1. Die Drie-enige God

Die God van die Bybel is ‘n Drie-enige God – God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees. Hulle bestaan al drie van alle ewigheid af, want die Vader het die wêreld deur die Seun gemaak (Heb. 1:2). Johannes beskryf die pre-geïnkarneerde Seun as die Logos, of die Woord, wat van die begin af bestaan (Joh. 1:1). Hy was nie net by God nie, maar was self ook God. Die derde Persoon is die “ewige Gees” (Heb. 9:14), wat ook as God ‘n ewige selfbestaan het.

Die drie Persone in die Godheid word só deur Johannes beskryf: “Daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een” (1 Joh. 5:7). Al drie Persone kan as Here (Heb. Jahweh; Gr. Kurios) en God (Heb. Elohim; Gr. Theos) beskryf en aangespreek word. Paulus het vir Jesus op die pad na Damaskus as Here aangespreek (Hand. 9:5), en ook na Hom as God verwys (Rom. 9:5).

Die eerste naam vir God wat in die Bybel gebruik word, is Elohim. Hierdie naamwoord word in Hebreeus beide in die enkelvoud én in die meervoudsvorm gebruik, dus dui dit daarop dat die Godheid meervoudig is, maar tóg ‘n saamgestelde eenheid vorm. Dit is drie persone, Vader, Seun en Heilige Gees, wat saam een, ewige God is. Hierdie begrip blyk duidelik uit die persoonlike voornaamwoorde wat vir Elohim gebruik word. In verband met die skepping van die mens word daar gesê: “Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis… En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape” (Gen. 1:26-27). Die Drie-enige God kan tereg sê: “Laat Ons mense maak,” en dan daarna: “man en vrou het Hy hulle geskape.”

Die feit van die Here Jesus se ewige godheid en selfbestaan word in ‘n baie bekende geloofsbelydenis verloën: “Ek glo in God die Vader, die Almagtige, Skepper van die hemel en aarde, en in Jesus Christus sy eniggebore Seun...” Die indruk word hierdeur geskep dat God die Vader alleen was toe Hy die aarde geskape het, en dat Jesus eers veel later gegenereer en “as mens” gebore is. Beoordeel hierdie verkeerde indruk in die lig van Heb. 1:1-2; Joh. 1:1-3,10,14; 1 Kor. 8:6; Ef. 3:9 en Kol. 1:16-17.

God as Skepper

Die Drie-enige God (Heb. Elohim) het Homself in die Ou Testament (OT) in die eerste plek as die Skepper geopenbaar van alles wat bestaan (Gen. 1:1–2:3).

God het skeppingskrag in Homself. Deur net ‘n woord te spreek, het Hy alles in aansyn geroep (Ps. 33:6; Heb. 11:3; 2 Pet. 3:5). In Gen. 1 lees ons telkens: “En God het gesê...” So ook is daar in die evangeliewoord ‘n dinamiese krag om ons lewens te herskep (Rom. 1:16).

Die aanvanklike skepping (Gen. 1:1-2) het geëindig in ‘n situasie waarin die aarde woes, leeg en in duisternis gehul was. Die Here het nie die aarde geskape om woes en onbewoon te wees nie (Jes. 45:18), daarom is dit duidelik dat verwoestingswerk van ‘n groot omvang in die skepping aangerig is. Die enigste Bybelse verklaring hiervoor is die uitwerping van Lucifer uit die hemel (Jes. 14:12-17; Eseg. 28:12-17; Op. 12:3-4). Die aarde was vir ‘n ongespesifiseerde tydperk in ‘n woeste toestand.

In die daaropvolgende skeppingswerke van die Here het Hy orde in reeds bestaande materie gebring en alle lewensvorme (plante, diere en die mens) volgens hulle soorte geskape. Die mens is nie deel van die natuurlike skepping nie, maar uniek in dié sin dat net die mens na die beeld van God geskape is, en ook die opdrag gekry het om oor die natuurlike skepping te heers (Gen. 1:27-31; Ps. 8:4-9).

