11. Israel se Feeste

Die jaarlikse siklus van die sewe groot godsdienstige feeste wat volgens Levítikus 23 deur Israel gevier word, werp duidelike lig op die raadsplan van die Here vir Israel en die nasies. Ons kan hierin die heilsweg volg wat by die kruis en die eerste reiniging van ons sonde begin, na die opstandingslewe en die vervulling met die Heilige Gees voortgaan, en daarna deur die lang pad van wêreldevangelisasie tot aan die einde van die kerkbedeling lei. Hierna volg die insameling van die oes, die verdrukking van sewe jaar, die koms van die Messias en die vestiging van die Messiasryk op aarde.

Die Here bevestig in sy Woord dat hierdie feeste nie menslik in oorsprong is nie, maar deur Homself ingestel is om sy heilsweg vir redding en geestelike groei bekend te maak. Om redes van die toekomstige vervulling daarvan, moet die feeste jaarliks in die regte volgorde gevier word. In Levítikus 23:4 sê Hy: “Dit is die feestye van die Here … wat julle moet uitroep op hulle bepaalde tyd.”

Omdat hierdie feeste op ᾿n Nuwe Testamentiese vervulling dui, is hulle in hul oorspronklike vorm “’n skaduwee van toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus” (Kol. 2:16-17). Hulle is dus almal Christusfeeste wat ín Hom konkrete gestalte verkry. Tydens Jesus se eerste koms is die pasga, die fees van die ongesuurde brode en die fees van die eerstelingsgerf vervul, en tien dae ná sy hemelvaart, m.a.w. 50 dae ná sy opstanding uit die dood, die pinksterfees. In die gebeure rondom sy tweede koms sal die laaste drie feeste vervul word, wat saam as die oesfees bekend staan.

Hoewel ons as Christene nie die feeste in hulle Ou Testamentiese, skaduagtige vorm moet vier nie, gee dit nogtans vir ons ᾿n duidelike profetiese aanduiding van toekomstige dinge. Ons vier net vervulde, Nuwe Testamentiese feeste.

1. Die Pasga

Die Pasga word in Nisan gevier, die eerste maand op Israel se godsdienstige kalender. Dit is die lentemaand in die noordelike halfrond, wat gedeeltelik met Maart en April oorvleuel. Israel se bevryding uit Egipte ná hulle slawerny en geestelike verduistering wat eeue lank geduur het, het ᾿n totaal nuwe fase in hulle volksgeskiedenis ingelui. Die “winter” van doodsheid en onvrugbaarheid was verby, en deur die Here se ingryping kon Israel as verlostes op ᾿n baie besondere reis vertrek om die Beloofde Land in besit te gaan neem. Hierdie nuwe begin (᾿n nasionale wedergeboorte) het daartoe gelei dat die Here die beginpunt van Israel se kalender verander het om in die lente van hulle uittog te begin, en nie meer in die herfsmaand nie: “Hierdie maand moet vir julle die begin van die maande wees; dit moet vir julle die eerste van die maande van die jaar wees” (Ex. 12:2).

Israel se siviele kalender wat met die Rosh Hashanah op 1 Tisri begin (September of Oktober op die Gregoriaanse kalender), het egter bly voortbestaan. Tisri is die sewende maand op die godsdienstige kalender. Israel se maande is op die maansiklus gebaseer en begin altyd met die nuwemaan. Omdat 12 maan-maande net 354 dae lank is, het die Joodse kalender dikwels skrikkeljare met ᾿n 13de maand om weer in pas met die seisoensjare te kom. Dit verklaar die feit waarom hulle feestye, wat volgens hulle eie kalender bepaal word, jaarliks wisselende datums op die Gregoriaanse kalender het. Die wisseling is egter nie baie groot nie, omdat Israel se feeste aan bepaalde seisoene in die landbousiklus gekoppel is, en met die seisoene (en dus ook met seisoensjare of sonjare) moet tred hou.

Die eerste van die jaarlikse feeste begin met die volmaan in Nisan (twee weke ná die nuwemaan is dit altyd volmaan): “In die eerste maand, op die veertiende van die maand, teen die aand, is die pasga van die Here” (Lev. 23:5).

Met die instelling van die pasga is die eerste formele riglyne gelê waarvolgens God se verlossingsplan vir die mensdom 1 500 jaar later sy finale vervulling deur die kruisdood van Jesus Christus sou verkry. Die slag van die lam in Egipte was n vroeë tipologiese aanduiding hiervan. Moses het aan Israel gesê:

“Julle moet ᾿n lam hê sonder gebrek, ᾿n jaaroud rammetjie. … En julle moet dit in bewaring hou tot die veertiende dag van hierdie maand; en die hele vergadering van die gemeente van Israel moet dit slag teen die aand. En hulle moet van die bloed neem en dit stryk aan die twee deurposte en aan die bo-drumpel. … Want Ek sal in hierdie nag deur Egipteland trek en al die eersgeborenes in Egipteland tref. … Maar die bloed sal vir julle ᾿n teken wees aan die huise waarin julle is: as Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan. En daar sal geen verderflike plaag onder julle wees nie” (Ex. 12:5-7, 12-13).

Die Nuwe Testament verwys na Christus as “die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem” (Joh. 1:29). Petrus het ook na die onskatbare offer van hierdie Lam verwys toe hy gesê het: “…julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ᾿n lam sonder gebrek en vlekkeloos” (1 Pet. 1:18-19; vgl. Ef. 1:7; Heb. 9:22).

