3. Palestina of Israel?

Die internasionale aandrang vir die skepping van ᾿n Palestynse staat in die tradisionele grondgebied van Israel is besig om sterker te word, en dit stel onredelike hoë eise aan Israel. Invloedryke wêreldmoondhede sowel as internasionale organisasies soos die VN is regstreeks met die vestiging van so ᾿n staat gemoeid, en verhef hierdie saak tot ᾿n sleutelfaktor in pogings om vrede te skep en ᾿n nuwe magsbalans vir die Midde-Ooste én die hele wêreld te vind.

Ernstige vrese word egter ook uitgespreek dat die bevordering van die ontluikende Palestina se belange nie slegs tot die nadeel van Israel sal strek nie, maar selfs hulle voortbestaan sal bedreig. Uit ᾿n Bybelse oogpunt sal ᾿n toekomstige wêreld sonder ᾿n fisies en geestelik herstelde Israel ᾿n bose wêreld wees wat aan die Antichris ᾿n geleentheid vir sy wêreldregering sal bied. Dié nuwe wêreld sal totaal anti-Joods en anti-Christelik wees.

Hierdie vrese word bevestig deur die feit dat die radikale magte waardeur die “Palestynse Plan” gedryf word, uitgebreid is en daarop ingestel om die politieke, ekonomiese en godsdienstige landskap van die wêreld permanent te verander. Hierdie magte sal ᾿n invloed op wêreldgebeure ver buite die Midde-Ooste hê, asook ᾿n sterk potensiaal om die grondslag te lê vir ᾿n totaal nuwe wêreldorde.

Alle lande neem reeds besluite en aanvaar beleidsrigtings waardeur hervormings in die rigting van politieke globalisme aan die gang gesit word. ᾿n Transformasie van hierdie aard sal die wêreld verander en ook alle lande se toekoms op ᾿n onvoorspelbare manier bepaal, afhangende van wie beheer oor die toekomstige wêreldregering verkry. Wat die beplande transformasie van die Midde-Ooste betref, is dit duidelik dat Palestina deur die internasionale gemeenskap verkies word om ᾿n sleutelrol in hierdie streek te speel.

Dit is belangrik dat die oorsprong van die naam “Palestina” eers ondersoek moet word ten einde die regmatigheid te bepaal van die huidige proses vir die vestiging van so ᾿n staat. Die verdere implikasies van hierdie drastiese stap sal ook bespreek word.

Oorsprong van die naam Palestina

Die volgende is verkorte uittreksels uit drie Wikipedia-artikels [2011(a), (b) en (c)]:

Die naam “Palestina” is verwant aan die antieke woord wat “Filistyne” of “Land van die Filistyne” beteken. Die Hebreeuse woord Peleshet, wat in Engels vertaal word as Philistia (Afrikaans Filistea), word gebruik om na die suidelike kusgebied te verwys wat deur die Filistyne bewoon is. Dit was wes van die koninkryk van Juda geleë.

In die vyfde eeu voor Christus het Herodotus in antieke Grieks geskryf oor die distrik Sirië wat Palaistinê genoem is, waarvan Palaestina en Palestina afgelei is. “Palaestina” is algemeen gebruik om na die kusgebied te verwys, en kort daarna ook na die hele binnelandse gebied wes van die Jordaanrivier. Hierdie uitbreiding het plaasgevind toe die Romeinse Ryk ná die onderdrukking van die Bar Kochba opstand in die tweede eeu ná Christus die “Provincia Judea” hernoem het na “Syria Palaestina” ten einde van die naam Judéa ontslae te raak.

Gedurende die Bisantynse periode het die hele gebied (Sirië Palestina, Samaria en Galilea) as Palestina bekend gestaan. Die Bisantyne het ook die suidelike gebied wat die Negev, Sinai en die weskus van die Arabiese Skiereiland ingesluit het, hernoem na “Palaestina Salutaris.” Die Arabiese woord vir Palestina is Philistine. Toe die Arabiere Groter Sirië in die sewende eeu oorgeneem het, is benamings wat deur die Bisantynse administrasie voor hulle gebruik is, meesal behou.

Die gebruik van die naam “Palestina” (Palestine in Engels) het meer algemeen inslag gevind ná die Europese Renaissance. Hierdie naam is egter nie in die tyd van die Ottoman-ryk (1517 tot 1917) gebruik nie. Ná die val van die Ottoman-ryk het die Britte weer die naam “Palestina” amptelik laat herleef en toegepas op die gebied wat onder Britse mandaat geplaas is.

Daar word ook ander name gebruik om na hierdie gebied of gedeeltes daarvan te verwys, insluitend Kanaän, Groter Israel, Groter Sirië, die Heilige Land, Judéa, Israel, die koninkryk van Israel, die land van Israel (Eretz Yisrael of Ha’aretz), en Sion. Die gebeure van die vier Evangelies van die Bybel het feitlik almal in hierdie land afgespeel, daarom staan dit in die Christelike tradisie bekend as die Heilige Land. Volgens die Bybelse geskiedenis is die verenigde koninkryk van Israel in 1020 v.C. gestig deur die Israelitiese stamme van wie Saul die eerste koning was. In 1000 voor Christus is Jerusalem tot die hoofstad van koning Dawid se koninkryk verklaar. Die eerste tempel is in die tyd van koning Salomo gebou.

