3. Die Kerk op Aarde

(Openbaring 2 en 3)

Deur middel van sewe briewe stuur die Here Jesus aan die kerk van die Nuwe Testament boodskappe van bemoediging en vermaning. Op ‘n tydstip toe daar reeds meer as 100 gemeentes was, kies Hy sewe uit wat die tipiese kenmerke van die ganse kerk vertoon, ook oor tyd heen. Openbaring 2 en 3 gee ‘n vertikale én horisontale perspektief op die Christelike kerk. Indien daar in enige stadium ‘n vertikale ‘snit’ van die Christelike kerk in die algemeen gemaak word, sou dit sewe verskillende lae [of tipes] vertoon. Dit was kenmerkend van die vroeë Christelike kerk toe hierdie briewe geskryf is, en is nog steeds kenmerkend van die 20ste eeu se kerk.

Hierbenewens kan daar na aanleiding van die sewe briewe ook ‘n horisontale verdeling van die kerk in opeenvolgende tydperke gemaak word. Hoewel die gemeentetipes nog altyd saam bestaan het, het die algemene karakter van die Christelike kerk oor tyd heen chronologies deur hierdie sewe tipes beweeg. Daar is dus sewe duidelik onderskeibare tydperke in die kerkgeskiedenis. Ons leef tans in die periode van Laodicéa, die laaste van die sewe gemeentes. Die ander ses tipes kom ook nou voor, maar in die Laodicéa tydperk speel hulle nie die oorheersende rol nie.

In die jaar 95 n.C. toe Johannes hierdie boodskappe ontvang het, was daar reeds aansienlike veragtering in die vroeë Christelike kerk bespeurbaar. Die brandende gemeentes waarvan ons in Handelinge lees, het verflou in hulle ywer. Mettertyd het die meeste van hulle net ‘n vormgodsdiens oorgehou waarin Jesus Christus nie meer die sentrale plek beklee het nie.

Afgodediens en kompromie met die wêreld het oral kop uitgesteek. Daar was nog baie gemeentelike aktiwiteite, maar die liefde vir die Here Jesus was nie meer die basiese motivering nie. Christus kan nie met hierdie vorm van kerkisme en hartelose lippediens genoeë neem nie, al is die lidmate ook baie aktief in wat hulle doen. Hy lê in elke geval sy vinger op die kern van die probleem en roep lidmate tot ‘n nuwe toewyding aan Hom op.

Soos dit uit die briewe sal blyk, is daar ‘n groot verskil tussen die ware kerk van Christus en die algemene Christelike kerk. Die eersgenoemde sluit net diegene in wat werklik aan Jesus Christus behoort omdat hulle weergebore is en hulle sondes deur sy bloed weggewas is. Die tweede kategorie sluit alle mense in wat aan Christelike kerke behoort, ook die miljoene naamchristene wat nog nie gered is nie.

In die geestelik erg vervalle toestand waarin baie van die kerke vandag verkeer, is by verre die meeste lidmate nominale Christene wat net ‘n gedaante van godsaligheid het. Dit is met die oog op hulle dat die Here aan vyf van die sewe gemeentes bekeringsboodskappe rig. Dit behels bekering uit dooie vormgodsdiens, leerstellige dwalings, morele verval, afgodediens en ‘n selfregverdigende kompromie met die wêreld.

Die sewe gemeentes, in ‘n chronologiese profetiese perspektief, is die volgende:

1. Éfese: die teruggevalle kerk

Éfese was ‘n florerende hawestad in Klein Asië [die huidige Turkye] met omtrent 225 000 inwoners. Die stad het bekendheid verwerf met sy indrukwekkende tempel vir die afgod Diana. Die inwoners was toegewyde aanbidders van Diana en het silwerbeeldjies van die godin en haar tempel gekoop om in hulle huise uit te stal. Dit het aan die silwersmede ‘n aansienlike inkomste verskaf (Hand. 19:24).

Paulus het op sy derde sendingreis, in omtrent die jaar 53 n.C., ‘n gemeente hier gestig. Ten spyte van groot teëstand het hy vir meer as twee jaar lank aangehou om dienste hier te hou en dissipels op te lei (Hand. 19:9-10). Die Here het buitengewone kragte deur Paulus gedoen (Hand. 19:11). Daar was ook ‘n groot deurbraak onder mense wat met towery omgegaan het. Hulle het hul tot God bekeer en al hulle boeke oor towery op ‘n hoop gegooi en aan die brand gesteek (Hand. 19:19). Verskeie afgodedienaars het hulle ook tot die Here bekeer.

Van sy stigtingsdag af het hierdie gemeente ‘n groot opskudding veroorsaak, sodat die publiek terdeë van hulle kennis geneem het! Die silwersmede se inkomste het afgeneem omdat minder mense hulle beeldjies gekoop het. So ook het die aanbidding van Diana vir die eerste keer ernstige opposisie gekry. ‘n Massavergadering is gehou, en vir twee ure lank het die skare  aangehou om te skreeu: “Groot is die Diana van die Efésiërs!” Die stadsklerk moes later ingryp om hulle tot bedaring te bring (Hand. 19:23-40).

Die teëstand het hierdie jong gemeente nie afgesit nie. Hulle het vreesloos en onverskrokke die gruwels en valse godsdienste van hulle dag oopgevlek en bestraf. Dit het hulle gedoen in ‘n gesindheid van ware liefde teenoor Christus én die broeders. Toe die tyd vir Paulus se vertrek uit Éfese aanbreek, het hy ‘n lang kerkraadsvergadering gehou waarin hy die ouderlinge bemoedig, vermaan en ook teen dwalinge gewaarsku het. Hy het geweet dat die groot vyand van die kerk van Christus nie aan die slaap is nie, en sy kans sou afwag om die gemeente deur valse leraars binne te dring, van die ware leer afvallig te maak en sodoende te verwar. Paulus het gesê:

“Ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie. Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het. Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan. Daarom moet julle waak en onthou dat ek drie jaar lank nag en dag nie opgehou het om elkeen met trane te vermaan nie" (Hand. 20:27-31).

Aanbevelings

Omtrent 40 jaar nadat Paulus uit Éfese weg is, en 35 jaar nadat hy sy sendbrief aan hulle geskryf het, kry Johannes op Patmos van die Here af opdrag om aan hierdie gemeente ‘n brief te skryf. Vir hulle onvermoeide arbeid word die gemeente geprys, ook omdat hulle verdrukking verduur, slegte mense weerstaan en die sekte van die Nikolaïete verwerp het.

Die Nikolaïete, wat in die oë van die Here gehaat was, is sterk teëgestaan. Hierdie groep het na godsdienstige mag en menslike verering gestreef, maar immorele lewens gelei. Hulle het hul ooreenkomstig die Ou Testamentiese patroon vir die instelling van ‘n priesterlike orde beywer wat spesiale regte en voorregte geniet, terwyl die gewone lidmate as leke sonder enige status en regte beskou is. Hulle wou nie herders oor die gemeentes wees nie, maar heersers oor die erfdeel (1 Pet. 5:2-3). Hierdie oorheersingsdrang word ook deur die naam van die Nikolaïete weerspieël, wat afgelei is van niko (om te onderwerp) en laos (die leke, of die volk).

Hierdie struktuur was vreemd aan die Nuwe Testamentiese patroon, omdat dit ‘n demper op die uitlewing van die amp van die gelowige sou plaas. Die gewone lidmate se deelname in die aktiewe bestudering en verkondiging van die Here se Woord sou hierdeur beperk word, en onder hierdie omstandighede sou die kerk nooit daarin slaag om die wêreld aktief te evangeliseer nie. Priesters, kardinale, biskoppe en ander verhewe ampsdraers sou ‘n ongewenste beheer oor lidmate verkry en sodoende ‘n struikelblok vir Christelike kerke word.

Geestelike veragtering

Al hierdie aanbevelings wat die gemeente in Éfese ontvang het, verdwyn egter in die niet in die lig van ‘n ernstige aanklag van geestelike veragtering teen hulle. Die Here Jesus self sê:

“Maar ek het dit teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het” (Op. 2:4).

Die woord “agapé” word hier gebruik, wat goddelike liefde aantoon. Dit is so in kontras met wat Paulus vroeër aan hulle geskryf het:

“Daarom – vandat ek gehoor het van die geloof in die Here Jesus wat onder julle is en die liefde (agape) tot al die heiliges – hou ek ook nie op om vir julle te dank as ek aan julle in my gebede dink nie” (Ef. 1:15-16).

Nou is dit egter 35 jaar later, en die gemeente bestaan hoofsaaklik uit tweede geslag Christene. Hoewel hulle leerstellige suiwerheid gehandhaaf het en ook pligsgetrou in hulle dienswerk was, was daar by hulle ‘n ernstige gebrek in toewyding aan Christus. Hulle het die Here met hulle lippe gedien, maar hulle harte was ver van Hom af. Hulle het afgekoel in hulle liefde teenoor Hom.

