5. Die Messias

Ou Testamentiese profesieë oor die koms van die Messias kan in twee duidelike kategorieë geplaas word, naamlik die lydende Messias wat in die gestalte van ᾿n dienskneg en offerlam sou kom, en die regerende Messias wat in ᾿n koninklike gewaad van mag en majesteit op die toneel sal verskyn. Die onvermoë van die meeste Jode om profeties tussen hierdie twee bedieninge of ampte van die Messias te kon onderskei, het daartoe gelei dat hulle in die eerste eeu ᾿n verkeerde Messiasverwagting gehad het. Hulle het ᾿n magtige koning verwag wat net eenmalig sou kom om hulle van die Romeinse juk te bevry en daarna die troon van Dawid in Jerusalem op te rig (Luk. 19:11; Hand. 1:6). Hulle kon (of wou) nie insien dat Hy eers as die lydende Messias moes kom om versoening vir die sondes van die volk te doen nie. Om dié rede het hulle Hom nie herken nie, en was Hy ook nie aanvaarbaar nie omdat Hy nie aan die volk se populêre verwagtings voldoen het nie.

Daar word in die bespreking meesal van die term “Messias” gebruik gemaak. Let daarop dat “Christus” en “Messias” presies dieselfde beteken omdat Christus van die Griekse woord vir “Gesalfde” afgelei is, en Messias van die ooreenstemmende Hebreeuse term. Vir ᾿n volledige bespreking van die name, ampte en werke van Christus, kyk Malan (2012).

Die lydende en regerende Messias

Die volgende is voorbeelde van die twee groepe Messiaanse profesieë in die Ou Testament:

Die lydende Messias in die Psalms

“My God, my God, waarom het U my verlaat, ver van my hulp, … Ek is ᾿n wurm en geen man nie, ᾿n smaad van die mense en verag deur die volk. Almal wat my sien, spot met my; hulle steek die lip uit, hulle skud die hoof en sê: Laat dit aan die Here oor! Laat Hy hom red, laat Hy hom bevry: Hy het mos behae in hom! … Wees nie ver van my af nie, want die nood is naby, want daar is geen helper nie. … Hulle het hul mond teen my oopgespalk soos ᾿n leeu wat verskeur en brul. Ek is uitgestort soos water; al my beendere raak los; my hart het soos was geword; dit het gesmelt binne-in my ingewande. My krag is verdroog soos ᾿n potskerf, en my tong kleef aan my verhemelte; en U lê my neer in die stof van die dood. Want honde het my omsingel; ᾿n bende kwaaddoeners het my omring; hulle het my hande en my voete deurgrawe. Al my beendere kan ek tel; húlle kyk, hulle sien met welgevalle op my neer! Hulle verdeel my klere onder mekaar en werp die lot oor my gewaad” (Ps. 22:2, 7-9, 12, 14-19).

Die regerende Messias in die Psalms

Psalm 2 verwys na die eindtydse oordele van die Here oor al die opstandige nasies, en ook na die Messiasryk van die Seun wat ná sy wederkoms op aarde gevestig sal word:

“Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge? Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die Here en teen sy Gesalfde (die Messias) en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp! Hy wat in die hemel woon, lag; die Here spot met hulle. Dan sal Hy hulle aanspreek in sy toorn, en in sy grimmigheid sal Hy hulle verskrik: Ék tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg. Ek wil vertel van die besluit: Die Here het aan My gesê: U is my Seun, vandag het Ek self U gegenereer. Eis van My, en Ek wil nasies gee as u erfdeel en die eindes van die aarde as u besitting. U sal hulle verpletter met ᾿n ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos ᾿n erdepot. Wees dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde! Dien die Here met vrees, en juig met bewing. Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil!” (Ps. 2:1-12).

Die lydende Messias in Jesaja

“Wie het geglo wat aan ons verkondig is? En aan wie is die arm van die Here geopenbaar? Hy tog het soos ᾿n loot voor sy aangesig opgespruit en soos ᾿n wortel uit droë grond. Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms, dat ons Hom sou begeer nie. Hy was verag en deur die mense verlaat, ᾿n man van smarte en bekend met krankheid; ja, soos een vir wie ᾿n mens sy gelaat verberg; Hy was verag en ons het Hom nie geag nie. Nogtans het Hý ons krankhede op Hom geneem, en óns smarte – dié het Hy gedra; maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was. Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die Here het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom. Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was, en Hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos ᾿n lam wat na die slagplek gelei word en soos ᾿n skaap wat stom is voor sy skeerders – ja, Hy het sy mond nie oopgemaak nie. Uit die druk en uit die strafgerig is Hy weggeneem; en onder sy tydgenote – wie het daaroor gedink dat Hy afgesny is uit die land van die lewendes? Ter wille van die oortreding van my volk was die plaag op Hom. En hulle het Hom sy graf by die goddelose gegee; en by ᾿n ryke was Hy in sy dood, omdat Hy geen onreg gedoen het nie en geen bedrog in sy mond gewees het nie. Maar dit het die Here behaag om Hom te verbrysel; Hy het Hom krank gemaak; as sy siel ᾿n skuldoffer aangebied het, sal Hy ᾿n nakroos sien; Hy sal die dae verleng, en die welbehae van die Here sal deur sy hand voorspoedig wees. Weens die moeitevolle lyde van sy siel sal Hy dit sien en versadig word; deur sy kennis sal my Kneg, die Regverdige, baie regverdig maak; en Hý sal hulle skuld dra. Daarom sal Ek Hom ᾿n deel gee onder die grotes, en met magtiges sal Hy buit verdeel; omdat Hy sy siel uitgestort het in die dood en saam met die oortreders getel was, terwyl Hy tog die sonde van baie gedra en vir oortreders gebid het” (Jes. 53).

Die regerende Messias in Jesaja

“Want ᾿n Kind is vir ons gebore, ᾿n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors – tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid” (Jes. 9:5-6).

“En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie. Kom, huis van Jakob, en laat ons wandel in die lig van die Here!” (Jes. 2:2-5).

Die lydende Messias in Sagaria

“Verheug jou grootliks, o dogter van Sion! Juig, o dogter van Jerusalem! Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en ᾿n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op ᾿n esel, die vul van ᾿n eselin” (Sag. 9:9).

Die regerende Messias in Sagaria

“Want Ek sal al die nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem; … En die Here sal uittrek en stryd voer teen dié nasies op die dag van sy stryd, die dag van oorlog. En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê aan die oostekant; … En die Here sal Koning wees oor die hele aarde; … En almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, sal jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die Here van die leërskare, en om die huttefees te vier” (Sag. 14:2-4, 9, 16).

Geboorte van die Messias-Koning

“Daarom sal die Here self aan julle ᾿n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en ᾿n seun baar en hom Immánuel noem” (Jes. 7:14).

Volgens die oorspronklike Hebreeuse manuskrip is die woord maagd (Eng. virgin) in hierdie teks die korrekte vertaling. Die Strong’s Konkordansie vertaal die Hebreeuse woord ‘almâh soos volg: “a lass [as veiled or private]; damsel, maid, virgin”. Hierdie naamwoord is afgelei van ‘âlam wat beteken: “to veil from sight, i.e. conceal [lit. or fig.]; hide [self], secret [thing].”

Die woord ‘almâh dui sonder enige twyfel op ᾿n ongetroude maar hubare meisie wat nog steeds ᾿n maagd is. Sy is ‘geslote’ en het nog nie omgang met ᾿n man gehad nie. Indien jong vrou as ᾿n weergawe van ‘almâh aangebied word, soos in die Nuwe Afrikaanse Bybel (NAB), dan moet dit met die uitdruklike veronderstelling wees dat sy nog ᾿n ongetroude maagd is, soos wat die Amplified Bible dit stel: “Therefore the Lord Himself shall give you a sign, Behold, the young woman who is unmarried and a virgin shall conceive and bear a son, and shall call his name Immanuel – God with us (Matt. 1:22-23; Isa. 9:6; Mic. 5:3-5).” Waarom gebruik die NAB nie die korrekte term, maagd, nie? Die profesie in Jesaja 7:14 word tog uitdruklik as Messiaans bevestig:

“Die geboorte van Jesus Christus was dan só: Toe sy moeder Maria verloof was aan Josef, voordat hulle saamgekom het, is sy swanger bevind uit die Heilige Gees. ... En dit het alles gebeur, sodat die woord vervul sou word wat die Here deur die profeet gespreek het: Kyk, die maagd sal swanger word en ᾿n seun baar, en hulle sal Hom Emmánuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons. En Josef ... het sy vrou by hom geneem; en hy het haar nie beken totdat sy haar eersgebore Seun gebaar het nie; en sy het Hom Jesus genoem” (Matt. 1:18, 22-25).