Aan die einde van die 19de eeu het Joodse immigrasie na die land begin. Die Eerste Alija (Joodse immigrasie na Israel) was die eerste groot groep van die Sionistiese Alija. Jode wat in hierdie tyd na Palestina gemigreer het, het hoofsaaklik uit Oos-Europa en Jemen gekom. Hierdie alija het in 1881-82 begin en tot in 1903 voortgeduur. ᾿n Geskatte 25 000 tot 35 000 Jode het gedurende die Eerste Alija geïmmigreer. Hierdie alija het die grondslag vir Joodse vestiging in Israel gelê, en verskeie nedersettings is gevestig, bv. Rishon LeZion, Rosh Pina, Zikhro Ya’aqov en Gedera. Tel Aviv is gevestig op grond wat by Bedoeïene noord van Jaffa gekoop is.

Die Tweede Alija het tussen 1904 en 1914 plaasgevind, toe omtrent 40 000 Jode geïmmigreer het, meesal uit Rusland en Pole, maar sommige ook van Jemen af. Immigrante uit die Tweede Alija was hoofsaaklik idealiste wat geïnspireer is deur revolusionêre idees wat toe in die Russiese Ryk geheers het, en hulle wou gemeenskaplike landbounedersettings in Palestina vestig. Hulle het gevolglik met die kibboetsbeweging begin. Die eerste kibboets, Degania, is in 1909 gevestig. Tel Aviv is ook in daardie tyd gevestig, hoewel die stigters daarvan nie noodwendig van die nuwe immigrante was nie. Die Tweede Alija was grootliks verantwoordelik vir die herlewing van die Hebreeuse taal en die algemene gebruik daarvan as omgangstaal vir Jode in Israel.

Die beheer van die Ottoman-ryk oor die gebied oos van die Middellandse See het voortgeduur tot met die Eerste Wêreldoorlog, toe hulle besluit het om aan die kant van Duitsland te veg. Gedurende die oorlog is die Ottoman-Turke deur die Britse Ryk uit die meeste van hierdie gebiede verdryf en het die Ottoman-ryk ontbind.

In terme van die Sykes-Picot-ooreenkoms van 1916 is dit in die vooruitsig gestel dat die grootste deel van Palestina ná die bevryding daarvan uit Ottoman-beheer ᾿n internasionale sone sou word wat onder Franse of Britse beheer sou staan. Kort daarna het die Britse minister van buitelandse sake, Arthur Balfour, die Balfour-deklarasie van 1917 uitgevaardig waarin die belofte gemaak is om ᾿n nasionale tuiste vir die Jode in Palestina te skep. ᾿n Britse militêre mag onder die beheer van genl. Allenby het Jerusalem op 9 Desember 1917 ingeneem en ná die neerlaag van die Turkse magte beheer oor die hele Palestina oorgeneem.

Groot Brittanje het Palestina tussen 1920 en 1948 namens die Volkebond geadministreer, en hierdie tydperk het as die Britse Mandaat bekend gestaan. Die mandaat het ook ᾿n groot gebied oos van die Jordaanrivier ingesluit, wat as Transjordanië bekend was.

Palestina en Transjordanië is onder verskillende wetlike en administratiewe reëlings ingelyf by die Mandaat vir Palestina wat op 29 September 1923 deur die Volkebond aan Groot Brittanje toegeken is. Selfs nog voordat die Mandaat in 1923 wetlik ingestel is, is daar reeds in Britse terminologie na die gebied wes van die Jordaanrivier verwys as “Palestina” en na die gedeelte oos van die Jordaan as “Transjordanië”. Op ᾿n seël wat die Britse Mandaat in 1927 oor Ragel se graf uitgereik het, word die woord “Palestina” in Engels, Arabies én Hebreeus aangedui. By die Hebreeuse woord is ook ᾿n akroniem ingesluit wat dui op Eretz Yisrael (die Land van Israel).

In die jare ná die Tweede Wêreldoorlog het die Britse beheer baie verswak, en vroeg in 1947 het die Britse Regering sy begeerte aangekondig om die Mandaat te beëindig. Op 14 Mei het die Joodse Agentskap die onafhanklikheid van die staat Israel verklaar. Op dieselfde dag toe die staat Israel gevestig is, het die Arabiese Bond aangekondig dat hulle ᾿n enkele Arabiese administrasie vir die hele Palestina sou instel, en het ook ᾿n aanval op die staat Israel gedoen.

In 1950 is Transjordanië se naam verander na die koninkryk van Jordanië, om amptelik die Palestynse gebiede in te sluit wat in 1949 deur Koning Abdullah geannekseer is. Gedurende die Sesdaagse Oorlog in Junie 1967 het Israel die Wesbankgebied en Oos-Jerusalem van Jordanië verower en die Gasastrook van Egipte af. Van 1960 af is die benaming “Palestyne” gereeld in ᾿n politieke verband gebruik. Die Palestynse Bevrydingsorganisasie het sedert 1974 as ᾿n nie-lid waarnemerstatus in die VN geniet, en verteenwoordig nog steeds die “Palestyne” daar.

Volgens Palestynse skattings is daar 2.4 miljoen Wesbank-Palestyne wat hoofsaaklik in vier gemeenskappe in Hebron, Ramalla, Nablus en Jérigo woon. In 2005 het Israel sy weermag uit Gasa onttrek en alle Joodse nedersettings in dié gebied ontruim. Dit was in terme van Ariel Sharon se plan vir ᾿n eensydige onttrekking uit Gasa en die oordra van die beheer oor die gebied na die Palestynse Owerheid. As gevolg van die magstryd tussen Hamas en Fatah, asook die uitslag van plaaslike verkiesings, is die Gasastrook sedert 2006 deur Hamas beheer. Selfs ná hierdie onttrekking het die VN, menseregte-organisasies en verskeie internasionale liggame nog steeds vir Israel as ᾿n besettingsmag in Gasa beskou omdat Israel beheer uitoefen oor Gasa se lugruim en waterbronne, en ook nie die vrye beweging van goedere na en van Gasa toelaat nie. (Einde van uittreksels uit Wikipedia-artikels).

