9. Geestelike Betekenis van Jerusalem

Jerusalem is baie meer as net die hoofstad van Israel – dit is kultureel, godsdienstig én polities die hart en siel van Judaïsme. Hierdie stad is ᾿n wesenlike deel van Israel se bestaan as die volk van God, en al hulle toekomsdrome is gebou rondom Jerusalem en die beloftes oor sy glorieryke toekoms. Die geestelike middelpunt van die stad is die Tempelberg, waar die tempel die sigbare vergestalting was van ᾿n goddelike mandaat wat die verbondsvolk oor die stad en die hele land van Israel gekry het. Die Koning van hierdie unieke stad en land is bestem om ᾿n wêreldhervormende rol te vervul waarin alle volke hulleself kan verbly:

“Die Here is groot en baie lofwaardig in die stad van onse God, sy heilige berg! Skoon deur sy verhewenheid, die vreugde van die hele aarde is die berg Sion, aan die noordekant, die stad van die groot Koning! God het Hom in sy paleise bekend gemaak as ᾿n rotsvesting” (Ps. 48:2-4).

Die teenwoordigheid van die huis van die Here op Moria was vir eeue lank die tasbare bewys van God se belang by hierdie stad, sy inwoners en die hele land wat Hy as ᾿n ewige besitting aan hulle gegee het. Die tempel was nie alleen ᾿n simbool van God se teenwoordigheid en die heiligheid wat Hy van sy volk verwag het nie, maar ook die waarborg van beskerming teen al Israel se vyande uit die heidenwêreld: “Rondom Jerusalem is berge; so is die Here rondom sy volk van nou af tot in ewigheid” (Ps. 125:2). God het oor die stad gesê: “Ek sal vir hom wees ... ᾿n vurige muur rondom en tot heerlikheid daar binne-in” (Sag. 2:5).

᾿n Belangrike deel van die Here se betrokkenheid by Israel en Jerusalem is die belofte dat Hy die Messias na hulle toe sou stuur. Vir die ortodokse Jode sal die volle heerlikheid van die stad aanbreek wanneer die Messias kom, die tempel herbou en die wet van die Here volgens Jesaja 2:2-4 van Jerusalem af na die hele aarde toe sal laat uitgaan. Dit sal ᾿n tyd van vrede op aarde wees wanneer die nasies so veilig sal wees dat hulle nie eers meer die behoefte aan militêre opleiding sal hê nie. Israel sal as die Here se spesiale diensknegte deur alle nasies geëer word. Die ortodokse Jode glo egter nie dat Jesus die Messias is nie, omdat Hy nie die beloftes oor die verheffing van Jerusalem en sy inwoners vervul het nie. Hy het inteendeel oordele oor die stad en sy inwoners aangekondig weens hulle ongeloof (Matt. 23:37-38).

Die Messiaanse Jode glo egter dat Jesus die Messias is, dat Hy weer sal kom om die oorblyfsel van Israel te red, die troon van Dawid te herstel en uit Jerusalem oor die hele aarde te regeer. Alle Christene wat Bybelse profesieë letterlik glo, deel ook die Messiaanse Jode se verwagtings oor Jerusalem en sy inwoners. Dit verbind almal van ons daaraan om ᾿n liefde vir Jerusalem te hê, ᾿n studie van die stad en sy inwoners te maak en vir die vervulling van die wonderlike beloftes te bid wat die Here daaroor uitgespreek het (Jes. 62:6-7). In die wêreldwye openbaring van die Messias wanneer Hy vir die tweede keer verskyn, sal Jerusalem en die tempel meer as ooit tevore die heerlikheid van God se teenwoordigheid uitstraal; dan eers sal die oorblyfsel van die nasies die insig hê om Hom te aanvaar sodat hulle in ware vrede op aarde kan deel.

