10. Jerusalem die Rotsstad

Die Ou Stad van Jerusalem (Sion en die Tempelberg), sowel as die onmiddellike omgewing daarvan, is ten nouste geassosieer met die verlossings- en herskeppingswerk van Jesus, die Messias, die Seun van Dawid. Die Olyfberg sal ook die toneel van sy spoedige wederkoms wees (Sag. 14:4-5), waarna die troon van Dawid op die berg Sion herstel (Amos 9:11-12; Hand. 15:16-17) en n nuwe tempel op die Tempelberg gebou sal word (Eseg. 40–44).

By nadere ondersoek word dit gou duidelik dat daar n baie meer intieme verband tussen Jesus en Jerusalem is as wat daar algemeen besef word: selfs elke gebou in die stad getuig van Hom as die Rots wat vir ons geklief is. Die eeue-oue tradisie om in Jerusalem met gekapte klip te bou, verleen n unieke voorkoms aan die stad en verbind dit aan sy werklike eienaar en Koning. Hy is nie alleen as die Lam van God en die Koning van die konings bekend nie, maar ook as die Rots, Fondament en Hoeksteen. Laasgenoemde drie beskrywende name is nou aan mekaar verbonde omdat dit die Here Jesus as die Hoeksteen van Israel en sy hoofstad uitbeeld, maar verder ook as die Fondament van elke gelowige persoon op aarde wat kan getuig dat sy lewe op die Rots gebou is:

Die Rots

Die Messias het gesê: “Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het. En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm, en dit het nie geval nie, want sy fondament was op die rots. En elkeen wat na hierdie woorde van My luister en dit nie doen nie, sal vergelyk word met n dwase man wat sy huis op die sand gebou het. En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm en dit het geval, en sy val was groot” (Matt. 7:24-27).

Jesus is self die Rots waarop Hy sy kerk bou, soos wat Hy in Matthéüs 16:16-18 belowe het. Dit is duidelik dat net die lewe van n weergebore persoon op die Rots, Jesus, gebou is. Hierdie assosiasie verleen aan só n persoon vastigheid en krisisbestandheid sodat hy teen die storms van die lewe staande kan bly. Mense wat nie aan die Rots geanker is nie, het nie die geestelike vermoë om die aanslae teen hulle te oorleef of af te weer nie.

Die Fondament

Paulus het gesê: “Want niemand kan n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus” (1 Kor. 3:11).

Daar is geen fondament anders as Jesus, die Rots wat vir ons geklief is nie. Om jou lewe op ander fondamente te bou, is om op sand te bou en vir seker onder te gaan wanneer die storms in al hulle felheid op jou toeslaan. Selfs al gaan jy volgens jou eie oordeel suksesvol deur die lewe sonder hulp van buite, sal jy nie voor die storm van God se eindoordeel staande kan bly nie. Op daardie dag sal jy in die verderf beland as jou lewe nie op die Rots gebou is nie!

Die Hoeksteen

“Die steen wat die bouers verwerp het, dit het n hoeksteen geword. Elkeen wat op dié steen val, sal verpletter word; maar elkeen op wie hy val, dié sal hy vermorsel” (Luk. 20:17-18).

Volgens Efésiërs 2:20 en 1 Petrus 2:6-7 is Jesus self die hoeksteen van die gebou van God waarin ons tot eer van God as lewende stene ingebou word. Dit is die vervulling van beloftes wat in Jesaja 28:16 en Psalm 118:22 gemaak is. Vir dié wat nie in Hom glo nie, is Hy n Rots van struikeling, omdat Hy hulle sal veroordeel en in die hel verderf. Daar is geen middeweg tussen hierdie twee attribute van Hom nie – Jesus is óf die hoeksteen waarop jou lewe berus, óf Hy sal vir jou n rots van struikeling wees wat jou in die  dag van oordeel sal vernietig. Dit hang alles af wat jou verhouding met Hom is.

Die gekliefde Rots

Daar moet in meer besonderhede na die tipologie van Jesus as die Rots gekyk word wat vir ons geklief is. Paulus sê die Israeliete in die woestyn “het gedrink uit n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus” (1 Kor. 10:4). In die woestyn het die volk gesmag na water, en die Here het vir Moses gesê: “Kyk, Ek sal daar voor jou by die rots op Horeb staan; dan moet jy die rots slaan, en daar sal water uit kom, dat die volk kan drink” (Ex. 17:6).

