7. Redding in die Uur van Duisternis

(Openbaring 7)

Baie mense begaan die fout om Israel in die Openbaringsgebeure mis te kyk. Hierdeur gaan ‘n groot deel van die Bybelse perspektief op die sewe jaar lange verdrukking verlore, asook een van die belangrikste profetiese tekens van die einde van die bedeling van die kerk, naamlik die herstel van Israel en hulle hoofstad, Jerusalem.

As ‘n algemene stelling in verband met die wederkoms word in Openbaring 1:7 gesê dat met Christus se koms elke oog Hom sal sien, ook hulle wat Hom deursteek het. Hierdeur word duidelik geïmpliseer dat Israel terug in hulle land moet wees, omdat hulle ook as volk ‘n nuwe besluit ten opsigte van die gekruisigde Jesus sal moet neem wat tydens sy eerste koms deur hulle vaders verwerp en vir teregstelling aan die Romeinse owerhede oorgelewer is.

Wat ons kennis oor die naderende verdrukking betref, is die status van Jerusalem die belangrikste enkele teken wat die Here Jesus oor die einde van die kerkbedeling aan ons gegee het. In Lukas 19:41-44 en 21:5-6 verwys Hy na die fisiese verwoesting van die stad Jerusalem en die internasionale verstrooiing van die Jode. Hy beklemtoon egter die feit dat Jerusalem net tot op ‘n bepaalde tydstip in die toekoms aan die beheer en vertrapping van die nie-Joodse volkere onderwerp sal wees – nie vir altyd nie, omdat die tye van die nasies ook tot ‘n einde kom:

“...want daar sal ‘n groot nood in die land wees en toorn oor hierdie volk [die Jode]. En hulle sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is" (Luk. 21:23-24).

Die woord “totdat” dui nie alleen op die feit dat Jerusalem se vertrapping in ‘n stadium beëindig sal word nie, maar ook dat dit met die einde van die tye van die nasies sal saamval. Dit is dus vir ons baie belangrik om die verwikkelinge in en om Jerusalem dop te hou, sodat ons die belangrikste teken van die einde van hierdie bedeling behoorlik in ag kan neem.

Die onafhanklikheid van Israel in 1948 het slegs met die beheer oor die nuwe deel van Jerusalem gepaard gegaan. Dit was egter ‘n belangrike profetiese aanwyser dat die eindtyd op hande is. In Junie 1967 het ‘n verdere betekenisvolle verwikkeling gevolg toe die ou deel van Jerusalem (die stad van Dawid, wat die berg Sion en die Tempelberg insluit) in die Sesdaagse Oorlog van Jordanië verower is. Die fisiese herstel van die stad was toe afgehandel, en hierna sou die staatkundige herstel volg. Hou in gedagte dat Jerusalem voor die Babiloniese ballingskap in die 6de eeu v.C. laas die status as die onafhanklike hoofstad van Israel gehad het. In die tyd van Christus het die Romeinse vlag oor die stad gewapper.

In Augustus 1980 het die destydse eerste minister van Israel, mnr. Menachem Begin, Jerusalem tot die ewige en onverdeelbare hoofstad van Israel verklaar, en dadelik sy kantoor van Tel Aviv af daarheen verskuif. Gedurende die volgende twee jaar het sy hele kabinet en hulle personeel hul intrek in Jerusalem geneem.

Die geestelike herstel van Jerusalem en die herbouing van die tempel moet nog plaasvind. Die Tempelberg is tans onder Moslem-beheer omdat twee van hulle moskees daar staan. Israel se nasionale geestelike herstel sal eers ná die kerkbedeling in die verdrukking plaasvind, en op die laaste dag daarvan voltrek word wanneer Jesus tydens die wederkoms sy voet op die Olyfberg sit. Dan sal Hy die oorblyfsel van Israel almal red.