Historiese aanloop

Die heilsgeskiedenis van Jerusalem het 4000 jaar gelede begin toe ᾿n man van God, Melgisédek, die koning van Salem was. Hy was so ᾿n spesiale priester van God dat selfs Abraham, die vader van alle gelowiges (Gal. 3:6-9, 14), volle eer aan hom betoon het:

“Want hierdie Melgisédek was koning van Salem, priester van God, die Allerhoogste, wat vir Abraham tegemoetgegaan het by sy terugkeer toe hy die konings verslaan het, en hom geseën het; aan wie Abraham ook ᾿n tiende deel van alles gegee het – hy was in die eerste plek, volgens uitleg, koning van die geregtigheid en dan ook koning van Salem, dit is koning van vrede; sonder vader, sonder moeder, sonder geslagsregister, sonder begin van dae of lewenseinde, maar gelykgestel aan die Seun van God, bly hy priester altyddeur” (Heb. 7:1-3).

Melgisédek was ᾿n tipe van Jesus, of, volgens sommige verklaarders, ᾿n Ou Testamentiese verskyning van Jesus. Hy is die priester-koning van geregtigheid en vrede. Dit is titels van die Here Jesus, want Hy is priester volgens die orde van Melgisédek. Verder is Hy die Koning van die Jode én van die hele wêreld, met sy aardse troon in Jerusalem (Luk. 1:32; Hand. 15:16-17). Hy is ook ons geregtigheid en vrede.

Abraham het na Salem gegaan waar Jerusalem later gebou is op die berg Sion en die Tempelberg, Moria, om tiendes aan Melgisédek te gee. Só sou Israel én miljoene Christene in die eeue wat kom, na die “huis” van die Here optrek om hulle besittings én hulle lewens aan Hom te wy.

Abraham het later na die berg Moria teruggekeer om sy seun Isak aan die Here te offer. God se opdrag aan hom was duidelik: “Neem jou seun, jou enigste, wat jy liefhet, Isak, en gaan na die land Moria en offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek jou sal aanwys” (Gen. 22:2).

Hier, waar die tempel van die Here ᾿n duisend jaar later gebou sou word, en baie diere geoffer sou word as heenwysings na die uiteindelike offer van die Seun van God nét buite Jerusalem, moes Abraham sy enigste seun aan die Here offer. Isak was ᾿n tipe van die Here Jesus, want hy moes onskuldig geoffer word nadat hy die hout vir die brandoffer op sy eie skouers gedra het. Op die laaste oomblik het die Here ᾿n bok aan Abraham gegee om in die plek van Isak te offer, want Isak was maar net ᾿n tipe van die Lam van God wat in die volheid van die tyd vir die sondes van die hele wêreld geoffer sou word (Joh. 1:29; 1 Pet. 1:18-19).

Hierdie plek, waar Melgisédek priester was en waar Abraham sy seun aan die Here moes offer, was baie spesiaal omdat dit deur die Here self uitgekies is om sy Naam daar te laat woon. Vyfhonderd jaar ná Abraham het Moses aan die volk gesê:

“Julle sal deur die Jordaan trek en woon in die land wat die Here julle God julle laat erwe. … Dan moet julle na die plek wat die Here julle God sal uitkies om sy Naam daar te laat woon, alles bring wat ek julle beveel: julle brandoffers en julle slagoffers, julle tiendes en die offergawe van julle hand” (Deut. 12:10-11).

Nog vyfhonderd jaar later, m.a.w. ᾿n duisend jaar voor Christus, het koning Dawid die stad Jebus van die Jebusiete verower en dit Jerusalem genoem: dit beteken “Vredebesit.” Die stad is ook “Sion” genoem as gevolg van die berg Sion waarop dit gebou is, en “Die Stad van Dawid.” Koning Dawid was die belangrikste vegtende koning wat ooit in Jerusalem regeer het. Hy het groot oorwinnings vir die Here behaal. Dit was ook uit die geslag van Dawid dat die Messias baie jare later gebore is.

Dawid wou vir die Here ᾿n huis in Jerusalem bou, maar die Here het gesê dat sy seun ná hom die huis sou bou (2 Sam. 7:12-13). Nadat Salomo die tempel gebou het, het die Here gesê: “Ek het hierdie huis wat jy gebou het, geheilig deur my Naam daar te vestig tot in ewigheid” (1 Kon. 9:3). Jerusalem is deur God genoem: “Die stad wat Ek vir My verkies het om my Naam daar te vestig” (1 Kon. 11:36). God se Naam is vir ewig volgens sy eie raadsbesluit aan Jerusalem verbonde.

