1. inleiding tot die Boek Openbaring

Openbaring is belangrik omdat dit die laaste goddelik geïnspireerde bybelboek is wat geskryf is. Dit is korrek as die laaste boek in die Bybel geplaas. Soos wat die Nuwe Testament in die vier Evangelies met die eerste koms van Christus open, so beëindig Openbaring die Nuwe Testament met die algemene tema van Jesus Christus se tweede koms.

Volgens proff. Walvoord en Zuck (The Bible Knowledge Commentary) is Openbaring die finale ontplooiing van verskeie openbaringslyne wat deur die Ou- en Nuwe Testamente loop. Dit dui die finale vervulling van talle onvervulde profesieë aan.

Die wederkoms van Jesus en die sewe jaar van die verdrukking wat dit direk voorafgaan, word in Openbaring in veel meer detail as in enige ander bybelboek beskryf. In die boek Daniël word die tydperk tussen Daniël en die eerste koms van Christus beskryf, terwyl hy in minder detail ook na die Antichris, die groot verdrukking en Christus se regering op aarde ná sy wederkoms verwys.

In Openbaring word die groot eindtydse gebeure egter in besonderhede beskryf, en word die profetiese perspektief verder tot by die skepping van die nuwe hemel en nuwe aarde deurgetrek. Openbaring bou dus voort op, en verskaf ook die finale ontplooiing van, dit wat in Daniël en ander profetiese boeke beskryf is.

Outeurskap

In Openbaring 1:1 word uitdruklik gesê dat die boek deur die Here se dienskneg, Johannes, geskryf is. Die meeste evangeliese geleerdes aanvaar die feit dat die apostel Johannes die outeur van die boek is. Toe Johannes die visioene ontvang het, was hy ‘n banneling op die eiland Patmos. Hy is daarheen verban deur keiser Domitianus wat van 84 tot 96 n.C. as ‘n tiran in Rome regeer het. Domitianus was ‘n tweede Nero wat die Christendom wortel en tak probeer uitroei het. Hy het keiserlike aanbidding geëis. Christene wat geweier het om hulle hieraan te onderwerp, is op die wreedste denkbare maniere vervolg, gemartel en doodgemaak.

Hierdie keiser het vir Johannes, wat as ‘n ou man die gemeente in Éfese bedien het, na Patmos verban. Só het Johannes op ‘n klein, rotsagtige eilandjie in die Egéïese See tussen Klein Asië [die huidige Turkye] en Griekeland beland. Hier het hy tot met die dood van Domitianus in 96 n.C. gebly, waarna hy toegelaat is om na Éfese terug te keer. Die boek Openbaring is in 95 n.C. op hierdie eiland geskryf.

Die groot vraag wat sekerlik vir Johannes op Patmos moes geteister het, was: “Wat gaan van die kerk van Christus word te midde van al die vervolging?” In antwoord hierop ontvang hy op die eensame eiland ‘n visioen oor toekomstige gebeure uit die hemel. Hierin is nie net die groot stryd van Satan teen die koninkryk van God geopenbaar nie, maar ook die uiteindelike oorwinning van Christus oor die magte van die duisternis. In skrille kontras word die heerlikheid en heerskappy van die Here teenoor die rebellie, oordele en verdoemenis van die sondaars en hulle misleiers, die duiwel, die Antichris en die valse profeet, gestel.

Die doel van die boek

Die doel van die boek is om dinge te openbaar wat kort vóór, gedurende, en direk ná die wederkoms van Jesus Christus sal plaasvind. In ooreenstemming met hierdie doel word die grootste deel van die boek aan gebeure van die laaste sewe jaar voor Jesus se wederkoms gewy, soos in Openbaring 4 tot 18 beskryf. Die wederkoms self word op dramatiese wyse in Openbaring 19 beskryf, gevolg deur die duisendjarige vrederyk van Christus in Openbaring 20, en die eindoordeel daarna. In Openbaring 21 en 22 word die ewige lewe in die nuwe hemel en op die nuwe aarde geopenbaar, asook die ewige straf vir sondaars.

Die boek Openbaring voltooi die profetiese temas wat in ander boeke van die Ou- en Nuwe Testament bespreek is, veral dié in die boek Daniël en die profetiese rede van die Here Jesus. Belangrike teologiese stellings word ook gemaak – nie net oor die eskatologie (die leer oor die eindtydse dinge) nie, maar ook oor die verlossingsleer, heiligmaking, Christelike diensbaarheid en die volharding wat die heiliges te midde van stryd en aanvegtinge aan die dag moet lê. Kennis van en ‘n verwagting oor God se toekomstige program is ‘n groot aansporing tot ‘n heilige lewenswandel en ‘n onkreukbare toewyding aan Christus in ‘n vervallende wêreld. Petrus sê:

“Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? – julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas” (2 Pet. 3:11-12).