Behalwe die feit dat die Messias se geboorte ᾿n teken moes wees wat duidelik buite die normale gang van sake was (in hierdie geval die feit dat Maria ᾿n maagd was), is daar ook ᾿n ander baie belangrike rede waarom Jesus as mens nie deur ᾿n man verwek kon word nie. Dit het met die oorerflike sondige natuur van die mens te doen (Rom. 5:12; 1 Kor. 15:22). Dit was noodsaaklik dat Jesus nie ᾿n biologiese pa gehad het nie, sodat sy bloed (en lewe) onbesmet deur die erfsonde sou wees. Die genetiese inligting waardeur die bloed in die ongebore kind gevorm word, word deur die DNS van die vader bepaal. Dit is waarom daar ook toetse oor die vaderskap van kinders gedoen kan word.

Anders as alle ander mense het Jesus nie deur sy geboorte ᾿n sondige natuur geërf nie (Heb. 4:15; 7:26-28), en kon Hy dus as die vlekkelose Lam van God ᾿n volmaakte offer vir ons sonde wees. Deur die gelykvormigheid aan sy dood en opstanding kan ons deelgenote van sy goddelike natuur word (1 Kor. 15:45-49).

Daar is nog ᾿n verdere rede waarom Josef nie die biologiese pa van Jesus kon wees nie, omdat dit Hom sou diskwalifiseer om op die troon van Dawid aanspraak te maak. Volgens ᾿n uitspraak in Jeremia 22:28-30 kan geen afstammeling van koning Gonja op die troon van Dawid sit nie. In die geslagsregister van Jesus deur Josef, word Jegonia genoem (Matt. 1:12). Josef het egter deur aanneming vir Jesus as sy oudste seun en hooferfgenaam aanvaar, daarom kwalifiseer Jesus as die erfgenaam van die troon van Dawid en is Hy ook algemeen as die seun van Dawid aangespreek (Matt. 9:27; 21:9).

Jesus se geslagsregister deur sy moeder, soos in Lukas 3:23-38 aangeteken, verbind Hom ook aan Dawid. Hierdie genealogie word deur Dawid se seun, Natan, bereken terwyl die een in Mattheus 1:1-17 deur Dawid se seun, Salomo, bereken word. Jesus is deur Maria dus ook die seun van Dawid, en hierdie afkomslyn word nie geraak deur die verbod wat op Jegonia se biologiese afstammelinge rus om koning van Israel te kan wees nie.

Die skrifgeleerdes en hoëpriesters in Israel was in ᾿n posisie om die aansprake oor Jesus se afkoms en erfreg in die koningshuis van Dawid te kon nagaan, en hulle het dit nooit op hierdie gronde betwis nie. Onder die volk was Hy algemeen as die seun van Dawid bekend en sonder teëspraak in dié hoedanigheid aanvaar. Voor Jesus se geboorte al het ᾿n engel aan Maria verskyn en gesê: “En kyk, jy sal swanger word en ᾿n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee” (Luk. 1:31-32). Hy sál nog in Jerusalem op die troon van Dawid regeer. ᾿n Engel het ook aan Josef verskyn en aan hom gesê dat Jesus sy volk van hulle sonde sou verlos (Matt. 1:21). Hy sou dus ᾿n Messias-Koning vir Israel wees – nie net ᾿n regeerder nie, maar ook ᾿n Verlosser.

Die twee geslagsregisters van Jesus beklemtoon sy twee rolle as Koning van Israel en Redder van die mensdom. Die geslagsregister in Mattheus word net tot by Abraham bereken, wat die eerste Hebreër was. Dit is ᾿n Joodse geslagsregister waarin Jesus se posisie as Koning van die Jode beklemtoon word. In Lukas word Jesus se afkoms egter verder teruggevoer tot by die eerste mens, Adam, en van hom af tot by God. Adam word as “die seun van God” beskryf (Luk. 3:38). As ᾿n afstammeling van Adam is Jesus die Seun van die mens wat gekom het om onder nasate van Adam (dus alle mense op aarde) te soek en te red wat verlore was (Luk. 19:10). Hierdie gedagte sluit aan by die wêreldwye perspektief van Lukas se evangelie, teenoor die meer beperkte, Joodse perspektief van Mattheus.

Adam en Jesus word beide as seuns van God beskryf. Adam is die eerste mens wat deur God self gemaak is – hy is nie uit ᾿n menslike familie gebore nie. Omdat Adam na die duiwel geluister en sy raad nagevolg het om God se bevele te verontagsaam, het Adam geestelik gesterwe en daardeur ᾿n sondige natuur gekry. Hierdie geestelike en morele eienskappe is na al sy afstammelinge op aarde oorgedra (Rom. 5:12), sodat almal van hulle ᾿n sondige natuur gekry het wat van hulle kinders van God se toorn gemaak het (Rom. 3:10; Ef. 2:3). Die vormgodsdienstige en ongeredde Joodse leiers het as sondaars in die kategorie van kinders van die duiwel geval (Joh. 8:44), daarom het hulle vir Jesus as Messias verwerp en probeer doodmaak.

Jesus, wat as mens deur die Vader gegenereer is (Hand. 13:33; Heb. 1:1-5), is die laaste Adam (1 Kor. 15:45). Alle mense wat in Hom glo en op grond daarvan as nuwe skepsele weergebore word, word van die toekomstige toorn van God oor die sondaars verlos (1 Thess. 1:10). Hy maak mense wat dood was in hulle sonde en misdade, geestelik lewend (Ef. 2:1-2).

Deur die eerste Adam, wat ᾿n ongehoorsame seun van God was, het die hele menslike ras in sonde geval. Deur die laaste Adam, wat die volmaakte en sondelose Seun van God is, kan almal wat glo, deel in God se nuwe skepping hê. Alle mense (Jode sowel as nie-Jode) wat hulle verlorenheid besef en die Here Jesus as hulle Verlosser ontvang, word as kinders van God aangeneem. Die Heilige Gees wederbaar hulle en word sodoende vir hulle “die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader!” (Rom. 8:15). Ons word deur Jesus Christus as kinders van God aangeneem (Ef. 1:5).

Alle Israeliete wat onder die wet was, moet ook deur die Messias losgekoop word sodat hulle deur die geloof die aanneming tot kinders kan ontvang (Gal. 4:5). Indien hulle deur die wet gered kon word, dan sou hulle nie ᾿n laaste Adam as Messias nodig gehad het nie. Hulle is egter diep van Hom afhanklik! (Hand. 15:7-11).

Om hierdie verlossingswerk te kon doen, moes Jesus nie net die Seun van Dawid en Koning van Israel wees nie, maar ook God self wat tussen mense kom wandel en die prys vir hulle verlossing betaal het. Volgens Johannes is Hy inderdaad die God en die Skepper van die wêreld wat vlees geword het om van alle mense wat Hom aanneem, kinders van God te maak (Joh. 1:1-14). Jesus het gesê: “Ek en die Vader is een” (Joh. 10:30). As iemand nie in die Here Jesus se godheid glo nie, kan hy nie gered word nie (Joh. 8:23-24).

Die Joodse skrifgeleerdes wou nie die feite oor Jesus se godheid aanvaar nie. Jesus het aan hulle die probleem gestel oor hoe die Messias tegelyk Dawid se seun én Dawid se Here kon wees (Matt. 22:41-46). Hulle kon Hom nie antwoord nie omdat hulle nie in die godheid van die Messias geglo het nie. Mense wat vir Jesus as die beloofde Messias aanvaar het, het geweet dat Hy God is. Die twyfelende Thomas het later gesê: “My Here en my God!” (Joh. 20:28).

Paulus het die groot omvang van die openbaring van God die Vader deur God die Seun begryp en verklaar: “In Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik” (Kol. 2:9). Jesus is Here (Kurios – Hand. 10:36) en God (Theos – Rom. 9:5). In sy brief skryf Petrus van “onse God en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Pet. 1:1). Johannes sê: “Ons is in die Waaragtige, ... Jesus Christus. Hy is die waaragtige God en die ewige lewe” (1 Joh. 5:20). Sagaria het lank voor die Here Jesus se eerste koms al oor sy glansryke wederkoms geskryf: “Dan sal die Here my God [Jahweh my Elohim] kom, al die heiliges met U! (Sag. 14:5).

Baie van die moderne skrifgeleerdes glo nie in die godheid van Jesus nie. Die noodwendige gevolg hiervan sal wees dat hulle én almal wat soos hulle dink, in hulle sonde sal sterf (Joh. 8:24, 58). Alle mense wat die Here Jesus se maagdelike geboorte en godheid verwerp, het ᾿n baie beperkte begrip van Hom vir wie alle dinge moontlik is. Jesus Christus het gekom dat ons lewe en oorvloed kan hê (Joh. 10:10). Net Hý kan vir Israel én die nasies nuwe lewe en hoop vir die toekoms bring.