Die heerlikheid van die Here

Salomo het die eerste tempel gebou en die heerlikheid van die Here het sy intrek in die gebou geneem. Die Here is hier vereer en aanbid, en Hy het Homself ook deur die diens van die priesters en profete aan die volk geopenbaar. Tye van geestelike verval het egter in Israel ingetree, en tot die verwaarlosing van die tempeldiens in Jerusalem gelei. Godvresende konings het die tempeldiens herstel, waarna verval maar weer ingetree het. As gevolg van die volhardende en wydverspreide goddeloosheid van Israel het die heerlikheid van die Here uiteindelik die tempel verlaat, en het Hy die volk aan hul vyande oorgegee. Die tempel én die stad is deur heidene geplunder en verwoes, en Israel se Babiloniese ballingskap van 70 jaar het daarop gevolg.

Die verwoesting van die stad en die ballingskap van sy inwoners het egter nie die Here se ewige verbintenis aan Jerusalem beëindig nie. Ná sewentig jaar is Israel in hulle land herstel en is Jerusalem en die vervalle eerste tempel weer opgebou. Dit het as die tempel van Serubbábel bekend gestaan. Weer het goddeloosheid ingetree, wat daartoe gelei het dat die Here sy teenwoordigheid aan die tempel onttrek en ná Maleági vir 400 jaar nie weer ᾿n profeet na Israel gestuur het nie. Die volk is ook aan hulle vyande oorgegee en die tempel het uiteindelik heeltemal bouvallig geraak. Geestelike duisternis het in Israel én hulle vervalle heiligdomme in Jerusalem ingetree.

Sedert omtrent 40 v.C. het Herodes die Grote as koning van Judéa regeer. Hy het ᾿n nuwe tempel in Jerusalem laat bou om die Jode se guns te wen en ook hulle Messiaanse verwagtings te onderdruk. Dit staan as die tweede tempel bekend, of die tempel van Herodes. Die tempeldiens is weer ten volle herstel.

Die eerste koms van Jesus

Die grootste openbaring van God aan Israel én die hele mensdom het met die koms van sy Seun, Jesus, na die aarde plaasgevind. Volgens Messiaanse profesieë was Hy nie net bestem om die Verlosser van Israel te wees nie (Matt. 1:20-21), maar ook om God se heil te wees tot aan die einde van die aarde (Jes. 49:6). Die Here Jesus het in Jerusalem, daardie unieke stad van godsopenbaring, die boodskap van die ewige lewe verkondig. Hy het ook in die tempel geleer. Hy én sy boodskap is egter deur die groot meerderheid van die leiers en inwoners van die stad verwerp, en Israel het hierdeur groot ellende oor hulleself gebring.

God het Homself deur sy Seun aan Jerusalem se inwoners openbaar, maar hulle het dit ten spyte van talle duidelike Messiaanse profesieë nie raakgesien nie, en Hom verwerp. Jesus is in ᾿n proses van beplande verraad gevange geneem, in die stad verhoor, bespot, verneder en onskuldig veroordeel. Die Joodse volksleiers het só sterk op sy skuldigbevinding en kruisiging aangedring dat die Romeinse goewerneur, Pontius Pilátus, daaraan toegegee het.

Die Here Jesus is nét buite Jerusalem by Gólgota, in die steengroewe van Salomo, gekruisig. Hier is die groot soenoffer vir die sondes van ᾿n verlore mensdom aan God betaal. Vir ewig sal Gólgota uitstaan as die uitdrukking van God se neerbuigende liefde en vergewensgesindheid, en as die enigste poort tot die ewige lewe. Daar is geen ander naam onder die hemel gegee waardeur mense gered kan word nie – net Jesus Christus en Hom as die gekruisigde (Hand. 4:12). Niemand kom na die Vader behalwe deur Hom nie (Joh. 14:6).

Jesus is net buite die stadsgebied van Jerusalem begrawe en het drie dae later uit die dood opgestaan. Op die Sondag van sy opstanding het Hy die eerste boodskap (of preek) van die Christelike bedeling in Jerusalem aan sy dissipels gelewer, en ᾿n week later die tweede een (Joh. 20:19-29). Veertig dae ná sy opstanding het Jesus van die Olyfberg af na die hemel opgevaar. Nét voor dit het Hy die opdrag van wêreldevangelisasie aan sy dissipels gegee. Dit sou egter eers ᾿n aanvang neem nadat nóg ᾿n belangrike heilsgebeurtenis in Jerusalem plaasgevind het:

“En Hy sê vir hulle: So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan, en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder. En julle is getuies van hierdie dinge. En kyk, Ek stuur die belofte van my Vader op julle. Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte” (Luk. 24:46-49).