Dit is vir die Here Jesus glad nie aanvaarbaar dat sy kerk op aarde in ‘n vormgodsdienstige organisasie ontaard waarin Hy net nominaal vereer word, maar in werklikheid deur ampsdraers en menslike strukture en aktiwiteite verdring word nie. Hy gee duidelik sy misnoë te kenne en sê dat Hy die kandelaar, wat die houer vir die olie van die Heilige Gees is, van hulle af sal wegneem:

“Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie” (Op. 2:5).

Die Here roep die gemeente uit hulle teruggevalle toestand tot bekering op. Die menslik-geïnspireerde werke wat lidmate vir hulle kerke doen, is nie vir Hom aanvaarbaar nie. ‘n Lewende gemeente is een waarin lidmate onder die inspirasie en leiding van die Heilige Gees die Here dien. Dit is die “eerste werke” waarheen hulle hul moet bekeer. Indien hulle dit nie doen nie, sê die Here Jesus, sal hulle in geestelike duisternis wandel.

As menslike organisasie sal hulle nog kan voortbestaan, maar hulle sal geen spreekbuis vir die Here wees nie. Hy sal sy kandelaar aan ‘n ander gemeente gee wat bereid is om Hom op ‘n toegewyde en selfverloënende wyse in die krag van die Heilige Gees te dien. Éfese het nie net hulle kandelaar verloor nie, maar die gemeente self het ná die vyfde eeu tot niet gegaan en uiteindelik die stad ook. Die hele omringende gebied het deel van die Moslemwêreld geword.

Persoonlike toepassing

Wat die Here Jesus vir elkeen van die sewe gemeentes sê, sê Hy ook vir jou en my: “Ek ken jou werke.” Hy is die Een wat tussen die sewe kandelaars wandel en intiem van almal se werke en ook die bedoelings van hulle harte bewus is. Hy sien alles raak en ken ons gedagtes van ver af. Met watter motief dien jy die Here – om deur andere gesien te word en erkenning by mense te kry dat jy ‘n Christen is, of omdat jy die Here Jesus waarlik liefhet? Hy is nie met ‘n uiterlike vormgodsdiens tevrede wat uit ‘n onrein en liefdelose hart voortvloei nie. Indien jou hart nie volkome met die Here is nie, bid dan saam met Dawid:

“Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!” (Ps. 139:23-24).

Waar staan jy in jou godsdiensbelewenis? Dien jy die Here onder morele dwang en uit eie krag, of dring die Heilige Gees jou om die lof van jou Verlosser te verkondig? Laat jou lig dan só skyn dat almal dit kan sien en daardeur nader aan Christus getrek word.

Die Here ken nie net die verkeerde motiewe en vleeslike werke nie, maar ook die werke van ware toewyding aan Hom. Soms is dit met groot offers en inspanning dat jy iets vir die koninkryk van God bereik, maar mense kyk dit mis en waardeer dit nie. In jou hart mag jy hieroor diep seergemaak voel, maar dan moet jy troos uit Jesus se woorde put: “Ek weet, Ek sien, Ek ken jou werke!”

Jou arbeid en offers in eensaamheid mag dalk onopgemerk by mense verbygaan, maar dit gaan nooit onopgemerk en sonder loon by Jesus verby nie. Hy sê: “Kyk, Ek kom gou, en my loon is by My om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees” (Op. 22:12). Jesaja het ook na die genadeloon van die regverdiges verwys toe hy gesê het:

“Kyk, die Here Here sal kom as ‘n Sterke, en sy arm sal heers; kyk, sy loon is by Hom, en sy beloning is voor sy aangesig" (Jes. 40:10).

Aan die getroue lidmate in Éfese, wat nie vir Jesus Christus vergeet het en deur die stroom van ‘n liefdelose vormgodsdiens meegesleur is nie, word die belofte gegee:

“Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe wat binne-in die paradys van God is” (Op. 2:7).

Die opset in Éfese is kenmerkend van die vroeë Christelike kerk tot omstreeks die jaar 100. Dit geld sowel hulle aanvanklike liefde vir die Here Jesus as hulle latere veragtering in die geloof.

2. Smirna: die vervolgde kerk

Smirna is ‘n groot hawestad sowat 60 kilometer noord van Éfese. Die stad bestaan vandag nog. In die Romeinse tyd was dit een van die bloeiendste stede in Klein Asië. Dit is ‘n baie mooi en goed beplande stad wat aan ‘n ronde baai op die hange van die Pagos gebou is. Die inwoners was getroue bondgenote van die Romeinse Ryk. Sedert 195 v.C. was die stad ‘n belangrike setel vir keiseraanbidding, met ‘n groot standbeeld van keiser Tibérius wat daar opgerig is. Daar was ook verskeie afgodstempels in Smirna, onder andere vir Zeus, Apollo, Némesis, Afrodite en Bacchus.

Christenvervolging

Smirna beteken bitterheid en dit is ‘n aanduiding van die genadelose vervolging en bittere lyding wat die kerk onder die Romeinse juk moes verduur – nie net in Smirna nie, maar in baie dele van die Romeinse Ryk. Daar was haas nie ‘n denkbare metode van vernedering, vervolging en marteling wat nie teen die Christene toegepas is nie. Openlike spot en hoon, swaar boetes, summiere ontslag en onteiening het onder die ligter vorms van vervolging getel. Meestal was tronkstraf in muwwe kerkers onder omstandighede van verhongering, siektes en marteling, asook teregstelling op brandstapels weens kettery, die lot van duisende Christene. Dikwels is die gevangenes in groot arenas gejaag om deur leeus en ander roofdiere verskeur te word. Hulle lewens is as niks gereken nie, en toeskouers het die arenas ter wille van vermaak besoek en met genoegdoening na hierdie barbaarse dade gekyk.

Dit was ook in Smirna ‘n kriminele oortreding om ‘n Christen te wees. Gelowiges is wreed vervolg, onderdruk, van hulle besittings beroof, en ook om die lewe gebring. Baie van hulle het bedelaars geword. Na aanleiding van hulle ellende sê die Here Jesus vir hulle: “Ek ken jou werke en verdrukking en armoede – maar jy is ryk” (Op. 2:9). Hoewel die gemeente materieel arm was, was hulle geestelik ryk. Die vervolgde gemeente het in Christus se rykdomme gedeel:

“Want julle ken die genade van onse Here Jesus Christus, dat Hy, alhoewel Hy ryk was, ter wille van julle arm geword het, sodat julle deur sy armoede ryk kan word” (2 Kor. 8:9).

Het u hierdie geestelikie rykdomme in die Here deelagtig geword, en is u steeds deur ‘n lewe van toewyding en godsvrug besig om skatte in die hemel bymekaar te maak? Tydens ‘n groot depressie het ‘n welaf Christen alles verloor wat hy gehad het. Die jare toe dit met hom goed gegaan het, het hy groot somme geld vir God se saak gegee. Die vraag is toe aan hom gestel of hy nie spyt is oor die groot skenkings wat hy vir die werk van die Here gemaak het nie. “Nee,” het hy gesê, “dit is al wat ek nou nog het!”

Die kerk in Smirna het dit ook beleef. Alles wat hulle op aarde gehad het, het hulle verloor, maar hulle was ryk in die hemel omdat hulle as Christene gely en die smaad van die Here Jesus in ‘n goddelose wêreld gedra het. Hulle sal nie met leë hande voor Hom verskyn nie.

Daar is nog ‘n verdere betekenis in die naam Smirna verskuil. Dit is van die Hebreeus Mirre afgelei, wat bitter kruie is. Wanneer hierdie kruie fyngestamp word, gee dit ‘n lieflike geur af.

Toe die Here Jesus vervolg en sy liggaam aan die kruis verbrysel is, het Hy mense geseën en vir die oortreders gebid. Toe Stéfanus gestenig is, het hy die Here Jesus ook gevra om sy moordenaars hulle skuld te vergewe. Hoe tree jy op wanneer jy aan vervolging, verdrukking, belediging en beswaddering blootgestel word? Skel jy terug of versprei jy op daardie oomblik deur jou reaksie die lieflike geur van Jesus Christus?

Vervolging ter wille van Christus bring loon in die hemel mee. Die Here beloof aan al die martelare die kroon van die lewe. In sy bergrede het Jesus die volgende saligspreking ingesluit:

“Salig is julle wanneer die mense julle haat, en wanneer hulle julle verstoot en beledig en jul naam weggooi soos iets wat sleg is, ter wille van die Seun van die mens. Wees bly in daardie dag en spring op, want kyk, julle loon is groot in die hemel” (Luk. 6:22-23).

Petrus het gesê:

“Wanneer iemand as ‘n Christen ly, moet hy hom nie skaam nie, maar God verheerlik in hierdie opsig” (1 Pet. 4:16).

Die marteldood van Polikarpus

Polikarpus, een van die martelare in Smirna, was ‘n geliefde prediker van die gemeente. Hy was een van die leerlinge van die apostel Johannes, wat in ‘n letterlike duisendjarige vrederyk op aarde geglo en dit ook verkondig het. Hy het die Here Jesus baie liefgehad en geen kompromie met die valse godsdienste gemaak nie. Toe hy reeds 86 jaar oud was, is Polikarpus in die jaar 155 n.C. op ‘n brandstapel verbrand omdat hy Jesus nie wou verloën om die keiser te aanbid nie.