᾿n Naam wat uit haat gebore is

Dit is uit die oorsig hierbo baie duidelik dat die naam “Palestina” van Filistia afgelei is, die land van die antieke Filistyne. Dit was in die suidelike kusgebiede van Israel geleë, min of meer in die gebied van die huidige Gasastrook. Die Filistyne het in die laat vyfde eeu as ᾿n aanduibare groep van die toneel verdwyn. Die toepassing van die term “Palestina” op die hele gebied wes van die Jordaanrivier was ᾿n foutiewe, polities-gedrewe besluit deur die Romeine as deel van ᾿n beplande poging om Israel se nasionale belange te ondermyn deur hulle van die regte op hulle grondgebied te ontneem.

Die Romeinse haatveldtog teen Israel, sowel as die gepoogde volksmoord teen hulle, is van harte deur al die omliggende nasies goedgekeur en hulle het spontaan begin om die naam “Palestina” te gebruik wanneer hulle na die land van die onderworpe of verstrooide Israeliete verwys het. Hierdie naam is algemeen gebruik tot en met die herstel van Israel in 1948. Dit was egter net die naam van ᾿n gebied en nie van ᾿n spesifieke volk wat na hulleself as Palestyne verwys het nie. Arabiere van Egiptiese, Siriese, Libanese en Transjordaniese herkoms het in die gebied rondgetrek, terwyl verspreide Joodse gesinne ook daar gewoon het. Dit was eers in 1928 dat sekere Arabiere wat in Palestina gewoon het, begin het om na hulleself as Palestyne te verwys. As gevolg van hierdie kunsmatig geskepte naam is daar selfs Palestynse geleerdes wat die geldigheid van die naam “Palestina” bevraagteken. Dave Hunt (2005) sê:

“So onlangs soos in die 1950’s het Arabiere geweier om Palestyne genoem te word. Een van die plaaslike Arabiese leiers wat in 1937 voor die Britse Peel-kommissie getuig het, het gesê: ‘Daar is nie so ᾿n land soos Palestina nie. Palestina is ᾿n term wat deur die Sioniste geskep is.’ Professor Philip Hitti, ᾿n Arabiese historikus, het in 1946 só voor ᾿n Anglo-Amerikaanse komitee van ondersoek getuig: ‘Daar is nie so-iets soos Palestina in die geskiedenis nie – absoluut nie!’ Ahmed Shukairy het in 1956 aan die VN se Veiligheidsraad verklaar: ‘Dit is algemene kennis dat Palestina niks anders is nie as Suidelike Sirië.’ Agt jaar later het Shukairy ᾿n stigterslid en voorsitter van die Palestynse Bevrydingsorganisasie geword. Hy was egter nie ᾿n ‘Palestyn’ nie – soos Arafat is hy in Egipte gebore”.

Ná die 1956-oorlog teen Egipte het die politieke en militêre situasie in Israel spoedig weer kritiek geraak. Die onophoudelike vyandigheid van oorkant Israel se grense af het gespanne verhoudings met hulle buurlande geskep. Die Arabiere het geweier om vrede met Israel te sluit of om die nuwe staat te erken. Grensvoorvalle was aan die orde van die dag. Al Israel se pogings om die plofbare toestand te ontlont, het misluk.

Gedurende hierdie fase, wat ᾿n aanloop was na die Sesdaagse Oorlog van 1967, het daar ook ᾿n interne bedreiging onder die Arabiere binne-in Israel ontstaan. Hulle het politieke voordele daarin gesien om hulleself as Palestyne te identifiseer wat daarna behoort te streef om hulle sogenaamde antieke tuisland weer terug te wen. Hulle het gevolglik begin om hulleself te verenig onder die banier van ᾿n verontregte Palestynse volk wat dan ook deur verskeie Moslemleiers opgeroep is om te veg teen die Sionistiese en imperialistiese magte wat hulle land “onwettig” beset. Baie Arabiere uit buurlande is versoek om by die Palestyne aan te sluit en saam met hulle teen die Sionistiese besetting te veg. Hierdie nuwelinge het ook oornag, ter wille van politieke oorwegings, Palestyne geword.

Die Palestynse Bevrydingsorganisasie (PBO) is gestig en hulle het ᾿n hoogs revolusionêre konstitusie aanvaar. Die volgende artikels, of dele van artikels, in hulle konstitusie toon duidelik hierdie revolusionêre benadering aan:

Artikel 7. Dit is ᾿n nasionale plig om individuele Palestyne op ᾿n revolusionêre Arabiese manier groot te maak. Alle bronne van inligting en onderwys moet gebruik word om die Palestyn geestelik én materieel so deeglik as moontlik van sy land bewus te maak. Hy moet op ᾿n gewapende stryd voorberei word en bereid wees om sy besittings én sy lewe op te offer om sy tuisland terug te wen deur die bevryding daarvan moontlik te maak.

Artikel 8. Die fase in hul geskiedenis waarin die Palestyne hulleself nou bevind, is dié van die nasionale stryd vir die bevryding van Palestina. Die konflikte tussen die Palestynse nasionale magte is sekondêr en moet gestaak word ter wille van die basiese konflik wat daar bestaan tussen die magte van Sionisme en imperialisme aan die een kant, en die Palestyne en Arabiere aan die ander kant. Die Palestynse bevolking – ongeag of hulle in hul nasionale tuisland of in verstrooiing in ander lande is – is individueel én in hulle organisasies die nasionale front vir die herowering van Palestina en sy bevryding deur ᾿n gewapende stryd.

