1. Roeping, Verstrooiing en Herstel

Daar is drie uitstaande reekse gebeurtenisse in Israel se vierduisend jaar lange bestaan waaraan baie aandag in die Bybel gegee word, naamlik hulle vestiging in die Beloofde Land, hulle internasionale verstrooiing weens ongeloof, en hulle eindtydse herstel met die oog op die loutering en geestelike lewendmaking van ᾿n oorblyfsel in Israel. Elkeen van hierdie belangrike gebeurtenisse vind plaas binne die raamwerk van ᾿n geslag of generasie, en verteenwoordig ingrypende veranderings in hulle volksbestaan.

᾿n Groot deel van die Bybel handel oor Israel omdat hulle in ᾿n baie besondere sin die volk van God is. Hy het hulle geroep en vir sy diens afgesonder, hulle weens hul voortgesette ongehoorsaamheid onder die nasies verstrooi, en dit is dieselfde, onveranderlike verbondsgod van Abraham, Isak en Jakob wat die volk in die eindtyd weer in die land van hulle vaders herstel. Daar is belangrike aspekte van hulle roeping en rol in die wêreldgeskiedenis wat nog vervul moet word, daarom lê daar ᾿n wonderlike toekoms vir hulle voor.

Roeping en volksplanting

Die roeping van Israel het by Abraham begin, wat die stamvader van hierdie volk is. Die Here het aan hom en sy nageslag die volgende, onvoorwaardelike belofte gemaak: “Slaan tog jou oë op en kyk van die plek waar jy staan, na die noorde en suide, na die ooste en weste; want die hele land wat jy sien, sal Ek aan jou gee en aan jou nageslag tot in ewigheid” (Gen. 13:14-15).

Die Here het hierdie belofte aan Isak herbevestig: “…aan jou en jou nageslag sal Ek hierdie land gee: Ek sal die eed bevestig wat Ek vir jou vader Abraham gesweer het” (Gen. 26:3). Dieselfde boodskap is aan Jakob gerig: “Ek is die Here, die God van jou vader Abraham en die God van Isak. Die land waar jy op lê en slaap, sal Ek aan jou en jou nageslag gee” (Gen. 28:13).

Dit sou egter ᾿n baie lang tyd duur voordat hierdie stamvaders se nageslag die land in besit sou neem, en dit het die Here ook aan Abraham gesê: “Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in ᾿n land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word 400 jaar lank. Maar Ek sal ook die nasie oordeel aan wie hulle diensbaar moet wees, en daarna sal hulle uittrek met baie goed” (Gen. 15:13-14).

Tydens Israel se lang verblyf in Egipte het hulle van God vervreem geraak en uiteindelik die slawe van ᾿n heidense volk geword. In hulle ellendige toestand het hulle weer die Here onthou en dag na dag vir uitredding tot Hom geroep. ᾿n Kragtige ingryping deur die Here het gevolg en dit het tot die groot epog van Israel se uittog uit Egipte en hulle volksplanting in die Beloofde Land gelei.

Hierdie verlossingsdaad is simbolies deur die slag van ᾿n lam uitgebeeld. Daar was redding en bevryding vir die gesinne wat hulle deurposte met die bloed van die lam bestryk en daaronder geskuil het. Israel moes hierdeur die les leer dat hulle nie uit eie krag die beloftes van God kon beërf nie. Die offerlam was ᾿n heenwysing na die Messias wat die ware Lam van God is, wat deur sy offer die volk van hulle geestelike slawerny sou bevry om die koninkryk van God te kon beërf (1 Pet. 1:18-19).

Woestynlewe

Tussen Israel se verlossing uit Egipte en hulle vestiging in die land van belofte het ᾿n 40 jaar lange trek deur die woestyn gevolg. In hierdie tyd het die Here die geestelik erg vervalle volk van voor af geleer om in die geloof te lewe. Hulle was nie gereed om dadelik hul erfenis in besit te neem nie, omdat die beginsels van die ou, sondige lewe nog diep in hulle harte gevestig was. In tye van skaarste het hulle nie na die Here opgesien en hulle vertroue in Hom gestel nie, maar baie gemurmureer en na die vleispotte van Egipte terugverlang. Selfs afgodediens was nog so wesenlik deel van hulle dat hulle spoedig die groot verlossingswerk van die Here vergeet en voor ᾿n goue kalf neergebuig het.

Hierdie toestand van geestelike verval en kulturele vereenselwiging met ᾿n heidense kultuur het daartoe gelei dat die Here sy volk 40 jaar lank in die woestyn laat rondswerf het totdat die ou geslag – dit is almal wat ouer as 20 jaar was toe hulle Egipte verlaat het – gesterf het. Daar was slegs twee uitsonderings, naamlik Josua en Kaleb wat nie teen die Here opstandig was nie. In Númeri 32:13 word gesê: “En die toorn van die Here het teen Israel ontvlam, en Hy het hulle 40 jaar lank in die woestyn laat rondswerwe totdat die hele geslag verteer was wat kwaad gedoen het in die oë van die Here.”

Gedurende hierdie swerftogte het die Here die volk deur Moses onderrig om hulle roeping as ᾿n heilige, afgesonderde volk van God te kon begryp en aanvaar. Hulle verhouding met die God van hulle vaders sou bepaal hoedanig hulle verblyf in die Beloofde Land sou wees. As hulle die Here dien, sou dit in alle opsigte met hulle goed gaan. Indien hulle egter afvallig raak en heidense godsdienste aanhang, sou allerlei ellendes hulle tref.

Die opsie tussen seën en vloek is dikwels aan Israel voorgehou, sodat hulle die nodige erns en volharding in hulle verhouding met die Here kon handhaaf. Indien hulle sou besluit om nogtans van hierdie pad af te wyk, moes hulle gewaarsku wees dat ernstige probleme daarop sou volg. In ᾿n toestand van moedswillige en langdurige verval sou die Here weens Israel se eie toedoen nie meer hulle helper wees nie, maar hulle teëstander.

Intensiewe onderrig is in die woestyn aan Israel gegee omdat dit hulle toekoms in die Beloofde Land ten nouste sou raak. In Deuteronómium 28:1-14 word verskeie geestelike en materiële seëninge aan die volk voorgehou indien hulle nie van die Here se weë sou afwyk nie. Die Here sou van hulle die leidende volk in die wêreld maak (hulle sou die kop en nie die stert wees nie) as hulle aan Hom getrou bly en geen kompromie met die heidense volke maak nie.

In Deuteronómium 28:15-68 word daar egter ᾿n skrikwekkende lys van vloeke aan die volk voorgehou wat hulle sou tref as hulle van die Here afvallig raak en agter ander gode aanloop. Hongersnood, pessiektes en natuurrampe sou hulle teister. Hulle beskutting sou van hulle wyk en hulle sou in die hande van bloeddorstige vyande oorgegee word. Die aasvoëls en roofdiere sou hulle gesneuweldes op die slagveld vreet terwyl die oorlewendes in angs van hulle vyande af wegvlug. Hierby word nog die volgende waarskuwing gevoeg:

“Die Here sal teen jou ᾿n nasie bring van ver, … ᾿n nasie hard van aangesig, wat ᾿n grysaard nie ontsien en vir ᾿n seun geen genade het nie. En hulle sal die vrug van jou vee en die vrugte van jou land opeet totdat jy verdelg is; … En hulle sal jou in benoudheid bring in al jou poorte totdat jou hoë en versterkte mure val waarop jy in jou hele land vertrou het; … En jy sal die vrug van jou liggaam eet, die vlees van jou seuns en jou dogters wat die Here jou God jou gegee het, in die beleëring en in die benoudheid waarmee jou vyande jou benoud sal maak” (Deut. 28:49-53).