Die dag van die Here

Die visioene wat Johannes ontvang, word duidelik binne die konteks van die dag van die Here geplaas. Hy sê: “Ek was in die Gees op die dag van die Here” (Op. 1:10). Die uitdrukking "Ek was in die Gees" verwys na die ervaring waarin ‘n mens weggevoer word tot ‘n staat waarin God op ‘n bonatuurlike wyse met die mens kommunikeer. Dit was ook die ervaring van Eségiël (Eseg. 2:2, 3:12 en 14), Petrus (Hand. 10:10-11 en 11:5), en Paulus (Hand. 22:17-18).

Daar is mense wat verkeerdelik die uitdrukking “die dag van die Here” tot 'n Sondag of selfs die Sabbat wil beperk. Nêrens in die Bybel word na Sondag as “die dag van die Here” verwys nie, maar deurgaans as “die eerste dag van die week” (vgl. Matt. 28:1, Mark. 16:2, Luk. 24:1, Joh. 20:1 en 19, Hand. 20:7 en 1 Kor. 16:2).

Die uitdrukking “die dag van die Here” dra duidelik ‘n eindtydse [eskatologiese] betekenis. Verskeie van die Ou Testamentiese profete het hierna verwys. Die visioene wat Johannes op Patmos ontvang het, het ook op die komende dag van die Here betrekking. Johannes praat van die dag van die Here wanneer sy oordele oor die sondaars uitgestort sal word. In dié ‘dag’ sal paniekbevange mense vir die berge en rotse sê:

“Val op ons en verberg ons vir aangesig van Hom wat die troon sit, en vir die toorn van die Lam, want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Op. 6:16-17).

In Openbaring 16:14 word na die komende slag van Armagéddon verwys as “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God.”

Jesaja sê in hoofstuk 2:12 dat daar ‘n dag vir die Here is wanneer Hy al die trotses en verhewenes sal verneder. In hoofstuk 13:6 en 9 sê hy die dag van die Here kom as ‘n verwoesting van die Almagtige. Hierdie dag sal verskriklik wees, met grimmigheid en toorngloed, om die aarde ‘n woesteny te maak en sy sondaars daaruit te verdelg. In hoofstuk 34:8 noem hy die dag van die Here ‘n dag van wraak en ‘n jaar van vergelding.

Joël sê in hoofstuk 1:15 dat die dag van die Here kom soos ‘n verwoesting van die Almagtige. In hoofstuk 2:11 sê hy: “Want die dag van die Here is groot en uitermate vreeslik, en wie kan dit verdra?” In hoofstuk 3:14 sê hy dat daar in dié dag menigtes van mense in die dal van beslissing sal wees waar die Here hulle sal oordeel.

Die geweldige oorloë wat in die groot verdrukking in en om Jerusalem sal uitbreek, word in Sagaria 14 spesifiek aan die dag van die Here verbind. In hierdie hoofstuk word die wederkoms van Jesus ook beskryf, wanneer Hy sy voete op die Olyfberg sal sit. Hy sal deur ‘n hemelse leërskare gevolg word en met sy vyande, wat ook die oorblyfsel van Israel sal probeer verdelg, in die gerig tree en hulle oordeel.

Maleági sê in hoofstuk 3:2: “Maar wie kan die dag van sy koms verdra? En wie kan standhou as Hy verskyn?” In hoofstuk 4:1 en 2 sê hy: “Want kyk, die dag kom, en dit brand soos ‘n oond. Dan sal al die vermeteles en almal wat goddeloosheid bedrywe, ‘n stoppel wees; en die dag wat kom, sal hulle aan die brand steek, sê die Here van die leërskare… Maar vir julle wat my Naam vrees, sal die son van geregtigheid opgaan, en daar sal genesing onder sy vleuels wees.” Die sondaars word geoordeel en die gereddes verheerlik.

In 1 Thessalonicense 5:1-11 verwys Paulus ook na die dag van die Here wat sal kom soos ‘n dief in die nag. Petrus sê dat die aarde en die werke daarop in die dag van die Here sal verbrand en versmelt (2 Pet. 3:10-12). Aangesien lg. oordeel aan die einde van die duisendjarige vrederyk sal plaasvind (vgl. Op. 20:7-15), is dit duidelik dat die dag van die Here ook die vrederyk insluit wanneer Christus Koning sal wees (Sag. 14:8-9).