Polikarpus kon ontvlug het as hy wou, maar die Here het hom in ‘n droom voorberei vir dit wat op hom gewag het. Sy bediende het onder wrede marteling geswig en vir die polisie gesê waar Polikarpus hom bevind het. Toe hulle hom opspoor, het hy aan die polisie ‘n ete laat voorsit en by hulle een uur vir gebed gevra. Die polisieman het by hom gepleit: “Sê net: ‘die keiser is God.’ Dit is mos nie so erg nie.” Hy het egter beleefd geweier.

Toe hy die stadion binnegelei is, was die skare reeds tot op ‘n punt van waansinnigheid opgesweep. Hulle het geskreeu: “Weg met die ateïste! Weg met Polikarpus!” Die prokonsul het hom voor ‘n keuse gestel en gesê: “Ek respekteer jou ouderdom, maar vervloek vir Christus en offer aan die keiser, of sterf ‘n vlammedood.” Sy antwoord was: “Ek het Hom al die jare gedien en Hy het my geen kwaad aangedoen nie. Hoe kan ek my Koning, Jesus, wat my siel gered het, belaster?”

Vinnig is daar ‘n brandstapel gepak. Polikarpus het geweier om met toue vasgebind te word. Aangrypend het hy gestaan en bid terwyl hy lewend verbrand is: “O Here, God Almagtig, Vader van u geliefde en geseënde Kind Jesus Christus, God van engele en magte en van die hele skepping en van al die regverdiges, ek aanbid U!” Terwyl die vlamme rondom hom opgestyg het, het hy aan die Here Jesus vasgehou en eer aan die God van die hemel gebring.

Die lydensweg

Jesus Christus het innige meegevoel met die martelare omdat Hy self die Een is wat die lydensweg bewandel en die bitter beker van vervolging tot die laaste druppel geledig het. Hy stel Homself aan hierdie gemeente voor as die Een wat dood was en lewendig geword het (Op. 2:8). Hy bemoedig hulle om te midde van die lyding vas te staan, want as hulle getrou bly tot die dood toe, sal hulle by sy koms onverganklike opstandingsliggame kry en vir ewig lewe:

“Vrees vir niks wat jy sal ly nie. Kyk, die duiwel gaan sommige van julle in die gevangenis werp, sodat julle op die proef gestel kan word; en julle sal tien dae lank verdrukking hê. Wees getrou tot die dood toe en Ek sal jou die kroon van die lewe gee… Die wat oorwin, sal deur die tweede dood geen skade ly nie” (Op. 2:10-11).

Die tien dae is moontlik ‘n verwysing na die vervolging van die Christene wat tydens die bewindstermyne van tien opeenvolgende Romeinse keisers plaasgevind het, vanaf Nero in 64 n.C. tot met Diokletianus in die jaar 305. Met die aanvang van die Smirna tydperk was die vervolging reeds aan die gang en sou dit vir nog meer as twee eeue lank voortduur.

Die laaste paar jaar onder keiser Diokletianus was die bloedigste. Hierdie tiran het homself ook, soos die meeste van sy voorgangers, vergoddelik. Hy het dit egter nog verder gevoer sodat mense voor hom op hul knieë moes val, die soom van sy kleed soen en uitroep: “Dominus et Deus!” (“My Here en my God!”).

            In 303 n.C. het dié arrogante keiser ‘n spesiale edik uitgevaardig waarkragtens die Christene van hulle besittings en burgerregte ontneem en hulle kerke gesluit is. Die gepaardgaande vervolging word as die wreedste en bloedigste van alle Christenvervolgings bestempel, en het ná Diokletianus se abdikasie in 305 nog tot in die jaar 312 n.C. voortgeduur.

3. Pergamus: die verleide kerk

Pergamus, omtrent 30 km. binnelands van Smirna af, was ‘n groot en populêre stad wat vir omtrent 400 jaar die hoofstad van die streek was. Dit was só ‘n sterk setel vir heidense godsdienste dat die Here dit “die troon van Satan” genoem het (Op. 2: 13). Uit die volgende oogpunte was hierdie ‘n gepaste beskrywing van Pergamus:

(1) Zeus-aanbidding

‘n groot altaar vir die afgod Zeus is bo-op ‘n heuwel gebou. Dit was omtrent 13 meter hoog en het van ‘n afstand af soos ‘n reusetroon gelyk. Zeus was die naam van die Griekse oppergod. In die Romeinse tyd is hy Jupiter genoem. Hy was die oppergod van die Romeine, die god van die hemel en die donder, die hoogste bestuurder van die heelal.

In Handelinge 14:12-13 word Zeus as Jupiter vertaal. Vers 13 moet dus lees: “Die priester van Zeus-voor-hulle-stad.” Dit dui op die oppergod wat Listre moes beskerm, en wat ‘n tempel net buitekant die poort van die stad gehad het. Zeus is ‘n tipe van die duiwel wat mag oor ‘n gevalle wêreld uitoefen.

(2) Die tempel van Asklepios

‘n Groot tempel vir die afgod Asklepios is ook in Pergamus opgerig. Dit was die god van gesondmaking wat deur ‘n slang voorgestel is. Baie mense het die slang gedien. Dit is baie duidelik ‘n verbloemde vorm van duiwel-aanbidding.

(3) Keiseraanbidding

Verder was daar ‘n tempel vir keiser Augustus in die stad. Soos die ander keisers, was hy ook in die Romeinse Ryk die god van hierdie wêreld wat op die aanbidding van mense aangedring het. Weiering om die keiser te aanbid was met die dood strafbaar. In hierdie hoedanigheid is die keiser ‘n tipe van die Antichris wat sy mag by Satan kry om die wêreld te regeer, afgodediens te bevorder en die Christendom onwettig te verklaar en te probeer uitroei (Op. 13:2, 14-15).

(4) Babiloniese godsdiens

Pergamus was lank tevore, met die val van Babilon, ook die toevlugsoord van die Chaldeërs se priester-koning en sy gevolg. Omdat Babilon ‘n belangrike setel van die heidense godsdienste was, is die godsdienstige troon van Satan hierdeur van Babilon af na Pergamus verskuif.

Druk vir die skepping van ‘n priesterlike hiërargie in die Christelike kerk het na aanleiding van die Babiloniese stelsel van priester-konings plaasgevind. Verder het die Babiloniese godsbegrip van ‘n songod en ‘n hemelkoningin met haar lieflingseun ook sy invloed op Christelike kringe laat geld en uiteindelik as die vergoddeliking van Maria en die verering van die Madonna en die kind gemanifesteer. Hierdeur het Satan se godsdienstige troon weer van Pergamus af na Rome verskuif. In die komende verdrukking, onder die bewind van die Antichris, sal dié troon na die herboude Babilon terug verskuif word!

(5) Leerstellings van duiwels

Daar is ‘n verdere rede waarom Pergamus die titel as die troon van Satan verkry het, en dit is die heidense filosofieë wat die grondslag van sy opvoedkundige stelsel gevorm het. Daar was ‘n universiteit met 200 000 boeke, waarin ‘n baie sterk inslag van die Griekse wysbegeerte was. Politeïsme (‘n heidense veelgodendom) is verkondig, asook Plato se metafisika wat na geloof in ongedefinieerde bonatuurlike magte, insluitende towery en heksery, gelei het. Hierdie drogredes het die filosofiese grondslag vir die geestelike verduistering van die donker Middeleeue gelê.

Die leer van Bileam

Met die uitsondering van ‘n klein kerngroep wat vas gestaan het in die waarheid van God se Woord, het die Christelike gemeente in Pergamus baie liberaal geraak en ruim kompromie met die heidendom rondom hulle gemaak. Die meeste van hulle het die gesindheid van Lot geopenbaar: “Ek wil ‘n Christen wees, maar ek wil vir myself ook die dinge veroorloof wat die wêreld aan my bied.”

Die kompromie wat die kerk met die sekulêre wêreld aangegaan het, het noodwendig tot geestelike afvalligheid en ontrouheid teenoor die Here gelei. Hierdie verskynsel word ook duidelik deur die naam Pergamus weerspieël, wat troue beteken – ‘n troue tussen die kerk en die wêreld. In die oë van die Here kom vriendskap van hierdie aard op geestelike hoerery neer:

“Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God” (Jak. 4:4).

Die Here verwys na hierdie kompromiemakery as “die leer van Bileam wat Balak geleer het om ‘n struikelblok voor die kinders van Israel te werp, naamlik om afgodsoffers te eet en te hoereer” (Op. 2:14). Volgens Numeri 22 tot 24 is Bileam deur Balak, die koning van die Moabiete, gehuur om Israel te vervloek. Bileam het dit egter nie gedoen nie en vir Balak oorgehaal om, in plaas van vervloeking en militêre konfrontasie, eerder vir Israel te verlei om geestelike kompromie met ander gode te maak deur ‘n Baälfees by te woon.