Israel sou uiteindelik as ballinge na al die nasies weggevoer word: “En die Here sal jou verstrooi onder die volke, van die een einde van die aarde tot by die ander einde van die aarde. … En onder dié nasies sal jy geen rus hê nie, en vir jou voetsool sal daar geen rusplek wees nie; maar die Here sal jou daar ᾿n bewende hart gee en smagtende oë en ᾿n kwynende siel” (Deut. 28:64-65).

Tydens hulle ballingskap onder die nasies sou voortgesette benoudheid hulle deel wees. Groot verval sou ook in hulle land plaasvind, en hulle vyande sou daar gaan woon. God sê: “Ja, Ek self sal die land verwoes, sodat julle vyande wat daarin gaan woon, daaroor verstom sal staan. En Ek sal julle onder die volke verstrooi en ᾿n swaard agter julle uittrek; en julle land sal ᾿n wildernis en julle stede puinhope word” (Lev. 26:32-33).

Hoe omvangryk en absoluut hierdie strawwe ook al mag klink, het die Here nooit daardeur die onvoorwaardelike beloftes wat Hy aan Abraham, Isak en Jakob gemaak het, in die gedrang gebring nie. Hy sou dus deur die eeue heen ᾿n oorblyfsel van Israel in stand hou om die beloftes wat Hy aan hulle vaders gemaak het, te beërf. Hierdie versekering het Hy baie duidelik aan hulle gegee, en dit loop soos ᾿n goue draad deur hulle lang geskiedenis, ook in die donkerste tye daarvan:

“Maar ook dan, as hulle in die land van hul vyande is, verwerp Ek hulle nie en het Ek van hulle geen afsku, sodat Ek ᾿n einde aan hulle sou maak en my verbond met hulle sou verbreek nie; want Ek is die Here hulle God. Maar Ek sal tot hulle beswil dink aan die verbond van die voorvaders wat Ek uit Egipteland voor die oë van die nasies uitgelei het om vir hulle ᾿n God te wees. Ek is die Here” (Lev. 26:44-45; vgl. Jer. 31:20).

Die Here self gee die versekering van die uiteindelike herstel en bekering van Israel, selfs al lyk dit ook menslik hoe onmoontlik:

“En as hierdie dinge oor jou kom, die seën en die vloek wat Ek jou voorgehou het, en jy dit ter harte neem onder al die nasies waarheen die Here jou God jou verdryf het, en jy jou tot die Here jou God bekeer en na sy stem luister net soos Ek jou vandag beveel, jy en jou kinders, met jou hele hart en met jou hele siel, dan sal die Here jou God jou lot verander en Hom oor jou ontferm; en Hy sal jou weer versamel uit al die volke waarheen die Here jou God jou verstrooi het. Al was jou verstrooides aan die einde van die hemel, daarvandaan sal die Here jou God jou versamel, en daarvandaan sal Hy jou gaan haal. En die Here jou God sal jou bring in die land wat jou vaders in besit geneem het, en jy sal dit in besit neem; en Hy sal aan jou goed doen en jou vermenigvuldig meer as jou vaders. En die Here jou God sal jou hart besny en die hart van jou nageslag, om die Here jou God lief te hê met jou hele hart en met jou hele siel, dat jy kan lewe. En die Here jou God sal al hierdie vloeke op jou vyande en op jou haters lê wat jou vervolg het. Maar jy sal weer na die stem van die Here luister en al sy gebooie doen wat ek jou vandag beveel” (Deut. 30:1-8).

Deurtog deur die Jordaan

Gebonde aan hierdie voorwaardes en geestelike perspektief het Israel 40 jaar ná hulle uittog uit Egipte oor die Jordaanrivier getrek om die land in besit te neem wat die Here aan hulle beloof het. Sedertdien staan dié land uit ᾿n Bybelse oogpunt as Israel bekend – nie Palestina nie (vgl. Eseg. 11:17). Aanvanklik het dit goed gegaan. Onder die leiding van Josua het die volk groot oorwinnings behaal en hulle grondgebied aansienlik uitgebrei.

Geestelike verval het egter spoedig ingetree en die oorheersende kenmerk van die volgende 1500 jaar van Israel se geskiedenis geword, tot en met hulle internasionale verstrooiing in die jaar 70 n.C. Daar was wél ᾿n paar geestelike herlewings in Israel, maar dit het gewoonlik net een geslag lank onder die leiding van ᾿n godvresende koning geduur. Daarna het die verval na goddeloosheid en afgodery weer voortgegaan. Selfs die Babiloniese ballingskap van 70 jaar het nie ᾿n blywende hartsverandering by die groot meerderheid teweeggebring nie.

Die profete wat die volk op sy sondes gewys en tot bekering opgeroep het, het ᾿n swaar tyd gehad. Hulle is verwerp, vervolg en selfs doodgemaak. Ná die laaste Ou Testamentiese profeet, Maleági, het daar vir 400 jaar lank ᾿n groot geestelike duisternis in Israel geheers. As gevolg van hulle aanhoudende ongeregtighede het die stem van die Here in hulle midde stil geword.

Met die koms van die Messias, Jeshua Ha Mashiach (Jesus Christus), is die lang stilte verbreek en het die geestelike duisternis opgeklaar: “…die volk wat in duisternis sit, het ᾿n groot lig gesien, en die wat sit in die land en skaduwee van die dood, vir hulle het ᾿n lig opgegaan. Van toe af het Jesus begin om te preek en te sê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Matt. 4:16-17).

Internasionale verstrooiing (diaspora)

Die Messias was die Lam wat God vir die geestelike bevryding van sy volk gestuur het, maar ook vir die redding van alle nasies. Johannes die Doper het Hom só bekend gestel: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh. 1:29).

Die koms van die Messias sou vir Israel die finale toets wees – óf die volk sou hulleself op grond van sy prediking bekeer en die geprofeteerde vloeke afweer, óf hulle sou die maat van hulle vaders se ongeregtigheid vol maak en as gevolg daarvan in groot benoudheid kom en ook in ballingskap na al die nasies gaan. Die leiers van die volk het laasgenoemde weg gevolg, soos ook in die gelykenis van die landbouers in Mattheus 21:33-46 uitgebeeld word.

Die Jode het hoegenaamd nie besef wat die volle implikasies daarvan was toe hulle by die Romeinse goewerneur, Pilatus, aangedring het dat Jesus gekruisig moes word nie. Pilatus het sy hande voor die skares gewas en gesê: “Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie regverdige man; julle kan toesien! En die hele volk antwoord en sê: Laat sy bloed op ons en op ons kinders kom!” (Matt. 27:24-25).