Dit was die belofte van die uitstorting van die Heilige Gees: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde” (Hand. 1:8). Op pinksterdag, toe die Heilige Gees oor die dissipels uitgestort is, het die proses van wêreldevangelisasie begin. Op daardie dag is drieduisend siele gered en is die kerk van Christus in Jerusalem gebore. Daarvandaan sou die boodskap in die hele wêreld verkondig word, van Jerusalem af en verder…

Profesieë deur Jesus Christus

Die groot vraag is: Was die rol van Jerusalem as ᾿n plek van godsopenbaring hiermee vervul en uitgedien? Wat van die Here se besluit dat Hy sy Naam vir ewig in Jerusalem sou vestig (1 Kon. 9:3; 11:36)? Het dit tot ᾿n einde gekom toe Israel vir Jesus verwerp en laat kruisig het? Allermins! Die langtermyn toekoms van die stad Jerusalem was nog altyd, en is nog steeds, binne God se raadsplan seker en gewis.

Om meer duidelikheid oor die rol en betekenis van Jerusalem te verkry, moet uitsprake van die Here Jesus voor en tydens sy profetiese rede bestudeer word. Hierin het Hy die eerste én laaste geslag beskryf van die huidige dispensasie tussen sy historiese koms as nederige Verlosser en sy toekomstige koms as magtige Koning. Altwee hierdie geslagte staan in ᾿n regstreekse verband met gebeure wat in en om Jerusalem afspeel. Hierdie stad se toekoms is so seker en vas soos ᾿n rots!

Daar moet eerstens groter duidelikheid oor die begrip “geslag” verkry word, omdat die Here Jesus altwee hierdie reekse gebeurtenisse binne die raamwerk van ᾿n geslag plaas wat nie verbygaan voordat alles gebeur het nie. Daar is verskillende definisies vir die begrip “geslag”, afhangende van die verband waarin die Bybel die woord gebruik. Die begrip “geslag” dui in die oorspronklike tale dikwels ᾿n groep mense aan – ᾿n familie, stam, volk of verskeie ander groepe, bv. ᾿n bose en ongelowige geslag mense (Luk. 11:29). In die meeste gevalle het dit egter betrekking op ’n bepaalde generasie of ouderdomsgroep binne ᾿n samelewing, stam of volk. In hierdie sin is daar ᾿n chronologie, of opeenvolging, van geslagte soos wat ouer geslagte deur jongeres gevolg word. Dit is in hierdie verband dat daar in Matthéüs 1:17 staan: “Al die geslagte van Abraham tot Dawid is 14 geslagte.”

In Christus se profesieë word daar na chronologiese geslagte verwys, omdat beide van hulle ᾿n begin- en ᾿n eindpunt het. Daar moet egter onthou word dat n geslag slegs ᾿n benaderde tydaanwysing is wat nie op ᾿n eksakte wyse vir datumbepaling gebruik kan word nie. ᾿n Totale geslag (die leeftyd van ᾿n persoon) kan volgens Bybel enigiets tussen 70 en 80 jaar wees (Ps. 90:10). Soms word daar net na n volwasse geslag verwys, omdat hulle as die besluitnemers vir die optrede van die volk verantwoordelik gehou word. In hierdie geval word na n tydperk van omtrent 40 jaar verwys, omdat politieke en godsdienstige volwassenheid in Israel eers op 30-jarige ouderdom bereik is (vgl. Num. 32:13; 1 Kron. 23:3; Luk. 3:23).

