal die aarde vul soos die waters die seebodem oordek, geregtigheid sal oral geskied, vrede en oorvloed sal heers en almal sal die Here van harte dien.

Die loslating van Satan, die eindoordeel en die nuwe skepping

Aan die einde van die vrederyk sal Satan vir ‘n kort tydjie losgelaat word om sy laaste groot rebellie op aarde te stig (Op. 20:7-10). Hierdeur sal dit aan die lig kom wie van die mense op aarde nie weergebore is nie, want hulle sal sonder enige weerstand in die duiwel se mag val. Nadat die Here hierdie opstandelinge met vuur uit die hemel verdelg het, sal die tweede opstanding plaasvind – dit is al die goddeloses van alle tye. Hulle sal dan voor die groot wit troon tot die ewige poel van vuur verdoem word. Hierna sal ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde geskape word waarin geregtigheid sal woon. Geen sonde sal ooit daar inkom nie (Op. 21:27).

Is jou saak met die Here reg?

In die lig van die dramatiese dinge wat in die afsienbare toekoms gaan gebeur, behoort dit vir almal duidelik te wees dat die smal weg waarop die regverdiges wandel en die breë weg waarop al die verlore sondaars hulle bevind, onwrikbaar besig is om op hulle finale bestemmings af te stuur – die smal weg in die hemel en die breë weg in die poel van vuur. Aan die einde van die reis sal die geleentheid om van die breë weg af na die smal weg oor te kom, vir altyd verby wees. Op die oomblik leef ons nog in genadetyd waarin sondaars wat die Here Jesus as hulle Verlosser aanneem, van hulle sondes gereinig en nuwe mense gemaak kan word.

Redding

Het jy al van die duisternis van Satan se koninkryk af oorgekom na die lig van die Here se koninkryk? Christus het deur sy kruisdood voorsiening vir die redding van alle mense gemaak, want “so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan, en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder” (Luk. 24:46-47). Daar is ongelukkig mense wat dink dat bekering nie nodig is nie, en dat ons net in die Here Jesus moet glo om gered te word. Geloof in Christus vereis noodwendig bekering, want ‘n persoon kan nie sê dat hy in Jesus Christus glo terwyl hy steeds die ou weë bewandel en nog nie sy sondes bely en laat staan het nie.

Paulus bevestig ook die noodsaaklikheid van bekering. In Handelinge 17:30 sê hy: “God… verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer.” Dit het ‘n universele toepassing op alle mense oral op aarde ná die koms van Jesus. Dit is in die lig hiervan dat Paulus die goddelike mandaat vir sy hele bediening beskryf. Die Here Jesus het aan hom gesê: “Ek stuur jou na die heidene om hulle oë te open, dat hulle hul van die duisternis tot die lig kan bekeer en van die mag van die Satan tot God, sodat hulle deur die geloof in My vergifnis van sondes en ‘n erfdeel onder die geheiligdes kan ontvang” (Hand. 26:17-18).

Dit is presies wat baie van die heidene gedoen het, oral waar Paulus die evangelie verkondig het. Teenoor die Thessalonicense getuig hy: “…hoe julle jul van die afgode bekeer het tot God, om die lewende en waaragtige God te dien” (1 Thess. 1:9). In sy brief aan die Romeine spreek hy alle sondaars aan wat hulleself teen die evangelie van Jesus Christus verhard: “Of verag jy die rykdom van sy goedertierenheid en verdraagsaamheid en lankmoedigheid, omdat jy nie besef dat die goedertierenheid van God  jou tot bekering wil lei nie?” (Rom. 2:4). Vir die Hebreërs sê hy dat daar in ‘n verlore sondaar se lewe eers “die fondament van die bekering uit dooie werke en van geloof in God” gelê moet word, waarna heiligmaking en geestelike groei volg (Heb. 6:1).