Johannes en die vroeë kerkvaders

Om meer duidelikheid oor Openbaring se futuristiese strekking te kry, sal vasgestel moet word wat Johannes self daaroor geleer het toe hy van Patmos af vrygelaat is en sy bediening in Klein Asië voortgesit het. Kerkvaders wat sy leerlinge was, gee duidelik hieroor uitsluitsel en laat blyk dat veel gesprek oor hierdie onderwerp gevoer is. Die volgende inligting is hoofsaaklik uit ds. W.H.M. Oosthuizen se boek As die seun van die mens kom (bl. 106-108) verkry:

Papias, die biskop van Smirna, was ‘n leerling van Johannes en het eerstehands van die outeur se eie beskouinge oor die boek Openbaring kennis geneem. Hierdie kerkvader se siening is baie belangrik omdat hy die skakel tussen die chiliastiese tradisie en die apostels is. Papias het geleer dat daar ná die opstanding van die dode ‘n koninkryk van Christus op aarde sal wees wat ‘n duisend jaar lank sal duur, en waarin Christus liggaamlik as Koning op die troon sal sit. Die aarde sal ‘n tyd van ongekende vrugbaarheid beleef, en te midde van groot voorspoed sal Christus met sy heiliges regeer. Justinus het vroeg in die tweede eeu hieroor geskryf:

“’n Sekere man onder ons, wie se naam Johannes is, een van die apostels van Jesus, het geprofeteer in ‘n openbaring wat hy gehad het, dat diegene wat in ons Here Jesus glo, ‘n duisend jaar in Jerusalem sal deurbring.”

‘n Ander kerkvader, Polikarpus, wat een van die jongste leerlinge van die apostel Johannes was, was ‘n vroom Christen wat ook ‘n marteldood gesterf het. Op die gesag van Johannes het hy geleer dat die aarde gedurende die duisendjarige vrederyk baie vrugbaar sal wees.

Ook van belang is die beskouinge van Ireneüs wat uit die mond van sy leermeester, Polikarpus, gehoor het wat die standpunt van Johannes was. Hy leer dat die loon van die regverdiges daarin sal bestaan dat hulle tussen die dode sal opstaan wanneer die skepping vernuwe en vrugbaar gemaak word. Hy het die mening gehuldig dat elkeen van die ses skeppingsdae op ‘n duisend jaar dui en dat die wêreldgeskiedenis dus, nadat sesduisend jaar verloop het, deur die sewende dag opgevolg sal word wat ook ‘n duisend jaar sal duur.

Hierdie laasgenoemde gedagte word by verskeie kerkvaders aangetref, onder andere Cyprianus, Barnabas en Laktantius. In dié verband verklaar die Schaff-Herzog Ensiklopedie:

“Die algemene beskouing van die vaders was dat die Here aan die end van die sesde millennium sou verskyn. Die ou beskouing was dat hierdie koninkryk, wat met die sabbat van die skepping ooreenstem, ‘n duisend jaar sal duur.”

Huidige interpretasie van die boek

Die verklaring van Bybelse profesieë is ‘n onderwerp van groot omstredenheid, en Christene word na aanleiding daarvan in verskillende leerstellige skole geplaas. Mense wat die profetiese woord op ‘n letterlike, dispensasionele wyse verklaar, word chiliaste genoem. Dit is van die Griekse woord chilios afgelei wat duisend beteken, en verwys na diegene wat in ‘n letterlike, duisendjarige vrederyk op aarde glo wat ná die wederkoms van Jesus Christus sal aanbreek. ‘n Sinoniem vir die begrip chiliasme is millennialisme wat van die Latynse woord vir duisend, nl. mille, afgelei is. ‘n Persoon wat nie in ‘n letterlike duisendjarige ryk glo nie, word ‘n antichilias of ‘n amillennialis genoem. Sulke mense is geneig om deur middel van vergeesteliking aan verskeie begrippe in die Bybel ander betekenisse te gee.

As gevolg van hierdie omstredenheid word verskillende eksegetiese of verklarende beginsels vir Bybelse profesieë gebruik. Sommige daarvan wyk só ver van die grondbetekenis van die teks af dat dit die goddelike inspirasie van die Bybel in die gedrang bring. Die volgende is die vier algemeenste teologiese benaderings tot Bybelse profesieë:

1. Historiese premillennialisme

Tot ongeveer die einde van die vierde eeu n.C. was historiese premillennialisme die mees algemene beskouing oor eindtydse gebeure. In terme hiervan is verwag dat daar in die eindtyd ‘n Antichris sal opstaan en dat die kerk deur die tyd van verdrukking sal moet gaan. Aan die einde van die verdrukking sal die gelowige ontslapenes opstaan en saam met die lewende gelowiges na die hemel weggevoer word. Hulle sal dan dadelik, tydens Christus se wederkoms, saam met Hom terugkeer aarde toe sodat Hy die groot verdrukking kan beëindig, die Antichris en sy hordes verdelg, die oorblyfsel van Israel red en sy duisendjarige vrederyk met Jerusalem as hoofstad vestig. Almal behalwe een van die vroeë kerkvaders wat oor die profesieë gskryf het, het hierdie siening gehuldig.

