13. Die Val van Babilon

Waarom is gebeure in Babilon (die huidige Irak) so geweldig betekenisvol vir die hele węreld? Omdat daar hier, duisende jare gelede, onder die aanstigting van Satan besluite geneem is wat nog steeds alle mense op aarde ten nouste raak. Besluite oor die toekoms van die mensdom is nie alleen in antieke tye hier geneem nie, maar sal in die nabye toekoms weer hier geneem word. Dit is die rede waarom die geskiedenis van die rebelse mensdom, wat met ‘n Babiloniese sameswering in Genesis 11 begin het, in Openbaring 17 en 18 met ‘n soortgelyke sameswering teen die koninkryk van God sal eindig. Dit is betekenisvol dat die Bybel die eindtydse sameswering ook “Babilon” noem. Die drie uitstaande besluite wat met die omgewing van Babilon in verband staan, asook die implikasies daarvan vir alle mense op aarde, is die volgende:

Die sondeval. Die oorsprong van die mens kan na die tuin van Eden in die huidige Irak en omgewing teruggevoer word. Een van die vroegste name vir Irak was Mesopotamië – die land tussen twee riviere. Hierdie twee riviere is die Tigris en die Eufraat, wat albei deur die vroeëre tuin van Eden geloop het. ‘n Mens kan dus met goeie reg sę dat Irak en sy onmiddellike omgewing die gebied van oorsprong van die mens op aarde is. Die eerste tragiese besluit wat oor die lotgevalle van die mens geneem is, is onder die direkte beďnvloeding van die duiwel in die tuin van Eden geneem. Hier het Adam en Eva ‘n sondige natuur gekry omdat hulle die ware God se bevele verbreek en na ‘n valse god, Satan, geluister het. Hulle het geestelik gesproke onmiddellik gesterf en ook liggaamlik sterflike mense geword. Die dood het hulle aangekleef, en dit, saam met hulle sondige natuur, is deur oorerwing na hulle kinders, en dus na die hele menslike ras, oorgedra. Ons is almal sterflike sondaars wat self ook sonde doen. Romeine 5:12 sę dat deur een mens, Adam, die sonde in die węreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so het die dood tot alle mense deurgedring omdat almal gesondig het. Die duiwel het in Eden ‘n groot slag vir sy eie koninkryk geslaan toe hy die eerste mense verlei het om te sondig en daardeur teen God te rebelleer. Die gevolg hiervan was ‘n geestelik gevalle mensdom wat almal van nature na die sonde neig en dus maklik deur Satan gemanipuleer en mislei kan word.

‘n Babiloniese węreldryk. Die tweede tragiese besluit wat die hele mensdom nadelig sou raak, is weens Satan se misleiding in Babilon langs die Eufraatrivier geneem, naamlik die bou van ‘n groot stad en die vestiging van ‘n Babiloniese węreldstaat as ‘n verdere sameswering teen die koninkryk van God op aarde. Nimrod het hier die eerste goddelose węreldryk gevestig wat ten nouste met ‘n valse węreldgodsdiens saamgewerk het om die mensdom te verslaaf en te oorheers. Babilon het die destyds bekende węreld polities, ekonomies én godsdienstig beheer, en deur middel van die toring van Babel okkultiese godsdienstige mag in opposisie teen God gevestig. Een van die latere konings van Babel, Nebukadnésar, het sy absolute vyandigheid teen God en sy volk gedemonstreer toe hy Jerusalem en die tempel verwoes, baie Jode doodgemaak en duisende ander as krygsgevangenes na Babel weggevoer het. Verskeie soortgelyke węreldryke het in historiese tye ontstaan, bv. die Medo-Persiese, Griekse en Romeinse ryke, en ons is op die drumpel van die laaste een – die komende węreldryk van die Antichris.