In Mattheus 23 is die Messias direk met die afvallige volksleiers in gesprek oor die feit dat hulle Hom én al die ander gesante van God wat voor Hom gekom het, verwerp het:

“Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle bou die grafte van die profete en versier die grafstene van die regverdiges; … Maak die maat van julle vaders dan vol! Slange, addergeslag, hoe sal julle die oordeel van die hel ontvlug? Daarom, kyk, Ek stuur profete en wyse manne en skrifgeleerdes na julle toe, en julle sal sommige van hulle doodmaak en kruisig en sommige van hulle in jul sinagoges gésel en van die een stad na die ander vervolg, sodat oor julle kan kom al die regverdige bloed wat vergiet is op die aarde, van die bloed van die regverdige Abel af tot op die bloed van Sagaria, die seun van Berégja, wat julle vermoor het tussen die tempel en die altaar. Voorwaar Ek sê vir julle, al hierdie dinge sal oor hierdie geslag kom. Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ᾿n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat!” (Matt. 23:29-38).

Die Here Jesus stel dit duidelik dat sy verwerping deur die volk die maat van hulle ongeregtighede vol gemaak het, en dat al die vloeke wat oor die stad en volk geprofeteer is, as gevolg daarvan in vervulling sou gaan. Omdat die Jode Hom verwerp het, sou hulle huis, Jerusalem, woes gelaat word. Toe die dissipels na die pragtige tempelgeboue gekyk het, het Jesus vir hulle gesê: “Sien julle al hierdie dinge? Voorwaar Ek sê vir julle, daar sal hier sekerlik nie een klip op die ander gelaat word wat nie afgebreek sal word nie” (Matt. 24:2). Die Here Jesus was diep ontroerd oor die traumatiese gebeure wat oor die volk en die stad Jerusalem sou kom:

“En toe Hy naby kom en die stad sien, het Hy daaroor geween en gesê: As jy tog maar geweet het, ja ook in hierdie dag van jou, die dinge wat tot jou vrede dien! Maar nou is dit vir jou oë bedek. Want daar sal dae oor jou kom dat jou vyande ᾿n skans rondom jou sal opwerp en jou omsingel en jou van alle kante insluit. En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie” (Luk. 19:41-44).

Die Messias het in Mattheus 23:36 vir die inwoners van Jerusalem gesê dat hierdie dinge oor hulle geslag sou kom. Hulle was die geslag wat die Messias verwerp het, daarom sou hulle die verwoesting van Jerusalem beleef, terwyl die oorlewende Jode in ᾿n internasionale ballingskap sou gaan. Jesus het vir sy dissipels gesê:

“En wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is. Dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug; en die wat in die stad is, moet uitgaan; en die wat in die buitewyke is, moet nie daar inkom nie. Want dit sal dae van wraak wees, sodat alles wat geskrywe is, vervul kan word. Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog in daardie dae; want daar sal ᾿n groot nood in die land wees en toorn oor hierdie volk. En hulle sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:20-24).

Die val van Jerusalem

Hoe letterlik is die profesie in Lukas 21:20-24 nie in die geslag ná Jesus se kruisiging vervul nie! Die Joodse geskiedskrywer, Josephus (1963), asook die vroeë kerkvader, Eusébius (1926; kyk ook Malan, 1980), het besonderhede verstrek oor die groot benoudheid wat Israel oorval het. Daar was in die tyd ná Christus se hemelvaart aansienlike onrus en opstande in Israel en omliggende gebiede, omdat die Jode nie die Romeinse oorheersing wou aanvaar en in eerbied voor die keiser se borsbeeld wou buig nie. Dit het na die donker en bloedige sestigerjare van die eerste eeu gelei toe duisende Joodse mans, vroue en kinders op die wreedste wyse deur die Romeine om die lewe gebring is.

In die jaar 66 het Cestius Gallus, die Romeinse goewerneur van Sirië, met ᾿n aansienlike taakmag na Jerusalem opgeruk en die stad beleër. Die Christene het Jesus se waarskuwing onthou dat Jerusalem se verwoesting naby sou wees wanneer die stad deur leërs omsingel word (Luk. 21:20), en het besef dat hulle baie gou moes vlug. Cestius het in ᾿n stadium gedink dat hy nie goed genoeg vir ᾿n lang beleëring toegerus was nie, en besluit om die beleg te beëindig en sy magte terug te trek. Wat hy egter nie geweet het nie, was dat die Joodse magte in die stad ontmoedig en op die punt was om oor te gee.

Deur hierdie skielike wending van sake het die beleërde Jode in die stad opnuut moed geskep en gemeen dat God die vyand in hulle hand oorgegee het. Hulle het die Romeinse soldate agtervolg en 5300 van hulle om die lewe gebring. Die Messiaanse Jode het ten spyte van hierdie onverwagse Joodse oorwinning steeds die erns van die situasie besef, agter die terugvallende leërs die stad verlaat en na Pella oorkant die Jordaanrivier gevlug.

Keiser Nero in Rome was erg ontstoke oor die vernedering van sy magte en het een van sy beste generaals, Vespasianus, gestuur om die Joodse gebiede te gaan onderwerp en hulle dorpe en stede te verwoes. Vespasianus en sy seun Titus het ᾿n gesamentlike mag van 60 000 man gehad. Hulle het een na die ander dorp in Galilea en Judéa ingeneem, duisende inwoners om die lewe gebring en die geboue aan die brand gesteek. Baie van die vlugtelinge het in Jerusalem skuiling gaan soek omdat hulle gemeen het dat die stad só goed deur sy dik mure beskerm was dat dit feitlik oninneembaar was. Die Christene (Messiaanse Jode) se optrede was egter die teenoorgestelde – hulle het die stad verlaat omdat hulle volgens profetiese waarskuwings geweet het dat sy verwoesting naby was (Luk. 21:20-24).

Verskeie Joodse weerstandsbewegings het hulleself in Jerusalem ingegrawe, maar as gevolg van onderlinge verskille was hulle ook in ᾿n magstryd teen mekaar gewikkel. Dit het na ᾿n burgeroorlog gelei waarin die stad se graanskure aan die brand gesteek is om die voedselvoorrade van opposisiegroepe te vernietig. Die Jode het hierdeur hulle eie posisie in die stad aansienlik verswak en veroorsaak dat hongersnood spoedig hulle grootste vyand was.

Die Romeine was baie bly oor die interne verdeeldheid en binnegevegte, en het hulle offensief tydelik gestaak om te voorkom dat die verskillende faksies weer teen hulle gemeenskaplike vyand van buite verenig raak. Intussen is Vespasianus na Rome ontbied om as nuwe keiser aangestel te word, en sy seun Titus het die bevel oor die magte in Judéa oorgeneem. In die jaar 70 n.C. het hy Jerusalem 4½ maande lank beleër voordat hy deur die drie dik mure gebreek het om tot in die middelste deel van die stad  te vorder en dit finaal in te neem.