Vir die Korinthiërs sê hy dat droefheid oor sonde na ‘n ware bekering tot redding lei (2 Kor. 7:10). Die volgorde van gebeurtenisse op die heilsweg in hierdie vers is duidelik: (1) berou oor jou sondige toestand, (2) ‘n bekering waardeur jy op jou pad van sonde omdraai deur al die sondes waarvan die Heilige Gees jou oortuig, te bely en die vergifnis wat Christus aan jou bied, in die geloof te aanvaar; en (3) redding as ‘n daad van die Here waardeur Hy jou sondes vergewe, jou siel wederbaar en aan jou die ewige lewe skenk. Bekering is dus ‘n wesenlike deel van die Bybelse verlossingsleer. Wanneer Paulus vir die tronkbewaarder in Filippi sê: “Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word” (Hand. 16:31), dan is bekering duidelik hierby ingesluit. Dit is onmoontlik om ‘n saligmakende geloof in Christus te hê sonder om op jou pad van sonde om te draai en Jesus Christus as jou Verlosser aan te neem, te volg en te dien. ‘n Geloof sonder daadwerklike optrede wat in ooreenstemming met jou geloof is, is dood (Jak. 2:26).

Heiligmaking

Ná bekering moet alle Christene ook heiligmaking in hulle lewens nastreef, want “soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word” (1 Pet. 1:15). Soos die vroeë dissipels moet ons ná bekering ‘n verdere selfondersoek doen en ‘n volle oorgawe maak sodat ons met die Heilige Gees vervul kan word (Luk. 24:49: Hand. 1:4-5,8). Paulus het hierdie opdrag aan die gemeente in Éfese herhaal: “Word met die Gees vervul” (Ef. 5:18). Vir die Thessalonicense het hy gesê: “En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!” (1 Thess. 5:23). Waarom moet ons, veral met die oog op die wederkoms, volkome heiligmaking deelagtig word? Jesus Christus wil die gemeente “voor Hom stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergliks, maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees” (Ef. 5:27).

Daar is egter ‘n groot struikelblok in enige Christen se lewe wat oorwin moet word voordat hy of sy met die Heilige Gees vervul kan word, en dit is die vlees wat die ou, sonde-geneigde natuur van die mens is. By my wedergeboorte (redding) kry ek wél ‘n nuwe natuur in die plek van die ou natuur wat my voortdurend laat sondig het. Selfs al is daar nou ‘n nuwe geestelike natuur in my lewe gevestig, het ek nog steeds ‘n menslike liggaam met al sy sintuie (dit word ook die ‘vlees’ genoem – Gal. 2:20). Ek moet daarop bedag wees dat my liggaam deur die mag van die gewoonte daarop ingestel is om in terme van die begeerlikhede van die ou natuur (die vlees – Gal. 5:17) te leef. My liggaam bied dus ‘n skuilplek en potensiële assosiëring met sy ou natuur, al is die doodstraf in beginsel by my wedergeboorte daaroor uitgespreek.

Die groot uitdaging waarvoor elke Christen tydens heiligmaking te staan kom, is om sy ou natuur heeltemal af te sterf en ooreenkomstig sy nuwe natuur te leef. Hiervoor is daar twee dinge nodig: (1) ‘n Bewustelike aflegging van die ou natuur wat homself opnuut wil laat geld. Dit word deur selfverloëning en ‘n onvoorwaardelike identifisering met die kruis van Christus gedoen, en (2) Vervulling met die Heilige Gees, wat aan my krag tot oorwinning oor sonde, die wêreld en die vlees sal gee en die nuwe natuur van Christus in my lewe sal uitwerk. Stap 1 is my verantwoordelikheid, en stap 2 is dit wat die Here in reaksie op ‘n volle oorgawe vir my sal doen.

Voldoen jy aan die voorwaarde vir heiligmaking? Die Here Jesus sê dat ons onsself moet verloën en ons kruis elke dag opneem en Hom volg (Luk. 9:23). Dit is die kruis van Christus waardeur ons vir die wêreld gekruisig is en die wêreld vir ons (Gal. 6:14). Op hierdie manier lê ons die oue mens (die vlees) af wat deur die begeerlikhede van die verleiding ten gronde gaan, en beklee ons met die nuwe mens wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid (Ef. 4:22-24).