Selfs al is Babilon as stad verskeie kere in die geskiedenis gedeeltelik verwoes, het die idee van menslike selfverheffing binne die raamwerk van ‘n valse, mensgemaakte godsdiens, in verborgenheid onder die nasies voortbestaan en nog altyd sy verderflike invloed laat geld. Hierdie “Verborge Babilon” (Op. 17:5) is “die groot stad wat heerskappy voer oor die konings van die aarde” (Op. 17:18), omdat hulle met haar geestelike owerspel bedryf het (Op. 17:2). Die Babiloniese tradisie van valse godsdienste het dus nog altyd voortgeleef en het steeds ‘n natuurlike voorliefde vir haar plek van oorsprong in Babilon. Een van die belangrikste gelowe wat uit haar voortgevloei het, is Islam, wat besig is om ‘n skrikwekkende magsbasis in die Midde-Ooste op te bou. Die Babiloniese oorheersing van die nasies is feitlik daagliks besig om uit te brei: nie alleen is Islam die grootste enkele geloof op aarde nie, maar Islamitiese olieproduserende state oefen ook ‘n groot beheer oor die węreldekonomie uit. Die sogenaamde heilige oorlog (jihad) wat deur fundamentalistiese Moslemgroepe teen Israel, Amerika en verskeie ander lande verklaar is wat Moslembelange teëstaan, is besig om oral in die węreld ‘n wisselende mate van vrees en paniek te saai. Twee van die sterkste moondhede op aarde, Amerika en Rusland, het al ‘n duur prys betaal omdat hulle Moslembelange teëgestaan het. Babilon is besig om ‘n groot eindtydse herverskyning in die Midde-Ooste te maak, en sy fanatieke ondersteuners het węreldwye doelstellings vir die bevordering en verdere uitbreiding van hulle geloof. Hulle streef na universele erkenning vir “Allah” en die Koran.

Die Antichris se węreldstaat. Die derde noodlottige besluit wat namens die hele węreld in Babilon geneem sal word, staan in verband met die verbond wat die nasies in die eindtyd met die Antichris sal sluit. Waar sal hierdie leier gevestig wees? Twee van die Antichris se titels dui spesifiek daarop dat hy in die ou Assiries/Babiloniese magsgebied na vore sal tree en sy koninkryk se hoofkwartier daar sal vestig. In Jesaja 10 word hy die Assiriër genoem, en in Daniël 11 die koning van die Noorde. Beide hierdie titels dui op die gebied ten noorde en noordooste van Israel, wat soms as Assirië en soms as Babilonië bekend gestaan het. Die hartland daarvan is in die huidige Irak – daar waar die tuin van Eden aanvanklik was, asook die antieke Babiloniese ryk ná die sondvloed.

Die eindtydse Babiloniër, die Antichris, sal die geskiedenis van die rebelse nasies afsluit op dieselfde wyse as wat Nimrod daarmee begin het – as ‘n geweldenaar wat homself vergoddelik en ook die stad Babel sal bou. Volgens Openbaring 13:3-4 sal die hele węreld in verwondering agter hom aangaan en hom ook aanbid, en volgens Openbaring 13:7 sal hy mag oor elke stam en taal en nasie kry. Daniël 9:27 sę dat hy met baie nasies ‘n sterk verbond sal sluit. Dit sal die derde groot sameswering wees wat in Babilonië geneem word, en wat die lotgevalle van al die nasies drasties sal verander. Die Here Jesus het in Johannes 5:43 die feit beklemtoon dat Israel ook verkeerdelik hierdie valse messias sal aanvaar en navolg.

Die ideologie van die Antichris se nuwe węreldorde sal, as Satan se derde groot Babiloniese leuen, met die eerste twee leuens verband hou. Soos wat hy vir Eva in Eden gesę het, sal hy weer eens beweer dat die mens onsterflik en goddelik is (Gen. 3:4-5). Soos by die toring van Babel, sal die ideologie van internasionale eenheid in assosiasie met ‘n alliansie van valse gelowe ook aktief nagestreef word. Dit beteken dat alle gelowe onder die gemeenskaplike leierskap van die “kosmiese christus” as gelykwaardig beskou sal word. Aan die einde van die Antichris se ryk sal die Here se oordele oor Babilon in finale vervulling gaan – dan eers sal hierdie stad en sy geassosieerde afgodediens permanent verdelg word.

Die twee Babilons se finale vernietiging

Volgens Openbaring 17 en 18 is dit baie duidelik dat Babilon in die eindtyd weer sal herleef in afwagting op sy finale vernietiging. In Openbaring 17 word daar na die geestelike Babilon verwys, waardeur die groot rol van die valse godsdienste in die węreldgeskiedenis uitgebeeld word. In Openbaring 18 word die fisiese handelstad, Babilon, wat in die huidige Irak is, beskryf, asook die voltrekking van die oordele wat oor die stad uitgespreek is. Die twee Babilons is ten nouste aan mekaar verbonde omdat die Babiloniese godsdiens ook in hierdie stad ontstaan het. Babilon word sedert 1978 deur Irak herbou, en in September en Oktober 1987 is die eerste fase van die herboude stad feestelik ingewy. Dit sluit die beroemde troonsaal van Bélsasar en die pilaargang van Isjtar in, asook hotelle en toeristegeriewe in die nuwe deel van die stad.