Weens die tipologiese aard van die pasga, as ᾿n heenwysing na die offer van die Lam van God, was dit duidelik dat hierdie fees tydens een van sy toekomstige vierings vervul sou word. Die Here Jesus is inderdaad op die dag van die pasgaviering gekruisig. Volgens Markus 14:1-2 wou die Jode só ᾿n situasie vermy: “En die pasga … sou oor twee dae wees; en die owerpriesters en die skrifgeleerdes het gesoek hoe hulle Hom met lis gevange kon neem en doodmaak. Maar hulle het gesê: Nie op die fees nie, sodat daar nie miskien ᾿n oproer onder die volk kom nie.”

Die Jode kon egter nie daarin slaag om die stiptelike vervulling van hierdie fees te voorkom nie, en Jesus is op Vrydag die 14de Nisan (11 April 32) gekruisig. Hy het op die negende uur (3 nm.) sy asem uitgeblaas (Mark. 15:34-37), op presies dieselfde uur toe die lam tydens die eerste pasga in Egipte geslag is. Daar is bo alle twyfel vasgestel dat Hy dood was (Joh. 19:32-37). Pilatus was verwonderd dat Jesus so gou gesterf het, en het toestemming vir sy begrafnis verleen (Mark. 15:42-45). Dit is nog voor die Vrydagaand 6-uur gedoen toe die sabbat sou begin en niemand dan begrawe mag word nie (Luk. 23:52-54; Joh. 19:31).

Ons lees die volgende oor die kruisigingsdag in Markus: “En toe dit aand geword het, omdat dit die voorbereiding was, dit is die voorsabbat, kom daar ᾿n vername raadslid … om na Pilatus in te gaan en die liggaam van Jesus te vra” (Mark. 15:42-43).

John Grassmick (1983:191) sê die volgende oor dié teks: “Jesus se begrafnis het amptelik sy dood bevestig. Die uitdrukkings voorbereiding en voorsabbat is tegniese terme vir Vrydag wat op die dag voor die sabbat dui, soos wat Markus aan sy nie-Joodse lesers verduidelik. Omdat daar geen werk op die Joodse sabbat gedoen mag word nie, is al die voorbereidings daarvoor op Vrydae gedoen. Hierdie verwysing bevestig die feit dat Jesus op ᾿n Vrydag gekruisig is.”

2. Die fees van die ongesuurde brode

“[E]n op die vyftiende dag van hierdie maand is die fees van die ongesuurde brode van die Here; sewe dae lank moet julle ongesuurde brode eet. Op die eerste dag moet daar vir julle ᾿n heilige vierdag wees; géén beroepswerk mag julle doen nie” (Lev. 23:6-7).

Volgens Johannes 19:31 was die sabbat wat direk op Christus se kruisiging gevolg het, ᾿n groot dag. Die rede hiervoor was dat dit tegelyk die weeklikse sabbat en die belangrike eerste dag van die fees van die ongesuurde brode was. Vir die ortodokse Jode is die betekenis van hierdie fees in selfondersoek en verootmoediging geleë. Suurdeeg is ᾿n beeld van sonde, daarom simboliseer die eet van ongesuurde brood die nastreef van ᾿n heilige lewenswandel. Tydens die volle duur van die fees moet suurdeeg, en selfs ook krummels van gesuurde brood, uit hulle huise verwyder en verbrand word (Ex. 12:15). Dit is ᾿n teken van heiliging. Mense moet ook geestelik gereinig word deur afstand te doen van hulle sonde.

Die ongesuurde brood moes saam met die vleis van die offerlam én bitter kruie geëet word (Ex. 12:8). Die volk het nie net verlossing deur die bloed van die lam gekry nie, maar moes hulle ook met die vleis van die offerlam voed en versterk om krag te verkry vir die moeilike reis wat voorlê. Die bitter kruie dui op die lyding wat deur sonde veroorsaak is, asook die lyding wat met die offer gepaard gaan. Die volk moes onder die bloed van ᾿n onskuldige lam skuil sodat hulle marteling en slawerny aan die sonde beëindig kon word. Die haas waarin die eet van die offermaal moes geskied, was deel van die voorbereidings vir ᾿n bevrydingsreis wat daarna sou volg. Die verloste volk van God vertrek op ᾿n reis na ᾿n nuwe lewe. Hulle is vreemdelinge en bywoners op aarde, wat onderweg na hulle ewige tuiste is.

Hierdie fees, wat wesenlik deel van die pasgavieringe is, is deur die sterwe en begrafnis van die Here Jesus vervul. Hy is die koringkorrel wat in die grond geval en gesterf het sodat dit veel vrug kon dra (Joh. 12:24). As die volmaakte en sondelose Lam van God is Hy self die ongesuurde brood van die lewe deur wie se krag ons geestelik kan opgroei; daarom kon Jesus sê: “Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid. En die brood wat Ek sal gee, is my vlees wat Ek vir die lewe van die wêreld sal gee” (Joh. 6:51). Hy verlos ons nie alleen van die slawerny van die sonde nie, maar skenk aan ons ook die geestelike krag om die weg van die verlostes te kan bewandel.

Dit word van ons verwag om ons só met Christus as die ongesuurde brood van die lewe te vereenselwig, dat ons alle suurdeeg van sonde sal aflê. Paulus sê: “Weet julle nie dat ᾿n bietjie suurdeeg die hele deeg suur maak nie? Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ᾿n nuwe deeg kan wees – soos julle inderdaad ongesuurd is – want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus. Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van ondeug en boosheid nie, maar met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid” (1 Kor. 5:6-8).

Soos die Jode van ouds hulle huise op hul knieë in kerslig deursoek het om elke krummel brood wat met suurdeeg gebak is, uit te werp, moet ons ook op ons knieë in die lig van God se Woord ons lewens deursoek en van alle ondeug en boosheid afstand doen. Bid die gebed van Dawid: “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ᾿n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!” (Ps. 139:23-24).