Redding én straf

Een van verskeie Messiaanse profesieë in die Ou Testament is dié in Jesaja 61. Die Messias is gestuur om die genadejaar van die Here aan te kondig, sodat daar vrylating kon kom vir almal wat gevangenes van Satan is. By sy tweede koms sal die Messias wraak uitoefen oor almal wat sy reddende genade versmaai het. In daardie tyd sal Hy die oorblyfsel van Israel red, in hulle land bevestig, en hulle sal sy lof oral op aarde verkondig:

“Die Gees van die Here Here is op My omdat die Here My gesalf het om die blye boodskap te bring aan ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes ᾿n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis; om uit te roep ᾿n jaar van die welbehae van die Here en ᾿n dag van die wraak van onse God; om al die treurendes te troos…” (61:1-2).

Jesaja 61 verwys na aspekte van die eerste én tweede koms van die Messias. Vers 1 verwys na al drie Persone van die Drie-eenheid: “Die Gees van die Here Here is op My…” Die Messias is deur Jahweh se Gees gesalf (Matt. 3:16-17) om Israel se Priester-Koning te wees, én ook die Redder van die nasies (Jes. 49:5-6).

Die Here Jesus het Jesaja 61:1-2a in ᾿n boodskap in Násaret se sinagoge aangehaal en op Homself van toepassing gemaak: “Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om dié wat verbryseld van hart is, te genees; om aan die gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig” (Luk. 4:18-19).

Dit is opvallend dat die Here Jesus net die helfte van Jesaja 61:2 aangehaal het tot by “die jaar van die welbehae van die Here.” Die tweede deel van die sin, naamlik “en ᾿n dag van die wraak van onse God” het Hy glad nie in sy preek genoem nie. Hierdeur het Hy duidelik te kenne gegee dat sy werke tussen twee komste verdeel sou word. Tydens sy eerste koms het Hy die werk gedoen wat in vers 2a genoem word, naamlik die aankondiging van God se genade oor sondaars, en by sy tweede koms sal Hy die taak vervul wat in vers 2b-3 genoem word – dit sluit die toorn van God oor ᾿n bose mensdom in, asook die redding, vertroosting en opbouing van die oorblyfsel in Israel nadat hulle deur die groot verdrukking gegaan het (Jer. 30:7).

Wanneer die Messias terugkeer, sal dit die “dag van die wraak van onse God” wees. Dit dui op “die dag van die Here se toorn” in die komende groot verdrukking, wanneer daar wraak uitgeoefen sal word op almal wat nie die boodskap van die Messias se eerste koms aanvaar het nie. Paniekbevange mense sal vir die berge en rotse sê: “Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Op. 6:16-17).

Met sy wederkoms sal die Messias die droefheid van die oorblyfsel van Israel in vreugde verander. Hy sal hulle treurigheid wegneem en aan hulle ᾿n gewaad van lof gee (Jes. 61:3). Hulle sal die ou puinhope van hul land herbou, en vreemdelinge sal hulle kleinvee oppas (v. 4-5). Die geredde Israel sal priesters van die Here genoem word (v. 6). Ewige vreugde sal in hulle grondgebied heers (v. 7).

Die Here sê dat Hy in dié tyd ᾿n ewige verbond met Israel sal sluit (v. 8). Jeremia verwys ook na die nuwe verbond: “Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ᾿n nuwe verbond sal sluit; … Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ᾿n God wees, en hulle sal vir My ᾿n volk wees” (Jer. 31:31, 33).

Israel sal wêreldwyd geken en gerespekteer word as ᾿n volk wat die Here van harte dien (v. 9). Sagaria sê: “In dié dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van ᾿n Joodse man gryp en dit vashou en sê: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is” (Sag. 8:23).

Die geredde Israel sal die lof van die Here in daardie tyd verkondig en hulle uitermate in sy genadewerk verbly: “Ek is baie bly in die Here, my siel juig in my God; want Hy het my beklee met die klere van heil, my in die mantel van geregtigheid gewikkel – soos ᾿n bruidegom wat priesterlik die hoofversiersel ombind, en soos ᾿n bruid wat haar versier met haar juwele” (v. 10).

Die godsvrug van Israel sal ook tot ᾿n seën vir al die nasies van die aarde wees, onder wie hulle met groot oortuiging die lof van die Messias sal verkondig (v. 11). “In die dae wat kom, sal Jakob wortel skiet, Israel sal bloei en uitbot, sodat hulle die hele wêreld vol vrugte sal maak” (Jes. 27:6).

Is die Here Jesus ook jóú Verlosser? Indien wel, dan wag daar vir jou ewige vreugde. Oor hulle wat Hom verwerp, sal die toorn van God uitgestort word. Soek die Here terwyl Hy te vinde is, en roep Hom aan terwyl Hy naby is! (Jes. 55:6). Die genadejaar van God, wat die Here Jesus by sy eerste koms aangekondig het, geld nog steeds. Die pad na Gólgota en ᾿n nuwe lewe is oop vir almal wat onder ᾿n sondelas gebuk gaan. Geen berouvolle sondaar sal weggewys word nie, want die hemelse Herder het gekom om te soek en te red wat verlore was (Luk. 19:10). Hy het belowe: “Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie” (Joh. 6:37).

“As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” (1 Joh. 1:9). Hy breek al jou bande van ongeregtigheid en bevry jou vir ewig van die boeie en gevangenskap van Satan. Paulus sê in Kolossense 2:14 dat Christus die skuldbrief van sonde teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael. Ons kan dus nie as slawe van sonde en gevangenes van Satan deur hom gebind en in sy mag gehou word nie. Glo dit, aanvaar dit, en staan vas in die vryheid waarmee Jesus Christus jou vrygemaak het, sonder om jouself weer onder ᾿n juk van diensbaarheid aan die wet of die sonde te plaas (Gal. 5:1).

Tipes van die Messias

Benewens verskeie Messiaanse profesieë in die Ou Testament, is daar ook ᾿n hele aantal tipes van die Messias. Die offerlam wat tydens die uittog uit Egipte geslag is, was ᾿n tipe van die Messias wat sy bloed moes stort om die volk van die slawerny van sonde te verlos. Die analogie tussen die paaslam en Christus is duidelik. Paulus het gesê: “…want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus” (1 Kor. 5:7). “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade” (Ef. 1:7).

Johannes die Doper het Jesus aan die volk voorgestel as die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (Joh. 1:29). Petrus het dieselfde beeld van die lam gebruik toe hy aan die Messiaanse Jode geskryf het: “Julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ᾿n lam sonder gebrek en vlekkeloos” (1 Pet. 1:18-19). Hieruit is dit duidelik dat daar eers ᾿n lydende Messias moes kom wat sy lewe vir die sondes van die volk aflê, voordat Hy by sy wederkoms as Koning oor sy bevryde volk kan regeer.

Die rots wat in die woestyn geklief is sodat water vir die dors van die volk daaruit kon vloei, dui op die rots Jesus Christus wat vir ons geklief is (1 Kor. 10:4). Omdat Christus soos die rots geslaan (gekruisig) is, het Hy vir ons deur die Heilige Gees strome van lewende water geword wat ons geestelike dors vir altyd kan les, daarom nooi Hy alle dorstiges na Hom toe (Joh. 7:37-39). Ook hierdie beeld vereis die koms van ᾿n lydende Messias wat deur sy soendood die water van die lewe vir sy volk én die hele wêreld kon word.

Die manna wat in die woestyn uit die hemel geval het, was ᾿n tipe van Jesus as die brood van die lewe: “Ons vaders het die manna in die woestyn geëet, soos geskrywe is: Hy het brood uit die hemel aan hulle gegee om te eet. En Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle, dit is nie Moses wat die brood uit die hemel aan julle gegee het nie, maar my Vader gee julle die ware brood uit die hemel. Want die brood van God is Hy wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld die lewe gee. Toe sê hulle vir Hom: Here, gee ons altyd hierdie brood. En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie” (Joh. 6:31-35).

Die genadewerk van die lydende Messias wat Homself oorgegee het om die brood en water van die lewe te wees, is onontbeerlik vir enige mens. Hy moet eers geestelik gesproke jou Redder wees voordat Hy jou Koning kan wees.

Die koperslang aan die paal was ook ᾿n tipe van die Messias se reddingswerk aan die kruis: “En soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Joh. 3:14-15). Die volk is in die woestyn deur giftige slange gebyt, en daar was geen genesing hiervoor anders as om na die koperslang te kyk nie.

Israel én alle ander mense is geestelik tot die dood toe siek as gevolg van die gif van die slang wat deur die sondeval tot die ganse menslike geslag deurgedring het. Deur te sien op die kruis waar Christus ons van die vloek van die sonde losgekoop het (Gal. 3:13), is daar redding en ᾿n nuwe lewe vir elkeen wat glo. Ons roem is in die gekruisigde Messias wat sy lewe vir ons afgelê het, en net op grond daarvan sal ons eendag saam met Hom in sy ryk kan regeer en in al sy heerlikheid deel.