Hierdie strategie het gewerk, en in Numeri 25 lees ons dat Israel op uitnodiging ‘n Baälfees in Moab bygewoon het. Wellus het hoogty gevier en spoedig het hierdie nuwe vriendskap daartoe gelei dat die Israelse mans in hoerery met die dogters van Moab verval en ook voor hulle gode neergebuig het. Dit het die toorn van die Here oor Israel laat ontvlam, en Hy het ‘n plaag oor hulle beskik waarin 24 000 mense gesterf het. Balak het hom hierin verbly, want hy het in sy doel geslaag om Israel by God in onguns te bring sodat Hý teen hulle geveg het! Moses het die volk later ook oor hierdie beginselloosheid en permissiwiteit waaraan hulle hulself oorgegee het, verkwalik:

“Het julle al die vroue laat lewe? Kyk, hulle was deur die raad van Bileam, vir die kinders van Israel ‘n oorsaak van troubreuk teenoor die Here" (Num. 31:15-16).

Dit is in moderne tye ook duidelik dat die Satan deur ‘n strategie van kompromie ‘n groot slag onder Christene in die Weste geslaan het. Hierdeur het hy selfs meer sukses as met sy strategie van konfrontasie behaal in lande waar Christene vervolg en gemartel is. Geestelike kompromie word in Openbaring 2:14 “die leer van Bileam” genoem. Dit is dus ‘n ideologie of lewenswyse. Volgens 2 Petrus 2:15 is dit kenmerkend van die valse leraars van die eindtyd, wat van die weg van die waarheid afvallig geraak het.

Die Christelike kerk in Pergamus is aan die geweldige druk van godsdienstige kompromie blootgestel en daardeur tot geestelike ontrouheid verlei. Die uiteinde van diegene wat nie met hierdie bose sisteme kompromie wou maak nie, was dikwels ‘n marteldood.

‘n Voorbeeld van só ‘n persoon is Antipas (Op. 2:13). Sy naam beteken Teen alles. Hy was ‘n predikant in hierdie gemeente, en is doodgebrand binne-in ‘n hol bronskalf waaronder daar vuurgemaak is. Wanneer Christene in hierdie kalf van die pyn gekerm het, het dit tot groot vermaak van die skare geklink of die kalf gebulk het, omdat sy keelgat oop was. Antipas het egter nie sy mond oopgemaak terwyl hy gesterf het nie. In die bose samelewing waarin hy geleef het, kon hy as ‘n fundamentele Christen nie anders as om teen alles te wees nie – van die verpligte keiseraanbidding af tot by die goddelose onderwysstelsel! Die Here noem hom nie ‘n rebel wat “anti-alles” is nie, maar sy “getroue getuie”.

Die Here Jesus stel Homself aan hierdie gemeente voor as die Een wat die skerp tweesnydende swaard het (Op. 2:12). Die swaard van sy Woord maak absolute skeiding tussen geregtigheid en ongeregtigheid. Dit werk saam met die gewete van die mens om hom te help om dit wat reg is van dit wat verkeerd is, te kan onderskei:

“Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart" (Heb. 4: 12).

Dit bly egter nie net by nuwe indrukke wat die Woord in iemand hart skep nie, want die evangeliewoord is ook ‘n krag tot redding vir elkeen wat glo. Dit is in staat om jou siel te red as jy daaraan vashou. Verder staan hierdie swaard ook met die oordele van Christus oor die goddeloses in verband. Dit sluit die kompromiemakers in Christelike kerke in. In Openbaring 19:21 lees ons dat mense gedood sal word met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit.

Profetiese toepassing

Die kerk in Pergamus dui profeties op die kerkperiode tussen 312 en 606 n.C. toe Christenvervolging in die Romeinese Ryk gestaak is. Hierdie belangrike wending het in 312 n.C. plaasgevind toe keiser Konstantyn die vervolging van Christene verbied en self die Christelike geloof aanvaar het. Op een van sy veroweringstogte het hy glo ‘n kruis teen die hemel gesien waarby die volgende woorde was: “In hoc signo vinces” (“In dié teken sal jy oorwin”).

Sedert hierdie gebeurtenis het Konstantyn aansienlike militêre welslae behaal en as gevolg daarvan die Christendom aangehang. Deur die Edik van Milaan het hy in 313 n.C. aan die Christendom gelyke regte met die ander godsdienste verleen. Sy persoonlike betrokkenheid was egter twyfelagtig omdat hy nie die heidense godsdienste veroordeel het nie en homself eers kort voor sy dood laat doop het.

Die veranderinge was nogtans geweldig. Skielik is die vervolgde kerk amptelik erken en moes dit sy deure vir hoë amptenare en gesiene burgers oopgooi. Hulle het, soos Konstantyn, besluit om ook ‘Christene’ te word. Die eise van die evangelie is afgewater om die boodskap vir die nuwe gehore meer aanvaarbaar te maak. Die keiser het finansiële hulp vir die oprigting van indrukwekkende geboue aan die kerk verleen. Op die ekumeniese konsilie van Nicea in 325 n.C. het ‘n orde van biskoppe hulle houvas op die kerk gekry.

Deur hierdie hervormings is die leer van die Nikolaïete ingevoer, wat reeds in die Éfese tydperk sy kop uitgesteek het. Gewone lidmate se regte en inisiatief vir selfstandige optrede is geleidelik onderdruk, en hulle het later slegs volgens die voorskrifte van die afvallige biskoppe en priesters gehandel. Hierdeur is growwe inbreuk op die gesag van die Woord van God en die leiding van die Heilige Gees in die lewens van gelowiges gemaak.

Openlike kompromie is ook met die ander gelowe gemaak deurdat die Christendom op dieselfde vlak as die heidense godsdienste erken is.

Belofte aan die oorwinnaars

Aan sy getroue getuies in hierdie goddelose stad sê die Here Jesus:

“Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die verborge manna, en Ek sal hom gee ‘n wit keursteen, en op dié steen ‘n nuwe naam geskrywe wat niemand ken nie, behalwe hy wat dit ontvang” (Op. 2:17).

Die verborge manna is Jesus self as die brood van die lewe. Hy is die vleesgeworde Woord wat na die aarde gekom het om aan ons lewe te gee. Elkeen wat Hom soek, sal Hom vind en Hy sal die geestelike honger van ons siele versadig. Die wit keursteen was in die tyd van Johannes iets spesiaals. In die Romeinse keiserlike huishouding kon die houer van só ‘n steen elke dag by die paleis kom aanklop en is daar kosteloos in sy behoeftes voorsien. Die Here Jesus gee ook aan sy dissipels só ‘n steen met die belofte daarby: “As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry” (Joh. 15:7). Dit is ons voorreg as ons aan Hom behoort.

‘n Ander gebruik van stene was in hofsake. Jurielede het elk ‘n wit en ‘n swart steentjie gekry. Die swarte dui aan dat ‘n persoon skuldig is en verdoem hom dus. Deur die wit steen word hy onskuldig verklaar en vrygespreek. Die Here Jesus het aan elke bloedgewaste kind van Hom ‘n wit keursteen gegee wat op sy vryspraak dui. Sy skuld is betaal en sy sondes versoen.

Op hierdie steen word ook ‘n nuwe naam geskryf. Dit was algemene gebruik in Bybelse tye om aan kinders van die Here nuwe name te gee ten einde hulle nuwe status en identiteit aan te dui. Abram het Abraham geword, Jakob het Israel geword, Saulus het Paulus geword, en Simon het Petrus geword. Elke persoon wat vandag gered word, word ‘n kind van God. Hy word ‘n Christen genoem omdat hy ‘n nuwe mens is. Het die Here al van jou ‘n nuwe mens gemaak?

4. Thiatire: die afvallige kerk

Die langste brief van die sewe gaan aan Thiatire wat die kleinste en onbelangrikste stad van almal was. Dit lê op die pad tussen Pergamus en Sardis. Thiatire was nogtans ‘n vooruitstrewende handelstad waarvan die belangrikste handelsware kleurstowwe, wol, weefstowwe, tou, pottebakkery, leerwerk, linne en koperware was. ‘n Persoon moes aan ‘n gilde, of vakbond, behoort wat met die verering of diens van een of ander afgod verbind was. Dit het vir die Christene baie probleme geskep. Hulle is voor die keuse gestel om óf met die gildes en hulle heidense afgodsverering saam te gaan, óf om daarmee te breek en sodoende hulle bron van inkomste te verbeur.

In Thiatire was die mense nie so fanaties oor hulle afgode soos bv. in Pergamus of Smirna nie. Daar was wél ‘n paar afgodstempels, bv. vir Apollo en Arthémes. Daar is egter met die uitsondering van gilde-lidmaatskap nie groot dwang op mense geplaas om aan die afgode te offer nie, dus het daar aansienlik minder vervolging van die Christene plaasgevind.

Die eerste persoon wat in Europa gered is, het van Thiatire af gekom. Dit was Lidia die purperverkoopster (Hand. 16:14). Sy het na alle waarskynlikheid ‘n sterk aandeel in die stigting van die gemeente in Thiatire gehad.