3. Die fees van die eerstelingsgerf

Die volgende feeste is almal aan verskillende stadiums van die jaarlikse insameling van die oes gekoppel. Hierdie derde fees staan as die fees van die eerstelingsgerf bekend:

“Spreek met die kinders van Israel en sê aan hulle: As julle in die land kom wat Ek julle gee en sy opbrings oes, moet julle die eerstelingsgerf van julle oes na die priester bring. En hy moet die gerf voor die aangesig van die Here beweeg, sodat julle welgevallig kan wees; die dag ná die sabbat moet die priester dit beweeg” (Lev. 23:10-11).

Israel is ᾿n winterreënvalgebied en gedurende die lente word die eerstelingsgerf van die gars as ᾿n beweegoffer voor die Here gebring. Dit moes uitdruklik op ᾿n Sondag geskied (die dag ná die sabbat), en sou ook die besonder gewigtige betekenis hê om die volk vir God welgevallig te maak. Met hierdie fees was dus veel meer op die spel as net die jaarlikse insameling van die oes, want iets belangriks moet gebeur wat die volk vir God aanneemlik sou maak.

Omdat die pasga ook in die lentemaand gevier word, is die fees van die eerste vrugte in sy plasing op die kalender én in sy betekenis baie nou aan die pasga verbonde. Tydens die uittog uit Egipte was die gars, wat effens vroeër as die koring ryp word, reeds in die aar (Ex. 9:31). In die lentemaand is Israel uit Egipte bevry en het aan die begin van ᾿n nuwe lewe gestaan. ᾿n Ontmoeting met die Lam van God wat ons sondes wegneem, is ook vir ons die begin van ᾿n nuwe lewe in die Here. Ons word aan sy dood én opstanding gelykvormig.

In die jaar toe Jesus gekruisig is, is die beweegoffer van die eerstelingsgerf op die Sondagoggend gebring toe Hy uit die graf opgestaan het. Dit was die dag ná die sabbat, m.a.w. die eerste dag van die week: “…nadat Hy opgestaan het, vroeg op die eerste dag van die week, het Hy eers verskyn aan Maria Magdalena” (Mark. 16:9).

Die koringkorrel wat in die grond geval en gesterf het, het op hierdie Sondagoggend sy eerste vrug opgelewer. Dit het die oesseisoen ingelui en die hele oes wat daarna ingesamel sou word, geheilig. Net Jesus alleen kon die eerstelingsgerf wees wat aan God geoffer is om die hele oes wat in sy Naam ingesamel word, te heilig en vir God welgevallig te maak. Hy is die eersteling wat uit die dood opgestaan het, en het dit sodoende vir baie mense moontlik gemaak om uit die dood van die ou lewe op te staan en ook ᾿n deel van die groot oes vir die koninkryk van die hemel te word:

“En as Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking vergeefs en vergeefs ook julle geloof. … Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het. … Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen in sy eie orde; as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms” (1 Kor. 15:14, 20, 22-23).

᾿n Verdere belangrike feit is die bepaling dat hierdie fees spesifiek op ᾿n Sondag gevier moes word. Dit verteenwoordig profeties ᾿n oorgang van die ou verbond na die nuwe verbond. Sondag is die eerste dag van ᾿n nuwe week, of dispensasie, in God se raadsplan vir die mens. In hierdie bedeling word die opstanding van Jesus spontaan elke week op Sondae as die dag van die Here gevier. Die fees van die eerstelingsgerf in Levítikus 23 is die vroegste aanduiding in die Ou Testament van ᾿n toekomstige Sondagviering as ᾿n Christusfees. Op dié dag verkondig ons die boodskap: Hy het opgestaan, Hy leef! Jesus self het op die Sondag van sy opstanding die eerste preek van die  nuwe bedeling gelewer, asook ᾿n week later, weer op ᾿n Sondag, die tweede een (Joh. 20:19-29). Daarna het die dissipels spontaan op Sondae bymekaargekom (vgl. Hand. 20:7 en 1 Kor. 16:1-2), terwyl die uitstorting van die Heilige Gees as die geestelike toerusting vir wêreldevangelisasie, ook op ᾿n Sondag plaasgevind het.

Sommige mense het ᾿n probleem daarmee dat Jesus nie drie volle dae en nagte (m.a.w. 72 uur) in die graf was nie, en wend pogings aan om sy kruisiging van die Vrydag af na die Woensdag te vervroeg. Die feit is egter dat die Jode inklusiewe tydsberekening beoefen waarin ᾿n gedeelte van ᾿n dag ook as ᾿n volle dag beskou word. Daar is reeds op gewys dat Jesus die Vrydagmiddag, kort voor die aanbreek van die sabbat, begrawe is en vroeg op die eerste dag van die week (Sondag) opgestaan het. Die dag waarop Hy gekruisig is (Vrydag) was dus die eerste dag, Saterdag (die sabbat) was die tweede dag en Sondag (sy opstandingsdag) die derde dag.

Die Emmausgangers bevestig hierdie feite. Die dag toe Jesus opgestaan het (die Sondag) was hulle op pad na Emmaus (Luk. 24:13). Onbewus daarvan dat Jesus self by hulle aangesluit het, vertel hulle van sy kruisiging en voeg by: “En ons het gehoop dat dit Hy was wat Israel sou verlos; maar nou is dit vandag, met dit alles, die derde dag vandat dit plaasgevind het. Maar sommige vroue uit ons het ons ook ontstel toe hulle vroeg by die graf was; en toe hulle sy liggaam nie kry nie, het hulle ook gekom en gesê dat hulle ᾿n gesig gesien het van engele wat sê dat Hy lewe” (Luk. 24:21-23). Sondag was dus die derde dag sedert die kruisiging van die Here Jesus, wat die vorige Vrydag plaasgevind het.

