4. Die Woord van God

Die woord “Bybel” is van die Griekse woord Biblia afgelei, wat Boeke beteken. Die Bybel bestaan uit ‘n Ou Testament met 39 boeke en ‘n Nuwe Testament met 27 boeke – saam 66 boeke. Hierdie boeke is in verskillende tye en op baie verskillende plekke geskryf, maar deur die beskikking van God se Gees is hulle bymekaar gebring en vorm ‘n eenheid. In die Bybel self word na hierdie boeke as die “heilige Skrifte” verwys (2 Tim. 3:15). Dit is God se Woord, omdat al die skrywers dit onder die inspirasie van die Heilige Gees geskryf het (2 Pet. 1:21).

Ons leef in ‘n tyd van groot verval. Alle evangeliese Christene moet hulleself opnuut tot die handhawing en eerbiediging van die Bybel as God se Woord verbind. Die Woord van die Here is ‘n kosbare skat wat aan ons gegee is. Dit is dinamies en lewend, en vervul ‘n verskeidenheid geestelike behoeftes in ons lewe. Die Woord het, volgens sy eie uitsprake, die volgende duidelike kenmerke en unieke eienskappe:

Dit is ‘n openbaring van God en sy werke

Die Bybel is nie mense se woorde nie, maar God se Woord. Hierin word die Drie-enige God geopenbaar, die oorsprong van die mens en die natuurlike skepping, die ellende en geestelike doodsheid van die mens as gevolg van die sondeval, die teenwoordigheid en planne van ‘n vyandige koninkryk onder die leiding van Satan, God se reddende genade deur Jesus Christus se kruisdood en opstanding, God se oordele oor die sondaars wat sy uitnodiging tot redding verwerp, die wederkoms van Christus en die openbaring van sy koninkryk, asook God se toekomstige raadsplan met die mens in die nuwe hemel en op die nuwe aarde. ‘n Groot deel van die Bybel is op die geestelike groei en toerusting van diegene toegespits wat hulle tot God bekeer het en wat Hom te midde van al die goddelose mense en valse leerstellings wil dien (2 Tim. 3:16-17). Die Bybel is nie menslike versinsels oor God nie, maar ‘n boek wat deur God self “ingegee” is (2 Tim. 3:16; 2 Pet. 1:21).. Die goddelike inspirasie en foutloosheid van die Bybel soos dit in die oorspronklike tale geskryf is, kan nie weerspreek word nie en word onder meer deur die merkwaardige vervulling van Bybelse profesieë bevestig. Die openbaring van Jesus as God die Seun staan ook vas, en is ver bo alle teologiese redenasies en opinies verhewe.

Dit is aan ‘n Persoon gekoppel

Alle beloftes van God in die Bybel moet herlei word na ‘n Persoon, die Here Jesus Christus. Hy is die vleesgeworde Woord (Joh. 1:1,4,14). Die gesproke en geskrewe Woord van God getuig van die Verlosser, Jesus Christus, daarom staan dit in so ‘n noue verband met Hom. In Hom is elke belofte in die Bybel ja en amen omdat Hy deur sy kruisdood die prys vir die vervulling daarvan betaal het (2 Kor. 1:20; Ef. 1:7). Weens die noue assosiasie tussen Christus en die Woord kan ons Hom nie volkome liefhê as ons die bestudering van sy Woord afskeep nie (Joh. 14:23).

Dit het skeppingskrag

Die Woord van God het skeppingskrag (2 Pet. 3:5). Dit herskep ook verlore mense (Rom. 1:16). Alle ware gelowiges weet van die krag wat daar in die Woord is. ‘n Gelowige Romeinse owerste het vir Jesus gesê: “Spreek net ‘n woord, en my kneg sal gesond word” (Matt. 8:8).

Dit is gelouterd en suiwer

Die foutloosheid en volmaaktheid van die Woord word verbind met die feit dat dit absoluut suiwer en gelouter is. Dit is geheel en al beproef as God se onveranderlike en betroubare Woord (Ps. 119:140; Ps. 12:7). Dit is ‘n betroubare woord dat Jesus Christus in die wêreld gekom het om sondaars te red (1 Tim. 1:15).