Om meer duidelikheid oor die millennium se futuristiese strekking te kry, sal vasgestel moet word wat die apostel Johannes self daaroor geleer het toe hy van Patmos af vrygelaat is en sy bediening in Klein Asië voortgesit het. Kerkvaders wat sy leerlinge was, gee duidelik hieroor uitsluitsel en laat blyk dat veel gesprek oor hierdie onderwerp gevoer is. Die volgende inligting is hoofsaaklik uit ds. W.H.M. Oosthuizen se boek As die seun van die mens kom (bl. 106-108) verkry:

Papias, die biskop van Smirna, was ‘n leerling van Johannes en het eerstehands van die outeur se eie beskouinge oor die boek Openbaring kennis geneem. Hierdie kerkvader se siening is baie belangrik omdat hy die skakel tussen die chiliastiese tradisie en die apostels is. Papias het geleer dat daar ná die opstanding van die dode ‘n koninkryk van Christus op aarde sal wees wat ‘n duisend jaar lank sal duur, en waarin Christus liggaamlik as Koning op die troon sal sit. Die aarde sal ‘n tyd van ongekende vrugbaarheid beleef, en te midde van groot voorspoed sal Christus met sy heiliges regeer. Justinus die Martelaar het vroeg in die tweede eeu hieroor geskryf: “’n Sekere man onder ons, wie se naam Johannes is, een van die apostels van Jesus, het geprofeteer in ‘n openbaring wat hy gehad het dat diegene wat in ons Here Jesus glo, ‘n duisend jaar lank in Jerusalem sal deurbring.” Justinus het gesê dat dit kettery was om anders as chiliasties te glo.

‘n Ander kerkvader, Polikarpus, wat een van die jongste leerlinge van die apostel Johannes was, was ‘n vroom Christen wat ook ‘n marteldood gesterf het. Op die gesag van Johannes het hy geleer dat die aarde gedurende die duisendjarige vrederyk baie vrugbaar sal wees.

Ook van belang is die beskouinge van Ireneüs wat uit die mond van sy leermeester, Polikarpus, gehoor het wat die standpunt van Johannes was. Hy leer dat die loon van die regverdiges daarin sal bestaan dat hulle tussen die dode sal opstaan wanneer die skepping vernuwe en vrugbaar gemaak word. Hy het die mening gehuldig dat elkeen van die ses skeppingsdae op ‘n duisend jaar dui en dat die wêreldgeskiedenis dus, nadat sesduisend jaar verloop het, deur die sewende dag opgevolg sal word wat ook ‘n duisend jaar sal duur. Hierdie laasgenoemde gedagte word by verskeie kerkvaders aangetref, onder andere Cyprianus, Barnabas en Laktantius. In dié verband verklaar die Schaff-Herzog Ensiklopedie:

“Die algemene beskouing van die vaders was dat die Here aan die end van die sesde millennium sou verskyn. Die ou beskouing was dat hierdie koninkryk, wat met die sabbat van die skepping ooreenstem, ‘n duisend jaar sal duur.”

2. Amillennialisme (antichiliasme)

Hierdie denkrigting vloei voort uit die aanname dat Bybelse stellings nie letterlik opgeneem moet word nie, maar allegories of geestelik. Dié interpretasie het sy oorsprong in die Alexandrynse teologiese skool in die derde en vierdie eeue gehad.

Origenes (geb. 185 n.C.) is die vader van die allegoriese interpretasie en het heelwat boeke oor die verstaan van die Bybel geskryf. Hy was egter sterk onder die invloed van die Griekse filosofie van Plato, en wou filosofies meeleef maar tóg ook Christen bly. Prof. F.J.M. Potgieter skryf soos volg oor hom:

“Origenes vind tóg ‘n poort waardeur hy aan filosofiese denke toegang kan verleen. Daar is naamlik ‘n drieërlei eksegese (interpretasie) van die die Bybel:

·       Somatiese of letterlike eksegese wat vir die eenvoudige genoeg is;

·       die psigiese of morele vir die gevorderdes; en

·       die pneumatiese of allegoriese vir diegene wat die wysheid besit.

Dié wat die wysheid het, moet deur die simbole heen dring en na die misterieuse opklim. Deur hierdie eksegese het hy die weg geopen vir allerlei dwalinge en metafisiese spekulasie.”

