1. Die Groot Betekenis van Bybelse Profesieë

‘n Studie van die boek Openbaring moet gedoen word met die verwagting dat dit ons geestelik sal verryk en ‘n spesiale seën van die Here sal meebring. Daar is ‘n saligspreking vir elkeen wat Bybelse profesieë bestudeer en ter harte neem: “Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby” (Op. 1:3). As ons denke en toekomsverwagting op die beloftes in die profetiese woord ingestel is, sal dit ons aandag noodwendig op die hooffiguur van toekomstige gebeure vestig, naamlik Jesus Christus. Hy het beloof om weer te kom, sy bruidsgemeente na haar hemelse bestemming weg te voer, sy vyande wat Hom steeds verwerp, te oordeel, die oorblyfsel van Israel te red, in hulle land te vestig en ‘n regering van geregtigheid vir die hele wêreld in te stel.

Daar is ongelukkig mense wat die waarde van Bybelse profesieë onderskat deur dit óf te ignoreer óf simbolies en allegories te verklaar en sodoende ander betekenisse daaraan toe te skryf. Soos wat die tyd egter verbygaan en profesieë oor die einde van die kerkbedeling letterlik vervul word, neem die belangrikheid van profetiese boeke soos Openbaring toe en bevestig die waarheid van die hele Bybel. Paulus sê: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Tim. 3:16-17). Ons kan nie die profetiese woord ignoreer en meen dat ons nog steeds die hele Bybel bestudeer en die volle raad van God vir die mens verstaan nie – veral nie wat toekomstige gebeure betref nie.

Elke Christen is daartoe verbind om eerbied vir Bybelse profesieë te hê en hom- of haarself aan die bestudering daarvan toe te wy: “En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte; terwyl julle veral dit moet weet, dat geen profesie van die Skrif ‘n saak van eie uitlegging is nie; want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek” (2 Pet. 1:19-21). Hieruit blyk vier baie belangrike beginsels wat ons moet eerbiedig:

Eerstens het Bybelse profesieë ‘n vaste boodskap oor die toekoms. Petrus sê die profetiese woord is baie vas en ons móét daarop ag gee. Dit is nie menslike spekulasie nie, maar ‘n betroubare woord wat beslis in vervulling sal gaan omdat die hoogste gesagspersoon in die heelal, God self, hierdie woorde gespreek het. “God is geen man dat Hy sou lieg nie; of ‘n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hý iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?” (Num. 23:19). Sy Woord is die waarheid (Joh. 17:17), daarom is daar by Hom “geen verandering of skaduwee van omkering nie” (Jak. 1:17). Hy het die toekoms in sy hand en nie een van sy beloftes of waarskuwings sal onvervuld verbygaan nie – in Jesus Christus sal hulle almal vervul word (2 Kor. 1:20).Heili

Tweedens is Bybelse profesieë absoluut uniek en in ‘n kategorie van hulle eie. God het dit deur sy Heilige Gees aan mense bekend gemaak en in sy Woord laat opteken. Hierdie inligting moet van alle ander profesieë onderskei word. Buite-Bybelse profesieë dra nie ‘n goddelike stempel van egtheid en waarheid nie omdat hulle óf menslik óf selfs okkulties van oorsprong mag wees. Profesieë van hierdie aard word nie van ‘n studie van die profetiese woord in die Bybel afgelei nie, maar het hulle oorsprong in drome, visioene, waarsêery, fortuinvertellery, vreemde stemme wat met mense praat, en ook van buite-Bybelse profete en sieners soos Nostradamus en ander.  Baie volke het hulle eie profete wat buite die Bybel om vir hulle profeteer oor wat hulle graag wil hoor. Soms word buite-Bybelse profesieë aan die Bybel gekoppel om meer geloofwaardigheid daaraan te verleen – dan raak dit nog meer misleidend. Bybelse profesieë het net een oorsprong: “…deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.” Bybelskrywers het onder die direkte inspirasie van die Heilige Gees profesieë uitgespreek en neergeskryf. Hierdie direkte openbarings het in die jaar 95 n.C., ná die skryf van die boek Openbaring wat die laaste Bybelboek is, opgehou. Die volle raad wat God aan ons wou openbaar, is in die Bybel opgeteken, daarom moet ons nét die Bybel vir inligting oor die toekoms raadpleeg.