Gedurende hierdie offensief het 1.1 miljoen Jode in Jerusalem gesterf, waarvan die meeste as gevolg van hongersnood. Die oorlewendes het later nie meer genoeg krag gehad om die dooies te begrawe nie, en oral in die stad het hope ontbindende lyke gelê. Die stank het onuithoudbaar geraak en die rebelleleiers het opdrag gegee dat die lyke van die vesting af in die steil klowe afgegooi moes word. Titus was só geskok toe hy sien dat die valleie vol vermaerde lyke was, dat hy God as getuie geroep het dat hy nie vir hierdie tragedie verantwoordelik was nie.

Volgens Josephus is daar tussen 1 Mei en 20 Julie van die jaar 70 n.C. 600 000 lyke deur die stadspoorte uitgegooi of van die muur af in die klowe afgegooi. Deur een poort alleen is meer as 115 000 lyke uitgedra. Verhale is opgeteken van verhongerde vroue wat hulle eie kinders gekook en geëet het. Vrees, wanhoop en paniek het van almal besit geneem. Dit het alles gebeur as die letterlike vervulling van profesieë wat oor die afvallige Israeliete uitgespreek is, omdat hulle God vergeet en nie sy Woord in ere gehou het nie:

“Daarom, kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat hierdie plek nie meer sal genoem word Tofet en die dal van die seun van Hinnom nie, maar Moorddal. En Ek sal die plan van Juda en van Jerusalem in hierdie plek uitskud, en Ek sal hulle voor hul vyande deur die swaard laat val en deur die hand van die wat hulle lewe soek; en Ek sal hulle lyke gee as voedsel vir die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde. En Ek sal hierdie stad maak ᾿n voorwerp van verbasing en bespotting; elkeen wat daar verbytrek, sal hom verbaas en spot met al sy plae. En Ek sal hulle die vlees van hul seuns en die vlees van hul dogters laat eet, en hulle sal elkeen die vlees van sy naaste eet, in die beleëring en in die benoudheid waarmee hulle vyande en die wat hulle lewe soek, hulle benoud sal maak. … So spreek die Here van die leërskare, die God van Israel: Kyk, Ek bring oor hierdie stad en al sy stede al die onheil wat Ek daaroor gespreek het, omdat hulle hul nek verhard het om na my woorde nie te luister nie” (Jer. 19:6-9, 15).

Diegene wat daarin geslaag het om die ellende in Jerusalem te ontvlug, is óf deur die Romeine met die swaard gedood óf aan die bome rondom Jerusalem gekruisig. In ᾿n stadium is daar elke dag 500 of meer mense gekruisig – sommige onderstebo – totdat daar later nie meer genoeg bome of kruise buitekant die stadsmuur was nie. Die enkele Jode wat daarin geslaag het om uit die stad te kom en die vyand te ontwyk, is deur Arabiese struikrowers gevang, vermoor en oopgesny om vir geld in hulle ingewande te soek. Dit het bekend geword dat sommige Jode hulle laaste besittings verkoop, die muntstukke ingesluk en daarna probeer vlug het.

Die hardkoppige weiering deur die rebelleleiers om oor te gee, het daartoe gelei dat alle geboue in Jerusalem, insluitend die tempel, eers aan die brand gesteek en toe afgebreek is. Slegs drie torings en ᾿n deel van die tempelterrein se westelike muur is nie afgebreek nie, sodat dit as ᾿n skuiling vir ᾿n eenheid Romeinse soldate kon dien wat moes toesien dat die stad nie weer herbou word nie. Die tempelmure is tot op die rotsfondasie afgebreek om die gesmelte goud te herwin wat tydens die brand by die krake in die vloer ingeloop het. Inderdaad het daar nie een klip op die ander gebly wat nie afgebreek is nie! Die laaste klompie priesters wat nog vyf dae lank op die tempelmuur uitgehou het, het bewende afgekom en by die Romeinse soldate gepleit dat hulle lewens gespaar moes word. Titus het gesê dat die tyd vir begenadiging verby was en dat hulle saam met die tempel moes sterf. Hulle is onmiddellik doodgemaak.

Verstrooiing en verdere vervolging

Jerusalem is totaal verwoes en 97 000 van die oorlewendes as krygsgevangenes weggevoer, waarvan baie as slawe verkoop is. Die internasionale verstrooiing van Jode na al die nasies van die wêreld het hiermee begin. Ten spyte van die verpletterende nederlaag het die Jode nog een poging aangewend om hulle land terug te kry. Net meer as 60 jaar later het hulle sodanig herstel dat hulle in die Bar Kochba-rebellie (132-135 n.C.) opnuut teen die Romeinse besettingsmag in opstand gekom het. In ᾿n oorlog wat 3½ jaar lank geduur het, het 580 000 Jode gesneuwel en is feitlik al die oorlewendes uit die land verdryf. Die Romeine het selfs ᾿n ploeg oor die berg Sion getrek as die letterlike vervulling van ᾿n profesie wat die Here lank tevore deur Miga uitgespreek het:

“Hoor tog dit, hoofde van die huis van Jakob en owerstes van die huis van Israel! Julle wat van die reg ᾿n afsku het en al wat reg is, verdraai; julle wat Sion bou met bloed en Jerusalem met onreg! Sy hoofde spreek vonnisse uit vir ᾿n geskenk, en sy priesters gee onderrig vir loon, en sy profete is waarsêers vir geld. … Daarom sal Sion om julle ontwil soos ᾿n land omgeploeg en Jerusalem puinhope word en die tempelberg bosrante” (Miga 3:9-12).

Ná hierdie slag het die verstrooide groepies Jode ᾿n lang tyd in relatiewe vrede in die lande gewoon waarheen hulle gevlug het; toe breek daar ᾿n tyd van verskrikking aan wat langer as 500 jaar geduur het. Dit het alles begin by die uitbreek van die eerste ‘heilige oorlog’ van die Vatikaan in 1096, wat soos ᾿n woeste veldbrand deur Duitsland, Frankryk, Spanje en Engeland versprei het. Die Joodse geloof is in die Rooms-Katolieke inkwisisie tot kettery verklaar en talle Jode is vervolg en tereggestel. Die vrees wat in die harte van Jode posgevat het wanneer die fanatieke bendes van die heilige leërs hulle omsingel het, was só groot dat sommige ouers hulle kinders doodgemaak het. Vroue en dogters het klippe aan hulleself vasgebind en in riviere gespring. Diegene wat gevang is, is brutaal vermoor nadat hulle die vernietiging van hul huise en die verbranding van skrifdele moes aanskou. Geen genade is betoon nie.

In Engeland het Edward I ná die aanvanklike vervolgings en konfiskering van eiendom, die oorblywende 16 000 Jode summier uit die land gedeporteer. In Duitsland is Jode vir die vergiftiging van die land se waterbronne verantwoordelik gehou terwyl die epidemie wat as die Swart Dood bekend gestaan het, Europa tussen 1348 en 1350 geteister het. Haat is verder teen hulle aangeblaas deur kwaadwillig te beweer dat hulle Christen-kinders ontvoer en tydens hulle jaarlikse Pasga gekruisig het. Die openbare reaksie teen hulle was geweldig. In Straatsburg alleen is die hele gemeenskap van 2 000 Jode op ᾿n reusebrandstapel tereggestel.