Dit is soos ‘n vuur en ‘n hamer

Die Woord is soos ‘n verterende vuur en ‘n hamer wat verbrysel (Jer. 23:29). Dit kan die hardste hart sag maak en elke muur van weerstand afbreek indien ons net met ‘n oop en ontvanklike gemoed daarna sou luister. Baie mense verwerp egter dit wat hulle hoor en verhard hulle harte vir die Woord (Heb. 3:7-8). Op dié manier verbeur hulle die Here se reddende genade (Matt. 23:37).

Dit red sondaars se siele

Ons moet hierdie Woord met sagmoedigheid ontvang, omdat die boodskap daarvan ons siele kan red (Jak. 1:21; 1 Pet. 1:23). Die Here Jesus het sy dissipels intensief onderrig en hulle verstand geopen om die Skrifte te verstaan wat van Hom getuig (Luk. 24:44-45; Joh. 5:37-40). Indien hulle die Woord verwerp, sal hulle in hul sondes sterwe (Joh. 8:24). Jesus het hulle verwyt omdat sy Woord geen ingang by hulle gevind het nie (Joh. 8:37). Die belangrikste rede hiervoor was die teologiese vooroordele van hulle leiers, wat die volk mislei en sodoende die koninkryk van die hemel vir hulle toegesluit het (Matt. 23:13).

Dit is gees en lewe

Die woorde van Christus is gees en is lewe (Joh. 6:63). Ná ons wedergeboorte moet ons onsself ook daagliks met hierdie Woord voed, sodat ons geestelik kan opgroei tot die volwasse man of vrou in Christus (Ef. 4:13-14; 1 Tim. 4:6; 1 Pet. 2:2). Hierdie geestelike voedsel is noodsaaklik (Luk. 4:4). Bid om die vervulling met die Heilige Gees, want net Hy kan jou leer en in die volle waarheid van die Woord van God lei (Joh. 14:26; 16:13; 1 Kor. 2:10).

Dit is ‘n tweesnydende swaard

Die Woord is soos ‘n tweesnydende swaard wat indring tot in ons diepste wese waar dit die gedagtes en houdings van ons harte openbaar (Heb. 4:12). Dit wys aan ons watter gedagtes vleeslik en watter geestelik is.

Dit is ‘n vaste rigsnoer vir ons lewe

Dit rig ons voetstappe weg van die pad van sonde af (Jos. 1:7; Ps. 119:101,133). Deur die beloftes in die Bybel in die geloof te aanvaar, bêre ons die Woord van God in ons harte sodat ons teen Hom nie sal sondig nie (Ps. 119:11). Almal wat nie in Christus en sy Woord veranker is nie, se lewens is op sand gebou. Hulle sal sekerlik tot ‘n val kom en vir ewig beskaamd staan wanneer die storms van God se oordele oor die sondaars hulle tref (Matt. 7:24-27).

Dit verlig ons lewe

Alle Christene moet die lig van God se Woord in die wêreld laat skyn sodat sondaars tot bekering kan kom (Hand. 26:18). Elke ongeredde mens is in die duisternis van sonde vasgevang, en moet deur die wedergeboorte uit die duisternis van Satan na die Here se wonderbare lig oorkom. In die lig van God se Woord besef ons ons sondigheid en behoefte aan verlossing (Ef. 5:14).

Dit verskaf inligting oor die toekoms

‘n Belangrike deel van die Woord van God is profesieë wat lig werp op die toekoms. Paulus sê ons moenie die profesieë verag nie (1 Thess. 5:20). Daar word ‘n spesiale seën aan ons belowe as ons die profetiese Woord bestudeer en ter harte neem (Op. 1:3). Die sekerheid van ons hoop in Christus word hierdeur bevestig, en ons kry ook inligting oor die toekomstige strategieë wat Satan gaan volg in sy poging om Christene te mislei en te vervolg.