In die lig van bogenoemde is dit ook glad nie snaaks dat Origenes nie alleen die vader van die allegorie is nie, maar ook van die antichiliasme. Die werklike bestaan was vir hom in die filosofies-geestelike gnosis (godsdienstige waarheidskennis) geleë waarheen elkeen moet vorder. Daar kan dus geen sprake van ‘n fisiese koningskap van Christus wees nie. Ons vind derhalwe hier ‘n baie bedenklike oorsprong van allegoriese interpretasie en van antichiliasme as sodanig!

Die opkoms van antichiliasme hang verder ook saam met die optrede van keiser Konstantyn, wat Christen-vervolging in die Romeinse Ryk vroeg in die vierde eeu afgeskaf en die kerk tot staatskerk verhef het. Die vrede en beskerming wat die Romeine gebied het, het die kerk se toekomsverwagting na die wederkoms van Christus en die vestiging van sy vrederyk aansienlik laat afneem. Dit het die idee laat posvat dat die duiwel nou gebind is en dat die kerkbedeling die vrederyk op aarde is.

Die persoon wat seker die meeste daartoe bygedra het om chiliasme te bestry, was die kerkvader Augustinus. Sy optrede was teen die einde van die vierde eeu n.C. Hy het geglo dat ten spyte van die ineenstorting van aardse ryke soos die eens magtige Romeinse Ryk, die koninkryk van God (die kerk) nie alleen staande sal bly nie, maar sal triomfeer en sy invloed onder alle nasies sal uitbrei. Dit het Augustinus tot die gevolgtrekking laat kom dat die kerkbedeling tussen die eerste en tweede koms van Christus, die koninkryksbedeling (vrederyk) is waartydens die kerk op aarde sal regeer. Hy het tipiese koninkryksmagte aan die kerk toegeskryf, asook sakramente met saligmakende krag, en sodoende die teologiese grondslag vir die Rooms-Katolieke Kerk gelê. Protestantse hervormers soos Luther en Calvyn is egter ook sterk deur sy antichiliastiese koninkryksteologie beïnvloed, en dié invloede bestaan vandag nog.

Teoloë wat hierdie siening huldig, glo nie in ‘n letterlike millennium nie, en is dus amillennialiste of antichiliaste. Hulle is sterk daarop ingestel om Bybelse begrippe te vergeestelik en dan ander betekenisse daarin te lees (vervangingsteologie). Na aanleiding hiervan kan Israel of Jerusalem die kerk word, die 144 000 geredde Jode van Openbaring 7 kan die gelowiges van alle tye word, die sewe jaar lange verdrukking kan met die kerkbedeling gelykgestel word, ens. Min dinge in die Bybel word letterlik verklaar.

3. Postmillennialisme

Sedert die middel van die 16de eeu het ‘n nuwe siening oor die vervulling Bybelse profesieë posgevat, nl. postmillennialisme. In terme hiervan sal die wêreld gaandeweg as gevolg van evangelisasie ‘n beter plek word om in te bly, en sal die millennium van die kerkbedeling uiteindelik aanbreek. Aan die einde van die “goue eeu” van ‘n Christelike wêreld, sal Jesus Christus vir die finale oordeel terugkom. Volgens postmillennialiste sal daar nie ‘n verdere bedeling van die koninkryk van God op aarde, met Jerusalem as hoofstad, wees nie.

Die kerkhervorming, asook die opkoms van Europese koloniale moondhede (veral die vinnige uibreiding van die Britse ryk) het die idee by sommiges laat ontstaan dat sendelinge die evangelie oor die hele wêreld sou uitdra, en dat dit uiteindelik sou lei tot ‘n Christelike wêreld waarin daar reg en geregtigheid geskied. Christelike hervorming en rekonstruksionisme moet dus voortdurend plaasvind totdat hierdie ideaal bereik is.

Hierdie mense glo duidelik nie dat die wêreld geestelik en moreel ál hoe donkerder word, met relatief min wat na die smal weg oorkom, en uiteindelik op die groot verdrukking onder die bewind van die Antichris afstuur nie. Die wêreld moet beter word sodat die millennium voor die wederkoms van Christus kan aanbreek.

Verskeie postmillennialistiese groepe huldig nog steeds hierdie ideaal. Sommige van dié beweging se leiers tree tot die politiek toe in die hoop dat Here Christene in sleutelposisies sal plaas om die wêreld vir die koninkryk van God te kan oorneem. Ander bewegings en kerkgroepe wend hulle tot ‘n bonatuurlike magspel van tekens en wonders om sodoende die wêreld aan hulle voete te kry en ‘n groot herlewing tot stand te bring. Ander probeer om deur middel van strategiese geestelike oorlogvoering die vestings van Satan te verbreek en hom dan van die planeet aarde af te verdryf sodat hy die nasies nie meer kan verlei nie.