4. Die pinksterfees

Die fees van die eerstelingsgerf en die pinksterfees is saam as die fees van die eerste vrugte bekend. Hulle word ook die fees van die weke genoem omdat hulle presies sewe weke uitmekaar gevier word. Die volgende bepalings geld hieroor:

“Dan moet julle tel van die dag ná die sabbat, van die dag af as julle die beweegoffergerf bring – sewe volle weke moet dit wees; tot die dag ná die sewende sabbat moet julle vyftig dae tel; dan moet julle ᾿n nuwe spysoffer aan die Here bring. Julle moet uit jul woonplekke twee beweegbrode bring; dit moet van twee tiendes van ᾿n efa fynmeel wees; gesuurd moet dit gebak word as eerstelinge aan die Here” (Lev. 23:15-17).

Dit is betekenisvol dat hierdie fees ook op ᾿n Sondag gevier word – die dag ná die sewende sabbat. Daar is vyftig dae in hierdie sewe weke. Volgens die reël van inklusiewe berekening is daar agt Sondae omdat beide die eerste en die laaste Sondag getel word. Die fees van die vyftigste dag word die pinksterfees genoem, afgelei van die Griekse woord “pentecoste” wat “vyftigste” beteken.

Op hierdie dag herdenk ortodokse Jode die formele begin van die bedeling van die wet. Hulle glo dat die bevryde Israeliete op die 50ste dag ná die viering van die pasga en hulle uittog uit Egipte by die berg Sinai aangekom het waar Moses die tien gebooie ontvang het (Ex. 19:1-3). Dit was vir só ᾿n ortodokse pinksterfees dat Jode uit verskillende lande in Jerusalem bymekaar was op daardie besondere Sondagoggend toe die Heilige Gees oor die dissipels uitgestort is, soos wat in Handelinge 2 beskryf word.

Die Christelike pinksterfees is dus vervul op die dag waarop die Ou Testamentiese pinksterfees gevier is. Die 50 dae tussen die beweegoffer van die eerstelingsgerf en die pinksterfees het aan die begin van die Nuwe Testament tussen die opstanding van Jesus en die uitstorting van die Heilige Gees verloop. Ná die Sondag van Jesus se opstanding het 40 dae tot by sy hemelvaart verloop (Hand. 1:2-3), en ᾿n verdere tien dae tot by die uitstorting van die Heilige Gees. Ná die Donderdag van die hemelvaart het die dissipels hulleself tien dae lank in die bovertrek verootmoedig, waar hulle gebid het om die belofte van die Heilige Gees te ontvang. Op die dag ná die sewende sabbat sedert Paasnaweek is die Gees oor hulle uitgestort.

Die ortodokse Jode wat vir hulle pinksterfees van die wet byeen was, het glad nie gemerk dat die wet oorgegaan het in die genade en dat die bedeling van die kerk onder alle nasies op daardie dag begin het nie. Hulle was geestelik verblind omdat hulle nie vir Jesus as die beloofde Messias en Lam van God wou aanvaar nie, daarom het hulle aan die skaduagtige Ou Testamentiese feeste bly vashou en dit voortgesit tot vandag toe. Dit is net die Messiaanse Jode wat die vervulde Christusfeeste vier.

Watter verskil sou dit nie gemaak het as hulle oë vir hierdie groot waarhede oop was nie! Op Sinai, waar die volk op die 50ste dag ná die pasga die wet gekry het, het 3 000 mense gesterf omdat die wet hulle afgodery rondom die goue kalf veroordeel het. In Jerusalem, waar die Heilige Gees op die 50ste dag ná Paasnaweek uitgestort is, is 3 000 Jode op een dag gered! Die letter van die wet maak dood, maar die Gees maak lewend (2 Kor. 3:6). Hierdie volmaakte tydsberekening vir die uitstorting van die Heilige Gees dui onmiskenbaar daarop dat die bedeling van genade, wat ook die bedeling van die kerk of die bedeling van die Heilige Gees genoem word, die bedeling van die wet vervang het.

Dit is verder opmerklik dat die pinksterfees nie in isolasie beskou word nie, maar deur middel van ᾿n aftelling van 50 dae aan die paasgebeure gekoppel word. Dit is dus nie ᾿n losstaande gebeurtenis nie, maar ᾿n uitvloeisel van die voorafgaande feeste. Om hierdie rede moet die vervulling deur die Heilige Gees altyd in sy noue verband met die sterwe en opstanding van die Here Jesus gesien word. Daar is vandag baie mense wat nalaat om hierdie eenheidsverband te sien. Hulle lê soveel klem op die Gees, en veral die gawes van die Gees, dat Jesus en sy kruisdood heeltemal in die agtergrond verdwyn. Deur die vervulling met die Heilige Gees word ons nóg meer aan die dood en opstandingslewe van die Here Jesus gelykvormig gemaak (Fil. 3:10; vgl. Joh. 16:14).

Een ander aspek van die pinksterfees wat opvallend is, is die feit dat twee brode wat met suurdeeg gebak is, as beweegoffers aan die Here gebring moes word. Dit is eienaardig, want suurdeeg is altyd ᾿n simbool van sonde. Dit is dus duidelik dat hierdie brode nie op Jesus Christus dui nie, omdat Hy die ongesuurde, sondelose, en volmaakte brood van die lewe is, soos voorgestel deur die ongesuurde brode wat tydens die Paasfees geëet word. Die twee gesuurde brode dui op die gelowiges uit Israel en die heidendom, m.a.w. op die kerk van Christus wat op hierdie fees sy beslag gekry het. Hoewel hulle ᾿n opdrag het om heilig te leef, is hulle nie sondeloos volmaak nie – daarom hierdie besondere wydingsplegtigheid om nie in die vlees te leef nie, maar met die Heilige Gees vervul te word en deur sý krag te leef. Hy laat die beeld van Christus in ons gestalte aanneem.