Daar is ook baie Ou Testamentiese persone wat in sekere opsigte tipes van die Messias was, waarvan twee van die bekendstes Isak en Josef is. Isak was die lieflingseun van sy vader, en Abraham kry seker die pynlikste opdrag denkbaar: Neem jou seun, jou enigste, wat jy liefhet, Isak, en gaan na die land Moria en offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek jou sal aanwys” (Gen. 22:2). Abraham was gehoorsaam om sy eniggebore seun oor te gee om te sterf. So ook is Jesus die eniggebore en geliefde Seun van sy hemelse Vader, en was sy Vader bereid om Hom as ᾿n soenoffer vir ons sondes aan die dood oor te gee.

Isak was hiervoor bereid en het selfs die hout waarop hy geoffer sou word, op sy skouers na die offerplek toe gedra. So ook het Jesus eeue later die kruishout op sy skouers na Golgota toe gedra. Isak is van die brandofferaltaar af aan sy vader teruggegee: “Deur die geloof het Abraham, toe hy op die proef gestel is, Isak geoffer; ja, hy wat die beloftes ontvang het, het sy eniggeborene geoffer, aan wie gesê is: In Isak sal jou nageslag genoem word – want hy het gereken dat God mag het om selfs uit die dode op te wek; daaruit het hy hom ook, om so te spreek, terug ontvang” (Heb. 11:17-19). Baie eeue later het die Messias wat sy lewe vir almal afgelê het, uit die dood opgestaan en na sy Vader in die hemel opgevaar. Hy het die dood oorwin.

Josef as ᾿n uitbeelding van die Messias

Een van die duidelikste tipes van die Messias in die Ou Testament is Josef. Uit sy lewe blyk albei die rolle van die Messias soos wat dit op sy eerste en tweede koms betrekking het, naamlik die lydende Messias wat deur sy volk verwerp en gekruisig is, en die triomferende Koning wat heerskappy op die troon van Dawid sal voer en sy volk in geregtigheid sal lei. Die volgende grepe uit Josef se lewe, soos in Génesis 37 tot 50 beskryf, het betrekking:

“Israel het Josef meer liefgehad as al sy seuns; … Toe sê Israel vir Josef: Pas jou broers nie die vee op by Sigem nie? Kom, laat ek jou na hulle toe stuur. En Hy antwoord hom: Hier is ek!” (Gen. 37:3, 13). Jesus is ook die geliefde Seun van sy Vader wat bereid was om na sy broers, die Jode, te gaan toe Hy gestuur is (Matt. 15:24).

Ons lees dat Josef se broers hom van ver af gesien het, “maar voordat hy naby hulle kom, het hulle listig raad gehou teen hom om hom dood te maak. … En toe die Midianitiese koopmans verbykom, het hulle Josef uit die put opgetrek en aan die Ismaeliete verkoop vir twintig sikkels silwer” (Gen. 37:18, 28). Die Here Jesus is ook deur sy volksgenote gevange geneem en vir die prys van ᾿n slaaf verkoop: “Toe kom die owerpriesters en die skrifgeleerdes en die ouderlinge van die volk … en hou saam raad om Jesus met lis gevange te neem en om die lewe te bring. … Toe gaan een van die twaalf, met die naam van Judas Iskariot, na die owerpriesters en sê: Wat wil u my gee en ek sal Hom aan u oorlewer? En hulle het vir hom dertig silwerstukke afgeweeg” (Matt. 26:3-4, 14-15).

Josef word op grond van valse beskuldigings deur die hofdienaar in die gevangenis gewerp. Twee ander dienaars in Farao se paleis word saam met Josef opgesluit; die een word vrygespreek, maar die ander een sterwe. Jesus word ook vals beskuldig, gekruisig en in ᾿n rotsgraf begrawe wat deur soldate bewaak is. Twee misdadigers word saam met Hom tereggestel – die een verkry die ewige lewe en die ander een sterf in sy sonde.

Josef word uit die gevangenis verhef om saam met die koning op sy troon te sit as tweede in bevel oor die land: “Kan ons wel iemand vind soos hierdie man in wie die Gees van God is? … Jy moet oor my huis wees, en na jou bevel moet my hele volk hulle skik” (Gen. 41:38, 40). Ons weet hoedat Jesus uit die dood opgewek is en uitermate verhoog is om aan die regterhand van God te sit, waar Hy ook vir ons intree (Fil. 2:9-10; 1 Joh. 2:1).

“En toe die hele Egipteland honger gely en die volk na Farao geroep het om brood, sê Farao aan die Egiptenaars: “Gaan na Josef. Doen wat hy julle sê” (Gen. 41:55). Die hemelse Vader stuur al die mense op aarde met hulle geestelike behoeftes na Jesus toe wanneer Hy sê: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ᾿n welbehae het. Luister na Hom!” (Matt. 17:5). In gehoorsaamheid aan die woorde van Jesus is die geheim van die ewige lewe opgesluit (Joh. 6:63).

“En die hele wêreld het na Josef in Egipte gekom om koring te koop, want die hongersnood was swaar op die hele aarde” (Gen. 41:57). Jesus is op die troon van sy Vader die uitdeler van brood aan ᾿n sterwende wêreld: “Want die brood van God is Hy wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld die lewe gee” (Joh. 6:33). Niemand het buite Hom enige kans op geestelike oorlewing nie.

Die groot hongersnood tref ook vir Israel: “Toe Jakob merk dat daar koring in Egipteland was, het Jakob aan sy seuns gesê: “Kyk, ek het gehoor dat daar koring in Egipte is; trek daarheen af, en koop vir ons daar koring, dat ons kan lewe en nie sterwe nie” (Gen. 42:1-2). Hulle het Egipteland toe gegaan waar Josef in die hongeriges se behoeftes voorsien het, “en Josef het sy broers herken, maar hulle het hom nie herken nie” (Gen. 42:8). Jesus en sy broers (die Jode) was in dieselfde situasie. Hoewel lede van die volk in groot getalle met hulle probleme en siektes na Jesus toe gekom het, het hulle Hom nie as die beloofde Messias en Koning van Israel herken nie.

Josef werp sy broers in die gevangenis en eis dat die jongste broer gehaal word. “Toe sê hulle vir mekaar: voorwaar, ons boet nou vanweë ons broer, omdat ons die benoudheid van sy siel gesien het toe hy ons gesmeek het en ons nie geluister het nie – daarom kom hierdie benoudheid oor ons. Daarop antwoord Ruben hulle: Het ek nie vir julle gesê nie: Besondig julle nie aan die seun nie? Maar julle het nie geluister nie. Kyk, so word dan ook sy bloed geëis” (Gen. 42:21-22).

Die vaders van Israel se stamme het nie die koste van hulle daad bereken toe hulle hul broer, wat ook die geliefde seun van sy vader was, in ᾿n put gegooi, hom dood verklaar en later vir die prys van ᾿n slaaf verkoop het nie. Jesus het dieselfde behandeling gekry: “En die goewerneur sê: Watter kwaad het Hy dan gedoen? Maar hulle skreeu nog harder en sê: Laat Hom gekruisig word! … En die hele volk antwoord en sê: Laat sy bloed op ons en ons kinders kom!” (Matt. 27:23, 25). Die Jode het duidelik nie besef watter verskriklike vervolging vir eeue lank oor hulle en hul kinders sou kom as gevolg van die voorbedagte verraad teen hulle broer, wat die hemelse Vader se lieflingseun is nie.

Josef bemerk die benoudheid van sy broers en draai hom van hulle af weg om te ween – hy weet dat dit alles uit hulle dwase optrede teenoor hom voortspruit. So was dit ook met die Here Jesus: “En toe Hy naby kom en die stad sien, het Hy daaroor geween en gesê: As jy tog maar geweet het, ja, ook in hierdie dag van jou, die dinge wat tot jou vrede dien! Maar nou is dit vir jou oë bedek. Want daar sal dae oor jou kom dat jou vyande ᾿n skans rondom jou sal opwerp en jou omsingel en jou van alle kante insluit. En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie” (Luk. 19:41-44).

Josef verwyt nie sy broers nie, maar is innig lief vir hulle. Hierin word ook die liefde van God vir Israel weerspieël: “Is Efraim vir My ᾿n dierbare seun of ᾿n troetelkind? Want so dikwels as Ek teen hom spreek, dink Ek nog altyd aan hom; daarom is my ingewande oor hom in beroering; Ek sal My sekerlik oor hom ontferm, spreek die Here” (Jer. 31:20).

Die broers van Josef buig voor hom neer na die aarde toe en vervul letterlik sy droom wat in Genesis 37:6-8 beskryf is. In die Nuwe Testament lees ons dat elke knie voor Jesus Christus sal buig en elke tong sal bely dat Hy die Here is (Fil. 2:10-11).