Die slaan van die rots dui profeties op die kruisiging van die Messias deur die Joodse volk. Hy sou aan n kruishout vasgespyker en sy liggaam vir ons sondes gebreek word. Die gevolg hiervan was dat n fontein van lewende water uit Hom ontspring het, wat die geestelike dors van die hele wêreld kan les. Jesus het gesê: “As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo; want die Heilige Gees was daar nog nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie” (Joh. 7:37-39).

Dit is dus duidelik dat daar by die gebeure op Horeb n tipologiese uitbeelding van die Drie-eenheid plaasgevind het. Die Vader was daar, want Hy het aan Moses gesê: “Ek sal daar voor jou by die rots op Horeb staan” (Ex. 17:6). Die rots wat geklief moes word, stel Christus voor (1 Kor. 10:4), en die water wat uit die gekliefde rots gevloei het, stel die Heilige Gees voor (Joh. 7:38-39). Dit was dus die wil en plan van die Vader om sy Seun te gee om ter wille van ons geslaan te word, sodat die Heilige Gees hierdie heilswerk aan n dorstige en sterwende mensdom kon bedien.

Waarom was dit só n groot oortreding in die oë van die Here toe Moses by n later geleentheid weer die rots geslaan het? Juis omdat die rots n tipe van die Messias is, en Hy net eenmalig vir die sondes van sy volk geslaan is. Net soos wat die Lam van God slegs een maal vir die sondes van die wêreld geslag sou word, moes die rots ook net een maal geslaan word:

“Hy, omdat Hy vir ewig bly, besit n priesterskap wat nie op ander oorgaan nie. Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree. Want so n hoëpriester was vir ons gepas, een wat heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars is, en wat hoër as die hemele geword het; wat nie elke dag nodig het, soos die hoëpriesters, om eers vir sy eie sondes offers te bring en dan vir dié van die volk nie. Want dit het Hy net een maal gedoen toe Hy Homself geoffer het” (Heb. 7:24-27).

Moses het dus die tweede maal toe die volk by Horeb gekom het, opdrag gekry om net met die rots te praat en hom nie weer te slaan nie: “En die Here het met Moses gespreek en gesê: Neem die staf en laat die vergadering byeenkom, jy en jou broer Aäron, en spreek julle die rots aan voor hulle oë; dan sal hy sy water gee. So moet jy dan vir hulle water uit die rots laat vloei. ... Daarop tel Moses sy hand op en hy slaan die rots twee maal met sy staf; en daar het baie water uitgekom” (Num. 20:7-11).

Dit was n groot en baie ernstige oortreding in die oë van die Here – sodanig dat Moses en Aäron nie die volk die Beloofde Land kon binnelei nie: “Toe sê die Here vir Moses en Aäron: Omdat julle in My nie geglo het om My voor die oë van die kinders van Israel te heilig nie, daarom sal julle hierdie vergadering nie in die land inbring wat Ek aan hulle gegee het nie” (Num. 20:12).

In die Nuwe Testament leer ons ook dat niemand ooit daaraan moet dink om die Here twee maal te kruisig nie (Heb. 6:6). Hy is een maal gekruisig, en nou kan ons net in gebed met Hom praat om die water van die lewe te ontvang (Joh. 4:13-14; Luk. 11:13). As ons vir die lewende water vra, sal dit vryelik aan ons geskenk word – dit verg bloot n wilsbesluit van ons af om dit te doen: “Laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet” (Op. 22:17). Die reddende genade van die Here Jesus is vryelik tot elkeen se beskikking.

Die kruisiging van Jesus

Met die kruisiging van Jesus is die Ewige Rots vir jou en my geklief. Dit is betekenisvol dat die Here Jesus buitekant Jerusalem in die steengroewe van Salomo gekruisig is, waar die klippe vir die bou van die tempel gekap is. n Groot gedeelte van hierdie berg is vir boumateriaal uitgekap, tot op n plek waar die rotse bros geraak en nie meer as bouklippe geskik was nie. Daar was ook gate in die grond, wat van ver af soos die oë, neus en mondopening van n skedel lyk. Dit kan vandag nog gesien word, en verleen duidelik aan die bergwand die voorkoms van n skedel.

Die naam skedelkoppie is waarskynlik van hierdie bergwand se voorkoms afgelei. n Ander verklaring vir die naam is dat dit van die skedels afgelei is wat in die Romeinse tyd hier rondgelê het. Die Romeine het omtrent 200 misdadigers per jaar hier gekruisig, en hulle net so onbegrawe in die ou steengroewe noord van die stad laat lê.