Die insameling van die oes

Ná die fees van die eerste vrugte volg daar ᾿n onderbreking van vier maande waarin die oes ingesamel word. Aan die einde hiervan, in die sewende maand op Israel se godsdienstige kalender, word die oorblywende drie feeste kort ná mekaar gevier. Die lang periode tussen die twee groepe feeste dui profeties op die bedeling van die kerk, waartydens ᾿n oes vir die koninkryk van die hemele ingesamel word. Dit is ᾿n tyd waarin volgehoue arbeid in die oeslande verrig moet word sodat die opgelegde taak binne die toegelate genadetyd afgehandel kan word. Jesus het sy dissipels só tot aksie aangespoor: “Sê julle nie: Dit is nog vier maande dan kom die oes nie? Kyk, Ek sê vir julle, slaan julle oë op en aanskou die lande dat hulle al wit is vir die oes” (Joh. 4:35). Is jy by die insameling van die oes betrokke?

By ᾿n ander geleentheid het die Here Jesus gesê: “Die oes is wel groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here van die oes dat Hy arbeiders in sy oes uitstuur” (Luk. 10:2). In een van sy gelykenisse word na die hele wêreld as ᾿n saailand verwys en na die finale insameling van die oes as die voleinding van die wêreld (Matt. 13:38-39).

Hoe lank dit sal duur voordat die oes onder die nie-Joodse volke ingesamel sal wees, blyk onder meer uit die stelling van Jesus dat Jerusalem vertrap sou word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is (Luk. 21:24; kyk ook Rom. 11:25-26). Die einde van die vertrapping van Jerusalem is ᾿n sekere teken dat die bedeling van wêreldevangelisasie besig is om sy einde te nader. Hierdie baie besondere stad wag nog net op sy finale politieke en geestelike herstel onder leiding van die Messias. Ons kan die vervulling van die fees van basuine spoedig verwag, en daarna sal Israel en Jerusalem deur die donker dae van die tyd van benoudheid vir Jakob gaan voordat die lig van die Messias se teenwoordigheid skielik en helder sal deurbreek.

5. Die Basuin van God

Die fees van basuine begin met ᾿n heilige dag van basuingeklank: “Spreek met die kinders van Israel en sê: In die sewende maand, op die eerste van die maand, moet dit vir julle ᾿n rusdag wees, ᾿n gedenkdag deur basuingeklank, ᾿n heilige vierdag” (Lev. 23:24). Hierdie fees word gevier as danksegging vir die oes, en ook as ᾿n oproep tot die volk om hulle van hul sondes te bekeer en die Here heelhartig te dien.

Ortodokse Jode blaas die basuine (ramshorings) in hulle sinagoges elke jaar op die eerste en tweede dag van Tisri, met die finale basuingeklank net voor donker op die 2de Tisri. Die verlenging van die fees om ook die tweede dag van Tisri in te sluit, is heelwat later eers gedoen ter wille van Jode wat in ander tydsones van die wêreld woon, sodat hulle nie van die betekenis en seën van die oesseisoen se laaste basuin aan die begin van Tisri uitgesluit sou word nie.

Wat die koninkryk van God betref, dui Israel se oesfees in Tisri op die finale insameling van die oes, of feitlik die finale insameling, omdat daarna nog net die na-oes ingesamel moet word. Hierdie fees sal profeties vervul word wanneer God se geestelike oes onder al die nasies, insluitend die Messiaanse Jode, in die hemel ingesamel sal word: “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ᾿n geroep, met die stem van ᾿n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees” (1 Thess. 4:16-17; vgl. ook 1 Kor. 15:51-52).

Direk na die blaas van die basuine op 1 en 2 Tisri, tot met die aanbreek van die Groot Versoendag op 10 Tisri, volg daar die sogenaamde “sewe verskriklike dae”. Dit is ᾿n tyd waarin gelowige Jode hulle verootmoedig, vas, hulle sondes bely en goed aan andere doen sodat hulle die guns van die Here kan wen. Dit word algemeen deur geestelike leiers in Israel erken dat daar in die meeste mense se lewens dinge is wat nie die Here behaag nie, en dat hulle dit in orde moet bring – veral hierdie tyd van die jaar.

Die sewe verskriklike dae tussen 3 en 9 Tisri dui profeties op die sewe jaar van die verdrukking. ᾿n “Week” in die profesieë verwys dikwels na ᾿n tydperk van sewe jaar (vgl. Dan. 9:27). Die einde van die wêreldwye insameling van die oes sal gevolg word deur die begin van Daniël se 70ste jaarweek. Dit sal ᾿n tyd wees waarin Israel en die ongelowige nasies getoets en vervolg, en Jerusalem deur vyandige magte beleër sal word (Sag. 14:2). Dit sal ᾿n kort, beslissende en baie moeilike tyd vir Israel en die nasies wees, omdat hulle ᾿n keuse sal moet maak tussen die ware Messias en die valse messias, en ook bereid sal moet wees om die gevolge van hulle besluit te dra. Dit sal ᾿n besluit tussen lewe en dood wees, omdat dit hulle finale bestemming sal bepaal.

Alhoewel hierdie jaarweek as die tyd van Jakob se benoudheid bekend staan, sal daar ook ᾿n nuwe uitstorting van die Heilige Gees oor Israel plaasvind (Sag. 12:10; 13:1), wat tot ᾿n herlewing sal lei waarin 144 000 Jode gered sal word (Op. 7:1-8). Hulle sal onder uiters moeilike omstandighede die evangelie verkondig, en voortdurend deur die valse messias en sy magte bedreig word (Op. 12:11).

6. Die Groot Versoendag

“Op die tiende van hierdie sewende maand is dit die versoendag. ᾿n Heilige vierdag moet dit vir julle wees; dan moet julle jul verootmoedig en aan die Here ᾿n vuuroffer bring” (Lev. 23:27).