Tydens die tweede ontmoeting openbaar Josef homself aan sy broers: “Ek is Josef! Leef my vader nog? Maar sy broers kon Hom nie antwoord nie, want hulle was verskrik voor hom. Verder sê Josef vir sy broers: Kom tog nader aan my. En toe hulle nader kom, sê hy: Ek is julle broer Josef vir wie julle na Egipte verkoop het. Maar wees nou nie bedroef nie, en laat daar geen ontstemming by julle wees dat julle my hierheen verkoop het nie. Want om lewens te behou, het God my voor julle uit gestuur” (Gen. 45:3-5).

Met Jesus se tweede koms sal Israel se oë geopen word om Hom as die Messias-Koning te herken, wat vroeër deur hulle verkoop en oorgelewer is om gekruisig te word: “Oor die huis van Dawid en die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ᾿n mens rouklaag oor ᾿n enigste seun en bitterlik oor hom ween soos ᾿n mens bitterlik ween oor ᾿n eersgebore kind. In dié dag sal die rouklag groot wees in Jerusalem” (Sag. 12:10-11). “En as iemand vir hom sê: Watter wonde is daar tussen jou hande? dan sal hy antwoord: So is ek geslaan in die huis van my vriende” (Sag. 13:6). “Hulle sal my Naam aanroep en Ek sal hulle verhoor. Ek sê: Dit is my volk! en hulle sal sê: Die Here my God!” (Sag. 13:9).

Nog ᾿n belangrike besonderheid by hierdie tweede ontmoeting met Josef is die volgende: “En hulle het gaan sit volgens sy bepaling, die eersgeborene na sy eersgeboorte en die jongste na sy jonkheid. Toe kyk die manne mekaar verbaas aan” (Gen. 43:33). As Koning van die Jode ken Jesus ook die stamme uitmekaar, en Hy sal hulle by die koms van sy koninkryk volgens die bepalings van Eségiël 48 in stamverband vestig. Openlike verbasing sal weer eens op baie gesigte gesien kan word.

Josef hervestig sy hele familie by hom in die land: “Kom af na my, moenie versuim nie! En u kan in die land Gosen woon en naby my wees, u en u kinders en u kindskinders en u kleinvee en u beeste en alles wat u besit” (Gen. 45:9-10). Ná die koms van die Messias sal die res van die verstrooide Jode uit die nasies versamel word om by hulle Koning in die land Israel te woon: “As ᾿n lieflike geur sal Ek ᾿n behae in julle hê wanneer Ek julle uit die volke uitlei en julle uit die lande versamel waarin julle verstrooi was, en Ek sal My in julle as die Heilige laat ken voor die oë van die nasies. En julle sal weet dat Ek die Here is as Ek julle in die land Israel bring, in die land waar Ek my hand oor opgehef het om dit aan julle vaders te gee” (Eseg. 20:41-42). Alle profesieë oor die bewoning van die land Israel het net op die Joodse volk betrekking en kan nie op ander volke of op die kerk oorgedra word nie.

Wat doen Josef se broers nadat hulle met hom versoen is? Hulle gaan vertel: “Josef leef nog – en dat hy regeerder in die hele Egipteland is” (Gen. 45:26). ᾿n Bekeerde Israel sal ná die wederkoms die Here se spesiale getuies wees en aan alle volke verkondig dat Jesus leef en regeer: “In dié dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van ᾿n Joodse man gryp en dit vashou en sê: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is” (Sag. 8:23).

Die Koning wat weer kom

Die dissipels wat wél vir Jesus tydens sy eerste koms as Messias erken het, het nie van die bedeling van wêreldevangelisasie geweet wat ná sy verwerping deur Israel sou aanbreek nie. Hulle het gemeen dat Hy in daardie tyd die troon van Dawid sou oprig en as heerser in die herstelde koninkryk van Israel sou regeer: “Die wat bymekaar gekom het, vra Hom toe en sê: Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk van Israel weer oprig? En Hy antwoord hulle: Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie; maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal My getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde” (Hand. 1:6-8; vgl. ook Luk. 24:46-49).

Die Here Jesus het nie ontken dat Hy weer die koninkryk van Israel sou oprig nie, maar het net gesê dat die tyd daarvoor nog nie aangebreek het nie – eers moes die hele wêreld geëvangeliseer word. Die proklamering van sy Messiasskap en verlossingswerk onder alle nasies is in ooreenstemming met ᾿n profesie in Jesaja: “En nou sê die Here wat My van die moederskoot af geformeer het om sy Kneg te wees, om Jakob na Hom terug te bring en dat Israel by Hom versamel mag word – en Ek word geëer in die oë van die Here, en my God is my sterkte. Hy het gesê: Dit is te gering dat U my Kneg sou wees om op te rig die stamme van Jakob en terug te bring die gespaardes in Israel: Ek het U gemaak tot ᾿n lig van die nasies, om my heil te wees tot aan die einde van die aarde” (Jes. 49:5-6). Paulus verwys in Handelinge 13:46-48 ook na hierdie profesie as die mandaat vir sy sendingopdrag na die nie-Joodse volke.

Jesus het die verwagting van sy onmiddellike aanvaarding van die koningskap van Israel ook in ᾿n gelykenis weerlê deur duidelik daarop te wys dat Hy ná ᾿n lang afwesigheid as Koning sou terugkeer:

“En terwyl hulle na hierdie dinge luister, vertel Hy daar nog ᾿n gelykenis by, omdat Hy naby Jerusalem was en hulle gedink het dat die koninkryk van God onmiddellik sou verskyn. Hy het dan gesê: ᾿n Man van hoë geboorte het na ᾿n ver land gereis om vir homself ᾿n koningskap te ontvang en dan terug te kom. En nadat hy tien van sy diensknegte geroep het, gee hy hulle tien ponde en sê vir hulle: Dryf handel daarmee totdat ek kom. Maar sy medeburgers het hom gehaat en ᾿n gesantskap agter hom aan gestuur om te sê: Ons wil nie hê dat hierdie man koning oor ons moet wees nie. En toe hy terugkom, nadat hy die koningskap ontvang het, sê hy dat daardie diensknegte aan wie hy die geld gegee het, by hom geroep moes word, sodat hy kon weet wat elkeen met handel verdien het. … Maar daardie vyande van my wat nie wou hê dat ek koning oor hulle sou wees nie, bring hulle hier en slaan hulle voor my dood” (Luk. 19:11-15, 27).

Hierdie gelykenis was ᾿n duidelike sinspeling op Herodes Archelaüs wat sy vader, Herodes die Grote, as koning van Judéa opgevolg en tussen 4 v.C. en 6 n.C. hier geregeer het. Herodes die Grote het ná die geboorte van Jesus die kindermoord gelas (Matt. 2:16) omdat hy Jesus na aanleiding van wat die wyse manne uit die Ooste oor die geboorte van die Koning van die Jode gesê het, as ᾿n bedreiging vir sy eie koningshuis beskou het (Matt. 2:1-2). Herodes die Grote is kort ná die gruweldaad van die kindermoord dood. Sy koninkryk is tussen drie van sy seuns verdeel. Herodes Archelaüs sou koning in Judéa word, Herodes Antipas viervors in Galilea en Herodes Filippus viervors in die Oos-Jordaangebied.

Keiser Augustus het hierdie testament in Rome bekragtig, ten spyte daarvan dat die Jode ᾿n gesantskap agter die erfgename aan na Rome gestuur het om as gevolg van Archelaüs se wreedheid teen sy aanstelling as koning beswaar te maak: “Sy medeburgers het hom gehaat en ᾿n gesantskap agter hom aan gestuur om te sê: Ons wil nie hê dat hierdie man koning oor ons moet wees nie” (Luk. 19:14). Met sy terugkeer het Archelaüs die manne laat ombring wat teen hom in opstand gekom en sy koningskap teëgestaan het.

Die feit dat Archelaüs ᾿n gevreesde man was, word in Mattheus 2:19-23 bevestig. Dit is die groot rede waarom Josef met Maria en die Kindjie, Jesus, nie in Judéa gevestig het toe hulle van Egipte af teruggekeer het nie, maar in Galilea: “Maar toe hy [Josef] hoor dat Archelaüs oor Judea koning was in die plek van sy vader Herodes, was hy bevrees om daarheen te gaan. En hy het ᾿n goddelike waarskuwing in ᾿n droom ontvang en na die streke van Galilea teruggekeer. En hy het gaan woon in ᾿n stad met die naam van Nasaret, sodat vervul sou word wat deur die profete gespreek is, dat Hy Nasaréner genoem sou word” (Matt. 2:22-23).

Jesus verwys in hierdie gelykenis na die feit dat Herodes se seun, Archelaüs, nie die werklike koning van die Jode is wat volgens die profesieë bestem was om in Jerusalem te regeer nie, maar Hy self. Hy is die man van hoë geboorte wat nogtans op ᾿n uiters nederige wyse in ᾿n stal in Betlehem gebore is: “En jy, Betlehem Efrata, klein om te wees onder die geslagte van Juda, uit jou sal daar vir My uitgaan een wat ᾿n heerser in Israel sal wees; en sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid” (Miga 5:1).