Derdens is Bybelse profesieë nie ‘n saak van eie uitlegging nie. Geen mens op aarde – al is hy ook hoe ver geleerd – kan self, volgens eie insig, die profesieë van die Bybel uitlê nie. Hierdie profesieë is deur die Heilige Gees gegee, daarom kan net Hý jou in die hele waarheid lei en aan jou verligte oë van die verstand gee om die betekenis van sy woorde te verstaan (Joh. 16:13; Ef. 1:18). Jy móét dus weergebore wees en onder die leiding van die Heilige Gees die Woord bestudeer voordat jy die ware betekenis daarvan sal begryp. Selfs al is jy weergebore, moet jy seker maak dat jou vertolking van die profesieë nie deur die kerkvaders of teoloë van jou denominasie beïnvloed word nie. Hulle kan ook verkeerd wees, en as jy hulle sienings navolg, word jy nie noodwendig deur die Heilige Gees gelei nie. Dit is opvallend dat mense wat nie die werklike betekenis van die profetiese woord verstaan nie, daartoe oorgaan om vreemde uitleggings daarvan aan te bied. Omdat dit nie regtig vir hulle sin maak nie, besluit hulle om nie die profesieë ernstig en letterlik op te neem nie, maar om simboliese of allegoriese verklarings daarvoor te gee. In werklikheid is dit ‘n aanduiding van ongeloof in die profetiese woord, want hulle wil nie glo dat daar aan die einde van hierdie bedeling ernstige verval in die Christendom én in die wêreld plaasvind, dat Israel in tye van groot benoudheid en vyandigheid in hulle eie land herstel word, dat daar ‘n Antichris en ‘n groot verdrukking kom, dat die ware gelowiges die verdrukking sal ontvlug, en dat die Here Jesus ná sy wederkoms ‘n duisendjarige vrederyk op aarde sal vestig nie. Hulle vergeestelik eerder die Bybel om van hierdie konkrete feite af weg te kom en sodoende ruimte vir hulle eie standpunte te skep, wat as teologiese tradisies van een geslag na die ander oorgedra word.

Vierdens, sê Petrus, moet ons die profetiese woord bestudeer totdat die môrester in ons harte opgaan. Die môrester dui volgens Openbaring 22:16 op die Here Jesus, en meer spesifiek die feit dat Hy weer kom. Die môrester verskyn in die laaste nagwaak en verkondig die boodskap dat die nag byna verby is. Vir Christene is hierdie boodskap die toekomsverwagting dat Jesus Christus weer kom en dié keer as die son van geregtigheid die hele wêreld sal verlig en sy vrederyk hier sal vestig. Nou is dit geestelik gesproke nog donker, maar weldra sal die nag van sonde en ongeregtigheid verby wees en ewige geregtigheid aanbreek. Het die môrester van hoop en die blye verwagting van die Here Jesus se koms al in jou hart opgegaan? Indien nie, dan moet jy Bybelse profesieë oor die eindtyd en die wederkoms van Christus intensief bestudeer. Sonder hierdie kennis kan jy nie daarop aanspraak maak dat jy ‘n ingeligte Christen is wat in alle opsigte in die lig wandel en jou tydsomstandighede reg verstaan nie. Met die môrester in jou hart maak jy jouself los van die huidige, goddelose wêreld en bou aan ‘n koninkryk wat nou nog verborge is, maar binnekort op aarde geopenbaar sal word wanneer die Koning kom.

‘n Bybelse perspektief

In die slothoofstuk van die Bybel sê die Here Jesus: “Kyk, Ek kom gou. Salig is hy wat die woorde van die profesie van hierdie boek bewaar” (Op. 22:7). Iemand wat die profesieë bestudeer, en in hierdie geval spesifiek die boek Openbaring, word met ‘n Bybelse perspektief op die eindtyd geseën. Hierby inbegrepe is ‘n sterk verwagting dat Jesus Christus in mag en majesteit sal terugkom aarde toe, sy vyande by die slag van Armageddon sal verdelg, die Antichris en die valse profeet in die vuurpoel sal werp en die duiwel in ‘n put sal laat bind (Op. 19:11–20:3). Daarna sal Hy sy vrederyk op aarde vestig waarin sy heiliges saam met Hom sal regeer (Luk. 19:15-19; Op. 5:9-10; 20:4).