Artikel 9. ᾿n Gewapende stryd is die enigste manier waarop Palestina bevry kan word. Dit is ᾿n oorkoepelende strategie en nie slegs ᾿n taktiese fase nie. Die Palestynse Arabiese mense bevestig hulle vasberadenheid en onwrikbare besluit om met die gewapende stryd voort te gaan, en om hulle vir ᾿n gewapende populêre revolusie vir die bevryding van hulle land te beywer, asook vir die reg om daarheen terug te keer.

Artikel 15. Uit ᾿n Arabiese oogpunt is die bevryding van Palestina ᾿n nasionale plig waardeur gepoog word om die Sionistiese en imperialistiese aggressie teen die Arabiese tuisland af te weer. Hierdie stryd is ook op die uitskakeling van Sionisme in Palestina gerig.

Artikel 22. Sionisme is as ᾿n politieke beweging ten nouste aan internasionale imperialisme verbonde, en as sodanig antagonisties teenoor alle optredes vir die bevryding van progressiewe bewegings in die wêreld. Dit is rassisties en fanaties van aard, aggressief, ekspansionisties en kolonialisties in sy doelstellings, en Fascisties in sy metodes. Israel is die instrument van die Sionistiese beweging, en ᾿n geografiese basis vir wêreldimperialisme wat strategies binne-in die Arabiese tuisland geplaas is om die hoop van die Arabiese nasie vir bevryding, eenheid en vooruitgang te beveg. Israel is ᾿n konstante bron van bedreiging vir vrede in die Midde-Ooste én ook in die hele wêreld. Omdat die bevryding van Palestina die Sionistiese en imperialistiese teenwoordigheid sal vernietig en tot vrede in die Midde-Ooste sal bydra, verwag die Palestynse volk die ondersteuning van alle progressiewe en vreedsame magte in die wêreld. Daar word by hulle aangedring om, afgesien van hulle affiliasies en gelowe, hulp aan die Palestyne te bied in hulle regverdige stryd vir die bevryding van hulle tuisland.

Artikel 23. Die eise van veiligheid en vrede, sowel as die eise van reg en geregtigheid, eis van alle state dat hulle Sionisme as ᾿n onwettige beweging sal beskou, om sy bestaan onwettig te verklaar en al sy aktiwiteite te verban.

Jodehaat blyk baie duidelik uit hierdie stellings, asook die feit dat daar geen toekoms van enige aard vir Jode in Palestina voorsien word nie. Volgens die Palestyne beslaan hulle land die hele gebied tussen die Middellandse See en die Jordaanrivier, terwyl dit in die noorde aan Libanon grens en in die suide aan Egipte. Hulle maak konstitusioneel geen voorsiening vir ’n sogenaamde tweestaatoplossing nie, daarom word daar nie erkenning aan Israel gegee nie.

Enige latere besluite om Israel te erken en vredesverdrae met hulle te sluit, word geregverdig in terme van ’n langtermyn strategie om hulle uiteindelik uit die hele land te verdryf. Die voormalige PBO-leier, Jasser Arafat, het gesê: “We will take Israel piece by piece by peace.”

Palestynisme het sinoniem met Jodehaat en die totale uitwissing van Israel geword, ongeag of dit bereik word deur vredesooreenkomste wat groot toegewings van Israel afdwing, ᾿n terroristestryd, ᾿n volskaalse oorlog, of ᾿n kombinasie van hierdie metodes. Die revolusionêre doelwitte van die Palestyne word deur al die Moslemlande, veral in die Midde-Ooste, aanvaar, ondersteun en gefinansier. Die vestiging van ᾿n Palestynse staat met Jerusalem as hoofstad het die visie van alle Moslems geword, omdat hulle dit as ᾿n beheersentrum vir ᾿n toekomstige Islamitiese wêreldstaat sien.

Die Palestynse Owerheid het in September 2011 met verskerpte pogings begin wat gerig is op n eensydige onafhanklikheidsverklaring weens hulle groot steun in die VN. Amerika en enkele van sy bondgenote is egter nie ten gunste van n onafhanklikheidsverklaring vir Palestina wat nie uit onderhandelings met Israel voortvloei nie, omdat dit n sekere resep vir oorlog in die Midde-Ooste is. Onderhandelings tussen Israel en die Palestyne kan egter om n verskeidenheid redes nie op dreef kom nie. Die belangrikste hiervan is die volgende:

·        Israel se voorwaardes vir onderhandeling is dat die Palestynse Owerheid die bestaan van die staat Israel formeel erken en ook alle aanvalle op Israelse teikens staak. Die Palestynse faksie van Fatah is bereid om hierdie eise voorwaardelik te aanvaar, maar nie Hamas in Gasa nie. Hamas het teësinnig tot die opskorting van vyandelikhede ingestem, maar dit het nie lank gehou nie.

·        Die PO onder Mahmoud Abbas eis die terugtrekking van Israel uit Palestynse gebiede wat volgens hulle deur Israel beset word, en eis dat daar na die grense teruggekeer word wat voor die 1967-oorlog bestaan het. Dit beteken dat die hele Wesbankgebied aan die PO oorgedra moet word, insluitend die oostelike deel van die stad Jerusalem, waarby ook die Tempelberg ingesluit is. Die internasionale gemeenskap dring ook hierop aan. Israel se regering het onderneem om verdere toegewings te maak, maar is onder geweldige druk van ortodoks-regse partye om nie hulle Bybelse mandaat oor die land te minag en Jerusalem in die proses te verdeel nie. As gevolg van hierdie druk laat die regering steeds nuwe Joodse nedersettings in besette gebiede toe.

Wie se land is dit?