Dit keer nie leeg tot God terug nie

Die Woord van die Here strek óf tot die redding en geestelike opbouing van mense, óf tot hulle veroordeling weens ongeloof. Dit sal dus nie leeg tot God terugkeer nie (Jes. 55:10-11). Die Woord van God sal in alle opsigte volbring word (Op. 17:17) – vir gelowiges én ongelowiges (Num. 23:19). Met sy volmaakte voorkennis weet God wat in die toekoms gaan gebeur, daarom kon Hy vooraf vir elke behoefte voorsiening maak en ook ‘n behoorlike straf vir die sondaars aankondig (Op. 20:15). Die Here het nie behae in die ondergang van die goddelose nie, maar eerder daarin dat hy hom bekeer (Jes. 55:6-7; 1 Tim. 2:3-4). Dit is waarom die uitnodiging tot bekering aan alle nasies verkondig word (Hand. 17:30-31). In die lig hiervan moet ons die Woord van die lewe vashou (Fil. 2:16).

Dit hou vir ewig stand

“Die Woord van die Here bly tot in ewigheid” (Matt. 24:35; 1 Pet. 1:25). Dit bly altyd van krag, raak nooit irrelevant nie en sal selfs ná die huidige hemel en aarde nog steeds voortbestaan. Alles daarvan sal vervul word. Saam met die psalmis kan ons ook die ewigdurendheid van die Here, sy Woord en sy goedertierenheid besing (Ps. 19:9-10; 29:10; 37:18; 44:9; 73:26; 92:9; 111:3; 119:93,160; 135:13).

Buite-Bybelse openbarings

Spreek die Here deur sy Woord tot jou, of wag jy dalk dat Hy op ander maniere, buite sy Woord om, met jou moet praat? Oswald Chambers (My Utmost for His Highest) beklemtoon dié feit só: “Jesus sê: ‘Die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe’ (Joh. 6:63). Dit is die manier waarop God met ons praat – nie deur drome en visioene nie, maar deur woorde. Wanneer ons tot God nader om met Hom te kommunikeer, vind dit deur die eenvoudige manier van woorde plaas.”

Ons kan onsself van baie dwalings vrywaar as ons die vaste beginsel van Sola Scriptura (net die Woord) eerbiedig. Selfs al is ons onder die versoeking om waarde aan drome en visioene te heg, mag ons dit steeds nie as ’n openbaring van God se wil oorvertel nie. Ons het net een duidelike opdrag wat God se wil betref: “Verkondig die Woord; hou aan tydig en ontydig” (2 Tim. 4:2). Die Here het reeds sy volle raad in die Bybel aan ons geopenbaar (Hand. 20:27). Mense wat daarop aanspraak maak dat die Here nuwe openbarings aan hulle gemaak het, ontken daardeur dat die Here dit wat Hy aan ons wou openbaar, reeds in sy Woord laat beskryf het. Rig jou voetstappe nét volgens die Woord! (Ps. 119:133).

Persoonlike toewyding

Ek aanvaar die Bybel as die geïnspireerde en foutlose Woord van God. Dit is ‘n kosbare geskenk uit die hemel, omdat God Homself hierdeur aan die mensdom openbaar. In die Heilige Skrif is nie net die belofte van sondevergifnis en die ewige lewe nie, maar ook voorskrifte oor hoe om die nuwe lewe in Christus op te bou, te versterk, in stand te hou en tot sy volle ontplooiing te laat kom. Die Here wil my daardeur volkome maak, vir elke goeie werk volkome toegerus. Mag Hy my bewaar van onkunde oor sy Woord, wat lewend en kragtig is, sodat ek nooit aan die volgende verwyt skuldig sal wees nie: “Julle dwaal omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie” (Matt. 22:29). Mag die woord van Christus ryklik in my woon (Kol. 3:16; Rom. 10:8-9) sodat ek waarlik in sy liefde gewortel en gegrond kan wees (Ef. 3:17). “Ek het my voete teruggehou van elke verkeerde pad, dat ek u Woord kan bewaar” (Ps. 119:101).

Vrae

1.    Verduidelik of die Bybel die woorde van mense of die Woord van God is.

2.    Wat is die verband tussen Jesus Christus en die Woord?

3.    Verduidelik die Bybel se rol as ‘n tweesnydende swaard.

4.    Hoe staan die Bybel in verband met ons redding?

5.    Moet ons na buite-Bybelse openbarings van God se wil soek?