Al hierdie koninkryksgroepe kyk nie na ‘n toekomstige koninkryk wat eers met die wederkoms van Christus geopenbaar sal word nie, maar na een wat deur die kragtige bemiddeling van die kerk van Christus nóú geskep moet word. ‘n Verwagting van hierdie aard is duidelik uit voeling met die strekking van Bybelse profesieë.

4. Moderne, dispensasionele premillennialisme

J.N. Darby (geb. 1800 in Londen) was ‘n uitstaande teoloog wat die grondslag gelê het vir die hervestiging van dispensasionalisme in die kerk. In die boek When the Trumpet Sounds (bl. 127-8) sê prof. Floyd Elmore van Ohio, VSA, dat John Darby in die afgelope 150 jaar die grootste invloed op die studie van Bybelse profesieë gehad het. Hy was ‘n voortreflike dienskneg van God wat gebruik is om die regte vertolking van Bybelse profesieë te bevorder. Prof. Elmore sê: “Darby is the acknowledged father of systematised dispensationalism and a key modern developer of the pretribulational rapture.”

Verskeie skrywers het ook belangrike bydraes oor hierdie onderwerp gemaak, bv. Joseph Seis (The Apocalypse), Clarence Larkin (Dispensational Truth), Robert Gundry (The Church and the Tribulation), J. Barton Payne (The Imminent Appearing of Christ) John Walvoord (The Rapture Question, The Revelation of Jesus Christ en The Blessed Hope and the Tribulation). Gedurende die laaste twee dekades het talle nuwe boeke oor dié onderwerp verskyn, asook chiliastiese Bybelkommentare (bv. Walvoord & Zuck: The Bible Knowledge Commentary).

In dispensasionele teologie word die Bybel letterlik verklaar vanuit die perspektief van God se handelinge met die mens in opeenvolgende bedelings. Die kerkdispensasie word deur die wegraping afgesluit sodat die volgende bedeling (die verdrukking van sewe jaar tydens die Antichris se regering) kan aanbreek. Omdat die verdrukking ook met goddelike oordele gepaard gaan, sal die ware kerk van Christus voor die tyd weggeneem word omdat hulle nie vir God se toorn oor die sondaars bestem is nie. ‘n Voor-verdrukking-wegraping is dus ‘n noodsaaklike deel van moderne dispensasionele premillennialisme.

Die begrip “premillennialisme” bevat die betekenis dat Jesus Christus se wederkoms voor die millennium sal plaasvind, en trouens ‘n voorvereiste vir die aanbreek en openbaring van sy duisendjarige vrederyk (die millennium) is. Vir die eerlike Bybelstudent is dit in elk geval duidelik dat ons nie nou in die duisendjarige vrederyk is waarin die duiwel gebind is nie. Die duiwel loop tans rond soos ‘n brullende leeu om te kyk wie hy kan verslind (1 Pet. 5:8). As gevolg van sy sterk invloed oor die oorgrote meerderheid mense lê die hele wêreld in die mag van die Bose (1 Joh. 5:19). Ons bevind onsself dus in “die teenwoordige bose wêreld” (Gal. 1:4) waaruit die Here ons wil red.

Premillennialisme is tot die letterlike grondbetekenis van die Skrif verbind, behalwe waar dit uit die konteks baie duidelik is dat simboliese taal gebruik word. Voorbeelde van sulke simbole is die rooi draak met sewe koppe, wat in die Bybel self as die duiwel beskryf word. Simbole het dus meesal ‘n lettterlike teëbeeld, soos ook die Lam wat op Christus dui. Wanneer die Bybel egter oor Israel, die Antichris, die groot verdrukking, die valse profeet, die slag van Armagéddon, die wederkoms van Christus en die binding van Satan in ‘n put vir eenduisend jaar praat, is daar geen gronde hoegenaamd om hierdie begrippe simbolies of allegories te verklaar nie.

Beoordeling van die vier denkrigtings

Die vier denkrigtings wat hierbo beskryf is, kan kortliks soos volg geëvalueer word:

Historiese premillennialisme het wel ‘n duidelike begrip van ‘n toekomstige vrederyk met ‘n herstelde Israel en Jerusalem as wêreldhoofstad, maar geen insig in die belofte van die wegraping van gelowiges as ‘n ontvlugting uit die rampgebied van goddelike oordele nie. Waarskynlik as gevolg van die gruwelike vervolging van die vroeë kerk, het hulle gemeen dat die kerk ook deur die tyd van verdrukking onder die Antichris sal moet gaan. Hulle het egter in gebreke gebly om te onderskei tussen God se oordele oor die goddeloses, en die vervolging van Christene ter wille van hulle geloof deur 'n wêreld wat in die mag van die Bose lê. In laasgenoemde geval is dit nie God wat mense oordeel of straf nie. In die groot verdrukking, egter, sal God (soos in die tyd van Noag en Lot) die ongelowiges straf en dus seker maak dat die gelowiges eers na ‘n plek van veiligheid weggeneem is voordat Hy sy oordele oor die goddeloses uitstort.