Dit bly steeds n omstrede vraag oor wie se land dit is – Israel s’n of die Palestyne s’n? Die Bybel is baie duidelik hieroor: die roeping van Israel het by Abraham begin, wat die stigter van Israel is. God het die land vir ewig aan Abraham se nageslag toegeken (Gen. 13:14-15). Hierdie belofte is later aan Isak en Jakob bevestig (Gen. 26:3; 28:13).

In ᾿n baie besondere sin is hulle die uitverkore volk van God. Hy het hulle geroep om ᾿n heilige volk te wees en hulle na die Beloofde Land gelei. Dit is dieselfde, onveranderlike Verbondsgod van Abraham, Isak en Jakob wat Israel in die land van hulle vaders sal herstel. Let daarop hoe uitdruklik die Here Israel se eienaarskap oor die land bevestig, asook die feit dat Hy hulle in die eindtyd fisies sal herstel en geestelik sal laat herleef: “Ek sal julle uit die nasies gaan haal en julle uit al die lande bymekaar laat kom, en Ek sal julle in jul land bring. ... Ek sal julle ᾿n nuwe hart gee en ᾿n nuwe gees in jul binneste gee. ... En julle sal woon in die land wat Ek aan jul vaders gegee het; en julle sal vir My ᾿n volk en Ek sal vir julle ᾿n God wees” (Eseg. 36:24-28).

Die land waarheen Israel ná hulle lang ballingskap terugkeer, word steeds deur God Israel genoem en nie Palestina nie: “So spreek die Here Here: Ek sal julle bymekaarmaak uit die volke en julle versamel uit die lande waarin julle verstrooi is, en Ek sal aan julle die land Israel gee” (Eseg. 11:17).

Hou in gedagte dat “Israel” ᾿n uiters belangrike onderwerp van die Bybel is. Die woord ‘Israel’ kom 2 565 keer in 2 293 verse voor. Meer as genoeg profesieë is in Israel se unieke geskiedenis vervul om te bewys dat die God van Israel (203 keer so genoem) die ware God is” (Dave Hunt, 2010). In verband met die Palestynse eise ten opsigte van die land, sê Dave Hunt (2005):

“Die land waarheen God vir Abraham gebring het en wat Hy aan hom en sy nageslag gegee het, is ‘Kanaän’ genoem (Gen. 12:5; 6:8; 13:7-17, ens.). Daar was nie so ᾿n land soos Palestina nie en ook nie ᾿n Palestynse volk nie. Die vroeë inwoners van die land was die Keniete, Kenissiete, Kadmoniete, Hetiete, Feresiete, Refaïete, Amoriete, Kanaäniete, Girgasiete en Jebusiete. God het nooit ᾿n land wat Palestina genoem is, aan Abraham en sy nageslag belowe nie. Die enigste land wat Hy beloof het, was Kanaän: ‘En Ek sal aan jou en jou nageslag ná jou ... die hele land Kanaän as ᾿n ewige besitting gee’ (Gen. 17:8). ... Selfs al was daar ᾿n land Palestina waarin Palestyne gewoon het, kon die Arabiere onmoontlik nie van hulle afgestam het nie. Hulle maak aanspraak op afkoms vanaf Ismael, en hy was beslis nie ᾿n Palestyn nie. Sy vader Abraham het uit Ur van die Chaldeërs gekom en sy moeder was Hagar, ᾿n Egiptenaar. Nie een van hulle was ᾿n oorspronklike inwoner van Kanaän nie, en nie eers vaagweg verwant aan só ᾿n volk nie. Die land was reeds bewoon toe Abraham, sy vrou Sara en haar diensmeisie, Hagar, daar aangekom het.”

Die oordeel teen Israel se vyande

Israel se goddelike mandaat oor die land impliseer sekerlik dat God die nasies sal oordeel wat weier om Israel se Bybelse reg op die land te erken, en wat hulle daaraan skuldig maak om Israel te vervolg, van sy godgegewe erfenis te verdryf, of wat probeer om die land tussen Israel en sy Arabiese vyande te verdeel (Joël 3:1-2).

Dave Hunt (2010) sê: “In Sagaria 12:2-3 verklaar God: ‘Kyk, Ek maak Jerusalem vir al die volke rondom tot ᾿n beker van bedwelming, en ook teen Juda sal dit wees tydens die beleëring teen Jerusalem. En in dié dag maak Ek Jerusalem tot ᾿n baie swaar klip vir al die volke: elkeen wat dit optel, sal hom daarmee sekerlik seer maak; en al die nasies van die aarde sal daarteen vergader word’. Dit is ᾿n verbasende profesie, want Jerusalem was in daardie stadium in puin, maar nogtans sou dit vir die hele wêreld ᾿n struikelblok word, en al die volke sal teen die stad vergader word. Daar was wel baie oorloë in die verlede, maar dit is nou die eerste keer in die geskiedenis dat ᾿n groot aantal vyande van oor die hele wêreld teen Israel saamspan. ... Daar is geen twyfel oor die uitkoms van hierdie stryd nie, maar albei kante sal ᾿n duur prys betaal: Israel sal kwaai gestraf word vir hulle rebellie, maar hulle vyande sal vernietig word. Net soos wat die Bybel voorspel het, is Jerusalem ᾿n struikelblok vir alle volke in die hele wêreld. Meer as 60 000 individuele stemme is in die VN teen Israel uitgebring. Hierdie klein volkie wat maar ᾿n duisendste van die wêreldbevolking verteenwoordig, neem ᾿n derde van die VN se tyd in beslag – inderdaad ᾿n struikelblok! ... Die Bybel verklaar dat alle volke in die laaste dae teen Israel sal optrek, maar dat hulle in die slag van Armageddon vernietig sal word: ‘Want Ek sal al die nasies [en dit sluit Amerika in] versamel om oorlog te voer teen Jerusalem, en die stad sal ingeneem word... En die Here sal uittrek en stryd voer teen dié nasies’ (Sag. 14:2-3) ... Daar is nie ᾿n meer paslike plek én manier om die nasies te vernietig wat Israel misbruik en vertrap het nie, want hulle sal in die gees van Satan kom om eens en vir altyd Hitler se ‘finale oplossing vir die Joodse probleem’ uit te voer.”