Indringende beoordeling

Christus word aan hierdie gemeente voorgestel as “die seun van God wat oë het soos ‘n vuurvlam, en sy voete is soos blink koper” (Op. 2:18). ‘n Brief wat op hierdie wyse begin, gaan beslis nie vol gerusstellende gedagtes wees nie. Ons het hier te doen met die heilige Seun van God wat met groot gesag gaan praat met ‘n gemeente wat die spoor byster geraak het.

Sy oë is soos ‘n vuurvlam wat dwarsdeur alle bedekkings en kamoeflerings kyk. Hy sien tot in die diepste wese van ‘n saak. Hy ken die gemeente se dwalinge volkome, en Hy weet van elke individu se verborge gedagtes en die motiewe van sy of haar hart. Hulle staan totaal ontmasker in sy teenwoordigheid. Sy voete soos blink koper dui op die vuur en smeltkroes van God se oordele. Hy kan sonde nie verdra nie – allermins nie in sy kerk nie. Die werke van Isébel móét dus ontmasker en veroordeel word.

Die gesonde kerngroep

Jesus sien die gesonde kerngroep in die gemeente raak en prys hulle vir hul liefde, diens, geloof en lydsaamheid. Te midde van al die misleiding en afvalligheid sien Hy dié groepie raak wat aan Hom getrou bly. Hulle word bemoedig om nie agter die meerderheid aan te gaan in wat verkeerd is nie, en nie die dieptes van Satan te leer ken deur by okkultiese dinge en afgodediens betrokke te raak nie. Hulle moes op die regte weg volhard ten spyte daarvan dat dit van hulle uitgeworpenes sou maak. ‘n Toekomsverwagting van ‘n regverdige regering in die komende millennium word as 'n belofte aan hulle voorgehou. Hier sal hulle nie ‘n verwerpte minderheidsgroep wees nie, maar mederegeerders saam met Christus:

“Ek sê vir julle en die ander wat in Thiatire is, almal wat hierdie leer [van Isébel] nie het nie, en die wat die dieptes van die Satan, soos hulle dit noem, nie leer ken het nie: Ek sal op julle geen ander las lê nie. Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom. En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee, en hy sal hulle regeer met ‘n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het. En Ek sal hom die môrester gee” (Op. 2:24-28).

Die môrester dui op Jesus self. In Openbaring 22:16 sê Hy: “Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die blink môrester.” Die Here Jesus sal ná die huidige donker nag van sonde en ongeregtigheid terugkom om in die vrederyk ‘n nuwe dag van geregtigheid en vrede in te lui.

Die afvalliges

Ernstige geestelike misleiding is deur ‘n vrou in hierdie gemeente ingedra en deur die meerderheid van die lidmate aanvaar:

“Ek het enkele dinge teen jou, dat jy die vrou Isébel, wat haarself ‘n profetes noem, toelaat om te leer en my diensknegte te verlei om te hoereer en afgodsoffers te eet" (Op. 2:20).

Die vrou, Isébel, het haar valse lering in die gemeente ingedra. Sy was ‘n prominente vrou met ‘n sterk persoonlikheid en het net eenvoudig die gemeente oorgeneem en mislei. Soos suurdeeg het dit deurgewerk en vernietigende gevolge gehad. In stryd met die bepaling in 1 Timótheus 2:12: “Ek laat die vrou nie toe om onderrig te gee of oor die man te heers nie”, is Isébel verdra en aanvaar. Die Here het die gemeente ernstig hieroor verkwalik. Hulle word ook gewaarsku dat hierdie valse godsdiens en sy aanhangers op die groot verdrukking afstuur:

“Kyk, Ek werp haar neer op ‘n siekbed, en die wat met haar owerspel bedryf, in ‘n groot verdrukking, as hulle hul nie van hul werke bekeer nie” (Op. 2:22).

Profetiese toepassing

Thiatire is ‘n uitbeelding van die Middeleeuse verleiding en geestelike verblinding van die kerk. In die jaar 606 is Bonnifasius III as universele biskop gekroon. Hierdeur is die lang tydperk van Rooms-Katolieke oorheersing ingelui, waarin die kerk deur ‘n magsbehepte hiërargie van priesters, biskoppe, aartsbiskoppe, kardinale en pouse regeer is. Die gesag van die kerk se leerstellings is verhef tot bokant dié van die Bybel, en die beginsel van onfeilbaarheid is ook ten opsigte van die pous se ex cathedra uitsprake aanvaar (dit is dié wat hy van sy troon af doen).

Jesus Christus se middelaarsposisie is deur dié hervormings aangetas en ondermyn. Later het die kerklidmate selfs voor die priesters oor hulle sondes gebieg en geld vir die vergifnis van hulle oortredinge aan die kerk betaal.

As gevolg van die verderflike Babiloniese invloede wat langs verskillende weë op die Rooms-Katolieke Kerk oorgedra is, het ernstige teologiese afwykings en kompromie met heidense gebruike plaasgevind. Hieronder is die verering en aanbidding van moeder Maria, wat in werklikheid net die Christelike weergawe van die Babiloniërs se hemelkoningin, Semiramis, is. Maria is in 381 n.C. vergoddelik, en daar word ook beweer dat sy na die hemel opgevaar het.

Hierdie wanbeskouinge word nog steeds in die Rooms-Katolieke Kerk gehuldig. Die jaar van 17 Julie 1987 tot 15 Augustus 1988 is deur die pous tot ‘n spesiale jaar van toewyding aan die Madonna verklaar. Sy word die sondelose Moeder van God, asook die hemelse Moeder van die Kerk, genoem. Verskeie verslae is in Marian Update van 1994 oor verskynings van ‘Moeder Maria’ aan volgelinge van haar in Switserland, Italië, Kentucky, Arizona en die Oekraïne gepubliseer. In dié bonatuurlike verskynings het sy onder meer gesê dat die Roomse Kerk aan die hoof van ‘n ekumeniese liggaam van wêreldgodsdienste moet staan:

·       Ek begeer dat die Katolieke Kerk die katalisator moet wees om alle gelowiges in een organisasie te verenig.

·       Die Koninkryk van Christus, die Koning, sal onder die heerskappy van die Moeder van God gevestig word.

Isébel het dus in die gedaante van Maria teruggekeer om haar valse leringe voort te sit. Dit is duidelik dat die Middeleeuse misleiding van hierdie kerk nog steeds voortduur, en aan die eindtyd weer sterk na vore tree. Sy en al haar misleides sal in die komende groot verdrukking die gevolge van hulle afvalligheid moet dra (Op. 2:21-22).

Die Thiatire periode in die kerkgeskiedenis het dwarsdeur die Middeleeue tot met die Kerkhervorming voortgeduur.

5. Sardis: die dooie kerk

Sardis was die hoofstad van Lidië – ‘n vooruitstrewende handelsentrum wat bekend was vir sy rykdomme. Die stad is egter deur die Perse verower en van sy rykdomme beroof. Hulle wapens is ook gekonfiskeer. In 17 n.C. het ‘n verwoestende aardbewing die stad getref. Dit is nooit weer tot sy vorige glorie herstel nie. In die tyd toe Johannes die brief aan die plaaslike Christelike gemeente geskryf het, het Sardis reeds drasties agteruitgegaan en was ekonomies en polities van baie min belang. Die stad het nog net ‘n naam en ‘n trotse verlede gehad om op te roem.

Dieselfde agteruitgang geld ook op geestelike gebied vir die gemeente in Sardis. Die Here sê: “…jy [het] die naam dat jy leef, en jy is dood” (Op. 3:1). Die gemeente was waarskynlik redelik aktief en het van buite af die indruk geskep dat hulle ‘n lewendige gemeente is. Dit was egter ‘n misleidende beeld, want volgens die Here Jesus se beoordeling het Hy hulle werke nie volkome voor God gevind nie (Op. 3:2).

Dit was menslike werke, en nie werke wat deur die krag van die Heilige Gees gedoen is nie, daarom was dit verwerplik. Ons kan nie die Here behaag as ons Hom in die krag van die vlees dien nie, al gaan dit uiterlik ook hóé goed met ons organisasie of gemeente. Hy is die Een wat ons met sy Heilige Gees kan vervul sodat ons vir diens in sy koninkryk bekwaam gemaak kan word. Hiersonder sal ons werke nooit volkome wees nie.

Hierdie gemeente is nie as gevolg van afgodediens of kompromie met die wêreld verkwalik nie, maar weens hulle lewelose vormgodsdiens. ‘n Dooie kerk is vir die Here nét so verwerplik as ‘n valse of ‘n wêreldgelykvormige kerk. Voordat die lidmate nie waarlik weergebore en met die Here se Gees vervul is nie, is hulle nie deel van sy koninkryk nie en beteken vir Hom niks nie. Hulle is geestelik dood en het iets meer as net die reputasie en goeie naam van die stigters van die gemeente nodig gehad om uit God se oogpunt ‘n sukses te kon maak.