Hierdie is die belangrikste godsdienstige feesdag in Israel, en dit was tradisioneel die enigste dag van die jaar waarop die hoëpriester die Allerheiligste agter die voorhangsel kon binnegaan om vir die volk se sondes versoening te doen. Hierdie fees sal profeties vervul word wanneer die Messias met sy wederkoms sy voet op die Olyfberg sit en elke oog Hom sal sien, ook hulle wat Hom deursteek het.

Op daardie dag sal Israel as volk met die Messias versoen word. Dan sal daar vir hulle, volgens Daniël 9:24, ewige geregtigheid aanbreek. Dit geld vir Israel in volksverband omdat hulle nog nie deur Jesus met God versoen is nie. Hierdie ontstellende gedagte oor die uitverkore volk se geestelike vervreemding het die profeet laat uitroep: “Die oes is verby, die somer is ten einde, en óns is nie verlos nie!” (Jer. 8:20). Hosea bevestig egter die uiteindelike geestelike herstel van Israel: “Ook vir jou, o Juda, is daar ᾿n oes beskik as Ek die lot van my volk verander” (Hos. 6:11).

Die Christene se groot versoendag is die kruisiging van die Here Jesus op Goeie Vrydag. Die toekomstige dag van versoening (Yom Kippur) moet dus as ᾿n Joodse feesdag gesien word wat hoofsaaklik vir Israel van belang is omdat dit na die unieke geleentheid van hulle nasionale bekering verwys. Die Here het oor sy versoening met Israel as volk gesê: “Ek sal die skuld van hierdie land op een dag uitdelg” (Sag. 3:9). In Jeremia 31:34 word gesê dat die hele oorblyfsel van Israel gered sal word, en Sagaria 8:23 bevestig die feit dat hulle daarna as ᾿n geredde volk deur al die nasies geëer sal word.

Daar sal op hierdie dag ook ᾿n oorblyfsel uit die nasies gered word wat die groot verdrukking en die slag van Armagéddon oorleef het en nog nie ᾿n verbond met die Antichris gesluit het nie. In sy profetiese rede sê die Here Jesus van dié dramatiese dag van sy verskyning:

“En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid” (Matt. 24:29-30).

Johannes sê in Openbaring 1:7: “Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het; en al die geslagte van die aarde sal oor Hom rou bedryf.” Die meerderheid moderne Jode, veral die godsdienstig ortodokses, keur steeds hulle voorvaders se daad goed van die verwerping en kruisiging van Jesus, en kan derhalwe ook beskryf word as “hulle wat Hom deurboor het”. Hulle sal rou bedryf oor Israel se volksondes, en die oorlewendes uit alle nasies sal by hulle aansluit omdat hulle ook daaraan skuldig sal wees om die Messias te verwerp.

Op hierdie dag van die geestelike ontwaking van ᾿n oorblyfsel uit Israel en die nasies, sal die Here sy vyande in toorn verdelg. Israel weet uit ervaring in die verlede dat as hulle nie gedurende die “sewe verskriklike dae” voor die groot versoendag guns in die oë van die Here gevind het nie, Hy die hoëpriester se offer kon verwerp en die volk aan hulle vyande oorgee. Met sy wederkoms sal Hy genade bewys aan dié wat in die geloof na Hom opsien, maar vir die goddeloses sal dit ᾿n dag van goddelike wraak wees wanneer hulle in een oomblik voor die Here se aangesig verdelg sal word (Op. 19:19-21).

7. Die loofhuttefees

“Op die vyftiende dag van hierdie sewende maand is dit sewe dae lank die huttefees vir die Here. … Sewe dae lank moet julle in hutte woon; almal wat in Israel gebore is moet in hutte woon, sodat julle geslagte kan weet dat Ek die kinders van Israel in hutte laat woon het toe Ek hulle uit Egipteland uitgelei het. Ek is die Here julle God” (Lev. 23:34, 42-43).

Hierdie is ᾿n vreugdefees wat ná die finale insameling van die oes gevier word om die Here vir al sy weldade van die afgelope jaar te bedank, insluitend die oes wat gemaak is. Tweedens het dié fees ᾿n terugwaartse verwysing na die uittog uit Egipte toe die kinders van Israel in hutte in die woestyn gebly het. Ter herinnering hieraan slaap baie mense nou ook in hutte of onder takskerms in hulle tuine en dank die Here dat Hy hulle voorvaders veilig deur die gevaarlike woestyn gelei en na die Beloofde Land gebring het. Derdens het die fees ᾿n toekomsgerigtheid deurdat dit duidelik met die koms van die Messias verbind word. Dan sal die oes onder Israel en die nasies ingesamel wees en die Messias op aarde uit Jerusalem regeer.

As gevolg van die sterk Messiasverwagting tydens hierdie fees het Jesus se broers Hom in Johannes 7 versoek om die viering van die huttefees in Jerusalem by te woon en Homself daar as Messias bekend te stel. Daar is baie oor Hom geredeneer, maar die owerstes van die volk het Hom nie as die beloofde Messias aanvaar nie. By sy tweede koms sal hulle dit wél doen. Op die loofhuttefees lees die rabbi’s Sagaria 14 in die sinagoges voor. Dit handel oor:

·       die koms van die Here met al sy heiliges (v. 4-5);

·       die koningskap van die Messias (v. 9);

·       die verhoging van Jerusalem (v. 8-11);

·       die vernietiging van die vyande van Israel (v. 12-15); en

·       die verpligte deelname deur ander nasies aan die huttefees in Jerusalem gedurende die Messiasryk (v. 16-18).

In Sagaria 14:16 is daar ᾿n duidelike bepaling dat lede van nie-Joodse nasies aan hierdie fees sal deelneem nadat die Messias-Koning van Israel gekom en sy ryk op aarde gevestig het: “En almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, sal jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die Here van die leërskare, en om die huttefees te vier.”