Wanneer die Messias se profesieë gelees word, moet ons ten minste n duidelik begrip oor die twee kritieke geslagte van hierdie dispensasie kan vorm, sonder om te probeer om by n spesifieke datum uit te kom. Wat die eerste geslag betref, het die Here Jesus as die Seun van die mens na sy tydgenote in Israel verwys wat groot oordele oor hulleself én hulle volk gebring het omdat hulle Hom verwerp het:

“Maak die maat van julle vaders dan vol! Slange, addergeslag, hoe sal julle die oordeel van die hel ontvlug? Daarom, kyk, Ek stuur profete en wyse manne en skrifgeleerdes na julle toe, en julle sal sommige van hulle doodmaak en kruisig en sommige van hulle in jul sinagoges gésel en van die een stad na die ander vervolg, sodat oor julle kan kom al die regverdige bloed wat vergiet is op die aarde, van die bloed van die regverdige Abel af tot op die bloed van Sagaría, die seun van Berégja, wat julle vermoor het tussen die tempel en die altaar. Voorwaar Ek sê vir julle, al hierdie dinge sal oor hierdie geslag kom. Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ᾿n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat!” (Matt. 23:32-38).

Baie van Christus se aardse tydgenote het inderdaad nog gelewe toe Jerusalem in 70 n.C. verwoes en sy oorlewende inwoners krygsgevange geneem en na ander lande weggevoer is. Van daardie geslag is rekenskap geëis vir die kumulatiewe ongeregtighede van Israel oor ᾿n baie lang tyd – hulle het die maat van hulle vaders se sonde vol gemaak.

᾿n Groot gedeelte van die eerste geslag was ᾿n oorgangstyd tussen Israel en die kerk, waarin hulle albei saam bestaan het. Tydens daardie geslag is die kerk van Christus geleidelik onder alle nasies gevestig, terwyl die skrif vir Israel aan die muur was weens hulle ongeloof en verwerping van die Messias – Jerusalem sou verwoes en die volk verstrooi word voordat daardie eerste geslag verby was.

Ná die eerste geslag sou ᾿n baie lang tydperk volg waarin Jerusalem deur die nasies vertrap sou word “totdat die volheid van die heidene [nie-Joodse volke] ingegaan het” (Rom. 11:25). Aan die einde van die bedeling van wêreldevangelisasie kom Jerusalem weer duidelik in die prentjie, maar hierdie keer in ᾿n laaste geslag situasie:

“... Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is. En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun, en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal hulle die Seun van die mens sien kom in ‘n wolk, met groot krag en heerlikheid. En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is. ... Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat alles gebeur het nie. ... Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:24-36).

Ná die eindtydse herstel van Israel en hulle hoofstad, Jerusalem, is ons in ᾿n situasie wat as die laaste geslag beskryf word. Die bordjies word nou verhang, want Jerusalem word progressief herstel vir die hervatting van Israel se rol in God se heilsplan, terwyl die ware kerk gereed moet maak om deur middel van die wegraping weggeneem te word voor die aanbreek van die tyd van oordele. Ons is dus weer in ᾿n oorgangsituasie waarin Israel en die kerk saam bestaan. Hierdie geslag sal nie verbygaan voordat die kerk verheerlik en weggevoer is, Israel en die ongelowige nasies deur die verdrukking gegaan, ᾿n oorblyfsel van hulle deur die Messias gered, en Jerusalem en Israel volkome herstel is nie.

Jerusalem as wêreldhoofstad

Jerusalem sal ná die wederkoms van Christus verhef word tot die hoofstad van die wêreld. Die Here Jesus sal die Koning van die konings wees, en vrede sal oral op aarde heers (Jes. 2:3-4). Dit sal ᾿n tyd van absolute en ongekende vrede op die hele aarde wees: “In dié tyd sal hulle Jerusalem noem die troon van die Here; en al die nasies sal daarheen saamkom vanweë die Naam van die Here in Jerusalem; en hulle sal nie meer wandel na die verharding van hul bose hart nie” (Jer. 3:17). Satan sal in daardie tyd gebind wees, daarom sal hy die nasies nie tot haat, bandeloosheid, oorlogvoering en ander sondes kan aanhits nie (Op. 20:2-3). Hulle sal spontaan die Here se guns in Jerusalem soek, asook dié van sy volk Israel, en in sy weë wandel:

“So sê die Here van die leërskare: Nog sal volke aankom en die inwoners van baie stede. En die inwoners van die een stad sal gaan na die ander en sê: Kom, laat ons heengaan om die aangesig van die Here om genade te smeek en die Here van die leërskare te soek. Ek wil ook gaan! So sal dan baie volke en magtige nasies kom om die Here van die leërskare in Jerusalem te soek en die aangesig van die Here om genade te smeek. So sê die Here van die leërskare: In dié dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van ᾿n Joodse man gryp en dit vashou en sê: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is” (Sag. 8:20-23).