Die Here Jesus het gesê: “Stry hard om deur die nou poort in te gaan, want baie, sê Ek vir julle, sal probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie” (Luk. 13:24). ‘n Mens moet aan die einde van jouself kom, jou sondelas aan die voete van die kruis neerlê, en ook ophou om op jou goeie werke of prestasies van die verlede te roem voordat jy deur die nou poort sal kan ingaan. Wanneer jy hierdeur ingegaan het, sal die Here aan jou die instaatstellende krag van die Heilige Gees gee om werke te kan doen wat by die bekering pas.

Sonder ‘n geestelike ervaring van hierdie aard is jou godsdiens geestelik dood omdat dit in die krag van die vlees onderneem word. Dan het jy net die naam dat jy leef, maar jy is dood.

Profetiese toepassing

In die profetiese toepassing van hierdie brief dui die Sardis periode op die kerk van die Hervorming. Dit is oënskynlik ‘n weerspreking dat dié kerk as dood beskryf word. Tóg sê die Here: “Ek ken jou werke dat jy die naam het dat jy leef, en jy is dood” (Op. 3:1). Die feit is dat die kerk in hierdie tyd teologies hervorm is deurdat die Roomse dwalinge uitgewys en die genade-leer weer herstel is. Ten spyte hiervan het die uiterlike godsvrug in die algemeen nog ontbreek.

Die hervormingsbeweging het inderdaad nie na alle vlakke van die kerklike lewe deurgedring nie. Daar het ook nie dinamiese en vinnig groeiende gemeentes ontstaan wat sterk evangeliserend was en na die heidendom rondom hulle uitgereik het nie. Die Here vermaan die Sardis gemeente sterk oor hierdie saak: “Wees wakker en versterk die wat oorbly, wat op die punt staan om te sterwe” (Op. 3:2).

Christus stel Homself aan hierdie gemeente voor as die Een wat die sewe Geeste van God het. Dit staan in ‘n direkte verband met hulle probleem, want hulle toon nie die ywer vir evangelisasie wat van ‘n Geesvervulde gemeente verwag word nie. Hulle begin was wél goed, maar hulle het nog nie die ondervinding van vervulling met die Heilige Gees deelagtig geword nie.

Die geskiedenis bevestig die feit dat die kerk van die Hervorming in die 200 jaar van sy bestaan minder evangelisasiewerk gedoen het as wat gedurende slegs 20 jaar in die daaropvolgende Filadelfia tydperk gedoen is. Dit was die gevolg van starre formalisme sonder die nodige toewyding en oorgawe vir ware dissipelskap. Dit is egter nie ‘n algemene beswaar wat tot die kerk van dié tyd gerig word nie, omdat ‘n aantal sleutelpersone in die hervormingsbeweging wél bereid was om vir die Here uit te staan en in die openbaar standpunt vir ‘n ware geloof in te neem. Aan hierdie getroues word die versekering gegee:

Maar jy het enkele persone ook in Sardis wat hulle klere nie besoedel het nie, en hulle sal saam met My in wit klere wandel, omdat hulle dit waardig is (Op. 3:4).

6. Filadelfia: die evangeliserende kerk

Filadelfia is die jongste van die sewe stede wat genoem word. Attálus, die heerser van Pergamus, het die stad gestig. Hy het so ‘n groot liefde vir sy broer gehad dat sy bynaam Filadelfos was – Hy wat sy broer liefhet. Na aanleiding hiervan is die nuwe stad Filadelfia genoem, wat Broederliefde beteken. Hierdie gemeente, saam met die een in Smirna, is die enigste twee wat geen vermaninge en teregwysings weens sonde, vormgodsdiens, afgodery, liefdeloosheid of afvalligheid ontvang nie. Hulle word net bemoedig om ten spyte van hulle klein getal, min invloed en beperkte middele voort te gaan om die Woord van die Here te verkondig. Deur die eeue heen was dit nog altyd relatief klein groepies getroue dissipels wat deur die Here gebruik is om sy werk op aarde te doen. Hulle was diep afhanklik van Hom, en dus ook getrou aan sy Woord. Die Here beloof dat Hy self aan hulle ‘n geopende deur sal gee wat niemand kan toemaak nie:

“Kyk, Ek het voor jou ‘n geopende deur gegee, en niemand kan dit sluit nie, want jy het min krag en jy het my woord bewaar en my Naam nie verloën nie” (Op. 3:8).

Dit is ‘n kenmerk van evangeliese Christene dat hulle die Woord van die Here bewaar en nie sy Naam verloën nie. Hulle glo aan die foutloosheid en goddelike inspirasie van die Bybel en neem ook die beloftes daarin in die geloof aan. Hulle het eerbied en ontsag vir die Naam van die Here, hulle bely en verkondig die maagdelike geboorte van Christus, asook sy Godheid en al sy ander attribute.

Juis omdat hulle in hierdie opsigte getrou is, seën die Here hulle, bemoedig hulle, gaan voor hulle uit en gee aan hulle geopende deure. Hoe anders is dit nie vandag, met soveel teoloë wat nie die Bybel as die geïnspireerde Woord van God aanvaar nie, en boonop die Here Jesus verloën deur sy Godheid en maagdelike geboorte te ontken. Hulle word egter nie in Filadelfia se gemeente aangetref nie – miskien eerder in Thiatire, Sardis of Pergamus. Diegene in Filadelfia het waarlik die broeders én die Here lief, en eer ook sy onfeilbare Woord.

Beloftes

Die Here bemoedig sy diensknegte wat onder moeilike omstandighede werk, om tot die einde toe te volhard en nie moedeloos te word nie. Hy gee ook aan hulle die wonderlikste beloftes:

“Omdat jy die woord van my lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar [uit] die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die inwoners van die aarde op die proef te stel. Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie. Wie oorwin, Ek sal hom ‘n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal daar nooit weer uitgaan nie; en Ek sal op Hom die Naam van my God skrywe…” (Op. 3:10-12).

Die getroue kinders van die Here word bemoedig om te volhard tot die einde toe, en nie toe te laat dat hulle moedeloos en afvallig raak, of dat hulle liefde teenoor die Here verkoel nie. Hulle moet oppas dat niemand hulle kroon sal neem nie. Die duiwel is die berower wat probeer om die Christene te laat verslap en terugval en sodoende hulle genadeloon te laat verbeur.

Voor Johannes na Patmos verban is, het hy aan die broeders geskryf: “Wees op julle hoede, dat ons nie verloor wat ons deur arbeid verkry het nie, maar ‘n volle loon ontvang” (2 Joh. v. 8). Paulus het gesê: “Laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie” (Gal. 6:9). Laat ons dus volhard tot die einde toe, en onbeweeglik vas staan op die Rots, Jesus Christus. Mag Hy ons besig vind met sy werk wanneer Hy kom!

Profetiese toepassing

Die broederliefde van Filadelfia dui op die liefde van God wat in die harte van sy kinders uitgestort word vir hulle medebroeders, maar ook vir ‘n verloregaande wêreld. Juis dít was die dryfkrag agter die herlewingsdienste en wêreldsendingaksies wat tussen 1750 en 1900 onderneem is. Vervul met die Heilige Gees het manne in die geloof uitgegaan om as pioniers die lig van die evangelie na haas onbekende heidenlande in Asië, Afrika, Suid-Amerika en die eilande uit te dra.

Met uiters gebrekkige middele en dikwels in lewensgevaar van vyandige inboorlinge, tropiese siektes en selfs wilde diere, het hierdie sendelinge die moeilike uitdaging aanvaar. Groot toewyding is aan die dag gelê om inboorlingtale aan te leer, Bybelvertalings te doen, skole te begin en gesondheidsdienste te lewer met die beperkte fondse en karige middele tot hulle beskikking. Ondanks al die probleme het die werk voortgegaan omdat die Here daarin was.

Onder die geloofshelde van hierdie tyd, wat die wêreld deur hulle prediking vir Christus aan die brand gesteek het, is manne soos George Whitefield, John Wesley, Charles Finney, R.A. Torrey, D.L. Moody, Jonathan Edwards, Hudson Taylor, William Carey, Andrew Murray en vele ander.

Sommige van hierdie herlewingspredikers is deur die groot kerke van hulle tyd verwerp toe hulle hulself baie sterk teen die dooie vormgodsdienstige tradisie van daardie kerke uitgespreek en siele na die Here begin lei het. Hulle moes die Here in die geloof vir hulle finansiële en ander behoeftes vertrou, en het dikwels maar karige middele tot hulle beskikking gehad. Ook wanneer hulle voor toe deure te staan gekom het, kon hulle net in die gebed tot die Here roep. Dit is Hy wat aan sy getroue gesante sê: “Kyk, Ek het voor jou ‘n geopende deur gegee” (Op. 3:8).