Die vlees moet dood, en solank as wat ek in ‘n verganklike liggaam is, moet ek deur ‘n lewe van toewyding sorg dat die ou natuur dood bly en nie weer herleef nie. Ek moet elke dag meer en meer aan die dood van die Here Jesus gelykvormig word as ek werklik in die krag van sy opstanding wil lewe (Fil. 3:10). Dit verg ‘n bewustelike ingesteldheid dat ek vir die sonde gesterf het en lewend vir God is deur Christus Jesus (Rom. 6:2,11-13).

As ek nie in hierdie ingesteldheid leef en wandel nie, dan skep ek weer vir die vlees ruimte om van die kruis af te kom en te herleef. Paulus sê vir die Galásiërs: “Dié wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig. As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel. Laat ons nie word soekers van ydele eer wat mekaar uittart en mekaar beny nie” (Gal. 5:24-26). Hieruit is dit duidelik dat dit van ‘n Christen verwag word om nie net in beginsel op grond van sy bekering die ou lewe (die vlees) as gekruisig te beskou nie, maar om aktief deur die Gees te wandel sodat die ydelheid van die vlees nie weer die oorhand kry om hom te laat struikel nie.

Daar is inderdaad ‘n moontlikheid dat die vlees weer kan herleef as ek aan die versoekings daarvan toegee, wat sal beteken dat ek met die Gees begin en met die vlees eindig (Gal. 3:3). Dan is ek ‘n teruggevalle Christen wat weer ‘n nuwe oorgawe aan die Here moet maak sodat die vlees by hernuwing onttroon kan word. Indien ‘n jong Christen óf ‘n teruggevalle Christen nalaat om die vlees oor te gee om gekruisig te word en ook gekruisig te bly, sal dié persoon nêrens in sy geestelike lewe kom nie: “Want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie” (Gal. 5:17). As die vlees egter gekruisig is en die Gees het volle beheer oor jou lewe om die Here Jesus in jou gestalte te laat aanneem, is jy op die oorwinningspad: “Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie” (Gal. 5:16).

Die tweede stap in heiligmaking volg op die kruisiging van die vlees, en behels die vervulling met die Heilige Gees. Hierdeur kry ons krag om oorwinnend te leef en die Here vreesloos te dien: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees” (Hand. 1:8). Toe Paulus drie dae ná sy bekering met die Heilige Gees vervul is, het hy “dadelik Christus... verkondig, dat Hy die Seun van God is” (Hand. 9:20). Die krag van die Heilige Gees stel ons ook in staat om oor al die versoekings en aanslae van die Bose te kan triomfeer: “Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel” (Ef. 6:10-11).

‘n Lewe van oorwinning en godsvrug verseker dat ek myself nie onder die dwase maagde sal bevind wanneer die hemelse Bruidegom kom nie. Ek sal met die olie van die Heilige Gees in my lewe vervul wees, daarom sal die lig van my getuienis, asook die verwagting op die Bruidegom se skielike koms, nie in die middernaguur van hierdie bedeling uitgedoof raak nie. Ek sal vrymoedigheid hê wanneer die Bruidegom kom en nie beskaamd van Hom weggaan by sy wederkoms nie (1 Joh. 2:28).

Gereedheid

Die volgende belangrike gebeurtenis op die profetiese kalender is die skielike en onverwagse koms van die hemelse Bruidegom om sy bruidsgemeente te kom haal. Is jy ‘n lid van dié geseënde groep en is jy ook deur heiligmaking volkome vir hierdie ontmoeting gereed? Die Here wil deur sy Gees ons harte versterk om onberispelik te wees in heiligheid by die wederkoms van die Here Jesus Christus (1 Thess. 3:13; 5:23). Dit beteken dat ons moet waak en bid (Luk. 21:36), en onsself van elke besoedeling van die vlees en die gees reinig (2 Kor. 7:1).