Om die huidige gebeure in Babilon reg te verstaan, moet dit in die lig van die stad se oorsprong en lang tradisie van rebellie teen God beoordeel word. Volgens Génesis 10:8-10 het Nimrod vir homself 'n koninkryk in Babel gevestig. Dit was nie alleen 'n politieke en ekonomiese ryk nie, maar het ook 'n sterk heidense godsdienstige inslag gehad. As 'n geweldenaar en kampvegter vir die mens het Nimrod homself in opposisie teen God gestel. Hy het nie net 'n koning vir die mens geword nie, maar ook 'n god.

Babilon was sedert sy vroegste bestaan die middelpunt en simbool van 'n God-verwerpende węreldmag wat 'n alternatiewe, sataniese koninkryk aan die gevalle mensdom gebied het. Vir sy geestelike ankers het die stad na die kosmiese godewęreld uitgereik. Dit word deur die naam “Babilon” weerspieël, wat “Poort na die gode” beteken. Ná die taalverwarring is Babilon ook met die begrip “verwarring” geassosieer. Die poort na die gode was 'n tempeltoring (ziggurat) waarin die priesters opgeklim het om met die gode kontak te maak. Dit was 'n tempel met 'n traptoring bo-op. Deur middel van die spiraaltrap rondom die toring kon die bo-punt daarvan bereik word. Dit is deur die priesters gebruik as 'n plek waar hulle gemediteer en een met die kosmiese węreld geword het. Waarnemings met die oog op sterrewiggelary is van daardie uitkykpunte af gedoen. Die groot toring van Babel was deel van 'n gebouekompleks wat as die tempel van Mardoek bekend gestaan het.

Profesieë oor die val van Babilon is só duidelik en absoluut dat daar geen tydperk in die vroeëre of latere Babiloniese en Assiriese geskiedenis aangetoon kan word toe dit ten volle vervul is nie. Neem die volgende uitsprake in ag: "So sal dan Babel, die sieraad van die koninkryke, die trotse pronkstuk van die Chaldeërs, wees soos toe God Sodom en Gomorra omgekeer het, en dit sal van geslag tot geslag nie bewoon word nie; en die Arabier sal daar geen tent opslaan nie, en geen herders sal hulle vee daar laat lę en rus nie" (Jes. 13:19-20). Jeremia sę oor die verwoesting van Babilon: "En hulle sal uit jou geen klip neem vir 'n hoek of 'n klip vir fondamente nie; want jy sal ewige wildernisse wees, spreek die Here" (Jer. 51:26).

Dr. J.A. Seiss het in 1865 reeds in sy Lectures on the Apocalypse gesę dat die stad Babilon herbou sal moet word sodat die Here dit soos Sodom en Gomorra totaal kan vernietig om van geslag tot geslag nooit weer bewoon te word nie. Hierdie vernietiging is 'n eindtydse gebeurtenis wat volgens Jesaja 13:6 in "die dag van die Here" sal plaasvind en dus met die slag van Armageddon aan die einde van die groot verdrukking sal saamval. Clarence Larkin het in sy boek Dispensational Truth in 1918 aangetoon dat Babilon nog nooit heeltemal vernietig en onbewoon was nie. Jeremia 51:26 se profesie dat daar ná die finale vernietiging van die stad geen boustene van Babel se ruďnes gebruik sal word nie, moet nog vervul word. Inderwaarheid is verskeie dorpe en stede reeds met boustene uit die puinhope van Babel opgerig. Voordat die huidige herbouing van Babilon in 1978 begin het, is daar ook deur mense in die omgewing aansienlike hoeveelhede bakstene vir bouwerk van dié terrein af verwyder. Verder is daar die feit dat van die ou fondamente weer herbou word, en dit dui ook daarop dat Babilon se finale vernietiging beslis nog toekomstig is.

In Openbaring 17 praat Johannes van mistieke Babilon wat 'n ekumeniese liggaam van valse godsdienste is, en in Openbaring 18 van Babilon as 'n handelstad wat ook 'n belangrike sentrum vir ydele vermaak en boosheid sal wees. Beide hierdie hoofstukke is op die veronderstelling van 'n herboude Babilon gebaseer. Die eerste Babilon word genoem "Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde" (Op. 17:5). Omdat Babilon as stad die versinnebeelding, tuiste en oorsprong van die belangrikste heidense godsdienste is, word die eindtydse, valse alliansie van węreldgodsdienste met hulle sterk Oosterse mistiese inslag op 'n baie gepaste wyse as mistieke of verborge Babilon beskryf. Daar is reeds verskeie multigodsdienstige liggame in die węreld, waarin alle denkbare gelowe met mekaar assosieer en ter wille van węreldvrede en -eenheid saamwerk. Hieronder is ook vervalle Protestantisme, omdat daar verskeie sogenaamde Christenleiers is wat volle “broederlike” erkenning aan die nie-Christelike gelowe in die węreld verleen. Hierdie groepe sal vroeg in die verdrukking 'n enkele ekumeniese liggaam onder die leiding van die valse profeet vorm nadat hulle die Antichris as hulle gemeenskaplike, universele messias aanvaar het.