Die vervolging in Spanje staan as die hel van die Jode bekend. Kragtens pous Gregory IX se inkwisisie het hulle gepoog om alle vorms van Joodse kettery wortel en tak uit te roei. Duisende Jode, genaamd mariano’s (vervloektes), het op brandstapels gesterf. Selfs die lyke van diegene wat as ketters gesterf het, is opgegrawe en verbrand, en hulle erfgename se besittings gekonfiskeer. ᾿n Jood uit dié tyd het geskryf: “In hierdie dae styg die rook van die martelare se brandstapels onophoudelik in alle Spaanse gebiede ten hemele. Een-derde van die vervloektes het in vlamme gesterf, nog ᾿n derde swerf sonder tuiste in die land rond en soek na ᾿n wegkruipplek, en die oorblywendes leef in gedurige vrees vir vervolging.” In 1492 het alle Jode vier maande kennis gekry om Spanje te verlaat. Baie het op die pad van honger en ontberings omgekom. Die vlugtelinge se grootste probleem was om ᾿n land te kry waar die inwoners bereid was om hulle te ontvang. Die meeste van hulle het na Turkye, Rusland en sommige van die Oosterse lande uitgewyk, terwyl klein groepies die kus van Afrika bereik het.

In moderne tye het die steeds smeulende Jodehaat in Europa weer eens hoog opgevlam. Die onbeskryflike tragedie van die dood van ses miljoen Jode aan die hand van Hitler en sy Nazi-magte in die Tweede Wêreldoorlog is een van die afgryslikste volksmoorde van alle tye. Dit was in sy omvang nog veel erger as wat die Romeine in die eerste eeu aan Israel gedoen het.

In die twintigste eeu is daar in Rusland ook duisende Jode vervolg en tereggestel. Dit is steeds nie die einde van die swaarkry nie, want die moeilikste tyd lê nog vir hulle voor. Volgens die Bybel kom daar aan die einde van hierdie bedeling, ná Israel se terugkeer na hul land, ᾿n groot verdrukking soos wat daar nog nooit op aarde was nie (Matt. 24:21-22). Israel sal egter nie hierdeur vernietig word nie, maar ᾿n oorblyfsel sal geestelik herleef sodat die volk deur hulle ᾿n hoopvolle toekoms kan hê in die land wat die Here aan hul vaders beloof het. Ons sien reeds die eerste tekens van herstel en heropbou, maar dit is nog gering in vergelyking met die wonders wat tydens die geestelike ontwaking van die hele volk gaan plaasvind.

Die herstel van Israel

Met die Here Jesus se aankondiging van die vernietiging van Jerusalem en die wêreldwye verstrooiing van al die inwoners wat die militêre aanslag teen hulle land en stad oorleef het, het Hy dit duidelik gestel dat hierdie toestand nie onbepaald sou voortduur nie. Hy het gesê dat Jerusalem vertrap sou word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is (Luk. 21:24). Die voegwoord “totdat” beteken “tot op die oomblik dat...” Daar kom dus ᾿n besliste einde aan die wêreldwye verstrooiing van Israel en die vertrapping en vernedering van hulle hoofstad, Jerusalem. Die tyd van die volk se internasionale swerftogte en die vertrapping van Jerusalem was baie lank omdat dit met die tye van die nasies, m.a.w. die tyd van wêreldevangelisasie, saamgeval het.

Paulus gebruik ook die voegwoord “totdat” wanneer hy sê: “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene [letterlik die etniese groepe, of nie-Joodse volke] ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en al die goddelooshede van Jakob afwend” (Rom. 11:25-26).

Die Messias het ook deur die gebruik van die woord “totdat” aangedui dat Hy nie vir altyd deur die inwoners van Jerusalem (m.a.w. die Joodse volk) verwerp sou word nie. Hy het vir die volksleiers gesê: “Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:39). Hierdie seëngroet staan in Psalm 118:26, en word elke jaar tydens die loofhuttefees deur die ortodokse Jode uitgespreek in afwagting op die koms van die Messias. Die Here Jesus het duidelik vir Israel gesê dat Hy sou weggaan en dat hulle Hom vir ᾿n lang tyd nie sou sien nie, maar wanneer Hy weer kom, sal hulle Hom in die Naam van die Vader as ᾿n geseënde verwelkom. Daar kom beslis ᾿n tyd wanneer hierdie volk geestelik sal ontwaak.

Profesieë oor Israel se herstel

Daar bestaan hoegenaamd geen twyfel oor die feit dat die Here die Joodse volk, hulle land en hulle hoofstad, Jerusalem, ten volle sal herstel nie:

“Kyk, Ek laat vir die stad genesing en gesondmaking tot stand kom en sal hulle gesond maak en aan hulle openbaar ᾿n oorvloed van duursame vrede. En Ek sal die lot van Juda en die lot van Israel verander en hulle bou soos tevore. En Ek sal hulle reinig van al hulle ongeregtighede waarmee hulle teen My gesondig het, en vergewe al hulle ongeregtighede waarmee hulle teen My gesondig het, en teen My oortree het. En die stad sal vir My wees ᾿n vreugdevolle roem, ᾿n lof en sieraad by al die nasies van die aarde wat sal hoor van al die goeie wat Ek aan hulle doen; en hulle sal bewe en ontroer word oor al die goeie en oor al die vrede wat Ek daaraan bewys” (Jer. 33:6-9).

Die hele wêreld sal dit as ᾿n werk van die Here herken omdat Hy sy volk se harte sal verander. Dit is duidelik dat die geestelike reiniging van Israel eers sal plaasvind nadat hulle in hul land versamel is. Hulle word dus in ongeloof herstel, maar sal in die land geestelik herleef:

“Daarom, sê vir die huis van Israel: So spreek die Here: … Ek sal julle uit die nasies gaan haal en julle uit al die lande bymekaar laat kom, en Ek sal julle in jul land bring. Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig. En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen. En julle sal woon in die land wat Ek aan jul vaders gegee het; en julle sal vir My ᾿n volk en Ek sal vir julle ᾿n God wees” (Eseg. 36:22-28).

Daar is mense wat verkeerdelik meen (én dit ook so verkondig) dat daar in Israel sonder enige beproewings of swaar verdrukking ᾿n herlewing sal uitbreek waarin die hele volk gered sal word. Baie van hierdie mense ontken ten sterkste dat daar ᾿n groot verdrukking oor Israel sal kom, en beweer dat die Joodse slagting (holocaust) van die Tweede Wêreldoorlog die groot verdrukking was. Die Bybel leer egter dat die Joodse volk wat in ongeloof in hul land herstel word, eers gered sal word nadat hulle aan groot benoudheid en beproewings onderwerp is. In daardie stadium sal hulle nie meer in verstrooiing wees soos tydens die slagting van die Tweede Wêreldoorlog nie, maar terug in hulle land en hul stad, Jerusalem:

“Daarom, so sê die Here Here: Omdat julle almal skuim geword het, kyk, daarom sal Ek julle binne-in Jerusalem bymekaarmaak. Soos silwer en koper en yster en lood en tin binne-in ᾿n smeltoond bymekaargemaak word om daarteen ᾿n vuur aan te blaas en dit te smelt, so sal Ek julle bymekaarmaak in my toorn en in my grimmigheid en julle ingooi en smelt. … [E]n julle sal weet dat Ek, die Here, my grimmigheid oor julle uitgegiet het” (Eseg. 22:19-22).