Die skepping lewer getuienis van die feit dat daar ‘n intelligente Skepper is wat alles gemaak het (Ps. 19:2; Jes. 37:16). Sy ewige krag en goddelikheid blyk uit die werke van sy hande (Rom. 1:20). Dit is onmoontlik dat daar sonder God ‘n ordelike skepping kon ontstaan.

Deur die evolusieteorie word God as Skepper verloën, en word die mens se bestaan aan ‘n natuurlike, evolusionêre ontwikkelingslyn deur die diereryk gekoppel (Rom. 1:23). Mense wat aan hierdie leuen glo, word dwaas in hulle harte (Rom. 1:21-22). Die dwaling van die verwerping van God as Skepper kan ook tot ateïsme lei, en sulke mense het geen absolute geestelike en morele norme in hulle lewe nie (Ps. 14:1).

Name van God

God (Heb. Elohim of in verkorte vorm El; Gr. Theos) – Gen. 1:1; 17:1; Rom. 1:1.

Here (OT) en Here (NT) (Heb. Jahweh; Gr. Kurios) – Gen. 4:1; Matt. 1:20. Die naam Jahweh word dikwels aan sekere werkwoorde of naamwoorde gekoppel om attribute van die Here te beklemtoon, bv. Jahweh-jireh (die Here sal voorsien), Jahweh-nissi (die Here is my banier) en Jahweh-shalom (die Here is vrede).

Here (Heb. Adonai; Gr. Kurios) – Gen. 18:27; 2 Pet. 2:9.

Here Here (Heb. Adonai Jahweh) – Gen. 15:2.

Here  [jou] God (Heb. Jahweh Elohim; Gr. Kurios Theos) – Ex. 20:2; Matt. 22:37.

Ek Is – Ex. 3:14; Joh. 8:58.

Almagtige God (Heb. El-Shaddai; Gr. Theos Pantokrator) – Gen. 17:1; Op. 16:14.

Ewige God – Deut. 33:27.

Die lewende God – Jos. 3:10.

Here God, die Allerhoogste, die Skepper van hemel en aarde – Gen. 14:22.

Die God van die hemel – Jona. 1:9.

Die God van Abraham, Isak en Jakob – Ex. 3:6; Hand. 3:13.

Die Heilige van Israel – Jes. 43:3.

Here van die leërskare – Jes. 1:24.

Die Koning van die eeue, die onverderflike, onsienlike, alleenwyse God – 1 Tim. 1:17.

Enigste Heerser, Koning van die konings en Here van die here – 1 Tim. 6:15.

Jahweh en Adonai

Omdat die oorspronklike Hebreeuse teks van die OT net uit konsonante bestaan, is Jahweh slegs as JHWH geskryf en in ‘n stadium verkeerdelik as “Jehowah” uitgespreek. Die regte uitspraak is Jahweh. In ‘n letterlike navolging van die derde gebod (“Jy mag die Naam van die Here jou God nie ydelik gebruik nie”) gebruik ortodokse Jode meesal net die naam Adonai. In die OT het slegs die Hoëpriester een maal per jaar, wanneer hy die Allerheiligste betree het om versoening vir die volk se sondes te doen, die Naam Jahweh gebruik. Daar word egter nie oneer aan die Here gedoen as sy Naam in gesprekke, preke en gebede met eerbied gebruik word wanneer ons na Hom verwys of met Hom praat nie. Die ydele  gebruik van sy Naam is wanneer mense dit op ‘n lasterlike wyse as ‘n uitroep van verbasing of ontsteltenis gebruik. Sodoende minag hulle die Here en maak van sy heilige Naam ‘n vloekwoord. Hulle sal nie ongestraf bly nie.

Natuurlike attribute van God

God is onvergelyklik (2 Sam. 7:22), onsigbaar (Joh. 1:18), ondeurgrondelik (Jes. 40:28), onveranderlik (Num. 23:19), sonder gelyke (Jes. 40:13-25), onnaspeurlik (Rom. 11:33-34), oneindig (1 Kon. 8:27), ewig (Jes. 57:15), almagtig (Jer. 32:17,27), alomteenwoordig (Ps. 139:7-12), en alwetend wat die verlede, hede én toekoms betref (Hand. 15:18; 1 Joh. 3:20; Jes. 48:3-5).