Daar is huidiglik ook mense wat gedeeltelik of ten volle die historiese premillennialisme aanhang deur te beweer dat die wegraping eers in die middel of aan die einde van die verdrukking sal plaasvind, of dat daar hoegenaamd geen wegraping sal wees nie.

In die Amillennialisme (antichiliasme) het die boodskap van die meeste Bybelse profesieë as gevolg van die vergeestelikingsbeginsel hulle letterlike betekenis verloor en dus grootliks afgewater of selfs irrelevant geraak. Antichiliasme is dus tot ‘n allegoriese of ‘n historiese verklaring van Bybelse profesieë verbind. Die meeste antichiliastiese ‘kenners’ het ook hulle eie weergawe van die vervulling van Bybelse profesieë. Sommige beweer dat die Romeinse keiser Nero in die eerste eeu die Antichris was, ander sê dat een van die pouse in dié rol pas, terwyl Hitler, Stalin en ander diktators ook al as die Antichris bestempel is. Dan is daar dié antichiliaste wat beweer dat daar nooit ‘n persoonlike Antichris was of sal wees nie, omdat dié begrip net as ‘n onpersoonlike element van boosheid gesien word. So ook word die volk Israel sy identiteit en land ontneem en word die begrip Israel op die Nuwe Testamentiese kerk toegepas. Gebeure in Israel spreek hulle dus nie aan nie.

            ‘n Antichiliastiese siening tas die geloofwaardigheid van die profetiese woord aan, en lei daartoe dat mense nie wederkomsgerig leef nie en hulle in die algemeen baie min aan die vervulling van die tekens van die tye steur. Die noodwendige gevolg hiervan is dat hulle as uitsiglose Christene ‘n ál meer materialistiese lewens- en wêreldbeskouing ontwikkel en hulleself feitlik uitsluitlik met sekulêre en verganklike dinge besig hou. Binne hierdie horisontalistiese perspektief word menseverhoudinge, broederliefde, asook moreel-etiese en politieke kwessies van oorheersende belang, en die mens-God-verhouding ál meer op die agtergrond geskuif.

Die postmillennialisme leer dat die wêreld al hoe beter word. Hulle glo dat die Here Jesus se wederkoms ná die huidige ‘vrederyk’ van die kerkbedeling sal plaasvind. Hulle is só behep met koninkryksteologie dat hulle nie skroom om die Bybel totaal buite sy dispensasionele konteks toe te pas ten einde nóú as konings te regeer, voorspoed op te eis en na willekeur tekens en wonders te doen nie. Die vrederyk moet nóú sigbaar word!

Volgens die moderne, dispensasionele premillennialisme (chiliasme) word geglo dat Jesus Christus éérs kom en dán volg die beloofde vrederyk. Chiliaste glo wat in die Bybel staan en kyk gevolglik na die vervulling van ‘n groot aantal Bybelse profesieë vooruit. Chiliasme is nougeset op die grondwaarhede van die Skrif ingestel, veral in die mate waartoe dit ons verhouding met die Here raak. Dit bevorder ‘n duidelike toekomsverwagting by Christene en bring mee dat die Here ‘n groter realitiet in hulle daaglikse lewe word. Hulle is daarop ingestel om wêreldgebeure in die lig van die profetiese woord te vertolk, en sodoende ‘n Bybelse patroon in kontemporêre gebeure te onderskei. Hulle besef die erns van die uur waarin ons leef, gedagtig daaraan dat die bedeling van die kerk na sy einde spoed.

Die betekenis van chiliasme

Binne die raamwerk van 'n chiliastiese n perspektief word die tyd uitgekoop om andere te waarsku om hulle saak met die Here reg te maak. ‘n Groter evangelisasie-ywer word op dié wyse gekweek, omdat die tyd vir die uitvoering van die groot opdrag min geword het. Dit maak jou nog meer aktief omdat jy besef dat jy ‘n vreemdeling en bywoner in ‘n verbygaande wêreld is. Verder spreek die profetiese woord jou aan om voortdurend in ‘n toestand van heiligheid en gereedheid vir die wederkoms te leef, en elke dag reikhalsend na die koms van die Bruidegom uit te sien.