Dit is duidelik dat die Bybelse waarskuwings teen die vyande van Israel en hulle hoofstad, Jerusalem, nie ernstig opgeneem word nie, daarom gaan die internasionale veldtog vir die skepping van ᾿n Islamitiese Arabiese staat in Israel se grondgebied onafgebroke voort.

Christelike Palestynisme

In die harte en denke van die algemene publiek is daar ook ᾿n groot verandering besig om pos te vat ten gunste van die geestelike en staatkundige aansprake van Palestyne in tradisionele Joodse gebiede. Hulle word nou deur baie mense as die oorspronklike inwoners en ook die godsdienstige erfgename van die Beloofde Land gesien – en dit alles ten koste van Israel.

In sy artikel Christian Palestinianism noem Thomas Ice hierdie groot geestelike en ideologiese gevaar waardeur Israel bedreig word, “Christelike Palestynisme” (www.pre-trib.org/articles). Hierdie liberale teologiese denkrigting is ᾿n teenvoeter vir Christelike Sionisme, wat daarop ingestel is om Israel se regte uit die Bybel te beklemtoon en hulle vir die volle herstel van Israel in ᾿n onverdeelde land te beywer. Christelike Palestynisme propageer ᾿n antichiliastiese en anti-Joodse teologie waarin die herstelde Israel geen rol speel nie, en die Palestyne as die regmatige eienaars van die hele Palestina beskou word. Dit beteken in die praktyk dat daar volgens hulle geen staat van Israel moet wees wat met die regte van die Palestyne kan inmeng nie. Hierdie politieke bevrydingsteologie vir die Palestyne geniet ook in die sekulêre wêreld groot steun.

Baie van die Palestynse Christene het dié polities-georiënteerde en anti-Israelse bevrydingsteologie aanvaar en verkondig dit ter wille van hulle nasionale voortbestaan. Dit is sterk anti-dispensasioneel en erken nie ᾿n toekomstige Messiaanse staat vir Israel nie, maar streef na ᾿n alternatiewe koninkryk hier en nou. n Groot aantal Palestynse Christene lees nie eers die Ou Testament nie, weens die sentrale rol wat Israel gedurende die dispensasie van die wet gespeel het. Sommige van hulle lees daaruit, maar slegs selektief. Hulle erken geen verband tussen Bybelse Israel, die huidige Jode en die moderne staat van Israel nie.

Daar is ᾿n baie groot gevaar verbonde aan Palestynisme in die teologie. ᾿n Egiptiese skrywer, Bat Ye’or, het in haar boek, Eurabia (2005), wat oor die Islamisering van Europa handel, ᾿n hoofstuk ingesluit wat oor die Islamisering van die Christendom handel. Volgens haar baan Palestynisme die weg na die Islamisering van die kerk. Dit is ᾿n vorm van vervangingsteologie waarin Israel deur die Palestyne vervang word. In die proses word die vier Evangelies van hulle Joodse verband losgemaak en aan die Palestyne gekoppel om die Nuwe Testament vir Islam meer aanvaarbaar te maak. Daar word van Jesus ᾿n Palestynse Verlosser gemaak.

n Britse Jodin, Melanie Phillips, het in 2006 ᾿n boek getiteld Londonistan gepubliseer, waarin sy die Engelse waarsku dat Islam besig is om hulle land en kultuur oor te neem, hoofsaaklik omdat die kerk begin het om pro-Islamities en in stryd met die historiese Christendom te raak. Sy beskryf die opkoms van Palestynisme só: “Toe Arabiese Christene begin het om die Bybel te herinterpreteer sodat die Jode nie ᾿n geldige aanspraak op die land Israel moet hê nie, het dit in die Anglikaanse Kerk tot die vervangingsteologie aanleiding gegee. Hulle het toe besluit dat die Palestyne die oorspronklike bewoners van die land Israel is, en dat hulle die ware ‘Israel’ is.”

In hierdie nuwe vorm van vervangingsteologie word Israel nie net deur die kerk vervang nie, maar spesifiek ook deur Palestynse Christene. In die proses word die Bybel van baie van sy basiese uitsprake oor Israel beroof en geleidelik in terme van die Koran geherinterpreteer. Donald Wagner (2003) beweer verkeerdelik dat omtrent die helfte van die bevolking van Israel in die tyd van Jesus nie Jode was nie, en op grond hiervan maak hy die aanname dat Arabiese Christene die biologiese afstammelinge van die vroeë kerk van Handelinge 2 in Jerusalem is. Die kerkvader Eusebius (1926) bevestig egter in sy boek oor die kerkgeskiedenis dat die vroeë kerk feitlik 100% Joods was

Hank Hanegraaff van die Christian Research Institute het ook dispensasionalisme en die herstel van Israel verwerp en verkondig nou Palestynisme. Hy beskuldig Israel dat hulle die etniese uitwissing van die Palestyne beoog, en beskryf ondersteuners van Israel as rassiste. Dit is egter duidelik dat die Bybel die fisiese én geestelike herstel van Israel in hulle eie land leer. Persone wat hierteen beswaar maak, open die deur na die vervangingsteologie en die toenemende aanvaarding van Islamitiese standpunte.