Op grond van dieselfde skrifgedeelte het Christene uit verskillende wêrelddele besluit om hulle solidariteit met Israel te bewys deur ook hierdie fees te vier. In 1980, die jaar toe Jerusalem deur ᾿n voormalige eerste minister, mnr. Menachem Begin, tot die hoofstad van Israel verklaar is, het ᾿n duisend Christene uit 20 lande in Jerusalem aan ᾿n huttefees deelgeneem wat hulle self gereël het. Groot was hulle verbasing toe die Joodse leiers hulle met ope arms verwelkom het, en hierdie gebaar in die lig van Sagaria 14 as ᾿n duidelike teken aanvaar het dat die koms van die Messias naby is. Positiewe publisiteit is hieraan verleen, en die Christene is ook versoek om in ᾿n ereplek voor die Israeli-weermag aan die Jerusalem-mars deur die stad se strate deel te neem.

Op die laaste dag van die fees is ᾿n Christenambassade in Jerusalem geopen, wat namens die internasionale Christengemeenskap met die Israeli-regering skakel en hulle Bybelse reg op die land Israel ten volle erken. Hulle help ook met die hervestiging van Jode wat uit ander lande na Israel verhuis, veral die migrasie van duisende arm, Russiese Jode. Verrigtinge by die ambassade word daagliks met gebede vir die veiligheid van Jerusalem begin, soos deur Psalm 122:6 en Jesaja 62:6-7 beveel word: “Bid om die vrede van Jerusalem!”

In 1981 het Christene se bywoning van die fees drasties toegeneem toe daar 3500 persone uit 35 lande was – onder meer 400 uit Suid-Afrika. Teen die draai van die eeu het die getal tot sowat 6000 besoekers uit meer as 80 lande gegroei.

Met die koms van Christus sal die loofhuttefees in volle vervulling gaan. Dan sal ons saam die Here loof vir ons verlossing uit die slawerny van sonde, en ook omdat Hy ons in die moeilike dae van ons pelgrimsreis op aarde deurgedra het totdat ons ons ewige tuiste in die hemel bereik het. Eer en danksegging sal aan Hom gebring word vir die groot oes van gelowiges wat ingesamel is.

Hiermee sal die heilsplan van God wat sy oorsprong by die slag van die Paaslam gehad het, tot volvoering gebring word. Die oes onder Israel en die nasies sal dan ingesamel wees, die vyande van God verdelg en die koningskap van die Messias in die vrederyk bevestig wees.

Persoonlike belewenis

Wat is jou persoonlike belewenis van hierdie Christusfeeste? Elke geredde mens se geestelike pelgrimsreis begin by die Lam wat vir ons geoffer is, m.a.w. by die kruis van Jesus waar die straf vir ons sonde betaal is. Ná die belydenis en aflegging van ons sondes, staan ons saam met Christus in ᾿n nuwe lewe op. Hierna gaan ons voort om deur verootmoediging en ᾿n volle oorgawe op die vervulling met die Heilige Gees te wag. Die toerusting met krag uit die hoogte stel ons in staat om getuies vir Jesus te wees en betrokke te raak by die insameling van die oes vir die koninkryk van die hemele. Hiermee wil die Here ons besig vind wanneer die basuin vir die ontmoeting met Hom weldra sal blaas.

Diegene wat agterbly wanneer die Here sy kinders kom haal, sal die grootste verdrukking van alle tye onder die tirannie van die Antichris in die gesig staar. Wanneer die heiliges ná sewe jaar saam met Christus terugkeer aarde toe, word die Antichris se ryk by die slag van Armagéddon verdelg en die Messiasryk op aarde gevestig. Om in die finale triomf van die Here Jesus te deel, moet ons die hele pad met Hom loop en ook ondervind wat dit is om deur die wêreld verdruk en verwerp  te word. Dit is slegs as ons saam met Hom ly, dat ons ook saam met Hom verheerlik sal word en saam met Hom sal regeer (Rom. 8:17; Fil. 1:28-29; 2 Thess. 1:5; 2 Tim. 2:12; 1 Pet. 5:10).

Omdat die volgelinge van Jesus ᾿n moeilike en smal paadjie moet bewandel, is baie van hulle nie bereid om hulle kruis op te neem en as dissipels van Christus hulle lig in ᾿n bose wêreld te laat skyn nie (Luk. 9:23). Hulle skuif liewer die swaarkry, opofferings en lyding eenkant toe en eis nou reeds die voordele van probleemvryheid, koningskap en oorvloed op wat eers in die vrederyk ons deel sal wees. Die waarheid is dat hulle nie regtig die kruis wil opneem waaraan hulle vir die wêreld en die wêreld vir hulle gekruisig is nie. Die koste om die dikwels eensame paadjie van diensbaarheid en stryd saam met die Here Jesus te bewandel, is vir hulle té hoog.

In werklikheid deins die meeste mense heeltemal terug van die kruis, en begin nie eers met hierdie pelgrimsreis deur die sewe feeste heen na ewige heerlikheid nie. Tydens die Here Jesus se aardse bediening was dit ook so. Hy het skares populêre ondersteuners gehad toe Hy genesings en ander wonderwerke gedoen het. Hulle het graag na sy preke geluister en in duisendtalle saamgetrek waar Hy die brode vermeerder het. Met alle geweld wou hulle Hom koning van Israel maak.

Toe Jesus egter oor die ware beginsels van dissipelskap spreek, naamlik dat mense ook deel van sy liggaam en bloed moes kry om gered te kon word, het groot getalle opportuniste dit as ᾿n harde woord beskou, belangstelling verloor en van Hom af weggegaan. Selfs sy gereelde volgelinge, behalwe die twaalf, het ook nie verstaan wat Hy gesê het nie en Hom om dieselfde rede verlaat. Net ᾿n klein kerngroepie het by Hom gebly en geglo dat Hy die Verlosser is by wie alleen hulle die ewige lewe kon kry (Joh. 6:51-69).