Klip vir die tempel

Die klippe wat hier vir die tempel van Salomo gekap is, het n besondere tipologiese heenwysing na die Rots van die Eeu wat later in dieselfde steengroewe geklief is, sodat elkeen van ons tot tempels van die lewende God opgebou kan word.

“En die koning het bevel gegee om groot klippe, kosbare klippe uit te breek om die fondament van die huis met gekapte klippe te lê. En die bouers van Salomo ... het dit gekap ... en die klippe bewerk om die huis te bou. ... En toe die huis gebou is, is dit opgetrek van klippe, kant en klaar uit die breekplek: hamers en koubeitels, enige ystergereedskap, is nie gehoor by die huis toe dit gebou is nie” (1 Kon. 5:17-18; 6:7).

’n Volmaakte werk

Toe Jesus in die steengroewe van Salomo vir ons geklief is, het Hy n volmaakte en volkome werk gedoen. Daar hoef niks bygevoeg of weggeneem te word nie. Dit geld ook vir sy volmaakte herskeppingswerk. Op die tempelterrein was dit totaal verbode om verder aan die hoeksteen of enige ander bouklippe te kap. Dit moes presies in die regte formaat van die steengroewe af gelewer word.

Ons moet ook na Jesus toe gaan, daar by die kruis waar Hy vir ons geklief is, sodat ons tot lewende stene omskep en gevorm kan word wat geskik is om in die tempel van God ingebou te word. n Klip wat nie vooraf in die steengroewe voorberei en gevorm is nie, was onbruikbaar vir bouwerk. So ook kan geen persoon wat nie eers by die kruis was, in die koninkryk van God aangewend word nie – hy is nutteloos en pas nie by die Here se plan in nie. Die uitnodiging na die steengroewe van God by Gólgota staan nog steeds – daar waar ons nuut gemaak kan word:

“Kom na Hom toe, die lewende steen wat deur die mense wel verwerp is, maar by God uitverkore en kosbaar is; en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot n geestelike huis, n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus. Daarom staan dit ook in die Skrif: Kyk, Ek lê in Sion n uitverkore en kosbare hoeksteen, en die wat in Hom glo, sal nooit beskaam word nie” (1 Pet. 2:4-6).

Verwerp deur sy volk

Jesus is as hoeksteen egter deur die bouers, of geestelike leiers, van die volk Israel verwerp: “Die steen wat die bouers verwerp het, het n hoeksteen geword. Dit het van die Here gekom; dit is wonderbaar in ons oë” (Ps. 118:22-23).

Omdat Israel geweier het om hulle volkshuishouding op die rots Jesus Christus te bou, en n wettiese vormgodsdiens bó Hom verkies het, het hulle in werklikheid op sand gebou. Dit is waarom hulle nie teen die aanslae van die Romeinse Ryk bestand was nie, as n volk tot n val gekom het en daarna oor die hele aarde verstrooi is.

Die hoeksteen wat hulle verwerp het, het egter die kosbare hoeksteen van die kerk van die Here op aarde geword (vgl. Jes. 49:6). Baie individuele Jode het Hom in hierdie hoedanigheid aanvaar en ook hulle lewens op Hom gebou, maar die ortodokse en agnostiese volksleiers verwerp Hom nog steeds. Dit is die rede waarom hulle nog altyd die wind van voor kry, en nou al sedert 1967 tevergeefs probeer om n hoeksteen van 4½ ton op die tempelberg te lê waar die tempel herbou moet word. Die beweging Temple Mount and Land of Israel Faithful Movement onder die leiding van Gershon Salomon beywer hulleself hiervoor, maar kry nie toestemming vir hulle projek by hulle eie regering nie.

Selfs al slaag ortodokse Joodse leiers in n stadium daarin om die hoeksteen te lê en die tempel te herbou, sal dit totaal in stryd met die Nuwe Testamentiese openbarings van die Messias wees. Sedert sy kruisiging en opstanding tydens sy eerste koms was Hy die enigste geestelike hoeksteen waarop Israel en alle ander mense se lewens gebou kon word. Dit is bejammerenswaardig dat die moderne Joodse skrifgeleerdes ook die getuienis omtrent Jesus se eerste koms en sy soendood verwerp, en hulle toevlug neem tot n wettiese en mensgemaakte plaasvervanger vir sy heilswerk.