Morele attribute van God

Liefde (1 Joh. 4:8,16), heiligheid (1 Pet. 1:15; Op. 4:8), goedheid en goedertierenheid (Ex. 34:6; Ps. 31:20; 52:3; 145:8-9), geregtigheid (Ps. 89:15), haat sonde en ongeregtigheid (Ps. 5:5-7, 45:8; Heb. 1:9), onpartydigheid (Hand. 10:34-35; 1 Pet. 1:17), barmhartigheid (Ex. 20:6; Jes. 55:7), genade (Rom. 3:23-24; 2 Kor. 9:8) waarheid (Joh. 14:6, 17:17) en toorn (Ps. 2:5,12; 21:10; Op. 6:15-17).

Gelykvormigheid aan God se beeld

In Génesis 1:26 sê die Drie-enige God: “Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis.” In hierdie woorde waarmee die Skepper die Bybelse geskiedenis van die mens begin, het ons die openbaring van die ewige doel waaraan die mens sy bestaan te danke het, en ook die heerlike, ewige toekoms waarvoor hy bestem is. Die Here het besluit om ‘n wese te maak wat sy beeld en gelykenis sal wees. Toe sonde ingekom en die mens uit sy hoë roeping verval het, het God nie sy doel met hom laat vaar nie. Dit was met hierdie doel in gedagte dat die Vader die Seun na die aarde toe gestuur het as die uitdruklike beeld van Homself. In Hom is die God-gelykvormigheid waarvoor ons geskape is, en wat ons persoonlik moet aanneem om dit ons eie te maak.

Ons kan net soos God word met betrekking tot sy morele attribute soos liefde en heiligheid, maar nie met betrekking tot sy natuurlike attribute nie, want ons is nie gode nie. Die sentrale gedagte van God se openbaring aan Israel én die kerk is: “Wees heilig, want Ek is heilig” (Lev. 11:44; 1 Pet. 1:15-16). Die skeppingsdoel met die mens kan slegs bereik word as ons die sonde afsterf deur aan die dood van Christus gelykvormig te word, en daarna deur die werking van die Heilige Gees ook aan sy opstandingslewe gelykvormig te word (Rom. 6:5). Deur geloof in Christus se kruisdood kan ons die sondige natuur van die eerste Adam aflê en ons met die nuwe mens beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid (Ef. 4:22-24). Christus is die tweede Adam, en net Hy alleen kan aan die mensdom die goddelike lewe teruggee waartoe ons geroep is, maar wat ons deur die sondeval verloor het.

Persoonlike toewyding

Ek herbevestig my geloof in die Drie-enige God. Die grote God van die hemel en die aarde het Homself in drie Persone aan my geopenbaar, daarom kan ek getuig van die genade van die Here Jesus Christus, die liefde van God die Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees (2 Kor. 13:13). Ek stel myself ten doel om God in al sy wonderlike hoedanighede beter te leer ken, sodat sy beeld wat deur die sondeval in mense se lewens verbreek is, ten volle in my herstel kan word. God het nie net deur Jesus Christus die aarde geskape nie, maar Hom ook as ‘n versoening vir ons sondes na die wêreld gestuur sodat alle gevalle sondaars deur Hom herskep kan word. Watter hoop het daar nie vir die wêreld gekom nie dat in dié mense se lewens waar daar vroeër duisternis en wanorde was, die lig van die Here se teenwoordigheid kan opgaan om alles nuut te maak! Ek wy myself opnuut aan die opdrag om die goeie boodskap van die evangelie van Jesus Christus aan verlore sondaars uit te dra, sodat hulle uit die dood na die lewe kan oorgaan.

Vrae

1.    Hoe word ons in 1 Joh. 5 aan die Drie-enige God voorgestel?

2.    Van wanneer af bestaan die Here Jesus as God en as mens?

3.    In watter opsig is die evolusieleer ‘n aanval op God?

4.    Noem vyf name vir God en verduidelik die betekenisse daarvan.

5.    Noem en verduidelik drie natuurlike en drie morele attribute van God.