In hierdie tyd sal Jerusalem ᾿n stad van glansryke heerlikheid wees soos wat dit nog nooit in die geskiedenis was nie. Elke kind van die Here moet reikhalsend na dié tyd van groot heerlikheid en vrede op aarde uitsien en Jerusalem nou reeds toeroep: “Ontwaak, ontwaak, beklee jou met sterkte, o Sion, trek jou sierlike klere aan, o Jerusalem, heilige stad!” (Jes. 52:1).

“Aanskou Sion, die stad van ons feestelike samekoms! Jou oë sal Jerusalem sien as veilige woonplek, as tent wat nie wegtrek nie, waarvan die penne nooit meer uitgeruk word nie en geeneen van sy toue ooit losgeskeur word nie. Maar daar sal die Here vir ons heerlik wees; … Want die Here is ons Regter, die Here is ons Aanvoerder, die Here is ons Koning” (Jes. 33:20-22).

“Nasies sal trek na jou lig, en konings na jou stralende opgang. … Jou poorte sal altyddeur oopstaan; hulle sal bedags of snags nie gesluit word nie, om na jou toe aan te bring die rykdom van die nasies en hulle konings in triomftog. Want die nasie en die koninkryk wat jou nie sal dien nie, sal ondergaan, en dié nasies sal sekerlik verwoes word. … Die seuns van hulle wat jou verdruk het, sal gebukkend na jou toe trek; en almal wat jou verag het, sal hulle neerbuig by jou voetsole; en hulle sal jou noem: Stad van die Here, Sion van die Heilige van Israel. … Van geweld sal in jou land nie meer gehoor word nie – van geen verwoesting of verbreking in jou grondgebied nie; maar jy sal jou mure Heil noem en jou poorte Lof” (Jes. 60:3, 11-12, 14, 18).

Gebede vir Jerusalem

Omdat Jerusalem in die vrederyk ná die wederkoms ᾿n seën vir die hele aarde sal wees, moet ons nou al in afwagting op daardie tyd saam met Jesaja uitroep: “Ter wille van Sion sal ek nie swyg nie en ter wille van Jerusalem nie stil wees nie, totdat sy geregtigheid uitbreek soos ᾿n glans en sy heil soos ᾿n fakkel wat brand” (Jes. 62:1). In hierdie donker dae van aanvegtinge teen Jerusalem as die stad van die Groot Koning, moet ons die Here ook voortdurend aan sy beloftes herinner. Hy het gesê: “O Jerusalem, Ek het wagte op jou mure uitgesit wat gedurigdeur die hele dag en die hele nag nie sal swyg nie. O julle wat die Here herinner aan sy beloftes – moenie rus nie en laat Hom nie met rus nie, totdat Hy Jerusalem bevestig en maak tot ᾿n lof op aarde!” (Jes. 62:6-7).

Moet dus nie Jerusalem as ᾿n plek van godsopenbaring vergeet nie – nie sy verlede nie, en ook nie sy wonderlike toekoms nie! Dawid sê in Psalm 122:6: “Bid om die vrede van Jerusalem; mag hulle wat jou liefhet, rustig lewe!” Die stryd om Jerusalem is ᾿n stryd tussen lig en duisternis. Die Here Jesus kom terug na Jerusalem en Hy gaan die aarde hiervandaan regeer: “In dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê” (Sag. 14:4). Die koninkryk van die duisternis doen alles in sy mag om Jerusalem oor te neem sodat hulle dit van Israelse beheer kan vervreem en in ᾿n heidense stad omskep.

Kom ons bid vir die vrede van Jerusalem en sien met blye verwagting uit na die wonderlike toekoms wat die Here vir hierdie stad belowe het. Laat ons saam met die ballinge van Israel sê toe hulle by die riviere van Babel was en die heiligdomme van die Here in puin gelê het: “As ek jou vergeet, o Jerusalem, laat my regterhand dan homself vergeet! Laat my tong kleef aan my verhemelte as ek aan jou nie dink nie, as ek Jerusalem nie verhef bo my hoogste vreugde nie” (Ps. 137:5-6).