Waarom gaan die ortodokse Jode nie terug na die steengroewe van Salomo waar die hoeksteen vir die eerste tempel uitgekap is nie? Hier sal hulle besliste aanduidings van die ware Hoeksteen kry wat die Vader aan sy volk voorsien het. Etlike duisende Christenpelgrims lê jaarliks hier besoek af, onder andere as n teken aan Israel oor wie die Hoeksteen is wat deur hulle leiers verwerp is, en nog steeds verwerp word. Hier naby sal hulle die leë graf vind, wat ook uit soliede rots gekap is. Dit is nog n bewys dat die Messias leef, en dat Hy steeds alle mense (ook Israel) roep om na Hom toe te kom waar Hy buitekant die stadspoorte vir almal van ons gely het (Heb. 13:11-13).

Daar is geen plaasvervanger vir die ware en enigste hoeksteen wat die Vader gegee het sodat die lewens van individue én volkere daarop gebou kan word nie. Sy koninkryk op aarde word net op hierdie hoeksteen gebou. Vir almal wat Hom verwerp, word Hy n rots van struikeling wat hulle vir ewig in die komende oordeel sal vernietig.

Jerusalem, die rotsstad

Die bepalings oor die bou van die tempel met gekapte klippe, het sekerlik daartoe aanleiding gegee dat die inwoners van Jerusalem ook hierdie tradisie nagevolg het. Ná die volk se terugkeer uit die Babiloniese ballingskap het hulle oor die herbouing van die tempel in Jerusalem gesê: “Aan die koning word bekend gemaak dat ons na die provinsie Juda, na die huis van die grote God, gegaan het; en dit word van groot klippe gebou” (Esra 5:8). Hierdie boumateriaal is ook deur die inwoners van Jerusalem vir hulle woonhuise gebruik: “...met gekapte klip sal ons bou” (Jes. 9:9; kyk ook Amos 5:11).

Die stad Jerusalem het in 1996 sy 3000ste bestaansjaar gevier sedert dit in 1004 v.C. deur Dawid van die Jebusiete verower is. Ná al die jare is dit nog steeds gebruiklik om net met klip te bou. Dit maak van Jerusalem absoluut n unieke stad in die wêreld, omdat al die geboue van klip gebou is. Daar is n munisipale regulasie tot dié effek in Jerusalem. Geen bakstene mag gebruik word nie. Geboue mag wél van beton gebou word, maar dan moet dit met gekapte klipteëls toegemessel word. Die aansig van só n gebou is dan nog steeds dié van klip. Daar word meesal van rowwe, gekapte klipteëls gebruik gemaak – slegs in enkele gevalle het die klipteëls n gladde afwerking aan die buitekant. Selfs al die terrasse in Jerusalem word ook net van gekapte klip gebou.

My Rots en my Verlosser

Baie mense merk die uniekheid van Jerusalem as rotsstad dadelik op omdat die gryswit kalkklip wat oral gebruik word, baie opvallend is. Die simboliek daarvan as die stad van die groot Koning, die Rots wat in die steengroewe van Jerusalem vir die hele mensdom geklief is, word selde raakgesien. Israel is ook onbewus van die metaforiese verband tussen hulle hoofstad van rots en die Rots van hulle verlossing, en dit ten spyte van die feit dat God Homself van die vroegste tye af aan hulle geopenbaar het as hulle Rots en Verlosser (Deut. 32:4; Ps. 62:3).

Moses het Israel vermaan oor hulle geestelike onkunde en onverskilligheid: “Die Steenrots wat jou verwek het, het jy veronagsaam; en jy het die God vergeet wat jou voortgebring het” (Deut. 32:18). Die God van Israel is n Rots, “en daar is geen rots soos onse God nie” (1 Sam. 2:2; 2 Sam. 23:3). Hy gee aan Israel krag wat ver bo dié van hulle vyande is (Deut. 32:31). Om hierdie rede kon koning Dawid sing: “Ek het U hartlik lief, Here, my sterkte. Die Here is my rots en my bergvesting en my redder; my God, my rots by wie ek skuil; ... my rotsvesting” (Ps. 18:2-3).