Evangeliese gemeentes soos Filadelfia was baie algemeen tot aan die begin van die 20ste eeu, maar namate hierdie eeu gevorder het, het vormgodsdiens en afvalligheid geweldig toegeneem terwyl die kerkperiode van Laodicea gevestig geraak het. Nogtans sal daar tot aan die einde evangeliese Christene wees wat aan die Here en sy Woord getrou bly. Hulle ontvang die belofte om uit die uur van beproewing bewaar te word wat oor die hele wêreld sal kom. Hierdie uur van beproewing is die komende verdrukking onder die bewind van die Antichris. Die Griekse voorvoegsel ek dui aan dat die Christene buite die uur van beproewing sal wees. Dit stem met Lukas 21:36 ooreen, waar gesê word dat die ware Christene al hierdie dinge wat kom, sal ontvlug en voor die Seun van die mens sal staan.

7. Laodicéa: die kerk van menseregte

Die welvarende nywerheids- en handelstad, Laodicéa, was omtrent 65 km. suidoos van Filadelfia op die pad na Kolosse geleë. In 60 n.C. is die stad deur ‘n aardbewing verwoes, maar as gevolg van die inwoners se rykdom en ondernemingsgees het hulle weer die stad herbou. Hulle het op hul eie vermoë staatgemaak om dinge te doen, hulle was trots en hoogmoedig oor wat hulle bereik het, en het gemeen dat hulle niemand se hulp nodig het nie. Hulle was die bepalers van hulle eie lotgevalle en kon self in al hulle behoeftes voorsien.

Dieselfde gees van selfgesentreerdheid, arrogansie en selfregverdiging het die gemeente in Laodicéa gekenmerk. Hulle het die Naam van die Here met hulle lippe bely, maar in hulle harte was hulle vol van hulleself en het net op hulle eie prestasies geroem. Dit was ‘n vorm van humanisme in sy ergste graad en dit word ook deur die naam Laodicéa weerspieël, wat Menseregte beteken. Hierdie ingesteldheid en houding was só afstootlik vir die Here Jesus dat Hy Homself totaal van hulle gedistansieer het:

“Omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug. Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie" (Op. 3:16-17; kyk ook 1 Tim. 6:7-12).

Dit is die enigste van die sewe gemeentes wat geen enkele woord van goedkeuring van die Here ontvang het waarin Hy sekere werke of eienskappe van hulle prys nie. Hulle was uiters walglik vir Hom, soos lou water in die mond. Die Laodicense het hierdie beeldspraak verstaan omdat die water vir hulle stad ‘n paar kilometer ver met ‘n pypleiding van Hierapolis af gekom het. Teen die tyd dat die water in Laodicéa aangekom het, was dit louwarm en glad nie aangenaam om te drink voordat dit afgekoel het nie. Soos daardie lou water, was hulle humanistiese godsdiens ook afstootlik en glad nie vir die Here aanvaarbaar nie.

Hoewel Paulus nooit in Laodicéa was nie, het hulle vormgodsdiens en verwaande houding tot sy kennis gekom en vir hom ‘n groot stryd veroorsaak. Hy het hulle saam met die Kolossense die Here se verborge geestelike rykdomme toegebid in die plek van die uiterlike voorspoed wat vir hulle so belangrik was:

“Want ek wil hê dat julle moet weet wat ‘n groot stryd ek oor julle het, en oor die wat in Laodicéa is en almal wat my aangesig in die vlees nie gesien het nie, dat hulle harte vertroos mag word, deurdat hulle saamgevoeg word in die liefde en tot alle rykdom van die volle versekerdheid van insig, om die verborgenheid te leer ken van God en die Vader van Christus” (Kol. 2:1-2).

Vermaning

Die Here gee vir hierdie gemeente ‘n oplossing vir hulle ernstige probleme:

“Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien" (Op. 3:18).

Die geestelike bate wat die Here aan hulle bied, is ‘n gelouterde geloof wat kosbaarder is as goud wat deur vuur gelouter word (1 Pet. 1:7). Dit is ‘n vorm van rykdom wat die welvarende ekonomie en ryk banke van Loadicéa nie aan hulle kon bied nie. Ook word hulle aangeraai om die kleed van geregtigheid by die Here te kry. Dit is iets wat die weef- en klerenywerheid van hulle stad nie aan hulle kon voorsien nie. Hierdie nywerheid was bekend vir ‘n swart wolkleed wat hulle gemaak het. Die Here se kleed is egter van suiwer wit wol. Ook sê die Here Jesus dat hulle by Hom oogsalf kan kry wat aan hulle geestelike visie sal gee. Vir hulle geestelike blindheid help die oogsalf van Laodicéa se mediese skool wat in die tempel van Asklepios was, glad nie.

Daar is dus ‘n oplossing vir hierdie morsdooie en selfregverdigende gemeente. Hulle moet egter eers van hulle probleme kennis neem, want hulle weet nie eers dat hulle beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie. Die Here Jesus staan gereed met die oplossing, daarom klop Hy aan die deur van hierdie gemeente en bied sy reddende genade aan hulle.

Profetiese toepassing

Die lou, selfvoldane, selfgesentreerde en geestelik bankrot gemeente van Laodicéa is kenmerkend van die kerk van die 20ste eeu, en as sodanig verteenwoordig dit die laaste periode in die kerkgeskiedenis. Soos in die vorige periodes, is daar nou ook elemente van al sewe die gemeentes aanwesig, maar die oorheersende kenmerk is dié van Laodicéa.

‘n Sorgwekkende toestand heers in dié geestelik afgestompte gemeente. As gevolg van hulle humanistiese oriëntasie het hulle ‘n horisontale ingesteldheid op menseregte wat op die poilitieke, grondwetlike en sosio-ekonomiese aspekte van mense se lewens betrekking het. Die mens-God-verhouding ontvang bykans geen klem nie omdat die mens in die humanistiese filosofie die oppergesag het en die bepaler van sy eie lotgevalle is. Dit is waarom hy vir homself die reg opeis om die Bybel as ‘n onvolmaakte en menslike boek te beskryf en openlike twyfel oor Jesus se maagdelike geboorte, sy Godheid en sy persoonlike wederkoms uit te spreek.

Tevrede met slegs ‘n uiterlike gedaante van godsaligheid gaan die gemeente van Laodicea voort op die weg van vormgodsdiens, en is nie eers bewus van sy geestelike armoede nie. Ten spyte van al die welvaart en goed georganiseerde aktiwiteite word Christus nie werklik geken of gedien nie. Sy Naam word wél gebruik, maar daar eindig dit ook. Van só ‘n stelsel van mensgemaakte godsdiens wat op intellektuele argumente, morele beredenering en uiterlike vertoon ingestel is, onttrek die Here Jesus Homself en Hy sê ook duidelik waarom Hy dit doen.

Die voorspoedsteologie van Laodicea, op grond waarvan hulle sê: “Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie,” is op selfregverdiging en ‘n gemaklike aardse lewe ingestel, maar word deur geestelike bankrotskap gekenmerk. Die prediking deur ewe materialistiese en selfvoldane leraars is slegs daarop gerig om mense se gehoor te streel (2 Tim. 4:3-4).

Die gevolg hiervan is dat die jong geslag deur ‘n Laodicese gees bemeester word. Binne hierdie teologiese raamwerk is die kwessie van sonde irrelevant omdat die begeertes van die eie-ek die botoon oor die bepalinge van die Bybel voer. Die god van hierdie wêreld, Mammon, swaai die septer oor die vervalle kerk van Laodicea wat deur die Here Jesus uit sy mond gespuug is. Mammon mislei die moderne geslag om rykdom, populariteit, sukses en ‘n wêreldse selfbeeld na te streef. In hierdie leefwyse is daar plek vir arrogante selfverheerliking, roem op jou eie prestasie, asook vrye teuels aan vleeslike begeerlikhede na drank en al die ander dinge van die wêreld.

Die selfvoldane en selfvergenoegde mens erken nie geredelik sy afhanklikheid van God nie en buig nie maklik die knie voor Hom nie. Die kerk as instituut staan in die diens van die mens om die samelewing nóg meer humanisties te hervorm, met die gevolg dat daar in die totale opset net ‘n gedaante van godsaligheid oorbly.

Die kloof tussen die menseregte-ideologie en die evangelie is onoorbrugbaar. Die humanisme gaan van die standpunt uit dat die mens inherent goed is en slegs deur sy uiterlike omstandighede benadeel kan word. Die evagelie van Jesus Christus stel dit duidelik dat alle mense geestelik bedorwe en van nature sondaars is. Hulle moet deur die wedergeboorte innerlik verander word voordat hulle kinders van God genoem kan word. Hierdie beskrywing van die mens as ‘n sondaar is vir die humaniste totaal onaanvaarbaar, en hulle beskou dit as ‘n belediging.

Laodicéa beeld die rasionele, agnostiese en selfregverdigende mens uit. Hy redeneer alles met sy verstand uit, gevolglik bestaan sy godsdiens net uit uiterlike kennis van die Bybel. Die werklike geloofsaanvaarding van die Here se beloftes oor wedergeboorte en heiligmaking ken hy nie, en doen alles in sy vermoë om dit teologies weg te redeneer. Hierdie ingesteldheid lei tot ‘n naamchristendom en kerke wat hulleself volgens menslike kriteria evalueer en op grond hiervan as baie goed beskou. Dit is egter ‘n ernstige vorm van selfmisleiding omdat hulle nie werklik aan die Here behoort nie. Wanneer hulle wél agterkom dat daar nog iets skort, neem hulle hul toevlug tot kerklike ritusse soos die doop en Nagmaal, asook sielkundige berading en selfs hipnose, om oplossings te soek. Hierdeur dryf hulle ál hoe verder van die Here af weg, omdat daar geen plaasvervanger vir ware geloof is nie (Heb. 4:2; 10:38; 11:6).