Jesus het nie tydens sy eerste koms as koning geregeer nie, daarom sê Hy ook in die gelykenis dat Hy die man van hoë geboorte is wat na ᾿n ver land gereis het om sy koningskap te ontvang. Archelaüs het na Italië gereis en daar is sy status nog van koning na etnarg (heerser) verlaag. Sy bewindstermyn was ook van korte duur. Jesus se reis na ᾿n ver land dui op sy hemelvaart. Daar ontvang Hy ᾿n koningskap ná die volbragte versoeningswerk wat Hy tydens sy eerste koms aan die kruis gedoen het. Wanneer Hy van die ver land af terugkom, sal Hy sy koningskap kom beoefen: “Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel, sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat al hierdie dinge doen” (Hand. 15:16-17).

Wanneer die Messias in heerlikheid na Jerusalem terugkeer, sal sy koms met trompetgeskal aangekondig word: “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus [die Messias], en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Op. 11:15).

Tydens die Here Jesus se afwesigheid, tussen sy eerste koms as nederige dienskneg en sy tweede koms as heersende Koning, het sy volgelinge ᾿n duidelike opdrag om sy koninkryk wêreldwyd uit te brei. Hulle moet sy getuies wees tot aan die eindes van die aarde, en vir hierdie groot taak het Hy die toerusting van die vervulling met die Heilige Gees aan hulle geskenk (Hand. 1:8).

In die gelykenis in Lukas 19 sê Hy dat Hy voor sy vertrek sy diensknegte geroep en aan elkeen ᾿n pond gegee het met die opdrag: “Dryf handel daarmee totdat Ek kom.” Hierdie pond dui nie op redding nie, maar op ᾿n goddelike werksvermoë. Die diensknegte behoort reeds aan hulle Heer – Hy het hulle met sy bloed gekoop, stel hulle nou in sy diens en gee aan hulle die krag van die Heilige Gees waarsonder hulle nie hulle werk sou kon doen nie.

In die King James-vertaling van die Bybel word die opdrag tot diensbaarheid só gestel: “Occupy till I come.” Dit beteken: “Behartig die sake van my koninkryk totdat Ek kom.” Die Here Jesus het sy dissipels by ᾿n ander geleentheid ook duidelik laat verstaan dat hulle gestuurdes is: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook” (Joh. 20:21). Geen dienskneg van die Here kan hierdie groot opdrag in ᾿n vyandige wêreld uitvoer sonder dat hy of sy met goddelike krag uit die hoogte toegerus is nie (Luk. 24:49).

Wanneer die Koning terugkom, is die eerste saak op sy agenda ᾿n ontmoeting met sy diensknegte sodat hulle voor sy regterstoel rekenskap oor die uitvoering van hulle opdrag kan gee (2 Kor. 5:10; Rom. 14:12). Aan diegene wat getrou was, sal genadeloon toegeken word: “Kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees” (Op. 22:12). ᾿n Deel van hierdie beloning sal wees dat die Here Jesus se diensknegte wat getrou bevind is, saam met Hom in sy koninkryk op aarde sal regeer. “En Hy sê vir hom: Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede” (Luk. 19:17).

Wanneer die Koning met sy wederkoms klaar sy diensknegte beloon het, sal Hy Homself in oordeel tot diegene wend wat sy koningskap verwerp het: “Maar daardie vyande van My wat nie wou hê dat ek koning oor hulle sou wees nie, bring hulle hier en slaan hulle voor My dood” (Luk. 19:27). Volgens Openbaring 19:21 sal Jesus Christus se vyande gedood word met die swaard wat uit sy mond gaan. Hy sal net ᾿n woord spreek wat tot hulle verdelging sal lei.

Uit hierdie gelykenis is die volgorde van die Messias se openbaringsgebeure baie duidelik: eers word sy diensknegte ontbied om voor Hom te verskyn en rekenskap van hulle lewe te gee, daarna sal sy toorn oor sy vyande uitgestort word, en dan begin sy koninkryk.

Die regte Messiasverwagting

Omdat Israel as volk eers aan die einde van die groot verdrukking die Messias sal aanvaar, sal hulle deur hierdie tyd van groot benoudheid moet gaan om gelouter en gesuiwer te word. Jeremia sê: “Dit is ᾿n tyd van benoudheid vir Jakob; maar hy sal daaruit verlos word” (Jer. 30:7). Die Messias het Israel tydens sy eerste koms ook duidelik teen die valse messias en sy meelopers gewaarsku wat hulleself in die eindtyd aan die volk sal bied:

“Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! [die Messias] en hulle sal baie mense mislei. … Want daar sal valse christusse (valse messiasse) en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei. Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê. As hulle dan vir julle sê: Kyk, Hy is in die woestyn – moenie uitgaan nie; kyk, Hy is in die binnekamer – moet dit nie glo nie. Want soos die weerlig uit die ooste uitslaan en tot in die weste skyn, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees” (Matt. 24:4-5, 24-27).

Elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het, nl. die Joodse volk (Op. 1:7). In dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat oos van Jerusalem is (Sag. 14:4-5), dan sal die hele oorblyfsel van Israel gered en onder die vaandel van die Messias se regering verenig word.

Israel moet nie die fout maak om ᾿n messias te aanvaar wat op ᾿n ander wyse kom en ᾿n ander soort vrede aanbied as wat die ware Messias aanbied nie. Die valse messias sal Israel se vyande saam met die volk van God in ᾿n valse wêreldgodsdiens onder sy persoonlike leierskap verenig. Diegene wat nie wil saamwerk nie, sal geweldig vervolg en om die lewe gebring word. ᾿n Waarskuwing teen só ᾿n aanmatigende wêreldmessias wat hom in sy eie naam op groot dinge sal beroem, is deur Jesus aan die Jode gerig (Joh. 5:43), maar ten spyte hiervan sal hulle hom nogtans aanvaar en ook n verbond met hom sluit (Dan. 9:27).

Die uur van finale beslissing tussen die ware Messias en die valse messiasse van die eindtyd sal weldra in Israel aanbreek. In die uitoefening van ᾿n keuse sal hulle in gedagte moet hou dat die ware Messias nooit kompromie met die goddelose heidenwêreld gemaak het nie, en dat Hy ook nie by sy wederkoms brûe van eenheid na die valse godsdienste sal bou nie. Sy vredesaanbod aan alle mense staan nog steeds, maar dit is gebaseer op die streng voorwaarde dat Hy alleen as die Messias en poort na die koninkryk van die hemel erken sal word: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh. 14:6).

Israel se verwerping van die Drie-enige God

Die verwerping van die Messias tydens sy eerste koms, en die geweldige gevolge wat dit vir Israel as verbondsvolk ingehou het, was deel van die uitdruklike verwerping van die Drie-enige God. Met slegs geringe uitsonderings van ᾿n oorblyfsel van godvresende manne en vroue, het die volk oor baie jare heen die rug op God gedraai, ᾿n hoë muur van sonde tussen hulle en Hom opgebou (Jes. 59:2), en die maat van hulle ongeregtigheid vol gemaak (Matt. 23:32). In die proses het hulle geestelik geweldig verhard en afgestomp geraak.

Dit is duidelik dat Israel die Drie-enige God in drie stadiums verwerp het. Eers het hulle die Vader verwerp, toe die Seun en daarna die Heilige Gees. In die gelykenis van die landbouers (Matt. 21:33-43) verduidelik die Here Jesus aan Joodse volksleiers die eerste twee verwerpings, naamlik hulle verwerping van die Landbouer (God) deur middel van die verwerping van sy gesante, en daarna die verwerping van die Landbouer se Seun, die Messias.

Verwerping van die Vader

Israel is die volk wat deur die Vader vir Homself afgesonder is. Volgens die gelykenis is hulle vir Hom soos ᾿n wingerd wat goed bewerk, omhein en bewaak is, en wat alle geleentheid gehad het om vir Hom veel vrug te dra. In die persone van Moses en die profete het Hy sy spesiale gesante na hulle gestuur om tot eer van sy Naam as geestelike leiers op te tree en sodoende sy doel met Israel te bereik.

Onder die aansporing van goddelose konings en valse profete het die volk egter telkens die gesante van God verwerp, mishandel en selfs doodgemaak. In die tyd van Jesus was hierdie gees van rebellie teen God sterk gevestig, daarom het Jesus die duidelike waarskuwing uitgespreek dat die Vader spoedig rekenskap van hierdie goddelose manne sou eis wat sy profete verwerp en party van hulle doodgemaak het. Rekenskap sal geëis word van die afvallige lede van die uitverkore volk oor hulle verkeerde besluite en rebelse houding (Matt. 23:34-36).