Die feeste van Israel

Die sewe groot feeste wat Israel jaarliks vier (Lev. 23), bevat ‘n duidelike profetiese program van hoe die Here met hierdie volk én die nasies werk. Die pasga dui op die slag van die Lam van God vir die sonde van die hele wêreld. Die fees van die ongesuurde brode dui op die begrafnis van Christus en ons vereenselwiging met sy dood. Die fees van die eerstelingsgerf dui op Jesus se opstanding uit die dode en die insameling van ‘n oes in die hele wêreld vir sy koninkryk. Die fees van die beweegbrode 50 dae later is op Pinksterdag met die uitstorting van die Heilige Gees vervul. Die fees van basuingeklank op die eerste dag van Israel se sewende maand sal met die wegraping vervul word, gevolg deur die sewe verskriklike dae van die verdrukking. Dan volg die Groot Versoendag wat met die wederkoms en Israel se versoening met die Messias vervul sal word, en dan die loofhuttefees wat met die oog op die Messiasryk gevier word.

Die groot bedrieër slaan toe

Wanneer die tyd vir Israel se nasionale geestelike herstel aanbreek, sal die duiwel alles in die stryd werp om die volk te bedrieg deur ‘n valse messias aan hulle te bied. Hy weet dat Israel deur ‘n oorlog in groot benoudheid gedompel kan word, en dan sal hulle met nog groter verwagting uitkyk of die beloofde Messias nie tot hulle redding sal kom nie. ‘n Toestand van dié aard sal ontstaan wanneer die Russies/Arabiese invalsmag van Esegiël 38 en 39 soos ‘n donker wolk van alle kante af oor hulle toesak. Die Here sal ingryp en hierdie invalsmag met vuur uit die hemel verdelg (Eseg. 39:1-6).

Op ‘n baie slinkse wyse sal die krediet vir die oorwinning egter deur die valse messias opgeëis word. Met sy sataniese magte sal hy vuur uit die hemel laat neerdaal, en Israel laat dink dat hy deur God gestuur is om hulle uit te red. Sy groot bondgenoot, die valse profeet, sal hom hierin bystaan en die tekens namens hom doen. Van die valse profeet sê Johannes die volgende:

“En uit die aarde het ek ‘n ander dier sien opkom… En hy oefen al die mag van die eerste dier uit voor sy oë, en hy maak dat die aarde en die wat daarop woon, die eerste dier aanbid… Hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense” (Op. 13:11-13).

Die Antichris sal dus as Israel se groot verlosser poseer, en ook daarop aanspraak maak dat hy ‘n dreigende derde wêreldoorlog afgeweer het. Na aanleiding hiervan sal hy homself as die beloofde Messias aan Israel bied, en ná ‘n kort beraadslaging sal die volksleiers hom as sodanig aanvaar. Die Here Jesus het na hierdie tragiese besluit verwys toe Hy tydens sy eerste koms en sy verwerping deur die volk gesê het:

“Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As ‘n ander een in sy eie naam kom, hóm sal julle aanneem” (Joh. 5:43).

Hierdie verleier wat in die Naam van Jesus kom, is die valse christus waarteen Jesus die volk uitdruklik in Mattheus 24:4-5 gewaarsku het. Die valse messias is die ruiter op die wit perd wat in Openbaring 6 uitdraf as ‘n oorwinnaar en om te oorwin. Hy sal geen tyd verspil om sy posisie in Israel te konsolideer nie, en groot openbare steun verwerf deur dit vir die volk moontlik te maak om die tempel te herbou.

‘n Deel van die valse messias se misleidingswerk sal wees om die Jode se lank gevestigde antagonisme teenoor die Nuwe Testament deur verdere negatiewe propaganda aan te blaas. Sy volgelinge sal dus nie van Jesus se Nuwe Testamentiese waarskuwings oor die verskyning van die valse messias kennis neem nie, en derhalwe onkundig oor die gevare van daardie tyd se godsdienstige bedrog wees:

“As iemand dán vir julle sê: Kyk, hier is die Christus! of: Daar! – moet dit nie glo nie. Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei. Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê. As hulle dan vir julle sê: Kyk, Hy is in die woestyn – moenie uitgaan nie; kyk, hy is in die binnekamer [op TV?] – moet dit nie glo nie. Want soos die weerlig uit die ooste uitslaan en tot in die weste skyn, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees” (Matt. 24:23-27).