Christene wat ‘n toekomstige vrederyk verwag, maak hoegenaamd nie die bewering dat die duiwel gebind is en dat ons nou in die duisendjarige vrederyk leef nie. Ons erken eerder die feit dat die huidige wêreld goddeloos is en in die mag van die duiwel lê, omdat die meeste mense die duisternis liewer het as die lig (Joh. 3:19). As Christene het ons ‘n belangrike rol om hier te speel as die lig van ‘n geestelik donker wêreld en die sout van ‘n moreel bedorwe aarde. Terwyl ons dit doen, waak ons daarteen om een te word met hierdie wêreld wat die pad van rebellie teen God, sy Seun, sy Heilige Gees en sy Woord gekies het (Gal. 1:4; 1 Joh. 5:19). Ons burgerskap is in die hemel, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander om gelykvormig aan sy verheerlikte liggaam te word (Fil. 3:20-21). Tans is ons vreemdelinge en bywoners op aarde, daarom lees ons graag profetiese boeke soos Openbaring oor hoe die Here ‘n einde aan hierdie goddelose wêreld en sy leiers sal maak, en daarna sy regering van geregtigheid sal instel (Op. 11:15; 19:15).

‘n Verdere baie belangrike uitspraak oor die profesieë in Openbaring is die volgende: “Want die getuienis van Jesus is die gees van die profesie” (Op. 19:10). Hierdie teks is ‘n betekenisvolle sleutel tot die verstaan van die profesieë. Die seën of die vloek wat mense tot in alle ewigheid sal ervaar, word op grond van hulle verhouding teenoor die Here Jesus bepaal. Diegene wat in Christus is, kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe (Joh. 5:24; 1 Thess. 1:10; 5:9). Hulle kan hoegenaamd nie in die sewe jaar lange verdrukking op aarde wees nie, omdat dit ‘n tyd van goddelike oordele oor ‘n onbekeerde wêreld sal wees, wat met die bewind van die Antichris sal saamval. Dit is met die oog hierop dat die Here Jesus aan sy dissipels gesê het: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36). Die ongelowiges en vormgodsdienstiges sal egter nie die oordele ontvlug nie (1 Thess. 5:3).

Die woord ontvlug (Grieks ekfeugo) beteken om buite die verdrukking te wees, en volgens die uitspraak in Lukas 21:36 in die teenwoordigheid van die Seun van die mens gestel te word. Die voorvoegsel ek beteken in Grieks altyd buite, daarom is die Nuwe Vertaling van die Afrikaanse Bybel (1983) heeltemal verkeerd as dit beweer dat ons deur die verdrukking moet gaan. Volgens die 1933 vertaling se weergawe van Lukas 21:36 sal waaksame en biddende Christene die verdrukking “ontvlug.”

Die vertalers van die Nuwe Afrikaanse Bybel het ‘n doelbewuste poging aangewend om as gevolg van hulle eie teologiese siening, waarin daar geen plek vir ‘n wegraping is nie, die begrip ontvlug uit die Bybel uit te vertaal. Hulle stel dit só: “Maar wees waaksaam en bid altyddeur dat julle die krag kan ontvang om deur al hierdie dinge wat gaan gebeur, behoue deur te kom en voor die Seun van die mens te verskyn.” In Lukas 21:36 het hulle dus die grondteks verdraai sodat die dissipels van Christus nou deur die verdrukking moet gaan. Dit is ‘n ernstige aantasting van die Woord.

Daar is geen ander gevolgtrekking nie as dat hierdie teks op ‘n doelbewuste en misleidende wyse volgens antichiliastiese eksegetiese beginsels vertaal is. Die vertalers is egter glad nie konsekwent in hulle gebruik van dié verkeerde betekenis nie, want hulle het die woord ekfeugo in Handelinge 16:27 as ontsnap, in Handelinge 19:16 as gevlug, in 1 Thessalonicense 5:3 as ontkom en in Hebreërs 2:3 ook as ontkom vertaal. In Lukas 21:36 word dit egter op ‘n totaal teenstrydige wyse as behoue deurkom vertaal. In die eersgenoemde vier gevalle het die woord telkens die betekenis dat mense uit ‘n bepaalde plek of uit ‘n probleemsituasie wegkom, maar in Lukas 21:36 moet hulle, in stryd met die Bybel self, deur die verdrukking gaan! Die Here bied egter aan ons ontvlugting uit die komende oordele. Die King James vertaling is reg as dit die aksie van “ontvlug” as “escape” vertaal: “...to escape all these things that shall come to pass.” Ons sal nie hier wees nie. Die volk Israel wat steeds die Messias verwerp, die ongeredde nasies, asook al die aanhangers van die valse gelowe en valse kerke, sal wél hier wees.