Die laaste van die profete wat God gestuur het om vir Hom ᾿n oes onder sy volk in te samel, was Johannes die Doper. Die volksleiers het hom egter ook verwerp en geen vinger verroer toe Herodes hom laat vermoor het nie. Jesus het hulle sterk verkwalik omdat hulle hierdie groot profeet van God nie geglo en aanvaar het nie: “Die doop van Johannes, waar was dit vandaan, uit die hemel of uit mense? En hulle het by hulself geredeneer en gesê: As ons sê: Uit die hemel – dan sal Hy ons vra: Waarom het julle hom dan nie geglo nie?” (Matt. 21:25). So het hulle dan ook op hierdie profeet die rug gedraai en sy vermoording goedgekeur.

Verwerping van die Seun

Jesus is die eniggebore Seun van God wat in die volheid van die tyd as die beloofde Messias na Israel gestuur is om hulle soos ᾿n kudde in die koninkryk van die Vader te versamel. Die volksleiers het Hom egter ook verwerp nadat hulle listig teen Hom raad gehou het: “Toe kom die owerpriesters en die skrifgeleerdes en die ouderlinge van die volk bymekaar in die paleis van die hoëpriester wat Kájafas genoem word, en hou saam raad om Jesus met lis gevange te neem en om die lewe te bring” (Matt. 26:3-4).

Deur hierdie daad van rebellie het die volksleiers ook die tweede persoon in die Godheid, naamlik die Seun, verwerp. Hierdeur het die leiers hulleself by hulle opstandige voorvaders gevoeg wat die profete van God doodgemaak het (Matt. 23:37-39). As gevolg van die verwerping van die Seun het God wraak op die landbouers (die geestelike leiers van Israel) én hulle misleide volgelinge uitgeoefen. Die Seun het gesien dat die toorn van God onafwendbaar was, en innig jammer vir Jerusalem en sy verblinde inwoners gevoel (Luk. 19:41-44).

Verwerping van die Heilige Gees

Die Vader het in sy lankmoedigheid en genade die tye van onkunde oorgesien, en aan Israel ná die verwerping en kruisiging van sy Seun nog ᾿n paar jaar gegee om die aanbod van sy koninkryk te aanvaar. Dit was tydens die bediening van die Heilige Gees ná Pinksterdag in die vroeë Christelike kerk in Jerusalem. Die finale daad van die verwerping van hierdie aanbod was die steniging van Stéfanus, wat die eerste martelaar van die kerk van Christus was.

In ᾿n baie lang rede het Stéfanus die volksleiers aan die jarelange wandade van hul voorvaders herinner (Hand. 6:8–7:60). Hy het hulle saamgegroepeer met diegene wat die profete van die Here én die Messias verwerp en doodgemaak het. Verder het hy hulle daarvan beskuldig dat hulle nou ook die Heilige Gees van God weerstaan en verwerp het: “Julle hardnekkiges en onbesnedenes van hart en ore, julle weerstaan altyd die Heilige Gees; net soos julle vaders, so ook julle. Watter een van die profete het julle vaders nie vervolg nie? Ja, hulle het dié gedood wat vooraf die koms verkondig het van die Regverdige, van wie julle nou verraaiers en moordenaars geword het” (Hand. 7:51-52).

Die volk is deur Stéfanus in die beskuldigdebank geplaas, aan herhaalde rebellie teen God skuldig bevind, en sodoende as volk aan verwerping en veroordeling oorgegee. In beginsel het hulle nou die seël op die verwoesting van Jerusalem en die verstrooiing van Israel geplaas, wat in die jaar 70 n.C. gebeur het.

Warren Wiersbe (1989:433) verwys na die drie moorde wat Israel gepleeg het, op grond waarvan hulle die Drie-enige God verwerp en hulle eie lot verseël het: “Vir Israel het Stéfanus se dood veroordeling beteken. Dit was hulle derde moord. Hulle het toegelaat dat Johannes die Doper doodgemaak word; hulle het gevra dat Jesus doodgemaak word, en vir Stéfanus het hulle self doodgemaak. Toe hulle Herodes toegelaat het om Johannes dood te maak, het die Jode teen God die Vader gesondig wat vir Johannes gestuur het (Matt. 23:28-32). Toe hulle Pilatus gevra het om vir Jesus te kruisig, het hulle teen God die Seun gesondig wat as Verlosser na hulle toe gekom het. Toe hulle Stéfanus gestenig het, het hulle teen die Heilige Gees gesondig wat deur die apostels en die vroeë Christelike kerk in Jerusalem gewerk het. Hierdeur het hulle as volk die oordele oor hulleself gebring.”

As gevolg van Israel se rebellie en ongeloof is die taak om God se spesiale getuies in die wêreld te wees, uit hulle hande geneem en op die verwerpte dissipels se skouers geplaas. Deur hulle prediking is die kerk van Christus op aarde gevestig. Dit beteken egter nie dat God sy verbond met Israel verbreek het, en dat die kerk nou die “nuwe Israel” is nie – dit is hoegenaamd nie die geval nie. Ná ᾿n baie lang tyd van verstrooiing onder die nasies van die wêreld sal Israel fisies én geestelik herstel word. In ᾿n nuwe, kragtige werk van die Heilige Gees sal hulle as volk met trane van berou na die Messias, wat deur hulle vaders verwerp en gekruisig is, terugkeer (Sag. 12:10). Tans is die volk nog geestelik verblind, maar ná die komende tyd van benoudheid vir Jakob (die groot verdrukking) sal ᾿n oorblyfsel van hulle met die Messias versoen en verenig word (Sag. 13:1, 9).

Die Messias as Bruidegom

᾿n Baie belangrike teken wat in Mattheus 25:1-13 aan eindtydse Israel gegee word dat Jesus die Messias is, sal vervul word wanneer Hy as die hemelse Bruidegom sy bruid tydens die wegraping in die geheim kom haal. Dit sal geestelik ᾿n donker tyd van die wêreldgeskiedenis wees wanneer Messiaanse Jode sowel as evangeliese Christene onder die nasies bespot en verwerp sal word weens hulle Bybels-gebaseerde geloof in Jesus Christus. In daardie tyd, kort voor die verdrukking, sal die gees van die Antichris al sterk aan die werk wees om die godheid van Jesus te loën, sy opstanding, hemelvaart en wederkoms te bevraagteken, die Bybel as die geïnspireerde Woord van God in diskrediet te bring, en ook Bybelse beloftes soos dié oor die wegraping te ontken en as onwerklik voor te stel.

Tydens Jesus se eerste koms was daar ook groot aanvegtinge teen Hom en sy klein groepie ware dissipels. Die nag voor sy kruisiging het Hy egter die volgende gerusstellende belofte aan hulle gemaak: “Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” (Joh. 14:1-3).

Hierdie belofte is na analogie van die tradisionele Joodse huweliksgebruike in Bybelse tye gemaak. Die eerste belangrike stap in die Joodse huwelik was die verlowing, wat die sluiting van ᾿n huweliksverbond behels het. In die tyd van Jesus was dit gebruiklik dat só ᾿n verbond gesluit is op grond van die inisiatief wat deur die voornemende bruidegom geneem is. Vir hierdie doel het hy van sy vaderhuis af na die woning van sy voornemende bruid gereis. Daar het hy met haar vader oor die bruidsprys (mohar) onderhandel wat hy vir haar moes betaal. Nadat die bruidegom die koopprys betaal het, is die huweliksverbond tussen hulle gesluit. Van daardie oomblik af is die bruid as toegewy of geheilig verklaar, en slegs vir haar bruidegom afgesonder. As ᾿n simbool van die verbond wat tussen hulle gesluit is, het die bruidegom en die bruid uit ᾿n beker ongegiste wyn gedrink waaroor die verlowingseën uitgespreek is.

In die bestudering van die analogie is die eerste stelling wat gemaak moet word, dat die geheiligde kerk van Christus sy bruidsgemeente is (Ef. 5:22-33). Net soos die Joodse bruidegom die inisiatief in die huwelik geneem het deur sy vaderhuis te verlaat en na die woning van sy voornemende bruid te reis, het Jesus 2000 jaar gelede sy vaderhuis verlaat en na die aarde gekom wat die woonplek van sy voornemende bruid is. Hier het Hy deur sy kruisdood die volle prys betaal om sy bruid los te koop sodat sy net aan Hom kan behoort. Paulus sê vir die gemeente: “Julle is duur gekoop” (1 Kor. 6:20), en Petrus bevestig ook dat ons losgekoop is deur die bloed van die Lam (1 Pet. 1:18-19).

In dieselfde nag waarin Jesus die belofte aan die vroeë dissipels gemaak het dat Hy vir ons plek gaan berei, het Hy die Nagmaal ingestel. Hy het die beker met die wyn aan sy dissipels gegee met die woorde: “Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed” (1 Kor. 11:25). Dit is ter herinnering aan die vaste en ewige verbintenis wat ons deur sy kruisdood met Hom het.