Die valse messias sal Israel se geestelike onkunde uitbuit! Hy sal hulle laat verstaan dat hulle ortodokse oortuigings korrek is en dat hulle in terme daarvan die tempel moet herbou en die offerdiens weer instel. Hy sal ook aan hulle militêre en ekonomiese sekuriteit belowe.

Die 144 000 verseëldes

‘n Baie belangrike gebeurtenis wat aan die begin van die verdrukking net ná die openbaring van die Antichris sal plaasvind, is die redding van 144 000 Jode en hulle afsondering vir die diens van die Here. Die 144 000 is die eerste groep wat deel van die geestelike herstel van die volk Israel sal uitmaak:

“En ek het die getal van die verseëldes gehoor: 144 000 verseëldes uit al die stamme van die kinders van Israel” (Op. 7:4).

Daar is geen onduidelikheid omtrent hierdie stelling nie, en dit is eksegeties totaal onregverdigbaar om die 144 000 Joodse evangeliste op die kerk of enige ander groep mense buite Israel van toepassing te maak. In hierdie gedeelte word glad nie van simboliese taal gebruik gemaak nie. Die 12 stamme van Israel is ‘n bekende historiese feit wat nie ‘n simboliese of allegoriese voorstelling van die kerk of enige ander groep mense is nie.

So ook is die getal 144 000 nie simbolies nie, maar letterlik. Die komponente van die getal is nie 3 X 4 X 12 X 1000 soos soms beweer word nie, maar 12 000 X 12: dit is 12 000 uit elk van die 12 stamme van die kinders van Israel! Volgens Eségiël 48 gaan die land Israel (die Beloofde Land, wat veel wyer grense as die huidige Israel sal hê) in die vrederyk onderverdeel en aan die twaalf stamme van Israel toegeken word.

Dit is uit ‘n dispensasionele oogpunt ook baie duidelik waarom die 144 000 Jode gered en in die diens van die Here gestel gaan word. Wanneer die Here Jesus sy bruidsgemeente kom haal het, sal die dispensasie van die kerk beëindig wees. Hy sal dan die geestelike potensiaal van die herstelde Israel benut om sy lig in die donker nag van die verdrukking te laat skyn. Toe Elia weggeraap is, het sy mantel en profetiese bediening op Elisa geval. Ook in die komende uur van die duisternis sal die Here Homself nie onbetuig op die aarde laat nadat sy bruid weggeraap is nie.

Openbaring 7 sluit aan by ‘n lang reeks profesieë in die Bybel waarin die waarborg gegee word dat die Here sy volk Israel nie alleen fisies en staatkundig in hulle land sal herstel nie, maar dat hulle in die laaste dae ook geestelik sal herleef:

“Daarom, sê vir die huis van Israel... Ek sal julle uit die nasies gaan haal en julle uit al die lande bymekaar laat kom, en Ek sal julle in jul land bring. Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word... En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen. En julle sal woon in die land wat Ek aan jul vaders gegee het; en julle sal vir My ‘n volk en Ek sal vir julle ‘n God wees” (Eseg. 36:22-28).

Jeremia sluit ook hierby aan:

“Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ‘n nuwe verbond sal sluit… Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal vir my ‘n volk wees” (Jer. 31:31-33).

Daar is tans baie duisende Jode wat al aan die Nuwe Testamentiese feite omtrent Jesus se Messiasskap blootgestel is, maar wat nog nie ‘n besluit daaroor geneem het nie. Nadat die wegraping plaasgevind het en al die Messiaanse Jode (dié wat voor die tyd reeds vir Jesus as hulle Messias aangeneem het) saam met die bruidsgemeente weg is, sal ‘n ernstige herwaardering van Bybelse feite onder ‘n groot groep agtergeblewenes plaasvind. Die Heilige Gees sal volgens Sagaria 12:10 kragtiglik onder hulle werk, en baie van hulle sal die Here Jesus as Verlosser aanneem.