Die Here Jesus distansieer Homself van hierdie soort oppervlakkige vormgodsdiens. Nogtans maak Hy steeds met die geestelik “arm en blinde” lidmate bemoeienis deur voor die 20ste eeu se kerkdeur (d.m.v. buitekerklike roepstemme) met hulle te praat en hulle tot bekering op te roep:

“Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My" (Op. 3:20).

Behalwe vir sekere kerke en individuele gemeentes wat beslis nie as Laodicees geklassifiseer kan word nie, is die meeste van die leidende kerke besig om kompromie met die wêreld te maak en kliphard politieke, ekonomiese en maatskaplike oplossings vir die mens se probleme te soek. Die teologiese verval en oppervlakkige waardes wat hiermee gepaard gaan, sal voortduur totdat die Here die ware gelowiges kom haal.

As gevolg van sy selfgesentreerdheid en ingesteldheid op wêreldse kwessies, is die eindtydse kerk geestelik bankrot en profeties uitsigloos. Die wegraping van die bruidsgemeente sal dus vir sy teoloë, leraars en lidmate as ‘n geweldige skok kom wat nie sonder ‘n diepgaande herwaardering van Bybelse feite verklaar sal kan word nie. Geseënd is hulle wat wél vir antwoorde na die Bybel gaan en hulle saak met die Here regmaak. Die ander sal op die weg van misleiding voortgaan en tot hulle eie ondergang ‘n verbond met die Antichris sluit.

DIE EINDE VAN DIE KERKBEDELING

Dit is baie belangrik om hier aan die einde van die kerkbedeling 'n absoluut korrekte profetiese perspektief te hê. Die Here Jesus het gewaarsku dat dit 'n tyd sal wees waarin grootskaalse misleiding op sowel die kerk as die uitverkore volk [Israel] toegespits sal word:

“Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei" (Matt. 24:24).

Satan werp nou alles in die stryd om kerke en Christelike groepe deur middel van buite-Bybelse profesieë (drome, visioene, tale en uitsprake deur selfverklaarde profete) op 'n dwaalspoor te bring deur hulle te mislei en verkeerde verwagtinge oor nuwe openbarings van God by hulle te skep.

'n Valse herlewing

Groot aansprake word deur baie predikers gemaak oor 'n geweldige herlewing wat in die eindtyd sal uitbreek. Dit sal met skouspelagtige tekens en wonderwerke gepaard gaan en miljoene mense sal deur God ‘aangeraak’ word.

Ruim geleentheid word aan die duiwel gebied om dié herlewingsbeweging binne te dring deur middel van valse profete as ‘spesiale gesante van God’ (2 Kor. 11:13-15). Op ‘n baie subtiele wyse verkondig hulle ‘n valse evangelie en bied ook aan naïewe gehore ‘n skewe voorstelling van Jesus, met die klem op sintuiglik waarneembare wonderwerke (2 Kor. 11:3-4). Ervarings van hierdie aard word dan met wedergeboorte gelykgestel. Op hierdie wyse raak vreemde geeste vaardig onder mense en laat hulle histeries lag, dans, blaf, brul, kraai en ander dieregeluide maak. Baie van hulle word ook ‘dronk in die gees’ by ‘nuwe wyn’-byeenkomste. Ander vreemde manifestasies kom voor, soos goudstof wat op mense se hande, arms of in hulle hare verskyn. In een só ‘n geval in Pretoria is die goudstof met ‘n elektronmikroskoop getoets, waarna dit geblyk het dat dit plastiek blinkertjies was wat in winkels verkoop word.

Verskeie valse profete is by hierdie valse herlewing betrokke, bv. Kenneth Hagin, Benny Hinn, John Kilpatric, Rick Joyner, Kenneth Copeland, John Wimber en Rodney Howard-Browne. Duisende ander pastore het hierdie nuwe ‘herlewingsgees’ in Toronto, Brownsville, Pensacola of elders gaan soek en in hulle gemeentes vrygestel. Vir hulle was dit ‘n kortpad na roem, sukses en baie geld, daarom het hulle nooit hierdie beweging, sy metodes en absurde manifestasies, aan ‘n streng Bybelse toets onderwerp nie. Sodoende het die valse herlewing maklik gevestig geraak.

Koninkryk-teologie

‘n Sterk beweging is onder baie kerke en groepe aan die gang om die koninkryk van God te laat kom deur middel van ‘n tekens, wonderwerke, voorspoed, Christelike rekonstruksionisme, goddelike openbarings deur profete en apostels, ekumeniese eenheid in die kerk, asook ‘n onbybelse vorm van geestelike oorlogvoering waardeur die Satan se bose vestings oor dorpe, stede en lande verbreek word. Wanneer satansmag in sekere gebiede deur die gesamentlike gebede van die ekumeniese Christendom gebreek is, dan is die pad oop vir herlewing en skouspelagtige Christelike transformasies in die samelewing. Leidende persone in hierdie beweging is C. Peter Wagner en George Otis jnr.

Die koninkryksteologie dwaal grootliks omdat die koninkryk van die hemel eers sigbaar op aarde geopenbaar sal word nadat die Koning gekom het. Voor die tyd leef ons in ‘n wêreld wat in die mag van die Bose lê, en moet ons in ‘n donker, vyandige wêreld as Christene uitstaan. Die werke van die duiwel word verbreek in die lewens van mense wat hulleself tot die Here bekeer. Daar is nie enige sprake daarvan dat sg. ‘gebiedsdemone’ nou oorwin en uitgewerp kan word nie. Geestelike oorlogvoering moet dus op ‘n persoonlike vlak beoefen word, en nie op ‘n kollektiewe, geografiese vlak nie. Elkeen van ons moet die wapenrusting van God aantrek, sodat ons staande kan bly teen die liste van die duiwel. Ons sal nie nou stede en dorpe vir die koninkryk van die hemel kan verower nie, omdat die meeste mense die duisternis liewer het as die lig, en dus verkies om in sonde te leef. Die bewandelaars van die smal weg is nou ‘n minderheid. Hulle regeer beslis nie tydens die kerkbedeling as konings nie, maar is vreemdelinge en bywoners in ‘n goddelose wêreld.

‘n Ware herlewing

Daar is wel ‘n ware herlewing in die eindtyd, maar dit vind te midde van ‘n tydsgees van groot geestelike verval plaas, en is tot relatief klein groepies mense beperk. Die Here Jesus het gesê: “Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen… en laat die heilige nog heiliger word” (Op. 22:11). Daar ís ‘n beweging onder ware kinders van die Here na meer heiligheid en ‘n absolute distansiëring van die ongeregtigheid van die wêreld.

Die herstel van Israel

Een van die duidelikste tekens dat ons baie naby aan die einde van die kerkbedeling is, is die herstel van die stad Jerusalem. Die Here Jesus het gesê: “Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:24). Daar kom ‘n bybelse herstelfase vir Jerusalem as die hoofstad van Israel. Vir die kerk kondig dit die naderende einde van die tyd van wêreldevangelisasie aan, wanneer die nasies die geleentheid het om in die koninkryk van die hemel in te gaan.

            Jerusalem is in 70 n.C. deur die Romeine verwoes, en die internasionale ballingskap van Israel onder die nasies het toe begin. Dit sou vir byna 2000 jaar lank voortduur. In Mei 1948 het Israel met ‘n relatief klein bevolking onafhanklikheid in sy eie land verkry. Bybelse Jerusalem (die Ou Stad, of die Stad van Dawid) is in die Sesdaagse Oorlog in Junie 1967 deur Israel van Jordaniese beheer bevry. In Augustus 1980 het die destydse eerste minister, Menachem Begin, sy kantoor van Tel Aviv af na Jerusalem verskuif en Jerusalem tot die ewige en onverdeelbare hoofstad van Israel verklaar. Dit het nie net vir Israel nie, maar die hele wêreld uit ‘n Bybelse oogpunt in ‘n eindtydse situasie geplaas. Die tye van die nasies sal weldra verby wees, dan breek die oordele van die Here aan vir diegene wat hulle nie wou bekeer nie.

Die huidige stryd om die beheer oor Jerusalem gaan tot groot oorloë lei, wat ook met die tyd van die wederkoms van Christus geassosieer is (Sag. 12:2-3; 14:2-13). Die leërs van die nasies sal in Israel versamel word sodat die Here met hulle in die gerig kan tree omdat hulle gehelp het om die land Israel te verdeel en die Joodse volk te verdruk (Joël 3:1-2). Uit dié verwikkelinge weet ons dat die einde van die kerkbedeling op hande is.