Dawid het besef dat voordat God sy sterkte en toevlug kon wees, Hy eers sy Verlosser moes wees wat hom uit sy geestelike duisternis kon uitred: “Hy het my uit die kuil van vernietiging, uit die modderige slyk opgetrek en my voete op n rots gestel; Hy het my gange vasgemaak” (Ps. 40:3). Terwyl Dawid vir Saul gevlug het, het hy dikwels in grotte hoog in die berge skuiling gevind. In die veiligheid van sy rotsvesting het hy besef dat slegs God sy beskerming teen sy vyande is: “Wees vir my n rots om in te vlug, n baie vaste huis om my te verlos. Want U is my rots en my bergvesting” (Ps. 31:3-4). Hy het die verband tussen fisiese en geestelike beskutting verstaan en die Here vir sy troue versorging en uitredding gedank.

n Persoon wat sy klipwoning in Jerusalem betree, behoort daardeur ook aan die genadige God van Israel herinner te word, wat begeer om sy kinders geestelik te beskut. Wanneer hulle hul klipwonings betree, behoort hulle te bid: “By U, o Here, skuil ek. ... Wees vir my n rots om in te woon, om gedurig in te gaan; U wat bevel gegee het om my te verlos, want U is my rots en my bergvesting” (Ps. 71:1, 3). Ons moet ook skuiling vind in die Here, “want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons” (Hand. 17:28).

Daar sal vreugdevolle lofliedere in Israel wees wanneer die volk versoen is met hulle Messias-Koning, want Hy is n magtige Verlosser en die enigste toevlug vir sy volk: “Kom, laat ons jubel tot eer van die Here, laat ons juig ter ere van die rots van ons heil! Laat ons sy aangesig tegemoetgaan met lof, met lofsange Hom toejuig! Want die Here is n grote God, ja, n groot Koning bo al die gode” (Ps. 95:1-3).

Allen Ross (1985:862) bevestig die Messiaanse aard van Psalm 95, omdat dit na die tyd verwys wanneer die Messias as Koning uit Jerusalem sal regeer: “Hierdie kroningspsalm roep die volk op om te erken dat die Here n groot Koning is. ... Die volk word opgeroep om hulle Skepper te aanbid.”

Hoofstad van die Rotskoninkryk

In die komende Messiasryk op aarde sal die rotsstad, Jerusalem, die hoofstad van die Here se rotskoninkryk wees. Hierdie simboliek kom uit Daniël 2, waar Jesus tydens sy wederkoms met n rots vergelyk word wat al die aardse koninkryke sal verbrysel en self in hulle plek regeer. Die tydperk van onafhanklike heidennasies sal dan verby wees:

“U het gekyk totdat daar sonder toedoen van mensehande n klip losraak wat die beeld getref het aan sy voete van yster en van klei en dit fyngestamp het. Toe is tegelykertyd die yster, die klei, die koper, die silwer en die goud fyngestamp, en dit het soos kaf geword van die dorsvloere in die somer, wat die wind wegneem sodat daar geen spoor van gevind is nie; maar die klip wat die beeld getref het, het n groot rots geword wat die hele aarde gevul het” (Dan. 2:34-35).

Die verklaring van die droom van Nebukadnésar dui onteenseglik op die openbaring en vestiging van die Messiasryk: “Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan – net soos u gesien het dat sonder toedoen van mensehande n klip van die berg af losgeraak het wat die yster, die koper, die klei, die silwer en die goud verbrysel het” (Dan. 2:44-45).

Wanneer hierdie Rots die aardse koninkryke tref, dan sal gebeur wat in Openbaring 11:15 beskryf word: “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid.”

Hierdie Rots sal groot word en die hele aarde oordek. Hy sal nie net Koning oor Israel wees nie, maar oor die hele wêreld. Sy troon sal in Jerusalem wees, daar waar sy liggaam eens gebreek is sodat Hy vir ons n kosbare hoeksteen kon word. Hy is nou in die hemel, maar ná die donker dae van die groot verdrukking sal Hy sy verskyning op die Olyfberg maak om sy koninkryk sigbaar op aarde te openbaar: “Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel, sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat al hierdie dinge doen” (Hand. 15:16-17).

As ons by die God van Israel skuiling gesoek het en ons lewens op die Rots gebou het, is ons veilig vir tyd en ewigheid. Ons kom nie in die oordeel nie, want ons het oorgegaan uit die dood in die lewe (Joh. 5:24); daarom kan ons ook sing: “Ewige Rots geklief vir my, laat my veilig by U bly!” Nie alle mense het hierdie blye versekering nie, en hulle het alle rede om te vrees oor wat die toekoms vir hulle inhou. Donker wolke is besig om rondom n goddelose wêreld saam te pak, en weldra sal miljoene mense vir ewig ten gronde gaan omdat hulle lewens nie op die Rots gebou was nie.