As ‘n verdere uitvloeisel van hulle negatiewe houding teenoor die begrip “ontvlugting,” beweer verskeie teoloë dat die woord “wegraping” nie in die Bybel voorkom nie. Dit is egter ‘n sinoniem vir die “wegvoering” van die gelowiges waarna Paulus duidelik verwys: “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde" (1 Thess. 4:16-18). Die woord “wegvoer” (harpazo in Grieks) beteken om “vinnig weggeruk” te word van een plek af na ‘n ander toe, en die betekenis daarvan stem presies met dié van “wegraap” ooreen. Dieselfde woord wat in 1 Thessalonicense 4:17 as “weggevoer” vertaal word, word in Handelinge 8:39 as “skielik weggevoer” en in 2 Korinthiërs 12:2 en 4, asook in Openbaring 12:5, as “weggeruk” vertaal. Dit het dus ‘n baie letterlike en voor die hand liggende betekenis wat net so duidelik deur die woord “wegraping” weerspieël word.

Daar was egter beter tye in Suid-Afrika, toe baie van die gereformeerde teoloë, predikante en lidmate in die letterlike vervulling van Bybelse profesieë geglo het. 'n Geesgenoot en produk van hierdie teoloë, dr. D.R. Snyman, wat ‘n NG predikant in Stellenbosch was, was 'n baie bekende chiliastiese skrywer wat verskeie artikels in die tydskrif Kyk, Hy kom! gepubliseer het. Op aandrang van die publiek is hierdie artikels later in 'n boek saamgevat en deur CUM uitgegee onder die titel: Die Komende Christus en die Komende Krisis. Hierin word die tekens van die tye, die herstel van Israel, die wegraping, die verskyning van die Antichris en die duisendjarige vrederyk ná die wederkoms van Christus beskryf. In die voorwoord van sy boek skryf dr. Snyman: “Ons dink met dankbaarheid terug aan die ondersoek van die profesieë deur manne soos wyle prof. N.J. Hofmeyr, ds. G.W.A. van der Lingen, ds. S.J. du Toit, prof. C.F.J. Muller en prof. J.I. Marais. Laasgenoemde het hom in sy latere jare in die besonder op die bestudering van die profesieë toegelê.” Hierdie jare, kort ná die stigting van die Kweekskool op Stellenbosch, is egter lankal verby. Sedertdien het die vergeestelikingsteologie vanaf die Vrye Universiteit in Holland hierheen oorgewaai, omdat baie teoloë vir nagraadse studies daarheen gegaan het. Mettertyd het die lig van die profetiese woord in gereformeerde kringe as gevolg van die nuwe siening uitgedoof geraak.

Toorn oor die goddeloses

Wanneer die gesag van die Bybel oor ‘n bepaalde saak nie meer erken word nie, skep die mens vir homself ‘n visie en Skrifverklaring wat by sy beperkte humanistiese denke pas. Op hierdie manier ontstaan daar leringe van mense, maar die Here het gesê: “Tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is” (Matt. 15:9). Teoloë kan verkeerdelik tot die gevolgtrekking kom dat ‘n liefdevolle God niemand sal oordeel nie, dat ons nou in die duisendjarige vrederyk leef en dat die wêreld na die einde toe ál hoe beter sal word. Die Bybel sê egter dat die wêreld op die donkerste uur in sy ganse geskiedenis afstuur. Jesus Christus het van dié tyd gesê: “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie” (Matt. 24:21-22).

Die toorn van die Lam sal in die verdrukking oor die geestelik verharde wêreld uitgestort word omdat hulle hulself nie wou bekeer nie. Wanneer die kragte van die hemel geskud word en mense weens die groot aardbewings en rampe na die berge toe vlug, sal hulle na die berge en rotse uitroep: “Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Op. 6:16-17). Hierdie mense sal as gevolg van hulle verwerping of minagting van Christus nie die oordele vryspring nie.