Uit hierdie herlewing sal 144 000 weergebore Jode na vore kom, wat deur die Here vir ‘n wêreldwye evangelisasietaak afgesonder sal word (Matt. 24:14). Soos Daniël se drie vriende sal hulle in die uur van verdrukking bewaar word, sodat hulle hul taak as die Here se uitverkore getuies onder uiters moeilike omstandighede tydens die bewind van die Antichris sal kan voortsit en uitvoer.

Die redding van die 144 000 vind baie duidelik ná die bedeling van die kerk plaas, omdat hulle godsdienstige posisie direk met hulle volks- en stamidentiteit in verband gebring word. Dit is heeltemal anders as wat gedurende die volk se verstrooiing in die kerkdispensasie die geval was, waar volksverband nie ‘n faktor by die redding van mense is nie. Galásiërs 3:28 sê dat daar in Christus nie onderskeid tussen Jood en Griek getref word nie. Ná die kerkdispensasie word daar egter weer spesifiek met Israel in volksverband gehandel. Die fisies en staatkundig herstelde Israel moet dan ook geestelik as die volk van God herstel word sodat talle onvervulde profesieë vir hulle in vervulling kan gaan.

Die twaalf stamme van Israel wat in Openbaring 7 genoem word, het ‘n heel besondere samestelling asook ‘n ongewone volgorde waarin hulle genoem word. Hulle is: Juda, Ruben, Gad, Aser, Naftali, Manasse, Simeon, Levi, Issaskar, Sebulon, Josef en Benjamin. Van Josef se twee seuns, Manasse en Efraim, wat volgens Génesis 48:5 deur Jakbob as sy eie aangeneem is, word net Manasse genoem. Josef word hier in die plek van Efraim genoem. Gewoonlik word Josef nie in die 12 stamme genoem wanneer altwee sy seuns genoem word nie, soos bv. in Eségiël 48. Levi word gewoonlik ook nie genoem nie, omdat die Leviete nie, soos die ander stamme, ‘n bepaalde grondgebied kry nie. Die Here is hulle erfenis en hulle moet op die heilige grond bly. In Openbaring word Levi egter genoem in die plek van die stam van Dan wat uitgelaat word.

Waarom word Dan in die lys van Openbaring uitgelaat, vergeleke met dié in Eségiël 48? Die rede is omdat Dan moontlik die stam is waaruit die Antichris sal kom. In Génesis 49:17 het Jakob van die stam van Dan gesê: “Laat Dan ‘n slang wees op die weg, ‘n horingslang op die pad, wat die perd aan die hakskeen byt sodat sy ruiter agteroorval.” Vir die rebellie wat met Dan geassosieer word, is daar in die herstelde Israel nie plek nie.

Die stamname in Openbaring 7, asook die volgorde waarin hulle verskyn, bevat ‘n besondere boodskap. Elke stamnaam het ‘n betekenis en wanneer hulle saam gelees word, sê dit iets oor die 144 000. Die inleidende woorde is in Openbaring 7:4, naamlik: “144 000 verseëldes uit al die stamme van die kinders van Israel.” Saam met die daaropvolgende stamname lees hierdie sin só:

“144 000 verseëlde Israeliete wat God loof en prys (Juda); omdat hulle die Seun sien (Ruben) het hulle oorwin (Gad) en is hulle gelukkig (Aser); Hy het hulle worsteling (Naftali) laat vergeet (Manasse) deur hulle te verhoor (Simeon); vir hom wat God aanhang (Levi) is daar loon (Issaskar) en inwoning (Sebulon); mag die Here byvoeg (Josef) deur die Seun van sy regterhand (Benjamin).”