Ons moet nie na uiterlike omstandighede kyk om ons lewens te evalueer nie, maar na die innerlike toestand van ons harte, want die redes vir ‘n lae geestelike standaard is daar te vinde. Ons eie vleeslikheid verblind ons geestelik en maak ons wêreldgesind. As ons ‘n eerlike selfondersoek doen (Ps. 139:23-24; 2 Kor. 13:5), sal ons tot verootmoediging en ‘n volle oorgawe kom. Waak en bid is dus die antwoord. Die dissipels wat reeds met die Heilige Gees vervul was, het in krisistye besef dat hulle ‘n nuwe vervulling met die Gees nodig gehad het (Hand. 4:29-31; 13:52). Deur ‘n vars salwing met krag uit die hoogte het die Here hulle bemoedig en vir die stryd versterk. Wanneer ons naby aan die Here leef, sal ons sy koms verwag en weet dat ons die oordele van die verdrukking sal vryspring om voor die Seun van die mens te staan. Dit sal ons meer vasberade maak om te volhard tot die einde toe.

Die getuienis van Jesus

In die lig van die uitspraak: “die getuienis van Jesus is die gees van die profesie” (Op. 19:10), sluit ons hierdie boek af met ‘n belydenis oor wie Jesus Christus werklik is. Mense wat nie hierdie waarhede bely nie, loop die gevaar om ‘n valse Jesus na te volg (2 Kor. 11:3-4) en die oordele van die ware Jesus oor hulleself te bring. Dit is belangrik dat elkeen van ons in hierdie tyd van groot afvalligheid die Here Jesus opnuut in sy uniekheid, godheid en heerlikheid sal ken en voor mense bely:

·       Ek glo dat Jesus Christus as mens deur die Heilige Gees in die maagd Maria verwek is (Matt. 1:20) en dat Hy daarom die Seun van God én die Seun van die mens is. Die engel Gabriël het vir Maria gesê dat die Kind wat gebore sou word, groot sou wees en die Seun van die Allerhoogste genoem sou word (Luk. 1:32). Tydens sy geboorte uit die geslag van Dawid het Hy net tydelik sy hemelse heerlikheid afgelê (Fil. 2:7), maar nie van sy essensiële godheid afstand gedoen nie (Kol. 2:9). Met sy hemelvaart is Hy uitermate verhoog en het ‘n Naam gekry wat bo elke naam is (Fil. 2:9-11). Tydens sy wederkoms sal Hy in mag en majesteit as Koning van die konings en Here van die here geopenbaar en erken word (Op. 19:16).

·       Ek glo dat Jesus Here en God is. Elke tong sal bely dat Hy die Here is (Fil. 2:11). Johannes sê: “Hy is die waaragtige God en die ewige lewe” (1 Joh. 5:20). Paulus sê: “Hy is die grote God en ons Verlosser (Tit. 2:13), en Thomas het in verwondering uitgeroep: “My Here en my God” (Joh. 20:28). Hy is waarlik Emmánuel – God met ons.

·       Ek glo dat die Here Jesus ‘n ewige selfbestaan as God het. Eers toe Hy as mens gebore is, het Hy Homself ontledig en die gestalte van ‘n dienskneg aangeneem (Fil. 2:7-8). As God bestaan Hy van alle ewigheid af, daarom kon Hy sê: “Voordat Abraham was, is Ek” (Joh. 8:58). Hy is die ewige EK IS (Ex. 3:14), wat ook vir die Jode gesê het: “As julle nie glo dat dit Ek Is nie, sal julle in jul sondes sterwe” (Joh. 8:24).

·       Ek glo dat Jesus Christus een met die Vader en die Heilige Gees is. Hy het self gesê: “Ek en die Vader is een” (Joh. 10:30). Johannes het gesê: “Daar is drie wat getuig in die hemel: Die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een” (1 Joh. 5:7). Ek glo dat Jesus die Woord is wat beide God én mens is. “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God... En die Woord het vlees geword en onder ons gewoon” (Joh. 1:1,14).

·       Ek glo dat die Here Jesus, saam met die Vader en die Heilige Gees, die Skepper van die wêreld is (Heb. 1:2): “Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie” (Joh. 1:3). Paulus sê: “Hy is die Beeld van die onsienlike God... want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op aarde is... Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand” (Kol. 1:15-17).