Christelike kerke sal moet besluit of hulle die Bybel letterlik glo. Indien wel, is hulle daartoe verbind om Israel te aanvaar as ᾿n volk in eie reg, aan wie alleen die belofte gemaak is om die hele land van Israel vir altyd te bewoon. Hulle ongeloof het wél na die Diaspora gelei, maar die Here bring hulle nou terug om hulle ook geestelik te herstel en ᾿n seën vir die hele wêreld te maak (Rom. 11:1-32).

Israel se toekoms is nie in die hande van die ortodokse Jode wat steeds die Messias verwerp nie, maar in die hande van die Messiaanse Jode wat vir Jesus as Messias aanvaar het en dien. Hoewel hulle ᾿n klein minderheidsgroep is, voorspel die Bybel groot en wonderlike dinge vir hulle. Ons moet hulle ondersteun sodat hulle getuienis aan ongeredde Israeli’s duidelik en ondubbelsinnig sal uitgaan. Volgens die Bybel sal die hele oorblyfsel van Israel uiteindelik vir Jesus as Messias aanneem. Moenie jouself by die vyande van Israel skaar nie, want volgens Génesis 12:3 rus die oordele van die Here op sulke mense.

Die Palestynse Kairos dokument

Die nuwe Suid-Afrika het in verskeie opsigte vir die Palestyne n model geword vir politieke bevryding uit die mag van ᾿n selektiewe groep oorheersers. In Suid-Afrika is daar in 1994 n radikale oorgang gemaak van n multi-etniese bedeling af na n geïntegreerde meerderheidsregering waarin daar geen regte van selfbeskikking aan die vroeëre oorheersers verleen word nie. Die Palestyne begeer ook n oorgang in hulle land waarin die Joodse regering alle mag sal verloor en uiteindelik van die toneel af sal verdwyn.

Dit is opvallend dat geestelike leiers in Suid-Afrika teologies die weg gebaan het na n totale en ongekwalifiseerde oorgawe aan die intimiderende eise van die meerderheid. Onder die invloed van n polities-gedrewe bevrydingsteologie het leidende predikers en teoloë van verskillende kerke die rug gekeer op die Bybelse beginsel van die selfbeskikkingsreg van volke in hulle eie woongebiede (vgl. Hand. 17:26), en in stryd daarmee het hulle die idee van n nie-etniese meerderheidsregering aanvaar. (Vir meer inligting, besoek www.kairospalestine.ps/).

In 1985 het n ekumeniese groep predikers, verskeie van hulle uit Soweto afkomstig, n Kairos-dokument aanvaar waarin afsonderlike ontwikkeling tot sonde verklaar is en n geïntegreerde politieke bestel vir SA bepleit word (“kairos” beteken “n spesiale oomblik”, of “die oomblik van waarheid”). Palestynse Christene het hierdie voorbeeld gevolg en op 11 Desember 2009 die “Kairos Palestine Document” uitgereik waarin hulle n oproep op Christene oral in die wêreld doen om die ideaal van Palestynse bevryding te ondersteun. In die dokument sê hulle onder meer: “The injustice against the Palestinian people which is the Israeli occupation, is an evil that must be resisted. It is an evil and a sin that must be resisted and removed.”

Op 31 Maart 2010 het n ekumeniese groep Christene en Moslems in Suid-Afrika op die Palestynse Kairos dokument gereageer en volle solidariteit met hulle betoon. Hulle het ook die vervangingsteologie onderskryf waarin Israel se Bybelse posisie en regte aan die Palestyne toegeskryf word. In hulle brief sê hulle onder meer:

“Our dear Palestinian brothers and sisters ... Thank you for the document written by you, the descendants of Abraham, Isaac and Jacob, the descendants of Jesus Christ and whose ancestors were the first to receive his message. Yours is a proud history of keeping the faith in the Holy Land, and we salute you for doing that despite the most difficult situation into which you have been placed. From our perspective, we can see how you are being pressurized and forced out of your own land, and we urge you to continue to resist that with love, and to continue to show what our Lord Jesus Christ taught us.”

Kairos Suid-Afrika staan ook n soortgelyke oorskakeling in Palestina voor, waarin geen regte aan Israel gewaarborg word nie en in werklikheid geen toekoms aan hulle gebied word nie. Hulle het op 4 April 2011 die volgende persvrystelling gedoen as Suid-Afrika se bydrae tot die doelstellings van Christelike Palestynisme:

Kairos Southern Africa’s response to Palestine Kairos: The Palestine Kairos document was launched in South Africa on Monday evening 4 April 2011, at a meeting of Kairos Southern Africa in Bredell near Johannesburg. The document is called: A moment of truth – A word of faith, hope and love from the heart of the Palestinian suffering.

The notion of a Palestine Kairos Document was inspired by the South African Kairos Document as a Christian testimony of faith during the dark and last days of apartheid. Palestinian lay people, theologians and church leaders came together to express a testimony of faith in relation to their experience under the occupation of Palestine by Israel.

In response to the message of the Palestine Kairos document, Christians from South Africa and countries in Southern Africa gathering at the conference decided to state the following:

We fully honour this faith commitment and courageous witness as expressed by Christian brothers and sisters in Palestine. This testimony of faith, hope and love is a profound expression of Christian faith under circumstances of gross injustice.