Die vervolging van geredde Jode

Om begryplike redes sal daar ‘n geweldige polarisasie en stryd tussen die aanhangers van die ware Messias en die valse messias wees. Die aanhangers van die valse messias sal oorheersend wees en onwrikbaar by hulle lank verwagte ‘messias’ staan. Selfs wanneer hy na ander volke en gelowe uitreik en homself ook as hulle messias aanbied en daardeur vir Israel in sy alliansie van wêreldgodsdienste intrek, sal die meeste van hulle steeds blind vir sy misleiding wees.

Die Antichris sal die Messiaanse herlewing met alle mag teëwerk omdat hulle hom as ‘n valse profeet sal brandmerk en hulle volksgenote teen hom waarsku. Hulle sal as ‘n groot bedreiging vir sy posisie in Israel gesien word, sowel as vir sy wêreldryk wat hy met groot welslae onder alle nasies sal konsolideer.

‘n Geweldige vervolging sal teen die Messiaanse Jode ingestel word. Soos Nebukadnésar van ouds gedoen het, sal die Antichris spesiale en uitermate groot strawwe aankondig oor diegene wat nie by sy staatsgodsdiens wil inskakel en hom aanbid en vereer nie. Soos die drie vriende van Daniël, sal die 144 000 verseëldes alle druk wat op hulle toegepas word, teëstaan en summier weier om die knie voor die moderne Baäl te buig. Daniël se vriende het só gereageer op die bevele van die magtige koning van hulle tyd:

“Sadrag, Mesag en Abednégo het geantwoord en aan koning Nebukadnésar gesê: Ons ag dit nie nodig om u hierop ‘n antwoord te gee nie. As onse God wat ons dien, in staat is om ons te verlos, dan sal Hy ons uit die brandende vuuroond en uit u hand, o koning, verlos; maar so nie, laat dit u dan bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal dien nie en die goue beeld wat u opgerig het, nie sal aanbid nie” (Dan. 3:16-18).

Die Here sal sy verseëlde getuies in die uur van groot benoudheid onderskraag en uitred soos wat Hy ook met Daniël se getroue vriende gedoen het, asook met Daniël self in die leeukuil toe hy aangehou het om ten spyte van koninklike dekrete die ware God drie maal per dag te aanbid. Die vervolging sal nietemin in felheid toeneem.

In Openbaring 14:1-5 word die 144 000 saam met die Lam op die berg Sion aangetref. Ná hulle aardse bediening sal hulle met Hom verenig word en ‘n baie spesiale plek in sy koninkryk beklee. Van hulle word gesê dat hulle hul nie met vroue besoedel het nie, maar van die begin af sal hulle rein voor die Lam wandel. Wat beteken dit? In 2 Korinthiërs 11:2 word die kerk van Christus as ‘n rein maagd voorgestel. In Openbaring 17:4-5 word die valse godsdienste as onrein vroue voorgestel, en die valse wêreldkerk as die moeder van die ontugtige vroue. Johannes noem haar: “Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere” (Op. 17:5).

Die 144 000 is ‘n groep wat nooit enigiets met hierdie onrein vroue te doen gehad het nie. Hulle is nie deur valse godsdienste besoedel nie, en kom ook nie uit die vervalle kerk van die eindtyd nie. Hulle sal dus nie skewe en krom teologiese beskouinge hê nie. Dit is ‘n nuwe groep wat deur die Here Jesus uit Israel losgekoop word. Hulle sal Hom getrou navolg, en uit die aard van die saak ook geen bande met die valse wêreldgodsdienste van hulle tyd hê nie. As gevolg hiervan sal hulle ook hewig deur die valse wêreldgodsdiens vervolg word. Johannes sê van dié vervolgsugtige organisasie wat die bruid van die Antichris is:

“En ek het die vrou gesien, dronk van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus” (Op. 17:6).

Christenmartelare

Te midde van die vreeslikste oordele wat hierdie aarde gaan tref, sal daar nog steeds genade aan sondaars gebied word. In die uur van die duisternis kán mense dus nog gered word. Ten spyte van God se toorn wat deur deur die goddelose ontlok sal word, sal Hy sy reddende ganade aan diegene bied wat tot besinning kom en na die enigste ware Verlosser om hulp roep.