·       Ek glo dat die Here Jesus ook die herskepper is omdat Hy verlore sondaars wat Hom as Verlosser aanneem, geestelik lewend maak deur hulle te wederbaar. Ons is lewend vir God deur Christus Jesus, onse Here (Rom. 6:11). By sy koms vir die gemeente sal Hy ook aan alle gelowiges onverganklike opstandingsliggame gee (1 Kor. 15:22; Fil. 3:20-21). Ná die eindoordeel sal Hy ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde skep, daarom sê Hy: “Kyk, Ek maak alle dinge nuut” (Op. 21:5).

·       Ek glo dat Jesus Christus se offer aan die kruis ‘n losprys vir die sondes van die hele mensdom was, m.a.w. alle stamme, tale, volke en nasies op aarde, en dat dit die enigste moontlikheid tot versoening met God bied (Joh. 1:29; Ef. 1:7). Die saligheid is in niemand anders nie, want daar is geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie (Hand. 4:12). Ek glo ook dat Jesus Christus ná sy kruisdood uit die dode opgestaan en na die hemel opgevaar het om vir ons in te tree en vir ons plek in sy Vaderhuis te gaan berei (Joh. 14:2-3; Heb. 7:25).

·       Ek glo dat die Here Jesus weer kom om ons te kom haal en die ewige heerlikheid van sy koninkryk deelagtig te maak. Dan sal ons by die bruilofsmaal van die Lam saam met Hom Nagmaal hou om opnuut sy kruisdood in herinnering te roep en lof en eer aan Hom te bring omdat Hy ons siele uit genade gered het. As ons nóú saam met Christus die kruisweg bewandel deur onsself te verloën, ons kruis op te neem en Hom in ‘n vyandige wêreld te volg, sal ons eendag in sy ryk saam met Hom regeer (Rom. 8:17; 2 Tim. 2:12). Dan sal die stryd verby wees en sal Christus se getroue getuies in sy triomfantelike openbaring deel.

Indien ons sou nalaat om die Here Jesus só te ken en te bely, loop ons die gevaar om van Hom net een van baie messiasse van menslike oorsprong te maak, sy godheid te verloën, die betekenis van sy kruisdood af te maak, en dan verder mislei te word om ‘n valse christus in sy plek te aanvaar (Joh. 5:43). In die ontluikende nuwe wêreldorde waarin alle gelowe gelykgestel word, word die godheid en unieke posisie van die Here Jesus ontken. Hy word met Boeddha, Krishna en ander nie-Christelike messiasse gelykgestel, en dit baan die weg vir die Antichris om ook in die naam van Christus te kom en homself as die christus van alle gelowe voor te doen.

Ons sal die tydgees van kompromie, wat ook sterk in Suid-Afrika aan die werk is, moet teëstaan as ons aan die ware Christus getrou wil bly. Hy het belowe dat Hy diegene wat die opmars van die Antichris teëstaan, sal wegneem van die wêreld af, “en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid” (2 Thess. 2:8-12).

Baie mense het al die krag van die dwaling ontvang om Satan se leuens te glo, omdat hulle die kennis van die waarheid verwerp het. Daardeur het hulle aan die god van hierdie wêreld, Satan, die geleentheid gegee om hulle sinne te verblind, “sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie” (2 Kor. 4:4). Wanneer Jesus Christus die ware kerk weggeneem het, sal die ongelowige wêreld in verwondering agter die universele messias van alle gelowe aangaan en ook bereid wees om Hom as God te aanbid (2 Thess. 2:4; Op. 13:3-4). Dan sal Satan se multigodsdienstige nuwe wêreldorde ten volle geopenbaar wees.

Terwyl die gees van die dwaling ná die wegraping sonder weerstand op aarde werksaam sal wees, sal die ware gelowiges in die hemel die heerlikheid van die Here aanskou en sy lof besing, want “Hy kom om verheerlik te word in sy heiliges en bewonder te word in almal wat glo” (2 Thess. 1:10). Maranata!