We feel seriously challenged by the Palestinian witness of faith in general as well as by their Kairos document and consequently we:

·        Affirm with the Palestinians that the core of the ‘conflict’ between Israel and Palestine is the occupation of Palestine by Israel. We affirm with them that the occupation of Palestine is a fundamental evil to be resisted as an obligation of faith. Moreover, we also consider the Christian theological justification of this occupation based on Zionism as a heresy. We have to deal with our own complicity towards putting the credibility and integrity of the Christian gospel at stake in the Holy Lands. We will have to challenge our own reading of the Bible in lending support to the death and destruction in Palestine today.

·        Consider the Zionist ideology as racist. Furthermore we consider the State of Israel to be an apartheid state. For South Africans, the similarities between the situation faced by Palestinians and the situation faced by us under apartheid are clear, striking and extremely painful.

·        Accept our complicity to the injustices suffered by Palestinians albeit through widespread ignorance, silence and apathy in our society.

·        Will challenge our society, government, political parties, business community, civil society, and indeed the churches and the Christian community in general about their complicity regarding this.

·        Stand in solidarity with Palestinians in their commitments towards non-violent resistance against the occupation. We support the call towards boycotts, divestments and sanctions (BDS) against the Israeli government.

·        Promote an ethical code of conduct about pilgrimages and other tours to the Holy Lands. We are concerned that, as things stand now, such tours obscure the present-day realities in Palestine under the Israeli occupation.

Just as the white community in general and supporters of South African apartheid locally and abroad were challenged to change, we also challenge the conscience of all who support the Israeli occupation of Palestine. This change is possible.

Whilst we reject the racially exclusive solution of Zionism to the holy land, we pray for an inclusive and just peace where the dignity and equality of all inhabitants are upheld.

Rev. Moss Nthla, Chairperson: on behalf of Kairos Southern Africa.”

Die opkoms van Chrislam

n Ander onlangse ontwikkeling waardeur Christelike Palestynisme ook bevorder word, is Chrislam wat die ekumeniese versoening tussen die Christendom en Islam voorstaan. Dit is n poging om die Christendom en Islam in n wêreldwye mega-godsdiens te verenig. Op een van hulle webblaaie (www.chrislam.org/) word hierdie beweging se ekumeniese benadering soos volg geformuleer: “Ons is broeders. Ons is die familie van God. In sy oë is nie een van ons beter as die ander nie.” Volgens hulle is die twee groot monoteïstiese gelowe nou verwant aan mekaar en behoort hande te vat.

Die Chrislam-beweging het dryfkrag gekry deur die uitsprake van vooraanstaande teoloë en politici, wat beweer dat Christene en Moslems dieselfde God aanbid en ook dieselfde Jesus dien. In sy boek oor die leerstellings van Islam (1997:57) sê I.A. Ibrahim: “Die Moslems respekteer en eer vir Jesus (vrede vir hom). Hulle beskou hom as een van die grootste gesante van God na die mensdom.”

In die Koran is Jesus egter nie die eniggebore Seun van God nie, en ook nie die Messias wat deur God gestuur is om weer die troon van Dawid te herstel nie. Hy word inteendeel gesien as n profeet wat deur Allah aangestel is om die mensdom op die koms van Mohammed voor te berei. Islam ontken ook die soendood van Jesus. Ibrahim (1997:58) sê: “Moslems glo dat Jesus nie gekruisig is nie. Jesus se vyande het beplan om hom te kruisig, maar God het hom daarvan bewaar ... .” Islam verkondig duidelik n ander Jesus wat vreemd is aan die goddelike openbarings van die Bybel.

Chrislam het totaal gefaal in sy pogings om gemeenskaplike grond tussen die Christendom en Islam te vind. Die Islamitiese begrip van n enkelvoudige Skeppergod wat nie n Seun het nie, kan nie versoen word met die Christelike konsep van die Drie-enige God nie. Daar is ook geen korrelasie tussen Islam se Jesus wat die ongekruisigde seun van Maria is, en die Christelike geloof in die gekruisigde en opgestane Seun van God wat self ook God is nie.

Die groot eindstryd

Daar is goeie redes waarom die Israeli/Palestynse konflik ᾿n prominente plek op die wêreldverhoog inneem. Gebeure wat met die opkomende nuwe wêreldorde in verband staan, fokus baie sterk op Palestina, Israel, en meer spesifiek die stad Jerusalem. Ten spyte van die feit dat die Palestyne nie histories belangrik is en ook nie etnies ᾿n duidelik omskrewe en hegte volk is nie, bevind hulle hulself in dié gebied waar die toekoms van die wêreld bepaal gaan word. Hulle eise vir nasieskap word deur revolusionêre magte gebruik om invloed te verkry in die land en stad wat deur God bestem is om die middelpunt van die Messias se wêreldregering te wees.

Die magsopbou wat tans in die wêreld aan die gang is, gaan in die afsienbare toekoms na n antichristelike nuwe wêreldorde lei waarin Israel se grondgebied verder gaan krimp totdat hierdie land deur ondergang in die gesig gestaar sal word. Jerusalem sal waarskynlik onder internasionale beheer kom en n multigodsdienstige karakter aanneem. Liberale, ekumeniesgesinde Jode sal met die valse messias saamwerk om hierdie transformasie te laat slaag (Dan. 11:32). Die uiteinde hiervan sal n ten volle ontplooide wêreldregering en alliansie van wêreldgodsdienste onder die beheer van die Antichris wees.

Eers wanneer die ware Messias kom, sal n Christelike nuwe wêreldorde ingestel word met Jerusalem as hoofstad. Die grense van Israel sal dan aansienlik uitgebrei word, terwyl die kunsmatig geskepte Palestynse staat sal ophou bestaan. Sy inwoners sal of as “vreemdelinge” in Israel aanbly of terugkeer na die lande van hulle herkoms, naamlik Egipte, Jordanië, Libanon, Saoedi-Arabië en Sirië.