Israel sal in tye van ᾿n groot nood en swaarkry hulle Messias se aangesig soek. Hosea sê die volgende oor die eerste en tweede koms van die Messias, asook Israel se uiteindelike redding deur Hom (verklarende notas tussen hakies):

“Want Ek [die Messias] is soos ᾿n leeu vir Efraim, en soos ᾿n jong leeu vir die huis van Juda; Ek, Ek verskeur en gaan heen [die hemelvaart van Jesus nadat Hy die vernietiging van Jerusalem en die internasionale verstrooiing van die Jode aangekondig het] … Dan gaan Ek heen, Ek keer na My woonplek [die hemel] terug, totdat hulle [die volk Israel] skuld beken en my aangesig soek. In hulle nood [in die groot verdrukking] sal hulle My soek. Kom en laat ons terugkeer tot die Here; want Hy het verskeur en sal ons genees, Hy het geslaan en sal ons verbind. Hy sal ons ná twee dae [van ᾿n duisend jaar elk – vgl. 2 Pet. 3:8] lewend maak, op die derde dag [in die derde millennium ná sy eerste koms] ons laat opstaan, sodat ons voor sy aangesig kan lewe” (Hos. 5:14 – 6:2).

Dit is uit hierdie verse duidelik dat Israel as ᾿n volk die Here eers “in hulle nood” sal soek. Sagaria noem die skokkende dodetal van die komende groot verdrukking waartydens ᾿n oorblyfsel van Israel gered sal word: “En in die ganse land, spreek die Here – twee-derdes sal daarin uitgeroei word, sal sterwe, maar een-derde daarin oorbly. Dan sal Ek die derde deel in die vuur bring en hulle smelt soos ᾿n mens silwer smelt en hulle toets soos ᾿n mens goud toets. Hulle sal my Naam aanroep, en Ek sal hulle verhoor. Ek sê: Dit is my volk! En hulle sal sê: Die Here, my God!” (Sag. 13:8-9).

Die Here Jesus sê die volgende oor hierdie verskriklike tyd wanneer die Antichris, nadat hy homself in die herboude tempel in Jerusalem tot God verklaar het, sal poog om Israel én alle ander mense wat weier om hom te aanbid, uit te wis:

“Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom … dan moet dié wat in Judéa is na die berge vlug; … Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Matt. 24:15-16, 21-22).

Daar wag dus ᾿n groot verdrukking vir Israel voordat ᾿n oorblyfsel van die volk gered sal word om die Messiasryk te kan beërf. Jeremia verwys ook na hierdie tyd wanneer hy sê: “Wee, want die dag is groot, sonder weerga! En dit is ᾿n tyd van benoudheid vir Jakob; maar hy sal daaruit verlos word” (Jer. 30:7). Die Joodse slagting van die Tweede Wêreldoorlog kon beslis nie die groot verdrukking gewees het nie, want die volk is nie daarna gered nie. Die Here het hulle ook nie in daardie stadium “in Jerusalem bymekaargemaak” om in sy toorn ᾿n vuur teen hulle aan te blaas nie. Dit moet nog gebeur.

In die komende tyd van verdrukking onder die valse messias sal daar ᾿n groot geestelike polarisasie in Israel plaasvind. Die leiers van Israel, sowel as die grootste deel van die volk, sal die Antichris as messias aanvaar. Die ware Messias het hulle teen hierdie tragiese oordeelsfout gewaarsku: “Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As ᾿n ander een in sy eie naam kom, hom sal julle aanneem” (Joh. 5:43). Al die misleides sal dit doen.

Aan die ander kant van die spektrum sal daar ᾿n God-gewerkte herlewing in Israel wees, waaruit 144 000 vreeslose getuies vir die Messias na vore sal kom. Hulle sal te midde van hewige aanslae en dreigemente verkondig dat Jeshua die ware Messias en Verlosser van die wêreld is, en dat die Antichris met sy valse vredesboodskap die groot misleier is. Die spanning tussen die volgelinge van Christus en die Antichris sal hoog loop en tot die aktiewe vervolging van die Messiaanse Jode en Christene onder alle nasies lei. Volgens Daniël 9:27, 11:36 en 2 Thessalonicense 2:3-4 sal die Antichris in die middel van die verdrukking die Allerheiligste van die herboude tempel in Jerusalem betree en homself daar tot God verklaar. Die geestelike stryd sal dan nog ᾿n verdere en meer absolute wending neem.

Die Jode wat gemeen het dat die Antichris die Messias is, sal geskok en ontnugter wees wanneer hy homself in die middel van die sewe jaar lange verdrukking tot God verklaar, die offerdiens in die tempel opskort, ᾿n beeld van homself in die Allerheiligste laat oprig en die aanbidding van alle mense opeis. Hulle sal vir die oorblywende 3½ jaar van die verdrukking heel waarskynlik na Petra in die Negef-woestyn suid van die Dooie See in Jordanië vlug waar die Here ᾿n oorblyfsel van die volk in stand sal hou. Die vyandighede sal egter wêreldwyd teen Jode en Christene voortwoed. In Sagaria 12 en 14 lees ons dat al die nasies in ᾿n stadium deur Jodehaat aangevuur sal word om teen Jerusalem op te trek.

Op die hoogtepunt van die slag van Armagéddon sal die omstandighede van die voortvlugtende oorblyfsel van Israel absoluut kritiek wees vir oorlewing terwyl hulle deur vyande omsingel is. Hulle sal sê: “Dit is klaar met ons!” (Eseg. 37:11). Hulle sal nogtans in afwagting op Jeshua se koms na die Olyfberg optrek, en dan sal die Messias met sy hemelse leërskare tot die redding van sy volk kom:

“In dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; … En dit sal die plaag wees waarmee die Here die volke sal tref wat opgetrek het om teen Jerusalem te veg: Hy sal hulle vlees laat wegteer, terwyl hulle nog op hul voete staan; en hulle oë sal wegteer in hulle holtes, en hulle tong wegteer in hulle mond. En in dié dag sal ᾿n groot verwarring van die Here onder hulle kom, sodat die een die hand van die ander sal gryp, en die hand van die een hom sal verhef teen die hand van die ander” (Sag. 14:4, 12-13).

Te midde van ᾿n groot verwarring sal hierdie vyande van die aangesig van die Here Jesus af wegvlug en mekaar begin doodmaak. Die oorblyfsel van Israel sal met onbeskryflike vreugde na hulle Verlosser en Koning opsien wat so dramaties en tydig op die toneel verskyn het. ᾿n Groot skok wag egter op hulle wanneer hulle die spykermerke in sy hande en voete sal sien. Volgens Sagaria 13:6 sal hulle Hom na die rede hiervoor uitvra, en sy antwoord sal wees: “So is Ek geslaan in die huis van my vriende.” Onder die leiding van die Heilige Gees sal daar groot smarte en berou oor hulle kom terwyl hulle in die benoudheid van hulle harte om vergifnis sal uitroep. Hierdie gevoelvolle oomblikke word só in Sagaria beskryf:

“Oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ᾿n mens rouklaag oor ᾿n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ᾿n mens bitterlik ween oor ᾿n eersgebore kind. In dié dag sal die rouklag groot wees in Jerusalem” (Sag. 12:10-11).