Die ekumeniese godsdiens van die verdrukking word in Openbaring 17:5 deur 'n ontugtige vrou voorgestel wat op die dier se rug ry. Dit dui op 'n antichristelike huwelik tussen godsdiens en politiek in die ryk van die dier. Volgens Openbaring 17:9-10 en 18 het dié ontugtige vrou ál die vorige węreldryke beheer deur hulle aan 'n heidense godsdiensstelsel te verbind. Haar invloed moet dus nie onderskat word nie, want haar vermoë tot die misleiding van die nasies is geweldig groot. Sy sal haar miljoene volgelinge in die verdrukking oorreed om die Antichris aan te hang. Getrou aan haar ware karakter, sal sy fanaties teen evangeliese Christene gekant wees wat haar goddelooshede openbaar maak en hulle nie by haar wil skaar nie. Soos wat sy deur die eeue heen Jode en Christene vervolg het, sal sy in die komende verdrukking nog in 'n meerdere mate doen. Johannes beskryf haar as totaal moorddadig teenoor Christelike teëstanders wat haar dwalings verwerp: “En ek het die vrou gesien, dronk van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus" (Op. 17:6).

Hierdie slegte vrou se natuurlike aangetrokkenheid tot die stad Babilon waar sy haar vroegste oorsprong het, sal daartoe lei dat sy haar hoofsetel weer na Babilon sal verskuif. Volgens 'n profesie in Sagaria 5:5-11 sal sy na die land Sinear, dit is Babilonië, verskuif word wanneer daar vir haar ‘n huis gebou is. Haar verskuiwing sal ‘n hoë prioriteit wees, want dit sal in groot haas geskied.

Mistieke Babilon, as die bruid van die Antichris, gaan nie 'n lang en gelukkige huwelik hę nie. Sy sal net vir 3˝ jaar op die dier se rug ry, en groot voorregte en aansien in sy koninkryk geniet voordat sy afgegooi en haar godsdienstige organisasies nietig verklaar sal word. Daar kan dus reg uit die staanspoor 'n min dae-kalender gehou word waarop die dae van haar kortstondige glorie afgemerk kan word – 1260 dae van haar huweliksdag af tot by haar verwerping wanneer haar rol uitgedien sal wees. Sy sal dan ‘n ultimatum ontvang om die Antichris nie meer net as Messias nie, maar as God te aanbid. Weiering om hieraan te voldoen, sal deur openbare teregstelling strafbaar wees: "En die tien horings wat jy op die dier gesien het, hulle sal die hoer haat en haar verlate maak en naak, en haar vlees eet en haar met vuur verbrand" (Op. 17:16). Dit sal in die middel van die verdrukking gebeur wanneer die Antichris homself tot God verklaar – dan sal hy nie meer as universele messias vir 'n alliansie van węreldgodsdienste beskikbaar wees nie. Alle gelowe sal dan verbied en hulle aanbiddingsplekke verwoes of vir ander doeleindes aangewend word. Hierna sal net sy finale godsdienstige doelstelling geld, naamlik om as God aanbid te word.

Wat 'n twyfelagtige voordeel sal mistieke Babilon nie geniet vir die groot prys wat sy sal moet betaal om guns in die dier se oë te vind nie! Sy sal haar gewete moet verkrag, haar rug op die lewende God en sy Seun, Jesus Christus, draai, bereid moet wees om gruwelik misbruik te word, en boonop nog 'n verbond met die dood sluit – dit alles vir die spreekwoordelike pot lensiesop!

Internasionale sentrum

Die herboude stad Babilon sal volgens Openbaring 18 teen die einde van die verdrukking ‘n groot rol as politieke-, handels- en vermaaklikheidsentrum speel. Daar kan verwag word dat wanneer die Antichris dit tot sy hoofstad verklaar, bouprojekte gelyktydig deur alle nasies daar onderneem sal word om hulle diplomatieke en ekonomiese gesantskappe te huisves. Die stad sal 'n kosmopolitiese karakter hę en in die kort ryk van die dier 'n samevloeiingspunt vir verskeie tale, kulture en godsdienste wees. Hier het die verskillende volke met die taalverwarring uitmekaar gegaan, en dit sal nie verbasend wees as 'n poging aangewend word om hulle weer hier bymekaar te bring nie! Soos Babilon van ouds, moet hulle deur 'n gemeenskaplike visie en die najaag van gemeenskaplike ideale in 'n nuwe eenheidsverband saamgesnoer word. In die dae van antieke Babilon, 4 500 jaar gelede, is die eerste verenigde nasies-konferensie op rekord op die vlaktes van Sinear gehou. Die afgevaardigdes het gesę: "Kom, laat ons vir ons 'n stad bou en 'n toring waarvan die spits tot aan die hemel reik; en laat ons vir ons 'n naam maak, sodat ons nie oor die hele aarde verstrooid raak nie" (Gen. 11:4).