Soos wat die Joodse bruid verklaar is om heilig en slegs aan haar bruidegom toegewy te wees, moet ons ook voorberei word om vlekkeloos voor Christus te verskyn. Hy het voorsiening hiervoor gemaak: “Christus het ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee om dit te heilig, … sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees” (Ef. 5:25-27).

Nadat die huweliksverbond gesluit is, het die bruidegom die woning van die bruid verlaat en na sy vaderhuis teruggekeer. Daar het hy, afgesonderd van sy bruid, vir omtrent twaalf maande lank gebly. Hierdie jaar het aan die bruid die geleentheid gebied om haar bruidsuitrusting gereed te kry en haar op die getroude lewe voor te berei. Die bruidegom het homself besig gehou met die inrig van woonkwartiere in sy vader se huis, waarheen hy sy bruid kon bring.

Christus het ook ná sy eerste koms en die betaal van die koopprys vir sy bruid, na sy vaderhuis in die hemel teruggekeer om vir ons plek te gaan berei. In hierdie tyd van afsondering moet ons op die lewe in die hemel voorberei word, getrou aan die Here Jesus bly en die werk doen wat Hy aan ons opgedra het, deur die uitnodiging tot lidmaatskap van sy bruidsgemeente ook aan ander mense te rig. Die gevaar bestaan egter dat ons in hierdie tyd deur Satan en die wêreld verlei kan word om ontrou aan Christus te raak en sodoende uit ons heilige verhouding met Hom te verval.

Die vleeslike Korinthiërs het nie uitvoering aan die opdrag tot heiligmaking gegee nie (1 Kor. 3:1-17), en Paulus het gewaarsku dat hulle as gevolg van die wêreldse gees wat hulle geopenbaar het, die slagoffers van sataniese misleiding sou word en ontrou teenoor die Here Jesus sou raak: “Ek is jaloers oor julle met ᾿n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind om julle as ᾿n reine maagd aan Christus voor te stel. Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus” (2 Kor. 11:2-3). Uit die gelykenis in Mattheus 25 is dit ook duidelik dat vyf van die maagde té min olie in hulle lampe gehad het, wat ᾿n aanduiding daarvan is dat hulle nie met die Gees van God vervul was nie en dus nie waardig om voor die Bruidegom te verskyn en Hom na sy vaderhuis te vergesel nie.

Aan die einde van die jaar van afsondering het die Joodse bruidegom sy bruid gaan haal om by hom te kom woon. Dit het gewoonlik in die nag gebeur omdat dit ᾿n geheime ontmoeting met haar was. Hy het haar buitekant op die pad ontmoet waar sy hom ingewag het, en by hierdie geleentheid het hy homself nie aan die res van haar gesinslede vertoon nie. Hy, sy strooijonkers en ander manlike reisgenote het ᾿n fakkeloptog na die omgewing van die bruid se huis onderneem. Hoewel die bruid hom aan die einde van die tyd van afsondering verwag het, het sy nie die presiese nag van sy aankoms geken nie. As gevolg hiervan is die bruidegom se aankoms deur ᾿n geroep voorafgegaan. Deur hierdie geroep is die bruid gewaarsku om vir die koms van die bruidegom gereed te wees (Matt. 25:6).

Op ᾿n soortgelyke wyse sal die hemelse Bruidegom aan die einde van die kerkdispensasie sy bruid in die geheim kom haal. Hy sal haar buitekant die aarde in die lug ontmoet, en Homself nie by hierdie geleentheid aan die res van die wêreld openbaar nie. Sy koms sal ook met ᾿n geroep aangekondig word: “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ᾿n geroep, met die stem van ᾿n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde” (1 Thess. 4:16-18).

Wanneer die huisgenote van die bruid die volgende oggend gemerk het dat sy en haar vriendinne verdwyn het, het hulle geweet dat die bruidegom daardie nag gekom het. Hulle het dan ook as ᾿n afsonderlike groep na die huis van die bruidegom vertrek om die huweliksfees by te woon.

Wanneer die Messiaanse Jode saam met al die ander lede van Jesus se bruidsgemeente skielik tydens die wegraping verdwyn, sal baie van die Jode besef dat die hemelse Bruidegom hulle kom haal het. Dit sal vir hulle ᾿n sterk bewys wees dat Jesus die Messias van Israel en Verlosser van die wêreld is, en op grond daarvan sal daar ᾿n groot herlewing in Israel wees waarin 144 000 Jode kort ná die wegraping gered sal word (Op. 7:1-8). Die meerderheid van die volk sal egter geestelik verblind wees en met die valse messias ᾿n verbond sluit om sodoende deel van sy valse bruid van misleide aanbidders te word (Op. 17:3).

Dieselfde ontdekking van die skielike verdwyning van evangeliese Christene sal ook met ᾿n groot skok oral in die wêreld gemaak word, waar dit baie opsigtelik sal wees dat sommige mense spoorloos uit hul huise en van hulle werksplekke af verdwyn het (Matt. 24:40-42; Luk. 17:34-36). Hiervoor sal daar net een Bybelse verklaring wees, en dit is dat die hemelse Bruidegom sy bruid kom haal het!

Wanneer die Joodse bruidegom en sy geselskap by sy vaderhuis aangekom het, was sy bruid steeds gesluierd en het hy haar na die bruidsvertrek (huppah) geneem waar hulle vir sewe dae lank alleen saam was en die huwelik finaal volvoer is. Intussen het die gaste aangekom om die voltrekking van die huwelik te vier. Ná die sewe dae het die bruidegom sy bruid ongesluierd aan die gaste voorgestel sodat almal van hulle haar kon sien. Dit het tot groot blydskap en uitbundige feesviering gelei.

Op ᾿n soortgelyke wyse sal die bruid van die Messias weggeneem en verborge gehou word op ᾿n plek waar die res van die wêreld haar nie sal kan sien nie. Die sewe dae van die huppa dui profeties op ᾿n jaarweek, wat die sewe jaar is wat sal verloop tussen die wegraping en die sigbare openbaring van Jesus Christus en sy bruid aan die hele wêreld. Ná die vereniging tussen Christus en sy bruid sal daar inderdaad sewe jaar verloop voordat die bruilofsmaal van die Lam (die onthaal ná die troue) hier op aarde gevier sal word.

Jesus en sy bruid sal by sy wederkoms aan die hele wêreld geopenbaar word: “Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word” (Kol. 3:4). Hierna sal die bruilofsfees plaasvind, waar die oorblyfsel van Israel wat eers tydens die Messias se wederkoms gered sal word, onder die gaste sal tel: “Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak. En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges” (Op. 19:7-8). Sy sal as die bruid van die Lam met ᾿n vlekkelose kleed voor die Messias verskyn.

In ᾿n Psalm oor die bruilof van die Messias word hierdie luisterryke geleentheid só beskryf:

“Al u klere is mirre en alewee en kassie; uit ivoorpaleise maak snarespel U bly. Dogters van konings is onder u staatsdogters; die koningin staan aan u regterhand in goud van Ofir. … Louter heerlikheid is die Koning se dogter daarbinne; van gouddraad is haar kleding. In veelkleurige gewade word sy na die Koning gelei; jonkvroue agter haar, haar vriendinne, word na U gebring. Hulle word gelei met vreugde en gejuig; hulle gaan in die Koning se paleis in. … U sal [u seuns] aanstel as vorste in die hele land” (Ps. 45:9-10, 14-17).

Ná die bruilofsmaal van die Messias sal sy vrederyk ᾿n aanvang neem, waarin sy heiliges saam met Hom as konings sal regeer. Met die oog hierop sal hulle Hom in die hemel, nog voor die wederkoms op die Olyfberg, toesing: “U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Op. 5:9-10). As jy deur die kosbare bloed van Christus gekoop en ᾿n geheiligde, diensbare lid van sy bruidsgemeente is, sal jy ook in die heerlikheid van sy toekomstige openbaring deel! Dan sal ons regters wees wat saam met Christus die wêreld sal oordeel (1 Kor. 6:2) en ook konings wat saam met Hom sal regeer.

Nou, in hierdie bedeling, is ons egter nie konings en regters nie, maar soldate van die kruis, diensknegte van God en volgelinge van die lydende Messias wat steeds deur Israel en die grootste deel van die wêreld verwerp word. Ons gaan deur vele verdrukkinge in die koninkryk van God in, maar in dit alles is ons meer as oorwinnaars in Hom wat ons liefgehad en sy lewe vir ons afgelê het (Rom. 8:37). As ons nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees (Rom. 8:1), sal ons God behaag deur ᾿n lewe te lei wat soos dié van sy Seun is, en gereed wees wanneer die hemelse Bruidegom skielik sal verskyn om sy bruid te kom haal!