Op grond van hulle opregte berou sal die Here Jesus al die volk se sondes vergewe – dit is die hele oorblyfsel wat die groot verdrukking sal oorleef. Vir Israel sal dit inderdaad ᾿n groot versoendag wees, want die hele volk sal op een dag geestelik gebore en tot nuwe lewe opgewek word. Hierna sal die oordeel oor die nasies voltrek word en die lank verwagte Messiasryk ᾿n aanvang neem met Jerusalem as hoofstad van die wêreld (Miga 4:2-3).

Israel se lyding as oordele van God

Ons kan nie hierdie hoofstuk afsluit sonder om ᾿n Bybelse verklaring vir die verskriklike lyding van Israel te gee nie – die groot ellende en lewensverlies tydens die beleg en verwoesting van Jerusalem in die eerste eeu, die vervolging van Jode onder die nasies deur die eeue heen, en veral die onbeskryflike menseslagting van ses miljoen Jode gedurende die Tweede Wêreldoorlog, asook die grootste lyding van alle tye wat in die komende groot verdrukking op hulle wag. Die vraag oor die werklike oorsaak vir hierdie haas onbeskryflike lyding word op ᾿n baie eerlike manier deur ᾿n Messiaanse Jood, Arthur Katz, beantwoord in sy boek: The Holocaust: Where was God? An Inquiry into the Biblical Roots of Tragedy. Die “Holocaust” van Wêreldoorlog II waarna die skrywer verwys, word as “die Joodse slagting” vertaal. Die volgende is aanhalings uit Arthur Katz se boek (1998:6-90) wat met die toestemming van Art Katz Ministries aangebied word:

“Die Joodse slagting het op ᾿n skokkende wyse ingedruis teen elke gedagte dat die 20ste eeu ᾿n tyd van menslike vooruitgang was – soveel te meer omdat die argitekte daarvan [Duitsland] as een van die mees verligte nasies op aarde beskou is. Die Jodendom was ná hierdie slagting so platgeslaan en gebroke dat hulle gedurende die eerste 20 jaar geen ernstige geskrifte hieroor opgelewer het nie. Eers daarna kon ons teruggaan om die tragedie te ondersoek. Ons het selfs die mening gehuldig dat die Joodse slagting nie beoordeel of verstaan kan word nie – dat dit bokant die mens se vermoë is om dit te kan begryp en verklaar. Indien dit waar is, dan is die tragedie nog groter. Kan dit wees dat daar dinge van so ᾿n omvang gebeur dat dit nie vertolk of verstaan kan word nie, en dus as betekenisloos beskou moet word? Indien dit die geval is, dan beroof sulke gebeurtenisse ons van nugtere denke en skep ruimte vir toenemende skandale en gewelddadigheid in ᾿n immorele samelewing. Dit sou die lewe chaoties maak, sonder orde, betekenis of doel. ...

“Die Joodse slagting laat baie vrae ontstaan. Waarom het God nie in die midde van die onbeskryflike lyding ingegryp nie? Waar was God wat daarop aanspraak maak dat Hy alomteenwoordig is, almagtig en dat Hy alles weet? Het Hy nie die afgryslike tragedie gesien waarin sy verbondsvolk sistematies en op die mees dierlike en wreedste wyse uitgewis is nie? Hoe kon die lank-verwagte Messias waarvan die Christene praat, reeds gekom het en nogtans die grootskaalse vermoording van sy eie mense toelaat? Waar is die genade van die Nuwe Testamentiese God, indien so-iets in moderne tye deur die bemiddeling van ᾿n ‘Christelike’ nasie – Lutherse Duitsland – kon plaasvind? Waarom was God stil? ...

“Ek moet óf met baie skrywers saamstem dat God dood is, óf ek moet die getuienis van die Skrifte aanvaar dat God se stiltes in direkte verhouding tot ons sondes is. Uit hierdie oogpunt gesien, moet die Joodse slagting as ᾿n oordeel beskou word. Dit was nie ᾿n afwykende, onverklaarbare historiese gebeurtenis nie, maar ᾿n geval dat die grootte van ons lyding in direkte verhouding tot die grootte van ons sonde is. Die oordele van God het oor ons gekom omdat ons ᾿n volk is wat die kennis van die Here verwerp het, nie in ooreenstemming met sy verbonde leef en nie ons plig as sy getuies nakom nie. Volgens die Bybel kom hierdie oordele veral in die laaste dae oor ons, in die tydperk kort voor die vestiging van die Messiaanse koninkryk. ...

“Dit is merkwaardig hoedat die vertolking van die Joodse slagting as ᾿n oordeel van God op ᾿n besondere wyse vir God as God verduidelik, en ook by ons die vrees vir die Here as Regter inskerp. Hierdie vrees vir die Here ontbreek pynlik in die bewussyn van die moderne mens. Ons groei op sonder om hoegenaamd ᾿n sin vir die ontsag en vrees vir die Here te ontwikkel. Hierdie gebrek moet met die Joodse slagting in verband gebring word. ...

“Ons Jode het geen perspektief op God as Regter nie. Ons het gevolglik ᾿n hoë prys vir ons gebrek aan die verstaan van God betaal – in oordeel sowel as in genade, in gestrengheid sowel as in goedheid. Ons is nie eers bewus van God se handelinge met Israel (in die verlede, hede en toekoms) nie, en neem gevolglik nie van die mees betekenisvolle openbarings van God in die Skrif kennis nie. Daar is iets omtrent God in oordeel wat Hom openbaar soos wat Hy op geen ander manier geken kan word nie. Tog is dit die een attribuut van God waarvan ons feitlik instinktief wegskram. Ons kan nie die God van genade, liefde en regverdigheid met die God wat oordele en lyding oor mense bring, versoen nie. Indien óns God sulke dinge doen, dan word juis dit wat vir ons pynlik en onaanvaarbaar is en wat dreig om ons godsdienssin te vernietig, een van die mees kosbare openbarings van God. Is dit nie in hierdie oënskynlike weerspreking, as ons dit goed deurdink, dat die diepste openbaring van God gevind kan word nie? ...

“Ons kan nie die Joodse slagting uit God se oogpunt verstaan nie, omdat ons dit nie in die lig van die ewigheid beoordeel nie. Slegs ᾿n ewigheidsoorweging maak hierdie ramp enigsins verstaanbaar. Dit is alleen in die hoop om die ewige vuur van God se oordele te kan vryspring, dat betekenis aan hierdie vuur verleen word. Indien die een vuur ons iets van die ander een leer en help om ons daarvan te red, dan maak dit baie sin. Indien ons die ewigheid uit ons beredenerings weglaat, dan het ons ook ᾿n verwronge beeld van die huidige werklikheid. Vooraanstaande Joodse denkers weier egter om hierdie verklaring te oorweeg, en verhef hulleself daardeur teen God sodat Hy nie sy doel met hulle kan bereik nie. Hulle dwing Hom om te oordeel. ...