Jerusalem het ᾿n ewige toekoms omdat die Here besluit het om sy Naam hier te vestig. Nie net sal dit in die vrederyk die hoofstad van die wêreld wees nie, maar op die nuwe aarde sal ons in die nuwe Jerusalem woon wat die Here Jesus op die oomblik vir ons voorberei. Hierdie wonderstad met sy goue strate en pêrelpoorte sal uit die hemel op die nuwe aarde neerdaal. Daar sal die bruid vir ewig saam met die Lam woon. Johannes sê in Openbaring 21:

“Ek het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ᾿n bruid wat vir haar man versier is. En ek het ᾿n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan” (Op. 21:2-4).

Hierdie beloftes is lank gelede ook aan Israel gemaak, dat daar ná die opstanding van die regverdiges vir hulle ᾿n wonderlike tyd in die teenwoordigheid van die Here sal aanbreek: “Hy sal die dood vir ewig vernietig, en die Here Here sal die trane van alle aangesigte afvee; en Hy sal die smaad van sy volk van die hele aarde af wegneem; want die Here het dit gespreek. En hulle sal in dié dag sê: Kyk, dit is onse God op wie ons gewag het, dat Hy ons kan verlos; dit is die Here op wie ons gewag het: laat ons juig en bly wees oor sy hulp” (Jes. 25:8-9).

Maak seker dat jy deur die wedergeboorte ᾿n lid van die bruidsgemeente is, sodat jy in die ewige heerlikheid van God se koninkryk kan deel. Dit wat deur die toedoen van die Here in die aardse Jerusalem gebeur het, moet in die hele wêreld verkondig word omdat dit die poort na die hemelse Jerusalem vir alle mense open.

Israel se posisie in die vrederyk

Uit Israel se oogpunt is dit om die volgende vier redes baie duidelik dat die beloofde vrederyk nog nie vir hierdie volk aangebreek het nie, en dat Jerusalem derhalwe ook nog nie die seën en heerlikheid ervaar het waarvoor die stad bestem is nie:

1.   Volgens die profete sal die Messiasryk ongekende seëninge vir Israel bring. Bybelse profesieë bevestig dat Israel in hulle land herstel sal word, geestelik lewend gemaak sal word, verhoog sal word bo al die nasies, en op elke terrein van hulle bestaan geseën sal word (Deut. 28:1-14; 30:1-4; Eseg. 36:24-28; Jes. 60:1-22; Hos. 14:5-8; Rom. 11:26-27), maar die volk het nie een van hierdie seëninge die afgelope 2 000 jaar ontvang nie. Inteendeel: tydens hulle internasionale ballingskap was daar geen ander volk wat soveel aanhoudende smarte as die Jode beleef het nie. Selfs in die 40 jaar voor die verwoesting van Jerusalem in 70 n.C. was die land Israel ᾿n kookpot van onderlinge twiste, haat en opstande teen die Romeinse onderdukkers.

2.   In die vrederyk sal die Messias benewens sy wêreldwye koningskap ook die Koning van die Jode wees. Die feit is dat die Jode as volk nog nooit vir Jesus as hulle Koning en Messias erken het nie. Hulle leiers het nog nie die geopende oë gehad om vir Hom wat hulle deurboor het, as Messias te herken nie (Sag. 12:10). Indien Jesus reeds die koningskap op die troon van Dawid aanvaar het (Luk. 1:32; Hand. 15:16-17), dan is Hy as Koning van die Jode ᾿n Koning sonder ᾿n volk. Om profesieë só te verklaar, kom prakties daarop neer om die Bybel se basiese betekenis te verwerp en deur middel van die vervangingsteologie ander betekenisse daaraan toe te skryf.

3.   In die beloofde duisendjarige vrederyk van Christus sal Jerusalem as die hoofstad van die wêreld hoog en verhewe wees. Die nasies sal hierheen toestroom om in die weë van die Here onderrig te word (Jes. 2:2-3), en Israel sal deur die internasionale gemeenskap geëer word (Jes. 60:10-15). Die afgelope byna 2 000 jaar was Israel egter verstrooi en Jerusalem deur die nasies vertrap.