Soos in die tyd van Noag en Lot sal Christus met die wegraping die gelowiges uit die komende oordele van die dag van die Here uitred, en daarna die sondaars oordeel (Luk. 17:26-30). Paulus sê: “Wanneer húlle sê: Vrede en veiligheid – dan oorval ‘n skielike verderf hulle... Maar júlle, broeders, is nie in duisternis, dat die dag julle soos ‘n dief sou oorval nie” (1 Thess. 5:3-4). Daar moet dus ‘n duidelike onderskeid tussen die toekoms van gereddes en ongereddes getref word – dit is die “hulle” wat deur die oordele van die dag van die Here oorval sal word, en die “julle” wat as ware gelowiges nie in die oordele sal kom nie.

Dit is nie die wil van die Here om die goddeloses te verdelg nie, daarom bied Hy sy verlossing aan alle mense op aarde aan. Die Here Jesus sê Hy het sy apostels en dissipels na die heidene gestuur “om hulle oë te open, dat hulle hul van die duisternis tot die lig kan bekeer en van die mag van Satan tot God, sodat hulle deur die geloof in My vergifnis van sondes en ‘n erfdeel onder die geheiligdes kan ontvang” (Hand. 26:18).

Die dag van die Here

Die getuienis van Jesus ís die gees van die profesie! (Op. 19:10). As jy sy liefde en reddende genade deur die geloof deelagtig geword het, word jy ‘n mede-erfgenaam van sy hemelse koninkryk, en sal jy ook saam met Hom regeer. As jy egter sy genade-aanbod versmaai, of, soos die Fariseërs, in ‘n dooie vormgodsdiens verval, sal jy deur jou eie toedoen die voorwerp van sy toorn wees. Hy het self gesê dat daar in die eindtyd ‘n groot verdrukking sal wees soos daar nog nooit was nie (Matt. 24:21). Nie net die verdrukking nie, maar ook die eindoordeel en die poel van vuur, is die oordele van God oor die sondaars wat Hom verwerp: “Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God” (Heb. 10:31).

Uit ‘n studie van Bybelse profesieë oor die tekens van die tye weet ons dat die tyd vir die ontvlugting van die gelowiges voor die komende oordele van die verdrukking baie naby is. Daarna sal die Antichris geopenbaar en die oordele van die dag van die Here se toorngloed oor die sondaars uitgestort word. Jesaja sê die volgende oor hierdie verskriklike lot van die sondaars: “Die aarde word heeltemal leeg gemaak en heeltemal geplunder, want die Here het hierdie woord gespreek… Want die aarde is ontheilig onder sy bewoners… Daarom verteer die vloek die aarde en moet sy bewoners boet; daarom word die bewoners van die aarde deur ‘n gloed verteer en bly daar min mense oor… Die aarde word geheel en al verbreek, die aarde is geheel en al aan wankel, die aarde word geheel en al geskud” (Jes. 24:3-6,19; vgl. Jes. 13:9-13).

As jy die Here Jesus nie ken nie, wag die ergste denkbare oordele op jou. Waarom maak jy nie liewer jou saak met Hom reg nie, en ontvlug sodoende die toorn van die Here? “Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die Here; al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol” (Jes. 1:18).

Wanneer die Here Jesus met sy wederkoms terugkom, kom Hy nie net om die sondaars te straf en te oordeel nie, maar ook om sy dissipels te beloon vir hulle arbeid in die Here. In Openbaring 11:18 staan daar: “U toorn het gekom en die tyd van die dode om geoordeel te word en om die loon te gee aan u diensknegte, die profete, en aan die heiliges, en aan die wat u Naam vrees, klein en groot, en om die verderwers van die aarde te verderf.” Al hierdie dinge staan in verband met die dag van die Here. Aan die begin van die dag van die Here sal die eerste opstanding plaasvind en die heiliges beloon word, dan sal die oordele van die verdrukking uitgestort word; hierna volg die vrederyk, en aan die einde van hierdie dag van ‘n duisend jaar sal die tweede opstanding plaasvind en die eindoordeel aanbreek.