Chiliasme was vir baie lank die oorheersende skrifbeskouing in die Protestantse wêreld totdat dit deur liberale en vrysinnige teologiese verklarings vervang is. Wyle oom Timo Kriel, wat baie boeke vir Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM) in Afrikaans vertaal het, bevestig die feit dat die stigters van die Kweekskool op Stellenbosch almal chiliaste was. In ‘n voorwoord vir prof. J.S. Malan se boek, Die Laaste Nagwaak, sê hy onder meer die volgende hieroor:

“Ek was goed bevriend met die stigters van die kweekskool op Stellenbosch: professore Hofmeyr, Marais, De Vos, Muller en ds. Neethling. Hulle was almal chiliaste; trouens, daar was geen ander standpunt bekend nie. Antichiliasme het baie later uit Holland hier aangekom en die oorsaak geword dat ‘n menigte wagters op Sionsmure dié waarhede op hulle boonste rakke weggepak het en ‘n dodelike swye daaroor bewaar. Wat gaan God van hulle eis?”

'n Geesgenoot en produk van bogenoemde teoloë, dr. D.R. Snyman, wat ‘n NG predikant in Stellenbosch was, was 'n baie bekende chiliastiese skrywer wat verskeie artikels in die tydskrif Kyk, Hy kom! gepubliseer het. Op aandrang van die publiek is hierdie artikels later in 'n boek saamgevat en deur CUM uitgegee onder die titel: Die komende Christus en die komende krisis. Hierin word die tekens van die tye, die herstel van Israel, die wegraping, die verskyning van die Antichris en die duisendjarige vrederyk beskryf. In die voorwoord van sy boek skryf dr. Snyman:

“Ons dink met dankbaarheid terug aan die ondersoek van die profesieë deur manne soos wyle prof. N.J. Hofmeyr, ds. G.W.A. van der Lingen, ds. S.J. du Toit, prof. C.F.J. Muller en prof. J.I. Marais. Laasgenoemde het hom in sy latere jare in die besonder toegelê op die bestudering van die profesieë. Hy was van plan om 'n uitleg van die boek Openbaring te publiseer. Sy skielike dood het die verskyning van die boek verhinder.”

Al hierdie werke het 'n chiliastiese (premillennialistiese) verwysingsraamwerk gehad. Ongelukkig is navorsing van dié aard deur die antichiliastiese siening wat veral uit die Vrye Universiteit in Holland hierheen oorgedra is, onderdruk. Die teologie in Europa is sterk deur die Jodehaat van die Tweede Wêreldoorlog beïnvloed. Dit het daartoe gelei dat Israel se profetiese toekoms as volk ontken en die kerk in die plek van Israel as "die Israel van die Nuwe Testament" gesien is. In ooreenstemming hiermee is ander profesieë, bv. dié oor die duisendjarige vrederyk, ook vergeestelik en van hulle letterlike betekenis beroof.

Hierdie wanopvattings oor die profesieë moet dringend reggestel word omdat ons in die laaste geslag voor die wederkoms van Christus leef. Ons kan dit hoegenaamd nie bekostig om in onkunde oor die inhoud en eise van die profetiese woord te leef nie. Dit kan ons duur te staan kom!

Dit is nou, soos nooit tevore nie, tyd om die profesieë van die Bybel met groot erns te benader en te lees. Die profetiese woord is baie vas, en ons moet daarop ag gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn (2 Pet. 1:19). Dit sal baie sake oor die komende oordele van God vir ons opklaar, en ook duidelike raad aan ons gee oor hoe ons hierdie oordele kan vryspring.

Hoewel die bedeling van die kerk ná die wegraping verby sal wees, kán mense in daardie tyd nog gered word en by informele byeenkomste die ware God aanbid. Die amptelike kerke sal egter almal by ‘n antichristelike ekumeniese alliansie betrek word, wat op die erkenning en aanbidding van die Antichris as wêreldmessias sal uitloop. Alle ernstige soekers na die waarheid sal uit dié strukture moet wegbly.

Dit is ons taak om toe te sien dat ons vir die wegraping en die ontvlugting uit God se oordele gereed is. Ons moet ook andere vermaan en help om hiervoor gereed te wees. Noag was ‘n prediker van geregtigheid wat sy goddelose tydgenote baie ernstig teen die komende oordele gewaarsku het, terwyl hy aan die ark gebou het. Dit was beslis nie sy skuld dat hulle agtergebly en gesterf het nie.

U sal baie baat by die bestudering van die profetiese woord vind. In die groot skatkamer van Bybelse profesieë sal u onnaspeurlike rykdomme van Christus se liefde en reddende genade ontdek, maar ook ernstige waarskuwings oor die donker nag van verskrikking wat vir almal wag wat hulle nie deur Jesus Christus tot die lewende God bekeer het nie.