4.   In die komende vrederyk sal Israel hulle doel as die volk van God verwesenlik en die hele wêreld evangeliseer. Tot dusver het hulle as volk nog nie die Messias aanvaar nie en kon dus nog nie sy lof onder die nasies verkondig nie.

Israel se posisie in die komende millennium wanneer die Messias uit Jerusalem sal regeer, word dikwels in die Ou Testament beskryf, soos onder meer deur die profeet Jesaja:

·       “In dié dag sal die Spruit van die Here [die Messias] wees tot sieraad en heerlikheid, en die vrug van die land tot hoogheid en versiering vir die vrygeraaktes van Israel. En wie in Sion oorgebly het en gespaar is in Jerusalem, dié sal heilig genoem word, elkeen wat onder die lewendes opgeskrywe is in Jerusalem – as die Here die onreinheid van die dogters van Sion afgewas en die bloedskulde van Jerusalem daaruit weggespoel het deur die Gees van strafgerig en die Gees van uitdelging. Dan skep die Here oor elke woonplek van die berg Sion en oor sy plekke van samekoms ᾿n wolk bedags en rook met die glans van vuurvlamme in die nag; want oor alles wat heerlik is, sal daar ᾿n beskutting wees” (Jes. 4:2-5). Daar kom dus eers ᾿n tyd van strafgerig en die uitdelging van ongelowiges voordat die Here al sy heerlikheid aan die gelowige oorblyfsel van Israel sal openbaar.

·       “En in dié dag sal die nasies vra na die wortel van Isai [verwysende na Jesus, die Messias] wat daar staan as ᾿n banier van die volke, en sy rusplek sal heerlik wees” (Jes. 11:10). Die nasies sal spesifiek na die Koning van Israel navraag doen, sodat hulle ook kan deel in die vrede en heerlikheid wat Israel by Hom verkry het.

·       “En julle sal in dié dag sê: Dank die Here, roep sy Naam aan, maak sy dade onder die volke bekend, verkondig dat sy Naam hoog is!” (Jes. 12:4). Israel self sal eers as volk geestelik moet ontwaak voordat hulle die lof van die Messias wêreldwyd kan verkondig en daardeur vir alle volke tot seën kan wees.

·       “In dié dag sal die mens kyk na sy Maker, en sy oë sal sien op die Heilige van Israel” (Jes. 17:7). Mense oral in die wêreld sal dan die volle insig hê dat Jesus, die Heilige van Israel, die Skepper en Redder van alle mense is. Hy is die grote God en ons Verlosser.

·       “In dié dag sal hierdie lied gesing word in die land Juda: ᾿n Sterk stad het ons; God stel heil tot mure en skanse. Maak oop die poorte, dat die regverdige nasie kan ingaan wat die trou bewaar!” (Jes. 26:1-2). Jerusalem sal met ongekende heerlikheid beklee wees omdat dit die stad sal wees waar die Messias se regering gevestig is. Geen ander stad in die wêreld sal daarmee vergelyk kan word nie.

·       “In die dae wat kom, sal Jakob wortel skiet, Israel sal bloei en uitbot, sodat hulle die wêreld vol vrugte sal maak” (Jes. 27:6). Die boodskap van verlossing (die evangelie van Christus) sal gedurende die vrederyk in die hele wêreld verkondig moet word, omdat alle sterflike mense steeds met die sondige natuur van die eerste Adam gebore sal word. In hierdie toekomstige bedeling sal Israel die evangeliste wees en hulle sal, geestelike gesproke, die hele wêreld vol vrugte maak.

·       “In dié dag sal die Here van die leërskare wees tot ᾿n sierlike kroon en ᾿n pragtige krans vir die oorblyfsel van sy volk” (Jes. 28:5). Israel se heerlikheid sal nie uit hulleself wees nie, maar uit die Messias, daarom sal hulle net in sy voortreflikhede roem.

Hierdie en baie ander seëninge sal die kenmerk van die Messias se duisendjarige vrederyk wees wanneer Hy op die troon van Dawid in Jerusalem regeer. Sy verheerlikte kerk sal saam met Hom regeer en geregtigheid op aarde laat geskied. Israel sal ᾿n leidende rol in wêreldsake speel en die Here se getuies onder al die nasies wees.