In die laaste hoofstuk van Openbaring sê die Here Jesus: “En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees. Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, die eerste en die laaste” (Op. 22:12-13). Ons verdien niks nie, want ons het niks wat ons nie van die Here af ontvang het nie, daarom word hierdie loon genadeloon genoem. In die lig van die groot betekenis van Bybelse profesieë sê Paulus: “Verag die profesieë nie” (1 Thess. 5:20). Moet dit nie verswyg, verdraai of ontken nie, want dan ontneem jy jouself én ander mense wat deur jou beïnvloed word, die lig van die profetiese woord op die lewenspad. Sonder hierdie lig het die gelowige nie ‘n duidelike toekomsverwagting nie en kan ook nie die tekens van die tye reg vertolk nie.

Dwalings van die vergeestelikingsteologie

Dit is nodig om die belangrike implikasies daarvan aan te toon indien mense nie Bybelse profesieë ernstig en letterlik opneem nie, maar deur vergeesteliking totaal ander betekenisse daaraan verleen. Wat Openbaring betref, skep vergeestelikingsteoloë groot verwarring deurdat hulle die volgende stellings maak wat in stryd met hierdie boek se basiese boodskap is:

·       Hulle ontken ‘n voorverdrukking-wegraping, asook die verheerliking van die kerk in die hemel wat in Openbaring 4 en 5 beskryf word, en beweer dat die kerk deur die tyd van verdrukking op aarde moet gaan.

·       Hulle beweer dat die ruiter op die wit perd, wat in Openbaring 6 beskryf word terwyl Christus in die hemel op die troon is, nie die valse christus (die Antichris) is nie, maar Christus self.

·       Hulle beweer dat die 144 000 geredde Jode wat in Openbaring 7:1-8 beskryf word, nie eindtydse Messiaanse Jode uit die twaalf stamme van Israel is nie, maar die miljoene Christene van die kerkbedeling uit alle nasies.

·       Hulle beweer dat al die rampe en oorloë wat in Openbaring beskryf is, reeds in historiese tye plaasgevind het, en dat Openbaring dus nie profesieë oor die eindtyd bevat nie.

·       Hulle beweer dat profesieë oor die Antichris in Openbaring 13 en 17 óf nie letterlik bedoel is nie, óf in ‘n historiese persoon soos Nero in die eerste eeu vervul is.

·       Hulle beweer dat die nommer van die Antichris in Openbaring 13 ook simbolies verklaar moet word omdat dit volgens hulle niks met ‘n letterlike nommer te doen het waardeur die Antichris koop- en verkoopstransaksies sal beheer nie.

·       Hulle beweer dat die slag van Armageddon op ‘n geestelike stryd dui, en beskou nie die stygende konfliksituasie in die Midde-Ooste as die vervulling van Bybelse profesieë nie.

·       Hulle beweer dat die duisendjarige vrederyk van Openbaring 20 simbolies verklaar en op die kerkbedeling toegepas moet word, wat reeds byna 2000 jaar lank voortduur. Dit is ook die belangrikste rede waarom hulle verkeerdelik beweer dat die duiwel nou in ‘n put gebind is.

Ernstige wanopvattings en onrealistiese verwagtings word deur die bewering geskep dat die duiwel nou gebind is en dat ons tans in die koninkryksbedeling leef. Dié idee vorm die grondslag van die koninkryksteologie, in terme waarvan baie mense meen dat ons nou soos konings in rykdom en siektevrye toestande behoort te leef, na willekeur tekens en wonders moet doen, en die gesag oor die wêreld moet oorneem wat in Satan se hande geval het. Hierdie voorspoedsteologie word deur positiewe denke en die verwagting van groot herlewings en deurbrake vir die vestiging van Christelike regerings oral in die wêreld gedryf.

Koninkryksteoloë beskou dit as ‘n teken van swak geloof as mense van groot geestelike afvalligheid en moeilike tye in die laaste dae praat, en as Christene hulleself as vreemdelinge en bywoners sien in ‘n wêreld wat in die mag van die Bose lê. Hulle vermy ook gesprekke en preke oor die Antichris en die groot verdrukking – nie net omdat dit vir hulle negatief is nie, maar veral omdat hulle koninkryksteologie op oorwinning ingestel is en nie na ‘n situasie kan lei waarin die Antichris en die valse profeet oor die wêreld regeer nie. Hulle verwerp ook die idee dat daar ‘n wêreldoorlog kom wat deur die Bybel as die slag van Armageddon beskryf word, omdat hulle ‘n visie van ‘n verenigde, harmonieuse wêreld het waarin almal in vrede saamleef. Dit wat die Here Jesus vir die vrederyk ná sy wederkoms beloof het, eis hulle vir hierdie bedeling op en beloof dit ook aan hulle volgelinge.