Deels as gevolg van die evangelisasiewerk van die 144 000 Joodse evangeliste, maar deels ook onafhanklik daarvan, sal ‘n groot menigte mense uit alle nasies in die verdrukking tot bekering kom. Hulle sal hierdeur die gramskap van die Antichris, die valse profeet en die alliansie van valse godsdienste op hulle hals haal. Hulle sal egter die harde pad van verwerping, verdrukking en martelaarskap aanvaar en ongeag die gevolge daarvan teen die goddelose strukture, ideologieë en gelowe van hulle tyd weerstand bied. Die vervolging teen hulle sal dadelik begin, maar die meeste van hulle sal eers in die tweede helfte van die verdrukking, wat as die groot verdrukking bekend staan, as martelare sterf. Oor hulle sê Johannes:

“Ná hierdie dinge [dit is ná die redding van die 144 000 Jode en die vervolging wat daardeur ontketen word] het ek gesien, en kyk, daar was ‘n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale; hulle het gestaan voor die troon en voor die Lam, bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle hande; en hulle het met ‘n groot stem geroep en gesê: Heil aan onse God wat op die troon sit, en aan die Lam!… Toe het een van die ouderlinge gespreek en vir my gesê: Hulle wat bekleed is met wit klere, wie is hulle en waarvandaan het hulle gekom? En ek sê vir hom: My heer, u weet dit. En hy sê vir my: Dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom, en hulle het hul klere gewas en hul klere wit gemaak in die bloed van die Lam. Daarom is hulle voor die troon van God en dien Hom dag en nag in sy tempel; en Hy wat op die troon sit sal sy tent oor hulle oopspan. Hulle sal nie meer honger en nie meer dors hê nie, en nooit sal die son of enige hitte op hulle val nie; want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle laat wei en hulle na lewende waterfonteine lei, en God sal alle trane van hulle oë afvee” (Op. 7:9-17).

Daar sal tydens die bewind van die Antichris dus nog ‘n baie groot oes vir die koninkryk van die hemel ingesamel word – hoewel onder uiters moeilike omstandighede. Hierdie Christene sal nie een die groot verdrukking (die laaste 3½ jaar van die Antichris se skrikbewind) oorleef nie en almal as martelare vir hulle geloof moet sterf.

Dit is beslis nie die Here se wil dat hulle só moet ly nie, daarom klink die oproep tot bekering en heiligmaking nou nog steeds op om mense waardig te maak om die oordele van God te ontvlug. Die Here wil nie hê dat ons hierdie oordele moet geringskat nie, daarom beskryf Hy dit self as ‘n “groot verdrukking soos wat daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie” (Matt. 24:21).

Soek liewer die Here nóú sodat Hy u waardig kan maak om die verskrikking en die grootskaalse menseslagting van die Antichris te ontvlug. Christene wat nie die profetiese belofte van uitredding uit die uur van die duisternis verstaan of wil aanvaar nie, redeneer soms dat die Christene deur alle eeue heen in ‘n mindere of meerdere mate vervolg is. Waarom sal hulle dan die komende verdrukking gespaar bly?

Die feit is dat Christene nog altyd ter wille van hulle geloof deur die duiwel en sy antichristelike medewerkers vervolg is. Hulle was egter nog nooit, en is ook nie nou, die voorwerp van God se toorn en oordele nie. Die verdrukking is nie net die Antichris se tirannie oor opponente en andersdenkendes nie, maar in ‘n besondere sin ook God se straf oor die goddeloses. Hieruit gaan Hy sy ware kinders verskoon, soos wat Hy in Noag en Lot se tyd gedoen het, en ook tydens die verwoesting van Jerusalem in die jaar 70 n.C. (Luk. 21:20-24). Diegene wat eers in hierdie tyd tot bekering kom, sal die onafwendbaarheid van vervolging en martelaarskap moet aanvaar.