Is dit nie vandag ook nét so nie? Waar genesings en wonderwerke plaasvind en voorspoed vir almal verkondig word, trek groot skares mense saam. Die opwinding staan hulle aan en die boodskap streel hulle gehoor. Verder as dit gaan dit egter nie. Wanneer daar gepraat word van die kruis van Christus, van selfverloëning en die komende oordele, kry hulle gou koue voete en onttrek hulleself. Hulle wil nie soldate van die kruis wees nie, maar soek na die voordele en mag wat deur die koninkryk-nou teologie aan hulle gebied word.

Omdat Israel nie die kruisweg aanvaar het nie, het God se heilsplan – behalwe vir ᾿n klein groepie Messiaanse Jode – by hulle verbygegaan en is vir die heidene aangebied. In die nie-Joodse wêreld is daar ook maar ᾿n relatief klein groepie wat die smal pad van Gólgota af na die oop graf, die pinkstersaal en die oeslande van die wêreld volg. Die populêre volgelinge van die Here Jesus wat net op die ‘byvoordele’ van die Christendom ingestel is, raak gou geestelik verward, verloor hulle visie en verval in ᾿n blote gedaante van godsaligheid (2 Tim. 3:5). Baie van hulle word navolgers van mense en raak by kultusse betrokke wat grootliks van die waarheid afwyk (Matt. 24:4-5).

In Egipte was daar slegs redding vir diegene wat onder die bloed van die lam geskuil het. Hulle het met ᾿n reis begin wat ná baie toetse en beproewings uiteindelik na die Land van Belofte gelei het. Is jy ook op hierdie reis, en maak jy vordering in jou geestelike lewe? Die jaarlikse feeste, as uitdrukkings van ons geloof in Christus, is bedoel om tye van verkwikking voor die aangesig van die Here te wees (Hand. 3:19). Dit versterk jou visie en toewyding, en jy word opnuut met krag uit die hoogte toegerus om jou roeping as Christen in ᾿n bose wêreld te kan vervul.

Hanukkah

Die godsdienstige karakter van die Joodse feeste bring mee dat hulle in Bybelse tye almal met die tempeldiens verbind was. Selfs feeste wat nie in die Ou Testament voorgeskryf is nie, het ook hierdie tipiese godsdienstige karakter. Een só ᾿n fees is Hanukkah, wat ook as die Fees van Ligte bekend staan. Dit word vanaf die 25ste dag in die Joodse maand Kislev vir agt dae lank gevier (Desember op die Gregoriaanse kalender). Die Hanukkah kandelaar het nege potjies waarin lamppitte of kerse geplaas kan word. Tydens die fees word daar elke aand ᾿n ekstra kers aangesteek totdat almal van hulle aan die einde van die fees brand.

Hanukkah beteken “toewyding” en is afgelei van die toewyding van die tempel in die Makkabeër tydperk in 165 v.C. Drie jaar vroeër, in 168 v.C., is die tempel deur die Griekse diktator, Antiochus Epifanes, wat koning in Sirië was, verontreinig. Hy het die Jode gedwing om die Griekse afgode te aanbid en het ᾿n beeld van die afgod Zeus in die tempel ingebring. Hy het die Jode ook gedwing om varkvleis te eet.

In 165 v.C. het Judas die Makkabeër in ᾿n oorlog die Griekse en Siriese magte oorwin en uit Jerusalem verdryf. Die tempel is weer gereinig, aan die Here toegewy en die tempeldiens hervat. Dit het op 25 Kislev gebeur. Daar was egter ᾿n groot probleem omdat daar net ᾿n klein flessie met olie was wat net genoeg was om die kandelaar in die tempel vir een dag te laat brand.

Dit neem ᾿n hele paar dae om olyfolie uit te stamp, te verfyn en vir die kandelaar gereed te kry (vgl. Lev. 24:2). Gedurende die agt dae wat dit geneem het om nuwe olie voor te berei, het die kandelaar in die tempel egter wonderbaarlik aanhou brand met die bietjie olie wat daarin was. Hierdie wonderwerk tydens die tempelwyding in 165 v.C. word vandag nog jaarliks herdenk, asook die oorwinning wat Israel oor hulle vyand behaal het.

Soos die ander jaarlikse feeste in Israel, dra Hanukkah ook by tot die sterk begeerte onder ortodokse Jode om ᾿n nuwe tempel in Jerusalem te bou sodat hulle toewyding aan die Here en die vier van hulle feeste weer aan die tempeldiens gekoppel kan word. Dan, glo hulle, sal groot seëninge van die Here oor Israel neerdaal. Hierdie gevoel word ook op verskeie Joodse webtuistes uitgedruk, soos die volgende twee:

Colel Chabad sê op hulle webblad: “We celebrate Chanukah – the festival of lights – for 8 days commencing on the eve of Kislev 25 which this year coincides with December 20 2011. Coming in the dead of winter, Chanukah celebrates the triumph of light over darkness, of purity over contamination, of spirituality over materialism. Which is why it is such an important occasion for giving tzedakah, especially to widows, orphans and impoverished families through organizations like Colel Chabad” (www.colelchabad.org/Chanukah).

Op ’n ander webblad word spesifiek na die tempel verwys: “Hanukkah is the annual Jewish Festival of Lights that starts on the 25th day of Kislev as per the Jewish calendar. It is an eight-day festival of religious observance by Jews across the world. ... Hanukkah celebrates the victory of Jewish troops led by Judah Maccabee over the Greek soldiers, the miracle of purified oil, which lit Menorah for eight days continuously, and the rededication of Holy Temple in Jerusalem” (http://www.hanukkahcelebrations.com/facts.html).