Indien ons egter profetiese boeke soos Openbaring lees en besef dat die boodskap daarvan hoofsaaklik op die eindtyd net vóór en net ná die wederkoms van Christus betrekking het, dan verkry ons ‘n heel ander beeld van ons tydsomstandighede en van toekomstige gebeure. Ons besef dat daar ‘n groot verdrukking aan die kom is (Matt. 24:21-22; Op. 6 tot 19), en in die lig hiervan word die belofte van ontvlugting ‘n salige hoop waaraan ons in hierdie troebel tye kan vashou (Titus 2:13). Dan het ons ‘n realistiese, Bybelse verwagting en jaag nie mensgemaakte drome oor die toekoms na nie. Dit is alleen wanneer ons verwagting suiwer in die Woord van God gefundeer is, dat ons nie in die middernaguur van die kerkbedeling aan die slaap sal raak nie – onbewus daarvan dat die Bruidegom enige oomblik kan kom, en ook onbewus daarvan dat ons nie genoeg van die olie van die Heilige Gees in ons lewe het nie (Matt. 25:5-8; Ef. 5:18).

Eers moet ons baie seker maak dat ons die regte beginsels van Bybelverklaring gebruik sodat die Woord in sy suiwer en onvervalste vorm tot ons harte kan spreek. Die leiding van die Heilige Gees in Bybelstudie is onontbeerlik, anders doen mense net kopkennis van die Bybel op waarby hulle geestelik niks sal baat nie. Sulke mense glo nie regtig wat hulle in die Bybel lees nie en verkies om dit te vergeestelik en anders te vertolk. Dikwels kom hierdie skewe vertolkings in die vorm van foutiewe kerkleerstellings na mense toe, wat as die teologiese oorlewerings van hulle denominasie aanvaar word sonder om dit aan ‘n duidelike Skriftoets te onderwerp. Dan verhef hulle kerklike dogma bo die Skrif en laat hulle deur die gebooie van mense lei. Oor sienings en teologiese oorlewerings van hierdie aard sê Jesus Christus: “Julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit en so julle oorlewering te onderhou... So maak julle dan die woord van God kragteloos deur julle oorlewering wat julle bewaar het” (Mark. 7:9,13).

Dit is tot oneer van God en sy Woord, en ook tot persoonlike skande vir die prediker, as mense onder wanindrukke gebring word omdat die Bybel nie reg verklaar en in sy volle betekenis aan hulle voorgehou word nie. Dit verg groot erns en geestelike toewyding van elkeen wat die Here se Woord verklaar, om nie op dié terrein ernstige foute te begaan nie. Paulus sê aan alle evangeliste: “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny” (2 Tim. 2:15). Moenie deur jou onnadenkendheid, gebrek aan kennis, teologiese bevooroordeeldheid, of onsensitiwiteit vir die leiding van die Heilige Gees, foute maak wat tot skewe sienings en onskriftuurlike verwagtings kan lei nie, want daardeur kan die geloof van sommige mense verswak of selfs “omgekeer” word (2 Tim. 2:18; vgl. Gal. 1:6-8; 2 Kor. 11:3-4; 2 Tim. 4:3-4; 2 Pet. 2:1-2). ‘n Ernstige waarskuwing word in die laaste hoofstuk van die Bybel aan mense gerig wat hulleself hieraan skuldig maak (Op. 22:18-19).

In die lig van die botsende verklarings wat dikwels oor Openbaring aangebied word, sal ons in die volgende hoofstuk die verskillende verklaringsbeginsels vir Bybelse profesieë in oënskou neem. Johannes het voor die skryf van die boek Openbaring reeds gesê dat die waarheid van God se Woord ons van vervalsings en skewe vertolkings daarvan sal vrywaar: “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Joh. 8:32). Die vrymakende krag van die lewende God en sy Woord is tot elkeen van ons se beskikking, sodat ons kan toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus (2 Pet. 3:18).