In moderne tye sal hierdie verklaring van voorneme moontlik só klink: "Kom, laat ons saamwerk en vir ons in die Midde-Ooste 'n stad bou wat 'n simbool van węreldeenheid sal wees. Laat ons 'n universele godsdiens beoefen waarin alle mense erken dat hulle broers en susters is wat dieselfde God aanbid. Laat ons vir onsself een monetęre stelsel, een regering en een maatskaplike orde van węreldburgers vestig waarin almal dieselfde internasionale handves vir menseregte onderskryf. Alleen dán sal daar harmonie en eenheid onder alle mense wees, en sal hulle nie in selfgesentreerde en onafhanklike nasionale groepe die aarde bewoon en mekaar voortdurend beveg nie." Die ideologie van die moderne toring van Babel is węreldwyd reeds goed gevestig. Die finale implementering daarvan sal in groot haas en te midde van koorsagtige entoesiasme geskied, en sal die einddoel van die huidige inisiatief vir ‘n nuwe węreldorde wees.

Aan die einde van die groot verdrukking sal die finale ondergang van die herboude Babilon aanbreek (Op. 14:8; 16:17-19; 18:2,8-10,21). Uit die betrokke skrifgedeeltes is dit duidelik dat daar nie van 'n geleidelike verval en agteruitgang van die stad oor eeue heen gepraat word nie. Die vernietiging van Babilon sal in een uur plaasvind. Soos in die geval van Sodom en Gomorra, sal dit deur vuur verteer word (Op. 18:8-10,18; Jes. 13:19; Jer. 50:40). Dit sal met 'n groot aardbewing en aanhoudende donderslae en weerlig gepaard gaan, en dan sal die stad met 'n gedruis in 'n poel van vuur wegsink om nooit weer opgebou of bewoon te word nie (Op. 16:17-19; 18:21). Die rook van haar verbranding sal donker wolke oor die vlaktes van Sinear laat opstyg wat selfs van skepe af op die Persiese Golf gesien sal kan word (Op. 18:17-18). Die handelaars en seevaarders sal almal die verwoesting van hierdie stad met sy rykdom, prag en praal beween.

Op die plek waar Babilon gestaan het, sal net 'n verlate krater wees. Oorblyfsels van sy verwoeste paleise en kastele sal in die krater gesien kan word, maar dit sal 'n skuilplek vir wilde diere en onrein voëls wees (Jes. 13:21-22; Op. 18:2). 'n Onheilspellende stilte sal gedurende die vrederyk hier heers, en niemand sal ooit weer hier woon of selfs net hier oornag nie. Die Arabiese veewagters wat in die omgewing vertoef, sal sorg dat hulle voor donker van hierdie grillerige plek af weg is (Jes. 13:19-20).

Dit is die uiteinde van 'n koninkryk, 'n ideologie én 'n gemeenskap wat die rug op God gedraai, sy gesag en genade versmaai en openlik teen Hom gerebelleer het. Kinders van die Here moet hulleself nie in ekumeniese, Babiloniese godsdienste bevind nie, en ook nie in die herboude stad Babilon nie: "Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hę en van haar plae ontvang nie" (Op. 18:4).

Dit is egter duidelik dat die moderne węreldleiers ‘n koers weg van die Here en sy Woord af ingeslaan het, omdat dit nie vir hulle “polities korrek” is om van regeringskant af net met een godsdiens te identifiseer nie. Om hierdie rede word die Christendom met ander gelowe gelykgestel, en dit baan noodwendig die weg na ‘n multigodsdienstige bedeling – ook op internasionale vlak. Sodoende bou hulle aan ‘n Babiloniese samelewingsorde waarin die mens homself ter wille van vrede en eenheid op aarde in ‘n ekumeniese organisasie van valse godsdienste verskans. Hierdie eindtydse toring van Babel is egter net so seker gedoem om onder God se oordele te val, as wat die eerste toring van Babel op die vlakte van Sinear langs die Eufraatrivier geval het.