“God het ᾿n geskil met ons omdat ons van Hom vervreem geraak het. Ons is steeds onwillig om die betekenis van ons eie geskiedenis en die ontsettende gevolge van ons vervreemding van God in die oë te kyk. Ongelukkig is die beoordeling van rampe as ᾿n gevolg van (en ᾿n oordeel oor) sonde geheel en al in stryd met die hedendaagse Joodse manier van selfbeoordeling. ...

“Die wederregtelike toeëiening van die Messias se lyding as ons eie, is die noodwendige gevolg van ᾿n Jodedom wat weier om Hom te aanvaar, en as gevolg daarvan verplig is om ᾿n verklaring vir ons eie historiese lyding te vind.  As ons die Messias, Hy wat só misvormd was dat sy voorkoms nie dié van ᾿n mens was nie, as die vervulling van Jesaja 52:13–53:12 verwerp en dan vir Israel in sy plek stel, stuur ons onvermydelik op botsende verklarings af. Die uiteindelike logika van sy verwerping verplig ons dan nie net om teen die Messias gekant te wees wanneer Hy sou kom nie, maar om ook sy posisie te begeer – om self die Messias te wees, om self die lydende Kneg te wees, om self vergoddelik te word, om self die Messiaanse hoop te wees, en om self die ideale beskawing tot stand te bring wat die finale antwoord vir die nasies sal wees. ...

“As ons nie onsself as die skuldige party in die oordele sien wat oor ons gekom het nie, sal ons noodwendig op die punt kom waar ons vir God daarvoor sal blameer. Hy sal dan deur ons beskuldig en veroordeel word omdat Hy nie tot ons hulp gekom het nie! Dit is lasterlik om God as magteloos of kragteloos te sien om ons te red, terwyl ons nalaat om ons eie sondes te erken en ons daarvan te bekeer. Dit is in ons eie belang om die tragedies van die verlede reg te vertolk. Ons sal dwase wees as ons dit nie doen nie, want dan verbeur ons die voordeel om uit vorige ervarings te kan voorsien wat weer sal gebeur as ons nie daarop ag slaan en onsself bekeer nie. Sulke mense sal hulleself in die groot, eindtydse oordele van God oor Israel bevind, wat in Jeremia 30 as ‘die tyd van benoudheid vir Jakob’ beskryf word. ...

“Ek het die oortuiging dat hierdie oordele baie naby is, en dat net die hand van die Here dit nog terughou. Die gewig van ons Joodse ongeloof en onbetrokkenheid by God móét ons tot ᾿n val bring. As Hy sy hand van ons af wegneem, sal ons in ᾿n kort oomblik in vernietiging en ondergang wegsink. Ons is reeds onder God se veroordeling totdat ons dié Een ontvang wat ons veroordeling op Homself geneem het, naamlik die Messias van Israel – Jesus van Nasaret. In die voortgesette verwerping van God se genadegawe verkeer alle Israeli’s onder die swaard van veroordeling, tot op dié oomblik wanneer God sy hand wegneem en die oordele nie langer sal weerhou nie. ...

“Ek sou liewer verkeerd bewys wou word, maar ek glo dat die huidige geslag Jode vernietiging op ᾿n wêreldwye skaal gaan ervaar, wat veel erger as die Nazi-era sal wees. Ons gaan geweldig gehaat, vervolg en skielik verdryf word sodat ons sal moet vlug met net die klere aan ons lyf – sonder om te weet waarheen ons gaan. Die Here het gesê Hy sal met ons in die gerig tree, maar Hy sal ook herstel. Hoe belangrik is dit nie om te weet dat dit dieselfde God is wat oordele beloof en dit vervul, wat ook herstel aan Israel beloof en dit sal vervul. ...

“Die nasies wag onbewustelik op ons herstel na God, omdat ons ᾿n teokratiese bestemming het as ᾿n ‘koninkryk van priesters’ (Ex. 19:6) en ᾿n ‘lig vir die nasies’ (Jes. 42:6)... God wag op ons om die dood van ons Messias vir onsself toe te eien en sodoende ons verlossing aan die gang te sit. As ons op enige manier probeer om hiervan vrygestel te word, is ons hopeloos verlore. Die mag van ons misleiding en selfregverdiging wat weerspieël word deur ons voortgesette verwerping van Jesus van Nasaret, stel ons in konflik met God en moet verbreek word. Hierdie selfde God gaan aan ons ᾿n historiese geleentheid bied om ons patetiese mislukking te erken. Dié van ons wat die komende verdrukking sal oorleef, sal nooit weer misluk nie, want God sal aan ons nuwe harte gee.” (Einde van aanhalings uit Arthur Katz se boek. Vir meer besonderhede oor hierdie en ander boeke deur Art Katz, besoek www.benisrael.org).

In die lig van dit wat Arthur Katz heeltemal tereg gesê het, is elke Christen daartoe verbind om die Bybels korrekte pad vir Israel se verdere herstel aan hulle voor te hou. Indien hulle nie teen die komende valse messias en die groot verdrukking gewaarsku word nie, hoe sal hulle ooit die vermoë hê om hierdie situasie reg te kan verstaan en in daardie tyd die regte besluite te neem? Dit sal nie help om net humanitêre hulp aan ᾿n volk te bied wat steeds volhardend die Messias verwerp nie. Sonder Hom kan hulle nie gered word en in die seën van die Here oor hulleself, hulle land en hulle volk deel nie.

Dit is duidelik dat daar in Israel, soos onder alle nasies ter wêreld, in die eindtyd ᾿n toenemende verwydering en stryd tussen die ongelowige meerderheid en die gelowige minderheid intree. Laasgenoemde word in die Bybel die “oorblyfsel” in Israel genoem, en hulle staan in die praktyk as die “Messiaanse Jode” bekend. Hoewel hulle ᾿n klein minderheid is wat skielik sal verdwyn wanneer die hemelse Bruidegom hulle kom haal (Matt. 25:1-13; Joh. 14:2-3), sal daar kort ná die wegraping en die openbaring van die valse Messias ᾿n herlewing in Israel plaasvind waarin 144 000 Jode kragtig gered sal word (Op. 7:1-8). Hulle sal ook baie van hulle volksgenote oorreed om die valse messias te verwerp en die ware Messias, Jeshua, aan te neem en te dien. Die Messiaanse Jode sal egter nog steeds ᾿n minderheid wees, omdat die meerderheid ᾿n verbond met die valse messias sal sluit en die tempel in Jerusalem sal herbou (Joh. 5:43; Dan. 9:27).

Eers met die sigbare koms van die Messias aan die einde van die groot verdrukking sal die hele oorblyfsel van Israel gered word en as ᾿n gelowige volk wat almal die Here van harte dien, die beloofde Messiasryk op aarde beërf. ᾿n Moeilike pad wag egter op Israel voordat ᾿n oorblyfsel van hulle hierdie heerlike bestemming sal bereik.